Vryheid van spraak II

  • 1

En wat maak hierdie artikel so belangrik? Hoofsaaklik omdat dit die waghond is vir die res van die handves van menseregte. Want soos jy weet het elkeen van ons onder die grondwet die reg op gelykheid, menswaardigheid, reg op lewe, reg op vryheid en beskerming, reg op privaatheid, reg op godsdiensvryheid en eie opinie, vrye assosiasie, en so gaan die lys aan. Verseker kom al hierdie regte nie altyd tot hulle reg nie, maar jy mag kla, protesteer, toi-toi, skryf in die koerant, aangee by die polisie, dagvaar en openlik blog, Twitter of Facebook oor alles wat jou pla of waaroor jy ongelukkig voel. Natuurlik sonder die vrees van vervolging. Dit is die krag van hierdie Artikel 16, dit beskerm die vrye vloei van inligting.

Dink maar net aan die hele wapentransaksie-skandaal in Suid-Afrika. ’n Gewone burger, wat nie tevrede was met die verklarings en antwoorde van die regering nie, Terry Crawford-Browne, het met hofsake en aktiewe protes die ANC-regering uiteindelik gedwing om die saak weer van voor af oop te maak en te ondersoek. Dit is die krag van Artikel 16 van ons grondwet.

In lande waar hierdie vrye vloei van inligting nie toegelaat word nie, soos oa Iran, Viëtnam, Noord-Korea en Sjina is daar baie vergrype aan menseregte. Byvoorbeeld, in al hierdie lande word ook kunstenaars, letterkundiges, joernaliste, TV- en radio-omroepers, verslaggewers, sosiale media-gebruikers soos bloggers, Facebook en Twitter gesensor en selfs vervolg.

Goeie voorbeelde hiervan is die Nobel-vredesprys wenner Liu Xiaobo, ’n Sjinese skrywer, wat vir die afgelope tien jaar al in die tronk sit. Omdat hy durf skryf het oor vryheid van spraak en menseregte wat misken word in Sjina. Of dink aan die tien mense in onderskeidelik Iran en Viëtnam, wat die doodstraf opgelê is omdat hulle geblog het oor sg sensitiewe sake.

Want wanneer beheer lê by die staat en hulle namens mense kan besluit wat hulle mag weet en wat nie, spoel dit vinnig oor op ander terreine van die samelewing. So word mense dan selfs vertel watter flieks, boeke, webtuistes en musiek na gekyk en geluister mag word. Hoor hoe mooi som George Washington (eerste president van die VSA) die gevolge van geen vrye vloei van inligting op: "If the freedom of speech is taken away then dumb and silent we may be led, like sheep to the slaughter."

Want is die probleem van enige instelling wat vrye vloei van inligting beperk, nie uiteindelik die vernietiging van oopheid, rekenskap en deursigtigheid nie? Daarom is dit nie onredelik om te dink dat sensuur op een terrein, mettertyd alle vorme van uitdrukking sal versuur nie. Dit kan nie anders nie, met sensuur volg stilte. Dit is seker hoekom Martin Luther King jnr homself so sterk uitgespreek het: "Our lives begin to end the day we become silent about things that matter."

Op 22 November 2011, kom die ANC-regering en stem die nuwe “Wetsontwerp op die Beskerming van Staatsinligting” in. ’n wet, wat as dit deurgaan, gaan bepaal dat die regering sekere dokumente kan klassifiseer as "nasionale belang" of "nasionale veiligheid" of as "vertroulik", "geheim" of "hoogs geheim". Hiermee saam maak hierdie wet geen voorsiening vir "openbare belang" nie en swaar tronkstraf kan opgelê word aan joernaliste wat sensitiewe inligting bekend maak of mense wat ongerymdhede ontbloot.

Dus impliseer hierdie wet dat ondersoekende joernalistiek inperk word. Dit kan beteken dat as ’n joernalis oor iets skryf en die dokumente publiseer, kom ons sê dokumente wat gelykstaande is aan die “Pentagon Papers” (geklassifiseerde Amerikaanse dokumente wat aantoon hoe die land se presidente oor Viëtnam gejok het) kan so ’n joernalis dan tot 25 jaar tronkstraf kry.

Vervolg ...

Abel Pienaar

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top