
Marianne Thamm, joernalis, ontleder, skrywer en dramaturg, het 1 November 2025 PEN Afrikaans se jaarlikse lesing oor media- en uitdrukkingsvryheid gelewer. Dit is in samewerking met die Breytenbach Sentrum in Wellington aangebied.
Thamm se lesing is aan LitNet gebied om deel te vorm van die LitNet25-skrywersberaad.
...
Havel skryf dat al kan mens die waarheid net aan ’n paar luisteraars op ’n slag vertel, sal dit steeds saak maak.
...
Uitdrukkingsvryheid
Ek het lank gesit en dink oor die konsep soos ons dit vandag moet verstaan.
Die idee van vryheid van spraak bestaan al deur die eeue, maar soos ons nou hier sit op ons klein blou kol, het dit ander betekenisse bygekry.
Gewoonlik wanneer mens oor uitdrukkingsvryheid praat, kom die gedagte op dat daar iemand of iets moet wees wat die vryheid van spraak verhinder, of probeer versmoor, of probeer kontroleer.
Daar is genoeg bewyse in die geskiedenis oor hoe regerings – van die Nasionale Sosialisme in Duitsland tot die propagandamasjien van die apartheidregering sowel as die Sowjetunie se staatskoerant Pravda – spraak en denke gevorm en beheer het en dit steeds probeer doen.
Daar is ’n ou grap uit Moskou:
Twee inboorling van die stad ontmoet mekaar in ’n straat.
“Hoe’s die lewe?” vra die een.
“Fantasties,” sê die ander.
“Lees jy die koerante?” vra hy terug.
“Maar natuurlik, hoe anders sou ek geweet het.”
Dit is geen ironie dat die president van die VSA, Donald Trump, se mediaplatform Truth Social getitel is nie.
Die inligtingsekosisteem in hierdie tyd van die algoritmes en gekonsentreerde media-eienarskap het verander van ’n passiewe infrastruktuur vir kommunikasie in die laat 1990’s tot ’n aktiewe wapen vir aanvalle op medemense, magsug en disinformasie in die 2000’s.
En gooi kunsmatige intelligensie in die resep en jy skep ’n kammawêreld waar niemand meer die verskil tussen waarheid en leuens kan identifiseer nie.
Die politieke filosoof Hannah Arendt het geskryf dat mense moet kan staatmaak op ’n feitelike, gedeelde waarheid – want dit is dit wat vertroue koester, wat betekenis gee en wat mense bymekaar hou.
Neem dit weg en daar is paniek en angs.
Wat is die uitwerking van dit alles op hierdie medialandskap en eienaarskap op uitdrukkingsvryheid?
Voor ons probeer om die hedendaagse landskap te ontleed en verstaan, moet ons effens terugstaan.
Voor die val van die Berlyn-muur en die wêreld uit die Koue Oorlog ontpop het, was daar twee wêreldideologieë: Westerse kapitalistiese demokrasie en kommunisme.
Albei het gekompeteer vir wêreldoorheersing.
John Lancaster beskryf in sy boek Whoops! Why everyone owes everyone and no one can pay die ou konsep van ’n Westerse demokrasie as ’n vliegtuig wat aan die “ossewa van sosiale geregtigheid” gekoppel was.
Regerings wou vir kiesers bewys dat hulle welsyn en lewenskwaliteit belangrik is.
- Kapitalisme bring vryheid in ruil vir werk. Die mark sal sorg vir almal.
- Die kommunistiese regering werk vir die groter welsyn van die nasie. Jy word versorg, jy werk vir jou land end medemens, dink almal.
Daar val die Berlyn-muur in 1989.
En die straler van Westerse demokratiese kapitalisme trek die lug in … maar los die “ossewa van die sosiale geregtigheid” agter.
Die arm mense, die mense aan die onderkant van die piramide, sal in die toekoms vir hulself moet sorg – en betaal.
Rusland verval in ’n korrupte, geldsugtige pot gemors. Daar trek die straler propvol gepak met die land se bates – verkoop onder die mense se voete uit.
Dit is die begin die eeu van die oligarg in Rusland
In Amerika sit die oligarge al lank vas in die politieke DNS. Net meer diskreet.
Een land oorleef die val van die muur: China.
Orwell and Huxley
George Orwell se 1984 (1949) en Aldous Huxley se Brave new world (1932) het twee scenario’s vir die toekoms verbeel.
Orwell se visie is Rusland. Groot Broer orals. Geen vryheid van denke of spraak nie.
Huxley se visie is “Die Weste” waar mense “soma” drink – die internet word ’n narkotiese kalmeermiddel … totdat dinge ’n slegte draai begin maak – soos nou in die VSA.
Mense “swipe” hulself dom.
Die bewapening van die internet begin juis in Rusland na die 1991 gepoogde staatsgreep deur geharde ou lede van die Kommunistiese Party om Mikhail Gorbatsjof te verwyder.
Van omtrent 2000 tot vandag word die internet in Rusland nie as ’n “mark” of toegang tot ’n wêreld beskou nie, maar ’n manier om inligting en mense te beheer, om mag te behou.
Vandag is die internet swaar beperk in Rusland.
Sensuur en toesig word op verskeie vlakke uitgevoer, van fisiese toerusting tot wette en politieke druk op globale maatskappye. So ook in China.
2008 en hoekom dit saak maak
In 2008 misluk kapitalisme grootskaals.
Die markte stort inmekaar weens roekelose gedrag. Die regerings in die VSA, die Verenigde Koninkryk, Duitsland en 31 ander lande red die banke met belastingbetalersgeld. Dié gaan nou al hoe minder van die pastei begin kry.
Dienste wat voorheen teen ’n redelike koste gelewer kon word, word al hoe minder. En wat oorbly, kos geld. Nou moet mens vir alles betaal.
Sosialisme vir die rykes, kapitalisme vir die armes: Dis wat in 2008 gebeur het.
En so het "ideologie" in die wêreld begin verdwyn.
Geen meer kompetisie oor wie die beste stelsel besit nie.
Nou gaan dit net oor geld en wins. Die transaksionele ekonomie.
En die terrein waarop die nuwe “oorlog” geveg word, is liminaal, dit is die internet. Dit is buite die oog.
Sagte staatsgrepe
Wladimir Poetin en Donald Trump is voorbeelde van hoe die internet gebruik is vir een van die mees gewaagde sagte staatsgrepe in die geskiedenis.
“The Time of the Oligarchs” beland uiteindelik in die VSA.
En dit kon alles gebeur net danksy voormalige Britse premier Margaret Thatcher en die VSA se Ronald Reagan wat albei finansiële regulasies verslap het in die tagtigerjare.
Maak die markte oop. Privatiseer. Wins is goed. Money makes the world go round.
Staatskaping in Suid-Afrika en vryheid van spraak
Tussen 2016 en 2018, toe joernaliste begin skryf het aan die #Guptaleaks en voor Twitter verkoop is aan Elon Musk, het ons ontdek dat die Britse skakelmaatskapy Bell Pottinger betaal is deur die Guptas om ’n veldtog op sosiale media te begin.
Hulle het die woorde “white monopoly capital” gereeld begin gebruik ... dit ingespuit in die nasionale dialoog.
Daai tyd het ons ook die verskyning van botte opgemerk, rekeninge wat geopen is spesifiek om ’n boodskap of dreigement te versterk en die algoritme aan die gang te kry.
Kollegas van my, soos Ferial Haffajee en Pauli van Wyk, is erg aangeval en selfs met die dood gedreig wanneer hulle ’n lig laat skyn op dit wat in die donker gedoen is of word.
Die patroon was duidelik.
Sosialemediaplatforms, wat begin is om mense met mekaar regoor die wêreld te verbind en om foto’s van katte te plaas, het verander in ’n geldmaakbesigheid wat persoonlike data steel en wat besluit wat jy gaan sien of lees.
Nie net dit nie. Dit word ’n eggokamer wat opinies en houdings versterk, waar jy vryheid van spraak kan gebruik om te kul en te lieg.
Die goeie nuus is dat joernaliste en forensiese ondersoekers wat wêreldwyd korrupsie probeer stop, óók die internet kan gebruik, en dit ook doen, om die kriminele netwerke wat aan state gekoppel is, te ontbloot.
Net so vinnig as wat mense miljarde wegsteek in die kuberruim, so vinnig is die joernaliste agter hulle. Ons spoor die geld op in kripto, in die buiteland in lande soos Siprus en Nederland en Hongkong.
In 2020 het ek ’n konferensie in Rome bygewoon van ondersoekende joernaliste van oral oor die wêreld. Daar het ons geleer hoe die internet gebruik is om die mense wat die voormalige Russiese militêre-intelligensie-offisier Sergei Skripal vergiftig het in die VK op te spoor.
Die medialandskap soos dit nou bestaan, gee nie om oor vryheid van spraak nie – net solank jy met dié wat praat, saamstem.
Elon Musk beïnvloed wêreldpolitiek onder die vermomming dat dit uitdrukkingsvryheid is.
Donald Trump was so kwaad vir die komediant Stephen Colbert dat hy druk geplaas het op die kanaal om sy programme van die lug af te haal. ABC skort nog ’n komediant, Jimmy Kimmel, op oor sy opmerkings na die moord op Charlie Kirk.
Ander mense wat hulle sê sê oor die saak, word ontslaan uit hulle werk. Mense se visums word gekanselleer.
Skielik is vryheid van spraak nie ’n algemene reg nie. Maar artikel 1 bestaan en staan nog in die VSA.
Wat ons tans sien en beleef, is die kommodifisering van vryheid van spraak.
Charlie Kirk se maatskappy, Turning Point USA, het ’n ongelooflike $400 miljoen ingesamel. Almal het ingetjip – bekende ryk mense, Israel.
’n Platform is geskep en aan die lewe gehou terwyl “tradisionele media” links en regs toemaak. Die media sukkel om ’n bestaan te maak terwyl individue soos wyle Charlie Kirk, en nou sy vrou, Erika, groot befondsing geniet, en so groei hulle aanhangers en so word ’n idee gekoop en verkoop.
Die VN-handves
’n Regsdefinisie van vryheid van spraak word uiteengesit in die VN se Internasionale Handves van Regte.
’n Persoon het die reg op vryheid van mening en uitdrukking, insluitend die reg om inligting en idees te soek, te ontvang en oor te dra deur enige medium ongeag grense. (Dis juis die deel oor “grense” waarmee Wladimir Poetin en China nie saamstem nie.)
So waarborg ons die bevordering van kennis en die ontdekking van die waarheid. So ook beskou Poetin die internet as ’n uitbreiding van Westerse propaganda.
Die VN-handves lees verder dat vryheid van spraak nodig is “om individuele selfverwesenliking te verseker, om alle lede van die samelewing toe te laat om aan besluitneming deel te neem en om ’n aanpasbare en stabiele gemeenskap te verseker”.
John Stuart Mill se 1959 On liberty het uitgewys hoe idees ook uit ’n ekonomiese perspektief gesien kan word. Idees is ’n “nuttige kommoditeit” wat in groot hoeveelhede ’n hoogs mededingende mark kan produseer.
Vir dié van ons wat as joernaliste en skrywers werk, is die “mark” nooit die vertrekpunt nie. As dit die doel was, sou dit opmerkbaar wees. Die kwaliteit van die joernalistiek sal dit openbaar.
Maar omdat “die nuus” nou ’n kommoditeit is en nie ’n noodsaaklikheid nie, sien ons hoe mense nou alles opraap wat op sosiale media verskyn.
Die moord op Charlie Kirk, die dood van Nathi Mthethwa, die verdwyning van Joshlin Smith is almal besoedel deur ’n media op soek na klieks en geld.
Sosiale media kan die feite en die waarheid vertroebel.
En so groei ook die samesweringsteorieë.
Regeringsbesluite
Daar is bewyse dat uitdrukkingsvryheid daartoe bydra om regeringsbesluite te bepaal en te bevorder en ook die verantwoordbaarheid van ’n staat teenoor die kiesers te kan verbeter – spesifiek nuusberigte het dié potensiaal.
Die kommodifisering van idees en inligting het menseregte in hierdie era erg verontagsaam. Datamakelaars koop en versprei privaat inligting sonder dat mense weet. Dit is ’n nuwe vorm van uitbuiting.
Die beskerming van individuele privaatheid is een van die groot uitdagings van die nuwe wêreld.
In Suid-Afrika is ons al 30 jaar lank gewoond aan uitdrukkingsvryheid.
Daar is perke: Haatspraak word nie toegelaat nie en mense soos Penny Sparrow is al tronk toe. “Kill the Boer” is nie verban nie en niemand behalwe Julius Malema sing dit nie.
Die sterk man
Dit is ’n feit dat in daardie lande waar daar nie vryheid van spraak is nie, korrupsie en die skending van menseregte floreer.
Daar is ’n neiging, tans, ’n hunkering na ’n “sterk man” orals te sien: Mense soos Nhlanhla Mkwanazi – wat eintlik dink joernaliste moet tronk toe; Victor Orban, Donald Trump en Ibrahim Taore van Burkina Faso waar daar geen vryheid van spraak is nie.
Hoe dan nou verder?
Hoe dan nou verder?
Kunsmatige intelligensie kan gebruik word om ons lewens te verbeter en vir goeie doeleindes, maar dit sal ook toelaat dat jou eie oë vir jou lieg.
Ek eindig met die woorde van Adam Michnik, ’n Poolse aktivis, se Letters from prison:
Begin om dinge te doen wat jy dink gedoen moet word.
Begin wees wat jy dink die samelewing moet word.
Glo jy in vryheid van spraak?
Praat dan vrylik.
Glo jy in ’n oop samelewing?
Tree dan in die openbaar op.
Glo jy in ’n ordentlike, menslike samelewing?
Gedra jou dan ordentlik en menslik.
Dit is toevallig dat in die jongste uitgawe van die New Yorker Adam Gopnik oor die Poolse digter Wislawa Szymborska skryf en hoe mense onder outoritêre regerings geleef en oorleef het en maniere gevind het om dit te verduur.
Gopnik skryf oor hoe die Tsjeggiese staatsman en skrywer Vaclav Havel geskryf het oor hoe om van “binne die waarheid te leef”, bedoelende om eenvoudig te weier om deel te neem aan leuens of om maklik geïntimideer te word deur “die intensiteit van die leuenaars”.
Havel skryf dat al kan mens die waarheid net aan ’n paar luisteraars op ’n slag vertel, sal dit steeds saak maak.
Video:
PEN Afrikaans het ’n opname van die lesing beskikbaar gestel. Dit kan ook op YouTube besigtig word.
Lees en kyk ook:
Naomi Meyer en Izak de Vries: Fotoverslag: Marianne Thamm lewer die jaarlikse PEN Afrikaans-lesing oor media- en uitdrukkingsvryheid
PEN Afrikaans en Herman Wasserman: Herman Wasserman en die infodemie: Disinformasie in die Globale Suide
Marianne Thamm: “Navigating your way in a world filled with untruths”: Frederik van Zyl Slabbert lecture 2019
Herman Wasserman, Menán van Heerden en Izak de Vries: Disinformation in the Global South: ’n onderhoud met Herman Wasserman
Jannike Bergh and Marianne Thamm: Suidoosterfees 2024: Speed politics for bewildered South Africans – an interview with Marianne Thamm
Marianne Thamm and Naomi Meyer: Interview: Marianne Thamm on Hitler, Verwoerd, Mandela and me
Herman Wasserman: Meta’s moderation cop-out will fuel misinformation
Hermione le Roux-Ellis: Hoe om die antigenderbewegings teen te werk
Mercia Coetzee: Kultuuroorlog teen kommunikasie: Wat ons wil, kan, moet, mag, en nie durf sê nie.
Jana Luther: Bolmakiesie van woke
Vasti Roodt: Kuns en/of moraliteit
Fanie Olivier: Die oop gesprek, die toe debat en die vernietiging van mense
Herman Wasserman: Moet ons bang wees vir vals nuus?
Julian Jansen: Wat staar ’n joernalis vandag in die gesig?
Abel Pienaar: Vryheid van spraak
Herman Wasserman: How was (and is) it possible for Afrikaners to believe the lies?



