Fiëstas-persverklaring: Die wenners en vereerdes

  • 0

David Kramer (foto: Nardus Engelbrecht)

2021 was steeds nie ’n feesjaar soos waaraan ons gewoond is nie, maar kreatiewe Suid-Afrikaners en feesmakers het nogtans nie teruggestaan nie. Dit is daarom besluit om wel vir ’n tiende keer Fiësta-toekennings uit te deel aan nie net uitblinkers in vier kategorieë nie, maar ook vier legendes en drie kunstenaars wat die afgelope tyd ’n duidelik merk in die kunste in Suid-Afrika gemaak het.

Dineke van der Walt het as kurator die toekenning in die visuele kuns-kategorie vir Aardklop se uitstalling Liewe Land! ontvang. Schalk Joubert, musiekregisseur van die Woordfees-produksie David Kramer-huldeblyk: Boland tot Broadway het die toekenning ontvang vir beste musiekgedrewe produksie en Stephren Saayman is as die beste nuweling aangewys vir sy spel in die Suidoosterfees se Mannetjie. Ferine & Ferase is aangewys as die beste feesproduksie en Sylvaine Strike, wat saam met Andrew Buckland nie net daarin speel nie, maar ook vir die teks verantwoordelik was, het die toekenning in ontvangs geneem.

Die veteraan-joernalis Martie Meiring, die teater- en beligtingsghoeroe Mannie Manim, die ikoon David Kramer en die kunstenaar Conrad Theys is met Legende-toekennings vereer. Die Sinjatuur-toekenning, ’n toekenning wat verlede jaar ingestel is as aanmoediging en erkenning vir kunstenaars wat reeds op die onderste trappie van die leer is, het vanjaar aan Albert Pretorius, Tinarie van Wyk Loots en Christo Davids gegaan.

Daar is ook onder groot geheimhouding ’n spesiale toekenning vir die uittredende hoof van kykNET, Karen Meiring, beplan. Die toekenning is vir haar uitsonderlike bydrae tot die kunste deur die jare en familie, vriende en kollegas het almal saam gekonkel om inligting en foto’s bymekaar te kry en die toekenning ’n geheim vir haar te hou.

Van die aanbieders en kunstenaars wat deel van die toekenningsaand was, was onder meer Amanda Strydom, Dean Balie, Daneel van der Walt, Wilhelm van der Walt, Jody Abrahams, Stian Bam, Vinette Ibrahim, Cintaine Schutte en Jawaahier Petersen. Die toekennings is op 3 Maart voor ’n gehoor in Kaapstad verfilm.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top