Luna Paige: "Kuns is goed vir die siel"

  • 0

Luna Paige (Foto: Jeandri Streicher)

“Kuns is en sal altyd goed vir die siel bly. Dit maak nuwe wêrelde oop.”

Die musikant Luna Paige is passievol oor die kunste en skrik nie vir harde werk nie. Sy het ook rede om fees te vier, want danksy haar harde werk oor die jare heen vier sy vanjaar 21 jaar in die musiekbedryf. En hoe dan beter as met ’n konsert?

Op 14 Maart tree Luna by die Toyota US Woordfees op om dié mylpaal te vier, met musiek wat geïnspireer is deur die sosiopolitieke klimaat waarin alle Suid-Afrikaners tans leef. In 2020, meen sy, is dit tyd vir selfondersoek en vernuwing. 

Luna vertel meer oor dié spesiale vertoning.

Luna, vertel ons asseblief meer oor 21 jaar later – waaroor handel hierdie musiekproduksie?

Hierdie eenmalige vertoning op 14 Maart is eintlik ’n manier vir my om ’n doelwit met ’n sperdatum aan myself te stel. Omdat die bedryf so wispelturig is, en mens dikwels moet diversifiseer om aan die lewe te bly, het kreatiwiteit wat my eie musiek betref ’n bietjie aan die agterspeen gesuig.

Ek het lanklaas nuwe materiaal geskryf en tyd ingesit om aan dit wat binne is, uiting te gee in my musiek. Ek het die laaste paar jaar baie gefokus op my besigheid, Iluminar Productions, waar ek musiekteaterproduksies ontwikkel en myself ook uitdaag om saam met ’n verskeidenheid musikante, akteurs en skrywers te werk. My ervaringe binne hierdie samewerkende projekte sowel as my ervaringe by die SAMA-toekennings in 2018 het my baie dinge laat bevraagteken.

Ons leef in ’n tyd waarin die meeste mense redelik onseker is oor hul toekoms, die ekonomie, hul veiligheid en ook op ’n manier hul identiteit en hul “behoortskap”. Ek het hierdie onsekerhede vir seker nie vrygespring nie en ek het agtergekom dat dit ’n effek het op my selfekspressie en tot baie onlangs op ’n lus vir liedjies skryf. Ek het nie relevant gevoel nie. Ek wou nie effort insit in iets wat nie behoort nie.

Deur in te skryf vir die fees het ek myself uitgedaag om hierdie klomp onsekerhede onder die spotlight te sit en te kyk wat uitkom – myself uit te daag om net weer aan die skryf te kom. Ek dink dit was belangrik vir my om net eenvoudig weer terug te keer na hoekom ek in die eerste plek 21 jaar terug begin musiek maak het. En om vas te hou aan die outentieke ek – en ook te besef dat ons nie in ’n vakuum leef nie, en deel vorm van ’n groter geheel wat onvermydelike invloede op ons as mense en kreatiewe wesens en ons werk gaan hê. Dié dat ek my heel eerste poster gaan opgrawe het en besluit het om dit te laat herontwerp vir dié jaar se vertonings – “keeping the old that works, discarding what doesn’t and embracing change”. Ons is immers in ’n splinternuwe dekade. Om een of ander rede voel hierdie een vir my baie belangrik.

Luna en ander Suid-Afrikaanse kunstenaars by Festival voor het Afrikaans 2013 (Foto: verskaf)

Wat maak jou opgewonde oor hierdie produksie?

Om nuwe materiaal voor ’n gehoor te toets is altyd senutergend. So ek sal sê ek is senuweeagtig opgewonde. Wat ek wel weet, is dat daar altyd ’n eerste keer vir alles is. En na die eerste keer is dit soos koelte na ’n hittegolf. Dis heerlik. Nuwe drentelpaaie maak hul verskyning. Dis waaroor ek opgewonde is. Ek het besluit om my klank effe te verander, om saam met nuwe musikante te werk. Schalk van der Merwe en Frank Freeman gaan by my aansluit op die verhoog. En dis vir my ’n lekker opwindende gedagte. Ek het ook vir Blake Hellaby (’n keyboardspeler, jazzmusikant en elektroniese programmeerder) genader om op sommige van die songs saam met my te werk. Dit behoort interessant te wees en ek sien daarna uit om te hoor hoe hulle bydrae die vibe van die musiek verbeter! Meestal – om net weer aan die skryf te kom.

Ek het onlangs by die Stellenbosch Poetry Club aangesluit. My skedule laat nie vreeslik baie bywoning toe nie, maar dit is vir my heerlik om te sien en te ervaar hoe die lede van die digklub hulself uitdaag om daagliks/weekliks te skryf. Ek admireer die moeite en deurdagtheid wat hulle in hul skryfwerk insit – altyd aan die verbeter. Dit het my inspireer om nuwe songs te skryf. Op my beurt hoop ek my nuwe songs raak en inspireer ook diegene wat my musiek ondersteun.

In hierdie produksie spreek jy onder meer die sosiopolitieke klimaat aan waarin Suid-Afrikaners tans leef?

Ja – ek onthou die SAMA’s in 2018 – die heel eerste keer wat ek ooit daar was weens ’n nominasie. Dit was ’n redelik ontnugterende ervaring. Wat ooglopend was, was al die musikante wat gewen het se kommentaar:

“I was working towards this moment for so long.”

“Things were really not that easy.”

“After many years of suffering …”

Ens.

Dit het my laat besef dit maak nie saak hoe suksesvol ’n kunstenaar lyk nie – die pad is altyd ’n uitdaging en moeilik. Dit gaan nie net onmiddellik goed nie. En wanneer dit wel goed gaan, gaan dit ook nie noodwendig ad infinitum goed nie.

Toe ons afdeling se genomineerdes aangekondig word (Korreltjie Kantel was genomineer onder die kategorie Beste Afrikaanse Kontemporêre CD), het die skare geboe. Ek was stomgeslaan en teleurgestel. Al die harde werk, die moeilike tye, die goeie tye, hierdie oomblik (ook waarnatoe ek gewerk het vir die laaste 19 jaar) is net so ongeldig gemaak. Of so het dit gevoel.

Korreltjie Kantel (Foto: verskaf)

Ek het eers later besef hoe daai oomblik my geaffekteer het. Ek het werklik besef dat die klein poeletjie waarin ek swem, bloot ’n druppel in die emmer is. Ek gee nie om vir klein nie, maar ek gee om vir betekenis, vir behoort, vir gewig dra, vir bydra. Ek het nog altyd geglo dat dit is wat kunstenaars veronderstel is om te doen – spieëls op te hou, mense in ’n veilige spasie aan die dink te sit, uit te daag, hul hartsnare te raak, om brûe te bou. Vir my is die kunste die een plek waar verdeeldheid nie mag plaasvind nie – ons moet die voorbeeld wees. Ons moet hoop gee. Ons moet disarm. Dit is wat ek met my musiek wil doen, en ek het besef dat ek harder hieraan sal moet werk – dat die onus op my rus om hierdie doelwit te bereik. Vir die eerste keer skryf ek in die show songs oor my land en my ervaring daarvan.

Met hierdie produksie vier jy 21 jaar in die musiekbedryf – wat is van die enkele hootepunte van jou loopbaan wat vir jou uitstaan?

My toetrede tot die industrie in 1999 met Eve: Women in the Garden of Song – waar ek saam met Lesley Rae Dowling en vier ander wonderlike sangeresse opgetree het. Die gogga het gebyt.

My eerste CD, Luna, in 2003 wat mense aan die gons gehad het en my my eerste uitnodigings na feeste verseker het.

My derde CD, Wonderful life (2009), toe ek begin het om op te hou luister na hoe ander dink ek moet klink. 

Storielied (2012), my eerste Afrikaanse en ook my eerste grootskaalse projek. Dit was ook die tyd toe ek saam met ClemenGold as borg begin werk het. Hulle het my lewe as kunstenaar verander en verryk. Storielied live-video.

My eerste volwaardige optrede in Nederland! Eintlik twee van hulle. By die Festival voor het Afrikaans en by Herman van Veen se Zuid-Afrikaanse Dagen en Harlekijn Festival (2013 en 2015). Dit het ’n nuwe wêreld vir my oopgemaak.

Korreltjie Kantel was groot. Dit het aan my bewys dat ek enigiets kan vermag as ek my daarop toelê. Dit was heerlik om saam met die Korreltjie-span te werk en om hul op te toer te neem na Nederland en België in 2019.

My nuwe hoogtepunt: Smeltkroes, ’n show wat my tematies na aan die hart lê. Die show is te siene by KKNK en Suidoosterfees 2020. Dit is ook die eerste keer dat ek ondersteuning by Nati, KKNK en Suidoosterfees ontvang en dit is iets wat my werklik kinderlik opgewonde maak. En dit help dat ek beter kan slaap snags!

Wat is van die uitdagings wat jy al oor die jare in jou loopbaan te bowe gekom het?

Die uitdaging was beslis nie om gehore te beïndruk en om te doen wat ek goed doen nie. Dit was om die sogenaamde “powers that be”, die hekwagters, die besluitnemers, die invloedrykes in die industrie te oortuig dat ek my sout werd is. Ek moes leer om in die buitekring te operate – daar is iets te sê vir dit. Meer vryheid miskien? Sukkelende vryheid. Haha!

Ek was nog nooit bang vir hard werk nie. Ek dink egter ek kon al by tye baie slimmer gewerk het! Ons is nie almal besigheidsmense gebore nie. Party van ons moet dit aanleer. Dit is belangrik om te leer uit jou foute en sommige van ons moet ons eie foute maak voor ons leer. Ek is ’n instinkmens. So ek gaan op instink. Soms is ek verkeerd. Maar as daar een ding is wat ek geleer het, is dit dat my gut baie selde verkeerd is – en dat mens moet luister na jou gut.

Storielied

’n Struikelblok wat my steeds pla: Mens wens by tye dat die infrastruktuur meer ondersteunend is, en meer ruimte vir diverse musieksoorte en -style en gehoorgroottes toelaat. Ek weet baie besluitnemers se grootste struikelblokke is geld. Ons leef aan die suidpunt van Afrika waar geld ’n issue is. Die gebrek daaraan het ’n impak op ons industrie. Innovasie was nooit vir Suid-Afrikaners ’n probleem nie – ek dink wel dat te veel innoverende verantwoordelikhede op musikante rus en dat daar herhaaldelik verwag word van die musikant om al die risiko’s te dra.

Vir my is ’n ideale Suid-Afrika een waar ons regering die live music venues én die musikante ondersteun. Op die manier kan ons die kunste bekostigbaar hou vir die publiek wat sukkel. Sonder die publiek is daar nie ’n bedryf nie. Ons het hulle nodig by ons shows. Ons het nodig dat die publiek avontuurlustige teatergangers en musiekontdekkers raak – dat ons publiek nie bang is om nuwe dinge te probeer nie.
Kuns is en sal altyd goed vir die siel bly. Dit maak nuwe wêrelde oop. Ek het al gewonder of die publiek se gebrek aan belangstelling in die kunste ’n refleksie van die wyer gemeenskap se huidige geestelike of kulturele armoede is. Of is dit bloot weens ekonomiese faktore?

Dit is ook die media se werk om die publiek bekend te stel aan nuwe kunstenaars en skeppinge. Ons kunsjoernalistiek voel vir my soos iets van die verlede – waar lees mense deesdae oor die kunste? Koerantspasie raak al hoe minder, personeel word gesny, gerespekteerde kunsjoernaliste raak bloggers en paneelbeoordeelaars by feeste. Baie radiostasies voer onderhoude slegs met diegene wie se musiek op hul speellys geplaas word en is baie eksklusief. Ander radiostasies vra advertensiegelde vir onderhoude. Selfs van die aanlyn gig guides plaas informasie oor vertonings slegs na betaling. Vir my is dit ’n probleem. In ’n land waar die kunste ’n ongelooflike bron van werkskepping, inkomste en toerisme kan wees, breek dit my hart dat die media nie genoeg ruimte skep om hierdie bedryf wyer en wyer uit te bou nie.

Ek het al verskeie bands oorsee gekyk en ek is elke keer baie trots om te besef dat ons geensins vir enige oorsese bands hoef terug te staan nie. Ons musikante is goed. Ons infrastruktuur is nie.

Wonderful life

Wat is van jou belangrikste lewenslesse wat jy al geleer het?

Behou jou kinderlike liefde vir musiek. Moenie toelaat dat die “werk” jou van jou passie beroof nie. Werk saam met mense wat jou inspireer, wat jou respekteer en jou konstruktief help groei. Leer om nee te sê vir mense wat jou wil uitbuit. Moenie bang wees om kanse te vat nie. Adapt or give up. Om op te gee werk nie as musiek in jou bloed is nie. Bly in kontak met die jonger generasies en waarmee hulle besig is. As jy nie lekker is nie, is jou kuns nie lekker nie. Pas jouself op. Eerlikheid is die root van jou werk. As jy nie eerlik met jou kuns omgaan nie, kan dinge lelik skeefloop. Geniet jou kuns – elke oomblik daarvan. Passion above pain. Always.

Luna Page: 21 jaar later is 14 Maart 17:30 by die Toyota US Woordfees te sien. Kaartjies is teen R120 beskikbaar by Computicket en kos R140 by die deur.

  • Foto's: verskaf
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top