Luna Paige kom huis toe

  • 0

Ek het die tweedelaaste vertoning van Luna Paige se Tuiskoms/Coming home-toer in Gqeberha bygewoon.

Paige het verlede jaar twee nuwe CD’s uitgereik. Een in Afrikaans, genaamd Dis die dors, en een in Engels, genaamd Harmony. Beide is baie goed. Sy het toe vroeër vanjaar weer in Europa gaan optree en ’n bietjie rondgeloop. Daar het sy onder andere die Camino de Santiago gestap.

Sy is nou terug in Suid-Afrika. Dit is een van die redes waarom sy Tuiskoms/Coming home as ’n naam vir die toer gekies het. Die ander, dalk belangriker, rede is dat Paige weer tuis is in die musiekbedryf nadat sy ’n tyd lank korporatief moes werk toe die Covid-inperkings haar vorige onderneming gekelder het.

Haar vertoning is in twee gedeel. Die eerste deel was effens donkerder musiek, terwyl sy in die tweede “na die lig” beweeg het.

Selfs Paige se “donker” werk is egter nooit swaarmoedig nie. Haar lied “Immediate Molly”, wat in die “donker” deel van die program gesing is, het byvoorbeeld ’n heerlike, plesierige melodie. Sy sien haarself as iemand soos Molly wat vreeslik graag ander wil plesier gee. Die gehoor het “Immediate Molly” soveel geniet dat hulle dit as ’n encore versoek het.

Op die CD’s Dis die dors en Harmony sing Paige met ’n orkes, maar tydens hierdie toer het sy haarself op klavier en kitaar begelei. Daar was geen ander instrumente nie. Hier en daar het sy gelag en gesê: “Die een kort ’n elektriese kitaar en ’n baskitaar” of “Ek gaan nou maar die trompetgedeelte moet sing.”

Sy het dit baie goed reggekry.

In Gqeberha het sy opgetree in Nineteen33, ’n klein, intieme ruimte. Sy kon dus die gehoor sien en het goeie interaksie gehad met ons. Dit is waardeer en van my vriende het gesê dis nog lekkerder om haar so te sien optree as om bloot na haar musiek te luister.

Tussen die musiek deur het sy staaltjies vertel. Soms het sy iets gesê oor die ontstaan van ’n bepaalde lied, soos een van my gunstelinge, “Die baadjies wat ons dra”. Paige vertel hoe sy een dag in die verkeer gesit het en ’n hawelose man sien lê het in ’n klein ruimte. Dit het allerlei vrae by haar laat opkom en so het die lied ontstaan.

By geleentheid het sy oor die liefde uitgewei. Haar lied “I’d rather be alone” was ook ’n groot treffer onder die gehoor. Die reëls “I’d rather be alone than lonely in love” is ’n meesterlike opmerking. Nog eens was haar vertellings snaaks en pittig, dikwels met ’n goeie dosis selfspot.

Aangesien die ruimte klein en intiem was, kon daar selfs beperkte dialoog plaasvind. Abel Kraamsaal, self ’n bekende musikant, het Paige daaraan herinner dat die legendariese klavierspeler Simon Orange sou gesê het: “I’d rather be sad than happily married.”

Paige se vertellings is egter veel ligter.

Saam met idees oor en staaltjies uit Europa, het sy ook haar gehoor meegedeel dat sy weer voltyds musiek gaan maak. Die langpad sal weer haar woning word. Hierdie toer was skynbaar ’n bevestiging en ’n erkenning aan haarself, dat sy op haar gelukkigste is wanneer sy in haar bakkie van dorp na dorp ry om op te tree.

Paige sal volgende jaar by ’n aantal kunstefeeste optree en dan gaan sy ook weer haar bakkie pak vir ’n volgende toer.

Maak ’n punt om te gaan luister wanneer sy in jou omtes is. Luna Paige is ’n baie goeie musikant en het ’n warm verhoogpersoonlikheid.

Lees ook:

Uitvoergehalte: In gesprek met Luna Paige oor Dis die dors

Export quality: In conversation with Luna Paige about Harmony

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top