Elders gesien: Groot skrik teen Tafelberg

  • 4

Gert Vlok Nel skryf op Facebook:

Een nag, ek dink dit was in 2000, het ek weer teen Tafelberg geslaap. Daar was ’n klein grot waar jy kan vuur maak sonder dat die nag jou sien. Daar was ’n ou vuur, so iemand het al daar geslaap, maar nie almal weet waar dit is nie.

Ek het nooit daar vuur gemaak nie en teen skemer altyd seker gemaak ek is alleen daar en het dan op die kant tussen die bosse gaan lê, sodat ek nie verras kan word nie.

Een nag word ek wakker, diep in die koue nag, en ek skrik. Tien treë van my af sit ’n jong swart man by ’n vuur en hy kyk na my. Ek het hom nie hoor aankom nie.

Hy buk af na die vuur, tel iets op en kom stap op my af. Uit ’n blikbeker skink hy vir my kokende warm, soet swart tee en gaan sit weer by die vuur.

Hy het ’n groen Moria lapelletjie met die silwer sterretjie op sy baadjie gehad.

Ons het niks gepraat nie.

Ek het die tee gedrink en weer aan die slaap geraak.

Êrens het ek weer wakker geraak en gesien hy sit by die vuur en praat met niemand, dit wat ons bid noem.

Ek het wakker geraak met die sonlig op my gesig, hy was weg en onder het die pragtige Kaap gewag.

  • 4

Kommentaar

  • Marko van der Colff

    Ek ken daai grotjie!
    Ek en twee maats en ons honde het in die laat vyftigs en vroëe sestigs ‘n hele paar keer daar gaan oorslaap.
    Destyds was ons altyd "alleen" …

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top