Vinnige Virus welkome toevoeging tot arm wetenskapfiksie-genre

  • 1

Skrywer: Jaco Jacobs, met illustrasies deur Daniël du Plessis
Uitgewers:
Lapa Uitgewers
Kategorie:
Jeugfiksie
Ouderdomsgroep:
13+
Illustrasies: Swart-en-wit illustrasies
Bladsye: 136
ISBN: 9780799344592
 

Van die aantreklike omslag tot die vinnige vertelling en ’n storie wat die leser van die eerste bladsy boei, is Jaco Jacobs se Virus die soort storie wat ’n jong, onwennige leser dalk net mag oortuig dat lees nie heeltemal so ’n buiteruimtelike aktiwiteit is nie.
Jacobs het reeds vir meer as 30 boeke vir jonger lesers op die rak gesorg en spog ook met ’n handvol pryse, wat die Alba Bouwer-prys en die CP Hoogenhout-medalje insluit. Hoewel Virus op ’n jonger gehoor gemik is, sal die spannende storie selfs ouer lesers aan die raai en aan die lees hou. Jacobs verdien ’n pluimpie vir sy groot bydrae om met sy lekker, aktuele stories ’n jonger generasie aan die lees te kry.

Die hoofkarakter, Jake, was ’n week gelede nog ’n doodgewone sewentienjarige, maar die wêreld het in sewe dae onherkenbaar verander nadat ’n vernietigende virus, wat mense in vreesaanjaende wesens verander, die hele wêreld onderstebo gekeer het. Hy is een van die min oorlewendes in ’n verwoeste stad wat oornag byna in puin gelaat is nadat skrikwekkende wesens wat met die virus besmet is, besig is om ’n pad van verwoesting te saai.

Jake vat die pad om na sy pa te gaan soek en loop ’n aantal interessante karakters op sy vlugtog uit die stad raak, almal gewikkel in ’n stryd om oorlewing. Daar is die motorfietsryende Liza wat Jake se lewe meer as een keer binne die bestek van ’n uur of wat red, ’n groep jong mense wat op ’n afgesonderde plaas skuil waar organiese produkte tydens ’n beter lewe geproduseer is, en die radio-omroeper DJ Max, wat ’n soort spookstem word wat op die agtergrond kommentaar lewer op ’n chaotiese wêreld wat besig is om te vergaan. Daar is ook ’n dogtertjie wat dalk die sleutel tot die mensdom se oorlewing hou as daar maar net genoeg tyd is.

Dis ’n vinnige storie met vele kinkels wat die leser aan die lees hou. Lekker is ook die idee dat die karakters vir hulle lot verantwoordelikheid moet aanvaar en nie wag vir iemand soos ’n regering of ’n veiligheidsmag om hulle te red nie.

Soos met vorige boeke wat op jonger lesers gerig is (’n mens dink aan Jacobs se bekroonde Suurlemoen), betrek die skrywer en die uitgewer weer ’n “visuele” element by die storie om dit ’n groter sintuiglike leeservaring te maak. Dié slag is dit somber  swart-en-wit strokiesprente wat Jake as aspirantstrokiesprentkunstenaar teken om sy emosies te verbeeld of om te probeer sin maak van sy belewenisse.

Die Pretoriase kunstenaar Daniël du Plessis se strak strokiesprente slaag oortuigend daarin om die apokaliptiese gebeure vir die leser werklik te maak. Dis egter Jacobs se stilistiese vermoëns wat die lees van die verhaal amper ’n filmiese ondervinding maak. Die leser “sien” as’t ware die boek afspeel. Dit is nog ’n pluspunt wat die lees van Virus vir die MTV-generasie ’n aangename ervaring behoort te maak.

Virus is ’n welkome boek wat die skaars wetenskapfiksie-genre in Afrikaans aanvul en die aktualiteit van biologiese oorlogvoering in die kollig plaas. Die taalgebruik is knap en die dialoog oortuigend. Jacobs wys ook dat dit nie nodig is om ’n oordaad Engelse woorde te gebruik om tienerdialoog geloofwaardig te maak nie.

Al die drade kom nie aan die einde bymekaar nie en ’n mens sou ook ’n meer verwikkelde ontknoping en afloop wou sien. Die effense oop einde vra egter vir ’n opvolg. Gaan Jake in ’n held ontpop wat die wêreld van ondergang red, en gaan sy paadjie weer kruis met van die karakters wat hy die afgelope paar dae ontmoet en ’n belangrike rol in sy lewe gespeel het?

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top