
- Breyten Breytenbach word veras en daar is op Dinsdag 3 Desember 2024 by die kapel in die Père Lachaise-begraafplaas in Parys (Frankryk) van hom afskeid geneem. Anelia Heese het die geleentheid bygewoon. Sy deel haar indrukke en foto's met LitNet. Die foto’s verskyn met toestemming van Breyten Breytenbach se familie.
Om in my vel en volk te probeer tuis kom, het ek die afgelope tyd goeie gespreksgenote begin vra: Wat is jou eerste herinnering van witwees? Dikwels wys die antwoord op hierdie vraag die persoon se posisie as buitestander uit, hetsy as bewonderaar, verraaier of twyfelaar. As bewonderaar: “Wanneer die veld langs die pad so doodgeryp was, het ek gewonder of hulle nie dalk van ander stoffasie gemaak is nie, want hoe anders kan hulle met so min warmgoed klaarkom?” As verraaiers: “Met ’n skooltaak is ons oor die sogenaamde ‘bevolkingsprobleem’ gevra, en ek het besef hoe anders ek as my maats dink.” As twyfelaars: “Hierdie waarskuwing dat Thandi se swart vel op myne sal afsmeer, het eenvoudig nie sin gemaak nie, want ons het van kleintyd al saam gebad.”
.........
Wanneer het jy begin om te Breyten? Wanneer en deur wie is jou idees oor liefde en verset gebore? Wie het vir jou die taal gegee om die onreg van die stelsel raak te sien, te bewoord en te beveg?
.........
In tandem met hierdie vraag kan jy ook vra: Wanneer het jy begin om te Breyten? Wanneer en deur wie is jou idees oor liefde en verset gebore? Wie het vir jou die taal gegee om die onreg van die stelsel raak te sien, te bewoord en te beveg? Die dominee het op ons gepreek dat Jesus vir ons sondes aan die kruis gesterf het, ja, fantasties … Maar Breyten … Breyten was bereid om vir sy liefde in Pollsmoor te vergaan. Wie het aan jou daardie idealistiese streep gegee, daardie “droom om hoog genoeg te loop / om jou teë te kom, dat jy uit my struikeling / van woorde gespel kan word in ’n land waar ek / met jou mag praat”?

’n Kruis op ’n graf by die Cimetière du Père-Lachaise in Parys, 3 Desember 2024 (foto: Anelia Heese)
Breyten word deel van my bewussyn by die eerste begrafnis wat ek bywoon, die begrafnis van my oupa, twintig jaar gelede. My oupa het lank reeds aan depressie omgekom voordat ons hom begrawe het. Ek onthou hom as ’n bleek, tandlose, krom gestalte, te beenderig vir uitbundige kleuters. Hy was te futloos vir gesels, sy kamer te donker vir kuier. Sy siel het saam-saam met die aartappelsop by sy ken tot op die vloer uitgeloop. Die reuk van ontlasting het aan hom bly kleef met daardie halsstarrige traak-my-nieagtigheid van iemand wat die dood nader wink. Met sy afsterwe het my pa minder oor sy pa gehuil as oor sy hond.
Ek weet bitter min van my oupa Hans, benewens ’n enkele vertelling wat rondom sy begrafnis aan my oorgedra is: dat hy diep ontstig oor Breyten se vonnis was. My pa was ’n tiener, maar onthou: “Oupa was ontsteld. Hy het gevoel dis alles trumped-up charges van die apartheidsregering. Breyten was een van daai Afrikaners, soos oom Bey, wat nie met die establishment saamgestem het nie en met isolasie daarvoor moes betaal. In ’n Broederbondwêreld was dit moeilik om die pad te navigeer vir dié wat nie ’n stem gehad het nie. Oupa het met Breyten vereenselwig: As jy nie met die elite saamstem nie, word jy ’n randfiguur, afgemaak as onbeduidend. Hoe ’n groot tragedie is dit wanneer die sisteem dit regkry om diegene wat hulself daarteen verset, te isoleer.”
Vir ’n rebelse tiener in ’n benoude two-tone Kakamas het alles skielik meer sin gemaak. In hierdie rigiede NG-De la Rey-wêreld was my oupa se houding jeens Breyten ’n geheime stempel van aanvaarding. Ek moes dadelik uitvind: Wie is hierdie man wat ’n ander emosie behalwe apatie by my oupa kon aanwakker? Ek ontdek eers die romantikus, dan die revolusionêr.
As tiener het ek geglo Yolande het uit Breyten se lewe veel groter kuns geskep as wat hy ooit alleen kon opdig. Ná die lewensverhaal kom toe die taal. My opvoeding was nog beskut deur die kosjer meesters van Afrikaans Huistaal, NP en DJ, toe daag Die windvanger in my matriekjaar op. Ek het natuurlik boggherol verstaan, behalwe dat hier ’n man op die bladsy loop wat diep bemoeid met die woord was – die ondoeltreffendheid en ontoereikendheid daarvan.
.........
... [J]y is nie hier nie, nie daar nie; jou werk en komvandaan is êrens tussen hier en nêrens. Of, soos hy dit in sy eerste digtaal gestel het: “Ek is maar net hier en daar hond.”
.........
Antjie het met haar onlangse huldeblyk aan Breyten die aangehaalde woord “kak” met onverbiddelike flambojantheid oor die oggendradio laat klink. (Nie ’n enkele klagte is ontvang nie, het die redakteur van RSG se Op en wakker my meegedeel.) Ek onthou nie veel van die bundel nie, maar ek onthou wel Breyten het oor ontlasting en kak en skyt geskryf asof dit bo banaliteit verhef behoort te word, sodanig dat ek een keer na my eie drolle in die toiletbak gestaar het om te probeer sien wat hy sien. Suksesvol was ek natuurlik nie – daar is immers net één Breyten.
Later, toe ek self in die buiteland woon en myself in ’n staat van kulturele droefheid bevind, was Breyten weer ’n gids. “To be in the Middle World is to have broken away from the parochial, to have left ‘home’ for good (or for worse) while carrying all of it with you and to have arrived on foreign shores (at the outset you thought of it as ‘destination’, but not for long) feeling at ease there without ever being ‘at home’.” Jy kap aan; jy is nie hier nie, nie daar nie; jou werk en komvandaan is êrens tussen hier en nêrens. Of, soos hy dit in sy eerste digtaal gestel het: “Ek is maar net hier en daar hond.”
Daar is egter momente wanneer die vabonde volwaardig huiswaarts wil keer, wanneer die Middelwêreld kan gaan vlieg. Wanneer die dood aanklop, moet ons terug na ons komvandaan reis om te groet. Of aan die bes moontlike alternatief deelneem.
.........
Dit is wat ek vandag, op hierdie derde dag van Advent in die jaar 2024, in Parys kom doen. Om vir Breyten, wat die laaste weke van sy lewe die dood Afrikaansloos hier tegemoet gegaan het, te kom groet.
.........
Dit is wat ek vandag, op hierdie derde dag van Advent in die jaar 2024, in Parys kom doen. Om vir Breyten, wat die laaste weke van sy lewe die dood Afrikaansloos hier tegemoet gegaan het, te kom groet. Al praat ek hier met net een ander mens Afrikaans, het ek by myself gedroom, sal hierdie enkele kromheid in sy storie reggebuig word.

In Parys (foto: Anelia Heese)
Ek het die vooraand uit Berlyn hierheen gevlieg. Vanuit die vliegtuigvenster kon ek Parys se Middeleeuse geel stadsliggies aanskou, skitterende spatare op die dye van Europa se verleidelikste stad. Vanoggend vroeg uit die vere om in die wêreldberoemde begraafplaas, die Cimetière du Père-Lachaise, te verdwaal. Dis beeldskoon, hierdie grafte wat ouer is as die dorp waar ek gebore is. Of daar rus vir die wurms is, weet ek nie, want hier brom ’n bataljon two-stroke blaarblasers verwoed teen die wanorde van herfs. Dit verg skynbaar vrek baie moeite, hierdie verbete poging om die dooies vir die lewendes op te dress. Ek wonder of Proust wat hier lê, ooit sy madeleines bo die gedreun kan proe.




By die Père Lachaise-begraafplaas in Parys, Frankryk, 3 Desember 2024 (foto’s: Anelia Heese)
Die son klop nie in hierdie aarde vandag nie – dis ’n grys drie grade buite wat jou lyf ongenaakbaar skil. In hierdie begraafplaas, waar ons die Zen-Boeddhis vandag die lug as as instuur, het ons met verheerliking van suspensie te make. Hier is ’n uitstalling spykerige jesusse teen kruise sonder ’n gejanfiskaalde mossie se hoop op ontbinding, rye en rye nissies mense, wat gloei in ’n ingelegde wêreld … (Albertas) op die rak.
Teen twee-uur is ons reeds by die kapel gereed om ons sitplekke op te eis, bang dat daar ’n skare sal wees soos by ’n nuwerwetse konsert. ’n Mens weet nooit – hy was tog langer in Parys as in Suid-Afrika; dalk is hy hier vir ander ook die ikoon wat hy vir jou is.

Die kapel by die Père Lachaise-begraafplaas waar die huldigingsdiens vir Breyten Breytenbach gehou is, 3 Desember 2024 (foto: Anelia Heese)
In die koue staan en wieg ons, met lang swaar jasse soos dromende pikkewyne, wag vir die voorafgaande diens om klaar te maak. Ou vriende groet mekaar. Ek sien die klein gestalte van Yolande; sy vat albei my hande in hare. Sy glimlag en sê dis goed om so baie Sud-Afriqueaners hier te sien.
Die kapel maak sy deure oop en die teater van begrafnis skop af. ’n Amptenaar van die begraafplaas open die seremonie, dan snak ons kollektief na asem soos die kis ingedra word. Twee Boeddhistiese monnike sing lank genoeg aan katalekte uit ’n geel boekie dat ons weer ritmies asemhaal.

Die “afskeidsritueel” is geopen deur twee Boeddhistiese monnike. (Foto: Anelia Heese)
Die seremonie is meestal in Frans, wat ek nie magtig is nie, maar die taal van ’n afskeidsritueel is universeel: Dis die effe gejaagde lees aan ’n voorbereide toespraak, die mans wie se stemme onverhoeds klein word, die pseudoakademiese aanslag van kollegas. Ek bly ’n buitestander, genooide antropoloog. Tot nou toe was die viering van sy lewe gefokus op Breyten die beminde, as man, as pa, as oupa, as geliefde kollega. Maar wanneer sy jare lange vriend, vertaler en raadgewer, Georges Lory, “Rooiborsduif” in Afrikaans voordra, knak ek en Marita van der Vyver na mekaar toe soos riete in die laatsomer. Dan is die verlies skielik ook ons s’n: Afrikaans kan nooit dieselfde wees nadat hierdie seun terug na sy pa se huis in Wellington is nie.
........
Maar wanneer sy jare lange vriend, vertaler en raadgewer, Georges Lory, “Rooiborsduif” in Afrikaans voordra, knak ek en Marita van der Vyver na mekaar toe soos riete in die laatsomer. Dan is die verlies skielik ook ons s’n: Afrikaans kan nooit dieselfde wees nadat hierdie seun terug na sy pa se huis in Wellington is nie.
........
Swartbaard Breyten verskyn op die skerm, ’n versameling foto’s saam met Madiba, Baldwin, Brink, langarmdans met Ampie. ’n Snit uit die Franse dokumentêr Une saison au paradis (1996) oor ’n wederreis na Suid-Afrika wys hom vrolik aan’t neurie aan “Nkosi sikelel' iAfrika”, glas rooi in die hand.

Breyten se dogter Daphnée plaas ’n paar ingeloopte rooi vellies op die kis se voetenent. (Foto: Anelia Heese)
Kerkorrel se toonsetting van “Aa Mens!” klink in die kapel op en hy word by die trappe opgedra, vuursluise toe. Kleinkinders word opgetel en vasgedruk, nie omdat hulle kriewelrig raak nie, maar omdat hul ouers iets nodig het om aan vas te hou. Yolande glimlag. Georges waai soos ’n kuiergas wat uit ’n inrit vertrek.
Ons skuifel uit die koue saal die kouer donkerte in. Ek groet vir Dominique Botha, wat in trane uitbars wanneer ek haar vertel dat ek uit Berlyn hierheen gereis het (sy het die veel langer reis uit Stellenbosch aangedurf). Sy gee vir my ’n klip wat sy in die Drakensberge opgetel het, sê ek moet dit in Berlyn vir Breyten gaan opdra. Wat is haar eerste herinnering van Breyten? “A, Breyten was nog altyd daar. Ons het tydens die dood van apartheid, oftewel, die laaste stuiptrekkings daarvan, grootgeword. Breyten was so ’n belangrike figuur, ’n simbool vir wat ’n Afrikaner, ’n Suid-Afrikaner, kan wees. Ek weet Jeanne Goosen het daardie belangrike woorde, ‘ons is nie almal so nie’, eerste neergepen. Maar Breyten het dit aan die groot klok gehang, hy het dit vergestalt. Ek kan nie eintlik onthou dat hy nié daar was nie.”

Kerkorrel se toonsetting van “Aa Mens!” klink in die kapel op en hy word by die trappe opgedra, vuursluise toe. (Foto: Anelia Heese)
Ek vra vir Georges wat sy eerste herinnering van Breyten was. Sonder om ’n oomblik te huiwer: “Vroeg sewentigs. My wintervrou is ’n klein klein voëltjie”, en dan lag hy soos hy die mossieklank tjie-tjie-tjie namaak.
Ek stap weg, nagtrein toe. Skielik val dit my by, die inskrywing in een van die boeke uit my oupa se huis; dalk was dit Gibran se “Profeet”.
Kersfees 1972 – Vir Annie
Dankie
dat jy vir ons kleingoed
werklik Ma is.
My oupa was ’n buitestander van die revolusie, maar hy was heel waarskynlik ’n romantikus. In ’n liefdelose era soos apartheid was dit seker genoeg.
- Met dank aan my penmaats, Alwyn Roux en Andries de Beer, vir die Breyten-verwysings. En vir die aanmoediging, sodat ek die taak nie heeltemal toeterend befoeter het nie (want my bek is te glad).
Nog foto’s van die dag

Daphnée Breytenbach, haar man Timothé Seguin, Yolande Breytenbach en Alexander, ’n familielid van Yolande, 3 Desember 2024 (foto: Anelia Heese)

Daphnée Breytenbach, 3 Desember 2024 (foto: Anelia Heese)

Yves T’Sjoen, Mia Pistorius en Georges Lory (foto: Anelia Heese)

Yves T’Sjoen en Mia Pistorius (foto: Anelia Heese)

Yves T’Sjoen en Anelia Heese (foto: verskaf)
Lees ook:
My kennismaking met Breyten Breytenbach, die maer man met die groen trui


Kommentaar
Teater van begrafnis. Só mooi. Dankie dat jy dit met ons deel asook die foto's. Die begraafplaas trek my...
Baie dankie Anelia.
Ons kon min uitmaak via die webcam se stotterige
klank en beeldspoeggies.
Jou verslag is genesend.
Dankie.
Breyten Breyren waar is jou as.
In die wind in die wit op my jas.
As ons maar net alles kon afwas
en vergeet van alles wat so krap.
Ook al die trane wat tap te droog.
Pragtige woorde. Breyten sou daarvan hou, dink ek.
Breyten
Ou boerboel, rowwe diamant
Gehou vir 'n kort tyd in ons hand
Van onskatbare waarde
Nou terug na die aarde
So jammer André Brink is nie meer hier om oor sy lewe en dood te skryf nie. Pampoenstories waaroor hulle so intens kon skryf. Liefde uit my letterkundehart.
Vir Breyten.
Die fynbos koninkryk waarin ek bly, bloed disas, duikertjies en pers duif, ystervarke, ook die gedig van voeltjies van verganklikheid, sien sterstof op hange van die grys verbrande Grootberg.
Baie dankie vir die eerstehandse weergee en veral die foto's wat ons, wat noodgedwonge kubervoyeurs was, beter kon laat meeleef aan BB se laaste groet. Ek het twee gedigte ná die diens as afskeidsgedigte geskryf met soortgelyke strekkings, maar jou skrywe het die somber dag vir ons ingekleur, tuis gebring.
Ek het sy hofsaak bygewoon.
Epigeneties die slagdoppie van 'n sombere lewe en ons wêreld nog meer opgefrommel om mooi en romanties in sy moer in te stuur.