Afrikaanse koerante het lank gelei en mislei, nou is dit tyd vir vorentoe kyk

  • 19

Die era van koerante glip verby, al bly daar hier en daar een oor. Trane word gestort en joernaliste dink oor ’n glas wyn aan die goeie ou dae – die goue jare van koerante. Maar wat was die bydrae van koerante tot ons samelewing? En was dit altyd goeie dae?

Ek beperk my hier tot Afrikaanse koerante omdat koerante ’n kultuurproduk is en binne elke kultuurgemeenskap ’n eiesoortige rol speel.

Afrikaanse koerante se belangrikste rol oor die afgelope meer as 100 jaar was uiteraard die bring van bruikbare, tydige inligting. Meer nog: die interpreteer van nuus en kommentaar daarop. Saamgevat kan mens dit seker die oriëntasiefunksie van koerante noem. Dit het verskillende dimensies wat ek hier aanraak teen die agtergrond van die ontvouende Afrikaanse koerantgeskiedenis.

Koerante was veral in ’n era voor radionuus, TV-nuus en digitale nuus die hoofbron van nuus. Met die uitsondering van Die Kerkbode was koerante vir jare lank eintlik die enigste bron van nuus. (Die mondelinge oordrag van nuus by die koöperasie of nagmaalsnaweek, asook nuus gebring deur die smous moet seker ook volledigheidshalwe genoem word.)

Suid-Afrika het eers in 1936 ’n nasionale uitsaaier gekry en eers in 1950 ’n eie radionuusdiens. TV-nuus volg in 1976 en digitale nuus via die internet in alle erns ná 2000.

Dit is duidelik dat vir goed die eerste vyf dekades van die twintigste eeu koerante al massamedium was wat nuus aan ons gebring het. Tydskrifte soos Die Huisgenoot en Die Brandwag het natuurlik ook ’n inligting- en vermaakfunksie gehad, maar was nie soseer nuusmedia nie.

Die rol van koerante as nuusbringers het naas radio en TV nog vir dekades voortgeduur totdat die digitale revolusie die afgelope dekade koerante regtig begin vervang het. Maroela Media en Netwerk24 het immers eers in 2011 en 2014 tot stand gekom.

Koerante en nuus is en was dus vir baie lank sinoniem, maar darem vir lank nie meer die enigste speler nie. In baie mense se bewussyn was dit dalk tot nou toe die belangrikste nuusbron, al is TV-nuus ook al lank ’n betekenisvolle bron.

Oor die rol van dramatiese voorblaaie kan ons veel sê. Of oor die trefkrag van opskrifte en foto’s. Dit het groot gebeure in ons geheue vasgelê soos geen ander medium nie. Dit was die bron van ons gedeelde bewussyn omdat voorblaaie treffend kan wees en nie binne sekondes verdwyn nie.

Maar koerante se nuusseleksie was nooit eenvormig nie. As die keuse van hoofberigte telkens ander perspektiewe aan ’n politiek diverse publiek gebring het, hoeveel te meer waar die koerante die nuus van die dag geanaliseer en daarop kommentaar gelewer het. Afrikaanse koerante het lank nie uit een mond gepraat nie.

Dit beteken dat Afrikaanse koerante hul lesers verskillend georiënteer het ten opsigte van die politiek – die groot politiek. Hulle het verskil oor samewerking met Engelssprekendes, oor deelname aan die Eerste en Tweede Wêreldoorloë, samewerking tussen Hertzog en Malan se Nasionale Party en Smuts se Suid-Afrikaanse Party.

Smuts (en van sy kabinetslede) was meer ambivalent oor hoe die verhouding tussen swart en wit, asook wit en bruin gereël moes word. Ook oor sake soos simbole (’n eie vlag en volkslied). Daar was net een opsie: apartheid, binne ’n republiek.

Die pro-NP-koerante was onbeskaamd Afrikaans en nasionalisties; die Smuts-gesinde Afrikaanse koerante glad nie geneë met hierdie benadering nie. Hulle wou eerder saamwerk, nie aanstoot gee nie en het ’n groter prentjie gesien. Willem van Heerden by Die Vaderland en Dagbreek was dalk meer gematigd as Nasionale Pers s’n. ’n Ordentlike ondersoek na hierdie verskynsel is egter nog nie gedoen nie.

Diverse koerantstemme was wel nie altyd op elke plek in die land te kry nie, maar in beginsel was dit tot rondom die middel van die twintigste eeu breedweg ’n realiteit. Lesers was bereid om vir die trein te wag en hul gunstelingkoerante liewers laat as nooit te lees nie.

Die Burger, gestig in 1915, het tot 1930 vir Ons Land as konkurrent gehad. Van 1936 tot 1950 het Die Suiderstem in die Kaap as middagkoerant verskyn. Terwyl Die Burger ’n pro-Afrikaanse, Christelik-nasionalistiese beleid voorgestaan het, het Ons Land en Die Suiderstem genls Louis Botha en Jan Smuts se meer versoenende benadering jeens Engelssprekendes en die Britse ryk ondersteun. Laasgenoemde stroom van Afrikanerdom het nie organisasies soos die Broederbond, ATKV, FAK, Die Voortrekkers en so meer voortgekom nie.

Die koerante het natuurlik raakpunte gehad, maar het wesenlike verskillende benaderings tot die politiek verteenwoordig.

In die noorde het Die Volkstem, ’n Smutskoerant, ook in 1950 die aftog geblaas en die smelterkoerant Die Vaderland het nasionaal geraak toe die Hertzogvolgelinge en Malan-nasionaliste mekaar danksy die Tweede Wêreldoorlog weer gevind het. Voor dit was dié blad en Die Transvaler geswore vyande.

Kortom: Diversiteit het in 1950 grootliks gesneuwel.

Die Naspers-dagblaaie, Die Burger, Oosterlig en Volksblad, het uitgesproke en sonder veel persopposisie Afrikanernasionalisme verkondig. Die Afrikaanse “Sappe”, soos Smuts se mense neerhalend genoem is, was sonder ’n Afrikaanse dagblad, maar hier en daar is partykoerantjies gepubliseer.

Tog het Die Burger so laat as 1972 in die kiesafdeling Oudtshoorn ’n verbete (en suksesvolle) veldtog teen die oorblywende (Afrikaanse) Sappe in ’n tussenverkiesing gevoer. Verkiesing is met totale oorgawe geveg. Dit het telkens gelyk of die voortbestaan van die land en volk van ’n enkele verkiesing afgehang het. Sir De Villiers Graaff moes verkleineer en verwoes word. So ook ’n Japie Basson en ander Afrikaners met ’n breër visie. Die Naspers-koerante het geen diversiteit geduld nie.

Mens sou kon argumenteer dat die koerante nie soseer met lesers se koppe gesmokkel het nie, maar bloot hul menings bevestig het. Maar wie sou dan hierdie nasionalisme geplant, natgemaak en tot blom gebring het as dit nie vir die koerante was nie?

Die referendum van 1960 was nog ’n spyker in die kis van Afrikaanse Sappe; die republiekwording van 1961 het aan Afrikanernasionalisme ’n emosionele oorwinning besorg. Afrikaanse koerante het bankvas agter Hendrik Verwoerd en John Vorster se regerings gestaan, terwyl die VP agteruit geboer het. (Volledigheidshalwe moet die Sondagstem, uit die Argus-kraal genoem word; ook Landstem, maar dié was ’n populistiese weekblad wat sy seile toenemend na die nasionalistiese wind gedraai het.)

Ondanks die skokke van 1960 en 1966 (Sharpeville en Verwoerd se moord), was die sestigs goue jare – altans vir die wit bevolking. Dit het finansieel goed gegaan en die opposisie uit die binne- en buiteland was hanteerbaar. Apartheid, verpak as afsonderlike ontwikkeling, is deur party en kerk as ’n eerbare (en enigste) oplossing vir ons “rasseprobleem” voorgehou. Die “Engels pers” is verpes omdat die gebreke van apartheid aanhoudend aan die lig gebring is.

Kerklike opposisie is by Cottesloe geopper, maar hardhandig platgevee, al het Piet Cillié se Burger simpatie met aspekte daarvan gehad. Saam het kerk en party die Afrikaner oortuig dat daar geen ander uitweg is nie.

Die Afrikaanse lesers wat teen apartheid was (of net iets meer gematigd verlang het), het die Cape Times en ander Engelstalige koerante gelees. Sondae het baie van die NP-gesindes die Sunday Times gelees, onder meer vanweë die dekking van die Broederbond. Dit het klaarblyklik geen invloed op die NP se steun gehad nie. Joel Mervis, die Sunday Times se redakteur, het gespot dat hoe meer Afrikaners sy koerant lees, hoe meer stem hulle vir die regering.

Sy opvolger, Tertius Myburgh, sou dalk anders geoordeel het. Hy het ’n verligte nasionalis soos Willie Esterhuyse in die 1980’s by herhaling ruim plek gegee om lesers te oortuig van die noodsaak van hervorming. Wie weet hoeveel dit bygedra het tot die aanvaarding van ’n toekoms weg van diskriminasie en rassisme?

Dit word vry algemeen aanvaar dat koerante soos Die Beeld en Rapport ’n betekenisvolle rol gespeel het in die omswaai van die openbare mening. Bewys kan ons dit nie, maar vanuit verskillende mediateoretiese hoeke lyk dit heel waarskynlik. As jy aanhoudend en konsekwent ’n boodskap aan jou lesers bring, kan selfs diepgewortelde standpunte verander. Soos dié oor apartheid. Maar dit sou eers later gebeur.

’n Dramatiese verskuiwing het sedert 1965 plaasgevind. Weens die groeiende regse opposisie teen verslapping van apartheid se ergste maatreëls, kom Naspers se Sondagkoerant Die Beeld onder Schalk Pienaar na vore met ’n nuwe soort joernalistiek: Daar is soos nooit voorheen nie krities en openlik oor Afrikanerpolitiek geskryf. Dirk Richard se Dagbreek volg (eers) skoorvoetend in Die Beeld se voetspore. Feit is dat die volgelinge van Albert Hertzog uitgerook is. Die meeste van hulle het in 1970 die Herstigte Nasionale Party (HNP) tereg gekom.

Daar was steeds hier en daar verkrampte (konserwatiewe) klanke, soos AM van Schoor by Vaderland, Bart Zaayman by die Volksblad en later ook Thys Human by Oggendblad, maar hulle invloed was nie blywend nie.

Ondanks ligte skermutselinge tussen koerante het hulle die NP-regering getrou gesteun. Die homogenisering van Afrikaanse koerante is dus ’n stap verder gevoer.

Toe Beeld in 1974 op die toneel verskyn, was dit ’n verligte stem binne die Nasionale Party-kraal en was sy grootste mededinger Die Transvaler, reeds van 1937 die bastion van die nasionalistiese Afrikanerdom in die noorde. Ironies genoeg was daar geen wesenlike politieke verskille tussen Willem de Klerk se Transvaler en Ton Vosloo se Beeld nie.

Ja, daar was wel deurgaans nuanseverskille in die Perskorgroep, maar niemand het met die regerende NP gebreek nie. Wel is Harald Pakendorf die deur gewys omdat hy te krities oor sekere beleidrigtings was. Die nasionalistiese koerante se selfregulering was weer aan die werk. Jy kon hervorming bepleit, maar altyd binne perke.

So het die Afrikaanse koerante die pro-NP-kiesers vir lank in die kraal gehou. Alternatiewe stemme (links of regs) is met brutaliteit platgevee – veral as dit ’n briljante, rasionele Afrikanerpolitikus soos Van Zyl Slabbert was. Eers met sy dood – veels te laat – het Beeld hom ’n “kolos” genoem.

Rapport (gebore uit ’n gedwonge huwelik tussen Die Beeld en Dagbreek) het, soos genoem, deurgaans ’n verligte politieke beleid gevolg. Hieroor is Willem de Klerk selfs sy pos as hoofredakteur kwyt, hoewel daar verskillende weergawes van is. (Is hy gestoot of het hy geloop?) So ook later met Izak de Villiers, maar hy is in die 1990’s as te regs beskou. (Het hy geloop, of is hy gestoot?)

Die mite dat Naspers nooit aan sy redakteurs voorgeskryf het nie is ten beste ’n halwe waarheid. Perskor het nooit so ’n skyn opgebou nie; Marius Jooste was te reguit en kommersieel georiënteerd.

Intussen het talle knap Afrikaanse joernaliste om politieke redes by Engelstalige koerante gaan werk, terwyl talle (ons sal nooit weet hoeveel nie) om den brode binne Naspers hul politiek onderdruk het en byvoorbeeld by tydskrifte gaan werk het wat polities minder riskant was.

Teen die vroeë 1990’s het Naspers grootliks in die Mandela-sleurstroom beweeg – uitgesonder Ebbe Dommisse wat by Die Burger nie oortuig was van die ANC se goeie trou nie of die NP-onderhandelaars se ruggraat nie. (Self wil Dommisse nie daaroor praat nie, so ek raai maar.)

Die Afrikaanse koerante se eensgesindheid van die post-1950-jare was dus nie heeltemal perfek nie, maar nie een koerant het openlik teen die NP-regering gerebelleer nie. Die stryd teen eers die HNP en toe die Konserwatiewe Party aan die regterkant het lank voortgeduur. Die Ja-stem het twee keer gewen; die wit kiesers het vir hervorming gestem, soos gevra deur die oorblywende Afrikaanse koerante. Die Suid-Afrikaan en Vrye Weekblad is doodgeswyg.

Sou ons nou – met ’n swart meerderheidsregering ’n voldonge feit – ’n tyd van “ideologievrye” Afrikaanse joernalistiek binnegaan? Kwalik, maar die Naspers-dagblaaie het tog alle Afrikaanse lesers toenemend geakkommodeer. Die inklusiewe benadering het in die ANC se 30 jaar van oorheersing gegroei. Almal was immers teen die regering gekant en Afrikaans was onder toenemende druk. Die Demokratiese Alliansie (DA) en die Vryheidsfront Plus (VF Plus) het oor die meeste sake saamgestem. Die Afrikaanse koerante was weer bakens van hoop.

’n Regtige keerpunt was toe Adriaan Basson Beeld se lesers woedend gemaak het met berigte oor die Puk en ’n “Nazi-saluut”. Solidariteit het met ’n boikot gedreig en daar is vinnig teruggekrabbel: Barnard Beukman is as redakteur ingebring en hy het vrede gemaak met die koerant se konserwatiewer lesers. Nuus oor die Solidariteit Beweging en sy sowat 30 organisasies het normaal geword.

Met die nuus dat Beeld gaan sluit het AfriForum selfs ’n protesaksie begin om Beeld te red!

Wat vertel hierdie voëlvlug oor ons Afrikaanse koerantgeskiedenis vir ons? ’n Paar dinge, soos:

  • Daar was ’n tyd toe Afrikaanse koerante met heel verskillende politieke ideologieë mekaar geopponeer het. Diversiteit het later verdwyn.
  • Politieke strominge het ’n regstreekse invloed op die voortbestaan van Afrikaanse koerante gehad. Anti-NP-koerante het verdwyn.
  • ’n Kombinasie van tegnologiese en ekonomiese faktore het koerante wêreldwyd gekelder. Die ondergang van Afrikaanse koerante was dus geen uitsondering nie.
  • Afrikanernasionalisme het Afrikaanse joernalistiek ten diepste beïnvloed – ten goede en kwade.

Laasgenoemde punt verdien verdere toeligting.

Die “ten goede” is voor die hand liggend: Sonder die bydrae van die Afrikaanse koerante sou Afrikaans as taal nie gegroei het soos wat wel gebeur het nie. As kampvegter vir Afrikaans op vele terreine was die koerante se rol onmeetlik. Dink aan die vestiging van moedertaalonderrig, Afrikaanse universiteite en die uitbou van die taal se woordeskat en segsvermoë. (Natuurlik het radio ook hier ’n wesenlike rol gespeel.)

Op die breër kultuurterrein is dit eweneens moeilik om die rol van die koerante te oorskat. Dit het aan Afrikaners ’n selfbewussyn gegee en hulle saamgebind tot ’n groep. Dit het hulle toegerus met feite en insigte oor die breë wêreld sodat hulle later uit die kokon kon tree en hul plek in die hoogste kringe ter wêreld kon volstaan.

Hierdie groep mense is in die Tweede Vryheidsoorlog vernederend onderdruk, maar is met die hulp van koerante gemobiliseer om uit die as uit op te staan. Hulle het met koerante se hulp die Helpmekaarbeweging gestig en daarna die een na die ander maatskappy (byvoorbeeld Santam en Sanlam), asook organisasies soos die Afrikaanse Handelsinstituut.

In die jongste jare het veral Beeld en Rapport woordvoerders vanuit die Solidariteit Beweging toenemend geakkommodeer, want die stukrag wat vanuit hierdie kring opgebruis het, het aan Afrikaners hoop vir die toekoms gegee.

Op politieke vlak het die koerante die Nasionale Party tot oorwinning in 1924 en 1948 aangevuur, wat in 1961 uitgeloop het op republiekwording – die staatsvorm wat in 1994 sonder slag of stoot aanvaar is vir die nuwe, meestal demokratiese bedeling. Dit moet nogeens genoem word: Die Afrikaner het, gelei deur sy koerante, in referendums stap vir stap weggestap van apartheid. Ook het sy getalrykste kerke gebreek met die sonde van apartheid – iets waartoe die koerante die kerke oor baie jare aangemoedig het.

Maar die invloed van koerante was allermins altyd positief, hoewel ek wil waarsku teen hoogheilige veroordeling van woorde en dade wat in ’n heel ander konteks gepleeg is. Rassisme, slawerny en diskriminasie is allermins deur die Afrikaner uitgevind.

Koerantredakteurs en hul kollegas was (soos politici en kerklui) kinders van hul tyd, soos wat ons ook nou kinders van ons tyd is en sekerlik oor ’n paar dekades kwaai kritiek te wagte kan wees van ’n jonger geslag met ander lewens- en wêreldbeskouings en dus belewing van die wêreld. Eintlik gebeur dit reeds.

Tog moet die foute weer eens in die oë gekyk word, want die foute waaraan (sommige) Afrikaanse koerante meegedoen het is nie te ontken nie. Koerante was selfs voorbokke. Dit is wel op ’n manier deur ’n groep Afrikaanse joernaliste voor die Waarheid-en-versoeningskommissie bely. (Ongelukkig kry sommige redakteurs en joernaliste dit steeds nie oor hul hart om net openlik te sê hulle was verkeerd nie.)

Waaroor het die koerante hul lesers op ’n dwaalweg gelei?

Ten eerste moet die siening genoem word dat die Afrikaner as ’n uitverkore, of dan ten minste baie spesiale volk voorgehou is. God het ons geskep en geroep tot ’n groot taak hier in donker Afrika. So is geglo. Vandaar die belang van Geloftedag.

Die siening is nie deur koerante geskep nie, maar sekerlik sterk ondersteun. Dit was die wortel van die kwaad wat tot ’n string benaderings en besluite gelei het wat swart en bruin verneder en onderdruk het.

Baie water sou in die see moes loop voordat mede onder leiding van koerante hiervan weggestap is, hoewel daar steeds ’n beduidende groep Afrikaners is wat daaraan vashou. Ons het allermins homogeen geword.

Waar papierkoerante nou gaan krimp tot ’n enkele Afrikaanse dagblad (plus gemeenskapskoerante), moet dit as ’n enorme verlies aangeteken word. Die verskeidenheid van menings – nie net polities nie, maar op alle terreine – word daarmee verder verskraal. “Verder”, want die proses is al dekades lank aan die gang.

Die redes hiervoor is hierbo aangeraak en is nie aan ’n enkele faktor of instansie toe te skryf nie. Vir die intellektuele lewe is dit nie goed nie, maar is die einde van papierkoerante werklik ’n “ramp”? Laat ons nie daaroor kibbel nie. Dit was ’n groot slag, ’n simbolies belangrike slag.

Die afgradering van Afrikaans tot een van 11 tale (waarvan een soveel meer “gelyk” is as die ander) en wat in goeder trou so verkeerd deur Beeld aangekondig is (“Afrikaans behou sy status”) – dit was ’n ramp. Ook die verengelsing van Afrikaanse universiteite – dit is en was ’n ramp. Die Burger se rol in die afwatering van die Universiteit Stellenbosch skrei teen die blad se rol by die stigting van die universiteit in 1918.

Ramp of nie, ek meen ons moet nou rou en klaarkry en aangaan. (Of die redakteurs se brief Koos Bekker tot ander insigte sal laat kom, is te betwyfel.) Daar is veel om te doen, soos wat Akademia, Maroela Media en ander organisasies inderdaad doen.

Verder moet Netwerk24 ondersteun word in die verbetering van sy aanbod: sinvoller uitleg, meer warmte, interaksie tussen hoofredakteur en lesers ... Die nuwe uitleg vir Rapport op Netwerk24 is ’n begin. Die hoofredakteur luister. Ondersteun haar liewer.

Max du Preez se aanlyn Vrye Weekblad moet erkenning en ondersteuning kry. Teken in.

LitNet, met sy uitbreidende aanbod, moet gesien word vir wat dit is: ’n intellektuele spilpunt wat ondersteun en uitgebou moet word. Daar’s nog veel te doen!

RSG en Afrikaanse gemeenskapradiostasies moet erken word vir wat hulle is, naamlik belangrike komponente van die totale Afrikaanse media-aanbod. Voeg daarby kykNET en Via, of jy nou na sepies en kattegevegte kyk of nie.

YouTube se moontlikhede moet verder ontgin word.

Die sluiting van simbole is ’n bitter pil, maar die geleenthede wat oopgegaan het, is enorm. Dit moet aangegryp word. Afrikaanse media se voortbestaan lê in sy diversiteit.

Johannes Froneman is kurator van Mediamense.com en die Facebook-blad Mediamense Bylae. Sy boek oor die Afrikaanse koerantgeskiedenis, Ter wille van oorlewing, ideologie en geld, het verlede jaar by Akademia verskyn.

Lees ook:

Die ekonomie van koerantnuus

Wat gebeur met die taal as Afrikaanse koerante sluit?

  • 19

Kommentaar

  • Francois Verster

    'n Uitstekende oorsig, met diep insig. Die invloed (reikwydte) en trefkrag (oorredingskrag) van die digitale variante moet nog eers beleef word om beoordeel te word. Ek wonder byoorbeeld wat die rol en invloed van spotprente voortaan gaan wees, en gaan daar werklik nou meer invloedryke in-diepte joernalistiek wees, soos ons hoop? Die feit dat lesers skynbaar eerder na kitsberigte en sensasie kyk, al het die kuberruim meer plek vir feite en uitdrukking, is steeds bekommerenswaardig.

  • Joan Hambidge

    Inderdaad ‘n bitter pil.
    ‘n Paar ander kwessies:
    Waarom moes koerantmense in die pers verneem dat 400 mense hul werk sou verloor?
    Geliewe daarop te let dat van hierdie mense weerlose mense is sonder ander inkomstes.
    As dit nie vir Moneyweb was nie, sou dit dalk veel langer geneem het om die nuus te breek.
    Verder skep dit weer eens ‘n negatiewe klimaat vir joernaliste wat alreeds hard werk. Die kunsredaksie van 30 jaar gelede teenoor nou en kyk hoeveel mense het “verdwyn”.
    Die belangrikste punt vir my is dat die uitgewersbedryf geraak word. Koerante plaas resensies en briewe wat boeke onder lesers se aandag bring.
    En ek verkies ‘n koerant bó die internet, hoewel ek nuus aanlyn lees. Nuanses gaan verlore wanneer ‘n mens aanlyn lees teenoor ‘n koerant neergeplaas voor jou. Soveel mense verkies die papierkoerant nog.
    Dosente in Afrikaans word ook geraak.
    Enige sluiting het eweneens te make met die “little man” en die onsigbare. En dit moet eweneens erken word.

  • Sanda Pretorius

    Ek dink die wêreld sal 'n beter plek wees as die banale, sensasiebehepte Rapport nie meer elke Sondag in elke winkel en kafee lê nie. Huisgenoot kan ook maar toegemaak word, want dit is nou swakker as wat dit ooit was.

  • In 'n stadium was ek byna drie maande lank in Nieu-Seeland en kon later nie meer wag vir 17:00 die middag om 'koerant' te lees nie. 'n Goedgeskrewe Afrikaanse teks op enige van die beskikbare blaaie het my met heimwee gevul, soms het trane spontaan opgewel. Tussendeur al die Engels het ek na Afrikaans begin verlang.

    Onderliggend aan taal is ongelukkig 'n subtiele magstryd en RSA die enigste plek waar Afrikaans as taal kan oorleef. Die afgelope naweek het 'n jong Engelse vrou letterlik geril toe ek haar in Engels oor die gebruik van Afrikaans pols. Sy is Engels magtig en het nie 'n behoefte aan meertaligheid nie. As Afrikaans sterf is dit maar eenmaal so, ek gaan nie 'veg' vir die behoud nie, maar ek is lief vir my moedertaal en ek is nie alleen nie.

    Om een of ander rede put 'n groot hoeveelheid mense eindelose genot daaruit om nie vir intellektuele eiendom te betaal nie. Al kan hulle. Ek begryp dit van 'n kind, maar volwassenes ... jô, kopkrap. Ek is uiteraard ook dankbaar vir gratis leesstof, maar knyp met graagte 'n paar rand af om my wêreld te verruim. "Max du Preez se aanlyn Vrye Weekblad moet erkenning en ondersteuning kry. Teken in." Ek stem saam. Dit kos maandeliks omtrent dieselfde as 'n 🍔 en smaak selfs beter.

  • Die inhoud van die koerante soos Froneman dit uiteensit, gaan nog steeds daar wees - net digitaal.
    Wat gaan verander is die beskikbaarheid van die gedrukte koerante.
    Ek byvoorbeeld gaan gereeld my Sondagkoerant by die kafee haal om tot Donderdag of Vrydag in my bed daaraan te lees - rustig.
    Ek sit hier en skryf op my "desktop".
    Ek het nie 'n skootrekenaar(tjie) - 'n "smart cellphone" nie.
    Nou gaan ek geforseer word om een te koop. Wat kos die goed net nie?
    Dan moet jy inteken op die koerant, en jy moet data koop of gaan gedwing word om 'n kontrak aan te gaan, en die koste!
    Deurentyd vreet die ding jou geldjies of jy aanlyn is of nie.
    Dit gaan duurder en vir baie mense onbekostigbaar wees.
    Minderbevoorrregte en/of Afrikaansprekendes gaan ophou om met maklik beskikbare Afrikaans te doen te kry. Afrikaanse boeke? Wat kos dit nie, lees hom eenkeer en dis klaar.
    Waar kry jy 'n digitale Afrikaanse koerant teen die huidige pryse van die gedrukte weergawes?
    Die hele ding is 'n aanslag op Afrikaans, sê wat jy wil!
    Daar is tot dusver absoluut geen beswaar uit prominente nie-Afrikaanse oorde nie.
    Dit gaan voorwaar 'n ramp wees.

  • Vir R145.00 per maand kry ek volle toegang tot alle Netwerk 24 publikasies, koerante,tydskkrifte, die hele lot. 'n Absolute winskopie! Baie goedkoper as die gedrukte weergawes en enige tyd beskikbaar.

  • Anne-Marie Mischke

    Froneman gee 'n uitstekende voëlvlug oor die geskiedenis en rol van die Afrikaanse koerant en ek kan my daarmee vereenselwig. Saamgelees met Joan Hambidge se kommentaar gee dit ook insig in wat die verlies van veral Rapport en Beeld gaan beteken. Net een klein feitekwessie in Froneman se artikel. Inderdaad is Harald Pakendorf weens sy sogenaamd verligte standpunte by die Vaderland deur die Perskor-direksie ontslaan, maar dit was bykans drie jaar nadat Willem de Klerk in 1982 deur die Perskor-baas Marius Jooste om dieselfde redes ontslaan is. Dan val dit op dat sommige kommentare nog klink asof mense meen die koerante gaan wel nog digitaal voortbestaan, dit wil sê in PDF-formaat. Tensy Media24 van plan verander, is dit soos sake nou staan nie die geval nie. Sondae sal Rapport se mashoof wel bo-aan berigte op Netwerk24 verskyn, soos nou al reeds lankal die geval is, maar daar sal nie 'n digitale weergawe van die koerant wees nie. Intussen is daar doodse stilte oor die mate waarin daar na die oudredakteurs se pleidooie geluister word.

  • Ek koop amper nooit meer Rapport nie. Die Netwerk24-subskripsie is veel cheaper as die harde koerant. Een Rapport is 40 rand. Koop jy jou driede Rapport in die maand, dan is die 120 wat netwerk24 vra, reeds spandeer. Dan het jy nog geen Burger gekoop teen 16 rand of enige tydskrif nie. Dit bly egter 'n ontwikkeling wat kom met stampe en stote. Al was dit lankal op die kaarte. Mense het maar heimwee. En dink met genoee terug aan al die geldjies wat verdien was deur koerantverkopers op die straathoeke. Sommige van die vriendelikste mense wat jy ooit geken het. Tegnologie ontwrig. Dis wat dit doen. Die drukpers self het ook die wereld onherroeplik verander.

  • Sandra Pretorius

    Ek stem 100% saam met Snotjan. Rapport se afsterwe sal geen verlies wees nie, dis buitendien meer 'n sportkoerant as enige iets anders, hulle kon dit eerder maar Rapsport genoem het. Aan die nuuskant was hulle maar liggewig.

  • Hans, watse plassies?
    My korrel is nog steeds sekuur, met geweer en andersins, dankie.
    Wat van joune? (Ek weet jy gaan lieg.)

  • Nee, wa wa wag nou. Ek sê nêrens die dinge nie. Ek sê juis dat ek voel tog hartseer. Was Rapport/CityPress liggewigte? Ek is geen professor van Mediakunde nie. My eerste gevoel sal wees, Rapport was so iets tussen kwak en kwaliteit. Ek glo die wakker leser sal al die nuanses van my vorige sin snap. Dat ons met heimwee terugdink aan die tradisie van harde koerant koop elke Sondag, dis so.

    Ek onthou nog selfs as kind, die agterblad. Daai tannie in die bikini. En jy, die verveelde tiener op 'n Sondag. Ag ja, dem days.

  • Joan Hambidge

    Rapport se vryskut-medewerkers is blykbaar ook reeds ingelig dat die (voortaan eksklusief digitale) publikasie se begroting nie meer vir vryskut-personeel voorsiening sal maak nie. Dit sluit die boekeredakteur, rubriekskrywers en resensente in.
    ...
    Aldus PEN Afrikaans.

    Miskien wil Johannes Froneman nou verder kommentaar lewer?

    Is alles dus pais en vree?

    Watter waarborge is daar?

  • Elise Tempelhoff

    Ek stem saam met Joan. Ons veg tans om Beeld minstens as ‘n pdf op Netwerk24 gepubliseer te kry. Die aankondiging deur Moneyweb dat die koerante gaan sluit, was soos ‘n hou in die maag. Lesers wat in die Noorde van die land woon, is nie tweedeklasburgers nie en ons het minstens Beeld in pdf-formaat nodig. Die kwessies waaroor ons in die Noorde van die land skryf, verskil hemelsbreed van dié in die Wes-Suid-Kaap.

  • Johannes Froneman

    Vryskutmedewerkers is 'n baie belangrike komponent van al die Afrikaanse koerante. Dis byna ondenkbaar dat Rapport se Weekliks sonder hulle kan verskyn. As dit dus die geval gaan wees, sal dit die intellektuele aanbod inkrimp. Dit sal bitter jammer wees. Die digitalisering van koerante sal dan op 'n wesenlike verskraling neerkom. Daarmee het ek geen vrede nie, Joan.

  • Petra Pienaar-Nel

    Ek vind dit moeilik om "Rapport" en "intellektuele aanbod" in dieselfde asem te gebruik sonder om uit te bars van die lag.

  • Joan Hambidge

    Ons dink hier aan die bydraes van Johan van der Westhuizen, Johann Rossouw, o.a. Weekliks wat vele stemme aan die woord stel. Boekresensies en onderhoude met skrywers.

    Uittreksels uit boeke.

    Sowel nie-fiksie as fiksie.

    Miskien het jy Jacques Pauw se repliek op Dana Snyman misgeloop?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top