Ek het Breyten Breytenbach vir die eerste keer van aangesig tot aangesig tydens die Kaapstadse Somerskool se lesingreeks oor die Sestigers ontmoet. In Februarie 1973 by die Universiteit van Kaapstad.
Met sy gedigte het ek twee jaar vantevore in my honneursjaar aan die Universiteit van Port Elizabeth kennisgemaak. Ons was twee in die klas. Een moes Van Wyk Louw en die ander Breyten Breytenbach se werk vanuit die immanente poëtikateorie bekyk. My klasmaat is aangesê om Breyten te doen. Sy was stomgeslaan en vir my het Van Wyk Louw se werk weer te helder en deursigtig voorgekom. Toe ruil ons opdragte. Ek was gefassineer deur die onbegryplike in Breyten se werk, die vreemdheid, die eksotiese verwysingswêreld, die buitensporigheid en veral die ongewone gebruik van Afrikaans. Ek wou agter die kap van Breyten se byl kom, en ná die immanente poëtika-essay besluit ek om, eerder as om werk te soek, ’n meestersgraad oor sy poësie te doen. Maar nie by UPE nie.
Iewers moes ek betroubare advies kry. Met jeugdige selfvertroue skryf ek aan Rob Antonissen, vroeër hoof van die Afrikaans-Nederlands-departement maar toe viserektor van Rhodes-Universiteit. Hy sal beste weet. Hy skryf terug, vra vir twee van my honneurswerkstukke en stel voor dat ek hom op ’n Saterdagoggend by sy huis in Grahamstad ontmoet. As jy oor Breytenbach wil werk, sê hy dié oggend voor ’n gesellige kaggelvuur in sy kantoor tuis, is daar net een persoon om jou te lei: André Brink.
Ek het raad gesoek en gekry en dit aanvaar, maar ek was skrikkerig, want André Brink had ’n reputasie as anti-establishment-woelwater. Kort vantevore het daar ’n foto van hom in die koerant verskyn waar hy, agterstewe na die kamera, met een van sy babas op sy studeerkamervloer speel.
Rob Antonissen registreer my nie net as MA-student nie, hy sorg ook dat ek ’n Rhodes-Universiteit-studiebeurs kry. Ek het nie besef hoe buitengewoon sy optrede was vir iemand van sy statuur nie. Ook nie hoe siek hy reeds was nie. Dit was die enigste keer dat ek hom gesien het; ’n paar maande later, pas ná ek in Grahamstad aangekom het, is hy oorlede.
Dit was heerlik om onder André Brink se toesig te werk. Jy maak ’n afspraak wanneer jy voel dis nodig en gaan sien hom by sy historiese Setlaarhuis, die Cock House oorkant die Markplein, in sy kantoor met boekrakke van die vloer tot aan die plafon. Nooit is ek genooi om op een van die gestoffeerde, wynrooi, antieke leunstoele plaas te neem nie. Anders as sy aanvallende beeld in die pers, was André as persoon skugter. Ons praat staan-staan, hy agter sy groot stinkhoutlessenaar, ek op die diep Persiese mat aan dié kant. Hy is slimmer as ’n mens, soos Daantjie Saayman sou sê. Daar is niks wat ek hom kan vertel wat hy nie klaar weet nie. En ek sukkel om my gedagtes op skrif te kry. Wat wil jy sê? vra hy. Ek sê wat ek probeer sê. Maar skryf dit net so neer, stel hy voor. Maar ek kry dit nie reg nie, kla ek met trane in my oë.
Dit was aanvanklik werklik moeilik om my insigte ten opsigte van Breyten se gedigte in woorde neer te pen. Ek het Lao Tzu se waarskuwing in die Tao Te Ching as verskoning voorgehou: Those who know do not speak. Those who speak do not know. Breyten se werk het immers eksplisiet en implisiet die gees van die Zen-Boeddhisme geadem. Brink het dit nie ’n geldige argument gevind nie.
Dit was happy-go-lucky dae, die verdraagsame hippie-era van min materialistiese ambisie en geen verbete fokus op jou studies of toekoms nie, en dit was eers toe André my vra of ek nie saam met ’n Afrikaans-lektor van Fort Hare Kaap toe wil ry vir ’n simposium oor die Sestigers en hom aan petrolgeld wil help betaal nie, dat ek wakker skrik. Ek kan helaas nie die dosent se naam onthou nie, net dat hy buitengewoon mededeelsaam was: Toe ons in die Kaap kom waar hy vooraf vir hom plek in ’n universiteitskoshuis bespreek het en ons geen verblyf had nie, leen hy vir my sy motor vir die duur van die simposium sodat ons tussen vriende en ouers se vriende vir slaapplek kon rondval. Want toe hy in Westering in die buitewyke van Port Elizabeth, vlak by die N2 Kaap toe, stilhou om my op te laai, staan daar nie net een onbekende meisie en wag nie, maar drie. Vaal geskrik, het hy eintlik geen ander keuse gehad nie.
Breyten se teenwoordigheid het ’n opskudding in die land veroorsaak. Dit was die eerste keer dat hy terug in Suid-Afrika was sedert hy in 1960 op ’n Portugese skip landuit is en uit beginsel nie wou terugkeer sonder sy Viëtnamese vrou, Yolande, wat volgens die apartheidswetgewing, nie wit genoeg was om hier te wees nie.
Die twee van hulle het wel in Februarie 1967 Tafelberg saam uit die Kaapse hawe betrag. Hulle was per boot op reis om Afrika en Breyten het naïef gehoop om ’n besoekersvisa te kry om aan land te kan gaan. Dit is nie toegestaan nie en Breyten skryf:

Klik hier vir ’n groter weergawe van hierdie gedig.
Ikeys se kampus kook. Man en muis van die Sestigers gaan optree, ook dié wat nie juis met die benaming identifiseer nie: André Brink, John Miles, PG du Plessis, Chris Barnard, Abraham de Vries, Hennie Aucamp, Etienne Leroux, Adam Small, Jan Rabie. Van Engelse kant is daar Jack Cope en Richard Rive. Uitgesoekte Afrikaanse literatore en intellektuele waarborg die nodige ewewigtigheid: Ampie Coetzee, Johan Degenaar, John Kannemeyer, WEG Louw, Van Zyl Slabbert, PD van der Walt. Advokaat DP de Villiers voer die openingsrede. Voor die voet manne, geen meisies nie, besef jy ná die tyd.
Die Leslie-teater was reeds stampvol. In die breë gang voor die groot lesinglokaal gons dit. ’n Kronkelende tou mense met die ysterkoei moet sweet of ’n meer onlangse bundel, of sommer net ’n program of stuk papier in die hand, beur en skuifel langsaam in die geharwar vorentoe en wag opgewonde vir Breyten se handtekening.
Ek val ook in die ry. Sonder boek of papier. Toe ek voor Breyten te staan kom, hou ek my oop palm na hom uit. In die gees van die speelsheid in sy gedigte. Hy kyk vraend op en ek sê my volle naam. Dit vat twee sekondes. “Merel!” sê hy verras, vat my vier voorvingers vas en teken op die hiel van my hand.
’n Paar maande vantevore het André Brink voorgestel dat ek vir Breyten in Parys skryf. Ek behoort die twee velletjies blou lugpospapier nog iewers te hê, netjies met Breyten se klein handskrif daarop. Op sy tipiese manier het hy met die klank van my naam gespeel en teen die tweede brief het die Merwe “Merel” geraak – ’n pikswart Europese lyster.
Onthou, het Breyten vir Merel geskryf, kuns is iets waardeur jy na jouself kyk. Wat jy in my werk gaan soek en vind, gaan meer oor jou sê as oor my.
Breyten se poësie is indertyd as volksvreemd, ondermynend, ekke-rig, skatologies, oordrewe eroties beskou; sy tekeninge deur sommige mense as pornografies afgemaak. Daar het toe nog geen grondige studies oor sy werk bestaan nie. André Brink, met sy enorme belesenheid, kennis van die wêreldliteratuur, vertroudheid met verskeie Europese tale en literature – en les bes sy vriendskap met Breyten – was werklik die enigste persoon wat sy werk met insig en sonder vooroordeel na waarde kon skat, soos Rob Antonissen tereg opgemerk het. Sy Blokboek oor Breyten was die enigste Afrikaanse bron oor sy werk; daar was geen resensie oor sy digbundels om lig by op te steek nie, net mistastende reaksies in die pers.
Omdat Brink bevind het dat my drie jaar lange ondersoek ’n verhelderende bydrae maak tot ’n onderverkende studieveld, het hy aanbeveel dat my aanvanklike MA-skripsie as PhD-verhandeling voorgelê word, met as titel Paradoks as poësie.
*
Teen die tyd dat ek in September 1975 met ’n PhD agter die blad per Italiaanse passasiersboot Europa toe vertrek, is Breyten reeds in hegtenis geneem volgens die Wet op Terrorisme en verhoorafwagtend. Die rede wat verskaf is, dat hy die land onder ’n vals naam, Christian Galaska, binnegekom het. My handgeskrewe manuskrip, los velle notas en die voos geleesde en met potlood bekrapte eksemplare van sy eerste vyf digbundels het in ’n kartonboks op die solder van ons Karooplaas tussen klipkoppies agtergebly. Maar ná drie jaar se intensiewe bestudering en bepeinsing van sy werk, reis Breyten se gees saam met my – onvergeetlike frases en versreëls en weird and wonderful beelde wat soos surrealistiese skilderye in my verbeelding draai.
Ek het die essensie van sy Zen-houding my eie gemaak: om in die hier en die nou te lewe; om elke verskynsel as ’n blommetjie in die liggaam van Boeddha te beskou – alles ewe belangrik en alles met bewussyn deurtrek; om te weet dat niks ooit finaal is nie maar ’n ewige kringloop. Ook die lewe en die dood. Jin en jang – lig en donker, goed en kwaad, lewe en dood, verhewe en platvloers – die een bestaan in terme van die ander, nie as teenoorgesteldes en teenstrydighede nie.
Te danke aan Breyten reis ek na die stamaarde van ons taal met ’n gevoel van trots en verwondering oor die plooibaarheid en seggensmoontlikhede van Afrikaans.
*
In Nederland is Breyten ’n cause célèbre. Daar is groot ontsteltenis oor sy inhegtenisname. Hy is ’n bekende en gewilde figuur. In Rotterdam het hy gereeld by Poetry International opgetree. In Amsterdam word sy boeke in vertaling uitgegee deur Meulenhoff, dié uitgewers van toonaangewende plaaslike en buitelandse skrywers. Soos Karel Appel, Corneille, Hugo Claus en Lucebert, stal hy uit by Galerie Espace, Nederland se voorste galery van eietydse kuns.
By die Poetry International-byeenkoms in Junie 1977 is daar ’n spesiale fokus op Breyten Breytenbach. Hy is intussen van hoogverraad aangekla en tot nege jaar tronkstraf gevonnis. Ek en Ena Jansen, wat ook in Utrecht studeer, woon die verrigtinge by. Ek is gevra om van Breyten se gedigte voor te lees. Geklee in ’n pikswart rok staan ek agter die mikrofoon en haal diep asem voor ek begin lees.

Annari by Poetry International, 1977
Daar is ook ’n uitstalling van ’n aantal van Breyten se vroeë grafiese werke by die poësiefees om in medewerking met die Breytenbach-komitee, wat vroeër al gestig is, bykomende fondse in te samel, hoofsaaklik om Yolande finansieel by te staan.
Ek soek versigtig na ’n werk wat ek met vrymoedigheid eendag in my huis terug in Suid-Afrika sal kan hang. Die werke is deur die bank eroties eksplisiet. Uiteindelik vind ek ’n ets, geteken en die datum ’68. Dit kom redelik skadeloos voor en ek doen die nodige om wat ek as ’n groot kokshoed aansien, aan te koop. Dit was helaas geen kokshoed nie en terug in Kaapstad het "’n Blom is ’n vlieg met kimono" jare lank in die huis gehang van my goeie vriend Johan Muller, wat my destyds met sy tweedehandse grys Riley met egte okkerneuthoutpaneelwerk Grahamstad toe geneem het om Rob Antonissen te sien. Johan het dit allerdeftigs laat raam, en dit hang in sy gang totdat hy dit aan my terugbesorg omdat dit nie in sy nuwe vriendin se smaak val nie.
*
My betrokkenheid by Breyten se skryfwerk het my ’n goeie aanknopingspunt gegee om met mense in my nuwe, vreemde omgewing kennis te maak. Toe ek my voete ná ’n paar weke effens gevind het, skryf ek aan sy Nederlandse vertaler Adriaan van Dis, die enigste manier daardie tyd om met vreemdes te kommunikeer. Ek het in my naleeswerk op sy naam afgekom. Ek aanvaar dis ’n ouer, wyse akademikus, iemand soos Antonissen. Dit blyk ’n lewenslustige jongman te wees, ’n joernalis met ’n bos krulhare en ’n onblusbare belangstelling in Afrikaans. Deur die bemiddeling van Truida Lijphart het hy in 1974 drie maande lank buite Stellenbosch by WEG Louw en Rosa Nepgen op hul wynplaas Sondraai gewoon, om die universiteit te besoek en die land te verken. (Ná Merwe Scholtz as hoogleraar van die “vakgroep Zuidafrikaans” [Afrikaans] uitgetree het, is Truida Lijphart-Bezuidenhout aangestel as “wetenskaplike medewerker” in sy pos wat weens die destydse kulturele boikot nie weer gevul is nie.)
Later onderskei Adriaan van Dis hom as televisie-aanbieder, openbare spreker en een van Nederland se bekendste en veelsydigste skrywers. Van sy boeke is ook in Afrikaans vertaal.
Die eerste keer toe ek op my eie vir geen werklike rede nie Parys toe gaan, gee Adriaan my Georges Lory se telefoonnommer. Georges, omtrent ons ouderdom en self ook ’n digter, het van Breyten se gedigte in Frans vertaal. (Later het hy ’n eie bundel Afrikaanse liefdesgedigte gepubliseer.)

Annari, Adriaan van Dis, Georges Lory en Breyten, Parys, 2015
Georges kom uit ’n volbloed- Franse familie van taalbegaafdes wat in Brugge in België gewoon het. Hy is die oudste kind. Die tweede seun doseer Arabies aan ’n universiteit, die derde Bulgaars, die enigste suster was ’n tolk voor sy ’n Karmeliet geword het, en sy jongste broer werk steeds as internasionale gids op die hawe van Antwerpen.
Georges het mettertyd ’n Afrika-kenner geword en redakteur van die weeklikse tydskrif Jeune Afrique. In die vroeë negentigerjare en weer van 2009 tot 2013 het hy in Suid-Afrika gewoon en gewerk, eers as kulturele raadgewer by die Franse Ambassade in Pretoria en later in Johannesburg as hoof van die Alliances Françaises in Suider-Afrika.
Met Breyten as gemene deler, het Adriaan, Georges en ek lewenslange vriende geword.
Iemand wat my uit sy eie opgesoek het vanweë my verbintenis met Breyten se werk was Berend Schuitema. Wel nadat ek al geruime tyd in Nederland was. Sal ek hom op so ’n tyd by so-en-so se koffiekroeg ontmoet, skryf hy uit die bloute. Ek was goed skrikkerig. Ek het vaagweg van hom geweet, van sy rol in Okhela, die hoofsaaklik wit anti-apartheidsbeweging wat in Breyten se hofsaak ter sprake gekom het. Ek wik en weeg, maar stem uiteindelik in. Ons ontmoet. Daar val geen woord oor Okhela nie – Berend wou my lid van sy Breytenbach Commando maak. Ek het vriendelik geweier. Soos vir die dramaturg en skrywer Anthony Akerman wat destyds in Amsterdam gewoon het en ook deur Berend genader is, het die idee van lid van ’n boerekommando my nie aangestaan nie, veral nie as dit Breyten se naam gedra het nie.
*
Aan die einde van 1978 word ek by Tafelberg-Uitgewers in Kaapstad as kinderboekredakteur aangestel. My fokus verander en ek begin my in ’n ander literêre wêreld verdiep. Breyten skuif op die agtergrond. Tot een weeksdag ná werk toe ek my huis se voordeur oopmaak en daar lê dubbelgevoude velletjies wit papier op die vloer. Iemand het hulle onder die deur ingeskuif.
Handgeskrewe gedigte. Ek herken dadelik Breyten se klein handskrif. Ek laat my oë vlugtig oor die boonste stukkie papier gly en gaan stoot alles onder die stapel lakens in my hangkas in waar ek banknote en ander belangrike papiere bêre. Ek is weer haastig op pad uit en vergeet daarvan. Ek het selde geld of dokumente om weg te steek, maar nou en dan vang die velletjies wit papier tog my oog. Dan stoot ek hulle net dieper onder die lakens in, want iets weerhou my daarvan om selfs net behoorlik na hulle te kyk. En so vergeet ek mettertyd heeltemal van die uitgesmokkelde gedigte want niemand bel of vra ooit daarna nie, en ek weet nie wat om daarmee te maak nie.
Ek weet nie hoe lank daarna nie, of dit maande of dalk ’n jaar was nie, maar toe ek die Vrydagmiddag van ons Tafelberg-Kersfeesmiddagete af by die huis kom en die voordeur oopmaak, stoot ek dit met ’n skraapgeluid teen iets vas. Ek loer om die deur. Dis my ouma se swaar erdekan. Die voorkamertjie lê vol van my besittings, maar netjies uitgestal: my duur Olympus-kamera en ’n streep foto’s, onderklere op die rusbank, en op my bed juwele en briewe. Meteens val dit my van Breyten se gedigte by. Ek gaan steek lam geskrik my hand onder die stapel lakens in. Die gedigte lê ongestoord waar hulle gelê het. Ek stoot hulle bewerig dieper in.
Ek bel die polisie en gaan wag by die voordeur. Hulle is so gou soos nou daar. Dit blyk een van die ruitjies in die outydse skuifraam in die kombuis aan die agterkant van die huis is gebreek. Die diewe kon daardeur ingeklim het. Maar die polisie is verstom. Daar is geen tekens van ’n haastige inbraak nie en ek vermis niks. Die manier waarop alles agterlaat is, is trouens so vreemd dat een van die polisiemanne later vra of ek seker is een van my vriende wou my nie ’n poets bak nie.
Eers maande later vermis ek my ouma, wie se naam ek het, se goue hangertjie met ’n foto’tjie en haarkrulletjie van haar dogtertjie wat op 13-jarige ouderdom gesterf het.
Ek het nooit vir iemand van die gedigte vertel nie. Tot ek hulle eendag onder die lakens gaan uithaal en vir Ampie Coetzee gegee het. Hy het intussen van Johannesburg af Kaap toe verhuis; ek het hom geken en vertrou want hy was Breyten se goeie vriend. Maar teen dié tyd het dinge al so verander dat dit nie meer iets ysliks was nie. Ek het selfs die indruk gekry dat daar meerdere kopieë van dieselfde gedigte uit Pollsmoor gesmokkel is.
Lank ná ons albei nie meer by Tafelberg was nie, vertel George Louw, die digter en destyds die hoof van die fiksie-afdeling, my dat die Veiligheidspolisie kort ná my aanstelling in die Waalburg-gebou opgedaag het om hom en een of twee ander senior redakteurs oor my doen en late te kom ondervra. Ek was geskok dat niemand my dit ooit vertel het nie.
*
Terwyl Breyten in Pollsmoor in aanhouding was, het Yolande soms by my tuisgegaan. Sy het telkens vir drie maande gekom omdat die vergunning van een brief van 500 woorde per maand geruil is vir een besoek per maand. Toe ek haar op ’n keer Pollsmoor toe neem, dring sy aan dat ek nie in die motor vir haar sit en wag nie maar saam na die wagkamer gaan. Ek is huiwerig maar Yolande dring aan en uiteindelik meld ons saam aan en wag saam in die klein wagkamertjie. Ná ’n ruk kom die wag haar haal. Sy maak gereed maar vra dan op haar sjarmante, onskuldige manier of ek nie maar saam met haar kan gaan nie. Net om vinnig te groet. Die man betrag my met hakiesoë waar ek op die punt van die stoel sit. Sy vra ’n tweede keer baie mooi. Hy gee toe en wink my saam.
Yolande stoot my vorentoe toe ons die besoekerskamer instap. Breyten staan regs agter ’n glasmuur. Ek was in so ’n dwaal dat ek nie kan onthou of Yolande die situasie aan Breyten verduidelik het nie, maar dat ek iets aan hom moes sê, was duidelik. Ek is net ’n paar sekondes gegun om daar te wees en almal het asem opgehou. Ek moes ’n groet gestamel het, maar wat ek helder onthou, is dat ek sê: “Jy is so mooi …” en by die deur uitgetru het. Wat glad nie waar was nie, want sonder sy donker lang hare en ringbaard het Breyten glad nie gelyk soos die onweerstaanbaar aantreklike profeet van die Sestigers-simposium wat die volk laat regop skrik het met sy sagte openingsuitspraak: “Ons is ’n bastervolk met ’n bastertaal. Ons aard is basterskap. Dis goed en mooi so. Ons moet kompos wees, ontbindend om weer in ander vorme te kan ontbind.” So ’n doodskootwaarheid het hulle nog nooit vantevore gehoor nie. Nie in die lesingsaal nie, maar in die pers lok dit woedende reaksie uit.
*
In Desember 1982 is Breyten onverwags vrygelaat, twee jaar vóór die verstryking van sy nege jaar vonnis. Hy keer dadelik terug Frankryk toe.
Elke keer as ek daardie tyd in Europa kom, probeer ek ’n draai in Parys maak, my gunstelingplek noord van die Limpopo. Soms is Adriaan ook daar, en as die Breytenbachs tuis is, hang ons saam rond. Yolande verskoon haar dikwels. Sy het geen sinnigheid in die geginnegaap nie. Dis herfs die volgende jaar. Breyten stel voor dat ons bagasie en al oorkant die Luxembourg-tuine in die straatkafee op die hoek van die Boulevard Saint-Michel gaan eet voor hulle my afsien lughawe toe.

Yolande, Adriaan van Dis en Breyten, Parys, 1983

Yolande, Breyten en Annari, Parys, 1983

Breyten, Annari en Olivier Bourgois, man van die Franse ambassadeur, Annari se huis, Kaapstad, 1991

Breyten, die Franse ambassadeur Joëlle Bourgois en Yolande, Kaapstad, 1991
Soos gewoonlik knak die kelnerin se knieë voor Breyten se soel, soet stem en gevoelvolle oë. Die diens is uitstekend, al merk sy ons ander drie skaars op. Ons kuier te lekker en ek raak bekommerd. Maar Breyten herinner my dat die ingang van die moltreinstasie so goed soos voor die deur is. Ongehaas sak ons later die een stel trappe na die ander af na die ondergrondse perron. Dis ’n RER-stasie, wat beteken dis ’n snellyn wat Parys se stadskern met die buitewyke verbind, ook die lughawens. Ons wag op die perron vir die naderende trein. Op sy voorkop staan ORLY. “Maar ek moet Charles de Gaulle toe!” skree ek. “Kom!” sê Breyten, spring in sy voetspore om en begin nael. “Dit sal nou beter wees om die direkte bus te haal!” roep hy oor sy skouer.
Omdat hy die ondergrondse gange die beste ken, die atletiesste is, en veral omdat hy die langste bene het, hardloop hy voor met my grootste reistas, stroomop teen die voetverkeer, en spring soos ’n reier los oor die een ná die ander versperring. Tot groot konsternasie van die pendelaars wat die trappe afstroom. Die meeste gee verskrik pad want hierdie is ’n krisisgeval, kan hulle sien. Adriaan is kort op Breyten se hakke met my oornagsak, terwyl ek en Yolande uitasem agterna aansleep – ons kan nie bo-oor die eenrigting-draaihekke kom nie en moet grondlangs onderdeur kruip.
Buite het Breyten klaar ’n taxi nadergewink. By een of ander staatsgebou waar hy weet ’n Charles de Gaulle-bushalte is, staan en luier die bus al om te vertrek. Breyten en Adriaan gooi my koffers by die oop agteringang in, en sonder omhaal word ek voor by die bestuurder die bus ingestoot sonder dat daar tyd was om te groet.
*
In 2005 verander ek van werk en dit gee my ’n paar weke om in Europa te vertoef. Ná Londen reguit Parys toe. Ek is teleurgesteld om by Georges Lory te verneem Breyten en Yolande is in Spanje, op hul plasie. Breyten moes weer by Georges gehoor het dat ek in Parys is en in Elsabe en Basel Brink se dakkamerwoonstelletjie in die St Germain-buurt bly, ’n redelik bekende adres onder boheemse Suid-Afrikaners. Twee dae ná my aankoms is daar ’n klop aan die deur. Dis Breyten. Hy verduidelik dat hy vinnig per trein Parys toe gekom het vir sake. Wil ek nie die volgende dag saam terugry Katalonië toe nie? Natuurlik wil ek.
Die kleinhoewe en ou dubbelverdiepingplaashuis met dik mure lê in die berge. Die werf is kaal – Yolande het dit nog nie in ’n lushof van blomme, struike, klim- en rankplante omskep nie. Breyten maak groentetuin in werkers-overalls, maar die soort sonder moue met ’n borslap voor. Hy plant aartappels. Dis vreemd om hom met ’n hark grond te sien gelykmaak. Sy ateljee is bo-op ’n buitegebou, maar Yolande het my ferm laat verstaan dit is buite perke. ’n Regte kleinboer kom skemertyd op besoek. ’n Ou man met wie Breyten ’n hartlike verhouding het en knipoog in sy moedertaal mee klets en grappies maak.
Die terugreis in die Breytenbachs se klein Citroën 2CV, wat die Franse ’n Deux Chevaux (twee perde) noem en die Nederlanders ’n Eendje, skop sleg af. Ons het kwalik op die snelweg van Girona na die Franse grens geklim of ’n rukwind pluk die sondak af. Ek sit op die agtersitplek en al genade is dat Breyten die kap terugforseer en ek van daardie punt af soos ’n vink aan die dwarspyp hang, heelpad terug Parys toe om te verhoed dat die ding heeltemal afwaai. Dit beteken wel dat ons stadig moet ry. Breyten kry die tyd plesierig om deur my ritse egte Afrikaanse boeregrappe te vertel. Ek het nooit geweet een mens kan soveel grappe onthou nie. Yolande is nie geamuseerd nie, nie oor die los sondak, die lang pad en veral nie die onverstaanbare grappe nie.
*
Galerie Espace se legendariese oprigter en eienaar, Eva Bendien, is in 2000 oorlede en haar man en vennoot, Rutger Hegt, in 2007. Vier jaar later sluit die galery finaal. Daar word ’n indrukwekkende afskeidstentoonstelling van Breyten se werk aangebied. Ek en Adriaan het spesiaal vir die opening van Parys af, waar hy toe bly, Amsterdam toe gekom.
Ek het Breyten se groot volkleurskilderye die eerste keer in 1978 in Antwerpen gesien, saam met Pieter Schoombee. Ek was in Londen om ervaring van vertaal- en oordrukregte by ’n literêre agent op te doen. Pieter was as Rapport-verslaggewer daar gestasioneer. Ons moes in die hartjie van Antwerpen rondval voor ons die 11 groot doeke naby ’n ou kerk in ’n obskure, stil galery opgespoor het. Meer verskillend kan twee uitstallings nie wees nie. Maar die werk is dadelik herkenbaar: dieselfde temas en motiewe, net meer kompleks nog, dieselfde styl en kleurgebruik, net meer genuanseerd as drie dekades gelede.
Galerie Espace bars vir oulaas uit sy nate. Selfs vir ’n buitestaander is dit duidelik dat almal wat in die kunswêreld en koerantwese tel, teenwoordig is. Breyten is die sjarmante spil waarom hulle almal draai. Dis moeilik om al die skilderye gesien te kry en onmoontlik om sy oog te vang. Die volgende dag reis hy saam met ons per trein terug. Hy en Adriaan deel ’n sitbank en praat, koppe dig bymekaar, rustig die ure om Parys toe, soms fronsend en ernstig en dan lag hulle weer uitbundig.
*
Breyten het nooit sy politieke betrokkenheid ontgroei nie. Dit was eenvoudig deel van sy menswees. Bloot toevallig is ek in Mei 2015 in Parys toe daar vooraf opgewonde in fluister-Frans gepraat word oor die geheime vergadering waar hy ’n gesprek met ’n boesemvriend oor Palestina sal voer. Die vriend was deel van die Palestynse verset en die vergadering word letterlik ondergronds gehou. In ’n winkeltjie klim Georges Lory, Adriaan en ek met trappe af tot waar ’n gang ons na die vergaderplek voer. Uit simpatie met die saak kom ons Breyten ondersteun.
Die saaltjie is net halfvol, maar die mure is beplak met slagspreuke, plakkate en kennisgewings. Toe die gesprek uiteindelik aan die gang kom, luister almal aandagtig – Breyten se stemtoon is soos altyd intiem. Ons sit in die heel agterste ry. Ek verstaan geen snars nie. Die gesprek hou aan en aan. Eindeloos. Ek merk Adriaan raak rusteloos. Selfs Georges begin rondskuif. Skielik druk Adriaan aan my en beduie fyntjies met sy kop ek en Georges moet hom volg. ’n Franse dors het hom oorval, sê hy buite, en ons stap by die eerste beste straatkafee in en bestel rooiwyn.
*
Ná 1991, toe ’n visum vir die eerste keer ná nege jaar aan Breyten – as Franse burger – toegestaan is, het hy en Yolande gereeld Suid-Afrika toe gekom. Dan kuier hulle rond, soek ou vriende op, woon gesellighede by. Tussendeur skryf Breyten. Dan en wan gaan stap hy in die Cederberge saam met sy boesemvriend Daantjie Saayman, wie se Buren-Uitgewers Kouevuur – waarin “Totsiens Kaapstad” verskyn – in 1969 uitgegee het toe geen ander uitgewer daaraan wou vat nie. Tot Daantjie in Februarie 1997 sterf.
In dié tyd werp Breyten hom met oorgawe in die Afrikaanse taal- en kultuurlewe en raak betrokke by ’n hele boel kultuurkreatiewe projekte. Vir die KKNK skryf hy Boklied, "’n vermaaklikheid in drie bedrywe" wat Marthinus Basson in 1998 in Oudtshoorn op die planke bring. Een karakter met engelvlerke loop eindeloos voetjie vir voetjie heen en weer op ’n muur agter op die verhoog. Ná pouse is die gehoor gehalveer. Breyten reis saam toe die stuk, en sy opvolger, Die toneelstuk, in die groot sentra opgevoer is.
Breyten se nou gehawende ouerhuis op Wellington word in 2007 in die Breytenbach Sentrum omskep, en van 2013 af word die jaarlikse Tuin van Digters-fees op sy aanstigting daar gehou, gedurende die naweek wat die naaste aan sy verjaarsdag op 16 September val. Breyten tree gereeld daar op. In 2013 bied die Spier-wynplaas ook die eerste Dansende Digters-fees aan. Die idee was Breyten s’n, maar hy en Dominique Botha stel gesamentlik die program op.
Van Breyten se skilderye was reeds in die Breytenbach Sentrum te sien, maar in November 2018 word meer as 30 van sy kunswerke vir die eerste keer in Kaapstad deur die kommersiële Stevenson-galery in Woodstock uitgestal. Die titel van die solo-uitstalling: The 81 ways of letting go of a late self. In 2018 vind my oneindig nederiger solo-uitstalling ook plaas, ’n paar weke vroeër in die Cape Gallery in Kerkstraat. Die titel: My grand tour. Breyten en Adriaan van Dis se gesamentlike teenwoordigheid by die opening die snikhete Sondagmiddag dra by tot die opwinding van die geleentheid.

Breyten, JM Coetzee en Daantjie Saayman, Kaapstad, 1992

Breyten en Daantjie Saayman, Annari se bovertrek, Kaapstad, 1992
Voor hulle hul eie pieds-à-terre aangeskaf het – eers ’n klein kothuis op die rand van Montagu en later ’n klein woonstel in die hart van Seepunt – het Breyten en Yolande dikwels by Ampie Coetzee tuisgegaan. En dis in sy en Anne-Ghrett se agtertuin in Mowbray waar ’n sestigste verjaardagpartytjie in 1999 vir Breyten gegooi is.
Breyten en Yolande stel die gastelys op vir die viering op Saterdag 18 September: Ampie Coetzee, André Brink, Annari van der Merwe, Antjie Krog, Anne-Ghrett Coetzee, Brenda Breytenbach, Carien Breytenbach, Cloete Breytenbach, Hein Gerwel, Jakes Gerwel, John Miles, John Samuel, Kerneels Breytenbach en Phoebe Gerwel. Human & Rousseau borg die voedsel en drank. Ampie maak die vissop – niemand kan onthou of daar voor- of nageregte was nie, daarvoor was die vrolikheid om die lang tafel onder skadubome te groot. Daar sit ook ’n groot wit pampoen op die tafel; dis nie een wat Breyten self vir hom vir sy verjaarsdag gekoop het nie.

John Miles, Antjie Krog, André Brink en Breyten met sy sestigste verjaarsdagpampoen, Mowbray, 1999

Breyten en Cloete Breytenbach, Mowbray, 1999

Breyten en Ampie Coetzee by Breyten se sestigste, Mowbray, 1999

Breyten Breytenbach, Adriaan van Dis en Hannes van Zyl by die opening van Annari van der Merwe se solo-uitstalling, 2018
Terwyl hulle ’n paar jaar terug soos gewoonlik op besoek is, nooi ek Yolande om saam met my Worcester toe te ry, ek wil foto’s van insekte en inheemse plante vir iNaturalist gaan neem. Ek waarsku haar dat ek heeltemal oorhoops is met hierdie Citizen Science-projek en nie genoeg kan kry van soek na goggas en interessante inheemse plante om af te neem en op iNat se webblad te sit vir identifikasie nie. Tot my verbasing staan Breyten ook in Seepunt op die sypaadjie en wag. Hy klim bedagsaam agterin die motor toe ek stop.
Dis winter. Yolande is lief vir plante en vermaak haar deur die aalwyne in die botaniese tuin te verken. Breyten, sien ek, dwaal dóér tussen bome en struike rond, terwyl ek gebukkend en soms op my knieë versigtig die fokus instel, hoe eienaardiger die natuurverskynsel hoe fyner.
Die plan was om na ’n ordentlike restaurant te gaan vir middagete, maar Breyten stel voor ons eet sommer daar. Hy het steeds nie sy slag met kelnerinne verloor nie. Die diens is vriendelik en flink maar die kos is haas oneetbaar. Ek is skoon op my naarheid, voel ons moet beswaar aanteken. Dis immers Breyten en Yolande, en hulle is boonop gewoond aan Franse kookkuns. Die kelnerin bring die rekening. Breyten betaal met ’n doodtevrede glimlag en beloon haar verder met ’n knipoog.
Toe ek hulle in Seepunt aflaai, gee Breyten my ’n eksemplaar van Hokhokaai, wat in beperkte oplaag gepubliseer is, present. Voorin staan in sy klein handskrif:

Klik hier vir ’n groter weergawe van hierdie inskrywing.
Kommentaar
Sjoe! Dis 'n mondvol. Dankie.
Watter wonderlike insigte! Die persoonlike ervaring bied 'n egtheid, 'n kosbare perspektief. Dankie!
Baie dankie Anneri vir jou merkaardige stuk
My ma het Rob se weduwee Liesje goed geken, wat 'n fantastiese vriendekring (en leeskring ook natuurlik) was hulle nie, hulle het sulke legendariese partytjies gehou. Ek was veral verras oor Breyten se 60ste!
Net wonderlik.
En ewe wonderlike foto’s.