Herinneringe aan Johan van Wyk – nuwe beginne en ’n bestel begin stuiptrek

  • 1

Foto van Johan van Wyk: Izak de Vries

Midwinter 1987 ry ek met my sestigerjare-Kewertjie van die Kaap af Durban toe om met my eerste regte werk te begin, as dosent in die Departement Afrikaans-Nederlands van Durban-Westville. Ek was pas terug uit Europa ná ’n sesmaandeverblyf in Leuven en voel my nog verwese. By Trompsburg slaap ek oor in die motel. Ek sit die luidsprekertjie teen die muur van my kamer aan en daar kom ’n stukkie Mozart uit. Genade in ’n knarskoue Vrystaat.

..........
Die volgende dag sak ek af in die matiger klimaat van Natal, my eindbestemming Manor Gardens in Durban, waar my nuwe kollega, Johan van Wyk, bly. Dis ’n lang kaalkopman met ’n baardjie wat my ontmoet, ’n bietjie skamerig, met sagte oë.
...........

Die volgende dag sak ek af in die matiger klimaat van Natal, my eindbestemming Manor Gardens in Durban, waar my nuwe kollega, Johan van Wyk, bly. Dis ’n lang kaalkopman met ’n baardjie wat my ontmoet, ’n bietjie skamerig, met sagte oë. Hy nooi my gul uit om in sy huis te kom bly, maar hy’t duidelik nie die omvang van hul gasvryheid eers met sy vrou Liesbet bespreek nie. Dit was nou maar Johnnie.

Min sou ek dit in daai stadium geweet het, maar Johan was ’n voorste Freudiaan. Die storie wat ek met verdrag te hore sou kom, dalk apokrief, is dat Johan vir Liesbet betower het in ’n swart pak soos dié van haar pa, in ’n leë bad nogal. Elektra kom weer!

Nietemin, Johan leen my die gebruik van sy ouers se vakansiewoonstel in Point, net agter die Addingtonhospitaal, en dis waar ek my eerste paar maande in Durban beleef. ’n Gerieflike blyplek, maar sonder ’n enkele kurktrekker, kom ek tot my aanvanklike ergenis agter.

Die Durban-Westville-kampus was in daai jare die trots van Natal se Indiërgemeenskap. Geskoei op Le Corbusier se ontwerp vir Chandigarh in Indië, brutalistiese argitektuur en al. Die Department Afrikaans-Nederlands was op die hoogste verdieping van die enkele toringgebou op kampus. Witborskraaie en rooivalke het om die beurt voor my kantoorvenster kom nesmaak, en smiddae voer ek die kraaie van my broodjies bo-op die platdak. Een parmant het spoedig agtergekom watter venster myne is en etenstye dan teen my ruit kom pik. Skuins onder ons het Sisifus met sy trekker en grasstroper die krieketveld in toom probeer hou. Om en om kring hy al verder van die kolfblad af uit, maar teen die tyd dat hy die grens bereik, het die gras in die middel al weer begin groei.

Afrikaans was toe al ’n vreemde vak by ’n universiteit soos UDW. Die aantal studente wat Afrikaans-Nederlands tot derdejaarsvlak en verder geneem het, was maar ’n handjievol. Die grootste gros was regstudente vir wie Afrikaans en Engels as eerstejaarsvakke verplig was, die arme drommels. Maar om voor ’n klas van ’n paar honderd studente te moes optree wat geen snars Afrikaans verstaan nie, wat trouens ’n diep weersin daarin gehad het, was ’n ewe groot uitdaging.

Aangenamer herinneringe aan die kampus was daar darem ook. Soos die middagetes wat ek en Johan gereeld in die kafeteria gaan nuttig het. Daar was altyd kerrie op die spyskaart; trouens, dit was ál wat op die spyskaart was. Afwisselend skaap, hoender of lensies, maar dit was onverbeterlik en eg Durbans. Dít en ’n groenslaaitjie met gekapte rissies wat jou tong verdoof het.

Johan het van ’n vuil grap gehou en soos ’n skoolseun gegiggel by die vertel daarvan. Sy belangstelling was egter by die erotiek. Hy het my eens konspiratories ’n teks gegee om te lees waarvan stukke suiwer pornografies was, maar waarvan ek die verwysing lankal reeds vergeet het. Twee skoktonele bly my egter steeds by. ’n Vrou gaan bieg by ’n priester. Sy begin masturbeer en lewer honend kommentaar daaroor aan die priester. Dan sleep haar metgeselle die priester uit sy bieghokkie. Een gaan lê op sy rug met die priester bo-op hom. Terwyl hy hom doodwurg, lig die vrou sy habyt op, gaan sit wydsbeen oor hom en begin hom verkrag. “Hoe voel dit om by fyndraai te vrek, jou walglike wese?” snou sy hom toe. ’n Metgesel pluk een van die priester se oë uit en sy druk dit by haar vulva in. “Jou koek kyk vir ons,” lag hulle. ’n Verdere toneel speel by ’n stiergeveg af. Ná die bul van kant gemaak is, vra die vrou vir sy teelballe. “Hoe heerlik koel voel hulle,” merk sy op en nestel hulle tussen haar skaamlippe. Later kopuleer sy en ’n metgesel woes in ’n bepiste en bekakte stadiontoilet.

Ek herinner my egter dat Johan by meer as een geleentheid in die moeilikheid beland het by die stoere universiteitsowerhede oor sy lesings se gewaagde inhoud. Die universiteit se Moesliem- en Hindoevoedergemeenskappe was uiters konserwatief. Die kunsboeke in die biblioteek het daar verrinneweerd uitgesien – al die naakstudies is ruweg uitgeknip.

Maar omwenteling op kampus was onafwendbaar. Al hoe meer studente van Transkei en die Natalse platteland het by UDW begin registreer. Dit lei spoedig tot kulturele en politieke spanning onder die studente. Klasontwrigtings en -boikotte – tot in daai stadium ongehoord by UDW – ervaar ek aan eie lyf. Casspirs kom betogende studente op kampus met pers kleurstof bespuit. ’n Dosent in wapperende swart toga probeer tussen die onluspolisie en die studente tree. Die pers afloopsels op die geel strydwaens begin soos droë bruin bloed lyk. Prehistoriese gedrogte!

Ook in die gemeenskap daar buite het ’n gevoel van verandering begin posvat. Sting, Tracy Chapman, Bruce Springsteen, Peter Gabriel en Youssou N’Dour hou ’n menseregtekonsert in Harare. Johan-hulle reis soontoe en wou my met alle geweld saamvat, maar my vroeggebore eersteling was toe pas ’n maand oud. Ouerskap het swaarder getel. Max du Preez-hulle se nuwe Vrye Weekblad begin opslae maak en die Alternatiewe Afrikaanse beweging word ’n ding. Saam met Theo du Plessis woon ek en Johan die stigting van die Demokratiese Party by – die samesnoering van Zak de Beer se Progge, Dennis Worrall se Onafhanklikes en Bill Sutton se Nuwe Republikeine. Gerugte van ’n Nuwe Suid-Afrika begin die ronde doen, maar mens was steeds huiwerig om die letters A, N en C op jou lippe te neem.

........
Ek het dikwels egter die gevoel gekry Johan het na meer gehunker as politieke bevryding. By geleentheid sou hy ons uitnooi om skemeraand te kom kuier.
..........

Ek het dikwels egter die gevoel gekry Johan het na meer gehunker as politieke bevryding. By geleentheid sou hy ons uitnooi om skemeraand te kom kuier. Maar eintlik het Johan net ’n gehoor gesoek om na sy jongste artikel oor die destrukturalisme of die semiotiek aan die hand van Derrida of Foucault of Lacan te luister. Nik Konstandaras, bonkige gewigoptellervriend van Johan, was ook dikwels daar. Hy kon Johan volg, maar vir ons ander was dit spoedig duister. Dit was boonop ’n moeilike tyd in die dag vir die kinders, ons koliekbaba en Johan se eie Andreas wat met blonde krullebol en tottermannetjie soos ’n Puck deur die tuin gejil het, tot Johan se ergernis. Daar was dronkmaakrooiwyn, maar niks te ete nie, totdat ons mettertyd self eetgoed begin saamvat het. Dit was nou maar Johnnie, maar ons het geduldig bly luister, want ons was lief vir dié sagmoedige siel.

Wat ek wel van dié besoeke onthou, was die reusevrugtevlermuise wat met ’n slag en ’n gekraak in die lukwartboom sou vasvlieg en die trosse lukwarte met hul swart vlerke omhels. Nik, terloops, was saam met Johan en Pieter Conradie die samestellers van die lywige bloemlesing SA in Poësie / SA in Poetry. Duidelik as alternatief tot Groot verseboek bedoel, het dit die tradisionele benadering in die plaaslike digtoneel probeer dekonstrueer. ’n Kritieke antikoloniale teks, sy tyd dalk heelwat vooruit.

Ná Edith Raidt my ’n pos by Wits aangebied het, het ek mettertyd kontak met Johan en Liesbet verloor, tot my groot spyt. Die nuus wat ek met verdrag te hore gekom het, was ontstellend. Johan sou die huis verlaat het, nie langer in staat of bereid om die rol van eggenoot en pa te vervul nie, en met ’n sekswerker in sy ouers se vakansiewoonstel gaan woon het. Maar dalk was ook dít ’n apokriewe narratief.

Veel, veel later, in 2012, toe ek by Maskew Miller Longman aansluit om saam met Jana Luther, my oud-Pharos-kollega, die sesde uitgawe van die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal voor te berei, ontmoet ek weer vir Liesbet, toe uitgewer van tersiêre handboeke vir MML. In haar kantoor ontmoet ek ook vir die eerste keer Johan en Liesbet se verruklik mooie dogter, Katrina Nonhlanhla. Versigtig-versigtig probeer ek uitvind hoe dit met Johan gaan.

Die nuus was inderdaad nie te goed nie. Johan is afgeboek. Of dit om sy gesondheid was of om sy asprisgeit jeens morele geborstrokheid, weet ek nie, maar ek hoop vir Johan se onthalwe dit was om laasgenoemde. Nietemin, hy was sonder werk en verhuis Bloemfontein toe waar hy in sy ouerhuis gaan woon. Ek ontdek hy is op Facebook en bemerk verheug hy het sy legendariese versameling esoteriese langspeelplate by hom. Wat meer sou mens op jou oudag wou verlang?

Nog later, in Augustus 2017, stig Liesbet, Ute Späth en Glendor Crouch, al drie gesoute uitgewers, die onafhanklike pasmaatuitgewerytjie Imbali Academic Publishers. Aan die einde van dié jaar stel hulle Trevor in the land of fantasy bekend, ’n kinderstorieboek geskryf en geïllustreer deur wyle Sheila Cussons. Die bekendstelling vind plaas by Nazareth House in Vredehoek, waar Sheila haar laaste jare deurbring. Jaume, Sheila se seun, vir wie ek in die tagtigerjare leer ken het, sou daar wees. So ook Andreas en Katrina, en Amanda Botha, Sheila se jare lange steun en vertroueling. Dis ’n stralende laatlentemiddag en die talle herontmoetings is heuglik. In die agtergrond merk ek ’n lang, huiwerende kaalkopfiguur op. Dis jouwaarlikwaar Johan!

Aanvanklik is ek nie seker of hy my herken nie, want dis 28 jaar later en baie water het in die see geloop, maar geleidelik dring dit tot hom deur en die ou innemende Johan kom na vore. Maar hy lyk verwese, nog stiller en meer teruggetrokke as voorheen. Daai stout sprankel was geblus.

Vergun my om af te sluit met drie van Johan se gedigte, uit Deur die oog van die luiperd.

XIII

ek gaan een van die dae
trek uit my kamer
die blou deken die rooi wiegstoel
die beeldjies die portrette die boeke
die plate die spieël die hoede die klere
die almanakke die tikmasjien
en die mat kom saam met my
ek gaan my kamer leeg los
ek gaan trek
met my siel met sy eensaamheid
sy aanbidding van die erotiese sy gesprekke met vrouens
en ’n god
en ek gaan hierdie lyf van my
leeg agter laat
ek gaan in ’n pers kamer woon
pers gordyne pers mure pers dekens
’n vrou met ’n pers nagrok sal been oor knie suig
aan ’n sigaret en die kas sal my skaduwees wees
elke laai gepak met my siel
ek sal my hande vryf
en sê: hoe lykit
is jy nou bly dat ek al daardie goed in die eerste strofe
maar uitgelos het nou’s dit net ek en jy
naakte wolwe hoe lykit

XX

ars poetica

’n gedig is ’n huis
om in te ek
my heining het ’n hek
almal is welkom
om in te kom
as julle hard genoeg skree
die trompette hard genoeg blaas
sal ek dalk
vir julle ontklee
dalk my oor afsny
dalk vir julle mooi vra
kom bly by my
miskien sal ek ’n wind laat
in die geselskap van ’n vraat
my huis het baie kamers
waar ek met vele minnaresse kan praat
op sagte beddens
dis tog waar die liefde lê
wie wil meer van die lewe hê

XLVIII

loop radi-kaal: dink, skryf
met jou eie kop
aan die steel van jou lyf
dink agterstevoor
as die pen in jou vingers verstyf
en jy begin kop verloor
skryf die visioen
laat die tirannie nie onverstoor
draai die wiel

  • 1

Kommentaar

  • Fanie de Villiers

    Dankie Fred! Ek het in Oxford House in Gillespiestraat, Durban, vir Johan gaan kuier; twee maal. Laat 90's, as ek reg onthou. Nie oorgeslaap nie, want by my skoonfamilie buite Pietermaritzburg oornag. Johan het my ’n paar plekke in Durban gewys.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top