Die hoeksteen van vryheid is die vrye vloei van inligting en daarmee saam die reg om jouself te kan uitdruk sonder die vrees van vervolging. Iets waaraan ons gewoond geraak het die afgelope paar jaar. Onder apartheid was dit nie so nie, maar na 1994 het ons as ’n jong demokrasie ’n nuwe grondwet gekry. Dit het ons vele vryhede gegee en ons sodoende ’n oop, vrye en demokratiese samelewing gemaak.
Veral betreffende vrye vloei van inligting en vryheid van spraak. Ek meen dit is nie eens snaaks om die koerant oop te maak en berigte te lees waarin ministers, regters, polisiehoofde en selfs die land se president aangevat word oor hulle korrupsie en ander misdrywe nie. Ja ons mag dalk voel dat daar nie altyd voldoende optredes is nie, maar die feit bly staan, niemand is gevrywaar van ondersoeke of geregtelike vervolging nie. En daarmee saam mag almal daarvan weet.
Dink maar net hoe gewoond ons daaraan geraak het om terwyl ons werk toe ry, na die radio te luister en te hoor hoe die omroeper openlik kritiek uitspreek teen een of ander staatsdiens department wat swak diens lewer. Of hoe blasé ons op ’n Sondag na Carte Blanche kyk en sien hoe hulle aanbieders ’n hospitaal se administrasie ontbloot vir wanbestuur of met ’n versteekte kamera polisieselle besoek en wandade uitwys. Ons aanvaar dat ons mag weet, ons mag vrae vra en ons mag kritiseer. Ons aanvaar as vanselfsprekend dat Artikel 16 van ons grondwet, dit moontlik maak.
Om die waarheid te sê, weet ons nie eens wat Artikel 16 sê nie. Dit is mos maar hoe mense is as hulle bederf is. Hulle verleer om dankbaar te wees vir hulle vryheid, hulle word lui en selfsugtig. Tot die dag wat hulle vryheid van hulle weggeneem word. Dan eers besef hulle wat hulle gehad het. Hoekom moet ons altyd eers iets verloor voordat ons die waarde daarvan besef?
Wel kom ek herinner jou aan wat Artikel 16 sê, dit gaan oor die reg op, vryheid van uitdrukking. Elkeen het die reg op vryheid van uitdrukking, waarby ingesluit is (a) die vryheid van die pers en ander media; (b) die vryheid om inligting of idees te ontvang of oor te dra; (c) die vryheid van artistieke kreatiwiteit; en (d) akademiese vryheid en vryheid van wetenskaplike navorsing. Natuurlik solank dit nie die volgende bevat nie: (a) propaganda vir oorlog; (b) die aanhitsing van dreigende geweld; of (c) die verkondiging van haat wat op ras, etnisiteit, geslagtelikheid of godsdiens gebaseer is en wat aanhits om leed te veroorsaak.
Abel Pienaar