Spyt kom altyd te laat, lui die gesegde. Ek dink veral daaraan wanneer ek by ’n roudiens op ’n ongemaklike kerkbankie sit en luister na al die mooi dinge wat familie en vriende oor die afgestorwene sê. Daar is altyd daai een spreker wat begin met: “Ek is spyt ek het dit nie vir jou gesê nie …”
Regisseur Niel van Deventer gaan nie spyt wees nie. Met My broer, Gertjie sê hy al daardie mooi dinge terwyl Gert Vlok Nel dit nog kan hoor.
Wat dan interessant is, is dat die film jou vir die eerste helfte werklik laat twyfel of Gert nog leef of nie. Ten spyte van die treffende openingstoneel waar Gert ongemaklik sit en rondkyk, en dan lag. Ten spyte van die stukkies konserte tussendeur.
Hoe dan nou?
Een, die fokus val op Elias, Gertjie se boetie en sy reis Amsterdam toe.
Twee, die onderhoude met familielede en musiekkenners is van so ’n aard dat dit voel soos ’n lofrede. Daar is nostalgie, bewondering in die stemme.
Drie, buiten ou videobeelde en konsertmateriaal (sonder datum) sien jy ook nie vir Gert in lewende lywe tot sy boetie in Amsterdam aankom nie. Die blik wat jy kry op die broers se hereniging, net voor Gert sy hand voor die kamera sit, is hartroerend.
Vier, die film voel nie soos ’n konvensionele dokkie nie. Daar is nie ’n ooglopende storie nie, geen drama nie, geen onthullings nie.
My broer, Gertjie is dus nie ’n dokumentêr nie, maar eerder ’n portret van ’n sanger en digter, maar ook ’n enigmatiese mens, ’n skaam mens wat werklik nie roem najaag nie. Die keuse om die film in swart en wit te skiet, dra daartoe by. Dit doof die kleur, die geraas, die sensasie uit en fokus op die werk, die man.
Die beste deel van hierdie film was die onderhoude met Gert se familie. Kleindorpiemense, niks fancy nie. Eenvoudige huis, draagbare radio, die koffie-en-tee-tafeltjie, die familiealbums. Daar kon so maklik met hulle gespot gewees het, hulle as karikature uitgebeeld het. Van Deventer hanteer hulle, en hul omgewing, met groot sorg. Selfs Elias se Beaufort-plakkies op die trein terwyl hy deur Nederland ry, weet jy, word met deernis afgeneem.
Maar daar was tog sekerlik iéts wat nie gewerk het nie ...? Sure. Daar was te veel skote van Nederland. Die onderhoude met die kenners was hier en daar pretensieus. Die film sou by ’n snoeisessie van beide Nederland en die eksperts kon gebaat het.
Nie almal gaan van hierdie “sagte” benadering tot ’n gunstelingkunstenaar hou nie. Sommige mense gaan iets meer edgy, meer sensasioneel kies. Magtag man, na die laaste vier jaar, na ’n wêreldwye pandemie, en ’n onsekere klimaat wat rondom ons begin draai, skat ek ons kan ons helde maar koester.
My broer, Gertjie vertoon op Sondag 26 November om 14:00 by die Festival voor het Afrikaans in Den Haag.
Kyk die lokprent hier:
Lees ook:
Festival voor het Afrikaans 2023: Amanda Strydom sê "Afrikaans is springlewendig in al sy vorme"
Persverklaring: Debuutvertoning van My broer, Gertjie by die Toyota US Woordfees 2023