...
Ons gesels oor kinders, oor kleinkinders, oor die dood en die lang asem tussen geboorte en die onafwendbare.
...
Hannes Visser skryf op Facebook:
“Ek gaan na Gert Vlok Nel in Beaufort-Wes om hom stroopwafels uit Nederland te neem,” sê Jos Sutmuller van Nijmegen hierdie week. Dit is sy laaste kuierweek in Suid-Afrika en ek het hom nog net vlugtig gesien en vir Gert twee jaar laas.
Tienuur gisteroggend ry ons uit De Rust met Jos se gehuurde motor wat hy al, na tien besoeke, soos ’n ware Suid-Afrikaner bestuur, maar met Europese nougesetheid vir verkeersreëls.
Ons gesels oor kinders, oor kleinkinders, oor die dood en die lang asem tussen geboorte en die onafwendbare. Ons gesels oor liefde en oor sy verslaafdheid aan Suid-Afrika, die mense en Afrikaans en Afrikaanse musiek en oor sy kleindogter wat na haar besoek saam met hom aan Suid-Afrika, die woorde Baie dankie in haar eie handskrif op haar voorarm laat tatoeëer het.
Gert is nederig dankbaar dat ons al die pad vir hom kom kuier het in sy woonstel in Beaufort-Wes en hy onderneem om die stroopwafels weg te steek vir almal wat gereeld vir hom en sy sibbe, Natie en Elias, kom kuier. Daar is ander kuiermense, en ons eet Choice Assorted koekies wat Natie met koffie bedien. Elias vertel van sy ervaring van Nederland toe hy verlede jaar saam met Gert daar was.
Gert vertel van ’n koorsagtige en desperate soektog na net een enkele sigaret toe hy meer as 20 jaar gelede na ’n internasionale poësieseminaar in Nederland genooi is. Byna op die einde van wanhoop, ontferm ’n Kubaanse digter hom oor Gert, nooi hom na buite en rol vir hulle sigarette. Hy raak Gert se sigaretverskaffer vir die volgende paar dae. Maande later vind Gert uit die man was die seun van die Kubaanse dokter en rewolusionêr, Che Guevara.
“Kom ek wys julle my dorp dan drink ons ’n milkshake,” nooi Gert.
By ’n deli in die hoofstraat van Beaufort-Wes is dit middagete. Die lekkerste tuisgebakte pasteie in die land, belowe Gert, en hy is reg. Lamspastei met slaai. Ek en Jos bestel Coke, Gert bestel ’n Cream Soda-float en ek verander myne na ’n Coke-float. Jos ken dit glad nie. Ek vertel van Pa wat ons nou en dan, as die myners salaris gekry het, op Sondae Johannesburgstasie toe geneem het. Op met die wenteltrap bokant die groot wensfontein met muntstukke tot by die stasierestaurant wat oor die groot aankomssaal uitkyk. Vir ’n pie met gravy en chips en ’n milkshake.
Gert bied aan om te betaal, ek bied aan om te betaal en Jos dreig as hy nie betaal nie stap ek en Gert huis toe. Vir Gert is dit baie nader as vir my en ons laat Jos maar wen.
Net na twee groet ek en Jos vir Gert onder ’n groot boom in Kerkstraat voor sy woonstel. Met die terugry sê Jos dit was vir hom die mooiste dag van almal en hy is trots om Gert en vir my te kan ken.
Dankie vir die dag Gert en Jos en Natie en Elias en die kuiermense in die sitkamer in Beaufort-Wes. Dit was inderdaad ’n mooi dag. Veilige reis terug na Nijmegen, Jos, en as alles mooi loop, sien ons jou vir die KKNK.
Kommentaar
Beautiful
Wat 'n vloei ervaring wat julle sekerlik van die tyd laat vergeet het. Dit en om te beplan om onverwagse of toevallige geleenthede te benut, maak deel uit van die vaardigheidsprofiel van my Toepaslik Toegeruste skoolverlater van 'n 4de Ind Rewoulusie ekonomie - 'n term in 1980 reeds deur ene Nils Lindhard aan Univ Kaapstad gebruik is. Hier het julle as gemoedelike, toevallige geleentheidskeppers die potensiaal om saam met die Afrikaanse onderwyseresse van Beaufort-Wes en kontrei minstens 'n kletsrymlied of vrae vir 'n begripstoets vir graad 9 tot 11's saam te stel. Die besoek met 'n nuwe onderwerp te herhaal of my volledige Screamsaver-program gratis bekend te stel. Ek't selfs n paar gedigte gereed......