Vooraf
Die doel van hierdie artikel is om die bydrae van Afrikaanse vrouejoernaliste tot die ontwikkeling van die Afrikaanse joernalistiek te belig, in besonder, die bydrae van drie baanbrekers oor drie generasies oor ongeveer een eeu. Dit word aangebied in die vorm van ’n verhalende chronologie, aan die hand van onder meer drie kort lewenslope van die drie vrouejoernaliste wat elk as baanbrekers van hulle generasie beskou kan word. Die teoretiese begronding word gevind in die vertrekpunt van geskiedenis as verhaal, waarvolgens geskiedskrywing ’n poging is om die verlede as chronologie van gebeure (of, in hierdie geval, ’n chronologie van drie individue) te herskep. Hiermee saam word ’n media-en-genderperspektief vervleg omdat die artikel juis onderbeligte vrouestemme wil beklemtoon. Die drie persoonlikhede wat voorgehou word as drie voorlopervroue oor drie geslagte in die Afrikaanse joernalistiek oor een eeu waarin hulle hul joernalistiek beoefen het, is Miemie (Maria Elizabeth) Rothmann (1875–1975; beter bekend as MER), Rykie van Reenen (1923–2003), en Martie Retief Meiring (1934–). Die artikel sal vanuit ’n mediageskiedkundige vertrekpunt ’n oorsig gee oor die eerste vrouestemme in die Hollands-Afrikaanse joernalistiek, aangesien die pionier MER nie in ’n vakuum haar loopbaan begin het nie. Daarop volg kort oorsigte oor elk, insluitend ’n verkenning van hulle bydrae tot die ontwikkeling van die (Suid-) Afrikaanse joernalistiek en samelewing. Ten slotte volstaan die artikel daarmee dat dié drie vroue, elkeen op haar unieke manier, ’n weg gebaan het vir opeenvolgende vrouejoernaliste wat in hul voetspore kon volg.
1. Inleiding
Sonder vrees van teenspraak kan die stelling gemaak word dat nie naastenby so baie geskryf is oor die bydrae van vrouejoernaliste tot die ontstaan en ontwikkeling van die (Suid-) Afrikaanse joernalistiek as dié van manlike joernaliste nie. Dieselfde veralgemenende uitspraak kan gemaak word dat uit die pen van vrouejoernaliste self nie naastenby soveel boeke verskyn het oor hul werk en hul bydrae soos deur manlike joernaliste nie.
Die drie vroue wat hierdie artikel belig, naamlik Maria Elizabeth Rothmann (hierna MER; 1875–1975), Rykie van Reenen (hierna Van Reenen; 1923–2003), en Martie Retief Meiring (hierna Retief Meiring, hoewel haar van soms Retief-Meiring gespel word; 1934–), kan gesien word as drie voorlopervroue verteenwoordigend van drie geslagte in die (Suid-) Afrikaanse joernalistiek wat hulle beroep oor meer as ’n eeu beoefen het. Eersgenoemde twee se bydrae tot die ontstaan en ontwikkeling van die Afrikaanse joernalistiek is wel reeds geboekstaaf (Van der Vyver 1987a; Rabe 1985; 2001; 2006a; 2006b; 2011; 2012; 2015; Steyn 1990; 2004). Oor MER is, sover vasgestel kon word, twee akademiese studies gedoen, hoewel dit nie spesifiek haar joernalistieke werk ingesluit het nie (Jordaan 1949; MER 1972; Marais 1992). ’n Studie oor Afrikanermites in die letterkunde het op MER se lewe en werk gefokus (Jordaan 2005). Oor Retief Meiring is nog min wat betref haar bydrae tot die joernalistiek en samelewing geboekstaaf.

MER (Fotobron: Wikipedia)

Boekvoorblad met foto van Rykie van Reenen

Martie Retief-Meiring (Foto: Izak de Vries)
Ook aanlyn is die oes skraal. Op TheJournalist.com is ’n waardering oor MER as “vintage feminist” (Krog 2014). Op Mediamense.com is plasings oor Van Reenen en Retief Meiring, maar nie oor MER nie (“Die woordewêreld van ...” s.j.; “Martie Retief Meiring ...” s.j.). Op die Afrikaanse Wikipedia is ’n omvattende biografie oor MER (“Maria Elizabeth Rothmann” s.j.), ’n korter een oor Van Reenen (“Rykie van Reenen” s.j.), en geen oor Retief Meiring nie. Op LitNet is ’n omvattende oorsig oor Van Reenen se lewe en werk (Terblanche 2017), geen oorsig oor MER se lewe en werk nie, en talle verwysings na artikels, hoofsaaklik resensies, deur Retief Meiring self, maar geen oor haar werk nie.
Vir die teoretiese begronding van hierdie artikel is die vertrekpunt dié van mediageskiedskrywing, spesifiek ’n geskiedkundig-beskrywende (historical-descriptive) benadering, of geskiedenis as (chronologiese) verhaal, soos in Mouton (2013:170) beskryf. Daarvolgens is geskiedskrywing ’n poging om die verlede as ’n narratiewe analise so akkuraat moontlik te herskep, ook as ’n chronologie van gebeure (of, in hierdie geval, individue). Daarmee saam word, vir die fokus van hierdie artikel, die vertrekpunt van gender en media vervleg.
As konteks vervolg die artikel met ’n oorsig oor die eerste vrouejoernaliste in die ontwikkeling van die Hollands-Afrikaanse joernalistiek. Daarna word die fokus van hierdie artikel aangebied, naamlik die lewe en werk van die drie vrouevoorlopers. Dit word in die vorm van ’n verhalende chronologie aangebied wat sal aantoon hoe elk as baanbreker van hulle generasie gesien kan word.
Vervolgens word die mediageskiedkundige benadering aangebied, waarop die gender-en-media-vertrekpunt volg.
2. Vertrekpunt
Hierdie artikel steun op Mouton (2013:170) se fokus wat betref geskiedskrywing, in hierdie geval mediageskiedskrywing, naamlik dat ’n verhalende histories-beskrywende vertrekpunt die verlede so akkuraat as moontlik wil (of kan) weergee. Mouton skryf dat geskiedkundige studies die verlede deur ’n chronologie van gebeurtenisse probeer herskep, deurdat die navorser die krag van ’n narratief gebruik om ’n verlede te herbou danksy verhalende tegnieke. Terselfdertyd probeer dit lig werp op die veranderingsprosesse binne ’n organisasie. In hierdie geval is dit ’n tydvak binne die Afrikaanse joernalistiek van meer as 100 jaar, aan die hand van die bydrae van drie vrouejoernaliste.
Hierdie afdeling oor die geskiedkundige benadering en metode wil nie die veld mediageskiedskrywing herbesoek nie – sien ’n uitvoerige uiteensetting van dié fokus binne die sosiale wetenskappe en die humaniora, en dus kritiese of positivistiese benaderings, deur Rabe (2014).
Hoewel ’n studie om veral die rubrieke van Van Reenen en Retief Meiring met ’n teksontleding te ondersoek ’n interessante vertrekpunt sou wees, is dit geensins die doel van hierdie artikel nie. Veel eerder spruit die navorsingsfokus uit ’n (media-) geskiedkundige vertrekpunt, wat probeer om ’n ketting van gebeure te herskep. In hierdie geval, weer eens: Die fokus is nie op gebeure nie, maar op drie individue oor langer as een eeu. MER het naamlik reeds in 1922 as joernalis begin werk; Retief Meiring publiseer in 2024 steeds op die ouderdom van 89.
Die benadering tot die skryf van geskiedenis, as metode, berus op Sonderling (1995:90) se vertrekpunt waarvolgens geskiedenis “meer is as ’n stel menslike rolspelers, aktiwiteite en gebeurtenisse wat op (a) ’n spesifieke plek en (b) ’n spesifieke tyd gebeur het”. Dit gaan oor “die rekord van die verlede” en dit wat mense “verkies het om oor hul wêreld te kommunikeer”. ’n Meer onlangse Suid-Afrikaanse definisie van geskiedskrywing beklemtoon die veld as menswetenskap, wat die “toeganklike neerslag, verslae en ontledings van gebeure in die verlede [probeer] ontgin” (De Villiers 2012:198). Du Plooy (2009:108) skryf dat binne die veld van geskiedkundige navorsing bestaande data versamel, verwerk, of ontleed word.
Carr (1961) se reeds klassieke vraag uit sy bekende Cambridge-lesingreeks van “What is history?” is natuurlik ter sprake. In die geval van hierdie artikel wil ek spesifiek vrouestemme laat hoor – vroue se stemme wat die ontwikkeling van die Afrikaanse joernalistiekgeskiedenis weerspieël. Dit sluit aan by Carr se stelling dat geskiedskrywing áltyd, “bewustelik of onbewustelik”, die vraesteller se eie posisie in tyd weerspieël (Carr 1961:2). Daarom het hierdie artikel ’n media-en-gender-vertrekpunt omdat ek juis op drie voorlopervroue fokus.
Uiteraard kan geen geskiedenis ooit daarop aanspraak maak dat dit “volledig” is nie. As fondament vir hierdie artikel moet dus verwys word na die formulering van Leopold von Ranke, “vader” van geskiedskrywing, dat geskiedskrywing as rekord van die verlede altyd maar net “’n gedeeltelike gewese werklikheid” kan weergee (Stroud 1987:379). Ek is maar te bewus van die tekortkominge van so ’n oorsig in die fokus van hierdie artikel en die omvang van die drie vroue se werk, en wil nie naastenby voorgee dat hierdie artikel hulle joernalistieke oeuvre verteenwoordig nie. Wat dit wel probeer doen, is ’n poging om ’n sekere “gedeeltelike gewese werklikheid” weer te gee – in ’n poging om, soos Verbeeck (2000:387) dit gestel het, vir hierdie vroue ’n “teenwoordige verlede” te gee.
Vir ’n geskiedkundige narratief, spesifiek as ’n mediageskiedkundige projek, word die kwalitatiewe navorsingsmetode gevolg waarvolgens die navorser primêre en sekondêre bronne gebruik. Lundy (2008:396) beklemtoon dat die geskiedkundige metode meer is as die versameling van data en die verslag daarvan omdat dit “holistiese gevolgtrekkings oor historiese gebeure en eras” probeer verskaf. Hoewel dit onmoontlik is om elke aspek van ’n geskiedenis weer te gee, word probeer om deur die versameling, samevoeging en interpretasie van “fragmente” ’n geheelbeeld te bou (Scannell 2002:201) – in hierdie geval “fragmente” van die lewe en werk van drie voorlopervroue.
Enige benadering het vanselfsprekend beperkings. Vir Mouton (2013:171) is moontlike beperkings dat databronne onvolledig kan wees, of foutief, en dat die (subjektiewe) oordeel van die navorser ’n nadeel kan wees. Die hoofoorsake van foutiewe data kan dus die (on-) egtheid van dokumente wees, die akkuraatheid van interpretasie, en subjektiewe vooroordele.
Vervolgens word die begrippe media en gender kortliks bespreek.
3. Media en gender
Hoewel hierdie artikel se fokus nie op media en gender is nie, is die vertrekpunt wel geleë in die konsepte media en gender en dus magsverhoudinge in ’n manlik-chauvinistiese samelewing – een wat inherent Afrikanernasionalisties, manlik-chauvinisties was, ’n lewens- en wêreldbeskouing waarin al drie individue in hierdie artikel hulle bevind het en wat elk ervaar het. Omdat al drie vroue in hulle generasies manlike hegemonie uitgedaag het, moet hierdie artikel dus binne die vertrekpunt van feminisme gelees word. Daarom volg hier ’n kort bespreking oor breë aspekte van media en gender, en dus feminisme.
’n Eenvoudige definisie van feminisme lui dit is “concerned with the advancement of and achievement of equal social and political rights for women, and the fight against sexism” (Watson en Hill 2003:104).
Feminisme is gegrond in die vrouevryheidsbeweging en die bevryding van vroue van onderwerping en ander ongeregtighede gebaseer op geslag. Dit het in die middel-1800’s ontstaan in reaksie op politieke ongeregtighede (Danesi 2009:121). Vandag bestaan verskeie definisies en interpretasies van feminisme. Een navorser sê selfs feminisme kan beskryf word as een van die “mees omstrede konsepte” om te definieer omdat daar soveel interpretasies is (Browne 2014:4). Inderwaarheid kan gesê word dat die feminisme ’n “magdom” van verskeie teoretiese perspektiewe insluit wat spruit uit die kompleksiteite van omstandighede en identiteite van vroue en die begrip mag in die openbare en private lewe (Ahikire 2014:8). Breedweg kan ’n mens eenvoudig sê feminisme is ’n beweging of groep van mense wat die onderdrukking, ondergeskiktheid en marginalisering van vroue in ’n manlik-gedomineerde samelewing uitdaag (Browne 2014:4–5). Inherent daaraan was veldtogte dat vroue stemreg verkry. Terwyl vroue in ander wêrelddele vroeër stemreg verkry het, het dit in Afrika eers in die laat 20ste eeu ’n reg geword. In Suid-Afrika het wit vroue wel in 1930 stemreg verkry (Scher 2012:267), maar alle vroue eers in 1994 toe alle stemgeregtigde Suid-Afrikaners vir die eerste keer vir ’n demokratiese regering kon stem.
Breedweg kan vandag gepraat word, soos wat Mpofu (2017:70–83) dit uiteensit, van Eerste Golf Feminisme, die Tweede Golf, die Derde Golf, Swart Feminisme, Liberale Feminisme, Marxistiese Feminisme, Afrika-feminisme en Radikale Feminisme. Mpofu bespreek spesifiek die jongste toevoeging tot die reeks van nomenklature, naamlik Womanism. Dit is ’n spesifiek Afrika-benadering gegrond daarop dat tradisionele feminisme nie voorsiening maak vir bevryding soos uit die ervarings van ’n vroulike swart Afrikaan nie, omdat die feminisme Westerse hegemonie sou voortsit. Uiteraard het dié nuwe toevoeging van Womanism tot die tipologie van feminisme nie betrekking op die drie individue ter sprake in hierdie artikel nie. ’n Mens sou wel ’n argument kon bou dat ’n spesifiek manlik-hegemoniese Afrikanernasionalisme vroue onderdruk het, wat, soos wat Du Toit en Krog (1994:22–8) voorhou, tot ’n “inheemse feminisme” gelei het, en dat vrouestemme harder moes opklink om gehoor te kon word.
Vervolgens beweeg die artikel na ’n oorsig oor die konteks waarbinne MER as die eerste van die drie voorlopervroue haar werk in die joernalistiek kon begin.
4. Konteks
4.1. Agtergrond
Die drie vroue ter sprake in hierdie artikel, MER, Van Reenen en Retief Meiring, het oor meer as een eeu ’n invloed op die (Suid-) Afrikaanse joernalistiek gehad. Dit is nodig dat vrouejoernaliste se werk belig moet word omdat hulle bydraes steeds onderbelig is. In die woorde van Price-Groff (1997:11) in haar werk oor buitengewone Amerikaanse vrouejoernaliste: “Because so few of these women have been publicly recognized for their accomplishments. Because, through their writing, so many of these women have been instrumental in helping to change society.”
MER het ’n aansienlike aantal boeke oor meer as 50 jaar, van 1920 tot 1972, geskryf (Steyn 2004:583). Van haar werk is bekroon en die MER-prys vir Kinder- en Jeuglektuur is in 1984 in haar naam ingestel (MER-prys). Bundels van haar werk is saamgestel (bv Bouwer en Van Reenen 1976; Bouwer, Rothmann en Van Reenen 1977). Van Reenen het twee bekroonde boeke oor Emily Hobhouse gepubliseer. Die eerste, Heldin uit die vreemde (1970), is ses keer herdruk en is bekroon met die Scheepersprys vir Jeuglektuur (in 1971), en die tweede, Emily Hobhouse: Boer War letters (1984), is een keer herdruk (1999) en is bekroon met die Recht Malan- en die Ou Mutual-prys (albei in 1985). Van Reenen het ’n bundel oor die fotograaf Jansje Wissema se werk, Die wêreld van Jansje Wissema (1976), gepubliseer. Rubrieke uit die pen van Van Reenen is gebundel (1980). Retief Meiring was die skimskrywer van twee outobiografieë (2010; 2011). Niks van haar eie werk is egter in boekvorm gepubliseer nie, hoewel sy bydraes tot twee bundels gelewer het (1983; 2015).
Die stelling kan gemaak word dat dié drie vroue mekaar se “opvolgers” in die Afrikaanse joernalistiek was. Van Reenen was inderdaad een van MER se “Kaapse kinders” – ’n groep joernaliste en skrywers wat MER as hulle rolmodel gesien het (Rabe 2011:17; 20; 50; 52; 153; 226). Wat Retief Meiring en Van Reenen betref, is eersgenoemde se rubrieke vergelykbaar met dié van Van Reenen. Sy kan dus gesien word as “opvolger” in die tradisie van rubriekskryf wat Van Reenen gevestig het (“Commendatio vir die ...” 2017).
As konteks vir hierdie drie joernaliste is dit nodig om kortliks te verwys na die eerste vroue in die Hollands-Afrikaanse joernalistiek, vervolgens dus ’n voëlvlug-oorsig.
4.2. Die eerste proto-vrouejoernaliste
Die aanhaling van byna ’n halfeeu gelede van een van die eerste skrywers oor vroue in die Amerikaanse geskiedenis (Banner 1974:36) is steeds van toepassing: “Among all the professions, that of journalism offers perhaps the most impressive example of women’s intrepid persistence in the face of professional hostility.” ’n Halfeeu gelede het Sochen (1973:ix) geskryf dat waar die geskiedenis wel neergepen is, dit die “brose” uitdrukking was van manlike geskiedkundiges wat uit hulle wit, manlike perspektief geskryf het.
Wat die Suid-Afrikaanse geskiedskrywing betref, is nog geensins reg laat geskied aan die vrouestemme wat deel was van die ontstaansgeskiedenis van die Suid-Afrikaanse media nie (insgelyks nie die bydrae van Engelssprekende wit vrouejoernaliste of swart joernaliste nie).
Van der Vyver (1987a) en Rabe (1985; 2001; 2006a; 2006b; 2011; 2012; 2015) het onder andere geskryf oor die ontwikkeling van vroue in die Suid-Afrikaanse joernalistiek en hoe hulle werk vroueregte bevorder het.
Wat betref vroue in die ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse joernalistiek, Afrikaans én Engels, is die antwoord in die algemeen egter eenvoudig: Die Suid-Afrikaanse mediageskiedskrywing het, benewens ander gebreke, een grote – die gebrekkige boekstawing van die rol wat vroue in die totstandkoming van die moderne mediabedryf gespeel het en hulle bydrae tot verandering in ons samelewing.
Die heel laaste uitgawe van De Zuid-Afrikaan verenigd met Ons Land, die uitgawe van 8 April 1930, word gewy aan die geskiedenis van die ontwikkeling van die “Hollandse” joernalistiek aan die Kaap (Dreyer en Bosman 1930). In omvattende lewensketse van al die belangrike Hollands-Afrikaanse joernaliste is daar geen verwysing na ’n vrou nie, wel twee “terloopse” verwysings, naamlik waar gemeld word dat een uitgewer se weduwee en ’n ander se dogter hulle publikasies ná hul onderskeie sterftes voortgesit het. Hulle was die weduwee GW Silberbauer (haar man se voorletters) en “mejuffrouw” Ella Neethling (Rabe 2011:41–2).
Silberbauer het ná haar man se dood sy tweetalige nuusblad, The Cape of Good Hope and Port Natal Shipping and Mercantile Gazette, uitgegee (Rabe 2011:41). Dit het van 1844 tot kort ná 1860 verskyn. Ella Neethling, dogter van ds JH Neethling, ’n Stellenbosse predikant, het ná haar pa se dood redakteur van De Wekker geword (Rabe 2011:41–2). Dit was ’n maandblad, gestig in 1859, en is deur Neethling tot kort voor haar dood in 1925 behartig. Dit het ’n sirkulasie van 5 000 gehad. Ella Neethling kan dus beskou word as die eerste proto-vrouejoernalis in die Hollands-Afrikaanse pers.
Van der Vyver (1987a:19) skryf dat vroue gewoonlik onder ’n skuilnaam geskryf het, waarskynlik, soos in die buiteland, om die “stigma” van die werkende vrou te verbreek deur tuis “agter geslote deure te skryf”.
In ’n boek wat in 1947 verskyn het oor die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse pers, word geen enkele vrouejoernalis genoem nie (Smith 1947). In ’n hoofstuk oor die Afrikaanse pers word een vrou se naam wel genoem, nie as joernalis nie, maar as befondser van publikasies, en eers ná haar afsterwe. Haar naam kom twee keer voor, weliswaar as “Mrs Jannie Marais”. Die verwysing is na “Bruckner de Villiers [...] a financier of considerable ability” wat die “Mrs Jannie Marais fortune” beheer (Smith 1947:119). Die tweede verwysing is na “Senator Bruckner de Villiers, a son-in-law of the late Mrs Jannie Marais”, en hoe De Villiers ’n “powerful figure in the background of the Afrikaans Press” was danksy sy “skoonma” se erflating. Smith verwys egter foutiewelik na De Villiers as skoonseun van mev Jannie Marais (haar naam was Elisabeth Hendrika Johanna, gebore De Villiers, noemnaam Bes [“Elisabeth Hendrika Johanna” s.j.]). Bruckner de Villiers was haar broer (Kapp 2015:24). Die Marais-egpaar was kinderloos.
In Du Plessis (1943) se navorsing oor die Afrikaanse pers word slegs vier vrouename genoem, daaronder dié van ’n latere baanbreker, mev Kénne Malherbe (Du Plessis 1943:205), weer onder die eggenoot se naam. Sy was Mabel Malherbe, stigter en redakteur van Die Boerevrou(w) wat van 1919 tot 1932 uitgegee is en waarby MER betrokke was (Rabe 1985:21; 2011:42). Malherbe, ’n niggie van Eugène Marais, was eintlik ’n fenomeen vir haar tyd – onder andere die eerste vroulike burgemeester in Suid-Afrika (van Pretoria), en die tweede vrou en die eerste Afrikaanse vrou wat tot die Parlement verkies is (Rabe 1985:21). Sy is beskryf as “remarkable”, en “powerful, impressive” (Kruger 1991:viii). Malherbe het dié eerste Hollands-Afrikaanse tydskrif vir vroue, Die Boerevrouw, later Die Boerevrou, as ’n maandblad danksy haar man se finansiële steun uitgegee (Rabe 1985:21). By Die Boerevrouw het MER van 1920 tot 1922 haar joernalistiek geleer (MER 1972:200–7). By Malherbe het MER (Krog 2014) “vinnig” “the rhythms and conventions of gathering and preparing focused, interesting and accessible copy” geleer. Krog (2014) skryf: “One can say that it was here that she began to hone the simple, sparse but luminous style that was later to become her trademark and won her the coveted Hertzog Prize for Afrikaans prose forty years later.” Die tydskrif is in 1932 gestaak nadat Malherbe se man dit nie langer kon finansier nie (Rabe 1985:21).
Publikasies oor die Suid-Afrikaanse persgeskiedenis het selfs nog in 1983 geen verwysing na vroue nie (Rabe 2011:42–6). In ’n boek uit 1983 word verwys na die “manne en die motiewe” wat ’n vrye pers vir Suid-Afrika bewerkstellig het (De Kock 1983). Uiteraard kon die Suid-Afrikaanse pers in 1983 nie as vry beskou word nie, maar daar was in 1983 beslis reeds ’n aansienlike persentasie vroue in nuuskantore. Vroue was seker wel in die minderheid, maar “hul waarde moenie onderskat word nie” (Van der Vyver 1987a:17–24). In nog ’n publikasie uit 1983 word na joernaliste slegs met die manlike voornaamwoord verwys (De Beer 1983), met die wêreld van die “koerantman” wat dwarsdeur die boek adem. Uit die 22 bydraers tot die boek was slegs twee vroue. Een van hulle was Retief Meiring. Die ander vroulike bydraer was Marianne Coetzee. Sy het as derde skrywer, en toe ’n student, as redaksielid van ’n studentekoerant ’n bydrae oor studentepublikasies saam met Attie Gerber, eerste skrywer, en Rudolph de Wet, tweede skrywer, geskryf.
In die vroeë Hollands-Afrikaanse pers is vroue as “belangstellende buitestaanders eerder as betrokkenes” gesien (Van der Vyver 1987a:19). Selfs hulle skuilname het aangedui hulle moet dalk nie te ernstig opgeneem word nie, byvoorbeeld “Anni Snaaks”, met haar opvolger “Tryna Snaaks”, wat in 1897 in die Vrystaatse De Burger geskryf het.
Ter wille van hierdie bespreking, en in die konteks van ’n Afrikanernasionale vrouebeeld wat steeds dekades later tot die onderdrukking van vroue gelei het, moet genoem word dat die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) in die laaste kwart van die 19de eeu ’n blatante anti-vrou-beleid gehad het (Van Niekerk 1994:10). Hulle mog nie “vriendinne” van die Genootskap wees nie, en kon boonop aanvanklik nie in Di Patriot publiseer nie. In ’n gedenkboek oor die ontstaan van Afrikaans word in ’n onderskrif vir ’n foto van die taalstryder “Oom Lokomotief” só na dié diskriminasie verwys: “Die GRA [...] het besluit ‘vrouws’ mag nie ‘vriendinne’ van die GRA wees nie en Oom Lokomotief het gepleit teen dié besluit. Toe het hy weer voorgestel dat vroue in Die Afrikaanse Patriot mag skrywe, maar sy medebroers wou nie juis daarvan weet nie! Af en toe het daar tog ’n brief van ’n ‘niggie’ ingeglip” (Bouwer 1975:20).
Iemand wat as ’n “belangstellende buitestaander” rondom die vorige eeuwending beskryf is, was Maria Koopmans-De Wet (Van der Vyver 1987a:36). Sy was in 1903 die stigter van ’n “invloedryke” tydskrif, De Goede Hoop, wat, volgens Van der Vyver, later deur De Huisgenoot (vandag slegs Huisgenoot) verdring is.
Die Suid-Afrikaanse Oorlog (SAO) (1899–1902) se gevolge op die ontwikkeling van die Afrikanerpsige het tot die verdere onderdrukking van vroue gelei (Du Toit en Krog 1994:22–8). Een van die gevolge was dat Afrikaanse vroue gemanipuleer is om die patriargie van hulle tyd te pas. Feminisme is “verdag” gevind en verdag gemaak – deur Afrikaanse vroue self, onder invloed van heersende hegemoniese, patriargale Afrikanernasionale denke. Inderdaad, die heel eerste sin van Du Toit en Krog se artikel lui: “Vroue vind feminisme verdag.”
Gepaai en voorgesê moes vroue aanvaar hulle “oorlogsoffers” was meer as enigiemand anders s’n – daarom het hulle ná die oorlog “spesiale behandeling” verdien (Du Toit en Krog 1994:22–8). Ongeveer 50 jaar later, in die 1950’s, het die joernalis en skrywer Elsa Joubert, soos wat sy later in haar memoir (2009:99) daarna verwys het, bevind dat “die bydrae van die Afrikaanse vrou tot landsake, vandat sy stemreg gekry het 25 jaar gelede [dus in 1930] [...] bitter min” was. Nog ’n halfeeu later, in 2009, vervolg sy: “Dis ongelooflik. Nooit ’n eie mening oor onderwyssake, oor landbou en voedselproduksie of iets wat die landswelsyn raak nie. Met liefdadigheid en in vroueverenigings blom sy, maar wat landsbeleid betref, is sy stom.” Joubert kom tot die slotsom dat wat die Nasionale Party en apartheidspolitiek betref, “die land se Afrikanervroue hul mans se onderdane” bly.
Die “f-woord” was die een woord waarvan baanbreker-joernalis MER, beskou as die eerste Afrikaanse joernalis omdat sy die eerste was wat amptelik aangestel is by Die Burger (Rabe 2011:46), nie weggeskram het nie. Daar sal in die afdeling oor haar meer hierop uitgebrei word.
Voor MER was daar wel ander vroue wat klein rolle by dié koerant gespeel het. Die Burger kan eintlik as die byna perfekte gevallestudie vir die ontwikkeling van die Afrikaanse vrouejoernalis gesien word, soos Van der Vyver (1987a) in haar MA-verhandeling aangedui het. By die stigting van De Burger in 1915 het vroue ’n “kosmetiese rol” gespeel. Mev Christiaan Marais – onder haar man se naam (en skoonsuster van Jannie en Elisabeth Marais [Le Roux 1953:70–1]; haar doopnaam was Maria en noemnaam Minnie [Kapp 2015:24]) – het byvoorbeeld die pers formeel aangeskakel om die eerste proefeksemplaar te druk.
Die vroulike teikenmark van dié blad het egter vroeg reeds erkenning van hulle “kommersiële” waarde gekry (Rabe 2011:44). Op die heel eerste vroueblad in dié koerant word “leseresse” naamlik meegedeel watter groot waarde hulle koopkrag het. Die feit dat vroue die koopbesluite in huishoudings neem, soos wat marknavorsing vandag steeds bewys, is dus reeds vroeg erken. Aan redaksionele kant is egter min gedoen om vrouekrag formeel daar te gebruik.
Die eerste artikel deur ’n vrou in De Burger het in die derde uitgawe ná die eerste koerant (op 26 Julie 1915) op 28 Julie 1915 verskyn – hoewel onder ’n skuilnaam. Die geslaglose “Toonkunst” was die skuilnaam vir Johanna Luyt, met haar rubriek getitel “Muzikale kroniek” (Van der Vyver 1987a:54). Luyt het in Holland grootgeword en het eers ná haar huwelik na die Kaap gekom. As musiekonderwyser het sy haar onderrig- en skryfberoep tot ’n paar jaar voor haar dood voortgesit, drie kinders grootgemaak, ’n musiekhandleiding geskryf, verskeie kore afgerig en ’n steunpilaar van die Afrikaanse Eisteddfod geword (Van der Vyver 1987a:54–7). Luyt was nooit ’n vaste redaksielid nie, maar was vir die eerste 15 jaar van die koerant se bestaan die enigste vrou wat ’n “deurlopende gereelde joernalistieke bydrae gelewer het” (Van der Vyver 1987a:56).
Die enigste ander vrou wat in die eerste dae van De Burger geskryf het, was Maria Cillié, moeder van Van Reenen se latere kollega Piet Cillié – oftewel “Mev. Dr. G.G. Cillié”, soos wat haar naamlyn gelees het (Van der Vyver 1987a:57–8). Haar rubriek is getitel “Het huis en het huisgezin”. Dit is interessant presies hoe die kommersiële waarde van vroulike lesers van die begin af by die koerant erken is en tot voordeel gebruik is. In Cillié se eerste bydrae op 31 Julie 1915 wys sy haar lesers daarop dat hulle De Burger veel meer behulpsaam kan wees as wat hulle ooit kan dink deur die adverteerders in die koerant te ondersteun – en dit vir hulle te sê. Die veel latere gekonstrueerde teorie van die politieke ekonomie van die media was dus reeds hier sterk teenwoordig. Cillié het haar rubriek sowat vyf jaar, tot 1920, behartig, toe dit gestaak is toe haar jongste kind gebore is (Van der Vyver 1987a:58).
Cillié was tesourier van die ACVV, wat as ’n “dinamiese” vroueorganisasie beskryf is (Van der Vyver 1987a:59). ’n Hele aantal vroue wat in die vroeë jare by die Afrikaanse pers betrokke was, was ook betrokke by die ACVV. Cillié was die begin van ’n “goue [ACVV-] draad” wat deur die koerant se kantoor geloop het. MER sou in 1928 haar werk as eerste vaste vrouejoernalis by Die Burger bedank om reisende ACVV-sekretaresse te word (MER 1972:222). ’n Ander vroulike redaksielid wat sekretaresse van die ACVV geword het, was Ida Theron, suster van Erika Theron (Van der Vyver 1987a:59), bekend vir haar werk as voorsitter van die Theron-Kommissie. Selfs Van Reenen het volgens haar peetkind en niggie, Annatjie Louw, in ’n stadium onder invloed van die talle invloedryke ACVV-vroue byna die joernalistiek verlaat om by die ACVV te werk (Louw 2005).
Iemand wat waarskynlik as ’n “toevallige” Afrikaanse vrouejoernalis beskryf kan word, hoewel sy nooit as joernalis gewerk het nie, of vas aangestel was nie, is Lea Rompel-Koopman (MER 1975:65). Sy was ’n opgeleide verpleegkundige en die vrou van Frederik Rompel, tegniese redakteur onder wie MER by Die Burger gewerk het. Rompel-Koopman, van Nederlandse afkoms, het gereeld vir De Volkstem, later Die Volkstem, geskryf. Haar man het ook aanvanklik by dié publikasie gewerk. Sy het in “vooraanstaande oorsese tydskrifte” soos Groot Nederland gepubliseer en het selfs onderhoude gevoer met wat beskryf is as “Voortrekkervroue”, wat as publikasies gebundel is.
’n Ander publikasie vir vroulike lesers was die weekblad Die Huisvrou (Rabe 2011:45). Audrey Blignault het in die 1940’s redakteur geword toe sy heeltyds begin werk het tydens haar man se studies. Marcha Schoeman (getroud Hartwig), Van Reenen se studentemaat wat reeds by Die Burger was toe sy haar in 1945 daar aangesluit het, en haar suster Toi (getroud Van Rooyen), wat albei in die 1940’s “vroueredaktrises” van Die Burger was, was later assistent-redakteurs van Die Huisvrou.
’n Aantal vroue het in dié tydperk onder skuilname in Die Burger geskryf (Van der Vyver 1987a:60). Benamings was in die “gemoedelike Afrikaner-trant” van “niggie” en “tante”: “Nicht Madeleine” het met “jong meisies gesels”, “Sussie” het stories vir kinders geskryf, “Tante Kota” het raad vir “moeders in die huis” gegee, “BK” het inligting oor kinderboeke verskaf, en “Boervrouw” het resepte verskaf.
Ter wille van ’n mate van volledigheid in hierdie voëlvlug-oorsig oor Afrikaanse vrouejoernaliste in aanloop tot die drie waarop hierdie artikel fokus, moet genoem word dat Hester van Heerden, bekend as die “Tannie van die Brandwag”, in 1950 bestempel is as die “eerste Afrikaanse joernaliste, die eerste skryfster van Afrikaanse kinderlektuur, en haar werk sal haar laat voortleef in die herinnering van ’n dankbare volk” (Behrens 1950:38; 40–1). Sy was sedert die stigting van Die Brandwag in 1910 betrokke by dié tydskrif.
MER kan volgens my egter as die eerste professionele Afrikaanse vrouejoernalis erken word aangesien sy haar merk in die “ernstige” joernalistiek gemaak het, oor aktuele sake geskryf het, en ’n reuse-invloed op verskillende terreine gehad het (Steyn 2004; Rabe 2011). Krog (2014) beskou MER as dié vrouejoernalis wat die “era van die professionele Afrikaanse vroulike joernalis” gevestig het.
Die Tweede Wêreldoorlog het ongekende geleenthede aan vroue gebied. Vir Suid-Afrikaanse vroue was dit die “eerste tree na ’n volgehoue loopbaan buite die huis”, en in die pers het “vrouename geleidelik minder skaars geword” (Van der Vyver 1987a:68).
Hoewel MER amptelik as die eerste vroulike Afrikaanse joernalis beskou kan word, moet ter wille van volledigheid tog verwys word na Sarah Goldblatt, dogter van Oos-Europese Joodse immigrante. Goldblatt is waarskynlik deur CJ Langenhoven se toedoen in 1917 in Die Burger se redaksie “aangestel”, hoewel sy geensins redaksioneel gewerk het nie en verantwoordelik was vir die administrasie van Langenhoven se rubriek (Van der Vyver 1987a:60).
’n Mens kan dus die stelling maak dat met die aanstelling van MER as Die Burger se vroueredakteur – of in die taal van die tyd, vroueredaktrise – die era van die professionele vrouejoernalis aangebreek het, soos Rabe (2011) en Krog (2014) dit gestel het. MER was die eerste vrou wat ’n beduidende én leidende rol in die Afrikaanse joernalistiek én die Suid-Afrikaanse samelewing gespeel het. Die jaar van haar aanstelling, 1922, was die jaar waarin De Burger na Die Burger verander het en waarin die hoofartikels voortaan in Afrikaans geskryf is (Steinmeyer 1946:159). Dit was sewe jaar ná Die Burger en Naspers (aanvanklik De Nationale Pers Beperkt) se stigting in 1915.
Dit is verleidelik om dieper oor die onderwerp van vroue se ontwikkeling en bydrae tot die Hollands-Afrikaanse joernalistiek te delf in aanloop tot MER se toetrede tot die joernalistiek. Ter wille van lengte moet egter volstaan word met hierdie voëlvlug oor die eerste vroue in wat later die Afrikaanse media sou word. Vir die doeleindes van hierdie artikel kan ’n mens tot die slotsom kom dat die eerste vroue wat hulle wel in die redaksies van koerante bevind het, gedoem was tot die “vroueblaaie” – soos al drie die joernaliste wat die onderwerp van hierdie artikel is, in hul loopbane ervaar het. Dié afdeling in die koerant is deur Amerikaanse mediasosioloë Chambers, Steiner en Fleming (2004) die “ghetto” genoem.
5. Drie voorlopervroue
5.1 MER
MER (1875–1975) is in 1922 in Die Burger se redaksie aangestel (Rabe 2011:46–50). Sy was toe 47, en haar aanstelling het haar die eerste “amptelike” Afrikaanse vrouejoernalis in ’n vaste pos gemaak. Sy was egter veel meer as dit, hoewel sy aangestel is om spesifiek die vroueblad te behartig. Voorheen, soos bo genoem, is wel “iets” vir die “vrouekant” gedoen, hoewel nie op ’n gereelde basis nie (MER 1972:212). Die strategie om ’n heeltydse redaksielid aan te stel vir die “vroueblad” was ekonomies gedrewe: om advertensies te trek. Dit het geblyk ’n goeie idee te wees om daarvoor ’n heeltydse “vroueredaktrise” aan te stel. Hoewel MER as die eerste professionele Afrikaanse vrouejoernalis beskou word, het sy nie gedurende haar werkende lewe lank in die joernalistiek gebly nie, hoewel sy tot ’n hoë ouderdom – sy het 100 jaar oud geword – geskryf het.
In ’n resensie van haar biografie Die 100 jaar van MER deur Steyn (2004) skryf Hennie Aucamp (2004:11) dat die “maatskaplike werker, die sosioloog, die taalkundige, die politikus, die onderwyskundige, die feminis” elkeen ’n resensie oor die boek sal kan skryf, “’n ieder vanuit sy vakgerigtheid”. Sy het in haar skryfwerk “’n houding jeens sosiale onderdrukking” getoon “wat haar tyd ver vooruit was” (Van Niekerk 1994:13). In een van haar boeke kritiseer sy die persepsie dat die vrou minderwaardig teenoor die man is, dat sy lid is van die “swakker geslag”, of waar die vrou haarself as “dienende Marta” projekteer.
Martha Elizabeth Rothmann, Miemie genoem, en later as MER bekend, is in 1875 op Swellendam as die jongste van nege kinders gebore (Steyn 2004). Haar pa is oorlede toe sy maar ’n paar maande oud was. Verskeie van haar sibbe is op ’n jong leeftyd oorlede. Sy was in 1894 een van die eerste vier vroulike studente aan die South African College, die voorloper van die Universiteit Kaapstad. Die voorganger van die Universiteit Stellenbosch (US), die Victoria Kollege, het toe nog nie vroulike studente aanvaar nie (Rabe 2011:47). Die jong Miemie kon as briljante leerder met beurse verder studeer; haar weduwee-ma kon dit nie self bekostig nie. Sy was eers ’n onderwyser op verskeie plekke. In Grahamstad (vandag Makhanda) het sy haar toekomstige man en pa van haar twee kinders ontmoet. Hy was Herbert Oakshott, van wie sy ná nege jaar geskei is (Krog 2014), ’n dapper stap vir haar tyd.
MER het vroeg ’n feministiese bewussyn gehad en het haar ma as die eerste feminis beskou. In haar memoir (1972:73) skryf sy oor ’n insident tydens die voorbereiding vir haar vertrek na die universiteit waarin haar tuisdorp se winkelier haar ma vra of sy haar dogters laat leer sodat hulle mans kan kry. Haar ma het geantwoord sy laat hulle leer “om sonder mans klaar te kom as hulle wil” (Rabe 2011:47).
Sy het later daaroor geskryf: “Die aantyging het in haar [haar ma] die feminis wakker gemaak. In elke vrou – dit is my ondervinding – skuil dit, maar in sommige by wie die slaapgoed té verdowend is, word dit nooit wakker nie” (1972:73). Dié “slaapgoed” is skynbaar gevoed deur die feit dat talle Suid-Afrikaanse predikante in Nederland studeer het waar hulle onder die invloed gekom het van ’n teoloog wat in 1914 ’n boek met die titel De erepositie der vrouw geskryf het. Haar “ereposisie” is in die huisgesin, onder die man, wat namens die gesin stem. Dis geregverdig as “God” wou hê die vrou moet net ’n private lewe lei en uit die openbare oog bly (Landman 1998:105). Die digter Totius was een van die predikante wat onder dié invloed teruggekeer het na Suid-Afrika. Met die nagevolge van die SAO en mans se hegemonies-patriargale denke rondom vroue is dit nie vreemd nie dat hy gekant was teen stemreg vir vroue. As leier van ’n kommissie van die Gereformeerde Kerke in 1920 wat vrouestemreg moes ondersoek, was sy aanbeveling dat vroue nie net in die kerk nie, maar in die breë politiek geen stemreg mog hê nie omdat “God dit ten strengste sou afkeur”.
MER was werkloos nadat sy in 1922 by Die Boerevrou(w) bedank het om na die Kaap te trek – “en dit op ’n leeftyd wat sy tot die mens se ‘beste werkjare’ gereken het, naamlik tussen 45 en 70”, soos sy gesê het (Steyn 2004:139). Sy het die Die Burger-aanbod as ’n “gelukslag” beskou.
Nadat MER haar joernalistiek by Die Boerevrou(w) geleer het (Rabe 1985:21), was sy van 1920 tot 1922 by Die Burger verantwoordelik vir rubrieke wat moes handel oor “kos en klere tot kinderboeke en ‘knorrige moeders’, alles gekenmerk deur moraliserende raad” en ’n “besonder woordryke styl” (Van der Vyver 1987a:60).
Volgens MER sou haar “stukke” in Die Burger “Vrouesake” heet. Maar, het sy in die heel eerste rubriek op 10 Mei 1922 geskryf, “nie omdat ons meen dat vroue hulle net met hierdie soort sake onledig hou nie – glad nie”. Plus: “Net politiek, sê die Redakteur, moet wegbly; en daaroor sal niemand spyt wees nie; ’n mens word tog alte moeg van stryery” (1972:210). Dis interessant hoe MER dié patriargale instruksie hanteer het, want sy het eintlik presies dít – politiek – op “haar” blad bedryf (Rabe 2011:47). Soos sy dit in haar eerste rubriek gestel het:
Vroue stel immers ook in landsake en manssake belang. Maar mans stel gewoonlik nie in “vrouesake” belang nie, want mans dink dit is manlik en gewigtig om van die kos en aard van klein volstruisies te praat, maar vind dit vervelig om die kos en geaardheid van klein mensies te bespreek.
Haar toekomstige biograaf het reeds in 1990 geskryf dat hoewel haar afdeling as “Vrouesake” bekend was, sy oor “algemene sake” geskryf het (Steyn 1990:12). Daaronder was die debat oor vrouestemreg prominent. Hy skryf sy het ook “baanbrekerswerk verrig in die skepping van omgewings- en bewaringsbewustheid”.
Oor die kwessie of MER self “amptelik” beskou kan word as die “eerste Afrikaanse feminis”, het Steyn in ’n onderhoud geantwoord (Botes 2005):
Of sy die eerste feminis was, weet ek nie – maar sy was onder die eerstes seker die bekendste en invloedrykste omdat sy haar oor baie jare heen vir die bemagtiging van die vrou beywer het, en dikwels in die koerant kon reageer op uitlatings of optredes wat teen vroue gemik was.
Hy het voortgegaan:
Wat dit vir haar moontlik gemaak het om so baie daaroor te skryf, was die feit dat sy van 1922 tot 1928 redakteur van die vroueblad van Die Burger was, en daarna gereeld elke week ’n artikel in dié koerant geskryf het tot aan die einde van die jare dertig. Sy was een van die vegters vir die vrouestemreg, eers versigtig, maar later baie openlik.
Met die verkryging van vrouestemreg (vir wit vroue) in Suid-Afrika in 1930 is die beyweraars daarvan deur sowel politici as die (manlike) pers met minagting behandel en onderwerp aan ekstreme vorms van seksisme (Du Toit en Krog 1994:22–8). Stemreg vir wit vroue het daartoe gelei dat bestaande bruin kiesers ontkieser is, want toe wit vroue stemreg gekry het, het die aandeel van bruin stemgeregtigdes in die Kaapprovinsie aansienlik gedaal (Scher 2012:269).
In die Afrikaanse kerke was daar in dié tyd druk om die ACVV “onder die sinode te laat kom” as verdere poging van Afrikanermans om vroue te beheer. MER het geweier dat die vereniging deur die kerk – dit wil sê mans – beheer word, en het onder meer verklaar: “Om te sê dat die vrou se plek in die huis is, laat my koud – as daar soveel vroue en dogters self buite die huis moet werk om ’n dak oor hulle hoof te kan hou.” Volgens Steyn (Botes 2005) het MER verkies om die woord “vrouepartydigheid” pleks van feminisme te gebruik omdat dit “in die twintiger- en dertigerjare ’n redelik negatiewe gevoelswaarde gehad het”. In 1990 het Steyn die woord “geslagspartydigheid” gebruik soos dit in MER se Burger-werk gemanifesteer het. Sy het onder andere oor Hitler en Mussolini geskryf en hoe hulle dit as vanselfsprekend beskou het dat hulle oor vroue se “lot en leefwyse” kon beskik (Steyn 1990:14). Aucamp (2004:11) het na MER se feminisme as “geslagspartydigheid” verwys. Hy het gemeen dat dit “veral haar romans skeefgetrek het: nêrens is daar ’n sterk, intellektuele mansfiguur wat die eweknie van sterk vrouefigure is nie”.
Steyn het daarna verwys dat dit opvallend is dat “die sterkste en mooiste karakters vroue is” (Botes 2005). Steyn het gemeen sy het in haar rubrieke “nogal maklik ’n stekie na die mans se kant gegee”. Vir hom kon dit “amper-amper” grens aan “vrouechauvinisme”, veral waar sy skryf oor rook. Sy was nie gekant teen rook nie (dit was toe nog nie bekend dat dit gesondheidsgevare inhou nie), maar het gemeen vroue is verhewe bo rook. In 1935 het sy byvoorbeeld geskryf (Rabe 2011:49):
En die rookgewoonte is darem maar nie sindelik nie. En bo alles kan ’n mens nog ’n bietjie kinderagtigheid aan ’n man toestaan, omdat hy eenvoudiger van aard is as ’n vrou; maar die vrou wat ’n kind moet lei en grootmaak – sy behoort nie aan “infantilisme” te ly nie.
Dié “vrouechauvinisme” het ook geblyk uit korrespondensie met Van Reenen. In ’n brief in 1964, gedateer 27 September, het sy geskryf: “Sê vir Alba [Bouwer] ek kry op 25e haar brief gedateer 16e; seker aan ’n mansmens toevertrou om te pos” (MER-Versameling).
MER het nooit gehuiwer om selfs mans van aansien te konfronteer nie. Langenhoven het byvoorbeeld geagiteer dat vroue nie tot die regsberoep toegelaat mag word nie. MER, wat self ervaar het hoe dit is om die eerste vrou in “’n mannelike werkkring” te wees, het geskryf dit is onaanvaarbaar. Reeds in haar tweede rubriek nadat sy aangestel is – dus nie suutjies trap vir haar manlike owerstes nie, ondanks haar “aanvaarding” van die redakteur se bevel dat sy haar nie met politiek moet bemoei nie – bespreek sy Langenhoven se argument breedvoerig, en kom dan met haar teenargument: “Die ernstigste beswaar egter teen die toelaat van vrouens, nie alleen tot die regtersbank nie, maar tot enige werkkring waar eers mans alleen was, is dat die vrou die man uitstoot – en wat word van die mans?” (MER 1922).
In sy oordeel het PA Joubert gemeen dit het “moed gekos”, “want Langenhoven was die mees gevierde volkskrywer van die tyd en was ’n gedugte debatteerder” (Rautenbach 2003:70). Volgens Steyn het MER “’n paar keer” met Langenhoven gebots. “Dit was so ’n bietjie van ’n waagstuk”, juis omdat Langenhoven so ’n “geliefde volkskrywer” was. Hy het selfs een keer “’n onvriendelike opmerking oor die vroue teruggetrek” (Botes 2005).
MER het “as verdediger van vrouebelange”
[...] te velde getrek teen sake soos ongelyke salarisse vir mans en vroue en ook teen optredes wat vandag belaglik lyk, soos die voorstel van ’n kerklike liggaam wat wou hê dat vroulike onderwysers afgedank word as hulle in die openbaar rook. (Rautenbach 2003:70)
Dié bevryder van vroue het self agterop ’n foto van haar met ’n fiets, in ’n tyd toe vroue nog nie algemeen motor bestuur het nie, geskryf: “Die fiets was die groot bevryder – vir die eerste keer kon ’n vrou sonder geleide van ’n man êrens kom.” MER het in ’n stadium as jong vrou elke dag 20 km met ’n fiets gery om te gaan skoolhou.
Louis Hiemstra, Die Burger se taalredakteur, het in die huldigingsbundel MER 100 geskryf dat as “die jong manne” by Die Burger soms gedink het dat sy die feminisme “’n bietjie te dik” aanmaak, hulle nie “bra ’n antwoord op haar streng beredeneerde betoog” kon vind nie (Hiemstra 1975:66). In die tydskrif Sarie (toe nog Sarie Marais) het sy in 1950, op die ouderdom van 75, geskryf dat dit nie ’n geval is van vroue wat “soos sommige mans beweer – ’n windmeul soek om te bestorm nie” (MER 1950). Sy skryf: “Solank die mans […] vir vele duisende vroue vir dieselfde werk minder betaal as vir die mans – hoe kan ons oortuig word dat ons met ’n windmeule te doen het?” Later het sy in haar outobiografie na een van haar rubrieke uit 1922 verwys: “Baie mense is geneig om die hele vrouebeweging as sondig te bestempel. Maar dit is nie; dit is net so min sondig as die oorloop van ’n dam wat te vol geword het” (MER 1972:211).
As “vroueredaktrise” het MER op verskeie terreine pionierswerk gedoen. Een daarvan was as kampvegter vir bewaring. In die Steyn-biografie (2004:146) word verwys na hoe sy haar redaksionele kolomme gebruik het om die bewaring van fynbos in die Wes-Kaap te bevorder:
Om die kweek van veldblomme aan te help, het sy met ’n ruilkolom uitsluitend vir Suid-Afrikaanse veldblomme begin. “As daar dan, net om ’n voorbeeld te gee, ’n vrou is wat in ’n vygiewêreld woon, sê bv Ladismith of Montagu se distrik, en sy wil klossiebolle, of gousblomplantjies hê, sê nou van Tulbagh, of tjinkerintjees [sic] van Darling, dan skryf sy aan ‘Vrouesake’ [...] en sy sê wat sy wil hê, en wat sy daarvoor in ruil sal gee. Dan gee ons van tyd tot tyd in hierdie kolom ’n lys van name, met melding van wat verlang word en wat aangebied word.”
Dieselfde het gegeld vir taal en kultuur. By Die Burger moes MER kreatief wees – ook met die Afrikaanse taal wat in die eerste paar jaar van haar tyd by die koerant nog nie amptelike status gehad het nie. So het sy die woord “toebroodjie” vir sandwich uitgedink (MER 1972:208). “Ek het gedink aan ‘toe tertjie’ teenoor ‘oop tertjie’ en toe maar die toebroodjie-woord in my artikels gebruik. Dit het posgevat. Almal was bly om ‘sandwich’ na sy eie taal te laat vaar.” Sy het lesers aangemoedig om die geskiedenis – tasbaar en ontasbaar – te bewaar.
Hoewel Die Burger se vroueblad natuurlik ruimte aan modes gegee het, het MER tog “sporadies” “anti-mode-praatjies” laat verskyn. Van Reenen het dit later beskryf as dat MER “soos ’n fris veldwind die chifonnetjies en violetjies kom deurmekaar jakker” het (Steyn 2004:149).
As joernalis het MER ’n tradisie van uitnemendheid vir vrouejoernaliste begin en “die standaard gestel” vir almal wat ná haar gekom het, soos in die woorde van die digter WEG Louw: “Daar is maar een soos sy. En sy is volgens elke maatstaf wat ek ken, ook gróót” (Van der Vyver 1987a:81).
Dis vanselfsprekend dat sy ’n groot invloed sou hê op die geslag vrouejoernaliste ná haar. Sy was inderdaad ’n mentor vir haar “Kaapse kinders” (Rabe 1985:110). Onder hulle was Van Reenen, Alba Bouwer, die eerste vroulike adjunk-redakteur van ’n tydskrif in die Naspers-stal, Sarie (Marais), en Audrey Blignault, wat jare lank ’n rubriek in dieselfde tydskrif geskryf het. Die skrywers Hendrien Lambrechts en Elise Muller was ook deel van die groep.
Steyn (2004:419) skryf dat sy “verwante geeste ‘soos ’n magneet’” aangetrek het. Teen die einde van haar lewe, skryf hy, het MER gesê dat daar in die werk van hierdie “skryfsters” en haar eie ’n “sekere ‘enersheid’ is”. “Nie eners van rigting, of soort of onderwerp of kwaliteit, of styl, of behandeling nie. Miskien darem van inspirasie – ja, miskien: ons land, ons mense?” Sy meen egter nie dat sy “vir die jonges iets vormend vir hulle kuns” kon gee nie: “[E]k was maar nooit gesaghebbend nie. Nie oor skrywers nie, nie oor volkswerk nie.” Steyn skryf dat dit háár siening was, want die “Kaapse kinders” sou “stellig met haar verskil het, want hulle het inderdaad van haar geleer”. Dié geslag jonger joernaliste het ’n noue professionele en vriendskapsband met MER gehandhaaf. Dit was belangrik dat sy hulle werk moes “sanksie” (Steyn 2004:551), soos blyk uit die korrespondensie tussen MER en Bouwer oor laasgenoemde se Stories van Rivierplaas, en Van Reenen se verligting toe MER haar manuskrip vir die Hobhouse-biografie goed gevind het.
Haar invloed was nie net in persoon nie, maar selfs in die boodskappe wat sy aan hulle per brief gestuur het (MER-Versameling). So ’n voorbeeld van aanmoediging vanuit Swellendam, waar die afgetrede MER weer permanent gaan woon het, blyk uit ’n brief in 1956, gedateer 31 Mei, aan Van Reenen. Terwyl sy bedlêend was as gevolg van ’n seer rug, skryf MER,
[...] het ek baie by julle in die gedagtes gewees – jou en Alba en Audrey en Elise en Hendrien en Tappie [Bruwer]. En met plesier gedink aan die erkenning en vreugde wat julle in julle werk kry: en dit vergelyk met die posisie van sulke jong vroue van my tyd.
Tot teen die einde van MER se lewe het die band tussen haar en haar “Kaapse kinders” gebly (MER-Versameling). Op 22 Februarie 1972 skryf die toe 97-jarige:
Daar is iets wat ek aan my 5 “Kaapse kinders” wil sê voor die weggaan – 4 skrywer [sic] en 1 ACVV [sic]. Julle is almal baie jonger as ek maar moet tog nie dink dat ek meen dat ek die beterweter is nie. Wat ek by julle 5 gekry het, (so in die aanvangperiode van Afrikaans as skryftaal) was ’n soort eensgesindheid in die optree as skrywers. Dit het vir my so veel [sic] beteken: ek is deel van lewensuiting, van ’n groei van iets onmisbaar en gesond in die eie volk – ek saam met julle. En dat ek vir hierdie strewe so op julle 4 [sic] kon reken.
Wat MER se spesifieke soort joernalistiek betref, en hoe daardie benadering op haar “Kaapse kinders” sou afgee, kan gedebatteer word. Steyn skryf (2004:149):
Die Burger en die ander Afrikaans-nasionale koerante het saam met die Nasionale Party gestry om die Afrikaner van politieke en kulturele verswelging deur die Engelse kultuur te red. Die party, as politieke instrument van die Afrikaanse beweging, kon op meer as gewone lojaliteit staatmaak.
Oor die joernalistiek self het MER reeds in 1924 geskryf (in Steyn 2004:149):
Ons Afrikaners verstaan die joernalistiek nie soos die ander nasies nie. Vergelyk maar Die Burger met die Argus en die Cape Times. Ons volk is so klein en ons is so gebonde aan hulle nieteenstaande al ons twis en rusie onder mekaar dat die koerant altyd ’n persoonlike gevoel weergee. Jy wat skryf, is altyd bewus van jou lesers. Jy sien voor jou dié en dié wat jy ken, en jy vertel hulle dinge of jy bespreek met hulle ’n saak. Ek meen dat dit die groot waarde is van ons eie Nasionale blaaie – eie taal, eie sake, eie grappe, eie mense, eie swaar, eie rusies, dit is wat hulle weergee, en kan in geen skool geleer word nie [...] By ander koerante is dit nie die geval nie.
Hieroor het Krog (2014) geskryf dat hierdie benadering as problematies gesien kan word, maar dat dit vir haar juis “a deep desire” aantoon om ’n soort joernalistiek te ontwikkel en te bedryf “that would restore and lift up a devastated and downtrodden people”.
Steyn het ná sy MER-biografie gesê dat sy hom as onderwerp aangetrek het omdat “sy so ’n sterk Afrikanernasionalis was, maar terselfdertyd ’n dissident wat verskeie kere met die Nasionale Party verskil het” (Rautenbach 2003:70). Tog skryf Aucamp (2004:11) dat sy juis nie daardie finale “kwantumsprong” gemaak het nie. Hy het gemeen: “Veral op politieke gebied sal daar vrae en bedenkinge wees oor wat MER as die politieke koers van die Afrikaner gesien het. […] Soos van ’n denker van formaat verwag kan word, het ook MER vrae gehad oor die politiek van haar groep.”
Sy het tog aan haarself die kritiese vraag gestel: “Wat is nou eintlik hierdie Afrikanerskap dat ek so baie waarde daaraan heg?” Aucamp (2004:11) verwys daarna dat dit
[...] presies die vraag [is] wat N.P. van Wyk Louw stel in die proloog tot Die pluimsaad waai ver, maar anders as MER is hy hom pynlik bewus daarvan dat ’n volk ’n heterogene groep is, bestaande uit elke denkbare slag mens, en talle onder hulle tot verraad in staat. P.A. Joubert som MER uitstekend op waar hy sê dat sy vir haar tyd die “ideale” Afrikaner kon voorhou.
Aucamp (2004:11) verwys na Petra Müller, soos MER ’n Swellendammer van geboorte, wat in ’n gesprek aan hom gesê het MER het “in haar lang lewe, van armmanskind tot nasionale besit, telkens ‘kwantumspronge’ uitgevoer”. Maar, skryf Aucamp, die “finale kwantrumsprong, dié na ’n veelrassige, veelkulturige bestel, het sy na my mening nie kon uitvoer nie”. MER het wel ’n unieke tydvak van die “wordingsgeskiedenis” van die Afrikaner beleef.
Vroeër het Aucamp (1977:9) geskryf hy beskou die bundel ’n Kosbare erfenis as “’n sosiologiese kortbegrip van die Afrikaner” en dat in MER “dekades van volkswording” saamgetrek kan word. MER self is só aangehaal:
Ek dink soms dat die tydperk wat ek beleef het (vanaf 1875) die interessantste is – die wordingstydperk van ons taal as werktuig, die mondig word op politieke gebied; die eenheidsvorming, maar dan sien ek dit is maar die voorbereiding van die volgende stadium, die skikking tussen die bevolkingsgroepe.
Steyn beskryf haar as “’n verligte moderne mens” (in Botes 2004). Hy noem haar “verdraagsaamheid” teenoor ander, insluitend ras, godsdiens en taal. In die konteks van haar tyd: “Sy het byvoorbeeld baie Rooms-Katolieke vriende gehad – geen vrees vir die ‘Roomse gevaar’ wat die ouer generasie tog so gekwel het nie.” Sy was “sterk gekant” teen baie apartheidswette. In die konteks van haar tyd, was haar “vrydenkerskap” ’n teken van hoe onafhanklik en “vrysinnig” – Steyn se woord – sy was deurdat sy nie ’n ortodokse Christen was nie. Háár soort nasionalisme het nie na die onderdrukking en nadeel van ander gestrewe nie, sê Steyn. Hy haal MER aan waar sy geskryf het: “[…] waar ons Afrikaanse Nasionalisme die onderdrukking van ander groepe of individue soek, daar soek hy sy eie nadeel wat ook tot sy verderf sal lei. Die gesonde Nasionalisme soek dit nie.”
Die gevolgtrekking oor MER se rol as pionier is dat sy nie net gemeet word “aan die baanbrekerswerk wat sy vir vroue gedoen het nie, maar ook aan die feit dat sy volgens elke maatstaf ’n merkwaardige verslaggewer was” (Van der Vyver 1987a:93).
MER het in 1928 uit Die Burger se redaksie bedank om ’n heeltydse organiseerder vir die ACVV te word. Buiten haar oeuvre van joernalistieke en ander skryfwerk, het sy vir ander erflatings gesorg, soos haar werk vir die Carnegie-Kommissie.
In 1953 is MER bekroon met die Hertzogprys vir prosa, in 1961 met die Scheepersprys vir jeuglektuur en in 1970 met die Tienie Holloway-medalje vir kinderlektuur. Sy het eredoktorsgrade van die Universiteit Kaapstad (1951) en UNISA (1973) ontvang (Krog 2014).
5.2. Rykie van Reenen
Die tweede vrouejoernalis op wie hierdie artikel as voorloper fokus, is Rykie van Reenen.
In ’n sekere sin het Van Reenen die natuurlike “opvolger” van MER as ikoniese Afrikaanse vrouejoernalis geword – insluitend in die sin van wat hulle belig het en hoe dit belig is. Johannes Grosskopf (1986), toe professor in joernalistiek aan die US, het byvoorbeeld in sy motivering vir die eredoktorsgraad aan Van Reenen geskryf dat, soos vir MER, landsake vir Van Reenen “van sentrale belang” was.
Van Reenen, gedoop Rykie van der Bijl van Reenen, is op 31 Desember 1923 gebore (Rabe 2011:3). Haar ma was Hester van Velden, noemnaam Hetta, en haar pa Daniel Jakob Samuel van Reenen, noemnaam Dan. Sy het op die Van Reenen-familieplaas Waterkloof in die Darling-distrik grootgeword. Van Reenen se doopname kom van haar Van Velden-ouma. Dié ouma was Rykie Hester, ’n gebore Van der Bijl, waarvan Van Reenen se doopname afgelei is (A Louw-Versameling).
Van Reenen se ma is met die geboorte van haar tweede kind, ’n seuntjie wat doodgebore is, oorlede (Louw 2005). Die tweejarige Rykie is eers deur familie versorg, waarna haar pa met haar ma se suster, Bettie, getrou het om vir die klein dogtertjie “’n ma te gee” (De Villiers 2009). Van Reenen se pa was “held nommer een” in haar lewe (Bouwer 1966). Volgens Bouwer was MER die persoon wat naas haar pa die grootste invloed op haar lewe gehad het.
Annatjie Louw, dogter van die joernalis Schalk Pienaar en sy vrou Antoinette, gebore Webb, ’n niggie van Van Reenen, is ’n peetkind van Van Reenen en het ná Van Reenen se dood die geleentheid gehad om ’n dagboek wat Van Reenen as kind en jong meisie gehou het, te lees (A Louw-Versameling). Hoewel dié dagboek om privaatheidsredes nie vir navorsing beskikbaar was nie, gee Louw se insig en mededelings uit die dagboek tog iets weer van wat daarin opgeteken is. Louw: “Ek het die dagboek (in omgekrulde tipiese skool-oefeningboekie-staat) in een nag deurgelees. Was vir my soos ’n storieboek en het kosbare insig gegee in die mens R. en die ontwikkeling van haar denke – en skrywe [...].” Louw beskou die plaas Waterkloof as ’n leitmotiv in Van Reenen se lewe. “Dit blyk uit haar dagboek ook.”
Vir Louw was dit nie vreemd dat die Afrikaanse plaaskind haar dagboek in Engels geskryf het nie. Die laaste inskrywing was in Desember 1938 as amper 15-jarige toe sy op Darling klaargemaak het, voor haar laaste twee skooljare op Malmesbury (A Louw-Versameling). Van Reenen het geskryf (A Louw-Versameling): “And thus closes 1938 […] with it an epoch in my life […] finished at Darling. The dawn of a new era opens up before me […] I face the future defiantly. What does the world face in this new 1939? Peace? War?” In groen ink het sy bygevoeg: “War, sweetheart, sure!”
Van Reenen het grootgeword met die verantwoordelikheid dat sy as enigste kind ’n familieplaas sou erf (A Louw-Versameling). Sy het haar pa “verafgood”. Daar was, volgens inligting, nie eintlik ’n intieme verhouding tussen stiefma en kind nie, hoewel Van Reenen haar stiefma tot haar dood in die 1960’s versorg het en baie lojaal was aan haar.
Die skrander Van Reenen was tweede in Suid-Afrika in die Junior Sertifikaat-eksamen (die ou st 8, nou gr 10) en het selfs Die Burger gehaal onder die opskrif “Darling trots op skooldogter” (A Louw-versameling). Dit verwys na Van Reenen, wel as “Van Renen”, as ’n “14-jarige dogtertjie”. Hoewel Van Reenen se pa toe reeds met sy eerste vrou se suster getroud was, is daar geen melding van haar stiefma in die berig nie – wel ’n verwysing na haar biologiese ma. Van Reenen het op 16 matriek geskryf, hoewel sy kort daarna, op 31 Desember 1940, 17 geword het (Van Niekerk 2009).
Van Reenen het in 1943, op ouderdom 20, ’n graad in tale aan die US verwerf (Van der Vyver 1987a:128). Haar meestersgraad in Engels het twee jaar later gevolg. Sy het albei grade met lof geslaag (“Journalist of renown ...” s.j.). Sy sou, in die tyd toe sy haar familieplaas probeer red het, as Latyn-onderwyser aan die Hoërskool Malmesbury onderwys gee (Rabe 2011:19). Die “bekende Grieks-professor aan die US, professor C.S. Edgar”, het haar probeer “oorhaal” om dosent te word, “maar haar kop het reeds na die joernalistiek gestaan” (Van Niekerk 2004).
Van Reenen het wel as skoolmeisie nooit gedink sy sou joernalis of boer word nie (Van der Vyver 1987a:128). “In daardie dae het ’n meisie verder geleer om verpleegster of onderwyseres te word.” Buiten dié keuses was daar nog een: om “’n boer se vrou” te word. Van der Vyver skryf die “jong Rykie het geweet sy wou geeneen van dié wees nie”. Volgens Louw was daar reeds as skoolkind bewys van Van Reenen se joernalistieke vermoë om waar te neem (A Louw-Versameling). Die jong Rykie skryf byvoorbeeld hoe hulle “hollerste bollerste” iewers heen vertrek het. Haar waarnemings- en beskrywingsvermoë blyk uit ’n beskrywing van ’n nagmaaldiens waar sy elke nuanse van die nagmaalgangers sien – die ouderlinge gebruik die geleentheid om ’n “goeie sluk lekker soetwyn” “weg te slaan”, en daar is dié wat kastig ’n suur gesig trek “om ’n goeie indruk te maak”. Haar eie styl is reeds as skoolkind teenwoordig. Ná haar musiekeksamen, góéd geslaag, skryf sy oor die volgende verskrikking: “Maar, laat ons eet en drink en vrolik wees, bekoswaai, Maandag skryf ons kwartaalse [kwartaallikse] eksamen.” Tog het sy toe reeds haar “teikenmarkte” geken. Oor haar opstelle op skool skryf sy:
As jy goeie merke by Onkel [onderwyser se bynaam] wil hê, prop net die hele opstel vol van hoogdrawende byvoeglike naamwoorde, skryf dramaties (!), en maak die opstel lank [twee keer onderstreep]. Dan kan jy sien – dan kom die merke sommer so sit-sit aangewaai!
Marcha Schoeman (getroud Hartwig) was saam met Van Reenen in die universiteitskoshuis Huis ten Bosch. Sy was van 1941 af “correspondent” vir Die Burger op Stellenbosch. Toe Schoeman in 1943, met ’n MA in Engels, in Die Burger se vroueredaksie aangestel is, het sy Van Reenen omgepraat om haar op te volg as universiteitskorrespondent (Van der Vyver 1987a:128). Van Reenen het blykbaar so ’n indruk gemaak dat die redakteur haar gewerf het as redaksielid.
In April 1945, nadat sy haar MA behaal het, het sy ná ’n “uitnemende akademiese loopbaan aan die US” by Die Burger begin werk (“Van Reenen, Steyn en …” 1986:7). Van Reenen en Schoeman was toe saam in die vroueredaksie (Van der Vyver 1987a:129). Saam het Van Reenen en Schoeman op ’n “nuwe manier” gerapporteer. Die “sosiale rubriek”, “In gesellige luim”, het hoofsaaklik uit “troues en nogmaals troues” bestaan. Besonderhede oor die bruid, die bruidegom, die gevolg, die gaste is breedvoerig bespreek. Van der Vyver (1987a:129) skryf: “Verdere afwisseling is verskaf deur ’n ‘wedstryd’ tussen haar en Schoeman – met ’n tiekie as prys – vir die oorspronklikste manier om ’n trouberig te begin.” Een voorbeeld van so ’n inleiding, soos deur Van Reenen aan Van der Vyver vertel (1987a:129), was vir die dubbele bruilof van twee susters wat met ’n Isak en ’n Jakob getrou het. Dit het só gelui: “My naam is Abraham. Ek kan dus natuurlik nie weier om my dogters af te staan aan ’n Isak en ’n Jakob nie, het mnr […] by die bruilof van twee van sy dogters [gesê].”
Van Reenen het gou gewys dat sy nie tot die “vrouebladsye” beperk kon word nie. Sy het uit die “ghetto” ontsnap en is in die algemene nuuskantoor as algemene verslaggewer aangestel – die eerste vrou wat dit kon regkry. Van der Vyver (1987b:7) skryf in ’n artikel in Die Burger na aanleiding van haar navorsing
[...] die eerste dertig jaar van Die Burger se bestaan het alle vroulike redaksielede by die vroueblad begin – en geëindig. Rykie van Reenen, wat in 1945 soos al die vroue vóór haar by die vroueblad begin werk het, was die eerste een wat dit reggekry het om in ’n ander afdeling van die koerant aangestel te word.
In ’n koerantwêreld wat deur mans oorheers is, het “sy trappie vir trappie haar weg gevind” (“Die woordewêreld van ...” s.j.). Soos sy self in 1979 geskryf het (aangehaal in Rabe 2011:63):
Dit was iets van ’n evenement toe die nuusredakteur op ’n dag die stoutmoedige stap neem en my uit die vroueredaksiekantoor pluk en uitstuur op ’n storie vir Algemeen. Dit was, onthou ek, oor die seisoenverskynsel van vismotte en die omvang van die skade wat hulle in die landsekonomie aanrig. Die volle verantwoordelikheid vir ’n tengere vrou om daardie vername terrein te betree, was vir my die dag duiselend na aan oorweldigend. Ek verbeel my ek het voorblad gehaal, mind you.
Selfs in die vroeë 1950’s nog was die mening van Markus Viljoen, ’n vooraanstaande Afrikanerredakteur, dat vroue se rol in die Suid-Afrikaanse joernalistiek beperk is tot vrouesake – “soos teepartytjies” (Viljoen 1953:28). Viljoen het vir groot vernuwing binne die Afrikaanse joernalistiek gesorg (Rabe 2011:54–5). Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se medalje vir joernalistiek is na hom vernoem – Van Reenen sou later die eerste vrouejoernalis word om die medalje te ontvang (Rabe 2011:133). Viljoen het wel erken dat vroue in die buitelandse joernalistiek ’n “groeiende” rol het. Tog sou sy vernuwende benadering nie vroue in die Suid-Afrikaanse nuuskantoor insluit nie, want, het hy geskryf, sou vroue “ernstig” wees oor ’n loopbaan in die joernalistiek, kan “[o]ok by ons [...] die vrou ’n belangrike rol in die joernalistiek speel, maar dan moet sy bereid wees om dit as lewensberoep te beskou en nie net as interessante tydelike baantjie nie”. Die feit dat ’n “tydelike baantjie” nie die gevolg van vroue se eie keuse was nie, is blykbaar nie verreken nie – soos Van der Vyver (1987a:95) die kwessie opsom.
Van Reenen was in haar tyd as Die Burger-redaksielid tussen 1945 en 1965 verbonde aan die naweekpublikasie Die Byvoegsel, die algemene nuusredaksie, die sportkantoor (“al om die ander naweek”), en die kunsredaksie (vóór en saam met WEG Louw) (Van der Vyver 1987a:131). Sy was “aan die hoof van Die Klein Burger, waar haar groot liefde vir kinders haar goed te pas [ge]kom [het]” (Voigt 1995). Haar eerste rubrieke vir “Van alle kante” is in 1960 geskryf – ’n omgewing waarin sy kon “inweeg” in ’n nis waarin sy haar by uitstek kon bewys, naamlik as rubriekskrywer. Dis waar “haar fyn waarnemingsvermoë en haar selfs fyner uitdrukkingsvermoë” tot hul reg gekom het (Voigt 1995).
Haar eerste bydraes tot ’n bundel was in Die dammetjie en ander sketse en essays wat in 1962 gepubliseer is (Blignault, Bouwer, Linde, Muller en Van Reenen 1962).
Van Reenen se uitbeweeg uit die vroueredaksie en “inweeg” in ’n toe nog manlike joernalistieke liga het bygedra tot die feit dat sy vandag beskou word as die tweede “professionele” Afrikaanse vrouejoernalis naas MER (Rabe 2011). MER het egter uit die joernalistiek getree en nie as joernalis afgetree nie, hoewel sy tot ’n hoë ouderdom bly skryf het. MER het as joernalis nooit uit die vroueredaksie beweeg nie. Van Reenen kan dus in alle opsigte as ’n pionier beskou word – veral haar rol in die politieke joernalistiek, die wetenskapjoernalistiek, en die kerkjoernalistiek.
Toe Van Reenen in die “middeljare 40 van die vorige eeu” begin werk het, was Die Burger “die besit van wit, manlike Afrikaners, konserwatief, goed opgeleide en onderlegde beroepsjoernaliste” (Vosloo 2009). In “dié paternalistiese, konserwatiewe omgewing” was loopbaangeleenthede in die Afrikaanse joernalistiek by uitstek tot die manlike geslag beperk. Selfs al sou ’n vrou ’n ander afdeling as die vroueafdeling verkies, is die keuse haar nie gebied nie (Van der Vyver 1987a:115). Hoewel die vrouebladredaksielede vir algemene nuuswerk gebruik is as gevolg van ’n tekort aan mans, was dit “ondenkbaar” dat hulle in die algemene redaksie aangestel kon word want ’n vrou kon nie “na enigiets gestuur word nie”, nie na die hof of na ander “minder aangename” stories nie.
Buitendien, om te kon vorder op die loopbaanleer in die joernalistiek, moes jy ’n tyd in die nagkantoor deurgebring het – en vroue is nie daar toegelaat nie (Van der Vyver 1987a:95) – “selfs al sou sy, soos Rykie van Reenen, haar bereid verklaar het om in die nag te werk”.
Die evolusie van die Afrikaanse vrou in die joernalistiek kon gesien word op Die Burger se vroueblaaie: Die werkende ongetroude vrou was in die tyd van byvoorbeeld redaksielid Aletta Steyn aanvaarbaar, maar die werkende getroude vrou was ’n “twisappel” (Van der Vyver 1987b:7). Hulle is vanselfsprekend minder betaal as hul manlike kollegas. Dit was aanvaarde gebruik dat wanneer vroulike redaksielede, reeds beperk tot die vroueblad, trou, hulle outomaties bedank, iets wat dekades lank die geval was (Van der Vyver 1987a:95). Die amptelike beleid was dat getroude vroue nie in die redaksie “hoort” nie, selfs nie in die vroueredaksie nie.
Van Reenen se joernalistieke loopbaan is vir ’n kort ruk in die 1950’s onderbreek toe sy op die familieplaas moes gaan boer, maar steeds vryskut-bydraes gelewer het (Van der Vyver 1987a:131). In dié tyd het sy om den brode as Latyn-onderwyser op Malmesbury skoolgehou (Van Niekerk 2004). In persoonlike korrespondensie is daar verwysings na dié fase in Van Reenen se lewe. In ’n brief aan Van Reenen, gedateer 27 April 1952, skryf MER aan haar oor die “verlies” vir die joernalistiek (MER-Versameling). MER verwys dan na vryskut-moontlikhede wat redakteur Phil Weber hopelik vir haar reël: “Maar Phil het seker met jou vir los werk gereël: en jy sal ook nie jou hande daarvan kan af hou nie.”
Van Reenen het haar reeds weer in 1957 by Die Burger se redaksie aangesluit (Steyn 2002:84). Erika Theron het ’n mening daaroor gehad. Sy skryf op 24 Januarie 1957 aan Piet Cillié: “Baie bly oor W.E.G. Louw se artikels, maar net so bly is ek dat Rykie van Reenen weer by ‘die Burger’ is. Sy is ’n joernalis honderd – pas haar mooi op!” (PJ Cillié-Versameling). Later, met die publikasie van die Theron-Kommissie in die 1970’s, sou Theron ’n eksemplaar aan Van Reenen gee met die inskripsie “Aan my ‘Wapenbroeder’” (Theron 1976).
In Junie 1958, hoewel sy toe reeds heeltyds terug by Die Burger was, maar nog voortgegaan het met die boerdery, skryf Van Reenen aan haar vriende en kollegas Danie en Anneke van Niekerk, toe in New York gebaseer: “By my op die plaas gaan dit vreeslik groen en taamlik goed” (Van Niekerk 2009). Die volgende paragraaf gaan egter voort met: “Finansieel gaan dit natuurlik nie so erg klopdisselboom nie. Eheu.”
In 1965 was Van Reenen een van ’n “uitverkore” groepie wat in ’n verdeelde Suid-Afrika, insluitend tussen wit Afrikaners noord en suid van die Vaalrivier, ’n nuwe taak gekry het: Sy was onder die met die hand uitgesoekte joernaliste wat Die Beeld, Nasionale Pers (toe Naspers, nou Media24) se eerste Sondagkoerant, moes vestig (Vosloo 2004a:46). Sy is saam met Piet Cillié en Schalk Pienaar beskryf as een van “die uitnemende troika van die Afrikaanse joernalistiek” wat dié beroep op ’n nuwe vlak bedryf het. As lid van die pioniersgroep joernaliste uit die “liberale Suide” wat ’n “liberale” Afrikaanse koerant in die destydse Transvaal moes begin, het Van Reenen haar post-1965 laat geld en landwyd ’n huishoudelike naam geword.
Die Beeld het in 1970 as die geamalgameerde Sondagblad Rapport voortgegaan toe Dagbreek, die destydse Perskor-Sondagblad, en Die Beeld saamgesmelt het (Rabe 2014:26). Die Beeld sou later herleef in Naspers se noordelike dagblad, Beeld. Van Reenen was in 1970 lid van die stigtingsredaksie van Rapport, en is in 1973 tot assistent-redakteur bevorder (“Vrou ‘baas’ van ...” 1974). Sy was die eerste vrouejoernalis by enige Suid-Afrikaanse media-instansie wat tot dié vlak bevorder is. Die daaropvolgende jaar reeds was sy vir vyf weke waarnemende redakteur – weer eens die eerste keer dat ’n vrou op daardie vlak in die Suid-Afrikaanse media kon werk. Daarna het sy etlike kere as redakteur waargeneem wanneer die redakteur uitstedig was. Elsa Joubert (2009:388) skryf dat dit “destyds ongehoord” was vir ’n vrouejoernalis om tot die vlak van “senior assistent-redakteur” van ’n koerant te vorder. Boonop, soos Joubert dit stel: Dit was nadat Van Reenen haar “naam in die eens vyandiggesinde Transvaal gevestig” het.
Volgens ’n koerantberig met die aankondiging van haar eredoktorsgraad, waarin vermeld word dat sy reeds in 1974 vir die eerste keer as redakteur waargeneem het, was dit “’n ope geheim dat, as sy maar wou, sy die eerste vroulike redakteur van ’n belangrike koerant in Suid-Afrika sou gewees het” (“Rykie met graad ...” 1986:7). Haar statuur in die joernalistiek is onder meer erken toe sy in 1975 genooi is om ’n uitgebreide reis na die VSA te onderneem as lid van die “USA-SA Leadership Exchange Program”.
Vosloo (2004a:46–8) meen dat die invloed van beide Die Beeld en Rapport ’n groot katalisator vir verandering binne die Nasionale Party-regering was en dat dit “met veiligheid gestel [kan] word” dat dit een van die belangrikste bydraende faktore was vir die “vreedsame revolusie” wat tot ’n demokratiese Suid-Afrika gelei het.
’n Bundel met “Op die Randakker”-rubrieke wat in Die Beeld en Rapport verskyn het, is in 1980 gepubliseer. Dié tydlose bundel getuig van Van Reenen se slag om Afrikaans te laat “tango, twist én tiekiedraai” (Rabe 2015), selfs te laat “rock en rieldans, te laat kwaito en kwêla, te laat two-step en […] ja, selfs te laat twerk”.
Gedurende Van Reenen se loopbaan het sy haarself nie net as ’n besonderse rubriekskrywer met ’n unieke stem gevestig nie, sy het ’n pioniersrol gespeel in ander hoedanighede. Sy was selfs een van die eerste Suid-Afrikaanse vroulike oorlogsjoernaliste (indien nie die eerste nie), én spesialis in diepteverslaggewing, profielskryf, kerksake- en wetenskapverslaggewing (Rabe 2011:70–7).
Van Reenen het ’n belangrike bydrae gemaak tot die vestiging en aanvaarding van vroue in die nuuskantoor en die professionalisering van vrouejoernaliste (Rabe 2006a). ’n Mens kan die stelling maak dat Van Reenen se kritiese ingesteldheid teenoor die samelewing ’n vroueregtebewussyn by haar gekweek het waarvolgens sy dit as “vanselfsprekend” beskou het dat vroue as mans se gelykes behandel moet word. Reeds as 18-jarige eerstejaarstudent op Stellenbosch het sy ’n reël in ’n boek oor “extending the rights of women” onderstreep en ’n uitroepteken in die kantlyn daarby gevoeg (A Louw-Versameling). Caryn Voigt (2009), wat as studentejoernalis in 1995 twee uur lank met Van Reenen ’n onderhoud kon voer vir haar diepteprojek in haar honneursjaar, het geskryf dat sy die indruk gekry het dat
[...] sy net haar werk wou doen en dit goed wou doen, en dat sy haarself nie elke liewe dag die vraag afgevra het hoeveel glasplafonne sy moes deurbreek om haar dagtaak te vervul nie. Sy wou bloot ’n goeie joernalis wees. En in daai jare het dit noodwendig beteken dat sy die tradisionele professionele grondgebied van die man sou moes betree en inneem, maar my indruk van haar was dat sy nie willens en wetens daarop uit was om uitsluitlik dít te doen nie. [...] Ek dink nie sy sou wou hê dat die feit dat sy ’n vrou was haar prestasies of nalatenskap moes definieer nie.
Audrey Blignault en haar man Attie de Villiers (2006) het gemeen dat haar werk wel “’n element van feminisme” gehad het, onder andere deur haar vriendskap met pionier-medikus Petronella van Heerden, “wat ’n uitgesproke feminis” was, en met MER, wat “’n sterk feministiese streep” gehad het. Van Heerden was die eerste Afrikaanse vrou wat ’n mediese dokter geword het en daarna die eerste Suid-Afrikaanse vrou wat ’n ginekoloog geword het.
Dat Van Reenen beslis ingestel was op vroue en vroueregte was eintlik vanselfsprekend, soos blyk uit die twee boeke oor ’n vrouefiguur wat klaarblyklik ’n groot indruk op haar gemaak het: Emily Hobhouse, menseregte-aktivis uit die SAO (Van Reenen 1970; 1984). ’n Mens kan sê dat vroueregte vir Van Reenen so natuurlik was soos asemhaling – iets wat nie bewustelik gedoen word nie, maar noodsaaklik is vir oorlewing. Van Reenen se werk het direk en indirek vroue bevorder. Sy was samesteller en voorwoordskrywer van verskeie bundels, soos ’n bloemlesing met die briewe van MER, ’n Kosbare erfenis, wat in 1977 uitgegee is.
Toe Van Reenen weens mediese redes as gevolg van meervoudige sklerose, wat eers later gediagnoseer sou word, moes aftree, het sy aangebly as kerksakeverslaggewer vir die koerante van die Nasionale Pers-groep (Grosskopf 1986). In 1981, op ouderdom 58, het sy egter finaal uit die aktiewe joernalistiek getree. Kaapstad was, naas die Weskus, Van Reenen se tuiste. Hier het sy reeds vantevore met Jansje Wissema in die pragtige “Eduardiaans-Kaapse Taunton Cottage” in Hofstraat ’n huis gedeel (Rabe 2011:302), en in die suidelike voorstede van Kaapstad ’n huis met Nan (Petronella) van Heerden en Freddie Heseltine. Met haar aftrede het sy ’n huis aan Waterlooweg in Wynberg se Chelsea-area met Jean van der Poel gedeel.
In 1982 het Van Reenen die Markus Viljoen-medalje vir haar bydrae tot die joernalistiek van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang, die eerste vrou wat dié prestasie behaal het (Rabe 2011:229). In dié tyd het sy gewerk aan die omvattende bundel briewe van Hobhouse, Emily Hobhouse: Boer War letters. Dit is met die Recht Malan-prys vir nie-fiksie, asook die Ou Mutual-prys bekroon.
Van Reenen was nie alleen stigterredaksielid van Die Beeld en Rapport nie, maar van ’n invloedryke en progressiewe tydskrif, Die Suid-Afrikaan (Slabber 1984:14). Daar is geskryf dat “manne, en ’n vrou” wat “op die voorpunt van die Afrikaanse (en Suid-Afrikaanse) denke en menswees” is, dié blad gestig het. Die redaksie is beskryf as van die “skerpste en mees progressiewe denkers in die Afrikaanse geesteswêreld”. Van Reenen het onder meer ’n rubriek met die naam “’n Woordjie uit Waterlooweg” geskryf.
’n Eredoktorsgraad van haar alma mater, die US, is in 1986 aan haar toegeken as erkenning “van ’n besonderse joernalis en mens wat ’n besonderse bydrae tot Suid-Afrika gelewer het” (Grosskopf 1986). In 1988 (Voigt 1995) het Van Reenen saam met haar lewensmaat Judith Wurtzel van Wynberg na Yzerfontein, haar “Weskus-wortels se strand” (Vosloo 2004:46), getrek. In die woonkamer was ’n vergroting van die Jansje Wissema-portret van “Rykie se kombuis” op Waterkloof (Van Niekerk 2009). Aan die straatkant is later ’n afrit gebou sodat Van Reenen met haar “Blaue Engel”, haar rystoel, tot by hulle motor gestoot kon word.
In 1990 is die Rykie van Reenen-huldigingslesing aan UNISA ingestel ter herdenking van die 21ste bestaansjaar van dié universiteit se Departement Kommunikasiekunde (Fourie 2009). In dié tyd het sy veral as boekresensent ’n waardevolle bydrae tot die Afrikaanse joernalistiek gemaak. Haar stukke is as “juwele” beskryf (Wiese 2009). In 1995 was sy redakteur van ’n bloemlesing van Alba Bouwer se toesprake, Die lang reis van hart tot hart. In 1999 is die genootskapspos aan die US se Departement Joernalistiek na haar vernoem (Rabe 2011:235). Ingevolge die Rykie van Reenen-genootskap is ’n senior joernalis vir ’n jaar gesekondeer as dosent in die joernalistiekpraktyk in die departement se nagraadse honneurskursus. Die pos is einde 2021 afgeskaf toe Media24, die afdeling van die mediamaatskappy Naspers wat die druk- en nuwemedia-belange van die maatskappy huisves, dit nie meer kon befonds nie (Janus 2021:20).
In 2003, Van Reenen se sterfjaar, het die historikus Hermann Giliomee (2003) na haar verwys as “undoubtedly the most outstanding Afrikaans journalist of the century [die 20ste eeu]”. In die Afrikaanse verwerking, een jaar later, het hy dit gekwalifiseer met “waarskynlik”. Sy verduideliking agterna was dat die eerste weergawe geskryf is kort voor haar afsterwe, toe die emosies oor haar brose toestand hoog geloop het, en dat dit in die Afrikaanse weergawe met groter realisme gekwalifiseer moes word (Giliomee 2005).
Sy word as “stilis by uitnemendheid” beskryf (“Die woordewêreld van ...” s.j.). Van der Vyver (1987a:128):
Sy kon met ewe veel deernis en ewe veel humor oor die “gewone” mens as oor die “groot” figuur skryf. Haar onderwerpe het gewissel van die petroljoggies van Britstown en die “bryde” van die Groentemarkplein tot John Vorster en Steve Biko, Hendrik Verwoerd en Breyten Breytenbach.
Die feit dat sy dit in ’n vars, unieke Afrikaans geskryf het, het bygedra tot haar sukses en status as joernalis (Rabe 2011:140): “Van Reenen se kenmerkende styl was waarskynlik die somtotaal van ’n uitsonderlike linguistiese talent plus ’n toepassing van die dissipline van skryf wat daagliks geslyp en gepoleer is.”
Oor Van Reenen as rubriekskrywer is haar styl beskryf as “gevat”, “gepaard met haar sweepslag-trefkrag”, “wat haar ’n alchemis van die Afrikaanse woord gemaak en daarmee die joernalistieke genre van rubriekskryf in Afrikaans gelykgestel het met die beste in die wêreld se ‘groot tale’” (Rabe 2015:190). Retief Meiring, soos aangehaal in Rabe (2011:106): “Met haar korpus werk het sy ’n standaard gestel wat ’n Afrikaanse rubriekskrywer in dieselfde klas as ‘die wêreld se grotes’ geplaas het.”
Die vraag oor Van Reenen se lojaliteit jeens Afrikanerskap, of Afrikanernasionalisme, as kritiese joernalis is deur Rabe (2012:86) gestel:
The question arises: how can a journalist, surrounded by a hegemonic ideology, practise “loyal dissent”, and remain independent, a freethinker, a dissident? Can journalists distance themselves from certain contexts and be truly “objective”? Can one be “objective” and simultaneously critical, yet loyal?
Die antwoord was, as die oeuvre van Van Reenen ontleed word, ja (Rabe 2012:86). Hoewel sy skerp, en voortdurend krities, teenoor die Nasionale Party was, was sy steeds ’n lojale Afrikaner – een wat haarself selfs as ’n nasionalis met ’n kleinletter-n beskryf het. Rabe skryf (2012:86): “The answer lies in the fact that she managed to remain fiercely independent of a party-political ideology, and could therefore criticise on principles, and not as a blind loyalist, as was the accusation against some of her peers.” Retief Meiring (Rabe 2012:87) voeg by dat Van Reenen nooit ’n “jabroer” was nie en haar aan die kant van die underdog geskaar het.
Ter afsluiting van hierdie afdeling oor die lewe en werk van Van Reenen die volgende: Van Reenen se loopbaan het amptelik gestrek van 1945 tot 1980, daarna het sy as afgetredene veral as vryskut-resensent ’n bydrae gelewer. Sy het in elke fase grense oorgesteek (Rabe 2011:57; 77; 143; 321). Teen die einde van haar loopbaan as assistent-redakteur van Rapport het sy ’n laaste skans afgebreek, naamlik om letterlik in die redakteurstoel te kon sit toe sy as redakteur waargeneem het. Ná die beperkings in 1945 se “ghetto” waarin sy haar bevind het, het sy oor byna vier dekades die joernalistiek vir vroue oopgeskryf. Dit het van haar ’n baanbreker en rolmodel vir die volgende generasies vrouejoernaliste gemaak.
Met haar aftrede is sy as “die belangrikste en mees invloedryke Afrikaanse vroulike joernalis beskou” (Van der Vyver 1987a:127). Met Naspers se eerste algemene jaarvergadering ná haar dood sluit Ton Vosloo (2004b) sy voorsittersrede af met onder meer hulde aan Van Reenen: “Seker die sprankelendste mens wat nog in ons joernalistiek was en Afrikaans op sy vonkelendste gebruik het.” Dié waardeskattings maak van dié beskeie en ophef-vermydende joernalis ’n pionier en rolmodel vir opvolgende generasies vrouejoernaliste.
5.3. Martie Retief Meiring
Die derde vrouejoernalis op wie hierdie artikel fokus, is Martie Retief Meiring (gedoop Martie [Retief Meiring 2023]; ná haar huwelik met Hannes Meiring, bekend as Martie Meiring, later Retief Meiring, soms geskryf as Retief-Meiring). Beskryf as “loshande een van die bekendste joernaliste in Afrikaans” het sy “oor vele dekades as veral rubriekskrywer bekend geword” (“Martie Retief Meiring” s.j.). In dieselfde bron is geskryf “haar joernalistieke arbeid het deur die dekades veel wyer gestrek”, soos hier aangetoon sal word, aangesien sy ’n leidende rol nie net in kuns en kultuur gespeel het nie, maar as politieke voordenker.
Retief Meiring word beskou as die natuurlike “opvolger” van Van Reenen (“Commendatio vir die ...” 2017). Eersgenoemde het van Van Reenen se werk gesê dat dit gereeld in tafelgesprekke opgeduik het (Rabe 2011:143). Dit kan ook gesê word (“Commendatio vir die ...” 2017) dat die werk van Retief Meiring die onderwerp van gesprekke was,
[...] hetsy dit haar snydende sosiale kommentaar is, of die ligvoetse gespot met Kaaps-Stellenbosse of landswye kwessies van die dag, of (nog) ’n kinkel in ’n kabel soos wat net ’n Retief Meiring oor die hedendaagse gekonkel in ons samelewing kan skryf.
Retief Meiring kan om vele redes beskou word as die natuurlike “opvolger” van Van Reenen (“Commendatio vir die ...” 2017).
Martie Retief is op 26 Desember 1934 in Johannesburg gebore (CV 2017). Sy het haar skoolloopbaan in 1951 aan die Hoërskool Port Natal in Durban voltooi. In 1954 het sy ’n BA aan die US verwerf. Sy het in 1955 by die Oos-Kaapse koerant Die Oosterlig (later slegs Oosterlig, toe Die Burger Oos) in Port Elizabeth (nou Gqeberha) begin werk, wat beteken haar joernalistieke loopbaan strek reeds oor amper sewe dekades, aangesien sy steeds as joernalis aktief is. Retief Meiring het ná haar twee Oosterlig-jare van 1957 tot 1959 by Die Vaderland in Johannesburg gewerk. Van 1960 tot 1961 was sy by NewsCheck, ’n Suid-Afrikaanse nuusverskaffer van daardie tyd. Sy het in 1962 na Londen vertrek, waar sy vir die volgende twee jaar vryskutwerk gedoen het. In 1964 is sy aangestel in die Londense kantoor van Nasionale Koerante en Nasionale Tydskrifte, die twee destydse filiale van Nasionale Pers. Sy het in 1967 na Die Beeld (die Sondagkoerant) in Johannesburg teruggekeer, waar sy ná ses maande na Huisgenoot is. In 1975 het sy by die pasgestigte dagblad Beeld begin werk.
Van 1978 tot 1981 was sy redakteur van Bonanza, die destydse Nasionale Tydskrifte se eerste tydskrif gemik op ’n swart vroulike mark (Retief Meiring 2013). Hier het sy letterlik baanbrekerswerk gedoen met die inhoud en die medewerkers wat bereid was om vir ’n Naspers-publikasie te werk (al het dit vir die uitgewer daarom gegaan om munt te slaan uit die groeiende swart mark [Spies 1992:428–9]). Soos Spies dit gestel het: “Naspers het toenemend kennis geneem van nuwe markte wat gewag het om ontgin te word.” (Die teoretiese beskouing van die politieke ekonomie van die media, soos in die geval van die “vrouemark” wat vir die vroeë Die Burger van belang was, is weer ter sprake.) Die swart bevolking se koopkrag, wat ondanks “gemiddeld beskeie” individuele inkomste, in totaal groot was, was deel van die motivering vir die stig van die blad, wat gratis beskikbaar was (Spies 1992:429).
Danksy Retief Meiring se netwerk van kontakte kon sy verskeie invloedryke medewerkers werf. Onder hulle was Leah Tutu, vrou van Desmond Tutu, wat as rubriekskrywer bydraes gelewer het (Retief Meiring 2013). ’n Bekende joernalis en latere redakteur van The Sowetan, Aggrey Klaaste, asook die medikus, sakeman en aktivis, Nthato Motlana, was danksy Retief Meiring medewerkers van die blad. In illustrasies vir kortverhale is Nelson Mandela as die romantiese held uitgebeeld sonder dat die “owerhede” in die maatskappy óf die staat dit besef het in ’n tyd toe geen foto of afbeelding van hom in die openbaar gepubliseer mog word nie.
Retief Meiring (2013) het in 1978 gedink “dat hier ’n groot ding gaan kom in ‘swart’ joernalistiek”. Bonanza is gestig nadat daardie tyd se Nasionale Tydskrifte se advertensiespan in die middel-1970’s gerapporteer het adverteerders wou meer bestee om veral die swart vrou te bereik en dat hulle “op soek [was] na ’n geskikte blad” (Spies 1992:429). Soos geskryf is: “Die vraag was waar om te begin”, want die swart mark was vir die Naspers van daardie tyd “so goed as ’n totaal vreemde terrein”, “en die regeringsbeleid, waarmee die Nasionale Pers nou verbind was”, “het sake nie makliker gemaak nie”. Die “oplossing” was om dit onder Via Afrika (die afdeling wat skoolboeke vir die “swart mark” gepubliseer het) te doen. Bonanza het in die eerste helfte van 1978 verskyn, “netjies gedruk” in diepdruk, met “baie bladsye” in volkleur. Die redaksie het bestaan uit Retief Meiring en twee swart vroulike “assistente”. Die inhoud is deur Spies beskryf as “die gewone vrouesake” – mode, skoonheid, gesondheid, kos, kinders, handwerk, met ’n “gewaarborgde sirkulasie” van 150 000.
Tutu se rubriek was getitel “Leah’s Line” (Retief Meiring 2013). Retief Meiring sê sy het die blad “baie hoog geskat” in haar joernalistieke loopbaan, benewens die feit dat dit vir die maatskappy die “eerste [tydskrif-] stappie” tot die “swart mark” was. Dié hoop het egter beskaam en die blad is ná drie jaar gestaak. Oor die sluiting van Bonanza het Retief Meiring gemeen die blad was sy tyd vooruit. Spies (1992:429) het later geskryf dat dit vir Naspers “nie die einde [was] van ons pogings om tot ’n swart leserskring uit te brei nie”. Dit was “belangrik om ’n algemene kommunikasie-bydrae” te maak naas “die reeds gedugte onderwysblaaie deur Via Afrika en sy uitbreidende netwerk van deelgenootskapsmaatskappye”.
Retief Meiring was nadat Bonanza gesluit is, vryskut vir die Sunday Times, waar sy onder meer ’n politieke rubriek geskryf het (CV 2017). Sy het vir oorsese publikasies geskryf én vir Nasionale Tydskrifte. Aan die begin van die 1990’s was sy ’n redaksielid van Vrye Weekblad toe dit as sogenaamde “alternatiewe” Afrikaanse koerant verskyn het, en waar sy haar “sterk politieke oortuigings” kon uitleef (“Martie Retief Meiring” s.j.); sy was mederedakteur van dié blad (Vrye Weekblad 1994:40).
Retief Meiring se soeke na sin en geregtigheid in die “ou” Suid-Afrika het selfs buite die joernalistiek neerslag gevind (“Commendatio vir die ...” 2017). Sy het in 1976 betrokke geraak by die Women for Peace/Vroue vir Vrede-beweging en by die interkulturele KONTAK. In dié opsig het sy “sterk en stewige brûe” gebou tussen die verskillende kultuurgroepe tussen wie daar in daardie tyd sulke geweldige afgronde was. Sy was betrokke by die Business Women’s Association. Sy het self aktief in die politiek betrokke geraak toe sy in 1989 ’n politieke kandidaat vir die Demokratiese Party (voorloper van die Demokratiese Alliansie) was toe dié party nog as links-liberaal deur die gewone Afrikaner beskou is. Haar politieke belangstelling het meegebring dat sy in 1994, van Februarie tot April, as Persbeampte: Administrasie vir die eerste demokratiese Algemene Verkiesing gewerk het (CV 2017). Haar aktivisme het ingesluit dat sy van 1995 tot 1998 die administratiewe hoof van Pretoria Munisipaliteit (nou Tshwane) se poging was om die Parlement na Pretoria te verskuif.
Haar joernalistieke werk het nie agtergebly nie. Sy het tussendeur artikels oor kuns en musiek gelewer, en was betrokke by die stigting van die tydskrif De Kat (CV 2017). Tussendeur het sy rubrieke vir onder meer Die Burger se “Van alle kante”, die oudste rubriek in Afrikaanse media, geskryf (“Commendatio vir die ...” 2017), terwyl sy intens betrokke was by die stigting van verskeie feeste (CV 2017). By die Aardklop Nasionale Kunstefees was sy lank ’n direksielid, en sy was betrokke by die Suidoosterfees, asook eenmalige feeste, soos die e’Bosch Erfenisfees, die Oesfees op Saldanha in 2000, en die Slawefees op Stellenbosch in 2008 (CV 2017). As kuns- en kultuuraktivis was sy lid van SOST, die Stellenbosch Outdoor Sculpture Trust, en lid van die advieskomitee van die US se Woordfees. Retief Meiring was die skimskrywer van twee outobiografieë, dié van Janie du Plessis (2010) en Elita de Klerk (2011).
Met hulle aftrede het Retief Meiring en haar man, die kultuurleier-argitek Hannes Meiring (oorlede in 2010), hulle op Stellenbosch gevestig, waar sy op dié dorp as gemeenskapsleier by talle projekte betrokke was. Sy het onder meer vir ’n aantal jare klasgegee in rubriekskryf in die honneurskursus aan die US se Departement Joernalistiek.
Wat haar bydrae as joernalis en denkleier betref, kan sy in dieselfde liga getel word as MER en Van Reenen. Haar loopbaan het inderdaad op dieselfde vlak begin: In haar eerste werk by Die Oosterlig in Port Elizabeth (nou Gqeberha) is sy as “sogenaamde vroueredaktrise” (Retief Meiring 2015:68) aangestel. Daar sou sy “van ’n modeparade tot ’n moord op een dag dek”, maar sy was ook “skeepsverslaggewer, musiekresensent, sosiale verslaggewer (met ’n hierjy-cocktail hoedjie) én hofverslaggewer”. En natuurlik, skryf sy: “Om nie te vergeet nie van my gewone werk as ‘vroueredaktrise’, wat onder meer op ouderdom twintig oor babasorg moes uitwei.”
Retief Meiring sou egter nie net ontwikkel in ’n joernalis wat sekuur waarneem nie, maar sy het ’n wye invloedsfeer gehad. Met die Vrouevryheidsbeweging in die 1960’s, oftewel die “Women’s Lib-beweging” soos sy self daarna verwys het (Retief Meiring 2015:65), was sy aan die voorpunt van ’n nuwe generasie onafhanklike, vrydenkende Afrikaanse vroue. In haar eie woorde: Dit was ’n tyd van “totsiens aan verstoktheid”. In die dekade van die Beatles en die Pil, het Retief Meiring geskryf, was een van die simbole van vroue se nuwe vryheid en gelykheid ’n sigaret spesiaal vir die vroulike mark ontwerp met die naam Virginia Slims. Die leuse was: “You’ve come a long way, baby.” Tipies Retief Meiring, skryf sy daarop ’n vir haar vanselfsprekend retoriese vraag: “O, nè?” Plus: “Was dit die einde of die begin van ’n gender-oorlog wat blykbaar steeds nie heeltemal gesmoor kan of sal word nie?”
Terwyl Retief Meiring as joernalis oor sake van die dag geskryf het, het sy haar eie unieke stem, styl en register as rubriekskrywer van formaat geslyp – só dat sy die natuurlike opvolger van Van Reenen genoem kan word (“Commendatio vir die ...” 2017). Die beskrywing van klassieke “fluweelhandskoen-joernalistiek” (Rabe 2011:121) pas óók op Retief Meiring se werk met haar aktivistiese agenda, ook om ’n stem te wees vir die underdogs in die onderskeie gemeenskappe waar sy haar deur die dekades bevind het. Wat Retief Meiring dus van háár voorgangers sê, is net so van toepassing op haar eie rol en inspirasie vir ’n jonger generasie joernaliste, naamlik om met “’n ondergrawende styl”, “slinks, slu, en stylvol”, die sake van die dag oop te kloof. Daarmee het sy sélf ikoniese status in die Afrikaanse media gekry.
Retief Meiring se rubrieke toon inderdaad dieselfde stylelemente as dié van Van Reenen wat betref hulle satire, die snykant-waarneming, en soms suiwer patos (“Commendatio vir die ...” 2017). Sy volg nie net in die voetspore van ’n Van Reenen nie, maar is die nageslag van die formidabele MER wat Die Burger se eerste “vroueredaktrise” was – wat, soos Retief Meiring later self sou skryf, nie toegelaat het dat die manlike redaksie vir haar voorskryf waaroor sy mag skryf nie.
’n Voorbeeld van hoe sy die (Afrikanernasionale) manlike hegemonie van die dag uitgedaag het, was toe Retief Meiring in 1967 teruggekeer het van Londen waar sy van 1964 as junior buitelandse korrespondent vir Naspers gewerk het (Retief Meiring 2015:67). Sy het haar in ’n (weliswaar) “vriendelike nyet”, soos sy dit gestel het, vasgeloop. In Londen was sy reeds politieke joernalis, veral met ’n Suid-Afrika wat voortdurend in die nuus was weens apartheid, die Wêreldhof se verhoor oor Suid-Afrika se mandaat oor Suidwes-Afrika (nou Namibië), onafhanklikheid vir Rhodesië (nou Zimbabwe), en die sluipmoord op HF Verwoerd in 1966 – sy kon oor ’n verskeidenheid van politieke sake berig. Sy het vir Nasionale Koerante uit die Britse parlement verslag gedoen. Met haar terugkeer het sy “vol vertroue” voorgestel sy meen sy is geskik vir Naspers se Persgalery-span. Daarop het sy toe “heel vriendelik (ja!)” die “afwysing” van Piet Cillié, redakteur van Die Burger, gekry. “Meisies,” moes sy hoor, “berig nie uit óns parlement nie.” (’n Vrou sou eers 25 jaar later, in 1992, tot Naspers se parlementêre span toegelaat word [“Nog ’n manlike ...” 1992].)
Vir haar was dit toe eers terug na die “vroueblaaie” as redakteur van VroueBeeld – onder vroueredaksielede die “vrouedele” genoem (Retief Meiring 2015:67). Dit het die “sosiale” blaaie ingesluit. Engelse kollegas, het Retief Meiring geskryf, het dié blaaie “slosh” genoem: “Sag, sappig, skinderig.” Retief Meiring en haar kollegas het selfs “wit handskoene in ons laaie gehou vir daardie uitnodigings na hoogwaardigheidsbekleërs (dit was die amptelike woord vir die groot kanonne) se onthale, of na die eindelose hoeddraende vroueorganisasies”.
Dit het Retief Meiring nie gekeer nie om kollegas “op te kommandeer” om byvoorbeeld “iets te doen aan ons salarisse, wat altyd heelwat minder as dié van ons manlike kollegas was” (Van der Vyver 1987a:179).
Dat Retief Meiring (2015:73) selfs ná haar aftrede vaandeldraer vir vroue in die nuuskantoor was, blyk daaruit hoe sy ná ’n vleisbraaiery met oud-kollegas in 2014 gereageer het op ’n manlike kollega wat sê “ons” koerant (“dis nou Die Burger”) is darem so vol “meisie-bylines”. Sy het summier die bylines gaan tel – op die spesifieke dag was daar sewe berigte deur vroue en 10 deur mans – “maar vyf van laasgenoemde was op die sportblaaie”.
Dit is egter veral as rubriekskrywer dat Retief Meiring steeds ’n blywende nalatenskap het en op ouderdom 89 steeds ’n bydrae maak. Oor die onderwerp van rubriekskryf het sy aan die US se joernalistiekstudente oor die “lekkerste werk” in die joernalistiek gesê ’n mens “flankeer met woorde” (Retief Meiring 2008). In dié lesings het sy haar ervaring en kundigheid mildelik gedeel – elke lesing ’n meesterklas – terwyl sy die studente krities laat nadink het oor wat die verskil tussen ’n rubriekskrywer en ’n essayis is (Retief Meiring 2008):
Die kanse dat jy albei is, is wel moontlik. Tradisie wil hê dat ’n essayis ’n deurdagte stukkie werk doen. Die grens is baie dun tussen die twee soorte. Rubriekskrywers is maar ’n joernalistieke beskrywing, terwyl essayiste deur die eeue wel as denkers beskou is, en langer stukke en dikwels swaarwigtiger as rubriekskrywers skryf. Montaigne, uit die sestiende eeu, en algemeen beskou as die vader van die moderne essay (en die rubriek), het egter in ligte trant geskryf. Samuel Johnson, weer, ook beskou as ’n “groot” essayis, was veel swaarder in sy aanslag.
Die raad dat goeie rubriekskrywers ander rubriekskrywers lees, het só gelui (Retief Meiring 2008):
Rubriekskrywers behoort wel die pappa van die goeie sportrubriek, Ernest Hemingway, te lees, net vir gemaklike en verbeeldingryke taalgebruik. Voor hom was daar die onweerstaanbare galgehumor van H.L. Mencken wat niks of niemand (veral nie sy mede-Amerikaners) ontsien het in sy oordeel nie. George Orwell was ’n uitstekende rubriekskrywer, maar die hedendaagse skrywer sal nog altyd vir James Thurber wil uitsonder as die uitstaande rubriekskrywer. Ek glo hy was een van ons eie beste essayiste; Audrey Blignault se gunsteling ook. Geen selfrespekterende rubriekskrywer sal NIE vir P.J. O’Rourke lees nie, of Tom Wolfe, of Bill Bryson, of William Safire nie.
Die waarskuwing oor satire was reguit: “Satire ruk baie gou handuit tot gewoon nydigheid” (Retief Meiring 2008).
Die raad om ander rubrieke te lees kon sy nie genoeg beklemtoon nie:
Dit is verpligte leesstof vir alle rubriekskrywers om ander rubriekskrywers se werk te lees. En oordeel hulle! En moenie bang wees nie! En aap hulle na – maar wees baie bang hiérvoor! Onlangs is een van die meer gewilde rubriekskrywers in ons land van plagiaat beskuldig. Hy sou onder meer vir P.J. O’Rourke en Bill Bryson woord vir woord, of eintlik gedagte vir gedagte, gekierang het.
Daarmee saam het sy gewaarsku: “Daar is ’n algehele verbod op om iemand anders se styl te probeer na-aap. Amper so erg soos plagiaat pleeg. Maar dit beteken nie dat jy nie ander rubriekskrywers se werk moet lees nie.”
Die volgende waarskuwing is gerig: “Vermy soos die pes selfvoldaanheid. Dit skemer deur in jou werk. Niks vervreem die leser so van ’n skrywer [nie] as hy/sy arrogant, selfingenome, selfbehep en selfverheerlikend voorkom.”
Dit sluit in om nié oor jouself te skryf nie:
En dan nog só te skryf dat dit lyk of jy ’n uitverkorene is. Lesers is nie verskriklik geïnteresseerd in jou nie, of in jou huis, of jou diensmaagd, of jou dienskneg, [...] ensovoorts nie. Paul Johnson, nog ’n groot gunsteling van my, is ’n striemende skrywer wat aanraai dat ’n rubriekskrywer twee keer ’n jaar oor sy hond sal skryf, eenkeer ’n jaar oor sy kinders, en nooit oor sy vrou nie.
Oor die krisis wat skrywers gereeld tref as die spertyd naderkom, het sy gesê:
O Muse, gee my net ’n onderwerp, dis al wat ek vra!
Die spertyd is op jou. Jou kop is so leeg soos gisteraand se glas rooiwyn. Maar idees het voete en kan alleen ontwikkel as die voornemende skrywer sy (leë) kop gebruik. Die slim rubriekskrywer is ’n leser – alles, van die voorskrifte op ’n medisynebottel tot die inhoud op die krakiespapdoos. Die slimmer rubriekskrywer lees al wat koerant is, tydskrif, internet, en as hy/sy regtig slim is, lees hy/sy ook geskiedenis/biografieë, outobiografieë en skinderkolomme. En, hy/sy hou nooit op dink aan onderwerpe nie.
As toegif sou ’n hele handvol wenke, waarmee sy nie suinig was nie, volg. Soos sy dit genoem het, was van haar “skelmwenke” aan die jong joernaliste (Retief Meiring 2008):
Gesoute rubriekskrywers het gewoonlik een groot ideaal: dit is om die onvergeetlike sin te skryf. Dus, dink in sinne. Dink soms sommer aan die inleiding vir ’n storie wat jy nog nie eens uitgewerk het nie. Dink veral daaraan dat jy in die bedryf van flankeerdery is. Jy moet jou lesers verlei. Jou grootste sonde gaan wees om die leser te verveel. Jou grootste uitdaging is om binne die kort bestek van ’n rubriek ’n briljante stukkie prosa te geskryf het. Daarom moet jy die dissipline van begin, middel en einde toepas. En nakom. Jou leser wil eintlik weet wat jy wil sê, en soek nie ingewikkelde esoteriese gedagtes nie.
En ten slotte:
Dunvelliges sal rubriekskryf vermy. Want as jy jou vir ’n toffie uitgee ... (NB! Moenie afgesaagde ou gesegdetjies soos die toffie-ene gebruik nie!)
Die “Commendatio” (2017) vir Retief Meiring se Markus Viljoen-medalje wat deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns in 2018 aan haar toegeken is, som haar bydrae tot die joernalistiek soos volg op:
Die joernalis en rubriekskrywer Martie Retief Meiring kan beskryf word as ’n veelsydige en talentvolle joernalis en mens wat haar deur harde werk en toewyding op verskeie terreine onderskei het. As joernalis, rubriekskrywer en denkleier het sy ’n beduidende invloed op die ontwikkeling van denke oor dekades onder Suid-Afrikaners gehad.
Voorts kan gesê word dat Retief Meiring se geslypte en gepoleerde, superskerp en prikkelende rubriek-prosa die waarmerk is van ’n joernalis wat oor dekades waargeneem en weergegee het, en dit onvergelyklik kon doen danksy ’n groot en breë belangstelling in van die kunste tot die plaaslike politiek – maar veral die gewone vrou en man se lewe, daar waar die lewe gebeur – die verpersoonliking van die joernalistiek as barometer van ons tyd.
In 2009 is Retief Meiring met Naspers se Orde van Tafelberg vir haar lewenslange bydrae tot die joernalistiek vereer (CV 2017). In 2018 is die Akademie vir Wetenskap en Kuns se gesogte Markus Viljoen-medalje aan haar toegeken – slegs die vierde vrou wat dié erkenning gekry het. In 2021 is ’n Fiësta as “veteraan-joernalis” en een van vier legendes in die Suid-Afrikaanse kuns- en kultuurwêreld aan haar toegeken (Fiëstas-persverklaring 2021).
6. ’n Nuwe era
In ’n huldeblyk met tydskrifredakteur Rieta Burgers se dood in 2003 verwys Ton Vosloo (2003:4), toe voorsitter van Naspers se direksie, na die vroue wat ’n rol gespeel het in Naspers se ontwikkeling: “Ons geskiedenis van 88 jaar het groot vroulike joernaliste en sterk beïnvloeders opgelewer. Dit het begin by die legendariese MER; nog later Alba Bouwer en toe die ewe legendariese Rykie van Reenen.”
Hy lys verder die eerste vrouejoernaliste:
Toe kom, by wyse van spreke, die klas van Rieta Burgers, Esme Mittner, Betty [sic] Peacey, Martie Meiring en Jane Raphaely (soos Johnny Walker, still going strong), om vyf te noem. Hulle word in tyd gevolg deur Nicolene en Anet Strydom, Lizette Rabe en nou Khanyi Dhlomo en Michélle van Breda en haar gedugte span, om weer net ’n paar uit honderde bekwame vroulike joernaliste uit te sonder.
Diskriminasie teen vroue was egter lank voor Vosloo se huldeblyk aan en erkenning van vrouejoernaliste se bydrae tot die ontwikkeling van die Afrikaanse joernalistiek aanvaarde praktyk.
Die vroueredakteur van Die Burger het byvoorbeeld nooit, soos redakteurs van ander afdelings, die daaglikse nuuskonferensie bygewoon nie (Van der Vyver 1987a:175). Dit het vroue die gevoel gegee dat hulle maar net verduur is omdat “’n paar vroue” nodig was. Die eerste vrou is in die 1970’s in Die Burger se nuuskonferensie toegelaat “nadat vroue vanaf 1950 onder moeilike omstandighede hulself gevestig het as gelykes in die nuuskantoor”. Joernaliste soos Fleur de Villiers in die Engelse nuusmedia en Retief Meiring in die Afrikaanse nuusmedia was rolmodelle vir die talle jong vroue wat vandag se nuuskantore bevolk, het Van der Vyver geskryf.
Die naam Jane Raphaely is in die laaste vier dekades van die vorige eeu as doyenne van Suid-Afrikaanse vrouejoernaliste gevestig. In 1965 was sy die eerste redakteur van Fairlady, Naspers se Engelse vroueblad wat danksy die sukses van Sarie gestig is (weer ’n direkte gevolg van die “politieke ekonomie van die media-teorie” omdat Naspers ’n voertuig vir Engelse advertensies gemik op die vrou gesoek het [Spies 1992:406]). Raphaely het nie net dié handelsmerk gevestig nie, maar later haar eie uitgewery gestig met nog suksesvolle handelsmerke. Dene Smuts was die eerste Afrikaanssprekende vrou wat redakteur van ’n hoofstroom-Naspers-tydskrif geword het toe sy as redakteur van Fairlady aangestel is. Die eerste vrou wat uiteindelik die glasplafon van Die Burger se nagkantoor kon laat bars (dit was wel net eers as lid van die nagspan; sy sou eers later hoofsub word), was Marie-Louise van Heerden, en die jaar was 1978 – nadat besluitnemers lank geglo het dat ’n vrou nie snags saam met mans kon werk nie. Die argument dat mans nie saam met ’n vrou kon werk nie, het blykbaar selfs swaarder geweeg (Van der Vyver 1987a:195).
Aspekte soos kraamverlof, gelyke salarisse vir gelyke werk, huissubsidies, en toegang tot mediese en pensioenfondse, en verskeie diskriminerende bevorderingsmaatreëls was egter steeds ernstige struikelblokke vir vroue (Rabe 2011:59–60). Danksy ’n demokratiese Suid-Afrika se arbeidswetgewing is dit vandag gewoon onwettig om op grond van geslag te diskrimineer. Hoe sekere aspekte van gelykheid in die praktyk toegepas word, bly egter vir baie vroue ’n ander vraag – soos blyk uit verskeie studies, byvoorbeeld die sogenaamde Glass Ceiling-studies (Sanef 2006; 2009; 2018).
Die eerste bruin vrouejoernalis is in 1981 by Rapport Ekstra aangestel. Drie dekades later sou sy die eerste bruin joernalis word om die Akademie se Markus Viljoen-medalje vir joernalistiek te kry – sy was Zelda Jongbloed, pionierjoernalis wat ras én geslag betref (La Vita 2012:13).
Teen 1984 is “geleidelik al hoe meer afgewyk van die beleid” om vroue net vir vroueblaaie in redaksies te gebruik, of net vir “hulpdienste” in administrasie (Spies en Conradie 1992:501–2). Eers is net ’n paar vroulike redaksielede “waarskynlik meer per toeval as om ’n ander rede” vir “algemene nuuswerk” by Die Burger gebruik. Hulle het skynbaar “so goed geslaag” dat vroue al hoe meer vir “manswerk” gebruik is. Spies en Conradie het geskryf dat in die na-oorlogse ekonomiese oplewing vroue geleenthede gekry het wat voorheen nie vir hulle beskore was nie. Hulle getalle “het so toegeneem dat die redaksies later nie sonder hulle kon klaarkom nie”. In die 1950’s het vroue die eerste keer formeel “die reg verkry” om ná hul troue “hul werk by die redaksies voort te sit” – maar hulle het nie ’n vaste aanstelling gehad of enige byvoordele nie. Teen 1984 was byna ’n derde van die redaksie van Die Burger vroulik. Vroue het volgens Spies en Conradie skynbaar “bewys dat hulle nie net saam met mans hul plek kon vol staan nie, maar ook alleen, soos in die redaksie van Fair Lady [sic]”.
Teen 1984, met Naspers op die drumpel van ’n mediarevolusie aan die vooraand van die stigting van M-Net in 1985, was een revolusie die feit dat die eerste vrou hoofsub by ’n Afrikaanse koerant geword het (“Irna van Zyl ...” 1985:3). By ’n oggendkoerant het dit beteken sy is in beheer van die nagredaksie. Sy was Irna van Zyl, toe nog nie 30 nie, wat die glasplafon laat spat het nadat vroue vir soveel jare nie eens toegelaat is om lid van die nagredaksie te wees nie. Reeds toe sy assistent-hoofsub geword het, is geskryf sy was “die eerste vrou wat die septer in Die Burger se soutmyn swaai”.
’n Verdere eerste vir vroue was in 1988 toe Elize Botha die eerste vrou was wat lid van die moederdireksie geword het (Spies en Conradie 1992:504). Sy het haar loopbaan in die 1950’s as joernalis by Die Burger begin voordat sy verder studeer het. In die kort Oktober-parlementsitting van 1992 het nog ’n glasplafon uiteindelik in stukke gespat (“Nog ’n manlike ...” 1992:1). Marie-Louise van Heerden, gewese hoofsub van Die Burger, het die eerste vroulike lid van Die Burger (en dus die drie “susterkoerante” van daardie tyd, naamlik Oosterlig, Volksblad en Beeld) se parlementêre redaksie geword. Van Heerden, wat redakteur van BY was, is in 1989 aangestel as hoofsub by Die Burger (“Nog ’n manlike ...” 1992:1).
In 1994 was daar intern by die maatskappy waar MER, Van Reenen en Retief Meiring voorlopers was, nog ’n paradigmaskuif toe nog ’n (manlike) vesting geval het. Dit was die redakteurskap van Naspers se Afrikaanse vrouetydskrif Sarie. Lizette Rabe is as eerste vroulike redakteur van ’n Afrikaanse publikasie in die groep aangestel. Sy was die sesde redakteur van Sarie.
Die jaar 2002 was beduidend vir vroue in Naspers: Huisgenoot, mega-verdiener vir Nasionale Pers sedert sy beginjare (Rabe 2016), is vir die eerste keer aan ’n vrou toevertrou. Esmaré Weideman is “aangestel om ’n nuwe koers met die gesinstydskrifte in te slaan” (Booyens s.j.). Sy was van 2000 redakteur van Huisgenoot se sustertydskrif YOU. Só, het Booyens geskryf, het nog ’n nuwe era vir Huisgenoot begin. Saam met YOU en Drum sou dit ’n snoer van “supertydskrifte” vorm. Weideman het, “met heelwat weerstand van die redaksie”, besluit om die blad se “freak-of-the-week-artikels” minder te maak. “Die bloed-en-derms en siek-kinders-stories het baie lesers teen die bors gestuit,” het sy gesê. Haar eerste doelwit was om die tydskrif se geloofwaardigheid te versterk. Navorsing het boonop gewys lesers wil nie voortdurend met slegte nuus gekonfronteer word nie.
In 2011 sou Weideman weer geskiedenis maak as die eerste vrou as hoof- uitvoerende beampte van Media24 (filiaal van Naspers) (“Esmaré Weideman to ...” 2011). Sedertdien is verskeie “glasplafonne” deur vroue gebreek en moes Naspers onder nuwe Arbeidswetgewing alle diskriminerende praktyke uitskakel.
In 2009 is Liza Albrecht, voorheen redakteur van die Naspers-naweekkoerantbylae BY, as Rapport se eerste vroulike redakteur aangestel. Met dié aanstelling kon ’n mens nie anders nie as om Van Reenen (1979) se woorde van drie dekades vroeër te hoor eggo: “Die dag as ’n Afrikaanse vrou aangestel word as redakteur van ’n [koerant], sal daar wel ’n paar kameras flits, maar sodra daar ’n koerant-vrou met die nodige formaat kom, is die val van selfs daardie vesting in sig.”
In dié stuk het Van Reenen in 1979 geskryf: “Die uitdaging vir vroue in die joernalistiek is nie om elke soort koerantwerk net so goed soos mans te doen nie. Sy moet nou, met daardie ekstra chromosoom, ook ’n ekstra dimensie aan joernalistiek gee sodat ons professie verbreed kan word.” Met die opvordering: “Komaan, my sustertjies, julle beurt.”
MER, Van Reenen en Retief Meiring het met daardie “ekstra chromosoom” Afrikaanse joernalistiek en die beroep as geheel verbreed. ’n Mens dink onvermydelik aan Virginia Woolf se woorde in A room of one’s own: “It would be a thousand pities if women wrote like men” (Woolf 1929). Plus, soos wat Banner (1974:36) in die 1970’s geskryf het, van al die beroepe was dié van die joernalistiek miskien die “indrukwekkendste voorbeeld van vroue se onverskrokke volharding in die aangesig van professionele vyandigheid”. In die Afrikaanse joernalistiek het dié drie voorlopervroue oor meer as 100 jaar, en in drie generasies, ’n “indrukwekkende” voorbeeld gestel met hulle “onverskrokke volharding”, ook danksy hul “inheemse feminisme” à la Du Toit en Krog (1994) in die aangesig van ’n spesifieke Afrikanernasionale manlike onderdrukking.
’n Mens kan tot die slotsom kom dat dié drie joernaliste wat in hierdie artikel as baanbrekers vir hulle generasies voorgehou word, as inspirasie kon dien vir opeenvolgende joernaliste om die evolusie van die vrou in ’n manlik-gedomineerde werkomgewing voort te sit én om joernalistiek op ’n ander manier te beoefen. Inderdaad, om ’n positiewe invloed op hulle samelewings te hê, soos wat Price-Groff (1997:11) in haar werk oor buitengewone Amerikaanse vrouejoernaliste geskryf het, dat hulle deur hul werk instrumenteel was om ons samelewing te help verander.
Bibliografie
Ahikire, J. 2014. African feminism in context : Reflections on the legitimation battles, victories and reversals. Feminist Africa, ble 7–23.
Aucamp, H. 1977. Dis hier, dis nou – en sal so bly. Beeld, 12 Desember.
—. 2004. MER se sterfwoorde. Monumentale biografie van skrywer in wese. Die Burger, 7 Junie.
Aucamp, H, A Blignault en E Botha. 1975. MER 100. Kaapstad: Tafelberg.
Banner, LW. 1974. Women in modern America. A brief history. San Diego: Harcourt Brace Jovanovich.
Behrens, L. 1950. Tannie van die Brandwag. Sarie, 7 Junie.
Beukes, WD (red). 1992. Oor grense heen. Op pad na ’n nasionale pers. Kaapstad: Tafelberg.
Blignault, A, A Bouwer, F Linde, E Muller en R van Reenen. 1962. Die dammetjie en ander sketse en essays. Kaapstad: Tafelberg.
Blignault, A en A de Villiers. 2006. Onderhoud. Kaapstad, 10 April.
Booyens, H. s j. Die geskiedenis van Huisgenoot. Ongepubliseerd. In navorser se besit.
Bouwer, A. 1966. Korrespondensie met Danie van Niekerk. 6 Junie. In navorser se besit.
—. 1975. Afrikaans 100: ’n klein gedenkboek. Kaapstad: Tafelberg.
—. 1995. Die lang reis van hart tot hart. Saamgestel deur R van Reenen. Kaapstad: Tafelberg.
Bouwer, A, A Rothmann en R van Reenen. 1977. MER. ’n Kosbare erfenis. Kaapstad: Tafelberg.
Bouwer, A en R van Reenen. 1976. Familiegesprek. Briewe aan haar dogter. Kaapstad: Tafelberg.
Browne, V. 2014. Feminism, time and the nonlinear history: a polytemporal approach. New York: Palgrave Macmillan.
Carr, EH. 1961. What is history?. Londen: Macmillan & Co.
Chambers, D, L Steiner en C Fleming. 2004. Women and journalism. Londen: Routledge.
Commendatio vir die Markus Viljoen-medalje. 2017. Geskryf deur L Rabe; voorgestel deur T Vosloo en L Rabe. Ongepubliseerd. In navorser se besit.
Danesi, M. 2009. Dictionary of media and communications. New York: Routledge.
De Beer, AS (red). 1983. Joernalistiek vandag. Kaapstad: Tafelberg.
De Kock, W. 1983. ’n Wyse van spreke. Die ontstaan van die pers in Suid-Afrika. Kaapstad: Saayman en Weber.
De Villiers, H. 2009. Onderhoud. 21 Julie.
De Villiers, J. 2012. Geskiedeniswetenskap en die nuwe Suid-Afrika. Moet die Suid-Afrikaanse geskiedenis herskryf word? Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 52(2):196–208.
Die woordewêreld van Rykie van Reenen. S j. Mediamense. https://mediamense.com/die-woordewereld-van-rykie-van-reenen (19 September 2023 geraadpleeg).
Dreyer, A en FCL Bosman. 1930. Hollandse nuusbladontwikkeling in Suid-Afrika in 100 Jaar. Die Zuid-Afrikaan verenigd met Ons Land, 8 April.
Du Plessis, JHO. 1943. Die Afrikaanse Pers (Deel 1). PhD-proefskrif, Universiteit Stellenbosch.
Du Plooy, GM (red). 1995. Introduction to communication. Kenwyn: Juta.
Du Toit, M en A Krog. 1994. Op pad na ’n inheemse feminisme. Die Suid-Afrikaan, 50, Oktober.
Elisabeth Johanna Hendrika Marais. S j. Geni. https://www.geni.com/people/Elizabeth-Johanna-Hendrika-Marais-f2g6/6000000019977953180 (2 November 2023 geraadpleeg).
Esmaré Weideman to take over from Francois Groepe as Media24 CEO. 2011. Bizcommunity. http://www.bizcommunity.com/Article/196/15/58806.html (5 September 2023 geraadpleeg).
Fiëstas, persverklaring. 2021. LitNet. https://www.litnet.co.za/fiestas-persverklaring-die-wenners-en-vereerdes (4 September 2023 geraadpleeg).
Fourie, P. 2009. E-pos-onderhoud. 29 Julie.
Giliomee, H. 2003. The Afrikaners. Kaapstad: Tafelberg.
—. 2005. E-pos-onderhoud. 1 Oktober.
Given, LM (red). 2008. The Sage encyclopedia of qualitative research methods. Deel 1. Los Angeles, Londen, Nieu-Delhi, Singapoer: SAGE.
Glass Ceiling. 2006. Sanef study executed, written and compiled by L Rabe. Sanef AGM.
—. 2009. Women and men in Southern Africa media. https://genderlinks.org.za/programme-web-menu/glass-ceilings-launch-workshops-report-2010-08-19 (15 September 2023 geraadpleeg).
—. 2018. Research report. https://sanef.org.za/glass-ceiling-report-19-october-2018; https://genderlinks.org.za/what-we-do/media/research/glass-ceiling-research (15 September 2023 geraadpleeg).
Hiemstra, L. 1975. MER 100. In Aucamp, Blignault en Botha (reds) 1975.
Irna van Zyl aan die woord. 1985. Naspersnuus, 85(3):3.
Janus. 2021. Alumni-blad, Departement Joernalistiek, Universiteit Stellenbosch.
Jensen, KB (red). 2002. A handbook of media and communication research: Qualitative and quantitative methodologies. New York: Routledge.
Jordaan, A. 2005. (Afrikaner-) mites, outobiografie en biografie. Stilet, 17(3):47–65.
Jordaan, HP. 1949. MER as skryfster. MA-verhandeling, Universiteit Kaapstad.
Joubert, E. 2009. Reisiger. Kaapstad: Tafelberg.
Journalist of renown and author of several books. S j. Stellenbosch Writers. www.stellenboschwriters.com/vreenenr.html (16 Oktober 2023 geraadpleeg).
Kapp, P. 2015. Nalatenskappe sonder einde. Kaapstad: Tip Africa Publishing.
Krog, A. 2014. ME Rothmann: Vintage feminist. The Journalist. http://www.thejournalist.org.za/pioneers/m-e-rothmann-vintage-feminist (3 Oktober 2023 geraadpleeg).
Kruger, L-M. 1991. Gender, community and identity: women and Afrikaner nationalism in the “Volksmoeder” discourse of Die Boerevrou (1919–1931). MA-verhandeling, Universiteit Kaapstad.
La Vita, M. 2012. Zelda en die (wit) ooms. Die Burger, 19 Oktober.
Landman, C. 1998. Nagstukke … Oor vrywees en vrouwees en goed voel oor jouself. Kaapstad: Lux Verbi.
Le Roux, NJ. 1953. WA Hofmeyr, sy werk en waarde. Kaapstad, Bloemfontein, Johannesburg: Nasionale Boekhandel Beperk.
Louw, A. 2005. Persoonlike faksimilee-korrespondensie.
Lundy, KS. 2008. Historical research. In Given (red) 2008.
Marais, GF. 1992. MER se beskouing van die Afrikaner en Afrikanernasionalisme vergeleke met die beskouing van NP Van Wyk Louw, JJ Degenaar en JC Steyn. PhD-proefskrif, Unisa.
Maria Elizabeth Rothmann. S j. Wikipedia. https://af.wikipedia.org/wiki/Maria_Elizabeth_Rothmann (2 Oktober 2023 geraadpleeg).
“Martie Retief Meiring: Sy skryf so lekker want sy hou so baie van mense”. S j. Mediamense. https://mediamense.com/?s=Martie+Meiring (19 September 2023 geraadpleeg).
“Meiring, Martie Retief”. 2017. Curriculum vitae. Ontvang van Kabous Meiring.
MER. 1922. Vrouesake. Die Burger, 17 Mei.
—. 1950. Sarie. 25 Oktober.
—. 1972. My beskeie deel. Kaapstad: Tafelberg.
—. 1975. MER 100. Kaapstad: Tafelberg.
MER-prys. S j. Wikipedia. https://af.wikipedia.org/wiki/MER-prys (3 Oktober 2023 geraadpleeg).
Mervis, J. 1989. The fourth estate. A newspaper story. Johannesburg: Jonathan Ball.
Mouton, J. 2013. How to succeed in your master’s and doctoral studies: a South African guide and resource book. Pretoria: Van Schaik.
Mpofu, S. 2017. Are “untouched citizens” creating their deliberative democracy online? A critical analysis of women’s activist media in Zimbabwe. PhD-proefskrif, Universiteit Stellenbosch.
Nog ’n manlike vesting val. 1992. Naspersnuus, 92(9):1.
Pretorius, F (red). 2012. Geskiedenis van Suid-Afrika. Kaapstad: Tafelberg.
Price-Groff, C. 1997. Extraordinary women journalists. New York: Children’s Press.
Rabe, L. 1985. Die ontstaan en ontwikkeling van Sarie Marais as massatydskrif vir die Afrikaanse vrou. MA-verhandeling, Universiteit Stellenbosch.
—. 2001. Eva-lusie. Die stem van die vrou in die Suid-Afrikaanse media. Professorale intreerede. Universiteit Stellenbosch. September.
—. 2006a. “Ryk, ryker, Rykie”: A first exploration of the journalistic contribution of a journalist extraordinaire. Communicatio: South African Journal for Communication Theory and Research, 32(1):65–87.
—. 2006b. The wedge that cracked the rock – a pioneering woman journalist. Communitas: Journal for Community, 11:169–84.
—. 2011. Rykie: ’n lewe met woorde. Kaapstad: Tafelberg.
―. 2012. The past is present: a freethinker journalist, ideologies and loyal dissent. Communitas, 17:75–91.
―. 2014. Reflections on writing about writing media history, or, the mapping of certain paradigms and certain philosophies in researching a media historiographical project. Historia, 59(2):10–27.
―. 2015. “Rubriekmaak” à la ryk, ryker, Rykie. Rykie van Reenen en enkele merkers vir hedendaagse blog-rubriekskrywers. LitNet Akademies, 12(2):172–95. https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2015/11/LitNet_Akademies_12-2_Rabe_172-195.pdf.
—. 2016. Huisgenoot as tydgenoot: ’n mediageskiedkundige kroniek van ’n tydskrif as “skrif” van sy tyd. LitNet Akademies, 13(3):55–84. https://www.litnet.co.za/wp-content/uploads/2016/12/LitNet_Akademies_13-3_Rabe_55-84.pdf.
Rabe, L (red). 2015. ’n Konstante revolusie: Naspers, Media24 en oorgange. Kaapstad: Tafelberg.
Rautenbach, E. 2003. Mossie maar vrou. Insig, April.
Retief Meiring, M. 1983. Mense hou van mense. In De Beer (red) 1983.
—. 2008. ’n Flankeerdery met woorde. Notas oor rubriekskryf, Departement Joernalistiek, Universiteit Stellenbosch.
—. 2009. E-pos-onderhoud. 24 Julie.
—. 2010. Janie du Plessis: ’n keuse vir die lewe. Kaapstad: Human & Rousseau.
—. 2011. Elita and her life with FW de Klerk. Kaapstad: Tafelberg.
—. 2013. E-pos-onderhoud. 25 Junie.
—. 2015. Vroue in die joernalistiek: You’ve come a long way, baby. In Rabe (red) 2015.
—. 2023. E-pos-kommunikasie. 13 November.
Rykie met graad vereer by US. 1986. Die Volksblad, 10 November.
Rykie van Reenen – soepel ystervrou in ’n manswêreld van weleer. S j. Mediamense. https://mediamense.com/rykie-van-reenen-soepel-ystervrou-in-n-manswereld-van-weleer (19 September 2023 geraadpleeg).
Rykie van Reenen. Wikipedia. https://af.wikipedia.org/wiki/Rykie_van_Reenen (15 Oktober 2023 geraadpleeg).
Sanef. 2006. Glass ceiling. Saamgestel deur L Rabe namens Sanef se Diversiteitskomitee. Ongepubliseerd. In navorser se besit.
—. 2009. Glass ceiling research. Saam met Gender Links. https://genderlinks.org.za/programme-web-menu/glass-ceilings-launch-workshops-report-2010-08-19 (27 September 2023 geraadpleeg).
—. 2018. Glass ceiling research. Saam met Gender Links. https://genderlinks.org.za/what-we-do/media/research/glass-ceiling-research (27 September 2023 geraadpleeg).
Scannell, P. 2002. History, media, communication. In Jensen (red) 2002.
Scher, D. 2012. Naoorlogse rasseverhoudings 1902–1948. In Pretorius (red) 2012.
Slabber, C. 1984. Watter wakker nuwe lewe! Kyk wat gebeur. Rapport, 9 September.
Smith, HL. 1947. Behind the press in South Africa. Kaapstad: Stewart.
Sochen, J. 1973. Movers and shakers. American women thinkers and activists 1900–1970. New York: Quadrangle / The New York Times Book Co.
Sonderling, S. 1995. Historical research in communication. In Du Plooy (red) 1995.
Spies, JJ. 1992a. Oor die kleurgrens. In Beukes (red) 1992.
—. 1992b. Tydskrifte in ’n ander wêreld. In Beukes (red) 1992.
Spies, JJ en HF Conradie. 1992. Bestuur en administrasie. In Beukes (red) 1992.
Steinmair, D. S j. Jaap Steyn oor MER: ʼn Kombinasie van die deursneehuisvrou en die intellektueel. LitNet. https://oulitnet.co.za/heupvuur/jaapsteyn.asp (13 Maart 2024 geraadpleeg).
Steyn, JC. 1990. Die betekenis van Die Burger vir die Afrikaanse letterkunde. Acta Academica. Supplementum 2.
—. 2002. Penvegter. Piet Cillié van Die Burger. Kaapstad: Tafelberg.
—. 2004. Die 100 Jaar van MER. Kaapstad: Tafelberg.
Steynmeyer, J. 1946. Spykers met koppe. Kaapstad, Bloemfontein, Johannesburg: Nasionale Boekhandel Beperk.
Stroud, RS. 1987. “Wie es eigentlich gewesen” and Thucydide. Hermes, 115(3):379–82.
Terblanche, E. 2017. Rykie van Reenen. LitNet. ATKV/LitNet Skrywersalbum. https://www.litnet.co.za/rykie-van-reenen-1923-2003 (1 Oktober 2023 geraadpleeg).
Theron, E. 1976. Inskripsie. Kommissie van ondersoek na aangeleenthede rakende die Kleurlingbevolkingsgroep. Pretoria: Staatsdrukker. (A Louw-Versameling)
Van der Vyver, M. 1987a. Die groeiende rol van die vrou in die Afrikaanse pers met spesifieke verwysing na Die Burger en die Nasionale Pers. MA-verhandeling, Universiteit Stellenbosch.
—. 1987b. Vroueblad hou tred met groeiende regte. Die Burger, 19 Junie.
Van Niekerk, A. (Anneke). 2004. Sonder titel. Nieuwsbrief [van Huis der Nederlande], 6(2).
Van Niekerk, A (Annemarie). 1994. Vrouevertellers 1843–1993. Kaapstad: Tafelberg.
Van Niekerk, D. 2009. E-pos-onderhoud. 18 Junie.
Van Reenen, R. 1958. Korrespondensie met Danie en Anneke van Niekerk. 11 Junie. In navorser se besit.
—. 1970. Heldin uit die vreemde. Die verhaal van Emily Hobhouse. Kaapstad: Tafelberg.
—. 1976. Die wêreld van Jansje Wissema. Kaapstad: Tafelberg.
—. 1979. Deurbrake vir vroue … nou vir sustertjies! Beeld, Oktober..
—. 1980. Op die randakker. Kaapstad: Tafelberg.
—. 1984. Emily Hobhouse: Boer War letters. Kaapstad: Human & Rousseau.
Van Reenen, Steyn en Tomlinson vereer. 1986. Die Burger, 10 November.
Verbeeck, G. 2000. A new past for a new nation? Historiography and politics in South Africa – a comparative approach. Historia, 45(2):387–410.
Viljoen. MH. 1953. ’n Joernalis vertel. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.
Voigt, C. 1995. Diepteprojek vir die honneursgraad in joernalistiek, Universiteit Stellenbosch.
—. 2009. E-pos-onderhoud. 22 Maart.
Vosloo, T. 2003. Altyd iets van die verhoog in Rieta Burgers 1932–2003. BY, Die Burger, 26 Julie.
—. 2004a. Onblusbaar Ryk [sic] van der Byl van Reenen. Insig, Januarie/Februarie.
—. 2004b. Voorsittersrede tydens Naspers se Algemene Jaarvergadering op 3 September.
—. 2009. E-pos-onderhoud. 15 Julie.
Vrou “baas” van Rapport. 1974. Die Burger, 31 Mei.
Vrye Weekblad. 1994. 2 Februarie.
Watson, J en A Hill. 2003. Dictionary of media and communication studies. 6de uitgawe. Londen: Arnold.
Wiese, T. 2009. E-pos-onderhoud. 12 Maart.
Woolf, V. 1929. A room of one’s own. Virginia Woolf: The complete works. Classics: 1608/e-posisie (“location”) 30704.
Versamelings
A Louw-Versameling. 2009. Navorser se persoonlike versameling.
Grosskopf, J. 1986. Motivering vir die toekenning van die graad Doktor in die Lettere aan Rykie van der Byl van Reenen. Argief: Stellenbosch Universiteit.
MER-Versameling. Dokumentesentrum, Universiteit Stellenbosch (55. Byvoeging).
PJ Cillié-Versameling. Dokumentesentrum, Universiteit Stellenbosch.
Lees ook in LitNet Akademies (Geesteswetenskappe):
Huisgenoot as tydgenoot: ’n mediageskiedkundige kroniek van ’n tydskrif as “skrif” van sy tyd
Paul Kruger, die Uitlanderstemreg en die Engelstalige pers in die ZAR voor 1895