Eerste slukkie: "Die soldaat se vingerhoed wikkel en flits", ’n essay uit Tom Dreyer se Kodachrome, 90 flitse

  • 0

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.

Kodachrome, 90 flitse
Tom Dreyer
Protea Boekhuis
SKU: 9781485313373

Boekblurb

Om hierdie skryfsels te lees is soos die oomblik wanneer jy ’n 3D-bril opsit of ’n towersampioen eet: Alles lyk opeens anders, die wêreld is op sy kop gedraai, oral knetter moontlikhede.

Dreyer het die vermoë om op hierdie manier te sien en om die leser só te laat sien.

Dis ’n wonderbaarlike mengelmoes van alledaagse sowel as fantasmagoriese objekte soos ’n vingerhoed, ’n verdwaalde los skroefie, ’n geel badeendjie op die vloer van ’n afdelingwinkel, die bloop, Napoleon en sy jaggeselskap wat op die vlug slaan voor ’n spul mak hase, die klankeffekte in Star Wars, ’n intakte beesoog in die pad, meerminne, ’n mimeerkunstenaar, Noorderligte, monsters, vampiere, salmanders en ander.

Die skrywer, wat ook digter is, mors nie met woorde nie en sy gedagtes is elegant.


Foto: https://www.tomdreyer.info/

Oor Tom Dreyer

Tom skryf in Engels en Afrikaans. Sy romans sluit in Stinkafrikaners, Erdvarkfontein, Equatoria, The Long Wave en Dorado. Hy het die Eugène Marais-prys verower en is ook al benoem vir die Sunday Times Literary Prize, sowel as die UJ-prys en die kykNET Rapport Boekprys (Film).


Essay: "Die soldaat se vingerhoed wikkel en flits"

Ek het nog nooit sterk gevoelens vir ’n vingerhoed gehad nie. Soos die worshond-deurstopper of gholfbalposbus had dit min oorvleueling met my eie bestaan.

Tot onlangs. Die eerste van twee vingerhoede wat in die laaste weke oor my pad gekom het, was in ’n glasvertoonkas by die Chavonne-battery in die Waterfront. Die Chavonne-battery was deel van die Nederlanders se kusfortifikasies digby die Kasteel om die Kaap teen vreemde moondhede te beskerm. Die ruïnes is tydens die Waterfront-ontwikkeling herontdek en toe geïnkorporeer in ’n museum in die kelderverdieping van die BOE-gebou. Die battery is eens deur ’n dosyn soldate beman, en die vertoonkas se gespes, porseleinskerwe en alikreukeldoppe getuig van die saai ure wat hulle daar geslyt het. Daar is ook pypstele, albasters, ’n dominoblokkie, ’n paar knope en ’n vingerhoed.

Die vingerhoed was ’n verrassing, en ek het sedertdien al ’n paar keer ’n soldaat in my geestesoog op een van daai klipmure sien sit, doenig met ’n bietjie naaldwerk voor ’n volgende inspeksie. Sy oë is voos getuur oor die baai, en hy sukkel met die nabywerk, maar sy vingerhoed wikkel en flits, wikkel en flits.

Die tweede vingerhoed was op ’n bus van die Mystery Ghost Bus Tour, aan die vinger van ’n tannie wat skuins oorkant my gesit het, ’n onwaarskynlike lappie borduurwerk op haar skoot. “Ek bly maar besig,” sê sy toe ons oogkontak maak. “Hierdie is nie eintlik my tipe ding nie. Maar sedert Cor daai aand ’n lig in die motorhuis gesien het, is hy mos begeesterd.” Cor kyk ook om, en terwyl die donker geboue van die middestad agter hom verbyflits, sien ek dat daardie lig nog nie heeltemal uitgedoof is nie.

Ons volgende stop is die Kasteel. Onder die onverbiddelike mure vertel ons gids van die verskrikkinge van ouds. ’n Windjie stoot skraal oor die Parade en laat palmtakke bo ons ritsel. Later sprei ons uit, maar bondel weer saam toe ’n meisie met swart ooggrimering snakkend boontoe beduie. Iets het skynbaar bo op die muur gematerialiseer. Dis ’n soldaat, stotter sy, getattoeëerde arms omhoog, ’n soldaat in ’n outydse swart uniform. Almal staar, en ’n vrou in ’n pasjmina vou haar hand om die kristal wat sy ter beskerming saamgebring het. My nek is later seer van die opkyk. Langs my is Cor, sy mond effens oop, en langs hom sy vrou, knus in haar ongeloof soos ’n vinger in ’n hulseltjie van koper.

“Wat doen hy?” fluister iemand.

“Hy kyk uit oor die baai.”

Ek slaan my oë weer op, en in die gloed van kameraflitse kan ek my verbeel dat ek hom ook sien: my soldaat, steeds op die bolwerk ná al die eeue.

“Wat doen hy nou?”

“Hy ... hy stel aan sy knope.”

“Is daar iets aan sy vinger?” vra ek.


 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top