Amanda Strydom praat met Naomi Meyer oor die Festival voor het Afrikaans wat in November in Nederland plaasvind.
Amanda, jy het ’n hele aanhang in Nederland, maar ek noem net gou dat jy by die pas afgelope Woordfees die gehoor se harte gesteel het in jou rol van Tuis, ek's liefie. Wil jy vinnig iets hieromtrent sê?
Dit was wonderlik om weer toneel te kon speel – dis immers waarvoor ek opgelei is vandat ek nege jaar oud was en in 1978 my graad in drama verwerf het by Tukkies! Die laaste keer wat ek in ’n toneelstuk was, was in 2012 met Hannes van Wyk in Voor ek vergeet wat by daardie jaar se Woordfees gedebuteer het. Die voorreg om saam met die room van die oes, Cintaine Schutte, Wessel Pretorius, Crystal-Donna Roberts, Veronique Jephtas en Carlo Daniels te werk is onbeskryflik. En met Janice Honeyman, ons regisseur, kom ek al ’n lang pad saam sedert die Markteater in Johannesburg in die 1980's. Dus was dit vir my soos ’n sirkel wat voltooi word – elke keer wat ek Janice gesien het by die opening van haar jaarlikse pantomimes, het sy gesê: “We have to work together again” – en skynbaar, toe sy die teks van Tuis, ek's liefie onder oë had, het sy net daar besluit ek moet Cintaine se ma speel – sy wou niemand anders hê nie. Dit was een van die grootste geskenke wat ek vanjaar ontvang het. My rol in die stuk was ’n droom om te speel – my karakter, Susan, is die “voice of reason” in die stuk. Met die heel eerste optrede het die gehoor spontaan begin applous gee toe ek op die verhoog stap. Ek het effe verbouereerd na Cintaine gekyk, ’n paar sekondes gewag vir die applous om te bedaar, en toe gaan ons aan. Dit was ’n wonderlike ervaring en ek hoop die stuk kry die kans om weer opgevoer te word.
Jy gaan nou vir die eerste keer in tien jaar Nederland toe vir die Festival voor het Afrikaans. Maar daar was ’n tyd toe jy gereeld daar was. Van 2007 af. Wil jy hiervan vertel – van die verlede?
Ek het in 2007 met my vorige pianis, Janine Neethling, en Juan Oosthuizen (kitaar) my eerste toer in Nederland gedoen. My vriend Stef Bos het die hele ding beplan en Michiel le Blanc aangestel as my agent. Michiel het ons in die top teaters in Nederland bespreek. Hy het ook die eerste kompilasiealbum van my liedjies gemaak voor daardie eerste toer en dit is op Nederlandse radio gespeel. Later het nog kompilasiealbums gevolg wat in Nederland vrygestel is. Ek onthou my eerste optrede – dit was in die destydse Konings Theater in Den Bosch. Ek het nie geweet wat om te verwag nie – gaan hulle my verstaan? In Nederland tree jy vir twee ure op met ’n pouse tussenin. Toe ons aan die einde van die tweede helfte buig, fluister Janine vir my: "Kyk op" – en die hele gehoor staan op hul voete en skree vir ’n encore. Ek was verstom.
........
Ek onthou my eerste optrede – dit was in die destydse Konings Theater in Den Bosch. Ek het nie geweet wat om te verwag nie – gaan hulle my verstaan? Toe ons aan die einde van die tweede helfte buig, fluister Janine vir my: "Kyk op" – en die hele gehoor staan op hul voete en skree vir ’n encore.
........
Daarna het ons tot 2013 deur die lengte en breedte van Nederland opgetree. Hierdie keer was David Klassen, die brilante trom- en perkussiespeler, saam vir die volgende ses jaar. Die laaste toer, in 2013, kon Janine nie meemaak nie en die befaamde Charl du Plessis het by ons aangesluit vir daardie toer. In Nederland het ek tot soveel insigte gekom – mens kyk met ander oë na jouself en jou kuns as ’n ander land ook jou boodskap en dit wat jy wil oordra, snap en waardeer. Ons is op die hande gedra. Een van dié hoogtepunte was ons optrede in die Koninklijke Carre, die "Royal Albert Hall" van Nederland – dit was ter viering van Erfenisdag in Suid-Afrika en daar was honderde ekspats in die gehoor, asook die Nederlanders wat my deur die jare ondersteun het. Dit was magies. Toe kom die "bezuiniging" van die Nederlandse regering en befondsing vir die kunste is gesny – dus was ons, van ’n ander land, ’n luukse wat nie meer bekostigbaar was nie. Die laaste buiging, in 2013, in ons geliefde De Kleine Komedie Theater in Amsterdam, die tweede oudste teater in Nederland, het my hart gebreek. Ons het só gehoop dat ons die volgende jaar weer in Nederland sou kon optree, maar helaas was dit die laaste.
Kom ons praat gou oor wat jy vir jou optredes by die Festival beplan. Die wêreld is ’n ander plek as toe jy voorheen daar was, in so baie opsigte. Nie net is dit post-Covid nie, daar woed ook oorloë en ek weet jy het ’n stuk oor Oekraïne geskep. Wil jy daarop uitbrei?
Ja, die wêreld is inderdaad ’n ander plek. Die pandemie het my baie geleer en verander in die opsig dat ek met ander oë kyk na die planeet, die mensdom, wat ek doen, wat my roeping is. Ek weet ek het in my loopbaan as kabaretkunstenaar dikwels kwessies aangeraak wat ons almal raak, maar nou is dit vir my duideliker as ooit. My werk het meer spiritueel geword. Ek het nie ’n lied oor Oekraïne geskep nie, ek het bloot ’n werk geskep oor die wreedheid en sinloosheid van oorloë deur van my ouer liedere saam te weef met bekende Eerste- en Tweede Wêreldoorlog-liedere en poësie van my ontslape mentor, Hennie Aucamp. (Ek het al daaroor gesing en geskryf op my album Verspreide donderbuie.) Ek verkies ook nou om poësie van my eie en ander te gebruik as bindingsteks tussen liedjies in plaas van net iets te sê oor ’n lied. Minder is meer. Elke woord moet tel. Vir die Festival het ek dit fyn beplan met poësie en liedere in Afrikaans – my eie, ook Brel én Piaf in Afrikaans, Johannes Kerkorrel (hy was só geliefd in die Lae Lande) en ’n lied in Nederlands van Ramses Shaffy, wat ’n beminde sanger in Nederland was. “Ek het ’n tong om te sny en ’n tong om te salf. ’n Heuningtong, ’n bitter tong.” Daarom dra ek ook dié gedig "Talle tonge" van Matthews Phosa voor tydens my optrede in Den Haag. My pianis, Coenraad Rall, het die blink idee gekry dat ons die tjellis Hanrich Claassen, sy vriend sedert kinderdae in Bloemfontein, wat al lank in Amsterdam doseer by die Internationale School Amsterdam, vra om saam met ons te speel. Hanrich het onmiddellik ingestem en dit gaan ’n wonderlike reünie wees.
Wat is die belang van ’n fees soos die Festival voor het Afrikaans in Nederland – wat beteken dit vir alle Suid-Afrikaners?
Ek wil bevestig dat die Afrikaanse taal springlewendig is in al sy vorme – dat die brug tussen Nederlands en Afrikaans steeds sterk staan. Nederlands is die oermoeder van Afrikaans. Voeg daarby die talle tonge wat Afrikaans praat, soos die digter/rymkletser/sanger Frazer Barry en sy vrou Deniel wat ook by die Festival gaan optree, die hoogs begaafde Dean Balie en sy vrou Bianca Flanders, Ronelda Kamfer, asook Marlo Minnaar met sy eenmanstuk, Ode aan Allan Boesak. Joernalis en skerpsketser Marianne Thamm bring haar Round of applause – South Africa still standing. Stef Bos, my kaaskopbroer, die “Nederkaner”, soos hy homself noem, doen ’n optrede met Frazer Barry. Daar is iets vir almal. Ek sien daarna uit om die talle Suid-Afrikaners te ontmoet wat tans in Nederland en België woon en my laat weet het hulle het kaartjies bespreek vir die Festival. En natuurlik om die magdom vriende wat ek deur die jare daar gemaak het, weer te sien. Die fees bied soveel. Besoek gerus hulle webwerf, www.festivalvoorhetafrikaans.nl, om nog meer uit te vind – ek kan onmoontlik al die aanbiedinge hier noem.
........
Ek wil bevestig dat die Afrikaanse taal springlewendig is in al sy vorme – dat die brug tussen Nederlands en Afrikaans steeds sterk staan. Nederlands is die oermoeder van Afrikaans. Voeg daarby die talle tonge wat Afrikaans praat.
........
Gaan jy reis terwyl jy daar is? En wat beoog jy om van die fees te sien; watter items wil jy self graag daar bywoon?
Nee, daar is ongelukkig nie tyd vir reis nie. Ek is opgewonde om weer Marita van der Vyver en Antjie Krog te sien en hul gesprekke te hoor. Daar is ’n Suid-Afrikaanse filmfees asook ’n foto-uitstalling van Hans Mooren, én ’n Zuid Afrikaanse mark waar verskeie Suid-Afrikaanse produkte te koop sal wees.
As jy enigiets anders wil vertel, doen dit asseblief.
Ek is só trots op die feesdirekteur, Ingrid Glorie, wat geswoeg en gesweet het om die fees weer aan te bied. Daar was baie struikelblokke en moeite om borge te werf. Ek tel die dae en is kinderlik opgewonde om terug te keer na Nederland – tien jaar is ’n lang tyd, maar alles gebeur mos wanneer dit moet. Ek kan nie wag om weer ’n kroket, ’n bitterbal, stroopwafels en kroepoek te proe nie!
Lees ook:
Festival voor het Afrikaans 2023: ’n onderhoud met Frazer Barry