Toyota US Woordfees 2022: ’n gesprek met Tom Dreyer oor Kodachrome, optiese instrumente en die filmiese oog

  • 0

Kodachrome
Tom Dreyer
Uitgewer: Protea Boekhuis
SKU: 9781485313373

Tom Dreyer ontmoet Naomi Meyer vir koffie en praat oor Kodachrome, 90 flitse.

Tom, die agterblad verklap dat jy op ’n unieke manier na die wêreld kyk. Wil jy iets oor jou taalgebruik in die bundel sê? En oor Afrikaans?

Wat blik aanbetref, bekyk ek die wêreld oudergewoonte met ’n filmiese oog, en probeer dit dan op so ’n wyse in taal omskakel dat die leser die gebeure as ’t ware voor hom of haar sien afspeel. Wat taalgebruik betref, probeer ek in ’n middelregister werk; iets wat myns insiens nogal moeilik kan wees in Afrikaans. In sekere buie voel dit vir my daar is akademiese Afrikaans aan die een kant, en gemoedelike geselstaal aan die ander kant, maar in die middelgebied gaan dit soms maar broekskeur.

..........
Ek soek taal wat verruk sonder om op onbedoelde en ongelukkige wyse aandag op sigself te vestig.
...........

Iets wat in Engels gewoon neutraal sou wees, kan maklik in Afrikaans pynlik of hoogdrawend oorkom, of vreemd op die oor val. My een broertjie is dood aan hoogdrawende Afrikaans, my ander broertjie aan “hei gabba fokken”- Afrikaans. Ek soek taal wat verruk sonder om op onbedoelde en ongelukkige wyse aandag op sigself te vestig. Ek soek ’n reikwydte van gedagtes sonder dat dit klink asof ek met ’n woordeboek onder die arm skryf. In hierdie bundel sluip ek daarom bewustelik óm die skaduwees van akademiese verhandeling en plattelandse volksvertelling, en probeer ’n Afrikaans uittoor wat gemaklik tussen hede en verlede rondbeweeg, tussen uiteenlopende feitestelle uit die wetenskap en die geskiedenis, en tog ook liries kan raak – en dit sonder om in afstandelikheid te verval of, andersyds, hand om die blaas met die leser te staan.

Vertel my van die titel Kodachrome.

Die bundel is aanvanklik voorgelê met die titel Randverskynsels (die titel van my oorspronklike rubriekreeks in Die Burger). Ek spandeer nie my dae in die rooi lig van donkerkamers nie, maar ek het nog altyd ’n sagte plek vir kameras gehad, en mikroskope en teleskope, eintlik enige optiese apparaat. My vorige bundel se titel was Polaroid, en die teoretiese komponent van my MA-verhandeling het gehandel oor die grammatika van film, met verwysing na my roman Stinkafrikaners. Die skrywer is, soos die fotograaf of regisseur, deurgaans gemoeid met komposisie, met die spanning tussen voorgrond en agtergrond en – veral – met dit wat binne en buite die raam lê.

..........
My vorige bundel se titel was Polaroid, en die teoretiese komponent van my MA-verhandeling het gehandel oor die grammatika van film, met verwysing na my roman Stinkafrikaners. Die skrywer is, soos die fotograaf of regisseur, deurgaans gemoeid met komposisie, met die spanning tussen voorgrond en agtergrond en – veral – met dit wat binne en buite die raam lê.
............

Die skrywer kan sy of haar lens vinnig of stadig oor die wêreld laat gly, die lens ooptrek vir ’n bestekopname of inbeweeg vir ’n nabyskoot. Glo my vry: die beeld van twee mossies op ’n stopteken is altyd meer as net twee mossies op ’n stopteken.

Die aanhaling op die agterblad val op: "Hier vries watervalle oordag ... In ’n Arktiese donker tob ek oor vroeg en laat, bo en onder, en oor waar Suid-Afrika en Alaska onderskeidelik aan die wand van die aardbol klou. Sou jy, as jy een uitdop soos ’n handskoen, die ander een kry?" Ek lees dit en dink: oplaas is skryf nie foto’s neem nie. Die skrywer neem die leser verder. Die verbeelding het geen grense nie. En daar is iets anders aan taal.

Dit is waar. My verhale is byna sonder uitsondering sterk in ’n konkrete werklikheid geanker – in Sitka, Alaska, soos hier bo, tussen die riete van ’n strandmeer in Southbroom, of in ’n supermark met ’n enkele badeendjie voor my op die vloer. Maar telkens is hierdie werklikheid eintlik maar net die wegspringplek vir ’n uitkringende reis wat ook ander plekke en tye betrek, ander geskiedenisse, ander verhale. Dit is hier waar taal tot sy reg kom. Soos koeverte binne-in koeverte, of verskillende seepbelle wat op verrassende wyse met mekaar versmelt, kan verskillende wêrelde sáám bestaan op ’n wyse wat haas onmoontlik is om op film vas te vang.

..........
Soos koeverte binne-in koeverte, of verskillende seepbelle wat op verrassende wyse met mekaar versmelt, kan verskillende wêrelde sáám bestaan op ’n wyse wat haas onmoontlik is om op film vas te vang.
...........

In die badeend-verhaal, byvoorbeeld, bevat die eerste seepbel die hier en nou waar ek in ’n supermark op ’n badeend afkom. ’n Tweede bevat my vriend Dirk en sy meisie wat kla dat sy moeg is vir “dobber”. ’n Derde bevat die geskiedenis van die 20 000 badeende wat van ’n vragskip afgespoel het en deur die loop van die jare elke oseaan deurkruis het. Dit is in die interaksies en spanninge tussen hierdie verhaallyne waar die eintlike storie lê.

Die titel suggereer vir my dat die flitse uit ’n vroeëre tyd dateer, maar ek wonder oor die proses van foto-ontwikkeling. Ek bly by die kitsflits van die kamera-oog wat iets vasvang. Die Kodachrome dui op die tydsamer proses van die verlede en foto-ontwikkeling. Die flits is wel so kortstondig en haastig. Wat vang jou kamera vas? En die pen in die hand van die skrywer?

Ek dink jy lê hier jou vinger op die dubbele beweging wat in die meeste van hierdie stories aanwesig is. Ja, die oog kan, soos ’n kamera, iets in ’n flits vasvang, vandaar dan ook die subtitel van die boek. Maar daardie foto moet dan ontwikkel word, en net so moet ’n flits van inspirasie vasgelê word in ’n verhaal.

..........
Ek dink jy lê hier jou vinger op die dubbele beweging wat in die meeste van hierdie stories aanwesig is. Ja, die oog kan, soos ’n kamera, iets in ’n flits vasvang, vandaar dan ook die subtitel van die boek. Maar daardie foto moet dan ontwikkel word, en net so moet ’n flits van inspirasie vasgelê word in ’n verhaal.
...........

Kodachrome-film verleen met verdrag sy eie kleure aan ’n beeld van ’n familie op ’n strand, of in ’n Volkswagen Variant, of uitgekamp by ’n sementtafeltjie langs die grootpad, en net so word die flits van inspirasie wat aanleiding gegee het tot ’n verhaal, gefilter deur die skrywer se uitgangspunt, se psige, se hebbelikhede. Jammer dat ek vir Wordsworth hier insleep, maar hy het mos gesê dat digkuns ontspring vanweë “emotion recollected in tranquility”. Dieselfde voel vir my waar van die verhaalkuns, en ek dink dat hierdie proses na aan die oppervlakte lê in Kodachrome. Ek sien of hoor of ervaar telkens iets wat ’n emosionele beroep op my maak, en die storie ontstaan wanneer ek daardie impuls deurdink en dit in verband bring met ander belewenisse, ander geskiedenisse, ander leefwêrelde. Hierdie stories is daarom beide onmiddellik én losstaande van die tyd.

Hoe het jy geweet watter flitse om byeen te bring, en in watter volgorde, toe jy die foto-album saamgestel het?

Soos genoem, het heelwat van die stories in Kodachrome deur die jare as rubrieke in Die Burger verskyn, maar daar was ook stories in Insig, Weg, Taalgenoot en ander, en heelparty is kort voor publikasie geskryf. Ek het nie uit die staanspoor ’n oorhoofse plan gehad nie, maar daar was altyd ’n gevoel dat ek eendag iets met hierdie verhale sou doen. Tydens die Covid-inperking het ek besluit daardie dag het aangebreek, en toe ek eers begin, was ek gou opgewonde, want die stories het tesame meer resonansie gekry as wat ek verwag het. Kerneels Breytenbach noem die bundel ’n “lewe-verheerlikende outobiografie” en ofskoon ek die bundel nie oorspronklik as outobiografie voorsien het nie, gaan ek beslis nie met hom stry nie.

Wat die volgorde van die verhale betref: Die openingsverhaal was relatief voor die hand liggend, want dit is ’n soort sleutel vir die res van die bundel. Maar merendeels was die bepaling van die volgorde maar ’n instinktiewe proses. Meer nog, onplanmatigheid wás gedeeltelik weliswaar die plan, want hierdie uiteenlopende reeks verhale is uiteindelik ’n soort “cabinet of curiosities”, soos die vertoonkabinet van ’n dubieuse tante. En die lekkerte van so ’n kabinet is juis die lukraakheid van die objekte waarop jou oë val: die blaasoppies, die porseleinfiguurtjie, die steenbokkieskedel met een verdraaide horinkie.

Hoekom skryf jy?

Hoekom doen ’n mens enigiets? Waarom sing jy in die stort? Waarom trommel jy jou vingers op die stuurwiel terwyl jy ry? Daar is ten diepste iets ondeurgrondelik aan ons motiverings, en dis nie asof ’n skrywer uniek toegang het tot wat hom of haar dryf nie.

...........
Hoekom doen ’n mens enigiets? Waarom sing jy in die stort? Waarom trommel jy jou vingers op die stuurwiel terwyl jy ry? Daar is ten diepste iets ondeurgrondelik aan ons motiverings, en dis nie asof ’n skrywer uniek toegang het tot wat hom of haar dryf nie.
............

Maar, met hierdie klein voorbehoud, kan ek wel noem hoe sake vir my vóél. Dit voel asof elke dag se onophoudelike stroom, elke dag se duisend dinge, op ’n manier sal wegraak as ek nie iets daarmee doen nie. Skryf is ’n manier om reg te laat geskied aan die stroom van die lewe waarbinne ons staan; ’n soort “salvage action”. Die lewe woed en gooi ons rond, maar uiteindelik kan jy jou hand oopmaak, en daar is: iets. Daar is ’n aanhaling van Virginia Woolf wat vir my iets hiervan saamvat. Sy skryf oor minnaars, maar dit voel vir my net so relevant vir skrywers.

There might be lovers whose gift it was to choose out the elements of things and place them together and so, giving them a wholeness not theirs in life, make of some scene or meeting of people (all now gone and separate), one of those globed compacted things over which thought lingers, and love plays.

Hoe mooi is dit nie. ’n “Globed compacted thing”. Die objekte van die wêreld kom nie met kentekens en etikette na ons toe nie, en ek glo nie ons is groot interpretasies en groot waarhede beskore nie. Stories is verdikkings in die stroom van die tyd, tydelike eilande van betekenis, en dis dalk die beste waarop ons kan hoop.

  • Hans Pienaar tree op 10 Oktober saam met Tom Dreyer by die Woordfees in Stellenbosch op. Bibi Slippers is die gespreksleier.

Lees ook:

Eerste slukkie: "Die soldaat se vingerhoed wikkel en flits", ’n essay uit Tom Dreyer se Kodachrome, 90 flitse

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top