Spiritualiteit: ’n gesprek tussen Abel Pienaar en Estelle Kruger

  • 18

Lees die gesprek tussen Estelle Kruger met Abel Pienaar hier onder.


Wie soek, sal vind

Wie vind, sal verwonderd wees

Wie verwonderd is, sal jubel en bly wees

(Estelle)

Welkom, Abel. Ek kon nie help om nuuskierig te wees oor jou boek Die dans met God (2015) en dit belangstellend te lees nie. Baie geluk met hierdie boek van jou wat by die US Woordfees in Stellenbosch as die beste leefstylboek van die jaar (2015) bekroon is. Wat was jou inspirasie om hierdie titel en voorblad te kies?

Dankie. Die titel verwys na die dans van vorm en materie. Dink so daaraan: Daar is nie ’n enkele molekule in ons liggaam wat nie van die begin van die kosmos af al bestaan nie; wat nie al male sonder tal, oor miljarde jare heen, telkens gereïnkarneer of hergebruik is nie: van amoebas, plante, visse, dinosourusse en soogdiere tot mense. Want sien, soos alles in die kosmos bestaan ons uit molekules wat byeenkom om iets te vorm en wat uiteindelik weer sal ontbind om iets anders te vorm. ’n Dans wat sigbaar word in die lewe self. ’n Dans wat ons mekaar laat ontmoet in verskillende lewensvorme. ’n Dans op ritme van die kosmos se in- en uitasem. Bewussyn wat sigbaar word in vorm (soos die golwe in die see) en dan weer terugsak in bewussyn ... sterstof tot sterstof. Noem dit reïnkarnasie, hergeboorte, hiernamaals of hersirkulasie. Noem dit wat jy wil, vir my is dit heel eenvoudig: Ek noem dit my dans met God.

Jy is die spirituele leier van Renaissance, ’n spirituele gemeenskap in Pretoria, en ook direkteur van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit. Vertel asb kortliks wat jou betrokkenheid hierby sowel as jou verantwoordelikhede en bydrae behels.

Renaissance en die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit is veilige ruimtes vir oop, denkende en eerlike reisigers. Plekke waar ek probeer om as filosoof en spirituele leier mense te begelei en te help om hulle eie lig en waarheid te vind. Dit beteken natuurlik dat by Renaissance en ook die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit daar nooit finale antwoorde gegee kan word nie, want groei impliseer ontdekking en ontdekking impliseer groei. Ons kan op die meeste rigtingwysers wees en mense help om by hulle eie antwoorde uit te kom. In essensie om hulle Ware Self te (her)ontdek. Ek weet ook dat daar in die verskillende spirituele tradisies wonderlike rigtingwysers en waarhede vervat is en daarom probeer ek om met eerbied en respek om te gaan met die wysheid en dit te probeer aanbied vir elkeen op sy reis. Nie ’n reis iewers heen nie, nee, ’n reis na binne, na die Ware Self.

Terwyl ek jou dans-boek lees, kom ek agter dat jy baie ander wysheidsprofete gehad het wat jou gedagtes en lewenswyse beïnvloed het. Kan jy asb kortliks noem wie jy dink jou voorgangers was en wat elkeen se bydrae tot jou groeiproses was?

Ek sal altyd die eerste een wees wat sê ek staan op die skouers van spirituele reuse. Deur die jare was daar op my reis soveel wonderlike leermeesters. Prof Kobus Krüger, Prof Cornel Du Toit, Dr Piet Müller en Prof Sakkie Spangenberg het plaaslik ’n ongelooflike groot invloed op my vorming uitgeoefen. Dan my Zen leermeester, Thich Nhat Hanh, en die huidige Dalai Lama, by wie ek wonderlike tye spandeer het en wat my gehelp het om vry te wees uit die tronk in my kop. Soveel ander vanuit ander vele tradisies het my reisgenote geword – Lao Tzu (Taoïsme), Rumi en Hafiz (Sufi’s), Alan Watts en Shunryū Suzuki (Boeddhisme), Camus, Kant en Heidegger (filosowe), Karen Armstrong en biskop John Shelby Spong (Christen-tradisie), Sam Harris (neurowetenskaplike en ateïs), Jon Kabat-Zinn (mindfulness), Rupert Spira en Mooji (non-dualiteit), ensovoorts. Daar is te veel om op te noem.

Waarom wou jy die Tao Te Ching vertaal terwyl daar reeds so baie vertalings is?

In navolging van Mandela se woorde oor Afrikaans, wil ek in Afrikaans dink, herdink, nuut dink, wonder en bespiegel. Ek wil stry, baklei, saamstem, saamgesels en droom in Afrikaans. Want Afrikaans is die taal van my hart en my kop en my soeke. Verder dink ek dat net soos wat ek Afrikaans nodig het, Afrikaans mense soos ek nodig het.

........

Mense wat oopkop dink, met hulle eerlike twyfel, vrae en soeke – dit is alles suurstof vir die taal. Hierdie gesprekke hou die taal lewendig en relevant. Daarom is dit belangrik dat ons met ons taal binne nuwe velde van denke, metafore en simbole inbeweeg.

..........

Mense wat oopkop dink, met hulle eerlike twyfel, vrae en soeke – dit is alles suurstof vir die taal. Hierdie gesprekke hou die taal lewendig en relevant. Daarom is dit belangrik dat ons met ons taal binne nuwe velde van denke, metafore en simbole inbeweeg.

Jou eerste boek was Saam op soek na God: Soeke na ’n eietydse spiritualiteit (2010). Hoe is die boek deur die gereformeerde gemeenskap en media beoordeel?

Wel, soos verwag is die boek nie goed ontvang nie. Baie het gevoel ek verraai my mense en geloof. Prof Adrio König het selfs ’n boek (Wie is god?) as repliek geskrywe. En daarmee saam was ek ewe skielik gebrandmerk as ateïs en antichris. Ek was egter nie kwaad of teleurgesteld nie; ek het verstaan hoekom mense so reageer. Ek meen dit was idees en gedagtes rondom God, godsdiens en spiritualiteit waarvan die meeste van my predikant-kollegas en gemeentelede nog nooit gehoor het nie. Iets waarvoor ongelukkig min godsdienste hulle volgelinge voorberei: oop, vrye en ondersoekende vra.

Jou boek God se oë is blou (2013) het vrae by my laat opkom en ek het eers gewonder of dit nie bietjie rassisties is nie. Uiteindelik het ek agtergekom waarna die titel verwys.

  • Wat het daartoe gelei dat jy hierdie titel geskep het?

Bewussyn, ook God genoem, is ’n oneindige manifesterende vloei en werklikheid wat daagliks in ontelbare vorme na vore kom. En so kan die goddelike in alles sigbaar word – natuurlik as jy werklik kyk. En eendag toe ek in my vrou, Zelda, se blou oë kyk, kon ek nie anders as om vir God te sien nie. En vandaar die titel God se oë is blou.

  • Wat beteken dit vir jou?

Christene glo dat God een God is, maar uit drie persone bestaan: die Vader wat God is, Jesus, die seun wat God is, en die Heilige Gees, wat ook God is. Alhoewel dit voorkom asof daar dan drie gode is, sal Christen-teoloë jou vinnig reghelp en verduidelik dat alhoewel daar net een God is, daardie een God op drie maniere manifesteer.

Hiermee het ek heelhartig saamgestem, die verskil is net dat ek nie dink die manifestasies stop hier nie. Net in die Bybel alleen vind ek nog heelwat ander manifestasies. Ek meen, as ek die Bybel reg lees, staan daar in Genesis dat God as ’n engel aan Jakob verskyn het en heelnag met hom gestoei het, soveel so dat Jakob die volgende oggend gesê het: "... ek het God van aangesig tot aangesig gesien en tog het ek nie omgekom nie." Voor dit, ook in Genesis, het God as ’n vreemdeling in die woestyn aan Abraham verskyn.

Eintlik kan ons dus praat van ’n God vyf-enig, en nie net ’n God drie-enig nie, nie waar nie? Die manifesterings hou egter ook nie hier op nie. In Eksodus verskyn God aan Moses as ’n brandende braambos. Op ander plekke in die Bybel word God gesien as ’n vuur- of wolkkolom wat saam met Sy volk op reis gaan en op ’n ander plek manifesteer God as lewegewende water. Dalk is dit dan meer akkuraat om God as ’n agt-enige God te omskryf.

Nou is my vraag, die een wat uiteindelik tot ’n boek gelei het: Indien God op al hierdie maniere kan manifesteer, is dit nie dan ook moontlik dat Hy/Sy op vele ander maniere kan manifesteer nie? Kan die moontlikheid uitgesluit word dat daar vele ander manifestasies ook kan wees? En as dit moontlik is, wie kan dan sê of dit nie juis dieselfde God was wat in Indië gemanifesteer het as ’n prins wat geworstel het met hoekom daar soveel lyding in die wêreld is nie? Een met die naam Gautama Siddhartha, beter bekend as die Boeddha. Of dalk het Hy in Saoedi-Arabië in ’n grot aan ’n profeet genaamd Mohammed verskyn. Of lank voor dit in Noorweë as Thor of aan die Grieke as Zeus, die heerser van die berg Olimpus, ensovoorts. Wat ek gesien het, was nie net ’n drie-enige God nie, maar ’n oneindig-enige God. God as die bewussyn van waar alle vorme na vore kom en dan weer terugsak.

........

Wat ek gesien het, was nie net ’n drie-enige God nie, maar ’n oneindig-enige God. God as die bewussyn van waar alle vorme na vore kom en dan weer terugsak.

..........

Ek sien jy word ’n "Boer-Boeddha" genoem in ’n resensie in die Rapport.

  • Wat gee tot hierdie beskrywing aanleiding?

Meestal het mense nodig om iets in ’n boksie te sit om dit te kan verstaan. So, my boksie(s) is gewoonlik Boeddhisme of ateïsme. Maar dan is daar die feit dat ek wit en Afrikaans is en vanuit hierdie identiteit kom die benaming boer.

  • Hoe voel jy daaroor?

Ek verstaan die behoefte wat mense het om dit te doen. En as dit hulle help om my beter te verstaan en dus te kan hoor, is ek heel gemaklik daarmee.

  • Wat sou jy jouself noem?

Hierdie is ’n baie diep vraag. Ek sien myself nie as ’n vorm – Abel, ego, storie – nie. Ek is bewussyn self. Bewussyn wat bewus is. Die Ek Is. Ook genoem die Ware Self, wat in hierdie tydelike, beperkte, menslike vorm vir ’n kort tydjie bestaan en dan weer sal terugsak in my oorsprong bekend as Ek Is.

Hoe reageer jy op Prof Johan Malan (voorheen van die Universiteit van die Noorde, oorlede 2016) se mening dat jou sienings onbybels is?

Kritiek en aanvalle is baie, en dit moet ook so wees. Want wanneer iemand jou geloofsoortuigings aanvat, raak hulle tog aan oop senuweepunte. My benadering hiertoe is daarom om altyd met respek en deernis met ander se vrese te probeer omgaan. Ek probeer niemand verkeerd bewys of “uitvang” nie. Ek probeer eerder my nuwe verstaan van spiritualiteit gee. Dit gaan gewoonlik so:

........

Ek verstaan spiritualiteit as ’n reis en nie ’n bestemming nie. Daarom is dit vir my en my medereisigers so belangrik om ’n lewe van verwondering en eerbied voor die groot en onpeilbare Geheim, wat ons die goddelike noem, te leef en te sterf.

..........

Ek verstaan spiritualiteit as ’n reis en nie ’n bestemming nie. Daarom is dit vir my en my medereisigers so belangrik om ’n lewe van verwondering en eerbied voor die groot en onpeilbare Geheim, wat ons die goddelike noem, te leef en te sterf. Hierdie Geheim is nie vir my bevatlik in enige mensewoorde of formules nie. Daarom is my oortuiging om nie ’n afgod te maak van enige leerstelling oor of van die goddelike nie. En alhoewel ek nog bewustelik vanuit die Christelike tradisie (in sy breedste sin) kan werk, is ek oop en verdraagsaam teenoor alle religieuse tradisies en menslike gemeenskappe van alle tye en kulture.

Nou, van die moontlike standpunte oor die Bybel (die Woord van God of die Woord van God in mensetaal) is my oortuiging dat die Bybel in essensie niks meer is as menslike gedagtes oor God (of “die goddelike”) nie. So, alhoewel die Bybel as ’n basisdokument van die Christelike geloof en godsdiens beskou word, besit dit nie enige normatiewe gesag nie en is daarom, minstens teoreties, nie ’n belangriker teks as byvoorbeeld Plato se Politeia, Lao Tzu se Tao Te Ching, Mohammed se Koran, Heidegger se Sein und Zeit en Harris se Waking up nie.

Ondersoek dit gerus self, en jy sal geleidelik, nes ek (na twee grade in teologie), tot die gevolgtrekking moet kom dat dit wat ons in die Bybel vind, nie ’n openbaring van ’n teïstiese God is nie, maar ’n versameling van menslike geskrifte geskryf en saamgestel deur gewone mense. Selfs alles oor wonderwerke, bonatuurlike dinge, God en Jesus is geskryf vanuit mense se denke en verbeelding.

Alles wat dus in die Christelike tradisie oor God, Jesus en die Gees gesê en geskryf is, is deur mense gesê en geskryf. Meer duidelik kan ek dit nie stel nie. Die Bybel is ’n boek wat nie uit die hemel geval het nie, maar wat deur mense van hulle tyd en (beperkte) verstaan geskryf is. Dis ook nie eens een van die oudste geskrifte nie, daar is veel ouer geskrifte, soos oa Tao Te Ching, wat 500 jaar voor die finalisering van die Bybel as kanon reeds bestaan het. Die oomblik wat die Bybel net nog ’n menslike filosofiese geskrif word, val al die domino’s vanself plat – en die bonatuurlike en die siening van ’n teïstiese God sterf.

Net soos biskop John Selby Spong sê ek ook dat die teïstiese siening van God vir my dood is. Hy sê: "I dismiss the supernatural, external God of theism! Theism and God are not the same. Theism is but one human definition of God."

Hoe het liberale teologie jou eie ontwikkeling en die ontstaan van die Renaissance-gemeenskap beïnvloed?

Ek en Renaissance is sekerlik beïnvloed deur liberale teologie (ek hou meer van "progressiewe Christene" as beskrywing), maar in essensie het ons veel verder as dit beweeg. Ek sou eerder wou praat van ’n nuwe model van dink, oop wees, die integrasie van ou verstaan en nuwe verstaan, en die raaksien van verskeie vlakke van bewussyn. ’n Integrale model van kyk na die holistiese raakpunte en waar verskillende mense se sogenaamde waarhede mekaar beïnvloed (vgl die "Theory of everything" en kyk gerus die film met dieselfde titel wat handel oor Stephen Hawking se lewe). ’n Eietydse spiritualiteit, ’n veilige ruimte waar ons nie probeer oortuig nie, maar waar ons saam soek. Die skep van ’n ruimte waarbinne ons kan ontmoet – wetenskap (fisika, neurologie, biologie, kosmologie, ens) en filosofie, sielkunde, teologie, Oosterse en Westerse spiritualiteit en die mistici.

Die Switserse psigiater en sielkundige Carl Gustav Jung verduidelik (uit sy kennis en ervaring) in sy boek Answer to Job dat die drome in die Bybel waarskynlik meer spreek van die dromer se onderbewuste en sy konteks as wat dit profesieë is. In watter mate stem jy saam (of verskil jy) van hom in terme van die drome van Daniël, Esegiël en Openbaring?

Openbaring en ander drome in die Bybel is gedrenk in mitologie. Wat is mites? ’n Mens sou mites kon beskryf as mense deur die eeue se reaksies op hul wêrelde in storievorm. Die wêreld word gesien as bedreigend en die mens soek sin. Sin word dan geskep deur menslike ervaring in die bonatuurlike (die boonste en onderste verdiepings van die drieverdieping-wêreldvisie) te veranker. Daar is dus goddelike wesens, heldefigure en ander bonatuurlike persoonlikhede en drake in mites. So ook in Openbaring. Die Nuwe-Testamentiese beskrywings van Jesus se geboorte uit ’n maagd, die ontvangs van die Heilige Gees, Sy neerdaling na die hel, Sy opstanding en hemelvaart kan dus, per definisie, as mities verstaan word. Navorsers het gevind dat daar verskeie ander (outentiek volgens groepe mense se sienings en pogings om die werklikheid te verklaar) skeppingsverhale, maagdelikegeboorteverhale en opstandingsverhale is.

Hoe het jou eie pad van die verskuiwings in jou denke en geloof geloop?

Alles het vir my begin toe ek nie meer kon glo in die enigste bewys/bron van die Christendom – dit waarmee sy verstaan, oortuigings en geloof geregverdig word – nie. (In my vele debatte met Christen-stryders kon hulle nooit iets anders na die tafel bring as hierdie sg bewys nie – nl hulle geloof in die Bybel as die bewys van alles wat hulle glo.) Daarop bou hulle dan hulle geloof en belydenisse.

Maar is dit ’n bewys? Ek meen dit is een ding om te sê "dit is wat ek glo", maar ’n totaal ander ding om te sê "ek kan dit bewys as die enigste waarheid". Om iets te wil glo is jou keuse. ’n Keuse gegrond in jou behoefte om in iets te glo. Om iewers te behoort en om op ’n sekere manier te leef. Dis alles goed en wel, maar om dit te probeer koppel aan die wetenskaplike term bewysbaar is nie net naïef nie, dit is ongelukkig ook oneerlik.

William Bridges meen in sy boek Transitions (2004) dat daar ’n paar kernvrae is wat ’n mens jouself kan afvra wanneer jy in ’n oorgangsfase is en daaroor kontempleer terwyl jy jou pouse-knoppie druk ...

Ek hoor graag wat jou antwoorde op die onderstaande vrae is, siende dat jy ’n (nogal kontroversiële?) oorgang in jou beroepslewe gemaak het, wat drastiese veranderinge en grensverskuiwings meegebring het:

  • Wat het jy agtergelaat?

Ek sien dit nie regtig as agterlaat nie. Ek is ongelooflik dankbaar vir al die fases waardeer ek gegaan het. Sielkunde en teologie en filosofie was alles deel van my pad tot hier.

Kom ek probeer dit so verduidelik: Wat het ’n mens nodig om van een kant van ’n baie breë rivier tot aan die ander kant te kom? ’n Boot of, indien jy dit dalk self moet bou, ’n vlot, natuurlik. En wanneer so ’n mens wel suksesvol aan die oorkantste oewer aanland, wat doen hy of sy dan met die vlot? Wel, die vlot se funksie is vervul die oomblik wanneer die persoon veilig die oorkantste oewer bereik. Sodoende verval die nuttigheid van die vlot en is dit nie verder nodig nie, veral nie as die reis verder deur ’n woestyn gaan nie. Dit sou ’n fout wees om die vlot te probeer saamdra in die woestyn in. Die vlot kan te swaar word en waar dit eens redding meegebring het, kan dit nou die teenoorgestelde bewerkstellig. Presies so is my verstaan van my opvoeding, godsdiens en ou waarhede.

  • Wat het jy saam met jou geneem?

Spiritualiteit. Kom ek verduidelik dit aan die hand van bg vlot as metafoor. Godsdiens is ’n vlot vir spiritualiteit. En dit was ’n heel nuttige vlot tot op hede. Maar tye het verander, en ons het nou die oorkantste oewer bereik. Die landskappe het indringend verander. Dink maar net hoe anders hierdie nuwe landskap se tempo van verandering is. Daar word byvoorbeeld bereken dat die verandering en ontwikkeling wat ons tans jaarliks ervaar gelykstaande is aan die vorige vyftig jaar se totale veranderings. Dink maar net hoe die internet se ongelooflike netwerke kommunikasie en kennisverspreiding moontlik maak – iets wat ’n paar jaar gelede nog net in teorie moontlik was. Ons is daarom nie meer verskillende gemeenskappe nie, nee, ons is alreeds een groot wêreldgemeenskap. So ’n eietydse spiritualiteit.

  • Het jy ’n “zero zone” beleef? Hoe het dit gelyk/gevoel?

Dis moeilik om in woorde te beskryf. Hier is ’n gedig wat ek daaroor geskrywe het:

dit het gebeur: waar ek in ’n flou wintersonnetjie sit
niks groots of belangrik
net ek wat sit

’n vlietende oomblik in tyd,
’n dinsdag voor ’n woensdag
iewers in julie op pad na augustus

… ek breek soos ’n kleipot teen ’n rots
geen binne, geen buite
net skerwe

niks het gebeur
maar alles het verander 

Vertel ons asb van die Renaissance Spirituele Gemeenskap se aktiwiteite.

Ons vergader elke Sondagoggend 09:00–10:00 in Safari Tuinsentrum, op die hoek van Lynnwoodweg en Rubidastraat in Pretoria, se kapel. Ons maak gebruik van prediking, stilte, musiek en klassieke simbole. Dit bied ’n veilige ruimte vir mense wat nuwe vrae vra maar ook tuis voel binne ’n mistieke atmosfeer. Ons het ook verskeie meditasiegroepe en gespreksgroepe. Almal wat hulle kan identifiseer met vrydenke en eerlike soeke is baie welkom om die byeenkomste by te woon! Vir meer inligting kan lesers na ons webtuiste en my video-tuiste gaan.

Wat sien jy op die pad vorentoe vir jou en die Renaissance-gemeenskap?

Hopelik dat ons al hoe meer mense sal help met die wakkerwordproses. Om ’n tuiste sowel as ’n baken te wees vir die moontlikheid van ware vryheid.

Jy praat in jou een video en skryf ook van “die vonk binne ons”.

  • Kan jy dit asb kortliks verduidelik?

Die maklikste manier om dit te verduidelik is deur die volgende verhaal te vertel. Daar is ’n ou Christelik-gnostiese legende wat vertel dat terwyl God besig was om alles te skep, Sy besluit het Sy wil ’n vonk van haarself in die skepping wegsteek. Sy het toe ’n vergadering met al die hemelwesens belê. En toe almal bymekaar is, het Sy hulle vertel van haar plan. Die enigste probleem wat Sy gehad het, was waar om dit weg te steek.

“Steek dit op die hoogste berg weg,” het ’n aartsengel gesê.

“Nee, begrawe dit in die middel van die see,” het ’n ander een gemeen.

Toe staan die oudste van die oudstes op. “Die mens is slim en baie nuuskierig. Dit sal verseker nie lank neem voor een van hulle die hoogste berg uitgeklim het nie. Selfs die see sal mettertyd deur die mens bevaar word. Die goddelike vonk sal iewers weggesteek moet word waar die mens nooit sal dink om te soek nie!”

“Ek weet,” het God glimlaggend gesê. “Ek sal dit wegsteek op die laaste plek waar die mens sal soek ... binne-in sy hart.”

  • Is daar ’n voorbeeld uit jou eie lewe wat jy kan noem?

Jy vra baie moeilike vra, wat ook nie kort en vinnig beantwoord kan word nie. Kom ek probeer weer eens met een van my gedigte antwoord:

ek is gebore onder ’n jakaranda-boom
waar pers die strate vol droom –
daar het ek verby die nie-ek gebreek
en vir die eerste keer besef
alles dans en niks is dood

Carl Jung se konsep van sinchronisiteit laat ’n mens wonder oor die wonderwerke in die Bybel – dink jy daar is enige verband tussen hierdie konsep en gebeure?

........

Is dit nie interessant om te sien hoe mense hulle werklikheid heeltyd in twee probeer deel nie? ’n Natuurlike en ’n bonatuurlike werklikheid.

.........

Is dit nie interessant om te sien hoe mense hulle werklikheid heeltyd in twee probeer deel nie? ’n Natuurlike en ’n bonatuurlike werklikheid. En ongelukkig het meeste godsdienste die opsie van hierdie dualiteit gekies, en daarmee hulle volgelinge geleer om iets buite die natuurlike, alledaagse lewe te gaan soek as waarheid. Jung help ons met die aardsheid/natuurlikheid van die lewe. Hoor hoe mooi stel hy dit: “When an inner situation is not made conscious, it appears outside as fate.” Wonderwerke is veel eerder om meer menslik, meer jy te word, meer aards. Om meer te lag, stadiger kwaad te word en vinniger te vergewe en liefde te kies bo vrees. Om te wees wie jy is, in elke oomblik, eerlik en outentiek. Om wakker te wees, eerder as aan die slaap, dit is die wonderwerk.

Jy praat in Die dans met God (bl 71) van harde en sagte Christene, na aanleiding van Marcus Borg se twee benaderings. Kan jy asb verduidelik wat hiermee bedoel word?

  • Harde Christene:

Hierdie Christene lê klem op die foutlose korrektheid van die Bybel. Die Bybel word letterlik gesien: God self se eie woorde. Dit is ook die bewys vir hulle dat die Christelike geloof die enigste weg tot redding en waarheid is. Daarby glo hulle dat ’n Christelike lewe gebou moet wees op die Bybel en belydenisskrifte; daar is ’n hemel en hel, en natuurlik die vereiste om in Jesus te glo as die enigste Verlosser.

  • Sagte Christene:

Sagte Christene glo die Bybel is ’n versameling geskrifte wat uit ’n antieke wêreldbeeld gebore is, en met ’n voorwetenskaplike verstaan werk – en daarom wel heelwat menslike foute het. Maar alhoewel die Bybel ’n menslike produk is, voel hulle steeds die inhoud moet ernstig opgeneem word. Sonder ’n letterlike verstaan, natuurlik, met ’n meer metaforiese benadering.

Sommige mense wat in die Gereformeerde Kerk grootgeword het, is krities oor die eindelose herhalende preke aangaande die Heidelbergse Kategismus.

  • Wat maak jy met die Heidelbergse Kategismus binne jou denke en lering?

Kategismus, soos jy weet, beteken leerboek, met die hoofinhoud natuurlik lering van God, ewige lewe, sonde, verlossing, ens. Ek sien dit as menslike interpretasie en verklarings van mense se verstaan (wat natuurlik konteks- en tydgebonde was). Hulle het, net soos ons vandag, probeer om hulle werklikheid sinvol en betekenisvol te maak.

(Net ’n kantopmerking: Die "hulle" waarvan ek praat, die oorspronklike outeurs van die leerboek, was maar onderskeidelik 26 en 28 jaar oud. Bietjie jonk na my smaak, maar dit daar gelaat.)

Die beperkte menslike denke daarin word dus voorgehou as goddelike waarheid.

Rob Bell, ’n bekende progressiewe Christen, beskryf dit so: “The Bible is still in the center for us ... but it’s a different kind of center. We want to embrace mystery, rather than conquer it, the Bible is a human product rather than a divine one.” Hiermee saam sien hulle ook nie die Christelike geloof as die enigste weg en waarheid nie. Dit is slegs een van vele tradisies. Marcus Borg stem hiermee saam: “It has become important to realize that the vision of the Bible and the Christian life is but one way of seeing Christianity, and a modern one at that.”

Die genoemde sentrum noem die volgende punte in hulle verklaring (Die dans met God, bl 81–82), wat ek heelhartig onderskryf:

“Ons glo dat ’n lewe volgens die voorbeeld van Jesus ons kan lei tot ’n verstaan van die Eenheid en Heiligheid van alle lewe.

Ons erken dat Jesus se leringe maar een van baie is en dat ’n mens verskillende bronne kan gebruik op jou spirituele reis.

Ons wil verhoudings bou met alle mense ... ons weet dat die wyse waarop mense teenoor mekaar optree, sigbaar maak wat hulle werklik glo.

Ons vind sin in die soeke na insig en daarom glo ons dat daar in vrae meer waarde is as wat sekerhede vir ons kan inhou.

Ons streef na vrede en geregtigheid vir alle mense.

Ons streef daarna om ons omgewing te beskerm en om die integriteit van die Aarde te help herstel, daarom verbind ons aan verantwoordelikheid neem en selflose liefde ...”

Praat asb met ons oor die ekologie en die sogenaamde skeppingsopdrag, nl dat ons as mense moet “heers oor alles”, ook dat “die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God” (Romeine 8:19):

Die verstaan dat die mens los staan van die “skepping” is sekerlik een van die grootste redes vir ons misbruik en vernieling van ons enigste woning. Ons is nie die kroon van die skepping nie, net so min as wat ons “heers oor alles”.

Ons is veel meer deel van alles as wat ons vanuit godsdienste geleer is. Ons is eerder deel van die "netwerk van lewe" as om te heers. Want sien, die lewe is ten nouste gekoppel aan ’n groter omvattende geheel waarvan elkeen ’n klein deeltjie uitmaak. Ons is deel van een groot lewende organisme: mense, diere, insekte, plante, minerale, klippe, riviere, ens. Alle vorme van lewe is ten nouste verbind en afhanklik van mekaar.

Meer nog, ons het mekaar nodig. Één groot familie. En die hartklop van hierdie een familie is respek. Respek vir mekaar, respek vir die lewe. Ons het nodig om weer ons eenheid, ons respek en eerbied vir mekaar – ongeag spesie, ras, klas of geslag – te herontdek. Ons het nodig om eerbied vir mekaar te hê. Om weer te verstaan dat ons mede-verantwoordelik is vir mekaar se oorlewing. Dit geld vir hoe ons omgaan met die aarde se natuurlike hulpbronne, ons materialisme, ons eetgewoontes en ons daaglikse verbruik en misbruik.

Dit is presies wat die Nobelvredespryswenner, Albert Schweitzer (1875–1965) gesê het: "I can do no other than be respectful before everything that is called life. I can do no other than to have compassion for all that is called life. That is the beginning and the foundation of all ethics." En dit is juis sy filosofie van respek vir die lewe en die feit dat hy dit geleef het wat vir my so inspirerend van hom is. Hy help ons weer besef hierdie wonderlike planeet waarop ons leef is nie net ’n dooie stuk rots wat doelloos in ’n baan om die son wentel nie.

Nee, alles – ek en jy ingesluit – pols met dieselfde energie; met wat ons "lewe" noem. Indien ons nie weer met respek gaan begin leef nie, staar ons ’n groot ekologiese krisis in die oë. Sommige wetenskaplikes meen selfs dat ons moontlik ’n sesde uitwissing van lewe op aarde in die gesig staar.

’n Interessante vergelyking wat jy in Die dans met God (bl 29 en verder) maak, is dat Jesus en Boeddha dalk broers kon wees.

  • Motiveer asb kortliks wat jy daarmee bedoel.

Die ooreenkomste tussen die Boeddha (563–400 vC) en Jesus (ongeveer 4–30 nC) is werklik sterk. Daar is uiteraard ook verskille, maar dit word volgens my deur die ooreenkomste oorskadu. Dit is veral wanneer ʼn mens in ag neem dat die twee persone ongeveer 500 jaar uit mekaar geleef het, by uiteenlopende kulture betrokke was, en omtrent 5 000 km van mekaar verwyder was. Dit is opmerklik hoeveel ooreenkomste daar is in die dinge wat hulle hul volgelinge geleer het. Dit geld vir beide hulle spesifieke leringe (bv om jou vyand lief te hê) en in hulle algemene lering (bv die klem op omgee en deernis vir jou medemens).

  • Watter reaksie kry jy hierop?

Baie mense voel dat ek twee onversoenbare godsdienstige figure langs mekaar probeer indwing deur te beweer Jesus en Boeddha is broers. Dit het my net weer laat besef hoe beperk mense se kennis van ander godsdienstige tradisies is. Die meeste mense dink, leef en beweeg met oogklappe aan, slegs binne hulle eie geloofstradisie. Hulle beskou enige ander geloofsgemeenskappe as óf verlore siele óf aanbidders van afgode. Maar is dit regtig die geval? Is dit regtig so dat enige godsdienstradisie nog kan dink hulle oortuigings en geloof het binne ’n vakuum ontstaan? Is dit nie so dat dinge wat bestaan deur ’n proses van ewolusie voortbeweeg nie? Dit geld veral vir godsdienstige idees en filosofieë. Alle godsdienstige tradisies bestaan uit uitruilings oor en weer, asook wedersydse beïnvloeding. Niemand is uniek en staan los van enige ander liggaam van kennis en belewenisse nie. Hierdie stelling kan ek illustreer deur Jesus en Boeddha se ooreenkomste uit te wys.

  • Wat van Mohammed?

Ek vermoed dat die grotes, soos Boeddha, Lao Tzu en Jesus, en dan die veel jonger Mohammed, Rumi, Hafiz, Dogen, ensovoorts, almal mekaar sou herken as leermeesters en soekers en dus vriende sou wees eerder as vyande.

Hoe het dit gebeur dat Jesus – wat ’n Jood uit Israel (dus die Midde-Ooste) was – se storie so Westers geraak het?

Dis ’n storie van "voor Konstantyn" en "na Konstantyn".

Voor Konstantyn se bewind het die Christendom beswaarlik enige politieke aansien gehad, wat nog te sê enige invloed uitgeoefen. Die gemeenskaplike lewe was merendeels hulpverlening, ondersteuning, aanbidding en toewyding (soos dié van Judaïsme).

Na Konstantyn is die Christendom / Jesus storie verhef tot staatsgodsdiens, en was dit ewe skielik die openbare en politieke instellings van die Romeinse Ryk se wetlike godsdienstige been.

Voor Konstantyn het die Jesus-beweging bykans 300 jaar al bestaan. Hulle is van tyd tot tyd vervolg, maar hulle was ’n klein, onafhanklik sekte. Na Konstantyn en spesifiek Nicea is Jesus nie net as een van die Drie-eenheid verhoog nie, maar deur die mag van die Ryk regoor die bekende wêreld van toe versprei.

In ’n sin is dit heeltemal te verstane – selfs te wagte – dat die verteenwoordigers van die Christene die kenmerke van Konstantyn se regering mettertyd sou oorneem en by Konstantyn se amptenare afkyk vir hulle eie kleredrag, optogte en toesprake. Hulle het dan dienste begin lei in geboue wat die paleis naboots. Meer en meer sou Jesus in Christelike kuns begin lyk na die keiser wat onderdane ontvang, en in godsdienstige taal sou die lofredes vir die keiser en selfs die adventus weerklink. Danksy Konstantyn het die kerk rykdom en publieke prominensie ontvang. Daardie "danksy" het ’n "dankie sê" geword wat die taal van verheerliking en die taal van die keiserkultus en die keiserlike hof oorgeneem het.

Watter onderskeid tref jy tussen godsdiens, spiritualiteit en geloof?

  • Godsdiens is ’n kulturele, sosio-ekonomiese en politieke konstruk wat gebaseer is op ’n spesifieke verstaan van die wêreld binne ’n spesifieke periode in die geskiedenis. Dus het godsdiens nie noodwendig net te doen met spiritualiteit nie. Georganiseerde godsdiens is ’n groepsaktiwiteit wat gereguleer word deur uiterlike reëls en regulasies. 

Hierteenoor is spiritualiteit ’n innerlike, spontane belewenis en het bitter min te make met uiterlike reëls, regulasies en dogma. Dit gaan oor die belewenis-kennis van die bron, oorsprong, bewussyn of ware self – jou oorspronklike identiteit.

  • Spiritualiteit: Voor ek die vraag probeer antwoord, wil ek net eers die verskil tussen kop-waarheid en hart-waarheid uitwys. Met kop-waarheid (wetenskaplike, empiriese, feitlike) en hart-waarheid (simboliese, kreatiewe, poëtiese en emosionele) ervaar ons elke dag se realiteite. Kop-waarheid kan byvoorbeeld kanker opspoor, diagnoseer en behandel, maar net hart-waarheid kan jou regtig help met watter emosies jy beleef as jy hoor jy het kanker. In die soeke na ’n eietydse verstaan van spiritualiteit is dit dus baie belangrik dat albei waarhede gebruik word om te soek. Daar waar logos (rede) en mythos (simboliese) mekaar ontmoet, daar kom ons naby aan die goddelike.

So, wat is spiritualiteit? Vir die meeste van ons is die enigste blootstelling aan spiritualiteit gekoppel aan ons spesifieke godsdienstige opvoeding. Só sal ’n Boeddhis of Hindoe met spiritualiteit iets heeltemal anders bedoel as wat ’n Christen of Moslem daarmee bedoel. En dit sal ook heeltemal verskil van wat ’n ongelowige of ateïs daarmee sal bedoel. Maar spiritualiteit is altyd veel meer as die eng definisie van enige mens of godsdiens se tradisies.

Meer nog is spiritualiteit nie noodwendig teenwoordig waar godsdienste beoefen word nie. Soos Eckhart Tolle dit ook raak stel: "You can have religion with spirituality. You can also have religion without spirituality." Spiritualiteit verwys veel eerder na die mens se ingebore behoefte om sin en betekenis in die hier en nou van hulle lewens te vind. En die wat wel dieper leef, ongeag of dit van binne ’n godsdiens of daarbuite is, vind dikwels dat hulle lewens meer gevul is met verwondering, vreugde en liefde.

Baie keer is spiritualiteit ’n moment of twee van mistieke ervarings van eenwording met jou bewussyn. Dit is iets wat die filosoof Ken Wilber so akkuraat omskryf: "Spirituality, according to the testimony of the world’s great yogis, saints, and sages has to do with the direct experience of a living Reality, disclosed immediately and intimately in the heart and consciousness of individuals, and fostered by diligent, sincere, prolonged spiritual practice. All practice open one to a direct experience of Spirit, and not merely beliefs or ideas about Spirit." Met ander woorde, om in kontak te wees met "a living Reality" is om diep te leef, om spiritueel te wees. En hierdie kontak of belewenis is waarvan Wilber praat as ’n "direct experience of Spirit".

  • Geloof is wat die teoloog Paul Tillich beskryf het as “an act of knowledge that has a low degree of evidence”. Mense handhaaf geloofsoortuigings in hulle spesifieke godsdiens wat hulle op geen ander area van hulle lewens sal handhaaf nie. Mense leef dubbele lewens. Hulle vereis wetenskaplike (empiriese) waarheid in een deel van hulle lewe, en in hulle godsdiens-deel werk hulle met ’n ander stel reëls. ’n Mediese dokter wat elke dag met die realiteit van die wetenskap werk, sal Sondae gemaklik sit en luister na stories van mense wat op water loop of uit die dood opstaan. Ons kan nie met waarheid omgaan sonder om werklik te kyk na hoe ons waarheid definieer nie. Ons moet in ag neem dat logos (wetenskaplike waarheid) en mythos (simboliese waarheid) albei ’n rol te speel het.

Ons moet nie die twee vermeng asof dit dieselfde is nie. Mythos praat met poëtiese en oordrewe taal. Logos praat met wiskundige taal-teorieë, hipoteses, ens. Om dit nie in ag te neem nie, is om iets belaglik te sê soos dat die Bybel ’n histories korrekte boek is. Ons moet ook eerlik omgaan met ons eie voorveronderstellings en kondisionering.

Praat asb met ons oor die fundamentalisme en dualiteit.

Fundamentaliste in enige spesifieke godsdiens sou per definisie nooit teen hulle eie geloofsoortuigings kies nie, en dit is problematies vir die soeke na ’n eietydse spiritualiteit. Is dit nie interessant om te sien hoe mense hulle werklikheid in twee probeer sny nie – ’n natuurlike en ’n geestelike/bonatuurlike werklikheid. En ongelukkig het die meeste godsdienste die opsie van hierdie dualiteit gekies, en daarmee hulle volgelinge geleer om iets buite die natuurlike, alledaagse lewe te gaan soek as waarheid. 

So het miljoene mense deur die eeue heen eerder antwoorde en oplossings vir hulle probleme in die bonatuurlike geesteswêreld gaan soek as binne hulle normale daaglikse bestaan. Dis sekerlik hoekom so baie godsdienstige mense vandag nog wêreldvreemde dinge kan sê wanneer iemand siek is, soos daar ook nou met pandemie gebeur. So asof siekte, die pandemie en selfs die dood nie ’n natuurlike deel van elke lewende wese se bestaan is nie. "Siekte is straf op sonde", "glo net en God sal jou kanker genees", "bid en glo en persoon X (iemand wat dalk al ’n baie hoë ouderdom bereik het) sal gespaar word en nie sterwe nie", "COVID-19 is God se straf op mense se ongehoorsaamheid", "as jy glo kan iemand uit die dood opstaan", ens. En hiermee saam glo godsdienstige mense dat daar ’n hiernamaals is; hemel en hel of reïnkarnasie. Beide is menslike konstrukte om te sê dat die dood nie finaal is nie.

En so ontstaan die konstrukte van siel en liggaam – dualiteit: God en mens, hemel en hel, siel en liggaam, binne en buite, boos en heilig. Gelukkig is dit nie die enigste verstaan nie, en alhoewel baie gelowiges vandag nog in bogenoemde dualiteit vasgevang leef, is daar ook ’n ander kant. Hierdie kant loop deur die Romantiese mistiek van die 19de eeu. In hierdie tyd was daar ’n agnostiese poging om die kloof tussen die mens en God te oorbrug deur ’n teruggryp na die Oosterse verstaan van God, veral soos dit voorkom in die Taoïsme. Hierin word God meer beskryf as ’n tipe lewens-energie, ’n weg wat jou ontwyk die oomblik as jy dit ’n naam probeer gee. Iets wat is, iets naby en natuurlik. En slegs wanneer jy jouself is, volledig mens (natuurlik), volledig teenwoordig, kan jy iets daarvan beleef. Met ander woorde God is nie bonatuurlik of transendent nie. Nee, die goddelike is volledig aards, natuurlik en teenwoordig.

Watter rol speel verwagtings? Hoe raak ons daarvan ontslae? Ek is bewus daarvan dat ons “stories”, opvoeding en onderrig dit in ons ingebou het, want dit is aan ons voorgehou dat daar een spesifieke pad is, en as ons dit volg, sal vrede en vreugde die gawes wees van die gees aan ons skenk ... helaas.

Verwagtinge het ten nouste te maak met ons kondisionering/programmering (lees gerus hoe J Krishnamurti hieroor skrywe). Slegs wanneer ’n mens eerlik jou eie vooropgestelde idees en dit waarmee jy van kleins af gekondisioneer is kan bevraagteken, sal jy kan sien wat agter jou verwagtinge lê. Die hartseer werklikheid is egter dat die meeste mense nie vry is nie. Hulle is gevangenes van die geloof waarin hulle grootgeword het, en daarom effektief blind en doof vir enigiets anders.

Dit is presies waarna Aldous Huxley verwys wanneer hy sê: "One believes things because one has been conditioned to believe them." ’n Bewys hiervan is dat mense dadelik teen ander idees as waarmee hulle grootgeword het sal argumenteer, nog voor hulle eers die ander idees heeltemal aangehoor of oordink het. George Santayana stel dit goed: "All living souls welcome only whatever they are ready to cope with; all else they ignore, or pronounce to be monstrous and wrong, or deny to be possible."

Min mense het al hulleself oopgestel vir die moontlikheid dat hulle kondisionering, opvoeding, kultuur en geloof hulle blind maak en dat verwagtinge daardeur gedryf word. Dalk is dit wat William James beskryf: "... people think they are thinking when they are merely rearranging their prejudices."

Jou verwagtinge is dus gewortel in en heel moontlik gebaseer op vals aannames met ’n vervaldatum wat al lank terug reeds bereik is. En daarom is ons sogenaamde sekerhede, oortuigings en veral verwagtinge nie altyd ons eie nie, maar oorgelewer deur ons ouers en die kultuur waarin ons grootgeword het.

In die roman Love and Relativity (2012) van Rachael Wade is die karakter Velma besig om vir die hoofkarakter, Emma, raad te gee: "Let me tell you something, honey. Fifty percent of life is others trying to push their own agenda on you – their belief system, their views, their convictions. The other fifty percent is you deciding whether or not you’re going to let them. Or if you’re going to form your own opinions." 

Waar vind ons die goddelike?

In die Thomas-evangelie word dit so mooi verwoord: "Die koninkryk van God is oor die hele aarde uitgesprei en tog sien mense dit nie." Die goddelike is te vind in die hier en nou, in die alledaagse lewe. Dit laat my dadelik aan Kahlil Gibran se woorde dink: "Your daily life is your temple and your religion. Whenever you enter into it, take with you your all." Want net soos Gibran dink ek ook dat God of die goddelike nie in die anderwêreldse of bonatuurlike te vinde is nie – dit is om op die verkeerde plek te soek. Miskien is die goddelike, soos ons in die Boeddhisme en Taoïsme leer, veel nader as wat ons kan dink of beredeneer. Miskien is God nou besig om te fluister, miskien is God nou besig om te luister. Miskien is God veel meer as wat jou selfgeskepte en beperkte prentjies van hom of haar ooit kan wees. Miskien is die woord God misleidend – dalk is Alles, Liefde of die groot Misterie beter.

Ek laai graag jou gedig, wat ’n goeie voorbeeld is van hoe Renaissance soekend met ’n eietydse spiritualiteit omgaan.

Geloofsbelydenis van ’n soeker

Ek glo in die Ewige
van die ewig veranderende kosmos
wie se naam verander soos die
soekers tydelik vind en noem.

Ek glo in God my vader
ook my moeder
en ook myself.

Ek glo dat elke vorm van lewe
’n manifestasie van God se liggaam is
en daarom wat ek aan ander doen
ek inderwaarheid aan myself doen.

Ek glo in die liefde
wat mense inspireer
tot eerlikheid en weerloosheid
wat soms die ewige
tydelik sigbaar maak.

Ek glo dat ek en almal om my
deel is van dieselfde siklus
van geboorte tot dood tot geboorte.

Ek glo dat vrede
voortvloei vanuit ’n aanvaarding van wat jy is
en dit bepaal die misterie van wie jy is.

Ek glo dat die lewe ’n dans is
en die doel daarvan – om jouself
in die ritme te verloor.

Ek glo dat dié wat soek sal vind
en wat hulle vind sal hulle verder laat soek
want alle waarheid en kennis
van God en die lewe
is altyd voorlopig.

Ek glo, ek hoop en ek het lief
en hiervan is die sterkste
my geloof in die Liefde.

(© Abel Pienaar)

 

Dankie Abel. Jy het my intuïtiewe gewaarwording en vermoede (wat ek vir die afgelope 30 jaar in my hart koester) dat alles heilig is en dat oral waar ek loop heilige grond is, bevestig.

Die Ierse digter en filosoof David Whyte sê: “loop een tree op ’n slag” – hier onder is sy gedig:

“Start close in” (Facebook 3/1/2018, my vertaling):

Begin hier naby jou
moenie ’n tweede tree neem nie
of ’n derde

Begin by die begin
begin by die eerste ding
naaste aan jou

Begin by juis die tree
wat jy nie wil neem nie

Begin by dit wat jy ken
die grys grond wat jy ken
die grys grond onder jou voete
jou eie manier om
die gesprek
met die lewe
te begin

Begin met jou eie vraag
vergeet ander se vrae

Moenie toelaat dat
ander se vrae
iets baie meer
eenvoudig
in jou
versmoor nie

Om ’n ander stem te hoor
moet jy eers jou eie stem volg

Wag totdat daardie stem
’n intieme, private oor is
wat regtig kan luister na ander

Begin nou
neem ’n klein treetjie
wat jy jou eie kan noem

Moenie ander se heldedade volg nie
wees nederig

Begin naby
fokus

moenie ’n ander se stem
of vrae
verwar met jou eie nie

Neem die eerste tree
nie die tweede of die derde nie

Begin by die eerste tree
die een wat jy nie wil neem nie 

Ek hou van jou aanhaling van Kahlil Gibran (1923) se woorde: “Jou daaglikse lewe is jou tempel en jou geloof. Wanneer jy dit betree, doen dit met jou hele wese” (Die dans met God, bl 40).

As afsluiting vir ons gesprek haal ek graag jou besondere gedig hieroor aan die einde van die inleiding in Die dans met God (ble xxiv–xxv) aan:

My kerk

My kerk het geen mure
geen vensters of dak
en ’n vloer van gras en klip
’n allerheiligste sonder offerbak.

My kerk se koepel
is snags vol sterre geplak
en bedags verlig met sonstrepe.

My kerk beset geen afgemerkte ruimte
dit is tegelyk orals en nêrens
binne sowel as buite
naby sowel as ver.

My kerk se musiek is hoorbaar
net vir dié wat luister
My kerk se preekstoel
is sigbaar net vir dié wat kyk.

Daar waar liefde vrees verdryf
sal jy my knielbank vind
en my doopbak
loop oor van vrede.

My kerk is waar stilte my omvou
en oorverdowend
elke geluid wat ek maak
in heiligheid verstil.

My kerk is waar ek wakker is
my kerk is respek
my kerk is eenvoud
my kerk is deernis.

My kerk is waar ek,
jy, God en die kosmos
Een is.

(© Abel Pienaar 2015)

Dankie, Abel, vir die insiggewende gesprek. Ook dat jy in jou bediening ’n mentor is en nuwe woorde en bevestiging gee vir mense wat op hierdie ongekarteerde pelgrimspad is – en spesifiek dat jy dit in Afrikaans doen.

  • 18

Kommentaar

  • Fanus du Plooy

    Baie insiggewend en leersaam. Abel is voorwaar n pioneer om die Afrikaner los te maak van sy beprekte denke oor die Goddelike en Spiritualiteit.

  • Gustaf Claassens

    Uitstekende stuk wat kettings en bagasie afgooi, veel meer sin maak en bevrydend is. Uiteraard sal dit deur die breër gemeenskap as skokkend en lasterlik afgemaak word. Hoe anders, want die tradisionele beskouïng is met moedersmelk ingekry en van geslag tot geslag oorgedra met die waarskuwing dat dit 'n sonde is om enige iets daarvan te betwyfel.

    Die waarheid is daarom vir elke individue dít wat hý of sý glo. Dit geld ook vir gemeenskappe as dit kom by religieuse oortuigings en geloofsake. Dis gevolglik beter, om uit die oogpunt van verdraagsaamheid, elkeen sy opinie te gun en dit te respekteer. Solank ons opreg bly soek, eerlik is met onsself en met vrede in die gemoed kan sê "ek is tevrede", is die saak reg.

  • Ek het ook al hierdie goed bestudeer en vind aanklank. Een ding: Lao Tsu beteken ou man in sjinees. Was daar regtig so 'n persoon, of is dit die wysheid van verskeie filosowe wat saamgesnoer is? Andersins waarom nie 'n ware naam gebruik nie? Kon 'n skuilnaam wees? Net interessant om oor te filosofeer, dit bly vir my onduidelik. Krishnamurti se filosofie is onverstaanbaar vir meeste mense, tog maak dit baie sin as mens diep daaroor dink. Al hierdie filosowe is padwysers, uiteindelik moet jy jou eie waarheid BELEEF, dus self ondervind en dit is wat Abel omvat, ook is en aan ander probeer oordra; dus aan die soekende mens.
    Elkeen volg sy/ haar eie pad in die lewe en bly ewig soekend na meer... om te verstaan, om die self te verstaan in hierdie ewige lewe waarin ons alreeds leef/ bestaan.
    Alles het reeds gebeur, die verlede / huidige / toekoms is een, hier en nou, beleef elke dag soos dit is en leef dit wat vir jou belangrik is.
    Abel leef dit ...

  • Jan Schoombee

    Dit was lewensverykkend en lewensveranderend vir my om so by Renaissance en die eietydse spiritualteit betrokke te wees!

  • Johan Coetzee

    Ek dink hierdie is 'n goeie artikel wat ook dinkgrense verskuif na 'n wyer begrip oor spirituele ontwaking.

  • Baie dankie Abel. Ons kyk en luister elke week verwonderd. Jy is dapper om die waarheid te verkondig. Dis baie jammer dat die mens se fisiese behoeftes eers versadig moet wees voordat ons die waarheid soos hierdie kan internaliseer. Daarom bly die mensdom vasgevang in lyding. Ek en my familie begin nou hierdie waarheid lewe, en dis waarlik bevrydend. Baie baie baie baie dankie! Beste groete, Gerrie.

  • Wat ‘ń besonderse eerlike en menslike onderhoud. Die vraesteller se sensitiewe en opregte soeke lei vir Abel om vanuit sy eie outentieke spirituele reis te praat. Dankie vir ‘n wonderlike en vars skrywe.

  • “Ons is veel meer deel van alles as wat ons vanuit godsdienste geleer is. Ons is eerder deel van die "netwerk van lewe" as om te heers. Want sien, die lewe is ten nouste gekoppel aan ’n groter omvattende geheel waarvan elkeen ’n klein deeltjie uitmaak.” Dankie hiervoor, Abel! Dit is bevrydend!

  • Dankie vir Dr Krüger en LitNet vir hierdie oop en grensverskuiwende onderhoud en artikel met Dr Pienaar.

  • Cordelia Jordaan

    Watter fantastiese onderhoud! Die vraesteller se intuïtiewe aanvoeling vir die onderwerp het die pad oopgemaak vir 'n uiters eerlike, ware, spirituele en heilige reaksie van Abel!
    Ek onderskryf alles wat so pragtig verklaar en aangebied is.

  • Denis Drennan

    I loved every word of Estelle's interview with Abel. I see how ... heart-language is so important to allow the truth to be brought home (into the heart and life ... and soul).
    Thank you so much for sharing the experience of your interview ... your insights, love and commitment to the truth of life.
    So thank you Estelle and Abel for a wonderful experience.

  • Petrus De Vries

    Bewussyn, wat Abel ook “God” noem, soos hy dit omskryf as “... ’n oneindige manifesterende vloei en werklikheid wat daagliks in ontelbare vorme na vore kom”, is vir my moeilik versoenbaar met God as Skepper. My God is bo alles en meer as alles. Hierdie klink na panenteïsme ... en is dus vir my New Age denke.

  • Julle het my diep geraak. Ek het elke woord opgeslurp. My pad het ook daarlangs geloop. Ek wil nooit weer onderdanig wees omdat 'n kerk ('n mens, of een of ander goddelike wese) dit voorskryf nie. God is liefde? Wie se god? Myne omdat sy reëls my pas? Vir my staan uit - soos julle gesê het - dat my liefde en deernis en verdraagsaamheid en respek ander mense se lewens beter maak. Al is dit net vir 'n oomblik. En so iemand was Jesus. So probeer ek leef.

  • Abel Pienaar is 'n stem wat na geluister moet word. Die afgelope paar jaar al volg ek hom, en is so dankbaar vir sy eerlikheid en sy voorbeeld, al het dit hom al so baie gekos... Hy is een van die min wat help om spiritualiteit, soos o.a in die Boeddhisme en Taoïsme gevind word, duidelik te maak ook in Afrikaans. Kyk uit vir sy nuwe boek—Tao van Wakker Word (Naledi uitgewers).

  • Henning Janse van Vuuren

    Buitengewone professor Jesus en ongewone doktor Boeddha bars waarskynlik uit hul nate van trots.

  • Net so min my rekenaar 'n selfverklarende entiteit is, net so min is die mens - maak nie saak of jy 'n kitsskepping of evolusie onderskryf nie. Ons is 'n produk van dit ongeag jou keuse en het niks tot dit bygedra nie. Die verklaring vir ons herkoms en bestaan lê dus soos vir 'n rekenaar buite onsself.
    Om dus allerhande teorieë oor dit te ontwikkel en daaroor te redeneer wat bv Spiritualiteit is onsinnig en vermoeienis van die gees.

    Die oplossing lê nie binne ons nie maar buite onsself en daarom word die sluier van die geheimenis net effens weggetrek in die Bybel en daarom is daar geskrywe:

    I KORINTHIËRS 13:12 AFR53
    Want nou sien ons deur 'n spieël in 'n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten
    volle geken is.

    As jy dus begin om Christus te verwerp en te verminder tot op menslike vlak omdat dit Hom vir jou meer aanvaarbaar maak ,begin jy die oplossing binne in jou menswees te soek pleks daarvan om sy woord te aanvaar want Luk 12:32-40 Wees gereed, want Jesus kom weer.

    Net soos jou lewe 'n begin en einde het, so het die aarde en ons heelal waarin ons teen duiselingwekkende spoed beweeg sonder dat ons daarvan bewus is. As daar dan niks daarna was nie - wat is die sin van alles? - dan maak dit mos nie saak wanneer die einde kom nie. Want dan is daar geen bewussyn en lewe daarna nie. Dan was alles werklik tevergeefs en 'n gejaag na wind.

  • Fonnie Marais

    Baie dankie Estelle en Abel

    Julle het 'n wonderlike artikel die lig laat sien. Ek is ongelooflik bevoorreg om dit te kon gelees het, en ook om elke Sondag na Abel (in Afrikaans) te luister terwyl ek tans landuit is.
    Julle verwoord baie van dit wat ek nog altyd aangevoel het, maar wat ek voorheen bitter min geken en ondervind het.
    Voordat ek, 2 jaar gelede, bekend geword het van Abel, het ek aan mense soos Eckhart Tolle se lippe gehang. Nou het ek toegang tot ons eie leermeester se onskatbare leringe wat ons help om daardie enkele oomblikke van "ware self"/"wakker word" te laat beleef.
    Dankie vir die van julle wat kommentaar so gelewer het dat dit gevoel het asof julle die woorde uit my mond gehaal het. Julle is by verre die meeste van die wat ek hier bo gelees het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top