Vryheid van spraak III

  • 0

Kan jy sien dat dit onmiddellik tot selfbeperking of selfsensuur gaan lei? En daarmee bedoel ek ’n bang media! En verseker nie net ’n bang media nie, op alle ander terreine gaan politici, filosowe, skrywers, kunstenaars, openbare sprekers en meningvormers hulle woorde tel, om nie eens te praat van die "whistleblowers" wat nie meer hulle nekke gaan uitsteek nie. Want netnou sê jy iets wat deur die regering dalk net as teen "nasionale belang" geïnterpreteer word.

Die groot vraag agter sensuur is natuurlik altyd, wie bepaal wat mag gesê word en wat mag nie gesê word nie? Wie bepaal waar sensuur begin en waar dit ophou? Natuurlik sensuurbase en dit is die heersers van die dag. Dit is hulle wat bepaal wat sg in die "nasionale belang" is al dan nie. Die probleem is natuurlik dat die regering dan namens mense gaan besluit wat in hulle belange is, en wat nie.

Suid-Afrika is werklik nou by ’n kruispad. Daar sal moet gekies word: Die koers van byvoorbeeld, Nederland, waar totale vrye vloei van inligting toegelaat word of die Sjinese opsie, waar die regering al die troewe hou, en die nuusdraer spreekwoordelik geskiet word. Wel as jy die afgelope tyd se tendense fyn dopgehou het, sou jy gesien het waarvoor daar gekies word. Kom ek noem net twee voorbeelde:

Eerstens, onder Sjinese druk, is die vriendelike besoek van ’n vorige Nobelpryswenner, die Dalai Lama, Suid-Afrika geweier. Hoekom? Nee blykbaar was sy paspoort nie in orde nie. Regtig? Dit het blykbaar niks te doen met Sjina se stryd met die Tibettaanse mense nie. En tweedens, is dit nie skrikwekkend om te sien hoe die ANC reeds, net soos wat die Sjinese taktiek is, sy eie ondersteuners nie ’n vrye debat toegelaat het oor die nuwe "Secrecy Bill" nie. Almal is aangesê om vir die nuwe wetsontwerp te stem.

Natuurlik is dit waar dat die media hier en daar foute maak, en sodoende mense se menswaardigheid aantas. Niemand kan ontken dat die media dit soms erg verkeerd kry nie. Veral wanneer hulle fokus op sensasie en skindernuus versprei – wanneer kyker- en lesersgetalle meer tel as integriteit van die joernalis. Maar ek vat dit veel eerder as sensuur. Daarom stem ek heelhartig saam met Albert Camus as hy sê: "A free press can, of course, be good or bad, but, most certainly without freedom, the press will never be anything but bad."

Die reg om te kan verskil en die reg tot die vrye vloei van inligting is onontbeerlik vir vryheid. Kom laat ons nie in die geskiedenis bekend staan as die mense wat die bal laat val het nie. Kom ons wees die mense wat geveg het vir vryheid, toe ons nog kon veg! En as jy vra hoe moet ons veg daarvoor? Is dit eintlik eenvoudig.

+ Leer jou kinders die waarde van hulle vryheid. Leer hulle debatteer. Leer hulle die waarde van dialoog en oop gesprek.
+ Help jou kinders onderskei tussen gesonde openbare debat en swak beriggewing. (Leer jou kinders om kritiese lesers te wees.)
+ Bestudeer die Handves vir menseregte. Kyk weer wat mense moes opoffer vir dit wat ons nou as vanselfsprekend aanvaar.
+ Lees meer, luister meer en wees ’n ewige student.
+ Dink vir jouself.
+ Word ’n aktivis vir “vryheid van spraak”. As jy wil weet hoe? Leer by ouens soos die Indiese filosoof Amartya Sen as hy sê: "... democracy requires the protection of political freedom, such as free speech, uncensored media, freedom from political prosecution or persecution."
+ Ondersteun organisasies soos: die Instituut vir ’n Demokratiese Suid-Afrika (Idasa), die Freedom of Expression Institute, die Sentrum vir Grondwetlike Regte, Oudpres FW de Klerk se Sentrum vir Grondwetlike Regte (SGR) en Nelson Mandela se Herinneringsentrum.

Laastens nog net dit: Die volgende stap is dat hierdie wetsontwerp nou verwys is na die Nasionale Vergadering, waar die LP's daaroor debat gaan voer. Kom ons almal wees van hier af wakker en bewus van die proses. Want dink net, wat ek hier geskryf het, kan dalk oor ’n jaar van nou af, my 10 tot 20 jaar tronkstraf op die lyf haal. Of dit wat jy by ’n braai vir iemand sê, kan jou dalk die tronksel met my laat deel ...

George Orwell: "Freedom is the right to tell people what they do not want to hear."

Abel Pienaar

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top