
Om op 42 ’n totale loopbaanverandering van hoërskoolonderwyser na verslaggewer te kon maak, was ’n lewensveranderende en opwindende skuif.
Vir 18 jaar het ek vir jeugdiges klas gegee, aanvanklik met bordkryt, swartbord, afrolmasjien, oorhoofse projektor, wasvelle en ’n tikmasjien. Teen 2005, en my vertrek, het skole ongelooflike tegnologie tot hul beskikking gehad: skootrekenaars, witborde en rekenaarprogramme. Dit was ’n arsenaal van effektiewer hulpmiddels om die onderwysdepartement se kliënte inligting en vaardighede vir veerkragtige burgerskap te beloof.
Die jaar 2006 by Rapport se Kaapse kantoor was ’n leerskool soos min en ek moes vinnig leer: stories soek, afsprake beplan, adresse in die padkaartboek vind, ’n fotograaf en motor uitboek, onderhoude voer, die storie skryf, dit taalkundig sterk en nuuswaardig skryf.
Ek moes deurentyd kontakte opbou, nuus uitsnuffel, vertroud word met die nuus en nuusmakers van die dag, wie die nuuslandskap bevolk, asook die movers en die shakers.
Skielik het my kliënte derduisende geword, want jy skryf vir die grootste Sondagkoerant in die heelal.
Oproepe was toe nog op landlyn, want selfone se lugtyd en data was baie duur. Ai, en faksmasjiene het korrespondensies rondgestuur.
Groei mét die tegnologie
Teen 2025 het tegnologie teen ’n stink spoed verbeter: slimfone het jou “minikantoor” geword (telefoon, kamera, klankopnames, e-pos, soekfunksies, flitslig, padkaarte, True Caller, Google, Instagram en hul toepmaats basies), met goedkoper data en wifi. Spoedvrate van skootrekenaars, Google Maps wat padreise vergemaklik en ’n magdom sosiale mediaplatforms is tot ons beskikking. Mense is nou makliker opspoor- en kontakbaar en so kan jy blitsvinnig inligting oor persone, instellings en gebeure bekom.
Die onlangse Covid 19-pandemie het ons geforseer, maar ook geleer, om van die huis of enige plek weg van die kantoor te kan werk.
Tempo tel op
Joernaliste voltooi stories nou vinniger en goeie tydsbeplanning rêf werktempo’s op. Jy vind ook daardie sweet spot waar jy jou kwota werk kan lewer en energie ekonomies bestuur. Die gevaar van uitbranding is egter groter as in 2006. Jou selfoon het as’t ware ’n “hartklop” kom word, 24/7, maar glad nie gekalibreer op die ritme van ’n menslike hart nie.
Minder gedrukte koerante
Om die gedrukte koerant by afgeleë dorpe te kry, het ekonomies onvolhoubaar geraak en met die sluiting van papierkoerante soos Rapport en Beeld, het die medialandskap ingrypend digitaal geword. In die proses het groot uitdagings voor joernaliste en nuuskantore kom staan.
Die koste van data bly ’n uitdaging en die nuusgebruikers skuif hulle na kolle waar gratis wifi geredelik beskikbaar is. Sakeondernemings het baie gou besef om hul kliëntetal te verhoog sal hulle gratis wifi moet verskaf. Dis in hierdie spasies waar nuus van die dag al meer gelees word.
Koerante se teikenmark sluit ook meer jonger persone in en hulle is (selfoon in die hand) aan die beweeg. Veral dié mark vereis dat nuus meer oudiovisueel aanlokliker gemaak word. Hulle wil hul nuus vars en bondig (lees sexy) bekom.
Is dit in hierdie veranderende milieu wat veel ouer joernaliste dalk die druk begin voel?
So, joernaliste besef al meer dat veelsydigheid hulle sal deurdra, want nou moet hulle ook stories direk vanaf die nuustoneel aanstuur, mét klank- en/of videogrepe. In die proses begin hulle al meer neig na ’n soort TV-nuusverslaggewer.
Sosiale media, die opponent
Joernaliste vergroot ook al meer hul teenwoordigheid op sosiale media en skep profiele op platforms soos Facebook, Instagram en X (Twitter), wat hulle daagliks byhou met brekende nuus. So word nie net mediahuise se voetspoor vergroot nie, maar ook meer volgelinge verkry. Dit verskaf groter trefwydte van stories, artikels en ander produkte en ’n groter basis vir adverteerders, wat groter advertensie-inkomste impliseer.
Jan Publiek nou ook “joernaliste”
Die publiek het ’n groeiende sigbaarheid op sosiale media. Vir joernaliste is dit ’n pluspunt, want baie burgers gee (soms onwetend, naïef) baie persoonlike inligting weg: deur persoonlike inligting en veral foto's, op sosiale mediaplatforms te plaas. Hier spog ’n man op ’n foto met sy vuurwa waarop die registrasie te sien is, of daar word iemand gelukgewens met sy of haar verjaardag. Uit die kommentaarseksie kan ’n wakker joernalis (lees: e-nuushond) bondels inligting ook bekom.
Dis van hierdie “bak slaai” waaruit nuushonger joernaliste feitlik alles kan (w)eet.
Al meer joernaliste vind (vars) stories op sosiale media, want Jan Publiek het ’n slimfoon, het “verslaggewer” geword en neem alles af, of lewer kommentaar oor enigiets uit hul onmiddellike omgewing. Ongelukkig word in die proses ook ongesensureerde (skinder-) stories, foto’s en video’s die kuberruim in gelanseer en vandaar aangestuur.
Hierdie kommentators is soos koerante sonder nuusredakteurs, sonder hekwagte en weinig ag word geslaan daarop dat hierdie stories en gerugte deurspek met inligting is wat die individu wat dit plaas, dalk krimineel aanspreekbaar en vervolgbaar maak. Let maar op die groeiende gevalle van crimen injuria-klagtes teen mense.
Klieks tel al meer
Joernaliste is al meer op WhatsApp-groepe waar sodanige inligting aangestuur word en kan so die kontaknommers van persone sien (en hulle kontak).
Dit gebeur al meer dat koerante hierdie foto’s en video’s in hul nuusberigte gebruik, eerder as om die verslaggewer na die tonele uit te stuur. “Kantoorjoernalistiek” kry weer lewe.
Koerante wil aktuele nuus blitsvinnig by die lesers uitkry, of dit nou na die taxi, restaurant, lughawe of motor is. So hulle vat die kortpad, want die kompetisie met die mededingers vir vars nuus en adverteerders is heftig.
Die klieke op ’n digitale storie is die gansies wat die goue eiertjies lê. Kliek, kliek, kliek.
Nuuskantore ondervind derhalwe in ’n mate ’n verjonging in hul nuusspanne, want joernaliste, wat vars uit die lesinglokaal stap, is baie knap met rekenaarprogrammatuur, rekenaartoeps en het vlytige vingers op die selfoonskerms. Hulle het ook die energiereserwes om blitsvinnig op tonele te kom, inligting in te samel en heel bedrewe op selfoon of skootrekenaar ’n aktuele storie uit te tik en vanaf die toneel aan nuuskantoor én sosiale mediaplatforms te voer.
Hulle is die sogenaamde woke mense.
F(l)opnuus
Goed soos fopnuus wat in groter volumes op sosiale media versprei, en soms ongeverifieerd bekom en vir kopie oorweeg word, raak groot uitdagings. In die proses skep dit verwarring en kan reputasies in gedrang bring. Nie dat dit lede van die publiek pla nie: Hulle is die tref-en-trap-kommentator wat soms onder vals profiele maklik net wegstap.
Joernaliste moet tussen die enorme hoeveelheid inligting die ware feite kan onderskei en ’n dik vel aankweek as sommige lesers en die breë publiek kras kommentaar op hul stories, veral op sosiale mediaplatforms, lewer. Kommentaarblaaie op mediahuise se webwerwe en sosiale mediaplatforms het toksiese plekke geword. Alte dikwels moet nuuskantore hul kommentaarblad sluit.
In dié verband duik die vraag onwillekeurig op: Voed koerante soms ’n honger wolf wat selfs die hande wat dit voed, sal byt?
Nuuskantore moet duidelike beleid neerlê en presies neerstip hoe teen oortreders opgetree sal word.
Pantser jou sielkundig
Met al hierdie groeiende druk moet joernaliste sielkundig meer gepantserd wees, want die druk op nuusverskaffing en -gebruik word al hoe groter. Redakteurs moet die sielkundige profiel van die nuusspan ken en ’n goeie (brandstof-) mengsel van jeug, ervaring en kundigheid verskaf.
Die ou beelde van nuushonde in das en hemp (en dalk sigaret) en skryfboekie is argaïes en reeds vervang met jeans, ’n rugsak, ’n slimfoon en bedrewenheid in die omgang met die oneindige kuberruim.
Die nuwe geslag joernaliste is “nuusmasjiene” en hulle is aan die beweeg.
Ontlont gereeld
Soek hierdie joernaliste gereeld ontlonting by hul werkgewers se employee wellness-programme? Of is hulle soos die geykte opvatting dat veral polisiebeamptes hulle “sterk” hou en die besoek aan sielkundiges afmaak as dat hulle as “swak” gesien kan word? In my joernalistieke ervaring het ek alte gereeld gesien dat selfs die klimaat by jou woning en jou persoonlike verhoudings ’n betekenisvolle impak kan maak op jou produksie en die gehalte van nuusskrywing.
In my 18 jaar in ’n nuuskantoor was daar al persoonlik traumatiese tye met drie liewe kollegas wat die hand aan hul eie lewe geslaan het. Hoe baie keer ook het ’n kollega ineenstortings gehad oor ’n toksiese persoon die kollega tot raserny gedryf het. So ’n gekrenkte persoon sou bedank of ’n verplasing aanvra.
Daar was die tye dat ons in gevaarlike omgewings moes nuus gaan haal, dat skurke ons van duur toerusting wou beroof. Ook die geval van ’n professor se deranged volwasse seun wat dreigemente op kantoordeur kom vasplak het. Al meer joernaliste word nou op sosiale media verbaal gedreig sou hulle ’n storie (durf) pleeg.
Nie al ons lesers is opgevoed nie en soms grens hul persoonlikhede aan dié van maniakke.
In die buiteland is joernaliste onder groter gevaar en word hulle ook ontvoer en selfs vermoor deur polities fanatiese individue.
Dit is al berig dat joernaliste onder die Top-10- mees gevaarlike beroepe is en dis waar. Joernalistiek is soms soos om met ’n lewendige slang in jou hand te dans: Jy, jou berig vermaak, fassineer en skok terselfdertyd die toeskouer, in dié geval, die leser.
Kunsmatige intelligensie (KI)
Die jongste en groeiende uitdaging is kunsmatige intelligensie (KI), ’n lieflike hulpbron waarmee mens baie omsigtig, maar darem nuuskierig moet omgaan.
Digitale koerante het gedrukte koerante amper soomloos vervang. So navigeer motors (oorsee) reeds sonder ’n bestuurder die paaie.
Sal KI dit ook met joernaliste (kan) doen?
Ek twyfel sterk en dink onwillekeurig aan ’n scenario waar KI ’n persoon soos die skrywer Dana Snyman sou kon vervang. Sal KI die besonderse nuanses van ’n Dana-skryfstyl, sy skynbaar onuitputbare institusionele kennis en geheue van die dae van weleer, ook van historiese gebeure en karakters kan oproep en (presies) namaak? Nie in mý leeftyd nie, indien ooit.
Ek wil derhalwe vir KI sê wat my oupa eendag opgemerk het: “’n Na-aap was nog nooit ’n regte aap.”
Terwyl KI groter voordele vir ons inhou, moet joernaliste baie waak teen die versoeking om KI te misbruik om inhoud te skep en dit as jou “eie” aan te bied. Dit neem jare om integriteit en geloofwaardigheid, jou naam (lees: handelsmerk) op te bou. In ’n oomblik van ondeurdagtheid kan jy dit alles verloor.
Joernaliste se getalle mag dalk vorentoe effens afneem, maar ons sal meer uitstekende joernaliste sien, individue wat ook in KI ’n soort vennootskap vind en goeie joernalistiek pleeg.
Bou en verbeter jouself
Baie joernaliste is skaam persone, maar dit moet hulle nimmer ongemaklik maak nie, want hulle besit, reken ek, ander kwaliteite wat sou “opmaak” daarvoor. Neem byvoorbeeld dinge soos emosionele intelligensie en die vermoë om mense wat hul nader vir ’n moeilike onderhoud, te oortuig om wel inligting te gee.
Ek is oud genoeg om te (kon) weet dat om bombasties te wees soos die outydse skoolhoofde, nie altyd produktiewe menseverhoudings lewer nie.
Joernaliste moet hul kennis en vaardighede uitbrei, hul sterk- en swakpunte ken en dit tot hul arsenaal, wat hul benodig om baie vinnig en effektief inligting te kan bekom, voeg. Hulle moet meer nuuskierig wees, analities dink, linguisties presies wees en daarmee tesame goeie interpersoonlike vaardighede hê.
Teen ’n stink spoed
In die joernalistiek gaan dit vandag oor (meer) spoed, want inligting is makliker en baie vinnig bekombaar – ook vir die opposisie. Dit gaan oor brekende nuus en scoops en gaan oor inligting wat jou mediahuis op hul digitale platforms op die voorvoet (moet) hou.
Dit benodig steeds joernaliste wat krities na moontlike stories kan kyk, sake soos korrupsie soos ’n nuushond kan ruik en goeie, sterk stories kan uitkry. Kyk hoe baie word deesdae groot deurbrake gemaak in beriggewing van korrupte staatsamptenare, finansiële beplanners, mense in hoë en baie verantwoordelike posisies.
Net vinniger.
Dra die vlag
Laastens, net dit: Presterende joernaliste is (soms) onbewustelik bakens vir jong joernalistiekstudente. Jy word dopgehou vanuit vele hoeke (lees: kuberruim) en daar is die jongelinge wat soos jý wil wees.
Die joernalistiek verteenwoordig hoë-oktaanomgewings waar goeie nuushonde hierdie druk om ’n magdom inligting te kan uitsif, behendig hanteer, maar ook saans kan afskakel.
Eet reg, slaap goed en behou ’n goeie vlak van geestesgesondheid. Gebruik jou maatskappy se wellness-programme gereeld. Die toekoms is in jou vlytige vingers.
Lees ook:
Herman Wasserman: ’n Gevaarlike tyd om ’n joernalis te wees
Hennie van Deventer: Perspoësie en joernalisgedigte
Lizette Rabe: Die oorsprong van die (Hollands-)Afrikaanse joernalistiek, die tydsgewrig, en Abraham Faure as pionier
Johannes Froneman: Afrikaanse koerante het lank gelei en mislei, nou is dit tyd vir vorentoe kyk
Menán van Heerden en Izak de Vries: Disinformation in the Global South: ’n onderhoud met Herman Wasserman
Lizette Rabe: Voorlopervroue in die Afrikaanse joernalistiek: Een eeu, drie baanbrekers, drie generasies

