Fotoverslag: Marianne Thamm lewer die jaarlikse PEN Afrikaans-lesing oor media- en uitdrukkingsvryheid

  • 2

Marianne Thamm

PEN Afrikaans het hul lede, ondersteuners en ander belangstellendes genooi om te kom luister na PEN Afrikaans se jaarlikse lesing oor media- en uitdrukkingsvryheid in Suid-Afrika. Marianne Thamm, die bekende joernalis, analis, skrywer en dramaturg, het vanjaar se lesing gelewer. Dit het op Saterdag 1 November om 11:00 by die Breytenbach Sentrum in Wellington plaasgevind. Naomi Meyer en Izak de Vries het die geleentheid bygewoon. Izak de Vries dien op PEN Afrikaans se bestuur. 

Teks: Naomi Meyer; foto’s: Izak de Vries

1.

Laugh it Off v Suid-Afrikaanse Brouerye.

Ek dink aan hierdie hofsaak toe Marianne Thamm vorentoe stap en sê: “Vryheid van spraak.”

In die Laugh it Off-hofsaak het dit gehandel oor ’n beslote korporasie wat T-hemde ontwerp het waar met bekende handelsmerke geïmproviseer is. Een van die handelsmerke was Carling Black Label Beer. As parodie, so is dit voorgehou, is die frase omskep in die woorde: “Black Labour White Guilt”. Die vervaardigers van die bier het gekla: “Ons handelsmerk is aangetas.” Die laer hof en hoër hof het saamgestem. Toe die saak in die Konstitusionele Hof draai, het die regter gesê: “Dit was ’n parodie. Julle bier se verkope het nie noemenswaardig afgeneem as gevolg van daardie T-hemp se bewoording nie. Artikel 16, vryheid van spraak!”

Hierdie saak mag betrekking hê op intellektuele eiendomsreg. Tog demonstreer dit: Vryheid van spraak is in hierdie land van kernbelang.

Dit is inderdaad die boodskap van Marianne Thamm se PEN Afrikaans-lesing oor uitdrukkingsvryheid en vryheid van spraak by die Breytenbachsentrum.

Wat volg, is indrukke oor die lesing.

2.

“Uitdrukkingsvryheid. Hoe moet ons die konsep verstaan?” vra Marianne. “Om die begrip te verstaan moet daar iemand of iets wees wat vryheid van spraak belemmer of versmoor.”

3.

Thamm sê: “Die soort kommunikasie wat ons in die 1990’s gesien en gehoor het, het verander na disinformasie in die 2000’s. En gooi kunsmatige intelligensie daarby, weet mens nie meer wat is waar en wat is leuen nie.”

Kyk wat staan op haar T-hemp: Beveg die algoritme!

Mercy Kannemeyer, PEN Afrikaans se voorsitter, heet almal welkom.

4.

Voor die val van die Berlynse Muur en Koue Oorlog, was daar Westerse kapitalisme, en kommunisme. Albei het gekompeteer vir oorheersing. Regerings wou vir kiesers wys: Kiesers kry werk en die regering werk vir jou land en medemens.

Daar val die muur! Die mense aan die onderkant van die piramide moet nou vir hulleself sorg.

Rusland verval in ’n gemors. Die VSA is net meer diskreet.

Hoe ook al: Die gewone landsburger sit nou met die gebakte pere.

Dis die era van die oligarg.

China? Hulle maak seker dat niemand weet wat presies daar gebeur nie.

Orwell skryf 1984 en Aldous Huxley Brave New World. “Dis baie profeties.,” meen Thamm.

André Terblanché, die bestuurder van die Breytenbach Sentrum, spreek ook ’n kort verwelkoming uit.

5.

Tot omtrent die jaar 2000 was die internet nie ’n mark nie; dit was ’n sekuriteitstelsel om mag te behou. Nou is dit iets anders. Ons kan nie die rol van die internet onderskat nie. Ook nie die rol wat die jaar 2008 op die wêreld en sy geldsake gespeel het nie.

In 2008 misluk kapitalisme grootskaals. Die markte stort inmekaar weens roekelose gedrag. Die regerings in die VSA, Engeland, Duitsland en 31 ander lande red die banke met belastingbetalersgeld. Die belastingbetaler gaan nou al hoe minder van die pastei begin kry. Dienste wat voorheen teen ’n redelike koste gelewer kon word, word al hoe minder. En wat oorbly, kos geld. Nou moet mens vir alles betaal.

Sosialisme is nou vir die rykes; kapitalisme vir die armes. Dis wat in 2008 gebeur het.

En so het “ideologie” begin verdwyn in die wêreld.

Daar is nou geen meer kompetisie oor wie die beste politieke stelsel besit nie. Nou gaan dit net oor geld en wins. “The transactional economy,” noem Thamm dit.

Die terrein waarop hierdie nuwe “oorlog” geveg word, is liminaal. Dit is die internet. Dit is buite die oog.

Ná die amptelike verrigtinge verby is, het die gesprek nog lank nie opgehou nie.

6.

Deesdae word die internet ’n eggokamer waar jy min seggenskap het oor wat jy lees.

Weet julle hoe baie geld al deur mense in ons land gesteel is? Om julle ’n idee te gee van hoeveel geld gesteel is: Jy kan R10 000 per dag uitgee vir byna 300 jaar, voor jy ’n miljard rand kan uitgee.

Dink daaraan: Dis die soort hoeveelhede wat deur die Guptas gesteel is. Markus Jooste en sy trawante nog meer!

Die internet kan ook gebruik word om skelms op te spoor. Korrupsie word juis dikwels met behulp van die internet ontbloot. Tegnologie kan dus ’n positiewe rol speel. Net soos wat miljarde rande weggesteek is deur korrupsie, spoor ons nou weer geld op in kriptogelde. Als deur die internet.

Happies en drinkgoed is bedien.

7.

Die medialandskap soos dit nou bestaan, gee nie om vir vryheid van spraak nie. Net solank jy met dié wat praat, saamstem.

Elon Musk en Donald Trump sê dis uitdrukkingsvryheid. Tog word mense wat nie met hulle saamstem nie, van die lug afgehaal. Mense se visums word gekanselleer. Skielik is daar nie meer so baie vryheid van spraak in die VSA nie – al bestaan Artikel 1 in die VSA.

Ons sien hoe geld beskikbaar is om platforms met sekere goedgekeurde opinies aan die lewe te hou, maar in Suid-Afrika is daar nie geld vir Vrye Weekblad nie en die Daily Maverick kry swaar.

Die Breytenbach Sentrum se tuin leen sigself tot nog gesprekke.

8.

Hou vas hieraan: In Suid-Afrika het ’n persoon wel die vryheid – oor enige medium, ongeag grense – om vrylik te kan praat.

Joernaliste moet dit koester.

Dit beteken joernaliste moet nie sonder respek met die waarheid omgaan nie, of die nuus bloot sensasioneel verpak om mense te laat klik nie, te kry om hul berigte te lees nie.

Die dilemma is dat nuus ’n kommoditeit word wat verkoop kan word. Daarvoor het ’n mens klikke nodig.

Catrina Wessels, PEN Afrikaans se bestuurder, Mercy Kannemeyer, André Terblanché en Marianne Thamm.

9.

In Suid-Afrika is ons al 30 jaar gewoond aan vryheid van spraak. Kunsmatige intelligensie kán lewens verbeter.

KI kan maak dat jou eie oë vir jou sal lieg, want as jy dink jy sien iets, dan neem ons breine aan dit bestaan werklik.

Thamm se raad vir almal wat die algoritme wil beveg, is:

Begin om dinge te doen wat gedoen moet word. Begin lees wat jy dink die samelewing moet lees. Glo jy in vryheid van spraak? Praat dan vry. Glo jy in ’n menslike samelewing? Gedra jou dan menslik. Lewe binne die waarheid. Weier om deel te neem aan leuens. Moenie geïntimideer word deur leuens van leuenaars nie.

Mens kan die waarheid net aan ’n paar luisteraars op ’n slag vertel. En dit sal genoeg wees.

10.

Die vryheid van spraak is belangriker as die kos op ons tafels. Maar as ons nie die kos het nie, moet ons vry genoeg wees om in die straat te hardloop en te sê: Ek het nie kos nie.

Marianne gebruik ook ’n beeld wat later sou reaksie uitlok tydens vraetyd.

Vir sommige is dit steurend om blootgestel te word aan moeilike waarhede. Hulle gebruik wat sy noem ’n “mental condom” voordat hulle op die internet klim!

Tydens vraetyd daag iemand haar uit en sê kondome kan wel lewens red. Soms is dit nodig om wel met ’n kondoom oor jou brein die internet te betree.

Marianne stem saam, maar sê jy moet ook weet wanneer om sonder ’n kondoom die internet te betree.

11.

Iemand in die gehoor vra: “Marianne, as jy ’n punt vir Suid-Afrika moet gee, hoe vry is ons om in hierdie land vrylik te kan praat?” Marianne dink nie eens na nie. “In Suid-Afrika? ’n Tien vir vryheid van spraak. As ons sê ons gaan jou klap, gaan ons jou nie klap nie. Maar ons gaan dit kan sê. Ons Grondwet waarborg jou vryheid van spraak.”

12.

Die vraesessie is ’n uitbeelding van vryheid van spraak. Iemand praat oor self-gaslighting. ’n Ander vertel van menings van mense wat glo Nelson Mandela is dood in die tronk en daar was ’n baie goeie akteur wat toneel gespeel het, dat hy vrygelaat is en die land regeer het tot die dag van daardie persoon se afsterwe. Daar word vrae gevra oor die stand van sake in Botswana.

Marianne prys die aard van die taal Afrikaans: “Dis soos jazz. Jy kan die verskille hoor in die monde van sy sprekers. Engels is nie so nie. Dis ’n luislang. Mens moet dit so afdruk en indruk ...”

Sy beduie met haar hande hoe die Engels iewers in ’n boksie geprop word. “Dis mos nou wat kunsmatige intelligensie wil hê. Iets wat in die boksie pas.”

13.

Ek klim in my motor en ek dink: Ten spyte van alles wat verkeerd is in hierdie land, mag ons nie vryheid vergeet nie.

’n Mens mag nie net vry praat nie. ’n Mens moet praat. Daardie Laugh it Off-hofsaak se naam is nogal relevant. Vryheid van spraak is nie iets om af te lag nie.

Lees ook:

Uitnodiging: Marianne Thamm lewer PEN Afrikaans se jaarlikse lesing oor media- en uitdrukkingsvryheid

Karyn Maughan sal nie gemuilband word nie: PEN Afrikaans se lesing oor persvryheid

  • 2

Kommentaar

  • Sandra Pretorius

    Dis mos sy wat die voorwoord van "Die seuns van Bird Island" geskryf het, of verwar ek haar nou met iemand anders?

  • Nico M Ferreira

    Ai toggie, Sandra. Ek is seker 'n paar lesers het in hulle koffie gestik omdat jy na daai boek verwys. "Die bottom line" is egter: jy kan 'n miljoen woorde preek oor sogenaamde REGTE, maar as jy nie verwys na die verantwoordelikhede wat saam met die regte kom nie, dan beteken jou preek niks nie.
    Soek gerus Ernst Roets se video op die Internet wat handel oor die ontstaan en toepassing van die begrip "useful idiots" of ook gewillige idiote. Many a true word spoken in jest?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top