Herman Wasserman en die infodemie: Disinformasie in die Globale Suide

  • 1

PEN Afrikaans is deel van PEN International. Regoor die wêreld steun PEN-sentra vryheid van spraak, maar ook die integriteit van inligting wat met die publiek gedeel word. PEN Afrikaans gaan, in samewerking met LitNet, ’n aantal gesprekke voer rondom disinformasie, persvryheid en die soeke na akkurate beriggewing.

Herman Wasserman is professor van mediastudies in die Sentrum vir Film- en Mediastudies aan die Universiteit Kaapstad. Hy ondersoek al ’n wyle die verskynsel van disinformasie en is nou deur die Kanadese Internasionale Ontwikkelingsnavorsingsentrum (IDRC) genader om disinformasie in die Globale Suide te ondersoek.

Herman, ten eerste geluk. Dis vir jou ’n persoonlike eer, maar ook vir alle Suid-Afrikaners. Kan jy kortliks konteks gee oor hierdie studie waarmee jy besig is? Ook hoe die projek ontstaan het, asseblief?

Dankie. Die studie is gemik daarop om ’n oorsig te kry van die belangrikste rolspelers in die stryd teen disinformasie in die Globale Suide: Wie doen wat, watter metodes gebruik hulle, hoe kan ’n mens die verskillende metodes en benaderingswyses evalueer, watter suksesse is al behaal en hoe kan ’n mens daaruit leer en daarop voortbou? Daarby wil ons ook ’n oorsig doen oor akademiese navorsing wat in hierdie gebiede gedoen word.

Die studie kan dan hopelik ’n grondslag lê vir verdere werk om die suksesverhale uit te brei en nog meer te ondersteun.

Jy onderskei tussen disinformasie en misinformasie. Sal jy die twee konsepte verduidelik?

Die terme is ’n poging om meer akkuraat te verwys na verskillende tipes vals informasie, en is deur Unesco voorgestel. Hulle onderskei eintlik tussen drie tipes:

  • disinformasie (disinformation, inligting wat met opset versprei word om skade te berokken aan ’n persoon, groep, organisasie of land)
  • misinformasie (misinformation, inligting wat vals is, maar nie met opset versprei word nie)
  • waninformasie (mal-information, inligting wat gebaseer is op feite, maar met kwade bedoelings gebruik word om skade te berokken).

Uiteraard is hierdie begrippe nie waterdig nie – iemand mag dalk byvoorbeeld inligting aanstuur op WhatsApp, maar nie bedoel om iemand te benadeel of besef watter skade dit berokken nie, en dis nie altyd moontlik om iemand se intensie na te speur nie.

Maar dié begrippe is ’n poging om weg te kom van die veel meer slordige en onakkurate term fopnuus (fake news) – nie alleen is lg veel breër en minder duidelik gedefinieer nie, maar dit bevat ook ’n teenstrydigheid (vir iets om werklik “nuus” te wees moet dit waar wees) en is voorheen gebruik om programme soos die Daily Show te tipeer wat gebruik maak van die genres van nuus, maar dit parodieer met die goeie oogmerk om legitieme sosiale en politiese kritiek deur middel van satire uit te spreek.

Laastens is die woord fopnuus nou ook al so “bewapen” deur populiste soos Donald Trump dat dit gebruik kan word om gesaghebbende joernalistiek te ondermyn vir politieke gewin.

...
Veral in die konteks van die COVID-19-pandemie word mense oorweldig deur nuwe konsepte, wetenskaplike feite, terminologie wat hulle nog nooit vantevore gehoor het nie. Dit gebeur in ’n omgewing waar mense boonop bang en onseker is, en derhalwe is hulle meer geneig om na grashalms van inligting te gryp wat hul vooroordele bevestig of hul vrese besweer.
...

’n Ander aspek van hierdie “postwaarheid” omgewing is die sinisme, verwarring en onsekerheid wat geskep word deur die blote ooraanbod van inligting waarmee ons daagliks gekonfronteer word. Veral in die konteks van die COVID-19-pandemie word mense oorweldig deur nuwe konsepte, wetenskaplike feite, terminologie wat hulle nog nooit vantevore gehoor het nie. Dit gebeur in ’n omgewing waar mense boonop bang en onseker is, en derhalwe is hulle meer geneig om na grashalms van inligting te gryp wat hul vooroordele bevestig of hul vrese besweer. Die Wêreldgesondheidsorganisasie het hierdie verskynsel as ’n “infodemie” bestempel:

An infodemic is defined as a tsunami of information – some accurate, some not – that spreads alongside an epidemic. If it is not managed accordingly, an infodemic can have direct negative impacts on the health of populations and the public health response by undermining the trust in science and interventions. We are also seeing that infodemics hinder the cohesiveness of societies by increasing existing social inequities, stigma, gender disparity and generational rift.”

Dit alles lei tot wat in hierdie (IDRC-) studie beskryf word as ’n inligtingwanorde (“information disorder”), gekenmerk deur ’n grootskaalse kontaminasie van die openbare sfeer met gerugte, haatspraak, gevaarlike en ongefundeerde samesweringsteorieë, skadelike misverstande en georkestreerde veldtogte van misleiding.

Sosiale media het die teelaarde geword vir rassisme, xenophobie en misogenie. Disinformasieveldtogte teer dikwels op voortgesette sosiale polarisasie, etniese spanninge en ekonomiese ongelykheid, veral in postkoloniale omgewings – kyk byvoorbeeld na die “wit-monopolie-kapitaal”-veldtog wat deur die Britse skakelmaatskappy Bell Pottinger ten bate van ondersteuners van oudpresident Jacob Zuma georkestreer is. Disinformasieveldtogte het ook al gedreig om verkiesings in lande soos Nigerië, Kenya en Indië te ontwrig.

...
Sosiale media het die teelaarde geword vir rassisme, xenophobie en misogenie. Disinformasieveldtogte teer dikwels op voortgesette sosiale polarisasie, etniese spanninge en ekonomiese ongelykheid.
...

Ons is tans in die kloue van COVID-19 en ’n groot bron van kommer is die enorme disinformasie oor entstowwe, of vaksiene. Waarom glo mense nie wetenskap nie?

Ek dink dis deel van die “infodemie” soos hier bo bespreek – mense is angstig en onseker en weet nie watter inligting om te glo en nie te glo nie. Dis ook moeilik, dikwels, vir niewetenskaplikes om te verstaan hoe vaksiene werk, hoe word virusse oorgedra, en dies meer. Dit is hoekom goeie wetenskapsjoernalistiek byvoorbeeld so belangrik is (soos die uitstekende werk wat Bhekisisa doen) om vir mense in gewone taal te verduidelik hoe nie alleen entstowwe werk nie, maar ook hoekom byvoorbeeld middels soos invermektien nog nie goedgekeur is vir algemene menslike gebruik nie. Daar is goeie redes waarom ewekniebeoordeling van wetenskaplike artikels en proewe so lank duur, maar dis ook te verstane dat mense gespanne is en gouer antwoorde will kry. Ongelukkig is daar ook heelwat politisering rondom wetenskaplike prosesse aan die gang.

...
Mense is angstig en onseker en weet nie watter inligting om te glo en nie te glo nie.
...

Kan jy vir gewone mense raad gee hoe om nie die infodemie rondom COVID-19 “op te doen” nie?

Probeer om jou nuusverbruik te veranker in ’n paar vertroude, gesaghebbende bronne – joernalistieke platforms wat hulself bewys het as akkuraat, eties en betroubaar. Meet dan ander inligting wat jy via sosiale media soos WhatsApp verkry, daaraan – as jou oom of tannie of vriend vir jou ’n boodskap aanstuur oor ’n wonderkuur, of as iemand beweer die vaksiene gaan jou DNS verander, gaan verifieer dan eers daardie stelling by een van die gevestigde bronne voor jy dit glo, en veral voordat jy dit aanstuur vir iemand anders. Ondersoek ook jou eie reaksie – ontlok iets wat ek op WhatsApp, Facebook of Twitter lees, dadelik by my ’n sterk emosionele reaksie? Dikwels is misinformasie daarop ingestel om op mense se emosies in te speel. Verifieer altyd eers inligting by ’n ander bron; moenie net een bron vertrou nie. Leer jouself hoe om foto’s op die internet te verifieer deur ’n eenvoudige trusoektog (“reverse image search”), en leer hoe om verdagte webtuistes raak te sien. Daar is goeie bronne beskikbaar by ’n plek soos Africacheck.

Ons navorsing in verskeie Afrikalande het aangetoon dat mense dikwels disinformasie op sosiale media willens en wetens aanstuur, hoofsaaklik om twee redes: vir die pret (“Kyk hierdie snaakse ding wat ek op WhatsApp gekry het”) of uit ’n misplaaste sin vir burgerlike verantwoordelikheid (“Ek is nie seker of die inligting oor hierdie Covid-wonderkuur waar is nie, ek weet nie waar my nefie daaraan kom nie, maar ek stuur dit maar vir jou aan net vir ingeval dit jou dalk kan help”). Ons moet probeer om hierdie motiverings vir die deel van misinformasie te verstaan en dit te bekamp – moet nooit iets aanstuur as jy dit nie geverifieer het nie. Dink daaraan as ’n virus waarvoor jy jou hande moet was en ’n masker moet dra om ander mense te beveilig.

Ek wil terugkeer na jou groot taak om disinformasie in die Globale Suide te ondersoek. Was daar al meer studies hieroor in die Noorde?

Die meerderheidnavorsing sover is gebaseer op ervarings in die Globale Noorde. Desnieteenstaande wys ons vorige navorsing hoër vlakke van waarneembare (“perceived”) blootstelling aan fopnuus in Afrika as in byvoorbeeld die VSA. Ons navorsing in Afrikalande wys ook dat ’n veel hoër persentasie mense in Afrikalande toegee dat hulle vals inligting deel/aanstuur – dikwels willens en wetens; hulle weet dus die inligting is vals. Hierdie syfers is ook veel hoër in Afrika as in die VSA. Nietemin is daar – in elk geval as ’n mens na die navorsing kyk – ’n geneigdheid om die erns van die probleem in die Suide te onderskat.

Die Global Suide is ’n belangrike konteks nie net om die Suide self te verstaan nie, maar ook om ’n beter begrip te kry van hoe disinformasie elders werk. Vir die doel van hierdie studie verdeel ons die Globale Suide in Suid-Amerika, Sub-Sahara-Afrika, die MENA-streek en Asië. ’n Belangrike caveat is natuurlik dat daar verskille in lande en streke is in die Suide en ’n mens moet ook daardie kontekstuele spesifisiteit in gedagte hou, maar daar is tog breë ooreenkomste in geskiedenisse, politieke omgewings, mediastelsels.

...
’n Studie van disinformasie in die Suide kan ons help verstaan hoe disinformasie verband hou met politieke stelsels.
...

’n Studie van disinformasie in die Suide kan ons help verstaan hoe disinformasie verband hou met politieke stelsels (bv fragiele demokrasieë of hibriede stelsels in Afrika), mediabedrywe wat onder druk verkeer (outoritêre regerings, ekonomiese probleme); sosio-ekonomiese faktore soos ongelykheid wat polarisasie teweegbring, met bepaalde geskiedenisse van rasse- en etniese polarisasie. Voeg daarby ook lae vlakke van vertroue in die media (weens staatsbeheer of hul fokus op ’n sosiale elite eerder as die breë samelewing), asook wantroue in regerings met ‘n geskiedenis van korrupsie, asook groeiende gebruik van sosiale media waarop enigiemand onwaarhede kan verkondig, en dan het jy in ’n konteks soos die Covid-pandemie ’n resep vir ’n ramp. Dis nie oordrywing om te sê misinformasie is lewensgevaarlik nie.

Dus – ons bestudeer die Suide nie net om die Suide se onthalwe nie, maar juis omdat ons glo dis ’n konteks wat lesse ook vir die res van die wêreld inhou.

Die verspreiding van vals inligting is ’n groot bron van kommer, maar word tog onderlê deur gesonde beginsels soos die reg op vrye denke, oortuiging en uitdrukking. Waarom behoort ’n stryd teen disinformasie nie gesien te word as ’n stryd teen hierdie belangrike vryhede (wat ook grondwetlike regte is) nie?

Vryheid van spraak is nie absoluut nie. Ons Grondwet balanseer vryheid van spraak met byvoorbeeld die reg op menswaardigheid, en sluit haatspraak uit. Vryheid van spraak is nie ’n vrypas om skadelike inligting te versprei of onetiese joernalistiek te bedryf nie. Maar dit is inderdaad so, en daar is al heelwat voorbeelde van hoe die COVID-19-pandemie as ’n rookskerm gebruik is deur regerings in Afrika en elders om vryheid van uitdrukking te onderdruk. Dit is natuurlik ’n bron tot kommer, veral gesien die reeds brose persvryheid in baie lande in die Suide.

...
Vryheid van spraak is nie ’n vrypas om skadelike inligting te versprei of onetiese joernalistiek te bedryf nie.
...

’n Verwante vraag is of die kriminalisering van disinformasie (soos in die geval van Suid-Afrika) rondom die pandemie in elk geval die beste manier is om disinformasie te bekamp.

Dit verg eerder ’n balans tussen vryheid van spraak enersyds en verskillende bekampingstrategieë andersyds, wat strek van wetgewing en beleidsmaking, die kurering van inligting op platforms deur groot sosialemediamaatskappye self (sien bv die besluit van Twitter om Trump se twiets eers as twyfelagtig te merk en hom later die platform te verbied) tot joernaliste en feitverifieerders, opvoeders en gebruikers self wat vals inligting uitwys en korrigeer.

En dan die keersy van die munt: Behalwe om vals of swak inligting uit te roei, moet goeie inligting ook bevorder word. Dit behels dus die bevordering van etiese joernalistiek (die onlangse Satchwell-verslag oor etiese joernalistiek in Suid-Afrika is in hierdie verband ’n bron tot kommer), die uitbou van mediadiversiteit, om te sorg dat onafhanklike en gemeenskapsmedia ekonomies volhoubaar is, ens. Dus is ’n holistiese benadering nodig.

...
Behalwe om vals of swak inligting uit te roei, moet goeie inligting ook bevorder word.
...

PEN Afrikaans is ’n affiliasie van PEN International. PEN-sentra die wêreld oor veg al byna 100 jaar teen disinformasie. In die apartheidsjare is die Suid-Afrikaanse regering gereeld gekritiseer vir blatante disinformasie, terwyl Noord-Amerika en Wes-Europa post-Hitler bakens van relatiewe hoop was. Toe gebeur Trump. Was Trump ’n simptoom van ’n infodemie, of was hy die superverspreider daarvan? Of dalk iets van albei?

Ek dink iets van albei. Hy het die vermaaklikheidswêreld verstaan, en die politiek volgens daardie beginsels bedryf: Soek die grootste gemene deler, probeer jou markaandeel in elke opsig vergroot, selfs ten koste van beginsels en waardes, probeer sterk emosionele reaksies by mense te ontlok deur te teer op bestaande vrese, vooroordele, rassisme. Maar hy was beslis ook ’n superverspreider – daar is heelwat studies gedoen oor die verstommende aantal leuens wat hy byvoorbeeld in die openbaar vertel het.

Trump se verkiesing het vir baie van sy volgelinge ’n middelvinger vir die establishment verteenwoordig, wat nie alleen die politieke stelsel insluit nie, maar ook die media. Trump – as stralejakker self allermins een van die “gewone mense” – het as ’n buikspreker vir die blouboordjie-Amerikane opgetree. Deurdat hy die media ook as deel van die establishment kon uitkryt, het hy die weg gebaan vir ’n tipe sinisme oor die media. Dit het bygedra tot die verdere verlaging in vertroue in die media wêreldwyd. Studies van byvoorbeeld die Reuters Institute by Oxford het getoon dat hoewel mense tydens die aanvanklike dae van die pandemie hul toevlug tot gesaghebbende nuusbronne geneem het om hul deur die krisis te lei, het die vertrouensvlakke daarna weer gedaal. Hierdie houding het ook in ons land posgevat. As ’n mens kyk na byvoorbeeld die antivaksers en die bendetjie spekulasieswendelaars soos Jerm, Gareth Cliff en Roman Cabanac, hoor ’n mens dikwels dieselfde retoriek terug – hulle hou hulself voor as “onafhanklike” bronne en beweer hulle standpunte is te radikaal vir die hoofstroommedia.

...
Trump se verkiesing het vir baie van sy volgelinge ’n middelvinger vir die establishment verteenwoordig, wat nie alleen die politieke stelsel insluit nie, maar ook die media.
...

Jou verwysing na die apartheidsjare is interessant – die apartheidsregering se strategie het juis ook grootliks afgehang van hul vermoë om vrese aan te jaag en ’n bedreigende Ander te skep (die Rooi Gevaar, die Swart Gevaar en dies meer). Onthou iemand nog die Inligtingskandaal? En is daar nie ysingswekkende ooreenkomste met wat ons die afgelope weke by die Zondo-kommissie gehoor het oor die SSA se beweerde befondsing van sekere joernaliste nie?

Ons het Zuma gehad. En Bell Pottinger. Hoe het Zuma se manier van doen verskil van dié van Louis Luyt wat deur die Nasionale Party-regering betaal is om The Citizen te begin?

Die onderliggende beginsel van misleiding en progaganda is seker dieselfde, hoewel daar tegniese verskille was. Luyt en Rhoodie se propagandaveldtog was ’n koverte operasie van die apartheidstaat (wat later aan die kaak gestel is en gelei het tot John Vorster se bedanking), terwyl die Bell Pottinger-skandaal meer met die omweg van staatskaping gebeur het. (Die bewerings by die Zondo-kommissie oor die SSA en ANA is dalk ’n beter vergelyking.)

Bell Pottinger het natuurlik ook vir FW de Klerk en die Nasionale Party adviseer voor die 1994-verkiesings – soos wat na vore kom in die uitstekende dokumentêre film Influence.

Die belangrike verskil was natuurlik dat die Bell Pottinger-skandaal gebeur het in die nuwe landskap van aanlyn media, wat aan misinformasie en propaganda ’n spoed en reikwydte gegee het waarvan die Natte maar kon droom.

’n Ander verskil was dat die Bell Pottinger-veldtog uiteindelik ontmasker is deur dieselfde wapens van sosiale media teen hom te gebruik – ’n merkwaardige verhaal van hoe die Suid-Afrikaanse burgerlike samelewing ’n reus tot ’n val kon bring. En natuurlik ondersoekende joernaliste – ons is geweldig baie verskuldig aan die joernaliste wat staatskaping aan die lig gebring het. Mens sidder om te dink waar ons sou gewees het daarsonder.

Ons betaal nou nog aan Zuma se disinformasie. Trump was waarskynlik die VSA se Zuma. Sal hulle, en ons, kan herstel?

Dit sal afhang van die verbetenheid en die vasberadenheid van die burgerlike samelewing – joernaliste, nieregeringsorganisasies, maar ook ons almal – om saam te werk en doelbewus nie alleen disinformasie uit te roei nie, maar ook die onderliggende faktore waarop dit teer: ekonomiese ongelykheid, rassespanning, korrupsie, ens.

Die media word (grootliks) gereguleer deur ombudskantore en ander meganismes. Tog word daar gereeld vrae gevra oor onafhanklikheid – ons dink maar aan die onlangse vrae om Iqbal Survé se sogenaamde Indepenent Media, of The New Age wat uitgegee is deur die Gupta-familie se TNA Media. Doen die (Suid-Afrikaanse) media genoeg om geloofwaardig te mag wees?

Ja, die voorbeelde wat jy noem is kommerwekkend. Selfregulasie en ombudskantore is natuurlik nie foutloos nie, maar dis veel, veel beter as staatsregulasie of die afwesigheid van regulasie soos in die geval van Survé se koerante wat nie meer aan die Persraad behoort nie. Maar daar is altyd ruimte vir verbetering – en ook redes tot kommer. Sien my vorige opmerking oor die Satchwell-verslag. Ek het uitvoerig daaroor geskryf vir News24.

Jy is ’n mediamens en oudjoernalis. Te wyte aan die enorme disinformasie wat beskikbaar is op ’n mens se selfoon, kry mediagroepe wêreldwyd swaar. Joernaliste verloor werk en Jan Rap en sy maat stuur vals WhatsApp-boodskappe of maak YouTube-video’s wat mense bang maak. Dit is amper asof die media anders moet begin dink, maar hoe kry ons feite by mense?

Sien my antwoord hier bo oor die volhoubaarheid van media, mediadiversiteit ens – goeie inligting as teenvoeter vir slegte inligting.

PEN International was nog altyd teen sensuur. Wêreldwyd baklei PEN-sentra vir verskeie joernaliste wat deur staatsorgane in die moeilikheid beland. Maar wat moet ons doen as ons afkom op blatante leuens wat mense se lewens in gevaar stel?

Korrigeer die persoon wat dit vir jou aangestuur het – vra hulle waar die inligting vandaan kom, of hulle dit gekontroleer het, en moenie dit aanstuur as jy nie heeltemal seker is dat dit verifieerbaar is nie. Maar probeer ook om te verstaan hoekom ’n bepaalde stuk disinformasie tot mense gespreek het, en ontmoet hulle by hulle vrese, eerder as om hulle te bespot of te verkleineer.

...
Maar probeer ook om te verstaan hoekom ’n bepaalde stuk disinformasie tot mense gespreek het, en ontmoet hulle by hulle vrese, eerder as om hulle te bespot of te verkleineer.
...

’n Voorbeeld: Gestel jou ouma stuur vir jou ’n WhatsApp-boodskap waarin daar staan dat die vaksiene jou DNS gaan verander of Bill Gates gaan jou beheer of dit is demonies of wat ook al. Eerder as om haar uit te lag, probeer verstaan dat sy dalk angstig is oor wat die toekoms inhou, dat sy ’n verlies aan beheer ervaar, dat sy so oorweldig is met inligting dat sy nie weet waar om die korrekte inligting vandaan te kry nie.

Moenie vir haar sê: “Ag Ouma is belaglik en glo elke wolhaarstorie” nie. Sê vir haar: “Ek verstaan Ouma is bekommerd. Ons is almal maar bang vir hierdie pandemie, maar die entstof is regtig ons enigste hoop. Hier is ’n skakel na ’n goeie artikel in die koerant wat mooi verduidelik hoe die entstof werk.”

Empatiese korreksies, gewapen met goeie, toeganklike feite (weer eens ’n pleidooi vir goeie, ingeligte, verstaanbare wetenskapsjoernalistiek!) is minder geneig om mense te laat terugtrek in die “eggokamers” van die internet waar hulle net praat met mense wat dieselfde vooroordele en misverstande as hulle het en hul wanpersepsies kan bevestig.

***

PEN Afrikaans is deur sy lidmaatskap van PEN International die verteenwoordiger van sy lede en die Afrikaanse skrywersgemeenskap in internasionale verband. Lees hier meer oor PEN se handves, ook beskikbaar in Afrikaans. As jy ’n skrywer of joernalis is en jou met hierdie ideale vereenselwig, oorweeg dit om by PEN Afrikaans aan te sluit.

Die vrae in hierdie artikel is opgestel deur die bestuur van PEN Afrikaans, by name Marga Stoffer, Danie Marais, Naomi Bruwer, Bernard Odendaal, Carolyn Meads, Charl-Pierre Naudé, Fiona van Kerwel, Izak de Vries en Jolyn Phillips. Die PEN Afrikaans-bestuurder, Catrina Wessels, het meegedoen.

Lees ook:

Ivermektien, entstowwe en die wetenskap – ’n veearts verduidelik

Waarom ’n entstof jou lewe kan red, maar nie jou DNS kan verander nie

Die etiek van inentings en toetsing: Izak de Vries as proefkonyn

Die nuusmedia se toekoms het opgedaag

’n Gevaarlike tyd om ’n joernalis te wees

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top