Wat gebeur met die taal as Afrikaanse koerante sluit?

  • 4

Gedrukte koerante soos Rapport en Beeld gaan sluit, is die joernaliste (en ons, die publiek) verlede week ingelig. Dis ook nie lank nie, of die asemrowende bedrag wat die eertydse  uitvoerende hoof van Naspers ontvang het, en die maandelikse bedrag wat hy nog vir die volgende ses maande sal ontvang, word gepubliseer.

Bob van Dijk het verlede jaar R333 miljoen aan salarisse en bonusse verdien. Hy is nie meer by Naspers nie, maar ontvang volgens nuusberigte vir die volgende ses maande elke maand nog R2,2 miljoen om as konsultant ’n naatlose oorgang te bewerkstellig. Ek weet nie wat ’n naatlose oorgang is wat meer as 400 mense werkloos laat nie.

Normaalweg word koerante gesluit wanneer hulle nie meer winsgewend is nie. Is dit hier die geval? Dit word nêrens uitdruklik so gestel nie. Die elektroniese weergawes bly voortbestaan, wat beteken dat die gedrukte pers die probleem is. Die vraag wat by my ontstaan: Is dit nie meer winsgewend om koerante te druk nie, of is dit eerder ’n geval van dat daar ’n vooraf besluit ten gunste van elektroniese media geneem is?

Maar hoe word die buitensporige vergoeding van ’n konsultant geregverdig? Hoeveel joernaliste kon nie vir daai ses maande teen R2,2 miljoen hul werk bly behou het nie? Wat word van die koerantverkoper by die verkeerslig, of die tegniese personeel wat die drukperse aan die gang gehou het? Wat van die skoonmakers, die sekretaresses, die ontvangsdames, die posbode? Wat word van die kantoorspasie wat nou leeg gaan staan, die restaurant en koffieverkoper wat nou eensklaps ’n groot deel van hulle inkomste verloor? Dis nie net die werknemers van Naspers wat hulle werk verloor nie; daar is ook ander industrieë wat verliese gaan ly. Is hulle in ag geneem?

Dan wonder ek oor die etiek agter die openbaarmaking van die inligting. Dit klink asof sommige mense onkant betrap is deur die nuus. As daar behoorlike konsultasie was met alle werknemers, behoort niemand verras te gewees het nie.

Naatlose oorgang? Dit klink nie so nie.

Naspers moes voorsien het, en hulleself daarmee vereenselwig het, dat Van Dijk se salaris opskudding gaan veroorsaak. Hulle gee nie om nie, dis duidelik. Daar moes iewers een of meerdere raadsvergaderings gewees het waar daar besluit is oor vergoeding vir Van Dijk, die sluit van publikasies, aflegging van personeel en die voortsetting van die besigheid na aflegging. Dieselfde mense was waarskynlik in al daardie vergaderings teenwoordig. Ek is besig om met groot optimisme te hoop dat daar meerdere vergaderings was en dat daar deeglik oorleg gepleeg was voordat besluite geneem is. Dis nie altyd vanselfsprekend dat besluite geneem word op enige ander gronde as finansiëles nie.

Maar as die besluit geneem is omdat die koerante nie meer winsgewend was nie, voor wie se deur moet die blaam dan gelê word? Dis als goed en wel om te sê Naspers moes X of Y of Z gedoen het, maar die meeste mense wat ek ken, lees die koerant op hul selfoon of rekenaar. Bitter min mense koop nog ’n papierkoerant. As die aanvraag na papierkoerante afneem, dan moet daar natuurlik ’n besigheidsbesluit geneem word om daar waar aanvraag is, te voorsien en die dooie hout uit te kap.

Waar laat dit Afrikaans?

Ons land se top joernaliste skryf alreeds in Engels. Daar is geruime tyd alreeds ’n verskraling in gehalte- Afrikaanse joernalistiek. Laat ek dit duidelik stel. Die joernaliste is daar wat gehalteberiggewing kan lewer, maar om een of ander rede wat ek nie begryp nie, word hulle nie aangemoedig om hul beriggewing in Afrikaans te doen nie. Wat ons laat met meesal afgewaterde beriggewing in Afrikaans. Wanneer laas het ’n ondersoekende joernalis in Afrikaans ’n blitsverkoperboek uitgebring? Nee, vergeet dit. Wanneer laas het ’n Afrikaanse ondersoekende joernalis oor politiek ’n scoop gehad wat tot ’n Afrikaanse boek gelei het? Dit gebeur nie. Daar is heelwat Afrikaanse joernaliste wat hulle boeke in Engels uitbring, deels omdat hulle aanvanklike beriggewing in Engels was.

Afrikaanse koerante is nou, en was destyds, tog so versigtig om op die establishment se tone te trap. Is dit die joernaliste se skuld? Ek dink nie so nie, maar die joernaliste besluit nie wat uiteindelik die koerante haal nie.

En wat van die lesers wat nie meer papierkoerante koop nie? Daar is nou ’n gefladder om mense aan te moedig om subskripsies vir koerante uit te neem. En dan? Gestel die besluit om Rapport en Beeld en ander koerante te sluit word heroorweeg. Hoe lank voordat dieselfde mense wat nou subskripsies wil uitneem, besluit dat hulle tog nie kan bekostig om aan te hou koerant koop nie?

Daar word gereeld gewag gemaak van die feit dat die regering van Afrikaans ontslae wil raak. Ek twyfel of die regering enige noemenswaardige invloed op Naspers se besluit gehad het. Markte wel. As Afrikaanssprekendes nie papierkoerante koop in die tipe hoeveelhede wat korporasies se natuurlike geldgierigheid aanwakker nie, dan kan ons niemand behalwe onsself blameer vir die ondergang van papierkoerante nie.

Wat is volgende? Boeke in Afrikaans? Net soos wat ons Afrikaanse joernaliste nou moet Engels skryf, gaan ons binnekort dieselfde situasie met boeke hê.

En dit sal net Afrikaanssprekendes se skuld wees as ook boeke nie meer geredelik in Afrikaans beskikbaar sal wees nie.

Die keuse is duidelik: Sit jou geld waar jou mond is, of baie binnekort sal jy nie meer ’n keuse kan uitoefen nie.

Lees ook:

Die ekonomie van koerantnuus

  • 4

Kommentaar

  • Bosluis Bruwer

    Naspers is 'n maatskappy. Maatskappye se eerste en enigste motief is wins. Die Naspers maatskappy is wel begin om Afrikaners en hulle taaltjie se belange te bevorder, maar tye het onherroeplik verander. Die Afrikaner het nie meer leiers nie, het nie meer 'n God nie, en wat is dan nog die punt daarvan om 'n koerant te he? Geld is die nuwe God. Besaaids, die toekoms is digitaal. Daar is soveel meer moontlikhede op die system. Suid-Afrika is ook skynbaar lief vir hierdie sisteem van kapitalisme, anders sou 70 % van hulle nie vir die DANC-koalisie gestem het en weer vir Ramaphosa president gemaak het nie. Met die DA nou in regering, kan die DA werk aan hulle droom om minimum lone af te skaf, sodat CEO's en grootbase nog meer miljoene kan maak.

  • Die ongemaklike waarheid is dat jongmense besef dat Engels 'n voorvereiste is vir 'n suksesvolle loopbaan. Volgens Tyla Dallas (2022) is Afrikaans die moedertaal van 7,4 miljoen Suid-Afrikaners (12%), waarvan meer as die helfte nie-wit is.
    Hierdie proporsionaliteit moet gereflekteer word in ons onderwys (hoër en laer).
    Die langtermyn trajek vir die gebruik en uitbou van Afrikaans is ongetwyfeld afwaarts.

  • Bettina, mense glo vreemde dinge en dis 'n helse probleem. Geld moet 'n vervaldatum hê, dan, dalk net, stop die waansin. Gewone mensies se geld hou 'n maand of wat, want het die jirre dan nie met rede 'n aartappel gemaak om 'n maand te hou nie. Oe. Gil die trustfondsbabas. Want. Nou. Wat. Van. My! Mammie. Pappie het gesê ons is anders. Beter. Oe. Oe. Oink. Oi.

  • Hans Richardt

    Nee wat, taal is nie gebonde aan Media24-koerante nie, dit was net misbruik vir propaganda van agendas van redaksies.
    In stede sal streekdialekte beter herleef in gemeenskappe.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top