Een van die vyf vermeende bomme wat vandeesweek na kritici van Donald Trump gestuur is, was bestem vir die nuusnetwerk CNN. In sy reaksie hierop het die hoof van CNN Worldwide onomwonde die vinger gewys na die antijoernalistieke klimaat wat deur die Trump-administrasie geskep is: “Daar is ’n totale gebrek aan begrip by die Withuis oor hul volgehoue aanvalle op die media. Die President, en veral die Withuis se perswoordvoerder, moet weet dat hul woorde saakmaak. Tot dusver het hulle geen begrip daarvoor getoon nie.”
Dit is in baie plekke in die wêreld ’n besonder gevaarlike tyd om ’n joernalis te wees. Verlede jaar is ’n rekordgetal joernaliste wêreldwyd in hegtenis geneem. Slegs enkele dae gelede het die verdwyning van die Saoedi-Arabiese joernalis Jamal Khashoggi uit dié land se ambassade in Istanbul wêreldwyd opslae gemaak. Daar word nou allerweë aanvaar dat Khashoggi, ’n prominente kritikus van die Saoedi-Arabiese regering, vermoor is. Hoewel die Saoedi-Arabiese regering aanvanklik enige kennis van die voorval ontken het, het ’n Saoedi-amptenaar beweer dat Khashoggi in ’n vuisgeveg in die konsulaat dood is. Sy liggaam is egter steeds nie gevind nie.
Turkye se rekord ten opsigte van persvryheid is self beroerd. Volgens die Committee to Protect Journalists (CPJ) is dié land onder bewind van president Recep Tayyip Erdoğan die land ter wêreld waar die meeste joernaliste in hegtenis geneem word, met China en Egipte op sy hakke.
Op ander plekke in Europa gaan dit ook sleg: Die ondersoekende joernalis Daphne Caruana Galizia is verlede Oktober in Malta deur middel van ’n motorbom vermoor, en die teregstellingstyl-moord in Februarie vanjaar op die Slowaakse antikorrupsiejoernalis Jan Kuciak en sy verloofde, Martina Kusnirova, het kommer laat ontstaan dat ’n klimaat van onstrafbaarheid (“impunity”) besig is om op die kontinent pos te vat.
In die VSA, wat dikwels daarop roem dat hy die bastion van Westerse demokrasie is, kan ’n duidelike tendens van “sluipende outoritarisme” bemerk word, wat vererger word deur die verspreiding van mis- en disinformasie.
Hoe lyk die situasie nader aan die huis?
Die nieregeringsorganisasie Media Institute of Southern Africa (Misa) het pas hul verslag oor mediavryheid in Suider-Afrika vrygestel. Dit skets nie ’n mooi prentjie nie. Die streek word opgesom as “’n landskap waar die geleidelike en subtiele ondermyning van vryheid van spraak vererger word deur enersyds die media se stryd om ekonomiese oorlewing en andersyds die media se relevansie vir burgers wat alte geredelik hulself van die media distansieer en die kritiese rol daarvan om magshebbers tot verantwoording te roep, geringskat”. ’n Algemene tendens van demokratiese agteruitgang in die streek word bemerk. Van die lande wat in die studie ingesluit is, word Tanzanië en Zambië uitgesonder as lande waarin demokrasie sterk agteruitgegaan het. Voorvalle in Zambië sluit in ’n bomaanval op ’n media-instelling in privaatbesit en die afkondiging van ’n noodtoestand nadat openbare instellings onder brandstigting deurgeloop het. Onder Tanzanië se president John Magufuli is daar al hoe minder ruimte vir kritiek op dié land se regering, en verskeie opposisiepolitici en joernaliste is as dood, vermis of in hegtenis aangemeld.
Hoewel die internet dikwels gesien word as ’n uitweg waar amptelike sensuur of regeringsinmenging omseil kan word, duur die tendens voort dat Afrika-regerings die internet blokkeer. In 2017 is twaalf voorvalle in nege lande in die streek van opsetlike onderbrekings van internet- of selfoonnetwerke opgeteken. ’n Verwante probleem is die daarstelling van wette wat aanlyn inhoud reguleer. Volgens Misa word hierdie wette dikwels voorgehou as beskerming van burgers se regte, maar in werklikheid bedreig of kriminaliseer sulke swakgeformuleerde wette meer dikwels burgers se vryheid van spraak. Die registrasie van blogs en aanlyn forums wat volgens voorgestelde nuwe regulasies in Tanzanië vereis sal word, hou die risiko in van verdere druk op vryheid van spraak in dié land. Die voorgestelde Suid-Afrikaanse wetsontwerp op kubermisdade en -veiligheid wek ook kommer dat, sou sulke regulasies ingestel word, dit vryheid van spraak kan onderdruk en groter moontlikhede bied vir monitering van burgers se kommunikasie deur die staat. Pogings tot groter beheer oor die kuberruim is ook merkbaar in Zimbabwe en Namibië, waar aktiviste beswaar teen soortgelyke wetsontwerpe aangeteken het.
Wat Suid-Afrika spesifiek betref, is daar ook rede vir kommer. Ten spyte van ’n Grondwet wat vryheid van spraak waarborg, word daar in die verslag opgemerk dat die organisasie Freedom House se klassifikasie van Suid-Afrika se vlak van mediavryheid afgeneem het van “vry” na “gedeeltelik vry”. Hoewel die kriteria onderliggend aan sulke klassifikasies soms bevraagteken word, het die Wêreldvereniging van Koerante en Koerantuitgewers (WAN-IFRA) ook aangedui dat die toestande in die land minder bevorderlik raak vir mediavryheid. Dit is deels te wyte aan die Suid-Afrikaanse regering se oorweging van strenger maatreëls om die media te beheer, byvoorbeeld die voorgestelde Media-appèl-tribunaal, asook ’n klimaat van onverdraagsaamheid teenoor kritiek in die algemeen. Die alomteenwoordigheid van korrupsie en staatskaping, asook die groeiende voorkoms van fopnuus en misinformasie op sosiale media, dra tot hierdie negatiewe oordeel by.
Die jaar 2017 in Suid-Afrika is voorts gekenmerk deur aanvalle deur polisielede op joernaliste wat protesoptogte dek, asook die obstruksie van joernaliste en fotograwe op misdaadtonele. Dreigemente teenoor joernaliste, diefstal van toerusting asook die opsetlike verdoeseling van inligting deur regeringsamptenare en sakelui tydens joernalistieke ondersoeke word verder genoem as bydraende faktore wat die algemene klimaat van mediavryheid in die land laat verswak het.
Die beklemmende ekonomiese omstandighede vir die media in die land is ’n verdere probleem. WAN-IFRA het hul kommer uitgespreek oor wat beskryf word as die langsame “versmoring” van onafhanklike en kritiese media deur onttrekking van, of onduidelikheid rondom, advertensiebesteding deur die regering se inligting- en kommunikasiediens (GCIS). Dalende sirkulasie van die drukmedia is ’n volgehoue tendens.
Bogenoemde negatiewe kwessies nieteenstaande, merk die verslag ook op dat daar in 2017 verskeie positiewe ontwikkelinge op die Suid-Afrikaanse mediafront was. Hieronder tel die oopvlekking van staatskaping, ’n ondersoek deur ’n parlementêre komitee na wanbestuur by die SABC, asook volgehoue goeie werk wat deur die Persraad en –Ombudsman verrig is.
Hoewel aanvalle op joernaliste in Suidelike Afrika oor die algemeen afgeneem het in 2017, blyk dit dat die aanvalle wel in brutaliteit toegeneem het. Joernaliste in Suid-Afrika was ook nie gevrywaar van druk en intimidasie nie. Die verslag maak veral melding van die dood van Suna Venter as gevolg van trauma wat sy ervaar het as deel van die “SABC 8” wat hulle teen redaksionele inmenging by die uitsaaier verset het. Haar stresdood het gevolg op doodsdreigemente, aanranding, saakbeskadiging en inbrake wat sy moes deurstaan. Die interdik wat die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (SANEF) teen die lede van die Black First Land First-aktiviste verkry het ná hul aanvalle op en dreigemente teen joernaliste van Business Day en AmaBhungane word ook vermeld.
Die verslag se afdeling oor Suid-Afrika eindig op ’n hoopvolle noot – die bedanking van die voormalige president Jacob Zuma en sy opvolging deur pres Cyril Ramaphosa. Laasgenoemde word gesien as “beter ingestel” op die voordele van ’n oop samelewing en die onwenslikheid van strenger beheer oor die media.
Kommentaar
Die skrywe mis heeltemal die punt: joernalisme (gesonde en geloofwaardige) is DOOD.
Die media is nie meer onpartydige, onafhanklike en geloofwaardige instellings wat die WAARHEID ontbloot nie, maar bevooroordeelde propagandiste en verspreiders van haatlike retoriek en -propaganda.
Om nou slagoffer te speel te midde van al hul veragtelike en verfoeilike speletjies smaak regtig na die grootste huigelary vir twee redes:
1. Sou dit nie faux dreigemente wees nie, soos wat BAIE vermoed en as sulks bloot weer 'n teken daarvan dat die demokrate tot ENIGE afstootlike lengtes sal gaan in hul strewe na MAG, verdien die "media" dit ooglopend. Die Orwelliaans-manipulerende en kwasi sosiale ingenieurswese-propaganda-organisasies, beter bekend as die vierde stand, kan nie meer aanspraak maak op onskuld nie, want hulle het hulle onskuld lank reeds saam met die badwater uitgegooi.
2. Tweedens is die "bomdreigemente" in ALLE waarskynlikheid opgemaak en uitgevoer deur 'n desperate party wat sy morele kompas verloor het en die kluts heel kwyt is. "Certainly Not News" verdien spesiale vermelding in die verband. Dankie.
Ek verwelkom Wasserman se waarneming dat uitdrukkingsvryheid plaaslik eerder ingekort as verbreed word. Maar uitdrukkingsvryheid sluit die reg op kritiek op die hoofstroom-inligtingsmedia in. Dit is wat Trump doen. In Amerika is hierdie media, asook die vermaaklikheidsbedryf en die akademie, oorwegend radikaal linksgesind. Dieselfde neiging is plaaslik waarneembaar. Probeer gerus 'n positiewe vertolking in die plaaslike koerante en ander nuusdienste oor Trump opspoor.