Abel Pienaar het twee grade in teologie en ’n doktorsgraad in filosofie van godsdiens (Universiteit van Pretoria). Hy het vir 11 jaar as voltydse leraar in die NG Kerk in ’n makrogemeente in Pretoria gewerk. Gedurende hierdie tyd word hy verkies tot die sinode as direkteur: Sentrum vir Spiritualiteit, ’n posisie wat hy behou totdat hy in 2006 uit die NG Kerk bedank.
Abel het onder Thich Nhat Hanh (Zen-Boeddhis, Frankryk) studeer en ook blootstelling gehad aan en geleer by oa die huidige Dalai Lama, Thomas Keating, Rupert Spira en Kobus Krüger.
Abel is dié spirituele leier van Renaissance, ’n spirituele gemeenskap in Pretoria. Hy is ook direkteur van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Hy het al in verskeie tydskrifte verskyn en in radio- en TV-programme opgetree. Ook het hy heelwat artikels geskrywe en as medeskrywer aan heelwat boekpublikasies gewerk.
Sy eerste boek is in 2010 gepubliseer met die titel Saam op soek na God: Soeke na ’n eietydse spiritualiteit. Hy publiseer ook God se oë is blou. En in 2015 word sy derde boek, Die dans met God, uitgegee wat by die Stellenbosch Woordfees as die beste leefstylboek van die jaar bekroon is. Hy doen ook ‘ń vertaling na Afrikaans van Tao Te Ching; Boek van die Weg wat in 2016 verskyn het. Hy is medeskrywer saam Flip Schutte van Oorkantste oewer: Spiritualiteit anderkant godsdiens (2019).
Abel werk vanuit die nondualiteitsmodel en sien Taoïsme, Zen-Boeddhisme en Christen-Gnostiek as van die helderste vingerwysings na ons inherente eenheid met God/Bewussyn.
Abel is getroud met Zelda en hulle het vier kinders en twee kleinseuns.