Boekresensie: Dorado deur Tom Dreyer

  • 1

dorado_omslagDorado
Tom Dreyer
Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 9781415208960

Tom Dreyer se jongste roman Dorado is ’n verwerking en uitbreiding van die gegewe in sy kortverhaal “Polaroid” uit die gelyknamige kortverhaalbundel van 2007. Die roman vertel die verhaal van ene Gilbert du Toit van Kirkwood wat met sy blou Ford Capri en ’n karavaan op reis is deur die land. Hy weet nie presies waarheen hy op pad is nie en laat hom lei deur sy visioene van ’n skool dorado’s wat by geleentheid in die lug bo hom verskyn.

Die eerste hoofstuk vertel hoe hierdie verskynings verloop. Gilbert raak bewus van ’n geluid soos “’n dringende gefluister” en “die reuk van seewater waarin jellievisse dobber” voordat hy die visse sien wat met hulle “vaartbelynde lywe” deur die lug klief en dan in die rigting swenk wat hy moet volg. Vandat hy vir die eerste keer die skool visse in die lug bokant ’n lemoenboord op Kirkwood gesien het, is hy oortuig daarvan dat die noodlot hom uitgesonder het vir ’n besondere openbaring. Tesame met die verskyning van die visse gebeur dit ook dat die verwantskap en samehang tussen dinge momenteel vir hom sigbaar raak: “Dit is asof elke voorwerp na elke ander toe neig, en ofskoon hulle nie fisies verwring nie, suggereer hulle wel dat hule betekenis nie net in hulself lê nie, maar ook in hierdie netwerk van verbintenisse” (11). Na so ’n verskyning is Gilbert verlos van alle vermoeienis, vertwyfeling en moedeloosheid sodat hy daarna sy reis met hernude ywer kan voortsit. Waarom die visse wat hy sien juis dorado’s is, word gesuggereer in die titel van die eerste afdeling “El Dorado lê ver”: Gilbert is op reis na die soort eind-bestemming wat in ander kontekste El Dorado genoem is.

Die roman volg dan die verloop van Gilbert se tog deur die land agter die visse aan. Volgens die aanhaling van Willem Anker wat op die buiteblad gebruik word, lees die roman asof David Lynch en Wim Wenders saam ’n road movie kom skiet het in Suid-Afrika. Met sy byna filmiese uitbeelding en sterk visuele beskrywing van gebeure sluit hierdie roman – soos Dreyer se ander tekste – inderdaad aan by verskillende bekende filmregisseurs se werk. Die roman het egter ook ander genre-voorgangers soos die road novel (dink maar aan Jack Kerouac se On the Road) wat op sy beurt voorafgegaan is deur romansoorte soos die reisnarratief en die pikareske roman. Dit is belangrik dat die reis juis per motor plaasvind. Vir Gilbert is die reis in sy Ford Capri op die agterpaaie van die land ’n manier waarop hy toegang tot en begrip van die werklikheid kan kry, soos wat blyk wanneer hy dink: “Is ’n stuurwiel nie ’n beter koppelvlak met die wêreld as taal nie, taal met sy verminderinge en misverstande” (182). Om ’n motor op die lang pad te bestuur, is – by implikasie – ’n beter manier om die werklikheid aan jouself en ander te verduidelik as om taal te gebruik, iets wat ’n mens sou kon lees as ’n moment waarop die roman sigself as talige konstruksie bevraagteken.

Belangrike punte op Gilbert se reis is sy besoek aan Pacaltsdorp waar hy by ’n vulstasie en kafee gefassineer word deur ’n vistenk en die voorraad outydse preparate soos Metafos Versterker vir senuweekwale en Dokter Menkowitz se Universal Tablets. In Pacaltsdorp ontmoet hy ook die Howlers, ’n groep musikante bestaande uit drie eertydse tronkvoëls wat hom oorreed om saam met hulle na ’n Fossielpark naby Aberdeen te gaan waar hulle op ’n musiekfees moet speel. Na afloop van die fees keer hy terug na Pacaltsdorp waar hy die kafee se hele voorraad van dokter Menkowitz se Universal Tablets met Snellerien (wat “na gelang van die dosis, óf euforie óf stuiptrekkings kan veroorsaak”) koop omdat dit hom so goed laat voel. By hierdie geleentheid sien hy ook ’n aantreklike jong vrou wat sit en huil in haar motor naby die vulstasie. Van daar af reis hy onder begeleiding van die visse via Sir Lowryspas na Kuilsrivier waar hy na ’n ongeluk in die Tygerberg-hospitaal beland voordat hy hom tydelik vestig in die die Fortuna-karavaanpark en ’n werkie losslaan by Mister Mower. By Tygerberghospitaal loop hy weer in die vrou Katie wat hy op Pacaltsdorp gesien het vas en raak betrokke in ’n verhouding met haar. Tydens sy verblyf in Kuilsrivier maak hy ook weer kontak met die Howlers en ontwikkel daar ’n vriendskap tussen hom en hulle leier Rory .

Hierna word Rory en Katie Gilbert se belangrikste metgeselle op sy reis. Daar is bepaalde redes hiervoor. Behalwe dat Rory in die tronk was, het hy by Something Fishy gewerk waar hy kliënte moes lok in ’n viskostuum en was hy ook verkoopsman by Inversion Optics waar hy oortuig geraak het van die wondere van Polaroid-sonbrille. Vir hom is die wêreld sonder ’n filter “te taai op die oë” en daarom meen hy dat ’n mens ’n polaroid nodig het om na die werklikheid te kyk (152). ’n Verdere wenk in verband met sy belangrikheid vir Gilbert se tog is dat hy vroeër in ’n groep gespeel het met die naam Tree of Gilead, ’n verwysing na die Bybelse balsem van Gilead wat gesien is as ’n universele kuur vir alles (net soos wat Gilbert soek na die volmaakte eindbestemming). Katie se belangrikheid vir Gilbert word onderstreep deur die tatoeëermerk van ’n vis op haar rug en die feit dat ook sy gedryf word deur ’n soeke, naamlik na die dogter wat sy moes opgee vir aanneming. Gilbert is oortuig daarvan dat dit saam met hierdie twee is wat hy die uiteindelike openbaring sal ervaar. Katie en Rory speel dan ook ’n belangrike rol in die slot wanneer die roman tot sy liriese en enigmatiese einde kom.

Soos wat Gilbert se reis vorder, is dit duidelik dat hy swaar dra aan die psigologiese wond van sy ma se dood toe hy nog ’n jong seun was en die ongemaklike verhouding met sy pa. Om te ontsnap aan sy ongelukkigheid en die chaotiese sinloosheid van sy lewe, glo hy ten alle koste aan ’n tweede wêreld onderliggend aan die teleurstellende werklikheid waarin hy leef, ’n tweede wêreld wat “soos ’n draadraam ons s’n onderlê, daardie ryk waar niks verweer en niemand ooit sterf nie” (58). Dit is ook om hierdie rede wat hy alledaagse verskynsels soos die tekening van ’n vis agter op ’n Toyota Cressida, die tatoeëermerk op Katie se rug en Rory se verhaal oor sy viskostuum sien as tekens dat hy op die regte spoor is met sy soektog. Dit is ook die rede waarom hy ontvanklik is vir die suggestie dat bepaalde uitsonderlike gebeurtenisse, soos die meteoriete-reën wat die aarde gaan tref, die potensiaal het om die sin van alles aan hom te openbaar. Sy hoopvolheid beteken egter nie dat hy vertwyfeling vryspring nie: aan die een kant is daar sy sekerheid dat hy sy bestemming sal bereik en dat die patroon van sy lewe vir hom duidelik gemaak sal word; aan die ander kant is hy herhaaldelik die slagoffer van ’n gevoel van “verglyding en verwoesting” (220) wanneer dit nie gebeur nie. Nooit ontsnap hy aan die dubbele aard van betekenisvolle oomblikke nie: “leegheid vermeng met ’n verbysterende rykheid, gruwels aan die hand van iets byna eufories” (160).

Gilbert se eiesinnige geloof in ’n bestemming, sy trots oor die feit dat die noodlot hom uitgesonder het en die hoop dat hy uiteindelik sal arriveer, word op verskillende punte in die roman bevraagteken. Wanneer hy vir sy eerste meisie Christine op Kirkwood van die visse vertel, toon sy geen begrip nie; net so word hy aanvanklik deur Katie verwerp wanneer hy haar van sy visioene vertel. Ook die dokter en psigiater met wie hy in Tygerberghospitaal te doen kry, sien hom as iemand met ’n sielkundige afwyking eerder as ’n opregte soeker na sin en samehang. Die eerste dokter vertel hom van die verskynsel van “apofenie” (die neiging om patrone in gebeure te sien) en suggereer dat Gilbert hoort in die kategorie van persone van wat op die rand van skisofrenie of psigose staan. Hierdie bevraagtekenings van Gilbert deur ander karakters plaas die leser as’t ware in die posisie om ’n eie diagnose te maak. Reageer jy afwerend soos die vroue in Gilbert se lewe, dink jy soos die dokter en psigiater dat Gilbert sielkundig versteur is of ‘glo’ jy vir die duur van die roman die innerlike wêreld wat hy skep? Is Gilbert die slagoffer van ’n sielkundige afwyking en sy onoordeelkundige gebruik van Dr Menkowitz se Universal Tablets of is sy geestestoestand ’n sonderlinge voorbeeld van dit wat filosowe, teoloë en mistici dryf om te spekuleer oor die samehang en sin van die menslike bestaan?

Myns insiens kry Dreyer kry dit reg om in Gilbert ’n karakter te skep wat jou oortuig met sy menslikheid eerder as wat jy hom ervaar as ’n frats. Hy hou byvoorbeeld die vertelling goed onder beheer deur gebruik te maak van ’n eksterne verteller wat hoofsaaklik vanuit Gilbert se perspektief na die gebeure kyk. Die leser kry dus toegang tot sý innerlike en sy gedagtes, eerder as om hom van buite met ’n skeptiese oog te betrag en te veroordeel. Verder word sy ervaring konkrete gestalte gegee deur te fokus op die klein detail van sy ervaring. Ons kry byvoorbeeld sorgvuldige beskrywings van Sonstraal Sitrus op Kirkwood waar hy as assistant-verskepingsklerk gewerk het, van die sement-dinosourusse elk met sy eie klankbaan op die plaas naby Aberdeen, sy staanplek in die Fortuna-karavaanpark met ’n uitsig oor die kreosootfabriek, die liggies van Cash Crusaders waarmee hy sy karavaan versier vir ’n partytjie, die swembadjie met paddavissies in die karavaanpark, om maar net enkeles te noem. In hierdie opsig herinner Dreyer se roman aan die werk van Jaco Botha en Jaco Fouché wat eweneens die wêreld van die gewone mens in betekenisvolle detail kon teken.

Die verdere oortuigingskrag van die roman lê ook in die bekoorlike taal- en beeldgebruik. Gilbert se moeilik-artikuleerbare visioene word met groot helderheid en vindingrykheid beskryf terwyl daar talle voorbeelde is van evokatiewe beeldgebruik: ’n huis wat lyk “soos ’n leeggeloopte dam” (53), Gilbert se gevoel dat hy die sigbare en onsigbare ryke bymekaar bring soos “die grendelende tande van ’n rissluiter” (116) en die dwarsstukke van ’n kragtoring wat lyk “soos ’n vrou wat haar rokspante van die grond af lig” (142).

Ten slotte lees ek hierdie roman as een met ’n sterk filosofiese onderbou wat handel oor die mens se behoefte om sin en patroon te vind in die banaliteit van sy of haar alledaagse lewe eerder as wat ek dit sien as die uitbeelding van ’n versteurde karakter. Myns insiens is dit ’n roerende beeld van ’n baie gewone man se behoefte om homself te oortuig dat die gebeure in sy lewe volgens ’n bepaalde plan verloop en ’n sinvolle afloop sal hê. As sodanig is dit vir my een van die mees oorwoë van Dreyer se romans en ’n hoogtepunt in sy oeuvre.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top