Is daar 'n alien op jou stoep?

  • 0

<< Gaan terug na Poolshoogte
>> Nog menings
Lewer kommentaar heel onderaan die bladsy of stuur jou reaksie aan poolshoogte@litnet.co.za.

Almal praat deesdae van hoe baie, of hoe min, Suid-Afrika verander het in twintig jaar van demokrasie.

Daar is een ding wat my tickle, en sover ek weet het niemand nog daaroor kommentaar gelewer as ’n spesifieke verskynsel nie. Dit is die behoefte wat Afrikaanse kunstenaars die afgelope ruk begin toon het om hulleself te herontwerp. So asof die openbare beeld wat hulle vroeër uitgestraal het, nie meer vir hulle werk nie.

Lize Beekman

Dit het reeds kort na demokrasie begin toe Steve Hofmeyr homself geleidelik begin herposisioneer het van sepiester en musikant na politikus; en nou – die grootste verrassing van almal – vestig hy homself as fiksieskrywer en selfs as resensent. Tot almal se verbasing kondig Casper de Vries onlangs aan dat hy nie meer lewende vertonings gaan aanbied nie, maar eerder gaan fokus op, van alle dinge, die skilderkuns. Dieselfde het met Lize Beekman gebeur, toe sy as gevolg van ernstige persoonlike trauma haar uiting gevind het in die skep van reekse en reekse mandalas.

Wie weet watter vreemde gedaantewisselings ons nog gaan sien? Gaan Jannie Moolman dalk ontslaan word uit die hospitaal met die brandende begeerte om ’n hip-hop-ster te word? Gaan Jack Parow hom wend na ballet? Gaan Kleinboer liefdesverhale vir Huisgenoot begin skryf? Mens kan maar net bespiegel.

Wat interessant is, is dat ons in die meerderheid van hierdie gevalle dalk nie soseer te doen het met die doelbewuste skep van ’n nuwe beeld nie as eerder die verskynsel van mense wat vir die eerste maal as’t ware hul ware kleure wys, hul maskers verwyder, en dinge begin doen wat hulle dalk nog altyd wou doen, maar nie vroeër kón doen nie, hetsy omdat die kulturele milieu van die ouer Suid-Afrika hulle nie die beweegruimte kon gee nie, of dalk net omdat die tyd nou ryp is vir verandering.

Ek self is reeds geruime tyd besig met bestekopname en vervelling: ek voel óók die hunkering na nuwe simbole en ’n nuwe taal. Een van die dinge waarmee ek my toenemend besig hou die laaste ruk, is die skryf en publiseer van wetenskapkortverhale oorsee. Dis nie ’n totaal nuwe belangstelling nie; ek het reeds jare gelede met Paradise Redecorated in hierdie rigting begin voelers uitsteek. Ten spyte van ’n reeks klein suksesse, vind ek egter tot my ontnugtering dat dit ’n moeilike paadjie is – Amerikaanse editors spel aanhoudend my naam verkeerd; agente vat baie lank om op manuskripte te reageer; en dit is nogal ’n ontnugtering om telkens daaraan herinner te word dat waar ek in Suid-Afrika daaraan gewoond geraak het om ’n groterige of middelmatige vis in ’n betreklik klein dammetjie te wees, ek as Suid-Afrikaanse skrywer oorsee heeltemal onder moet begin en in ’n reusagtige mark meeding.  

Lauren Beukes

Maar daar is hoop. En vir my (en ander met soortgelyke belangstellings as ek), wat moeg is om aan toe deure te klop, kom die antwoord dalk uit eie bodem. Ek het betreklik onlangs geleidelik bewus geraak van ’n splinternuwe en totaal verrassende oplewing in plaaslike belangstelling in die wetenskapfiksiegenre. (Of jy kan dalk, soos ek, die effens meer omvattende term spekulatiewe fiksie verkies – toevallig ook afgekort SF, soos science fiction in Engels.) Uit die bloute, ewe skielik, is dit asof dit besig is om orals om ons kop uit te steek soos ’n vreemde nuwe soort kakiebos!

Dit het natuurlik baie met Lauren Beukes te doen. Maar die nuwe somer is groter as slegs een swaeltjie.

Boonop is die nuwe SF-gier meer as die oplewing van ’n nuwe genre. Dis ’n herlewing van ’n baie ou en inderdaad gevestigde genre. Soos ek agtergekom het toe ek eers begin krap, die SF-tradisie is in Suid-Afrika, en ook spesifiek in Afrikaans, glad nie so ’n nuwigheid soos party mense dink nie.

Ek rig dus hierdie skrywe aan elke jong Afrikaanse snuiter wat die drang het om SF te skryf. Daar is hoop! Jy is nie alleen nie!

Het jy al ’n vreemde vlieënde voorwerp met flikkerende ligte bokant jou ma-hulle se huis gewaar in die nag? Was daar al ’n boaardse wese op jou stoep? Het jy jou al verbeel hoe dit voel om deur ’n swart kuil ingesuig te word? Het jy al gewonder hoe slimfone in die jaar 2114 gaan lyk?

Indien jy die soort dromer is wat dol is oor ongewone stories, skouspelagtige toekomsvisies, of karakters wat hul dinge doen in fantastiese en verbeeldingryke omgewings, is jy dalk bes moontlik een van die nuwe geslag spekulatiewe-fiksie-liefhebbers wat deesdae agter elke kakiebos uitpeul.

Wees gerus: jy is dalk ’n weirdo, maar al is jy ’n weirdo, is jy nie noodwendig heeltemal mal nie! O, nee. Jy is deel van ’n roemryke Afrikaanse weirdo-tradisie!

Want spekulatiewe fiksie is in Afrikaans so oud soos ons taal self.

Ja; selfs nog voor die eerste Boekevat-kersies deur elektriese ligte vervang is, en vandat ons voorvaders saans op hulle donker stoepe gesit het en pyp gerook het en opgekyk het na die oneindige Melkweg daar bo, vir só lank al is daar groot Afrikaner-denkers wat wonder oor dinge soos die oneindigheid, oor lewe op ander planete, oor wonderryke anderkant die sterre.

Ek weet, ek weet, almal dink dis kwansuis ’n nuwe ding, die SF-gier, maar laat ek julle ’n ding vertel: dit kom van ver af.

Behalwe die alombekende Loeloeraai deur CJ Langenhoven en die gewilde Fritz Deelman-reeks deur Leon Rousseau, het daar sedert toentertyd ’n swetterjoel Afrikaanse SF-publikasies verskyn; publikasies waarvan die  moderne man op straat ongelukkig nog nie gehoor het nie.

Groot was my verbasing toe ek byvoorbeeld ’n ruk gelede ’n haas onbekende SF-publikasie van, van alle mense, Anna M Louw in die hande kry met die titel Die Koms van die Komeet (Tafelberg, 1957).

Die Koms van die Komeet is ’n hoogs leesbare storie uit Louw se jonger jare, weliswaar sonder enige Marsmannetjies of ongeloofwaardige wendings, oor hoe ’n groepie karakters in ’n “moderne” stad die ontwrigting van ’n komeet wat baie naby aan die aarde verby beweeg, ervaar. Hoewel dit in effens geykte Afrikaans geskryf is, herinner die styl en storielyn nogal aan Arthur C Clarke.  

En dis nie al nie.

Op die Springbok Boeke-webwerf kan mens ’n lang lys Afrikaanse SF-boeke kry waarvan sommige al uit druk uit is, maar nog hier en daar beskikbaar. Hier lees mens van titels soos Breinduiwels uit die Ooste deur Jef van Staden (1961), Die Groen Planeet deur Jan Rabie (1961), Die Wolkemaker deur WA de Klerk (datum nie vermeld nie), die Kaptein Kristin-reeks deur Wille Martin,  die Leon Hugo: Ruimtevegter-reeks deur Johan Kock (1980’s), Marsmanne op Petrusdorp deur Topsy Smith, Jasper en die Ruimtemanne deur CF Beyers-Boshoff (1960), asook die meer onlangse Die Hart van Zeebak deur Martie Preller, Melkwegryke deur Nicolaas van der Wath en Stad aan die Einde van die Wêreld deur François Bloemhof.  

As jy eers begin grawe, besef jy dat die lys gepubliseerde Afrikaanse SF-werke heeltemal te lank is om volledig in een rubriek op te noem.

Daar is selfs nou ’n Afrikaanse uitgewer – die Thompson Boekdrukkery, onderafdeling van Afrifiksie, wat hul voltyds en eksklusief op SF toespits. Hierdie Taiwan-gebaseerde firma, wat talentvolle skrywers soos Quintin Ellis en Eben van Reenen in hul stal het, sukkel egter blykbaar om hulle publikasies op die rakke van Suid-Afrikaanse winkels geplaas te kry, dermate dat hul boeke dalk eersdaags slegs in die kuberruim gelees sal kan word.

Duidelik stel boekwinkels nog nie belang in die heroplewing van belangstelling in Afrikaanse SF nie. Ons eie SF-werke, indien hoegenaamd beskikbaar, moet nog steeds iewers op die onderste rakke in donker hoekies van boekwinkels gesoek word, verdwerg deur rakke en rakke vol glansende oorsese name soos Frank Herbert, Douglas Adams, Hugh Howey, en – ironies genoeg – selfs ons eie Lauren Beukes!

Dis baie jammer!

Oukei, oukei, ek weet, daar’s niks fout met ’n goeie e-boek nie, maar vir my voel dit nog steeds asof ’n ware SF-verhaal tog maar op papier, en in slapband, uitgegee moet word. Mens moet die goed kan uitsnuffel in boekwinkels, hetsy nuwe-boek-winkels of tweedehands, en jy moet dit kan ruik en voel en in jou hande vashou.

Glo my, ek het ’n versameling van etlike duisende SF-paperbacks en tydskrifte uit die Goue Era van die genre (’n verjaarsdagpresent van my vrou enkele jare gelede) – ou eksemplare van Phillip K Dick, Keith Laumer, Isaac Asimov, Ursula le Guin – en wanneer ek in my studeerkamer sit, fisies omring deur hierdie verbeeldingskat, voel ek asof ek my in die middel van een van Lize Beekman se mandala-prentjies bevind. Dis sowaar ’n spirituele ervaring ...

Juis daarom is dit verblydend, en waarskynlik ’n teken van die tye, dat ons gewone bekende uitgewerye soos Lapa, Umuzi en ander wel so nou en dan goeie SF-boeke die lig laat sien. Mens dink aan Jaco Jacobs se Virus, Fanie Viljoen se Nova-reeks en ander. Selfs gevestigde uitgewerye begin so stadigaan weer besef hoe groot hierdie nismark is, en kan wees.

My vraag is egter: Hoekom net ’n nismark?

Is SF nie dalk bes moontlik die belangrikste genre van ons tyd nie?

Henriëtte Loubser stel dit so op LitNet:

Wetenskapfiksie is … ’n kreatiewe en vernuwende aanspreking van komplekse menslike vrae oor ons rol in die kosmos. Hierdie vrae verg ’n verbreding in kennis van ’n verskeidenheid dissiplines ten einde te oefen vir moontlike optrede in die toekoms. Dit is hoekom die realisme van WF dit ’n belangrike komponent binne die opvoedingsproses van kinders kan maak.

SF is inderdaad belangrik; veral vir ons jonger geslag wat nou moet grootword in ’n veranderende wêreld waarin baie van die gevare en ontdekkings waaroor vorige geslagte denkers nog net bespiegel het, besig is om voor ons oë waar te word!

Hier is my voorspelling (ek het nie die i-Tjieng hieroor geraadpleeg nie, oukei – dis sommer net gebaseer op my eie gut feeling): indien die Nuwe Suid-Afrika dit regkry om nie binne die volgende paar jaar in ekonomiese agteruitgang of sosiale anargie te verval nie, voorspel ek dat ons inderdaad aan die vooraand staan van ’n kulturele oplewing soos min; ’n across the spectrum-bloeitydperk waarin ons nog vele interessante en ongehoorde persoonlike transformasies en diverse kreatiewe ontploffings gaan waarneem.

Onder andere ook in die vinnig-groeiende genre van spekulatiewe fiksie.

Ek sien moerse baie uit daarna!

Sien julle in die volgende dimensie!

Koos Kombuis is ’n tweetalige Suid-Afrikaanse sanger en skrywer. Hoewel hy nie in die eerste plek as SF-skrywer bekend is nie, bestaan daar feitlik nie ’n enkele roman van hom waarin daar nie SF-elemente voorkom nie! Benewens sy plaaslike publikasies het hy ook kortverhale gepubliseer in tydskrifte soos Planet Mag, Aphelion en FlagShip (Flying Island Press). In 2010 is sy ontstellende toekomsblik “The Last of the Great Coffeeshop Philosophers” ingesluit in die Amerikaanse bloemlesing The Last Man Anthology, saam met stukke van skrywers soos Ray Bradbury, HG Wells, Edgar Allan Poe, Jack London, CJ Cherryh and Barry N Malzberg (Sword and Saga Press).


<< Gaan terug na Poolshoogte <<


Uit die LitNet-argief
Skole
Wat jy moet weet van wetenskapfiksie
– Fanie Viljoen
2012-06-05

Webseminare
Tien wenke as jy wetenskapfiksie wil skryf
– Jaco Jacobs
2012-09-12

Webseminare
Van ’n tegnologiese moontlikheid tot ’n ryke leergeleentheid: Die opvoedkundige waarde van wetenskapsfiksie
– Henriëtte Loubser
2012-09-10

LitNet Akademies-gespreksruimte
Lank lewe die Arwantyne!: Elzette Steenkamp gesels met Eben van Renen oor Afrikaanse wetenskapfiksie
– Eben van Renen, Elzette Steenkamp
2012-09-27
Young Voices Conference 2004
The accident of home
– Lauren Beukes
2004-10-19
Resensies
Vinnige Virus welkome toevoeging tot arm wetenskapfiksie-genre
– Derick van der Walt
2010-04-06
Kuberklas Kreatief
Wetenskapfiksie-skryfkompetisie 2012: Top tien finaliste aangewys
2012-11-21
Books and Writers Q&A
Dystopia in Science Fiction: Q&A with Lauren Beukes
– Elzette Steenkamp, Lauren Beukes
2013-05-15
Festivals
FLF 2013: Dystopia in science fiction
– Tembi Charles
2013-05-21
LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)
Die miskruier, hoop en die verlede – Miskruier (2005) deur Jaco Botha as kritiese distopiese roman
– Joan-Mari Barendse
2013-09-04
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top