Foto-onderhoud: Bibi Slippers oor Fotostaatmasjien

  • 4

fotostaatmasjien300

 

Fotostaatmasjien

Bibi Slippers

Tafelberg

ISBN: 9780624080732

 

 

 

 

 

Naomi Meyer gesels met Bibi Slippers oor Bibi se digbundel, Fotostaatmasjien.

Bibi, if you please: draw me a sheep.

Kyk hier onder.

https://www.instagram.com/singing_in_my_sheep

Jy kan ook gaan kyk by hierdie skakel – dis die weiveld vir my skaaptekeninge (“tekeninge” in die losste sin van die woord – ek is meer van ‘n plakker).

Is jou naam werklik Bibi? Is jou van werklik Slippers? Hoeveel mense het jou al hierdie vraag gevra?

Baie meer as wat jy sal glo! Bibi is kort vir Beatrice Barbara – dis hoe ek gedoop is, maar niemand noem my ooit een van daai buiten as hulle my wil terg nie. En my van is regtig Slippers. En nee, Bibi Slippers is nie ‘n skuilnaam vir Carina Stander nie. (Toe ek nog by LitNet gewerk het, het iemand dit eenmaal vir my gevra.)

Jou eerste digbundel het pas verskyn. Verklap asseblief iets hieromtrent: ‘n woord, ‘n beeld, ‘n stuk agtergrond, of jou emosies?

Woord: xerox. Dis vir my so ‘n mooi en fassinerende woord, so mooi soos fotostate ook vir my is.

Prente betrokke by die proses van die boek:

Agtergrond: Ek het in 2010 aan die bundel begin werk as deel van ‘n meestersgraad in kreatiewe skryfkuns. Ek het my graad uiteindelik in 2015 gekry – ek was ‘n sukkelende student en die boek het baie lank geneem om vorm te kry. Dis in November 2015 aanvaar vir publikasie by Tafelberg-uitgewers, en het nog presies ‘n jaar geneem om ‘n klaar boek te word. Baie van daardie jaar is spandeer aan strukturele veranderinge en ontwerp.

Nog ‘n stuk agtergrond wat verder teruggooi: Ek het voorgraads in die visuele kunste studeer, en het so teen my tweede, derde jaar ‘n belangstelling in visuele poësie, konkrete poësie en haptiese poësie ontwikkel. Ek was ook heel behep met “artists’ books” – ons het nie ‘n goeie Afrikaanse naam daarvoor nie, maar ek noem dit sommer kunsboeke. (Diegene wat belangstel, kan meer hieroor lees in my tesis.)

Ek het in my vierde jaar grootskaalse installasiekunswerke geskep wat met letters, woorde en taal as boumateriaal werk – en op ‘n manier is hierdie projek ‘n voortsetting van die werk wat ek toe al begin doen het. Ek dink in Fotostaatmasjien is die praktyk net baie meer gedissiplineerd en gefokus, en die woorde en ontwerp dra ewe veel gewig.

Kunsuitstalling 2007:

vragment

letterlik

white noise

white noise

babel

obsessie

suspended sentences

bos

verdwaaltaal

Wat was jou eerste gedig en het jy toe al geweet: dis ‘n gedig. Of: ek wil gedigte skryf?

Ek het as kind rympies en versies geskryf, maar ek was geen Antjie Krog nie. Op universiteit, nadat ek blootgestel is aan meer kontemporêre stemme, het ek self begin eksperimenteer en hier en daar was daar iets wat my laat dink het dit kan dalk gedigte word. Jo Prins het een van daardie pogings in DigBy gepubliseer, en Charl-Pierre Naudé het my in sy kommentaar op die gedig aangemoedig om nog te probeer skryf. Die DigBy-werkswinkel, waar deelnemers se gedigte deur gevestigde digters en ander deelnemers bespreek en gekrit is, was baie waardevol. Later ook LitNet se aanlyn skryfskool. Ek het ook baie geleer uit die publikasie van Nuwe Stemme 4. Marlene van Niekerk en Willem Anker, my studieleiers by die US, het egter nuwe standaarde gestel en my op ‘n heel ander vlak uitgedaag. Die meestersgraad is ‘n proses wat jou gereeld laat wonder of jy régtig wil skryf – en ek dink dis een van die belangrikste goed wat mens daaruit wegneem: die oortuiging dat jy dit wíl en sál doen, al gaan dit moeilik.

Is daar omgewings wat jou kreatief meer stimuleer as ander? Of mense? Of aksies? 

Ek het êrens in ‘n ou notaboek ‘n aanhaling neergeskryf wat my altyd sal bybly: “Creativity adores solitude.” So vir my is dit nie ‘n spesifieke omgewing nie, maar ‘n innerlike stilte wat ek moet kweek voor ek kan werk. Ek is nie van nature stil van binne nie – ek is soos daai Energizer-haas wat rondhardloop en op trommetjies slaan en dingetjies doen en êrens heen hardloop en almal irriteer. So ek moet lank op my eie wees en my foon afsit en die internet blok en net daar sit of lê of op en af stap tussen die lessenaar en die yskas, en na dae hiervan gebeur daar dalkies iets. Bad en stort help as ek vashaak; of stap. Ek voel wel ‘n diep band met Bakoven naby Kamspbaai in die Kaap. Ek gaan dompel myself gereeld daar in die see, en dan voel ek vol energie vir lewe en skep.

Die mees onthoubare plek waar jy al ‘n gedig geskryf het?

Seker maar op die strand by Bakoven. Hier's foto's.

Bakoven, 2013

Bakoven, 2014

Bakoven, 2015

Bakoven, 2016

Ek skryf ook graag op vliegtuie. En in die oulike klein huisie waarin ek in Taupo in Nieu-Seeland gewoon het.

Maar word alles gewoon gefotostateer? Praat met my oor daardie titel, as jy wil.

As jy mooi daaroor dink: ja. In my boek is die aksie van fotostateer gelyk aan duplisering/kopiëring. En alles van ons DNS tot die taal wat ons praat en die kultuur wat ons voortbring is ‘n resultaat van hierdie proses.

Die boek se werkstitel was Afskrif – ek hou nog steeds van daardie titel ook. Maar my uitgewer, Tertius Kapp, en raadgewer, Loftus Marais, het beide gevoel dis outyds en koeklik (soos ek 😉 ), maar die boek is nie so nie – toe het ons ander name ge-“breinstorm” en op Fotostaatmasjien besluit.

Ek hou regtig baie van fotostaatmasjiene. Ek het op universiteit derduisende rande se fotostate gemaak, en ook ander mense se weggooi- fotostate uit asdromme gevis en versamel. Ek het steeds bokse en bokse vol beeldskone fotostate – die gradiënte van wit na grys na swart is mooi; die teksture wat die masjien voortbring. Iets aan die estetika van fotostaatmasjiene spreek eenvoudig kliphard tot my.

Toe ek begin oplees oor die geskiedenis van fotostaatmasjiene en die proses, het Chester Carlson (die uitvinder van die fotostaatmasjien) as karakter my ook onmiddellik gefassineer.

Laastens hou ek baie van die idee dat mens elke fotostaatmasjien uitken aan sy unieke stel foute. Die “foute” in die fotostate is wat in forensiese ondersoeke gebruik word om die masjien te eien. Dit was vir my ‘n mooi metafoor vir die digter se stem: dat jy aan jou foute geken sal word, maar dat mens daardie foute kan inspan om jou stem te differensieer. Tony Hoagland het ook iets van dié aard gesê – maar ek kan nie nou die aanhaling opspoor nie.

Temas, of tema: As jy deur jou eie bundel blaai, is hier ‘n gemeenskaplike tema? Of staan elke gedig onafhanklik van die ander? 

‘n Groot deel van die werk aan die bundel was om die gedigte saam te weef, sodat hulle nie té onafhanklik staan of rondsweef nie – maar dit was ‘n uitdaging want die temas is eintlik nogal uiteenlopend. Daar is gedigte wat oor skepping, kreatiwiteit en oorspronklikheid gaan, outobiografiese verse, popmusiek, politiek, liefde, voëls, kuns, en alpakkas. Ek het gesweet om die lot as ‘n geheel te laat funksioneer sonder om té voorskriftelik en eng te wees. Ek wou hê dat dit op ‘n losserige manier saamhang – dat daar nog kolletjies oorbly wat die leser self met mekaar kan verbind.

Jy skryf baie meer as gedigte. Wat skryf jy nog? En wat is volgende?

Ek skryf daagliks tekste vir TV-uitsendings en kopie vir reklame. Wanneer sulke werk verbykom, skryf ek ook artikels vir tydskrifte en koerante. Ek het al ‘n kortverhaal of wat gepleeg – en ek dink in die nuwe jaar wil ek aan ‘n roman of samehangende kortverhaalbundel begin skryf.

 

  • 4

Kommentaar

  • Liefste Bibi! Jy is net in 'n ander klas! Jy weet ek werk nou by Konica MInolta ... fotostaatmasjiene is nou my brood en botter! 🙂

  • Avatar
    Herman Lategan

    Lieflike onderhoud, dankie. Werk ook visueel uitstekend. Laat my terugverlang na Interview Magazine (New York) toe Andy Warhol nog die redakteur was.

  • Gaan een vir een jou boeke aankoop. Dit klink ongelooflik leesbaar en ek lees BAIE en WYD!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top