Festival voor het Afrikaans 2023: ’n onderhoud met Stef Bos

  • 1

Foto van Stef Bos: verskaf

Stef Bos praat met Naomi Meyer oor vanjaar se Festival voor het Afrikaans wat van 24–26 November 2023 in teater De Regentes weer in Den Haag sal plaasvind.

Stef, ek verneem dat die Festival voor het Afrikaans vanjaar weer plaasvind en ons is bly! Wat is jou herinneringe aan die laaste fees waarby jy daar betrokke was?

Ek dink die laaste keer dat ek betrokke was, was die fees in Den Haag. Ons het daar met die band gespeel en dit was baie lekker om in my vaderland in ’n Afrikaanse enklave te verkeer met boerewors en biltong ... Maar daar is terselfdertyd ook die skadukant dat dit net ’n fees was vir Afrikaners oorsee, terwyl dit nog altyd my missie is om die taal en kultuur regtig in Nederland en België wortel te laat skiet soos dit vir my kinders ook die normaalste saak van die wêreld is dat hulle die taal van hulle Afrikaanse ma praat en hulle Kaaskop-pa. Die groot uitdaging is om die kaaskoppe by die fees te kry ... maar daarvoor moet ’n mens baie meer strukturele uitwisseling organiseer, want dit kan net ’n fees op sigself nie regkry nie.

Jy leef al jare lank met een voet in Suid-Afrika en een voet in die Lae Lande, of hoe? Hoe ervaar jy die gevoel oor Afrikaans hier in Suid-Afrika, waar daar gereeld gesprekke oor Afrikaans in die spervuur is, en in Nederland, waar Nederlanders dink Afrikaans is ’n taal wat net deur wit mense gepraat word en rassistiese konnotasies het?

..........
Ek is ’n bietjie gatvol oor die onderwerp of Afrikaans ’n rassistiese konnotasie het. ’n Taal het nie ’n konnotasie nie. Duits is ’n pragtige taal en wanneer jy dit verbind met die Tweede Wêreldoorlog, kan jy dit sommer afskiet, maar dan opereer jy net met dieselfde refleks as die rassisme wat jy dink jy sien.
............

Ek is ’n bietjie gatvol oor die onderwerp of Afrikaans ’n rassistiese konnotasie het. ’n Taal het nie ’n konnotasie nie. Duits is ’n pragtige taal en wanneer jy dit verbind met die Tweede Wêreldoorlog, kan jy dit sommer afskiet, maar dan opereer jy net met dieselfde refleks as die rassisme wat jy dink jy sien. In historiese opsig was daar ’n politieke sisteem in Suid-Afrika wat ek volledig afwys, en een van die grootste foute wat hulle kultureel gemaak het, was om die bruin mense nie as deel van hulle kultuur te sien nie, terwyl aan hulle miskien nog die meeste die geboorte van die taal toegeskryf kan word. Maar dit is ’n politieke gesprek en ’n histories analise waar jy die taal nie in hoef te betrek nie. Dis nie omdat ek ’n liefhebber is van die gedigte van Adam Small of SV Petersen dat die gedigte van Uys Krige of Eugène Marais of Koos Kombuis nie belangrik is vir my en die taal nie.

Die woord “rassisties” word so dikwels gebruik dat dit sy waarde besig is om te verloor.

“We have to celebrate our differences,” is wat Ray Phiri op ’n dag in Stellenbosch aan my vertel het lank gelede.

Die verskille tussen ons is interessanter as die gelykheid ... Ek lees met my kinders weer Animal farm van Orwell op hierdie moment ... Dié soort skrywer mis ons op hierdie moment. Ook in die musiek – mense wat verby hulleself kan dink en die groter prentjie kan skilder.

Jy weet sekerlik van die film waarby juis Frazer Barry (een van die Festival se woordvoerders) betrokke is, Die ongetemde stem? Wat dink jy is die rol, indien enige, van die Festival om allerlei persepsies oor Afrikaans af te breek? Mens is bewus van die bagasie wat Afrikaans dra, maar mens kan ook net die skoonheid van die taal in al sy gedaantes geniet – of hoe? Hoe voel jy nou, vanjaar, oor die taal Afrikaans en wat daarmee aan die gebeur is?

Genade.

Ek het nie ’n chip op my skouers daaroor nie.

Ek het hier gekom deur Kerkorrel en die liefde vir die taal soos hy dit gesing het en daarna allerlei andere ongetemde stemme leer ken, van David Kramer tot Koos du Plessis, Hemelbesem, Churchil Naude, Kombuis en andere. Ek dink die ongetemde stem was altyd ongetemd.

Wit of bruin of swart.

En terwyl ek kyk na die film waarin Frazer speel [die film is deur Gideon Breytenbach en Riku Lätti vervaardig; hier is ’n volledige artikel met agtergrond - LitNet-redaksie] is daar net een ding wat my pla … asof ek my moet skuldig voel oor iets waar ek nie by betrokke was nie.

Ek het met Taliep Petersen toe ek met hom werk kort vir sy dood, ’n gesprek gehad oor die geskiedenis van die Kaap en die slawe wat die VOC uit Indonesië ingevoer het, en in die gesprek het hy gepraat oor “julle …” En kyk na my … Dit het my ontstel, want ek verstaan sy frustrasie oor die apartheidstyd en die uurtjie op die radio wat sy mense gekry het om uit te saai, maar ek wil ook gesien word as ’n mens en nie net deel van ’n groep nie – dit is net die basis van rassisme. Uiteindelik het ons ’n song geskryf oor die “slawe se name”, en daar het ons mekaar gevind. Dit is vir my ’n beter manier dan heel die tyd die polemiek soek. Die beste deel van die docu waarvan Frazer deel is, is die deel wat gaan oor die ongetemdheid van ’n stem – daar raak dit universeel.

Waarby die aantekening dat baie van die ongetemde stemme tydens die Corona-epidemie lekker tjoepstil was en nogal slaafs die regeringsbeleid gevolg het of trots op hulle inenting wat hulle slaafs bewys het op Facebook – terwyl ’n mens in alle omstandighede vrae moet bly stel wanneer jy ongetemd is.

Waarna sien jy uit as dit kom by vanjaar se fees? Amper om weer nuut daaroor te dink, omdat dit soveel jare nie plaasgevind het nie?

Ek sien daarna uit om met Frazer iets te sing en te skryf. Ek hou van hom en dink ook dat hy ’n brug kan bou na die noorde. Ek is mal oor iemand soos David Kramer, maar het ook ontdek dat jy regtig op hoogte moet wees van die taal en die kultuur om sy werk te verstaan – en dis moeiliker vir die gemiddelde Nederlander. Maar Frazer is groter as sy onderwerp, en dan kan jy mense raak, maak nie saak waaroor jy sing nie. Dis vir my ook alsmaar meer die essensie van wat ek soek.

...........
Maar Frazer is groter as sy onderwerp, en dan kan jy mense raak, maak nie saak waaroor jy sing nie. Dis vir my ook alsmaar meer die essensie van wat ek soek.
.............

Ek is ook baie nuuskierig of ons die Hollanders ’n bietjies meer kan wakker skud. Soms dink ek ook dat so ’n fees tegelyk in Vlaandere moet gebeur – die Vlaminge staan op dié punt ’n bietjie meer oop.

Ons het oor Nederland gepraat. Nou: Waarmee is jy op die oomblik in Suid-Afrika besig? Vertel van jou musiek en projekte en skeppings op die oomblik?

Ek het tydens Corona baie programme vir die Nederlandse TV gedoen – my eie projekte. Songs geskryf na gesprekke met mense in moeilike omstandighede – musikale joernalistiek noem ek dit. Wonderlik. Ek wil dit nou verder vat en ’n bietjie meer die wêreld in trek en Suid-Afrika daarby betrek, omdat die land vir my ’n spieël bly vir my siel en die tyd waarin ons lewe – altyd ’n konfrontasie in die goeie sin.

Ek het nou net ’n toer van vier maande agter die rug – vier keer ’n week, groot venues, lekker om te doen ... Met ’n nuwe CD met ’n Afrikaanse titel: Bitterlief.

So plant ek maar my klein saadjies in Afrikaans in die Lae lande

Verder skryf ek aan ’n volgende vertoning, en weer met ’n Afrikaanse titel: Bloudruk.

Dis vir my mooier dan Blauwdruk (Nederlands). Ek gaan nou in Augustus speel in die Kaap en Pretoria en overal ook pa wees by die huis, en dan begin Maart volgende jaar na die woordfees in Windhoek. Was al daar met Kombuis, maar sien daarna uit om weer te gaan ... Wonderlike mense, wonderlike plek.

Anyway, baie planne, maar nou eers weer voete vind in die Kaap, want ek was vyf maande weg.

Lees ook:

Festival voor het Afrikaans 2023: ’n onderhoud met Frazer Barry

  • 1

Kommentaar

  • Mirjam Helbers

    Mooi om de band met Zuid Afrika en Nederland te versterken, ik wil graag op de hoogte blijven van je mooie reis van verbinding via onze taal

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top