Om die sterflikheid van blomme en mense

  • 0

Hierdie lesing is op Vrydag 25 Julie 2025 te Cradock/Nxuba tydens die jaarlikse Etienne van Heerden Veldsoirée as deel van die LitNet25 Afrikaanse Skrywersberaad gelewer.

Luna Paige het die lesing van die klavier af gedoen en telkens die liedere wat hier bespreek word, gesing. Die vertoning is nie opgeneem nie, want opnames van die liedere bestaan.

Sy het daarna die teks ook aangepas en in 2025 by die Boekenaweek te Kaapsehoop opgevoer.

Musiek en literatuur is van die mensdom se kragtigste vorme van uitdrukking. Hulle leef vir eeue in simbiose met mekaar saam. Beide kan natuurlik stories vertel, diep emosies ontlok, en die kulturele waardes van ’n tydperk weerspieël. Ek begin graag hierdie viering van musiek en letterkunde met ’n voordrag van lirieke wat ek in 2014 geskryf het. 

“Flower & song”, inspirasie van die Asteke

“Flower & song” is geïnspireer deur die digkuns van die Asteke. Ek het vir die eerste keer met hul poësie kennis gemaak in Robert James Waller se roman Puerta Vallarta squeeze. Waller, bekend vir The bridges of Madison County, gebruik daar ’n aanhaling wat my nuuskierigheid aangewakker het en my op ’n pad van ontdekking geplaas het.

Die Asteke was ’n beskawing wat tussen 1300 en 1521 ’n belangrike rol in die Meso-Amerikaanse kultuur gespeel het. As hulle nie besig was om in oorloë te veg nie, was hulle besig om te kuier, liefde te maak, te filosofeer, te dig, te sing en te dans. Hul digkuns het dikwels die ryk kulturele, spirituele en filosofiese dimensies van hul kultuur weerspieël. Nie net het hulle geglo in die krag van woorde, die belang van redevoering en retoriek nie, maar hulle het ook ’n diep konneksie met musiek gehad. Die struktuur en styl van hul digkuns het sterk gesteun op musiek – spesifiek ten opsigte van die behoud en weergee van inligting. Gedigte en liedjies is dikwels ingespan om gekose narratiewe vanuit die adellike huise onder die gepeupel te versprei. Omdat die orale komponent so intrinsiek tot hul kultuur was, en poësie gekoppel was aan musiek en uitvoering, is die digkuns dikwels begelei met die speel van instrumente soos tromme, fluite en ander interessante perkussie-instrumente. Musiek het emosionele intensiteit aan die uitvoering verleen en vir ’n multisensoriese gehoorervaring gesorg. Nie veel anders as vandag nie.

Daar is natuurlik sterk gesteun op simbolisme. Veral natuursimbole is ingespan. Die blom (flower) het dikwels skoonheid en verganklikheid verteenwoordig, terwyl die lied (song) digkuns, vreugde en die essensie van die lewe gesimboliseer het. Die blom was ook ’n simbool van die kortstondigheid van menseverhoudings, gelukkig darem ook ’n simbool van die natuurlike lewe-dood-lewe-siklus. Die lied was op sy beurt weer nie net ’n viering van ons tyd hier op aarde nie, maar ook ’n viering van die ontsterflikheid van kuns – die mens se enigste werklike nalatenskap – die geleentheid om ten volle te floreer – te blom.

Flower & song
Vanaf die album Borders & beyond (2014)

They say all that’s left
Are flowers and sad songs
Where the wise men
And warriors used to be

They say we’re like spring grass
We come only to sleep
They say we’re like spring grass
Only to dream

They say the Earth is the place of the fleeting moment

But there are a million firelighters in the sky
A million layers of earth beneath our feet
A million precious moments as we blink our eyes
Heaven is nowhere – heaven is everywhere

So, rain down on me all those fresh cut flowers
Rain down on me all those beautiful songs
Rain down on me all your unanswered questions
Rain down on me all your good and your wrongs

For you know the Earth is the place of the fleeting moment

But there are a million firelighters in the sky
A million layers of earth beneath our feet
A million precious moments as we blink our eyes
Heaven is nowhere – heaven is everywhere

So, I erect my drum – assemble my friends, aya!
We paint with flowers, with songs give colour!
I erect my drum – give shade to those who live on Earth
We’ll dance abundantly in this book of paintings

We won’t flower in vain. We won’t flower in vain. We won’t flower in vain.

Luister gerus na die lied op YouTube. Dit is ook beskikbaar op alle musiekplatforms (Spotify, Apple, ens).

Musiek en literatuur: wedersydse inspirasie

Ons weet poësie en musiek het gemene elemente. Ons is veral bekend met die belang van ritme in beide kunsvorme. Literatuur is histories ook deur die strukturele aard van musiek beïnvloed. Voorbeelde hiervan is digters vanuit die Romantiese era (Byron, Keats, Coleridge, Wordsworth, Shelley) wat aanklank by die musikale vorm van die tyd gevind het. Modernistiese skrywers soos Eliot en Joyce het weer aanklank gevind by die strukturele vorm van avant-garde-musiek en komponiste soos Stravinsky. Jazz en improvisasie het weer ’n groot impak op die beat-generasie se skrywers soos Kerouac en Ginsberg gehad.

Omgekeerd het musikante natuurlik ook hul inspirasie in literatuur gevind: Shakespeare se werk het aanleiding gegee tot talle operas, en Goethe se Faust het musikale werke van onder andere Berlioz en Liszt geïnspireer. Russiese Gaum-poësie het ’n invloed op visuele kunstenaars en komponiste van die tyd gehad. ’n Interessante voorbeeld hiervan is die opera Victory over the sun deur Mikhail Matyushin (1913). Dié Russiese beweging het ook later ’n impak op avant-garde-kunstenaars in Amerika gehad. Voorbeelde hiervan is Downtown-musiek (dink Yoko Ono in die ‘60’s), en die minimalistiese musiek van Philip Glass wat ’n verdere uitvloeisel van die avant-garde-beweging was. In die jare wat volg, het digterlike liedjieskrywers soos Bob Dylan en Leonard Cohen weens letterkundige invloede hul eie poëtiese stories as liedjies ingespan.

Lirieke as betekenisgewende element

As musikant, maar meer spesifiek, as liedjieskrywer, beskou ek lirieke as die betekenisgewende element van my kuns. Ek vind graag my inspirasie uit literatuur, en meer onlangs ook uit films (waar teks, die visuele en musiek op hul beste saamwerk). Dit is altyd vir my interessant om te sien hoe kulturele temas, idees en style in al hierdie kunssoorte manifesteer sonder ’n noodwendige gesprek of samewerking tussen kunsmakers uit die verskillende genres. Ek glo die plek waar alle inspirasie vandaan kom, is magies, en universeel, en ook dat ons gevolglik juis binne hierdie magiese ruimte mekaar vind, by mekaar kan leen, steel (as ek my so mag verstout) en ook by mekaar aanklank vind – ’n soort bevestiging kry – dat dit wat ons voel, ervaar, waarneem, verwerk en uiteindelik skep en met die samelewing deel, konneksiepunte het en deel vorm van ’n groter prentjie waarvan ons bloot speke in ’n groter wiel is.

Dit is hoekom ek leen by literatuur. Dit maak vir my sin. Hoe ek dit doen kan ek slegs verduidelik deur my liedjies te deel. Hiermee dan ’n paar voorbeelde.

Voorbeeld 1: Die wiegelied en die ou man

Danie Botha gebruik in een van sy kortverhale (“Iemand by die agterdeur”) ’n ou FAK-wiegelied as bron van vertroosting: ’n moeder wat haar kind beskerm teen koue, donkerte en vrees. Ek het dié beeld geplaas teenoor die figuur van ’n ou man, geïnspireer deur ’n Chris Barnard-verhaal (“Bos”), wat alleen en sonder vertroosting sy naderende dood in die oë staar. Die wind, bome en blare het vir my ’n simboliese wiegelied gevorm wat hom uiteindelik tog in sy laaste oomblikke dra. So word ons van kleins af, soms sonder dat ons dit besef, herinner aan ons sterflikheid. Dit was juis Danie se gebruik van die wiegelied wat my liedjie geïnspireer het.

Hy loop al langs die bergpaaie langs
met ’n huik oor sy kop getrek
Deur die son, wind, die reën
loop hy al baie jare ver

Sy houtstaf wys die rigting aan
na die Ewigheid
Op die bergtoppe moet hy doodstil staan
om te sien wie volgende moet saam

“Luister hoe fluister die wind deur die boompies
Heen en weer wieg hy al oor die stroompies
Doe, doe bladertjies, slapenstyd nadertjies
So sê die wind vir die blare en blommetjies”

Hy loop een aand laat oor ’n donker werf
Hy het dalk al hier verby geswerf
Hy voel ’n seun se hart wat bibber van vrees
Hy wil klop en sê: “Toemaar, dit gaan nog baie lank wees”

Dan begin ’n vrou in die huis
saggies sing

Daar is iets in haar stem
wat hom tot stilstand dwing:

“Wie roer hier aan my deur so vertroulik en sag?

Kom maar binne, dis awend, dis nag”

“Nee,” sê Hy, “want ek’s ’n pelgrimskind -
My lewe is swerwe, my naam is die wind”

Hy hou verby want daar’s ’n ou man wat wag
Dis amper douvoordag
Die ou man ken hom goed, hulle paaie’t al gekruis
die Pelgrim loop gereeld verby sy huis

Die ou man staan kaal en geboë in die stroom

Hy sien die Pelgrim en sy oë rek wyd
Die woorde kom skaars uit:
“Dis jy, dis tyd”

“Luister hoe fluister die wind deur die boompies

Heen en weer wieg hy al oor die stroompies
Doe, doe bladertjies slapenstyd nadertjies
So sê die wind vir die blare en blommetjies”

Die ou man vertel hoe lank hy al wag
Hy het hom dit heel anders verbeel
“Hou oud is ek Pelgrim? Kyk hoe oud is jy!
Jy, wat kom om my asem te steel ...”

“Waar’s die vertroosting, die vrede
waar’s die geluk?
Gaan jy my wrintiewaar, net hiér –
uit die oggendson uit ruk? Want kyk!”

“Luister hoe fluister die wind deur die boompies
Heen en weer wieg hy al oor die stroompies
Doe, doe bladertjies, slapenstyd nadertjies
So sê die wind vir die blare en blommetjies ...

So sê die wind ...”

Kyk en luister hier.

Voorbeeld 2: Antjie Krog se “Fughetta vir drie stemme”

In 2023 is ek genooi om deel te wees van die Woordfees-produksie Al om Antjie, waar musiekmakers gevra is om gedigte van Antjie Krog te toonset. Ek het “Fughetta vir drie stemme” uit haar debuutbundel, Dogter van Jefta (1970), gekies. Hierdie toonsetting is vir my ’n voorbeeld van hoe digters deur die strukturele aard van musiek beïnvloed kan word. Antjie Krog het reeds op 17 die musikale aard van poësie vasgevang en hierdie gedig in ’n fughettavorm geskryf – ’n gedig wat eerder gehoor as gelees wil word.

Ek was verstom dat ’n 17-jarige iets so diepgaande kon skryf. Ek het met ’n amper waansinnige aanslag met die proses weggespring en drie dae later met dié toonsetting by my woonstel uitgestap. Ek het gepoog om die streng fughettavorm te respekteer, maar moes elemente aanpas om ’n melodiese vloei en emosionele klimaks te bereik. Ek het die drie stemme met behulp van ’n loop pedal opgebou. Hier is ’n opname om na te luister.

Ek moet bieg: Ek verkies om dit uit voer en mense dit só te laat hoor, bloot omdat die spanning en kwesbaarheid van die openbare uitvoering vir my die kwesbaarheid van die gedig meer effektief weerspieël.

Johann de Lange het ook hieroor geskryf. In sy blog deel hy die volle gedig. Kyk gerus na die manier waarop Antjie die gedig uitgelê het op die blad. Hoe kan ’n mens nou nié poog om die gedig te toonset nie? Die struktuur van Krog se gedig het weer vir my geïnspireer om buite my eie komposisieboksie te dink.

Ek het tydens my stap op die Spaanse Camino op die mooiste klein kerkie met die wonderlikste akoestiek afgekom – ek sing toe spontaan die eerste versie daar. Loer gerus na die klein video wat ek op my TikTok gedeel het. Klik hier.

Voorbeeld 3: Elias P Nel se “Korhaanman”

Dan is daar natuurlik ritme, klank, simboliek. Ek dink aan die Gaum-digters wat min gepla was met die betekenis agter woorde. Hulle was geïnteresseerd in die musikaliteit van woorde – hul klanke en ritmes wanneer hulle in sekere volgordes ingespan word. Dit maak sin dat musikante die beweging aangegryp het.

Dit is seker een van die redes hoekom ek so lief is vir Afrikaans. Dit is vol lekker klanke en ritmes wat ’n musikant met verbeelding vele plesier kan verskaf.

Die kortverhale van Elias P Nel, spesifiek uit sy bundel Iets goeds uit Verneukpan? (1998), het my besonder geïnspireer. Sy gebruik van natuursimbole en klank het ’n sterk musikale kwaliteit: Die milieu waarbinne die storie afgespeel het (’n Khoi-gemeenskap in die Noord-Kaap), het stof, dans, reëndruppels, bokke en voëls uitgebeeld. Wonderlike simbole wat maklik met klank en ritme nageboots kan word. Ek het groot vet druppels in die stof hoor val, ’n klank soortgelyk aan ’n bokspring teen klipharde grond, en dansers wat stof opskop. Ek moet ook krediet gee aan Jan-Hendrik Harley, wat die strykinstrumente se verwerkings vir my gedoen het. Hy het hierdie motiewe instinktief nageboots.

Ek dink dit was juis Elias P Nel se gebruik van klank, simbole en kulturele konteks wat dit vir ons as musikante so maklik gemaak het om sy storie in musikale vorm weer te gee.

Kyk gerus na die openbare uitvoering in 2012, waar selfs die danser nie van die verhoog wou afklim nie – dit het die lewenskrag en dinamika van die werk bevestig.

Langs die Gariep het die Watergees wakker geword en haar vir hom gewys
Haar naam klink soos die wind wat saggies deur die riete fluit
Sy hart spring bok soos dansers wat vir reën vra
En hy weet sy is die een wat saans op sy karos moet slaap

Maar hy’s nie ryk nie
Die rante yl besaai met sy vee
Hy weet daar’s geen manier dat haar Ta
Die liefdeseën sal gee

Maar is jy Korhaan of is jy Muisvoël, man
Gaan jy veg vir jou hart en op die kliprant staan
Tot aan die einde van dae – nooit ophou soek
Tot aan die einde van dae – my naam roep?

Roep my, Soek my!

Haar stem val soos sagte reëndruppels om hom neer
Die pendoring in sy hart, o, die ding brand seer!
Want hy weet ’n Korhaan, hy kan sy keel rou skree
Dit terwyl die Muisvoëlnes vir hom ’n nuwe maat sal gee

Maar is jy Korhaan of is jy Muisvoël, man
Gaan jy veg vir jou hart en op die kliprand staan
Tot aan die einde van dae - nooit ophou soek
Tot aan die einde van dae – my naam roep?

Roep my, Soek my!

“Jy moet jouself elke dag in die oë kan kyk,” sê die Oudste vir hom
“Jy is soos vuurrook, netnou hier, netnou weg
Maak seker jou tyd hier is reg”

So, is jy Korhaan of is jy Muisvoël, man?
Gaan jy veg vir jou hart en op die kliprant staan
Tot aan die einde van dae – nooit ophou soek
Tot aan die einde van dae – my naam roep?

Roep my, Soek my! 

Voorbeeld 4: Ingrid Jonker, “Dubbelspel” en “Moswaterval”

Van simbolisme gepraat: Soms is dit moontlik om natuursimbole in klankvorm weer te gee. Graag gebruik ek ’n lied vanaf die Korreltjie kantel-album as voorbeeld. Ek het twee van Ingrid Jonker se gedigte in een lied saamgesmelt. Beide se temas is donker – introspektief en in erkenning van die skadukant van die self. Ek het daarom meestal gebruik gemaak van twee donker mineur akkoorde. Jonker het dikwels in haar briewe met André P Brink oor spieëls gesels, en die tema het ook sterk gefigureer in haar gedigte. In “Dubbelspel” skryf sy oor die verskillende weergawes van haarself (soos deur haar self en ander gesien). In “Moswaterval” kon ek nie anders as om te wonder oor weerkaatsings van water nie. Ek vermoed die gedig belig ook die impak wat die kleinste wese of gebeurtenis (nog ’n sterk tema in haar werk) binne die groter geheel kan maak. Dink maar aan die rimpeleffek van ’n klein klippie in ’n spieëlgladde poel. Dink aan hoe die beeld wat in daardie gladde water weerspieël word, skielik verander, selfs verwronge of aardig word. Ek het hierdie dubbele “ekke”, die lig en donker, die rimpeleffek, en die drup van water probeer naboots deur met klank, herhaling en vokale effekte in die opname te speel.

Luister gerus daarna op die kunsvideo wat ons vir ’n Ingrid Jonker-uitstalling in Nederland gemaak het.

Ons dubbelspel het my vermaak
Die kierang speel, die knikkop praat
Die een spieël in my kamer was
Blinkglad, die ander een gebars

Jy dink, maar God mens
Jy het my deurgrond
Ek sal jou so verwar
En so verwond

Dat jy van spieël tot spieël
Sal draf en wonder
As hierdie sy is
God, wie is die ander?

Moswaterval, kantelson
Ek het jou lief, lief, lief

Moswaterval, kantelson
Hartedief, dief, dief

Moswaterval, kantelson
Val, val, val

Vinnig, vinnig, vin in die poelietjie
Klippie, kringetjie
Klaar

Wie is die ander? Wie is die ander? Wie is die ander?

Jy! My eie gesig.

Voorbeeld 5: “Dagbreek toe!” geïnspireer deur Catherine Willemse

Net soos wat die beskrywing van milieu ’n enorme invloed op my ervaring van Elias P Nel se bundel gehad het, wil ek graag uitlig hoe musiek as milieu dikwels in literatuur gebruik word om die verhaal binne ’n sekere tyd en/of kulturele konteks te plaas. Hoe kan jy byvoorbeeld ’n verhaal oor slawe in die Mississippi vertel sonder om die verhaal van musiek, gesange en die blues te vertel?

’n Goeie Suid-Afrikaanse voorbeeld is Deon Meyer se Benny Griessel-boeke wat in Kaapstad afspeel. In sy verhale word verwys na musikante en kunstenaars wat tans in Kaapstad woon en werk. Meyer se Suid-Afrikaanse lesers sal dié name herken, sal heel waarskynlik al iewers een of meer van die musikante sien optree het, en sal daarom onmiddellik die kultuur, die atmosfeer en die stemming van die toneel verstaan. Hoe wonderlik dat Meyer ons land se musikante so verewig in sy boeke.

Ek het op so ’n storie afgekom – die memoires van Catherine Willemse, Hein Willemse se moeder. Haar memoires, Met ’n diepe verlange, het my diep aangeraak. Haar beskrywing van die mense, die gebruike, die kosse, trap- en perdekarre, ook die speel van musiekinstrumente op Oujaarsaand in die Helderberg-omgewing, het my verbeelding aangegryp. Juis omdat ek die mense van die omgewing én die omgewing self so goed ken. Ek het onmiddellik Kaapse klanke nader gehark. Hulle sit toe heeltyd vlak onder die vel. My sangstyl het spontaan verander toe ek begin sing, en toe ek weer sien, sit ek met die liedjie “Dagbreek toe!” ’n ode aan Catherine Willemse, haar voor- en nageslagte.

Kyk gerus hier na die lied soos opgevoer in Durbanville in 2012.

Langs die voet van Helderberg
Tussen Stellenbosch en Somerset-Wes
Lê ’n verlede geslote in hopies grond
Van laslappie-mense, beautiful en bont

Die Kassiedraers het hul weg gebaan
Vanuit Rusland tot in die Zandvlei
en seevaarders uit die Ooste
Moes die stormwaters bestry

Hulle sê die kinders moes die houtjies haal
En daar begin die mooi verhaal
Van blomme pluk en veldkos eet
Die reuk van Moeder Aarde wat mens nooit vergeet

Uintjies grawe, skilpad vang
Kammakrankersap taai aan die wang
Blouboetebessie en tammeletjie
En melkpitte wat prut in soetkonfytblikke

Khoi-khoi prag het met Hollands getrou
Oos, Wes, Noord en Suid het saam aan die mens gebou
Hulle ken van bymekaar staan en lewe vir nou
Want mens weet nooit wat die dag van more inhou

Uintjies grawe, skilpad vang
Kammakrankersap taai aan die wang
Blouboetebessie en tammeletjie
En melkpitte wat prut in soetkonfytblikke

Kom die Nuwejaar op die lappieskombers
Soutribbetjies en konsertinas wat blêr
Die perde is gesaal en die trapkar is gelaai
Almal is op pad na Gordonsbaai

Waar hulle sing en hulle dans dat die stof so staan
Viool en kitaar, almal speel saam
As hul die hartseer van anderdag vir oulaas groet
Skree ’n outoppie bly “Dagbreek toe”!

Voorbeeld 6: Dana Snyman se “Ouma Plaas”

Ná die volgende lied versoek is by die Veldsoirée, het ek besluit om hom tog by die Innibos Boekenaweek in te sluit – veral omdat Kaapsehoop (waar die naweek aangebied is) nou ook Dana Snyman se tuiste is. Dana Snyman beskryf in sy verhale die nostalgie van plekke, mense en oomblikke met besondere fyngevoeligheid. Dit is so maklik om onsself of ons familielede in sy verhale raak te lees. So het ek ook in sy “Ouma Plaas” my eie storie raakgelees: Ek het die agteruitgang van dorpe en die broosheid van my geliefde ouma met demensie as ’n diep persoonlike tema ervaar.

In my liedjie “Ouma se hande” speel ek met my én haar herinneringe: Soos plaasgeure sintuiglike herinneringe oproep, het ek oumahande as simbool gebruik om verganklikheid, troos en menslike verbondenheid te verwoord.

Hoe het dinge nie verander
vernuwe en vooruitgegaan
Hier waar tyd by haar
alewig net bly stilstaan

Dis dié dat sy bly
terughunker na haar tye op die plaas
van blomme aanry mark toe
en heuning haal saam met Pa

Ek onthou die kamfer-insmeersessies
voor die spieël
haar houtkis vol juwele
tieroog, granaat, robyn

Die blou budjieveer
wat haar eerste kêrel vir haar gegee het
net voor hy haar hart
roekeloos gebreek het

My ouma is ’n klein, klein voëltjie
Sy’t uit die boom uitgeval
Sy skuil nou onder ’n bossie
met haar hande in haar skoot gevou

... my ouma se hande
wat die wêreld buite kon hou

Die vertoonkas vol goematjies
Tretchikoff en die Bybelversies
en daai tissue wat sy sorgvuldig
by haar mou invou

Ek kuier nou en die huis
is klam en koud
sy’s verrinneweer
net soos haar gemoed

Die Chinese japon van haar
hy hang nou swaar soos ’n las
om haar tenger lyf wat
eens op ’n tyd trots volrond was

My ouma is ’n klein, klein voëltjie
Sy’t uit die boom uitgeval
Sy skuil nou onder ’n bossie
met haar hande in haar skoot gevou

My ouma se hande
wat die wêreld buite kon hou

Ek kuier kort want gesels is min
Van een minuut tot die volgende
Ek streel oor haar hande en
Ek bid dat sy weet

Dat al is sy nie meer sy nie
Dat niks sal verander nie
Net hierdie hande van my
Wat nou die wêreld buite moet hou

Want my ouma is ’n klein, klein voëltjie
Sy’t uit die boom uitgeval
Sy skuil nou onder ’n bossie
Met haar hande in haar skoot gevou

My ouma se hande
Wat die wêreld buite kon hou
My ouma se hand
Nou sag in myne gevou
My ouma se hande
Dat ék die wêreld buite kan hou

Voorbeeld 7: Jeanne Goosen se invloed

Ek het so baie songs wat deur letterkunde geïnspireer is. Dit is moeilik om hulle almal in een uur in te sluit. Ek sal tog wel hierdie laaste een wil inwurm, bloot omdat a) die skrywer iemand is wat genoem moet word as mens van musiek en letterkunde praat, en b) omdat ek die gedig en die toonsetting daarvan vreeslik geniet. Hy is lekker om te sing en te speel. Die gedig is effe stout én effe hartseer. Net soos die skrywer Jeanne Goosen inderdaad was.

Sy was lief vir musiek, vir diere, die hemelruim, plante en vir dans. Ek onthou een van haar gedigte waar sy ’n eensame natuurtoneel buite haar venster in die aand as ’n simfonie beskryf. ’n Mens voel dit in jou murg. Ek onthou ’n aand waar sy op my klavier gespeel het – jolig, sigaret in die mond, terwyl haar sigaret se as oor my klawers geval het (tot my konsternasie), hoe sy daarna opgespring en met my ma begin langarm het. Ten spyte van die hartseer wat mens in haar werk lees, is daar ook dié kant van haar. Dit is juis dit wat ek in die toonsetting van “Sweetness” probeer vasvang het.

Hiermee sluit ek dan die viering van musiek en literatuur af. Daar is sekerlik nog so baie om te sê. Ek het nie akademies met hierdie tema omgegaan nie, maar eerder op gevoelsvlak, soos ek glo die meeste van ons doen wanneer ons aan die dans tussen musiek en literatuur dink.

Sweetness
Kom bly by my vannag
Dan leer ek jou Rumba
Die Charleston en die Samba
Dan leer ek jou die Jitterbug
Die Hush Hush en die Cha-cha-cha

En dan
Daarna?
Dan croon ons tot dagbreek

Only the lonely

En sommer net: Kyk gerus na “Gee my ritme” – daardie één ding wat skrywers en musikante deur die eeue met mekaar deel.

Daar is ’n tweede weergawe van die lied.

Luister gerus watter weergawe die meeste resoneer.

*

Volg gerus my musikale reis op: www.lunamusic.co.za, Instagram, Facebook en TikTok.

Lees en kyk ook:

Luna Paige: I was at the Etienne van Heerden Veldsoirée

Luna Paige: Is ons musiek outentiek?

Marli van Eeden en Luna Paige: “Kuns is goed vir die siel”

Luna Paige: Entrepreneurskap en diversifisering in die nuwe musikale ekonomiese landskap

Menán van Heerden en Luna Paige: Learning to Live Music: ’n onderhoud met Luna Paige

Izak de Vries and Luna Paige: In conversation with Luna Paige about Harmony

Izak de Vries en Luna Paige: Dis die dors

Ingrid Glorie en Luna Paige: Luna Paige bring Korreltjie Kantel Lae Lande toe

Marli van Eeden en Luna Paige: “Kuns maak nuwe wêrelde oop”

Henry Cloetee en Luna Paige: “Natuurlik speel die ‘independent artist’-status ’n rol ...”

Izak de Vries:  Luna Paige kom huis toe

Izak de Vries en Christof Berg: “Wil jy sien hoe lyk die hemel”

Izak de Vries en Anna Verloren van Themaat: Trust the legehness

Izak de Vries en Frieda van den Heever: Spoorsny

Anelia Heese: Om Gertjie se beautiful woorde in Beaufort-Wes daar te laat

Andries Bezuidenhout: Die storie agter Koos Doep se “Herman”

Lees die ander bydraes hier:

Die LitNet25 Afrikaanse Skrywersberaad

Veldsoirée-borge/Veldsoirée sponsors

ATKV-Skryfskool

Die Tuishuise & Victoria Manor

Buffelshoek DiRosie Lodge

Afrikaans Amptelik 100

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top