
Omslag: Protea Boekhuis
Kodachrome
Tom Dreyer
Protea Boekhuis
Essays: 2022
ISBN: 978-1-4853-1337-3
Die bekroonde skrywer en digter Tom Dreyer is bekend vir romans soos Erdvarkfontein (1998) en Stinkafrikaners (2000), maar ook as kortverhaalskrywer met Polaroid (2007). Stinkafrikaners is in 2001 met die Eugène Marais-prys bekroon en in 2019 is hy aangewys as die wenner van die Avbob-Poësieprys.
..........
In sy jongste bundel flitsverhale, Kodachrome, skryf Dreyer met ’n vintage flair oor die implisiete verhouding tussen geheue en fotografie.
................
In sy jongste bundel flitsverhale, Kodachrome, skryf Dreyer met ’n vintage flair oor die implisiete verhouding tussen geheue en fotografie. Kodachrome is in 1935 bemark as ’n subtraktiewe kleurproses, en die omslagontwerp toon hierdie kleurfilm se kenmerkende oranje-gefilterde effek. Die 90 flits- of fotoverhale word deur ’n retrolens bekyk. Daardie tussenin ruimtes, of hiate wat verborge bly vir die blote oog, vorm die bestekopname van taal. En hierdie taal verkeer in hoogspanning. Die kortprosas berig oor dit wat misgekyk word en dinge verskyn en verdwyn spontaan in dié bundel, byvoorbeeld die minuskule skroefie in “As jy nie weet waar die skroefie kom” (171–2). Optiese illusies, oëverblindery, die superponering van beelde en spesiale effekte kom volop voor. In “Flitse in vier dimensies” (178–9) bied die View-Master die fokus vir die verbeelding as geestesveranderende werklikheid.
In “Onverwagte paddaman” (12–3) word ’n verliefde sestienjarige seun genoop om ’n voyeur in sy meisie se hangkas te word, maar dinge loop lelik skeef as sy kuitspiere in ’n spasma gaan en hy voor Mutti uit die kas uit val.
Die skrywer se aweregse en droë humor sal menige leser laat skater. ’n Hoogtepunt is waarskynlik “Een oggend op die N2” (166–7), waar ’n alledaagse insident as katalisator vir waansin dien. Die verteller merk ’n Mazda-bakkie wat ’n tien stuks mannekyne karwei: “Die winkelpoppe is nie na behore vasgemaak nie, en telkens wanneer die bakkie rem, buig hulle vooroor soos ’n skare voor ’n koning of profeet. Waarheen gaan hulle? wonder ek. (...) En waar sou die bene wees?”
Die bundel wemel van reise, road trips en die ek-verteller se waarnemings as pendelaar. Die verbeelding as pikante antidoot vir die saai werklikheid word ingespan in “Soms in deadhorse of waar ook al” (16–7) wanneer ’n perd deur ’n karavaanvenster breek: “Een onbesonne tree breek die membraan tussen binne en buite, tussen die denkbare en ondenkbare, tussen saaiheid en onverwagse verwondering” (16). Dreyer se metakommentaar bied ’n verruimende perspektief op die sketse, en naas beskouings oor geheue en herinnering kom die konsep “vals herinnering” ook onder die soeklig.
In “Vlammende outomaat” (20–1) word Bakhtin se beskouing van die karnavaleske geaktiveer as die Middeleeuse geregte waaruit voëls vlieg en dwerge peul, beskryf word. Die aanbod – of verwysingsraamwerk – van Dreyer se sketse ken helaas geen perke nie, en mitologie, geskiedenis en steampunk-nostalgie sing saam in dié verhaal. Ook in “Hello, friend” (26–7), ’n titel wat moontlik ontleen is aan Chris Rea se gelyknamige song, word die “uncanny valley”-verskynsel met verwysings na kuns en robotika beskryf.
Die opgrawe of versteek van skatte maak in ’n paar sketse hul verskyning, byvoorbeeld “Waarom ons in meerminne in die Karoo glo” (22–3), “Te min ou swart karre” (32–3), en “Wat wag in die ondergrond?” (164–5). En of jy nou ’n ampul vol diamante in jou voorarm laat inplant, of jy in ’n karwrak op ’n skrootwerf sit en droom, en of jy in die beendroë Boland jou pik laat sidder en sing en op ’n vonds afkom – die verteller se verwondering is eg.
............
Die opgrawe of versteek van skatte maak in ’n paar sketse hul verskyning, byvoorbeeld “Waarom ons in meerminne in die Karoo glo” (22–3), “Te min ou swart karre” (32–3), en “Wat wag in die ondergrond?” (164–5). En of jy nou ’n ampul vol diamante in jou voorarm laat inplant, of jy in ’n karwrak op ’n skrootwerf sit en droom, en of jy in die beendroë Boland jou pik laat sidder en sing en op ’n vonds afkom – die verteller se verwondering is eg.
.............
“As ek maar net Stellenbosch se vloere en tuine en parkeerterreine kan oopbreek, soos ’n mens klip oopbreek op soek na fossiele, of met ’n koevoet ’n skatkis se slot afknak. Watter vondste wag in daardie ondergrond, donker met die vreugde en ellende van die eeue? Wat sal ek leer tussen klippe en gebeendere, ryksdaalders, koeëls, kettings en ysters sonder naam?” (165). Die logika van hierdie bundel word waarskynlik netjies saamgevat in die volgende: “En wat anders skuil net buite sig?” (165). Die verbeelding as tydlose prospekteerder kry gestalte in hierdie verhale.
Dit prikkel om te lees van outydse kafees se speelmasjiene wat met meganiese knypers laphase of plastiekjuwele kan oppik. En voeg ’n spul grysjasse en ’n pratende papegaai in die konkoksie, raak jy bewus van Dreyer se skeppende vermoë om skynbaar onverwante gegewens tot ’n sinvolle geheel te verweef (“Wanneer die papegaai jou moed inpraat”, 78–9). Die skrywer beskik oor ’n wye kennisveld: wetenskap en wetenskapfiksie, filmkuns, geskiedenis, tegnologie, letterkunde, optika, en so meer – die anekdotes in die verhale is werklik interessant: In alle gevalle word ’n ongewone invalshoek betrek. Die leser kom onder die indruk van die reikwydte van Dreyer se algemene kennis – inligting wat hy gebruik sonder om die verhale met onnodige intellektualisering te verswaar. En hiér herinner die skrywer se fiksasie met ongewone trivialiteite aan die filmkuns van Quentin Tarantino. In die verhale is die vertrekpunt, in die reël, ’n alledaagsheid of beuselagtigheid. Met nadere ondersoek – en die skrywer beskik oor daardie fynkyk – boor hy ’n goudaar van pikareske gebeurtenisse raak. In “Oomblikke van vervoering” byvoorbeeld besin die verteller en ’n vriend oor onderwaterfluitjies. Uit die alledaagse ontstaan die epifaniese (“Waar swerf die man met die baard?”, 38–9): “Ons ken almal die foto’s op kurkborde in restaurante en dameskroeë. Terwyl nuwe jolytmakers kattemaai of nuwe uieringe in olie sis, pryk hulle daar: ’n testament van vergange feestelikheid. (...) Hulle is die ewige randfigure en speel in op een van my geheime vrese, ’n hebbelikheid wat my soms ’n straat laat oorsteek om ’n toeristebus te vermy: ’n onwilligheid om as toevallige verbyganger op iemand anders se vakansiekiekie vasgevang te word” (38).
In “Die man met die lyf van glas” (42–3) word monarge se delusies op skreeusnaakse wyse verbeeld. Dertig duisend badeendjies se tog deur die Stille Oseaan waarborg nóg ’n lagsessie (“Eende op die oop see”, 40–1), terwyl die raaisel van ondergrondse misdaadpiktogramme aangespreek word in “’n Taal van boewe en boemelaars” (66–7). Droom, herinnering en kinematografie word teenoor mekaar gestel in “Ek droom van die oorspronklike Star Wars”, 74–5). Ten spyte van die toeganklikheid van moderne filmtegnologie verkies die verteller “outydse” tegnologie – dít is waar die sentiment (en siel) lê. Hierdie beskouing word waarskynlik gedeel met dié van David Bate wanneer hy beweer dat ons beter onthou wanneer ons verouderde tegnologie gebruik; moderne digitale databanke beskik nie oor dieselfde bergingsvermoë as dit by die menslike geheue kom nie.
............
Die verskillende nuanses van sig en sigversteurings word belig in “Liefde in ’n wêreld vol basiliske” (76–7). Die skrywer ontgin op fantasieryke wyse die verskillende fasette van kyk – en dit wat deur die geestesoog geopenbaar word.
..............
Die verskillende nuanses van sig en sigversteurings word belig in “Liefde in ’n wêreld vol basiliske” (76–7). Die skrywer ontgin op fantasieryke wyse die verskillende fasette van kyk – en dit wat deur die geestesoog geopenbaar word.
Soms skryf Dreyer in ’n digterlike stem, byvoorbeeld die treffende “Die naeltjie van die wêreld” (80–1), ’n verhaal wat terugreik na die mitologiese. Die regstatus van weggooigoed word voorts beskryf in “’n Tikmasjien verdwyn met ’n sagte plons” (172–3). Nóg ’n juweel is “Bye verstom die burgery” (162–3): “Insekte is nie bekend vir hul persoonlikheid nie. Hulle kan onthutsend wees, soos wanneer ’n hottentotsgot jou skewekop beloer met die oorblyfsels van ’n voormalige minnaar in haar kloue. (...)
“Verdere verrassings volg toe ek voortlees oor bye en hul dinge. Dit blyk dat hulle allerlei nuttige take kan verrig, soos om met behulp van hul sonderlinge reuksintuig dwelms of selfs kanker uit te snuffel. (...) By die lui van ’n klokkie het Pavlov se honde afwagtend begin kwyl; bye verraai hul antisipasie deur ’n sogenaamde proboskis ekstensie-refleks, oftewel, deur ’n druipende tong.”
Die verhaal neem dan onverwags ’n Kafkaeske wending wanneer ’n skare klappende mense se tonge in ’n “verlengings-refleks” [sic] verander.
............
Mymeringe, die vervlietendheid van dinge, die stiltes op foto’s of dit wat transendentaal beweeg: Kodachrome is ’n bundel met ’n ryk stoffering van temas en ’n boeiende spel met al die wyses waarop ons na die wêreld om ons kyk.
.............
Hierdie 90 verhale figureer soos mnemiese flitsbeelde, geskep uit die enorme visuele geheuebank van Tom Dreyer. Mymeringe, die vervlietendheid van dinge, die stiltes op foto’s of dit wat transendentaal beweeg: Kodachrome is ’n bundel met ’n ryk stoffering van temas en ’n boeiende spel met al die wyses waarop ons na die wêreld om ons kyk.
Lees ook: