Die nuus dat etlike Afrikaanse koerante binnekort toemaak tref baie lesers soos ’n vuis in die maag.
Vir my ook. “Die koerant” – by name Die Burger – was ’n instelling in my ouerhuis. Ontbyt was stiltetyd om die Kellogg’s-pap en koerantpapiere. In standerd vyf begin ek koerant aflewer; elke oggend halfvyf op om die ongeveer 50 koerante te vou – dunnes in vierkante, dikkes langwerpig – en dan in swaar tuisgemaakte sakke om my tingerige skouers te laai om die buurt te bedien met die dag se nuus. Vir vier jaar lank, ses dae ’n week, 49 weke ’n jaar, behalwe die drie weke van seevakansie. Die instaanafleweraar het altyd die Kersgeskenke gekry.
Op hoërskool was ek redakteur van die skoolkoerant. In 1999 wen ek die prys vir die beste aanlyn koerant en ’n ete saam met die Naspers-span in Kaapstad. Ek sit langs Ton Vosloo. Ek onthou min van skool, maar hierdie gesprek is kristalhelder in my geheue. Ton vertel ’n grootoog aspirantjoernalis dat die toekoms van die koerant is tuisdruk. “Rekenaar- en druktegnologie raak al beter. Jy gaan binnekort bloot elke oggend jou rekenaar aansit en die dag se koerant uitdruk. So skakel mens die druk- en verspreidingskoste uit.”
Wat van die koerantafleweraars, wonder ek.
Ton was nie heeltemal verkeerd nie. Ons druk weliswaar nie ons koerante nie, maar ons laai dit af en lees dit op ons rekenaar- of selfoonskerms. As die kinders my toelaat hou ek steeds stiltetyd, maar nou net met ’n foon langs my papbord eerder as papiere wat later vir rooster skoonmaak gebruik sou word.
En dit is dan ook die storie van die koerantwese wêreldwyd.
Maar hoekom? Wat verduidelik die dramatiese afname in lesers?
Dit help om die ekonomie van koerantnuus te verstaan. In sy boek, All the news that’s fit to sell: How the market transforms information into news, verduidelik James Hamilton dat die hoë vastekostes van ’n koerant – verslaggewers wat langtermynnetwerke moet vestig, byvoorbeeld – tesame met die nie-uitsluitbare aard van die nuusproduk tipies tot ’n suboptimale voorsiening van nuus lei. Een faktor wat help om hierdie suboptimale ewewig teë te werk is die professionele norme van verslaggewers (en redakteurs) wat “harde nuus” teenoor die goedkoper-om-te-produseer maar meer gewilde “sagte nuus” prioritiseer. Plaaslike adverteerders het hierdie nuusmonopolie-ewewig gerugsteun. Daar was dus voldoende finansiële bronne vir verslaggewers om politieke nuus en ander “harde” onderwerpe te takel wat goeie mense na die professie gelok het, maar ook genoeg “sagte nuus” om die lesers en adverteerders gelukkig te hou.
Dit was nie altyd die koerantmodel nie. In die neëntiende eeu, byvoorbeeld, was koerante meestal die propaganda-arms van politieke partye. Dit is eers in die twintigste eeu, met die geweldige toename in ekonomiese groei en, as ’n gevolg, die groei in advertensie-inkomste, dat die ideaal van ’n onafhanklike pers, beman deur professionele joernaliste, die standaard geword het. Ongeag ons eie leefervaring, is die koerant soos ons dit ken ’n relatief nuwe verskynsel.
Tog het die spoed van verandering die laaste drie dekades beduidend toegeneem. Die groot sondebok: Die koms van die internet. Amper oornag het Hamilton se ewewig inmekaar getuimel: Nuus kon nou vinniger beweeg as ooit, wat die nie-uitsluitbare aard daarvan versterk het. Verslaggewers kon weliswaar nou vinniger inligting inwin, maar die internet het ook ander beroepe moontlik gemaak en die bestes het dit aangegryp. Maar die mees belangrike was seer sekerlik dat die internet nuwe advertensiemoontlikhede gebied het. Nie net het nuwe firmas ontstaan wat als aanlyn verkoop het nie – Amazon – maar bestaande firmas het besef hul kliënte spandeer meer tyd aanlyn. Die koerant wat voorheen die markplein vir handelaars groot en klein was, is nou deur die kuberruim verplaas.
Die beste illustrasie hiervan is Craigslist in Amerika. Craigslist is die wêreld se grootste aanlyn snuffelgids. Dit tel pal onder die top 20 mees besoekte webtuistes. Nadat dit in 1995 begin is deur Craig Newman as ’n manier om mense in San Francisco in te lig van aktiwiteite in die area, begin dit in 2000 uitbrei na ander stede soos Boston, New York en Chicago, en daarna na kleiner markte. In 2005 is daar 115 stede en dorpe bedien, in 2008 was dit 331 en vandag is dit 416. Die platform het basies dieselfde gebly oor al die jare en sluit geen vertoonadvertensies of nuusinhoud in nie.
Die outeurs van ’n nuwe artikel in die gesaghebbende Review of Economic Studies gebruik hierdie gefasseerde bekendstelling van Craigslist regoor Amerika tussen 1995 en 2009 om die effek op plaaslike koerante te meet. Die voordeel van só ’n studie is dat die effek van snuffelgidsadvertensies van ander veranderinge wat deur die internet teweeggebring is, onderskei kan word. Ook kan koerante wat meer en minder afhanklik was van snuffelgidsadvertensies met mekaar vergelyk word.
Die resultate bewys onomwonde dat Craigslist se toetrede tot die plaaslike mark koerante gekniehalter het. “Ons vind dat, na die toetrede van Craigslist, plaaslike koerante wat afhanklik was van snuffelgidsadvertensies, ’n beduidende afname in die getal bestuurs- en nuuskamerpersoneel gehad het, insluitend redakteurs wat politieke onderwerpe gedek het.” Die effek is ook nie klein nie: Elke nuuskantoor wat ’n snuffelgidsbestuurder gehad het, moes na Craigslist se aankoms gemiddeld drie poste besnoei.
Het hierdie verlies van personeel ook ’n effek op inhoud gehad? Om dit te beantwoord, ontleed die outeurs meer as 100 miljoen nuusartikels in meer as 900 koerante. Hulle vind inderdaad dat die besnoeiing van poste tot ’n afname in nuusdekking van veral politieke onderwerpe gelei het. Lesersgetalle het daarna ook beduidend gekwyn.
Mens sou dink dis genoeg om te bewys dat die internet-era die koerantmodel van die twintigste eeu gebreek het, maar die outeurs gaan selfs verder. Hulle wys dat die veranderinge by koerante ook ’n invloed op politieke uitkomste – by name stemme vir politieke partye – gehad het. Deur verkiesingsdata op streeksvlak vir dieselfde tydperk te analiseer, toon hulle dat in areas waar koerante se politieke inhoud getaan het, kiesers meer geneig was om ideologies meer ekstreme kandidate vir die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers te kies. Die gedrukte media het dus gehelp om polarisasie te tem; daarsonder is daar ’n groter kans dat radikale stemme versterk sal word.
Dis belangrik om te noem dat hierdie bevindinge waarskynlik die effek van die internet onderskat. Die studie fokus slegs op Craigslist se toetrede; daar is natuurlik baie ander toetreders tot die digitale ruimte wat beide adverteerders en lesers van gedrukte koerante weggerokkel het. Die sluiting van Afrikaanse koerante moet dus geen verrassing wees nie; die groter verrassing is eerder dat hulle so lank teen die oormag van die internet – en die verbrokkeling van hul sakemodel – kon uithou.
So wat nou? Wat is die alternatiewe modelle vir mediahuise? Die eerste is ’n aanlyn subskripsie-aanbod, soos News24, wat onlangs die 100 000 intekenaargrens oorskry het. Hoewel daar steeds vastekostes vir so ’n model is – verslaggewers moet immers steeds netwerke vestig – is daar ook baie ander veranderlike kostes wat uitgesny kan word, soos druk- en verspreidingskoste. (Inligtingtegnologiedienste om die webtuistes te bedryf is ’n vastekoste; die marginale koste vir elke ekstra leser is basies nul.) ’n Variasie hiervan is ’n vrywillige betalingsmodel, hoewel die sukses hiervan onseker is. Daily Maverick se digitale aanbod is een so ’n voorbeeld.
Die probleem met gratis toegang tot digitale nuus, en dus swakker kwaliteit joernalistiek, is dat daar al hoe meer kunsmatige intelligensie-mededingers gaan wees. Ek het dit elders die probleem van inligtingbesoedeling genoem. Wanneer mens bloot die hoeveelheid “clicks” maksimeer, dan wen sensasie bo stories met swaartekrag. Dis juis dan wanneer radikale idees seëvier en polarisasie vererger.
Daar’s darem nie net donker wolke nie. Digitale mediums kan die skrywer direk met die leser verbind. Dit beteken dat idees wat voorheen nie die lig kon sien nie, nou wél ’n gehoor kan kry. Kyk, byvoorbeeld, na hoe Substack, ’n aanlyn platform, skrywers ’n nuwe model gee om hul eie gehoor te bou, en daarvoor beloon te word. Om net twee voorbeelde te noem: Noah Smith, ’n Amerikaanse ekonoom, het ’n webjoernaal – www.noahpinion.blog – met meer as 220 000 lesers, waarvan meer as 12 000 betalende lesers is teen $100 per jaar. ’n Vinnige som gee jou ’n jaarlikse inkomste van $1,2 miljoen, of noord van R20 miljoen. Nie te versmaai vir iemand wat vroeër ’n fraksie daarvan verdien het as rubriekskrywer vir Bloomberg. Of neem Brad DeLong uit my eie dissipline, ekonomiese geskiedenis. DeLong is ’n professor in ekonomie by die Universiteit van Kalifornië, Berkeley, maar in sy vrye tyd skryf hy die Grasping Reality-blog. Hy het meer as 25 000 intekenare, waarvan meer as 1000 betaalde intekenare is. Suid-Afrika het natuurlik nie dieselfde koopkrag as Amerika nie, maar dat daar geleenthede is – selfs vir skrywers met niche belangstellings – is ’n feit soos ’n koei.
In kort: Die internet bied nuwe maniere om nuus en opinies te deel. Dis opwindend, maar dis belangrik om te wonder wat hierdie alternatiewe allegaartjie-nuusaanbod op ons samelewing gaan hê.
Koerante is dood. Lank lewe die koerant.