Rykie van Reenen (1923–2003)

  • 1

Gebore en getoë

Rykie van der Bijl (of Van der Byl soos dit in die algemeen gespel is) van Reenen is op 31 Desember 1923 op die familieplaas Waterkloof in die Groenkloof in die distrik Darling in die Wes-Kaap gebore. Sy was die enigste kind van Hester (Hetta) van Velden van die Paarl en Daniel Jakob Samuel van Reenen (Dan).

Haar naam is afkomstig van Hetta se ma, haar ouma Van Velden. Hierdie ouma (Rykie Hester) se van was Van der Bijl en Rykie is dus na haar vernoem.

Toe Rykie ongeveer 15 maande oud was, op 15 Maart 1925, is haar boetie gedurende die geboorte oorlede en haar ma kort daarna. Dan se ma was tydens die geboorte in die huis en het haar seun as "ontroosbaar" beskryf. (Lizette Rabe: Rykie: ’n lewe met woorde)

Haar ma se Van Velden-familie het die klein Rykie aan die begin opgepas en later is haar pa met Bettie, haar ma se jongste suster, getroud om "vir die klein dogtertjie ’n ma te gee" (Lizette Rabe).

Sy het op die familieplaas grootgeword as ’n soort van rabbedoe. Sy is na die Hoërskool Malmesbury, waar sy as veertienjarige Die Burger gehaal het toe sy tweede gekom het in die nasionale Junior Sertifikaat-eksamen (standerd 8; nou graad 10). Sy het ’n A in Engels behaal al was sy in ’n Afrikaansmediumskool. Sy het ook in Malmesbury gematrikuleer.

Rabe vertel hoe Rykie van Reenen as kind reeds begin dagboek hou het, en vir Danie van Niekerk was dit interessant dat sy haar dagboek in Engels geskryf het. Haar eerste leestaal was Engels en sy kon blykbaar al Engels lees toe sy skool toe is. Haar pa se moeder, Bappie, was ook Engels.

Haar verhouding met haar stiefma was nie altyd maklik nie. Bettie was nooit ’n ma vir die baie intelligente Rykie nie en haar pa was die belangrikste persoon in haar lewe. Sy het egter vir Bettie laat versorg na haar pa se afsterwe totdat Bettie in die 1960's oorlede is.

Verdere studie en werk

Ná matriek is Rykie na die Universiteit Stellenbosch, waar sy haar BA-graad in tale in 1943 op die ouderdom van 20 behaal het. Agtien maande daarna het sy haar meestersgraad in Engels verwerf. Haar groot vriendin op universiteit was Helene de Villiers en hierdie twee het saam hul MA-graad in Engels in 1944 en 1945 gedoen. Rabe skryf dat dit soms net hulle twee in die klas was. De Villiers het aan Rabe vertel dat toe sy later op Cambridge gekom het, sy eers onder die indruk gekom het "wat dit was wat hulle in die Engels-departement op Stellenbosch gehad het: ’n soort 'Cambridge-atmosfeer'. Hulle het as jongmense baie meer as kennis deur hul studies in dié departement gekry; méér as ’n sensitiwiteit vir die letterkunde, veel eerder ’n 'hele lewensbenadering'."

Op Stellenbosch was Rykie deel van ’n uitsonderlike groep vroue wat op intellektuele basis aansluiting met mekaar gevind het – vroue soos Helene de Villiers, Elsabé Malan en Sophie Kritzinger. Ook uitsonderlike persoonlikheidskenmerke wat later by Van Reenen uitgestaan het, het reeds op universiteit na vore getree – lewenslustigheid, haar ondersoekende en uitdagende karakter, opwindendheid, laat wees vir afsprake omdat iets anders altyd tussenbeide getree het. Ook haar onverskrokkenheid en romantiese geaardheid het op vele maniere gewys. Haar vriendekring was groot.

Terwyl Rykie op skool was, was joernalistiek en boerdery nie op haar lys van toekomstige beroepe nie. Die beroepe van onderwys en verpleging was die algemene norm daardie tyd vir meisies, of hulle kon ’n boer se vrou word. Sy was egter seker dat sy nie in een van hierdie rigtings sou verder leer nie. As gevolg van haar belangstelling in die letterkunde het sy biblioteekkunde begin oorweeg. Rabe skryf dat Rykie se dagboek reeds bewys gelewer het van haar joernalistieke insig om fyn te kan waarneem.

Rykie se toetrede tot die joernalistiek was tot ’n mate te danke aan Marcha Schoeman wat saam met haar in Huis ten Bosch was. Schoeman was vanaf 1941 korrespondent vir Die Burger op Stellenbosch. Sy is in 1943 in Die Burger se redaksie aangestel en het vir Rykie oorreed om oor te neem as Die Burger se korrespondent van die universiteit.

Rykie se joernalistieke vermoëns het baie gou die oog van die redakteur van Die Burger, AL Geyer, gevang en hy het haar vir die redaksie van sy koerant gewerf. In April 1945 het sy saam met Marcha Schoeman by Die Burger begin werk.

Die vroue wat in daardie jare vir die koerantwese gewerk het, het feitlik almal vir die koerant se vroueblad gewerk. Die sosiale rubriek van Die Burger is "In Gesellige Luim" genoem en het hoofsaaklik op troues gefokus, wat in besonderhede bespreek is. Rykie en Marcha het op vindingryke wyse daarin geslaag om die verslaggewing oor troues op ’n oorspronklike en nuwe manier weer te gee. Lizette Rabe skryf in haar biografie: "Een so ’n intro was vir die dubbele bruilof van twee susters. Dit het só gelui: 'My naam is Abraham. Ek kan dus natuurlik nie weier om my dogters af te staan aan ’n Isak en Jakob nie, het ’n trotse pa by die bruilof van sy twee dogters gesê.'"

Vanweë Rykie se groot talent het sy vinnig gevorder van die vroueblad na die algemene nuuskantoor as algemene verslaggewer. Sy was die eerste vroulike verslaggewer wat nie by die vroueblad geëindig het nie. Tot 1965 het sy ook haar talente ingegooi by Die Byvoegsel, die algemene nuusredaksie, die sportkantoor, die kunsredaksie en ook Die Klein Burger, waar sy haar liefde vir kinders kon uitleef.

Gedurende haar tydperk by Die Burger het sy begin om haar eerste bydraes vir die rubriek "Van Alle Kante" te skryf. Aat Kaptein was tot 1960 die skrywer van die rubriek, maar toe hy in 1960 met verlof gaan, het Rykie amptelik in sy plek begin skryf. Sy het haar dadelik bewys as ’n rubriekskrywer van formaat .

In 1952 was Rykie op ’n oorsese toer en met haar terugkoms was haar pa, wat nog altyd op die familieplaas Waterkloof geboer het, sterwend. Vir haar was die gedagte dat haar pa moes doodgaan, iets waaraan sy nooit gedink het nie en ná sy afsterwe het sy die plaas geërf en het sy haar amper verplig gevoel om met die boerdery voort te gaan. In ’n onderhoud met Marita van der Vyver in Sarie van 13 Maart 1985 het sy gesê dat sy "eenvoudig moes boer om die plaas te behou. Dit was harde werk, maar nie moeilik nie."

Rykie het gedurende die tyd wat sy geboer het, ook joernalistieke vryskutwerk gedoen, maar sy kon die pas nie volhou nie en haar gesondheid het onder al die druk begin agteruitgaan. Sy het ook deeltyds onderwys gegee om haar inkomste aan te vul, aangesien die boerdery nie altyd so winsgewend was nie. Ná ’n wroeging het sy in 1964 besluit om die plaas te verkoop – iets wat haar swaar op die hart gelê het, omdat dit die laaste band met haar pa was.

In 1965 was Rykie van Reenen een van die stigtersredaksielede van die Sondagkoerant Die Beeld, en het sy met die rubriek "Op die randakker" begin wat later deur Tobie Boshoff in boekvorm saamgestel is. Lizette Rabe skryf in Rykie: ’n lewe met woorde dat Rykie van Reenen een van die joernaliste was wat in 1965 met die hand uitgesoek is wat Die Beeld moes vestig. Ton Vosloo het dit so opgesom: "Die omraming is: Die Burger in die vroeë sestigs. Aan die spits Phil Weber, Piet Cillié, Schalk Pienaar, JJJ Scholtz, PA Joubert, Willem Wepener, Aat Kaptein, WO Kühne, om maar ’n paar te noem. En dan, Rykie, so formidabel soos kan kom. Hou vir hou kon sy terugkap in daardie manlik oorheersende wêreld. [...] Hierdie Burger-redaksie het joernalistiek van ’n gehalte gelewer wat miskien altyd beskou sal kan word as die hoogwatermerk. Jy het die koerant gekoop vir die rubrieke van begaafde skrywers, soos Rykie."

"Op die randakker" is voortgesit in Rapport, wat in 1970 deur Naspers en Perskor gestig is. Rykie was in die stigtingsredaksie van Rapport en is in 1973 bevorder tot assistentredakteur, die eerste vrou wat by enige Suid-Afrikaanse media-instansie daardie vlak bereik het. Sy het gereeld daarna waargeneem as redakteur as die redakteur weg was. Sy het in 1979 uit die redaksie getree.

In haar meestersverhandeling (1987) het Marita van der Vyver geskryf dat dit Van Reenen se geloof was dat "alles eintlik oor mense gaan" wat van haar so ’n ongelooflik goeie rubriekskrywer gemaak het. "Sy kon met ewe veel deernis en ewe veel humor oor die 'gewone' mens as oor die 'groot' figuur skryf. Haar onderwerpe het gewissel van die petroljoggies van Britstown en die 'bryde' van Groentemarkplein tot John Vorster en Steve Biko, Hendrik Verwoerd en Breyten Breytenbach."

Een van die persone wat ’n groot invloed op Rykie van Reenen as skrywer gehad het, was MER. Rykie het MER in 1950 ontmoet toe sy en Alba Bouwer MER met haar 75ste verjaardag gaan besoek het. ’n Diep vriendskap was die gevolg van die eerste besoek, en baie ander kuiers aan MER se huis op Swellendam het gevolg. Sy het baie briewe van aanmoediging aan haar "Kaapse kinders" geskryf. In een so ’n brief aan Rykie het sy geskryf: "En as ek dit ('Van Alle Kante') nou lees dan wens ek so dat my liewe Frederik Rompel êrens sit of sweef om dit nou te lees; en as ek sê hy sou daar skik in gehad het, dan maak ek jou wat Rykie is, die hoogste kompliment wat gemaak kan word. [...] Maar ek weet dat hy sou reken – A! Hier kom my VAK tot sy reg" (in JC Steyn se biografie oor MER, bl 456).

In 1982 het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns die Markus Viljoen-medalje aan Rykie van Reenen toegeken vir haar diens aan die Afrikaanse joernalistiek. Tydens die toekenningsgeleentheid het Piet Cillié onder andere gesê dat die medalje bedoel is vir mense wat hulle alreeds as joernaliste bewys het en dat dit geen aanmoedigingsprys is nie. "Ek glo dit is besonder gelukkig dat ons vanjaar ’n vroulike kandidaat vir die Markus Viljoen-medalje het wat haar as ’t ware self nomineer; ook dat sy in die noorde sowel as die suide haar stempel gelaat het. Ek beskou haar as die beste vroulike stilis in die Afrikaanse joernalistiek sedert MER. ’n Vrou kry die medalje in ’n tydvak wat gekenmerk word deur ’n wêreldwye vloedgolf van vroue na die eens byna uitsluitend manlike beroep van die joernalistiek.

"Ek sluit met die woorde van Emily Hobhouse, soos op 16 Desember 1913 deur Charlie Fichardt voorgelees by die onthulling van die Vrouemonument, waar sy weens ongesteldheid nie self kon wees nie: 'My vriende, dwarsdeur die wêreld kom die dag van die vrou nader, haar eeu breek aan.'"

Die eerste maal wat daar ’n bydrae van Rykie in ’n bundel opgeneem is, was in Die dammetjie en ander sketse en essays wat in 1960 deur Tafelberg uitgegee is. Dit het bydraes van MER, Rykie van Reenen, Audrey Blignault, Alba Bouwer, Freda Linde en Elise Muller bevat. Die stukke van Rykie wat opgeneem is, was "Kom saam na die blomme", "Ons winterson-dae" en "Christien kry werk”. Rabe skryf dat Elize Botha geskryf het dat "daar (...) rede (is) om die skrywers (van Die dammetjie) 'uit die skool van MER' te noem". Sy het ook na die vroue verwys as ’n "'école des femmes' wat almal ’n belangrike rol in die joernalistiek gespeel het".

In 1970 verskyn Heldin uit die vreemde: die verhaal van Emily Hobhouse, wat etlike herdrukke beleef het, tot so onlangs as 1999. Dit is in 1971 deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns met die Scheepersprys vir Jeuglektuur vir 1971 bekroon. In sy huldigingswoord het CJM Nienaber gesê: "Dit is ’n verrykende toevoeging tot sowel ons geskiedskrywing as ons jeuglektuur."

Rykie het in ’n brief aan MER geskryf: "[L]ekker dat hulle vir Emily die Scheepers gee, nè! Het vergeet die Scheepers kan vir nie-fiksie ook wees (wat, immers van Tweeling!) sodat dit ’n totale verrassing was. Vreeslik lekker om die kleinsussie te wees in TaMiem en Alba se geselskap!” (Rykie: ’n lewe met woorde, bl 219).

PD van der Walt het in Die Transvaler van 11 Januarie 1971 geskryf dat Rykie van Reenen die feite oor die bekende Emily Hobhouse op ’n boeiende en dramatiese manier oorvertel het. "Simpatiek, maar objektief, met ’n oog vir die konkrete en sprekende besonderheid, skryf Rykie van Reenen. En dit in ’n heerlike soepel Afrikaans, ’n styl wat funksioneel is en die stemming of onderwerp dien. (...) Dit sê besonder veel vir Rykie van Reenen se vermoë as skryfster dat sy nie alleen daarin geslaag het om die heroïese van die vrou te laat kristalliseer nie, maar dat sy die hele agtergrond binne so ’n kort bestek ’n werklikheid kan maak: of dit nou die pastorielewe in Engeland is, of die Suid-Afrika ten tye van die Vryheidsoorlog en daarna. Lanklaas, indien ooit, het ek met soveel vreugde gelees aan ’n werk van feitelike aard, en dit is in die eerste plek toe te skryf aan die kunstigheid waarmee Rykie van Reenen haar van haar skryftaak gekwyt het."

In 1984 word Emily Hobhouse: Boer War letters by Human & Rousseau gepubliseer met Rykie van Reenen as redakteur, en dit kan as haar grootste bydrae tot die Suid-Afrikaanse geskiedskrywing beskou word. Dit was weer as gevolg van MER se aanmoediging dat Rykie die twee Hobhouse-boeke aangepak het. Deurlopend, tussen haar daaglikse take deur, het Rykie haar navorsing oor Hobhouse gedoen en ook elke tweede jaar ’n rukkie aan haar navorsing bestee.

Ook Karel Schoeman was in die prentjie toe dit by die Boer War letters van Hobhouse gekom het. Dit was hy wat aan Human & Rousseau die idee gegee het dat Rykie verantwoordelik moes wees vir ’n boek oor Emily Hobhouse.

In ’n artikel in De Kat van 31 Julie 1985 skryf Rykie dat die feit dat sy die eerste boek oor Hobhouse geskryf het en die kans gekry het om Hobhouse se briewe te redigeer, haar baie bly gemaak het. "Ek het nog altyd gedink dit is iets wat ek graag sou wou doen wanneer ek eendag aftree. Teen dié tyd was Miss Hobhouse vir my lank nie meer die draer van old unhappy far off things and battles long ago nie. Sy was iemand heerliks wat ek as ’t ware die voorreg gehad het om van huis uit te leer ken en ingenome aan soveel mense moontlik wou voorstel ... sy dit met gefluisterde waarskuwing 'Pasop, sy lyk so lief, maar sy kan by-hyt'!" (Lizette Rabe in haar biografie).

Vir Johannes Grosskopf was hierdie publikasie Van Reenen se "grootste werk". "Dit is veel meer as ’n versameling en redigering van boeiende historiese materiaal. Die deeglikheid van navorsing, die inspirasie en verbeelding in die samestelling maak hierdie publikasie vergelykbaar met die beste in sy soort. Die wyse waarop historiese, biografiese en sosiologiese dimensies geïntegreer is, is op die vlak van internasionale standaarde. Met hierdie werk het mej Van Reenen die Suid-Afrikaanse geskiedskrywing, letterkunde en ons belewing van ons eie samelewing verryk."

Boer War letters is in 1985 met die Recht Malan-prys vir niefiksie bekroon en ook Human & Rousseau se Ou Mutual-prys tydens die herdenking van Human & Rousseau se 25ste bestaansjaar gewen.

Karel Schoeman het Boer War letters beskryf as "dié historiese publikasie van die tagtigerjare", en vir Audrey Blignault was dit "’n belangrike, gesaghebbende bydrae tot geskiedskrywing" (Lizette Rabe).

André Wessels het sy resensie in Volksblad van 6 September 1999 só afgesluit: "Emily Hobhouse: Boer War letters is tegelyk ’n waardevolle naslaanwerk en lekkerlees boek. Enersyds werp dit lig op die lewe en werk van een van die merkwaardigste vroue in ons land se geskiedenis en andersyds belig dit op treffende wyse die onmenslikheid van oorlog, die wyse waarop gewapende konflik mense se lewens kan vernietig, maar ook hoedat te midde van onreg en verwoesting, die mens se gees kan triomfeer."

En in Beeld van 18 Oktober 1999 sê Cecile Cilliers: "Dit moes heldinnemoed gekos het om die magdom inligting, vervat in briewe en memories, in orde te bring. Wat Rykie van Reenen skynbaar moeiteloos vermag het. Elke voetnoot is op sy plek; die foto's het behoorlike onderskrifte; bykomende aantekeninge voorsien inligting oor die familie en vriende van EH (soos daar deurgaans na Emily Hobhouse verwys word) en daar is ’n kort maar deeglike opsomming van haar lewe van haar geboorte in 1860 tot haar dood in 1926. En die klem bly deurgaans so gerig dat die mens Emily Hobhouse in al haar vuur en deursettingsvermoë en arrogansie en nederigheid uit die bladsye stap."

Daar was egter ’n nadraai toe Jennifer Balme, ’n verlangse familielid van Hobhouse van Kanada, Human & Rousseau in ’n artikel daarvan beskuldig het dat "hulle die intellektuele eiendomsreg van die Hobhouse-familie geskend het deur die boek uit te gee". (Beeld, 18 Oktober 1999)

Koos Human het in ’n e-pos aan Lizette Rabe geskryf dat hulle daarna die kopieregkenner A Copeling genader het en dit is so dat die opvatting dat kopiereg 50 jaar na ’n skrywer se afsterwe verstryk, nie van toepassing is op ongepubliseerde werk nie. "Copeling het egter een of ander skuiwergat gekry wat ons gevrywaar het, maar ons het ooreengekom dat Rykie se boek net in Suid-Afrika versprei sal word en dat die Kanadese agterkleinniggie haar boek in die res van die wêreld kan verkoop. Of dit ooit verskyn het, weet ek nie."

Rykie van Reenen was 13 jaar lank ’n gereelde rubriekskrywer in Beeld en Rapport, en voor dit ook in Die Burger. En baie mense meen dat hierdie praktyk van rubriekskryf net te veeleisend was en dat dit dalk een van die redes kan wees waarom sy geen eie skeppende werk uitgegee het nie. Volgens Rabe het haar peetkind, Annatjie Louw, gesê dat "sy nie fiksionele karakters kon skep nie"; en Rabe vra: "Is Van Reenen se woord-erflating dan nie juis opgesluit in die rykdom en rykheid van haar rubrieke, resensies en ander artikels nie?"

In 1980, met Rykie se aftrede, het Tafelberg ’n bundel van haar beste bydraes tot "Op die randakker" (in Beeld en Rapport) deur Tobie Boshoff met dieselfde titel byeengebring.

Met die lees van hierdie bundel kan die leser ’n baie duidelike beeld op die tydsgees en die geskiedenis van daardie jare kry: "lewendige visuele beelde in Van Reenen-unieke tekste" (Rabe.

In Die Transvaler (25 Augustus 1980) skryf Marié Heese dat die bundel om "mee te begin, heel dikwels hoog vermaaklik" is, maar dit bly nie daar nie. Een van die fasette van die bundel wat "besondere waarde daaraan verleen, is die feit dat dit telkens gegaan het om krisismomente in ons land se geskiedenis, byvoorbeeld die dood van dr Verwoerd, die toetrede van Johan Vorster as eerste minister, die verhoor van Tsafendas, die aardbewing van 1969, die Soweto-opstand van 1976."

Vir Heese maak die insluiting van hierdie stukke dat die bundel ’n "klein argief" word. Daar is egter geen sensasie of te veel sentiment nie, maar alles word altyd "met menslikheid en mededoë" weergegee.

Heese het voortgegaan: "Nie alleen die inhoudelike nie, maar ook die reflektiewe element verleen aan dié bundel meer as efemere waarde. (...) Verdere verdieping word meegebring deur Rykie se kenmerkende sin vir die ironiese. (...) Moontlik die heel grootste waarde van die bundel lê in die taalgebruik. ’n Mens moet jou nooit deur die oënskynlik ontspanne, gemaklik-intieme geselstrant laat bluf nie. Hier is ’n woordkunstenaar aan ’t skrywe. (...) Menige romanskrywer kan Rykie haar beskrywingsvermoë en karaktertekening beny. Take a bow, Van Reenen!"

In Beeld van 21 Julie 1980 beskryf Annie Schumann die 72 stukke wat in Op die randakker opgeneem is as "omkrultoongenot". Vir haar is daar ’n baie goeie balans tussen "erns en pret, oorpeinsing en lering en sommer plein sotlike stoutigheid".

Schumann het voortgegaan: "Party mense skryf ’n boek om ’n mens, of ’n situasie, te beskryf. Rykie van Reenen skryf ’n sin. Hier word joernalistiek op sy allerbeste beoefen deur ’n uitmuntende vakman. Haar onmiskenbare skryfvermoë is geskool en geslyp in ’n harde skool waar nagsubs passasies en onnodige fieterjasies soos hakies uitkap. (...) Die lewe self word hier in ’n series klein vinjette met fyn meesterskap voorgeskilder. Dit is ’n kosbare, kostelike boekie dié."

Sybelle Albrecht sluit haar resensie in Die Vaderland van 26 Maart 1981 só af: "Op die stofomslag van die bundel word tereg genoem dat die rubrieke ’n hele spektrum van die skryfster se denke en emosies omvat. Daar is ernstige stukke in die bundel wat getemper word deur insig en mededoë. Maar sy het ook ’n besonderse ligte aanslag wat haar die snaaksste, stoutste staaltjies kan laat vertel. G’n mens kan vir Rykie van Reenen lees en daarna nog suur voel met die wêreld nie!"

In 1986 het die Universiteit Stellenbosch ’n eredoktorsgraad aan Van Reenen toegeken. Johannes Grosskopf was destyds die hoof van die nagraadse joernalistiekdepartement en moes die aanbeveling skryf: "Haar frisse, helder skryfstyl, haar skerp sieninge het ’n vernuwing in die Afrikaanse joernalistiek help bring, maar sy het veral ’n bydrae van blywende betekenis gelewer deur die deernis waarmee sy geskryf het oor die minder bevoorregtes van ons groot samelewing. (...) Sy het baie mense bewus gemaak van ’n Suid-Afrika waarvan hulle nie geweet het nie."

Grosskopf het afgesluit: "Haar talent is dié van ’n waarnemer, maar ook van ’n deelnemer; van ’n besinner wat midde-in ’n besinning hardop kan lag omdat sy die betreklike van alle menslike bedrywighede insien, en die mens liefhet en respekteer, ondanks sy tekortkominge."

Dit was egter nie vir Rykie van Reenen lekker om geprys te word en toekennings te ontvang nie, skryf Lizette Rabe in haar boek. Sy het egter tog die eredoktorsgraad van die US ontvang. Ná die gradeplegtigheid het sy aan die destydse rektor, Mike de Vries, geskryf (13 Desember 1986):

Net om vir Stellenbosch nog ’n keer dankie te sê. Wat vir my in die vooruitsig loutere verskrikking was, het toe geword een van die wonderlikste dae van my lewe.

Dit kan maar selde wees dat soveel hartlikheid en bedagsaamheid en gulheid en vriendskap een mens op een dag toeval. Ek het met een woord geborge gevoel – nie die minste nie, toe ek op die noenmaal tussen u en Renée te lande kom.

Hierdie briefie hoort eintlik op perkament of iets te wees, maar die woordmeul [Rykie se woord vir ’n woordverwerker] is eintlik al waarop krokkerige hande my nog laat skrywe. 'Skuus dus vir die onelegant kommunikasie.

Uit die hart
Rykie van Reenen.

Naskrif: Moet sê: Daardie tien minute alleen op die verhoog van die vol DF Malan Gedenksentrum in n rooi kabaai het my immuniseer teen watter verskrikkinge die lewe ook al vorentoe mag bring. (Lizette Rabe, bl 231)

Dit was nie die laaste eerbewys wat op Rykie van Reenen se pad gekom het nie. In 1990 het die Universiteit van Suid-Afrika ’n jaarlikse prestigelesing, die Rykie van Reenen-huldigingslesing, ingestel. In ’n e-pos aan Lizette Rabe het Pieter Fourie (die dramaturg) geskryf dat die instel van hierdie lesing bedoel was om Unisa se Departement Kommunikasiekunde se 21ste jaar van bestaan te herdenk. "Op daardie stadium was daar in Suid-Afrika nog geen erkenning in akademiese kringe vir joernaliste nie, wat nog te sê vroulike joernaliste. In Suid-Afrikaanse joernalistieke kringe is Rykie erken as seker die uitstaande vroulike joernalis, en boonop as ’n intellektueel. Ek het gedink dat die tyd ryp was om ’n joernalis, en veral ’n vroulike joernalis, op ’n akademiese wyse te vereer. Boonop het ek geweet dat sy waardering gehad het vir intellektuele denke oor die joernalistiek. Die doel met die lesing was om sodanige denke in Suid-Afrika te stimuleer."

Vir Van Reenen was dit baie belangrik dat daar in hierdie lesing oor die joernalistiek besin moet word. In ’n brief aan Pieter Fourie het sy geskryf: "Dis werklik ’n baie goeie gedagte om van tyd tot tyd poolshoogte te neem van die stand van die joernalistiek in Suid-Afrika. En dit oor seksionele grense heen" (Rabe, bl 232).

Richard van der Ross, oudrektor van die UWK, het die eerste Rykie van Reenen-huldigingslesing waargeneem en die tweede is in 1992 deur J Degenaar gelewer. Daarna is die lesings gestaak. Pieter Fourie het aan Lizette Rabe genoem dat hy gemeen het Van Reenen se nederigheid en ook haar gesondheidstoestand het haar so ver gebring het om hulle te vra dat hulle steeds met die lesings oor die joernalistiek moet voortgaan, maar dat dit nie meer onder haar naam moet gebeur nie.

Rykie se alma mater, die US, het in 1999 die sekonderingspos aan die US se nagraadse joernalistiekdepartement na Rykie van Reenen vernoem. Die pos word in sy geheel deur Media24 gesubsidieer en volgens die Rykie van Reenen-genootskap word ’n senior joernalis vir ’n jaar gesekondeer as dosent in die praktyk van joernalistiek in die departement se BPhil Joernalistiek-kursus vir beginnerjoernaliste (Rabe, bl 236).

Ná Rykie van Reenen se afsterwe is haar groot Afrikaanse boekversameling aan die Huis der Nederlanden (HdN) in Pinelands in Kaapstad geskenk. Haar jare lange vriendin, Judith Wurtzel, het die Afrikaanse boeke saam met ’n versameling Nederlandse boeke op aandrang van Rykie se vriend Danie van Niekerk aan die HdN geskenk.

Rykie is erg in Johannesburg aangerand en het as gevolg daarvan, en ook ander gesondheidsprobleme, in 1980 afgetree en teruggetrek Kaapstad toe. Sy was maar 56 jaar oud, maar die eerste tekens van veelvuldige sklerose was reeds teenwoordig. Sy het haar weer in die suidelike voorstede in Wynberg gaan vestig, saam met Jean van der Poel. Haar hart was egter in die Weskus en in 1988 het sy Yzerfontein toe getrek en het sy haar huis wat sy in 1968 gebou het, betrek.

Rykie het as volg oor haar huis en Yzerfontein in die eerste Rapport van 1974 geskryf: "Jaar, jy moet my verskoon. Ek is nog nie mooi met jou nie. Ek het nog seesand tussen my, met verlof gesê, tone en sonbrandvelle op my ou neus, die ou liggaam mag vir julle lyk of hy in Joeys is, maar daais nie ek nie: ek wat ek is, sit nog langbeen op ysterhuisie se plank-'dek' uit te kyk oor die see, en ruik hoe Paternoster se harders op die rooster braai, hier skuins agter, westekant van die huis" (Lizette Rabe: Rykie: ’n lewe met woorde, bl 303).

Rykie het na haar aftrede nie ledig gesit nie. Sy het nog tot 1981 die kerklike berigte vir die koerante van Nasionale Pers behartig, maar het daarna heeltemal uit die aktiewe joernalistiek getree.

Soos reeds hier bo genoem, was Rykie was in haar vyftigerjare toe sy met veelvuldige sklerose (VS) gediagnoseer is. In 1982 het sy reeds in ’n brief aan Annatjie Louw geskryf dat sy haar "stil geskrik" het toe sy op haar hospitaallêer lees: “?multiple sclerosis”. “Maar hulle dink nou nee wat, hulle glo nie dis dit nie. Wat, weet hulle nog nie, maar 'I'm confident you can look forward to senility on your feet,' sê die jong hospitaal-doktertjie!" (Lizette Rabe).

Dit is toe later bevestig dat sy wel aan VS ly, maar dit het nie veroorsaak dat sy ’n minder vol lewe gelei het nie. In ’n artikel in De Kat van Augustus 1996 het sy onder die titel "Gewapen met ’n daggazol" vertel van haar lewe met VS. Vir hierdie artikel het sy in 1997 die Mondi-toekenning in die gesondheidskategorie ontvang.

Sy het in die artikel geskryf: "By die aanhoor van my 'vonnis' was dit heel eerste vir my ’n yslike verligting. Dat dit nie aanstellery of psigosomatiese illusie van my kant was nie.

"Ek was toe seker al tien jaar her en der tussen dr Pontius en prof Pilatus, en hospitale en toetse en ditgramme en datgramme – VS het soveel gesigte wat medies bekend lyk, dokters identifiseer dit baie moeilik. (By my het die magnetiese resonans-toets – toktok, toktok, toktok vir wat voel soos ure vasgegespe in ’n pikdonker metaalbuis – die skleroseplaatjies in my brein verklik en eindelik die diagnose beklink.)

"Intussen word jy rondgeslinger tussen angs oor ’n kwaal wat – jy hoor – van jou ’n hulpelose blinde papie kan maak en die hoop dat dit nie dit is nie, of op sy beste dat dit jou nie só sal tref nie. VS is seker die onvoorspelbaarste kwaal wat daar is.

"Ek dink dis miskien die moeilikste, hierdie tyd van onsekerheid: jy weet nie waarop jy jou moet instel, waarteen jy ten minste jou gees moet weerbaar kry nie.

"Teen dié tyd is jy moeg om vir liewe belangstellende mense te probeer verduidelik wat dit met jou is dat jy so patologies moet word en insgelyks verwelk onder hitte (’n lekker warm bad laat jou soos ’n lap voel), en hoekom jy al meer val, en misvat, en onduidelik praat. Die feit is, jou spierkoördinasie is al meer versteur.

"Dan as jy eendag weer diep asem haal en weer begin met die ou, omslagtige storie van boodskappe-kom-blykbaar-eenvoudig-nie-deur-van-my-kop-na my-lyf-nie, val jy jouself in die rede met die openbaring, kort en klaar, 'Want ek het VS!' (...)

"Iewers op die desperate trapmeul om liggaamlike genesing te probeer vind, daag dit op ’n mens dat daar ’n glad ander heelheid is, en dat dit dít is wat eintlik saak maak – al gaan jy dood van jou kwaal. Dan wonder ek of die vriende wat so getrou vir my genesing bid, besef hul gebede word beantwoord op ’n glad ander manier as wat hulle moontlik in gedagte gehad het.

"In daardie raamwerk kan ek sonder om te lieg, sê VS is die beste ding wat met my kon gebeur het. Dit het my, weliswaar skop-skop, teruggepluk uit ’n baie aktiewe (en baie lekker!) lewe in die koerantwêreld en buitelug en gebring na ’n stil plek wat buite tyd lê. Waar die eintlike aksie is."

Sy het verder in die artikel vertel van die paaie wat sy geloop het met diëte, mediese navorsing en alternatiewe middels: "Ná ’n lesing voor die Kaapstadse tak van die vereniging vir VS het ek pas ’n sterk voorstander geword van die sanksionering van dagga vir medisinale gebruik. Teen die spasmas van my kwaal wat dikwels met urinêre probleme saamhang, gebruik ek ’n duur konvensionele pil. Nou vind ek dat ’n paar trekke dagga wonderlik help – en ’n mens lieflik laat slaap, sonder sweem van kwade gevolg môreoggend. Ek is nie van nature danig spieëlbewus nie, maar een of twee keer in ’n week verkyk ek my aan die gryse ou tantetjie met haar daggazol.

"Vandag voel ek soos ’n basies gesonde mens in ’n belemmerde lyf. Ek kyk party dae na die rolstoel en die skoeter en die loopraam wat daar staan, en ek dink: wat het daardie drie met my te doen? Natuurlik nes ’n mens te rammetjie-uitnek raak en jou verbeel jy kan maak en breek soos van ouds, lê die klassieke VS-moegheid jou voor, en jy weet aan jou bas nou't jy weer afgebreek waaraan jy en ander so opgebou het.

"’n Mens gaan deur verskillende stadiums in die hantering van die siekte, maar op die ou end is die kuns der kunste om vir jouself ’n ewewig te vind tussen baklei en berus. Dit beteken allermins om ’n kombers oor jou kop te trek of vroom jou hande te vou en te wag vir die ergste: dis meer ’n oorskakeling in ’n ander rat."

In November 2003 is Rykie van Reenen in die Milnerton Medi-Clinic opgeneem nadat sy geval en haar heup gebreek het. Sy is geopereer en is daarna na ’n rehabilitasiesentrum oorgeplaas om aan te sterk. Haar vriendin en versorger sedert 1986, Jude Wurtzel, het gesê Rykie kon nie mense ontvang nie: "Sy kon reeds voor die ongeluk nie te veel kuiergaste hanteer nie," het Wurtzel aan Anne-Marie van Wyk (Rapport, 23 November 2003) gesê. "Maar baie dankie vir almal se ondersteuning. Wat julle ook al doen, dit werk, want Rykie is weer aan die gang."

In ’n onderhoud met Marlene Malan in Die Burger (23 Desember 2003) het Jude gesê dat sedert Rykie by die huis aangekom het na die heupoperasie, daar ’n "nuwe fase vir haar aangebreek het. Die begin van die proses om haar liggaam te verlaat. Ons (Jude en Elizabeth Matthews, hulle 'engel') is hier vir haar, wanneer sy gaan. (...)

"Sy was bly om weer tuis te wees; ook oor ons twee nuwe katjies. Daarna het sy in haar rolstoel gesit en ure lank oor die see getuur. Op die 18de het sy opgehou praat. En nou is ons hier saam met haar. Haar liggaam is rustig. (...) Waar Rykie nou is, is nie net sleg nie. Dis ’n proses wat ons bevoorreg is om met haar te deel."

Op 28 Desember 2003, drie dae voor haar 80ste verjaardag, is Rykie van Reenen in haar huis op Yzerfontein oorlede, volgens Jude om ongeveer 20:45, nadat sy die vorige twee dae niks geëet of gedrink het nie, het Martie Meiring in Die Burger van 29 Desember 2003 berig.

Huldeblyke

  • Die Burger-hoofartikel: "[Rykie] van Reenen sou, naas MER, wat in 1992 by Die Burger in Keeromstraat begin werk het, een van die belangrikste wîe word wat in die Afrikaanse koerantwêreld die brute rots van manlike oorheersing laat kraak het en waaruit ’n nuwe geslag nuwe en jong dinamiese vroue die beroep betree het. Van Reenen se bekwaamhede as woordsmid, stilis en ondersoekende joernalis het min gelyke in die Suid-Afrikaanse persgeskiedenis. As rubriekskrywer van Die Burger en later ook die Sondagkoerante Die Beeld en Rapport was sy weergaloos. (...) NP van Wyk Louw moes haar ook in gedagte gehad het toe hy destyds opgemerk het die beste prosa in Afrikaans word dikwels in Die Burger beoefen. Nuuskierigheid, ’n onbeperkte belangstelling in wat in die wêreld om jou aangaan, uitmuntende skryfvaardigheid en kreatiwiteit, en inisiatief is vier van die onontbeerlikste kwaliteite waarsonder geen voornemende joernalis vandag die beroep kan betree nie. Rykie van Reenen het ál vier in oordaad gehad. Nêrens is haar waarnemingsvermoë en die voortreflikheid om dit in woorde, in verhale te omskep beter geïllustreer as in haar oorlogsindrukke uit die Midde-Ooste nie – nog ’n gebied waar sy haar manlike eweknieë na die kroon gesteek het. Van Reenen sou môre 80 geword het. Die Afrikaanse joernalistiek sê tot siens aan ’n baanbreker." (30 Desember 2003)
  • Hennie Aucamp: "Dit is gepas dat daar in dié dae hulde gebring word aan Rykie van Reenen. Sy het nou sélf ’n ikoon geword te midde van gestaltes wat sy as joernalis help 'kanoniseer' het. (...) Maar hoe gaan ’n huidige geslag die legende Van Reenen agterhaal as daar nie meer een hele boek van haar beskikbaar is nie? Die Afrikaanse joernalistiek is ’n bundel uit haar werk aan Van Reenen verskuldig. Sy sélf, wars van openbare vertoon en erkenning, sou verbaas gewees het oor só ’n voorstel; maar haar bewonderaars behoort die finale sê in die saak te hê. Daar is byvoorbeeld talle stukke wat nooit in boekvorm verskyn het nie, soos haar onderhoud met Cliff Richard; haar verslag – eintlik ’n sprankelende skets – oor ’n groot makietie in Gamkaskloof by die aankondiging van ’n pad na die Kloof; haar uitgebreide bekendstellings in Sarie (Marais), onder die skuilnaam Elizabeth Tredoux, van die jongste bundels van onder andere MER, Van Wyk Louw en Opperman. Wie begin met die bymekaarmaak van ongepubliseerde Rykie van Reenen-materiaal, behoort by die joernale van die Berg-en-toerklub van die Universiteit van Stellenbosch te begin. Van Reenen was in haar studentedae amptelik sketsskrywer, en haar verslag van ’n toer na die Sederberge is so lewendig as enigiets wat sy later sou skryf. Die joernalis in haar was van meet af aan daar; een van stuk." (Die Burger, 30 Desember 2003)
  • Miemie Rothmann: "Nie net klink ek ’n glasie, met trane in my oë, op die 80ste verjaarsdag van Rykie van Reenen nie, maar ek groet ’n sprankelende joernalis-generaal en vriendin. Vir my – as kleindogter van MER – was dit ’n wonderlike voorreg om Rykie te ken. Soveel aangename herinnerings lê hier in 'Komnader' waar sy so lekker gekuier en haar verkneukel het aan al die Rothmann-gesegdes en -stories. Haar fyn sin vir humor en aansteeklike geesdrif vir die lewe sal ek nie maklik vergeet nie. Enduit het sy haar siektetoestand met grasie gedra. Aan haar familie betuig ek my innige meegevoel, en ek sê: Dankie Ou Master dat U haar kom verlos het van haar lyding. Ook dankie aan me Jude Wurtzel en hul getroue huishulp wat Rykie so mooi bygestaan en opgepas het." (Die Burger, 31 Desember 2003)
  • Meiring, Martie: "Rykie van der Byl van Reenen, Rykie soos sy bekend was, of Rykdom soos redakteur Schalk Pienaar haar genoem het, sou vandag 80 geword het. Haar merk in die Afrikaanse joernalistiek kan moeilik geëwenaar word.

"Eerstens was sy die baanbrekende stilis, tweedens ’n onvergelykbare humoris en derdens, miskien die belangrikste, g’n koei was ooit te heilig of onaantasbaar nie. Hoewel sy ’n gedugte verslaggewer was, en as vrydenker ’n indrukwekkende kerksakeverslaggewer, was dit veral as rubriekskrywer dat sy geskitter het. Rykie was die tweede persoon om ná die briljante Hollandse prikkelend-stoute Aat Kaptein in haar rubrieke in 'Van Alle Kante' deur ’n eienaam geïdentifiseer te word. Hierdie korps van haar werk het ’n standaard gestel wat in die joernalistieke wêreld sekerlik gesorg het dat ’n Afrikaanse rubriekskrywer in dieselfde kader genoem kan word as die wêreld se grotes.

"In die groot tradisie wat reeds in die sestiende eeu deur die vader van rubriekskrywers, Montaigne, gestel is, het Rykie wel geweet 'lig' skryf, is die beste manier van kommunikasie. Ook het sy in die tradisie van HL Mencken, die ou rubriekestrydros, maar heeltemal ontdaan van sy bitsigheid, ’n gesonde klap sinisme aan vertoon, fieterjasies en skynheiligheid gehad. Ek vergelyk haar ook graag met Ernest Hemingway, omdat sy oor daardie noodsaaklike talent beskik het om ’n eie styl te ontwikkel. Daarby het sy ’n taalgebruik ingestel wat die gewoonlike plegstatigheid van die joernalistiek ’n bietjie op sy kop omgekeer het. Meer nog, haar stories en uitdrukkings het die onderwerp van tafelgesprekke geword.

"Van Reenen se nasionale status as rubriekskrywer het in Rapport se 'Op die Randakker' tot volle wasdom gekom: haar humor, haar kritiese kyk en veral haar slag om die dolk met ’n laggie en ’n bietjie fluweel, maar met ’n onmiskenbare boodskap, in te dryf. In ’n tyd van drakoniese wetgewing teen die vryheid van die pers, in ’n tyd toe die Afrikaner-hegemonie nie veel ooghare gehad het vir die kritiese blik van veral die Afrikaanse koerante nie, het Rykie op ’n uitgesproke heroïese manier die Bestaande Orde tot werklike orde geroep.

"Veral vandag bly haar stukkie van 18 September 1977 seker die hoogtepunt in wat ek geregverdigde ondermynende joernalistiek noem (ander sou sê dis regverdige kritiek – maar dit was meer as kritiek, dit was ’n aanslag). Die stuk heet 'Biko' en is geskryf kort ná sy marteldood. Nadat sy kennis geneem het van Steve Biko se referaat in Student Perspectives (1972) oor swart bewussyn en wit liberaliste, het sy in die jong man belanggestel. En hom gaan besoek in ’n tyd toe 'getroue' Afrikaanse joernaliste nie sou nie. Die laaste paragrawe is van die skitterpunte in Afrikaanse rubrieke: 'Biko se gesigshoek was uiteraard nie altyd dieselfde as myne nie. Maar as ons eenmalige gesprek een oortuiging by my gelaat het, is dit dat die jong swart man – hy was pas 30 – basies nie ’n breker is nie, maar ’n bouer, en, ook, tensy ek my gruwelik misgis, g’n ideoloog nie. Daarom is dit beklemmend dat ’n stem soos syne uit die kritieke dialoog van ons land verdwyn het.’ Vintage Rykie. (...)

"Mense het graag vir haar lekker stories vertel en sy het die stories nog beter oorvertel. Kameetjies uit die gewone wêreld." (Die Burger, 31 Desember 2003)

  • Danie van Niekerk: "Hoekom het Rykie van Reenen ’n legende in die Suid-Afrikaanse joernalistiek geword? Omdat sy die mens was wat sy was – getrou aan haarself, iemand met mededoë met haar medemens, maar ’n afkeer aan opgeblasenheid. Omdat sy ’n oorspronklike, indringende benadering tot elke onderwerp gehad het, en omdat sy die vermoë had om daardie benadering so vars in woorde te stel dat dit lesers oorrompel het.

"Sy het ’n byna onfeilbare aanvoeling vir skryfgehalte gehad en dan ook vir swak skryfsels. Maar sy het talent aangemoedig en sou ’n briefie van waardering en aanmoediging skryf. Haar gestroopte styl – haal uit al daai byvoeglike naamwoorde, los die soetskrywery! – het vir baie jongeres ’n stem in die agterkop geword.

"Opreg belangstellend in ander se wel en wee, maar uiters, uiters terughoudend oor haarself. Selfs in ’n laaste telefoongesprek met haar in die hospitaal het sy weggeskram van vrae oor haar toestand." (Rapport, 4 Januarie 2004)

  • Elmari Rautenbach: "Sy was my peetma; ek een van waarskynlik vele peetkinders. 'Peet' het sy my genoem wanneer sy op ’n warrelwindbesoek daar aangekom het, kortgeknipte vaalrooi hare deurmekaar, oë soekend na enigiets nuuts in die omtrek. Haar hande onthou ek goed: besproet, verkreukel, die naels kort en sonder nonsies. Dit was einste dié twee hande wat my present soos ’n rugbybal vasgehou het toe sy eendag net ná my tiende verjaardag daar opdaag. 'Dè!' het sy geroep en die pakkie oor die breedte van ons klipstoep na my gepass. Met die oopmaakslag was dit ’n outydse oranje wekker – kompleet met twee klokke soos ronde 'ore' aan weerskante bo." (Insig, Maart 2004)
  • Hans Ester: "Rykie van Reenen vertegenwoordigde in Zuid-Afrika een hoog journalistiek niveau, zowel qua onderwerpen van haar bijdragen als met betrekking tot taalverzorging en stijl. Velen in Zuid-Afrika hebben met weemoed afscheid van haar genomen." (Zuid-Afrika, Junie 2004)
  • Helen van Zyl: "Ek was ’n brose 16 toe ek in 1956 by die Hoërskool Swartland op Malmesbury die eerste keer met die skraal voskopvrou met haar langbroeke en haastige geaardheid kennis gemaak het. Ons Latyn-juffrou was met drie maande verlof en Rykie het kom aflos. Latyn is ’n moeilike taal en dit was maar ’n opdraande stryd om dit elke dag baas te raak, maar nadat Rykie ons drie maande lank onder hande gehad het, was dit sommer stukke beter. Daardie skewe glimlaggie wat daardie sproete sommer so opgehelder het, was altyd daar. Sy was ’n formidabele vrou en ek sou nooit kon dink dat sy al daardie hoogtes sou bereik en ek nou 55 jaar later kan sê dat ek haar ook geken het nie.

"Sy het in daardie jare al self geboer. My pa was ’n treindrywer en hy het altyd vertel dat as dit oestyd is, sy self die trokke stasie toe bestuur het om die sakke koring op die trein te laat laai. Met haar haastige natuur kon sy nie verdra die werkers moet te stadig aflaai nie. Volgens my pa het sy self by die trok gestaan en daardie sak koring op haar rug gevat en met ’n swierige swaai op die treintrok laat beland. In haar klas het jy nie net Latyn geleer nie, maar is jy gereeld huis toe met ’n lewensles wat jou jare lank bygebly het." (Die Burger, 10 September 2011)

  • Johan de Villiers: "Helen van Zyl se brief (10 September) oor Rykie van Reenen (...) het my laat terugdink aan ’n middagete meer as 30 jaar gelede. Ek, ’n jong prokureurtjie wat in opdrag van Human & Rousseau (eintlik Geoff Malherbe van Jan S de Villiers) opgetree het in die geveg voor die appèlraad oor publikasies en later in die hooggeregshof oor die verbod op Magersfontein, o Magersfontein. (...) Net ons drie, ná een van die vele rondes van die geveg, in ’n restaurant op die wintersoggend, en Koos Human wat vra of ons dan nie ’n wyntjie saam met die ete gaan nuttig nie. Hy wil ’n bottel rooi bestel, en ek, taamlik oorbluf in die teenwoordigheid van hierdie twee groot geeste uit die Kaap, vra – daardie tyd was 375 ml-bottels nog beskikbaar – of ons nie '’n halwe botteltjie' moet bestel nie. Die skewe glimlaggie van Rykie en die stille minagting waarmee Koos my voorstel bejeën het, bly my ná al die jare steeds by." (Die Burger, 24 September 2011)
  • Welma Odendaal: "'Hoe ver is jy met die boek?' het jy (Rykie) my op daardie laaste verjaardag voor jou dood gevra. Dit was ’n gesellige dag van verspotte ballonne, vars kreef en wyn, en óns jolige vyf tesame; soos die vorige paar jaar, ’n handvol ou vriende. My verskonings was soos gebruiklik flou: ek kry nie tyd nie, ek skryf en skryf en dan gooi ek dit terug, soos visse wat nie vet genoeg is nie. 'Kind, jy moet opskud. Ek kan nie vir ewig aanhang nie.'

"Ek het die kreef in ’n pan met vinkel en botter geblits, ’n paar lepels konjak oorgeskud en gevlam, room en saffraan ingeroer en oor basmati-rys bedien. Oë toe, kop agteroor, het jy lank en fyn geproe. 'Volgende jaar wil ek dit wéér hê. Net só.' Maar ’n jaar later in die uitgebleikte somer van die Weskus is jy sonder seremonie stilletjies dood. Hulle het jou as later oor die veld en rotse gestrooi. Ons, jou ou vriende uit die dae van klein Italiaanse restaurantjies in die agterstrate van Johannesburg waar ons saamgesweer en wyn gedrink en oor die letterkunde geskinner het Saterdagnagte ná saktyd by jou koerant, ons het nie weer in jou huis fees gevier nie. Daar is beweer dat jy nie ’n ophef wou hê nie. Dit is verbasend hoe gou mense namens die dooies begin praat.

"Ek het jou in September voor jou dood laas gesien. In jou kamer ingeglip toe daar niemand was om ons aan te jaag nie. Ons het gekuier en gesels terwyl jy my soos gewoonlik met vrae bestook. Toe jou glimlag flou word en jou oë toeval, het ek jou hand gedruk en uitgesluip. By die deur het ek jou byna nie gehoor nie: 'Kom gou weer, enige tyd.'

"Op 5 November het die tyding gekom dat jy ná ’n val hospitaal toe is en dat dit sleg gaan. ’n Week later is jy huis toe gestuur. Jy het ophou praat en jou onttrek. Hulle sê jy het vir lank op die stoep gesit en voor jou uit gestaar asof jy wag vir iemand om op te daag. Daar was geen afskeid voor of ná jou vertrek nie. Ek het nie gou genoeg teruggekeer na jou siekbed met die uitsig oor Meeurots nie, na jou vrae en aanmoediging en liefde nie.

"’n Jaar later in die so-te-sê winter reis ons in Italië en gaan lê ek besoek af by die dooies se kerk in Urbania. Dis laatmiddag en die hele dorp is op straat. By die ou Romeinse bruggie sit vroue en naaldwerk doen, kinders loop in die strate met hulle honde en op die piazza braai die ou ooms geurige kastaiings.

"Op die Dag van die Dooies in die Chiesa dei Morti het ek eers ’n kers vir jou aangesteek en toe deur die barok-ingang afgestap na die kelder waar die armes in die 16de eeu deur die broeders van die “goeie dood” vir die ewigheid gebalsem is. Diep in die ondergrond waar die ernstige gids elkeen se afsterwe in makabere detail uiteenlê, hang die goeie burgers van die Montefeltro agter glaskaste, hulle arms en bene droog en takkerig, hul kopbene vertrek in grynslagte van eeue se pyn.

"Nie dat ek ooit namens jou wil praat nie, maar ek wéét dat jy jou morsdood sou lag as ek jou van die stowwerige ou mummies van Urbania kon vertel – jy wat jou lewe lank vertoon van enige aard vermy het." (Rapport, 7 Maart 2010)

  • Johannes Grosskopf: Met die mededeling aan Rykie van Reenen dat die Universiteit Stellenbosch aan haar ’n doktorsgraad wil toeken: "As ek dus reguit met Rykie mag praat: ’n Mens kry selde kans om sonder enige versweë voorbehoud ongeveinsde lof aan ’n goeie mens en ’n manjifieke vakman te bring – gun ons tog dié plesier." (Die Burger, 27 Desember 2003)
  • Koos Human: "As ’n mens verhuis, stuur goeie vriende dikwels ’n ruiker blomme of kom lewer ’n lasagne af vir aandete. Wie anders as Rykie sal opdaag met ’n spekvet werfhoender van haar plaas? Maar moenie dink Rykie is die ene goedhartigheid en 'all smiles' nie. Sy's ’n gedugte onderhandelaar, soos ek ontdek het toe Human & Rousseau in 1974 met Rapport onderhandel het oor die uittrekselregte van Leon Rousseau se Die groot verlange.

"In 1984 is Rykie se bekroonde Emily Hobhouse: the Boer War letters uitgegee. Onverwagte probleme met outeursreg het ’n byeenkoms in Jan S de Villiers se kantoor met die outeursregkenner prof A Copeling genoodsaak. Toe ek opdaag, sit Rykie en Copeling reeds daar, maar het nog nie kennis gemaak nie. In die vyf minute of so voordat die prokureur verskyn het, het die wildvreemde Rykie uitgevind waarom Copeling sy prestige-pos aan Unisa prysgegee het om na die Kaap en die UWK te verhuis, waar hy in Kaapstad woon, waar sy kinders studeer en in watter koshuise op Stellenbosch hulle tuis gaan. Dis nou ’n aanskouingsles in ondervraende joernalistiek." (Die Burger, 27 Desember 2003)

  • Ton Vosloo: "Piet Cillié het van haar gesê ’n mens sprinkel nie parfuum op ’n roos nie. Maar haar woorde-erfenis, waar haar sprankelende persoonlikheid deur haar vingertoppe gevloei het, maak haar in vele koeranttydgenote se oë die voorste Afrikaanse koerantskrywer van die twintigste eeu. As jy haar beoordeel as beriggewer, kommentator sowel as diepteskrywer, het ’n gewone joernalis soos ek probleme om rondom die gewone dosis byvoeglike naamwoorde te kom.

"Voshare en sproete en ’n persoonlikheid wat daarby pas. Dis Rykie van der Byl van Reenen. Die woorde in haar kopie het na jou oë opgewip met die deurgaanslag voordat dit na die subkantoor gegaan het. ’n Mens dra mos nie ’n huldeblyk aan Rykie op nie – jy dink eerder aan ’n ode aan vreugde. Iemand wat die Afrikaanslesende wêreld soveel plesier gegee het, moet op die hande gedra word.

"Maar nou val jy in die lokval van soveel ouerwordende mense. Jy dink almal deel jou standpunt oor Rykie, en dan vra die jongeres: Rykie who? Vir ’n wye vriendekring – almal nou al grys en afgetree – is Rykie se naam egter steeds op die punt van die tong in die vorm van voortreflike skryfwerk wat sy gelewer het tot in die vroeë jare tagtig. Die Burger is gekoop vir die rubrieke van begaafde skrywers soos Rykie. As sy losgelaat word op ’n swartgemanelde sinode vir ’n indrukberig, dan het die togas by wyse van spreke gewapper. Die eerbiedwaardiges moes net koes of hulle word geprik en afgeblaas, nooit venynig nie, maar altyd so dartelend om en deur hulle waardigheid soos ’n Breyton Paulse op sy seepgladste.

"Yzerfontein is Darling se strand, en Darling se distrik is die heimat van Rykie. Maar hierdie sieraad van ’n joernalis en mensch het in haar lewe ver van die kleine Darling uitgereik. Sy is hopeloos onbesonge en betreklik ongeëer, en so verkies sy dit. Maar elkeen wat al ooit hom of haar verkneukel het in Afrikaans in sy geskrewe vorm, het die voorreg om op Oujaarsdag ’n glasie te klink op die immerjong Rykie." (Die Burger, 27 Desember 2003)

  • Madeleine van Biljon: "Rykie van Reenen se joernalistieke gelyke is skraal op die aarde. Dit is nie net die intelligensie (vlymskerp) of die gawe met woorde (uitsonderlik) wat van haar so ’n buitengewone verslaggewer van gebeurlikhede maak nie. Sy het die gawe om onmiddellik by die pit van enige storie uit te kom, waaroor dit ook al mog gaan.

"Om aan te haal uit Geliefde leesgoed: 'Haar rubrieke (in verskeie koerante) bly voorbeelde wat sowel voornemende as praktiserende rubriekskrywers met vrug kan lees. Haar boekresensies is eweneens voorbeelde van haar besondere vakkundigheid, so ook die navorsing wat so nougeset gedoen is vir Emily Hobhouse: Boer War letters. Navolgenswaardig sou mens kon sê ... maar Van Reenen se styl is so eie aan haar dat dit soos ’n vingerafdruk is.

"Onvergelyklike joernalis dus. Maar Rykie se grootste gawe is haar gawe vir vriendskap. Die hartlikheid as sy mens se stem oor die foon herken, die opregte blydskap as sy jou sien, die ongedwonge vrolikheid (selfs op slegte dae) is ’n standhoudende bron van genot vir haar talle vriende. Om vir Ryk te ken, is om ’n hele nuwe wêreld te sien oopgaan, ’n nog groter plesier om dit saam met haar te verken. Klink half soetsappig, en nugter weet, dit is Ryk allermins.

"Een van my geliefkoosde stories is die een waar Alba Bouwer haar aan dr Nan van Heerden wou voorstel. ’nee dankie, Alba. Ek ken genoeg mense.' Stof tot diepe dankbaarheid om te weet dat ek een van daardie mense is (soos dr Nan ook was).

"Die grootste gawe wat Rykie van Reenen egter ontvang het, is haar onverskrokkenheid in die aangesig van ’n talmende siekte, die daais wat vir haar so verkeerd geval het. Vra hoe dit gaan, en die antwoord is altyd dieselfde: goed! Die implikasie, hoe anders? Geen dankbare blyk teenoor Ryk kan vir Judith Wurtzel buite die prentjie laat nie. Jude se onbaatsugtigheid en toewyding is net so bewonderenswaardig soos Rykie se onversetlikheid in 'the face of adversity and overwhelming odds'. Dis ’n voorreg om sulke vroue te ken." (Die Burger, 27 Desember 2003)

Twee uittreksels uit rubrieke van Rykie van Reenen:

  • Uit "Dissie Bryde", 19 Oktober 1969 in Rapport: "Huwelikspaartjies het graag Saterdagmiddae in die tuin agter die Michaelis-galery op Groentemarkplein foto's laat neem. Die straatverkopers van die 'Aaarghie' moes langsaan wag vir die koerante wat hulle sou ontvang. In die wag het sommige onhigiënies gebruik gemaak van die tuin. Die skilder Ruth Prowse het in ’n woonstel oorkant gewoon en op ’n dag vaar sy al rasend onder die klomp besmetters in. Skree die vabonde so vinnig as wat hulle hulle uit die voete gemaak het: 'Issie onsie, issie bryde!'"
  • En uiteindelik Audrey (Blignault) se storie wat net Rykie so kon vertel in "Baaikostuum" (31 Augustus 1975): "Die oom en tannie gaan Durban toe vir ’n seevakansie, maar ontsien om baaikostuums te koop. Die oom het voorgestel dat die tannie iets van meelsakkies vir hulle aanmekaar naai. See-in het die tante gemerk die oom is see-uit en het hom in ’n badhokkie gaan versteek. ’nee, vrou,' sê hy, 'dis nie dat ek danig omgee vir die Bokomo van agter nie, maar die self-raising van voor laat ’n man darem te aardig voel.’" (Die Burger 31 Desember 2003)

Publikasies

Publikasie

Heldin uit die vreemde: die verhaal van Emily Hobhouse

Publikasiedatum

  • 1970
  • 1971
  • 1972
  • 1973
  • 1979
  • 1999

ISBN

  • 0624001334 (hb)
  • 0624038084 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Biografie

Pryse toegeken

Scheepersprys vir Jeuglektuur 1971

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die wêreld van Jansje Wissema

Publikasiedatum

1976

ISBN

0624009165 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Biografie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Op die randakker

Publikasiedatum

  • 1980
  • 1981

ISBN

0624013960 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Boerneef en sy skilderye: relaas van ’n groot liefde

Publikasiedatum

1987

ISBN

0868863416 (sb)

Uitgewer

Bloemfontein: UOVS

Literêre vorm

Kunsgeskiedenis

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Rykie van Reenen as redakteur

Rykie van Reenen as samesteller:

Artikels oor Rykie van Reenen beskikbaar op die internet:

Artikels deur Rykie van Reenen beskikbaar op die internet:

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.

Bronne

  • Rabe, Lizette. 2011. Rykie: ’n lewe met woorde. Kaapstad: Tafelberg
  • Rabe, Lizette. 2009. Vryheid van (die Afrikaanse) spraak: ryk, ryker, Rykie. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 49(1)
  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top