
Hierdie lesing (sien die video) is op Vrydag 24 Julie 2026 te Nxuba (Cradock) gelewer tydens die jaarlikse Etienne van Heerden Veldsoirée as deel van die LitNet Afrikaanse Skrywersberaad. Die volledige teks verskyn hier onder.
Op 2 Januarie 2002 het ek en Gerrit vir die eerste keer die Skotse Hooglande binnegery waar ons vir ses maande sou woon en werk. Daardie dag, in die middel van ’n verlate sneeulandskap, het ’n woord asof vanuit die niet by my opgekom. Ek het stilgehou, my skryfgoed uitgehaal en geskryf: Die Bergengel. Ek het dadelik geweet dit gaan ’n reismistiek word – ’n roman met ’n seun as hoofkarakter.
Dit was ’n fabelagtige halfjaar. Ek het gewoon in ’n 200 jaar oue kothuis aan die rand van ’n woud, gewerk in ’n katedraal wat in ’n kunsgalery omskep is en vir die beeldhouer Gerald Laing in sy kasteelateljee. As deel van die herdenking van die Highland Clearances is hy deur die Skotse regering aangestel om ’n lewensgrootte bronsbeeld te maak. In sy ateljee het ek kennis gemaak met die Skotse geskiedskrywer Alexander Mackenzie se The history of the Highland Clearances (1881). In die negentiende eeu is tot 2 000 Skotse gesinne per dag dakloos gelaat, volledige dorpe is afgebrand, nagenoeg 100 000 Skotte het landuit gevlug. Die stryd teen Engelse oorheersing het byna ’n eeu geduur. ’n Spesifieke vertelling in die boek het my aan die hart gegryp: die verhaal van ’n bejaarde vrou wat in Gallies vanuit haar brandende huis roep: “Oh Dhia, Dhia! Teine, teine!” (O God, God! Vuur, vuur!)
Die beeld van ’n sterwende vrou wat in haar bykans uitgestorwe moedertaal uit die vlamme roep, was vir my hartverskeurend. Natuurlik ook omdat dit die Engelse se Verskroeideaardebeleid in Suid-Afrika eggo. En die onttaling van Afrikaans. So het die Highland Clearances die denkbeeld geword agter die Vuurstorms en Skoonbrand in my boeke, ’n tetralogie of vierluik wat handel oor die pelgrimsreis van ’n Bergengel-in-wording, Eron Verberger. Kom ons noem dit maar spekulatiewe fiksie met spore van die mistieke, magiese, allegoriese en historiese.
In my sekondêre wêreld, Gabriëllië, word gruwels ook gepleeg in die naam van ekonomiese vooruitgang. Alles ten koste van onafhanklikheid. Geliefde grond. Streeksidentiteit. Taal. Ek het deur die jare baie nagedink en opgelees oor die universele aard van boosheid en broosheid in die mens se strewe na vrede en vryheid. Soms was my instink geweld. Ek erken dit skaamteloos: Ek het dit byvoorbeeld ontsaglik geniet om ’n voornemende kinderverkragter in my boek op ’n uiters brutale wyse te laat vermoor. Ek het myself daarin verlekker. Dit skep ’n morele dilemma: Wanneer is geweld regverdigbaar? Waar hou geregtigheid op en begin wraak? Hoe dikwels word die geweld wat ék wil regverdig, die soort motief waarmee nasies oorlog voer? Ek weet nie. Daarom skryf ek. Die doel was nie noodwendig om antwoorde te gee nie, maar om dringender vrae te vra, soos: Hoe beveg ons die vyand sonder om dit te word wat ons haat? En hoe vergewe ons verskriklike onreg? Het die karakter, Korban, enigsins ’n punt beet wanneer hy sê: “Jou vyand verdien dit om gehaat te word. Maar jy verdien nie die prys wat mens vir haat betaal nie”?
Ek het lank geworstel met die vraag hoe om Vuurstorms te beveg. Die antwoord het uiteindelik nie uit fiksie gekom nie, maar uit een van die kragtigste toesprake wat al ooit in die geskiedenis opgeteken is: die Bergpredikasie van Matteus 5. Die saliges van die Saligsprekinge doen besonder ónsalig voor. Want hoe kan jy geseënd wees, terwyl jy honger en dors is na geregtigheid? Terwyl jy vervolg word? Terwyl jy afhanklik is of treur? Die Bergpredikasie het die wêreld op sy kop gekeer. Ek wou dieselfde ongemak in Gabriëllië laat eggo. Die Bergpredikasie het my op die spoor gebring van Leo Tolstoi se filosofiese verhandeling The Kingdom of God is within you (1894). Dis destyds in Rusland verban, omdat dit die staat se geweldmonopolie bevraagteken het, maar het tog die weg gevind na Mahatma Gandhi. Daaruit sou Gandhi sy Satyagraha ontwikkel – nie passiewe onderwerping nie, maar daadwerklike weerstand deur waarheid, gewete en selfopoffering.
Nadat ek Tolstoi se verhandeling gelees het, het ek besluit om die saliges / geseëndes van die Saligsprekinge te transponeer na agt karakters in my boekreeks. Elke geseënde dra ’n onvervulde belofte, ’n hoop op ’n beter lewe. Elkeen veg teen die sosiopolitieke en militêre onderdrukking van Gabriëllië – maar hulle baklei sonder bloed. Hoe doen hulle dit? Prakties, polities en binne ’n ruimte van spekulatiewe fiksie? Weer het ek na die werklike geskiedenis gaan kyk en die volgende idees gemunt:
- Iris Skatri, die intelligente vrou van ’n landsleier, gaan op ’n eetstaking om die ander Regiohoofde in die raadsaal te dwing om te sien hoe haar uitgeteerde liggaam die swaarkry van die vryslawe eggo. Sy is die geseënde wat honger en dors is na geregtigheid.
- Anav Elanov is ’n digter, die sagmoedige, wat protesgedigte skryf in die bykans uitgestorwe taal, Oudnabies. Soms gebruik hy satire om die onderdrukkers bespotlik te maak. Op ’n keer verf hy ’n gedig op sy bolyf en stap so, blootgestel, op ’n slagveld.
- Anker von Suiderkruis is ’n ietwat seniele skeepskaptein, maar ook die bewaarder van kennis, veral die seekaarte wat die walvisse, wat in hulle honderde gejag word vir walvisolie, se ou migrasieroetes aandui. Anker besit ook ’n smokkelskip waarmee hy die vlugtelinge na veiligheid help. Hy is die geseënde wat weet hoe afhanklik hy is.
- Adelram Amos is ’n boer wat onwettig ’n weeshuis op sy plaas oprig. Hier word die kinders geleer van selfverdediging, spoorsny, bestaansboerdery, oorlewing en versorging. Geseënd is die barmhartiges, soos Adelram.
- Die hoofkarakter, Eron Verberger, is ’n opruiende spreker, ’n geleerde rebel. Hy gebruik die gesproke woord om die landsleiers en die massas te swaai. Maar hy is beslis nie altyd edel nie. Dikwels smee hy bedenklike verbintenisse, soms ondersteun hy geweld. Die heldereis is dikwels sonder ’n heldhaftige held.
- Die drie Verberg-broers is diep betrokke by die geheime organisasie, die Rewolusie teen Vuurstorms. Hulle skep skommelroetes vir moltreine en skepe om wegloperslawe na veiligheid te neem. Hulle gebruik ook bekende tegnieke, soos ekonomiese boikotte, stakings, burgerlike ongehoorsaamheid. Wapens word gebruik vir verdediging, nie vir aanval nie.
Niemand is egter so gevaarlik soos die een wat niks het om te verloor nie. In my boeke ontstaan ’n terreurgroep, die Veroweraars, uit die vrygestelde slawe wat ryp is vir wraak. Terroristegroepe is dikwels verweefd met die gewone samelewing – hoe verkrummel jy hulle mag? Deur stadig en sistematies ’n wig van wantroue tussen die terreurgroep en hulle gemeenskap in te slaan? Dis wat die geskiedenis ons leer.

Die Bergengel-reeks is ’n verhaal wat tydloos wil wees in die illustrasie van sekere oerbeginsels. Dis nie geskiedkundig verantwoordbaar nie, maar val vaagweg binne die laat negentiende eeu, teen die agtergrond van die pre-Industriële Rewolusie, verstedeliking, die opkoms van ekonomiese monopolieë, landskapverkenning, die kartering van onbekende landmassas, die houtstormloop, die doodsnik van slawehandel en die hoogbloei van walvisjagtery. Dis ’n bekende geit van spekulatiewe fiksie om die geskiedenis te gebruik. Waarom? Want dit help ons om met oortuiging te lieg. Want die geskiedenis vermy clichés: Dis meer onvoorspelbaar as fiksie. Deugde word nie altyd beloon nie en skuldiges word nie altyd gestraf nie. Die geskiedenis vertel immers die verhaal van herhaalde menslike gedragspatrone, soos vryheidstrewe en oorlog. Wanneer lesers dit herken, maak dit die fiktiewe wêreld meer geloofwaardig. Dit help lesers met die opskorting van ongeloof. JRR Tolkien noem dit “secondary belief”: wanneer ’n fantasiewêreld so konsekwent geskep is dat lesers dit as werklik begin beleef. Samuel Taylor Coleridge beskryf dit as “the willing suspension of disbelief” – die vrywillige opskorting van wantroue. Genreverwagting maak dit vir lesers makliker om die brug na die onbekende oor te steek; dit gee ’n vashouplek. My verhaal druis egter teen talle genrekonvensies in: Wanneer geweldsoorlog uitbreek, is dit ’n tragedie eerder as triomf.
Kyk, skrywers is in wese ashoopgrawers en rommelrapers. Ons neem die stories wat die toets van tyd deurstaan het – die geskiedenis – en omvorm dit. Elke nuwe wêreld word gebou op die ruïnes van oues. Die werklike geskiedenis is vreemder as die meeste fantasie. Dit het ek besef toe ek vir my verhaal gesoek het na voorbeelde van geslaagde nie-gewelddadige opstand uit die geskiedenis. Hoe is daar geveg? Ek noem ’n paar:
- Hulle veg deur genesing: Tydens die Tweede Wêreldoorlog was 20 vrouedokters deel van ’n geheime weerstand in Slowenië, met Franja Bidovec aan die hoof. In ’n woudkloof het hulle ’n versteekte hospitaaltjie opgerig en 600 pasiënte behandel – ook die vyand. Beseerdes is geblinddoek en in die aand soontoe gesmokkel, dikwels met ’n bootjie om te sorg dat niemand die spore vind nie. Die Nazi’s het dit nooit gevind nie. Vandag is dit ’n museum. Die Galina Agterstam-hospitaal in my slotboek is ’n direkte uitvloeisel hiervan.
- Hulle veg met voorkoms: In Columbia het daar van die sestiende tot agtiende eeu (toe deel van die Spaanse ryk) ’n aangrypende inligtingsnetwerk onder die Afro-Colombiaanse slavinne ontstaan. Hulle het met hulle haarvlegsels geheime “kaarte” op hulle koppe geteken, roetes waarmee hulle mekaar gehelp het om uit slawerny te ontsnap. Haarvlegsels het mielielanderytjies, riviere, berge en die ligging van Spaanse soldate voorgestel. Die slavinne het ook klontjies goud en sade in hul haarvlegsels versteek waarmee hulle ’n nuwe lewe elders kon begin. Die Bellariete in my boeke se haarvlegtradisie gee erkenning hieraan.
- Hulle veg met stilte: In China hou betogers tydens die Witpapier-protes in 2022 skoon velle papier omhoog in stille opstand, om die drakoniese regering uit te daag: Voel julle bedreig deur ’n skoon wit papier? Geen slagspreuke. Net ’n woordelose weerstand. In my boeke word die Witpapier-protes herhaal deur die kinders van die Akrotfort.
- Hulle veg met sang: Tydens die Koue Oorlog het honderdduisende Baltiese burgers in ’n volgehoue, vreedsame protesaksie gesing teen Sowjet-besetting. Die Sangrewolusie het vir vier jaar geduur, vanaf 1987 tot 1991. Hulle het ’n lang menseketting gevorm. Saans het hulle met kerse gesing en bedags met blomme. Toe die verset met geweld begroet word, het dit aanvanklik gelyk of die vredeliewendes verloor, maar in werklikheid het hulle die oorhand gekry, omdat hulle die brutaliteit van hulle onderdrukkers kon ontbloot. Uiteindelik het die Sangrewolusie die Sowjet-soldate emosioneel geknak. Hulle het die gebied verlaat. In my boeke word dit die Singende Verset van Eziovlei genoem.
- Hulle veg deur te herbou: Die Rommelvroue in my boek is ’n saluering van die Trümmerfrauen, die Duitse vroue wat ná die Tweede Wêreldoorlog die puinhope van ’n gebombardeerde Duitsland met hulle hande opgeruim het.
- Hulle veg deur mekaar te waarsku en te skuil: In Kappadosië, Turkye het die Christene sedert 500 nC in ondergrondse stede geskuil teen vervolging. Wanneer die Persiese of Arabiese weermag op pad was, is ’n reeks bakens verlig as waarskuwing – binne ure het die waarskuwingsboodskap vanaf Jerusalem vir Konstantinopel bereik! Dan het die Christene na die ondergrondse stede van Kappadosië gevlug en daar gaan skuil – soms vir maande aaneen. Van buite lyk dit soos heuwels, maar binne is ’n ingewikkelde labirint van tot agt verdiepings onder die grond. Sommige ondergrondse skuilings in Kappadosië kon tot 10 000 mense huisves. Dié ondergrondse stede het die Waterplek in my boeke geword.
In spekulatiewe fiksie lei jy die leser stadig oor ’n brug. Aanvanklik herken hy alles. Stadigaan word die bekende vreemd en die vreemde raak bekend. Hoe duideliker jy die natuurlike beskryf, hoe groter is die kans dat jou leser die bonatuurlike sal aanvaar wanneer dit uiteindelik verskyn. Gevolglik is ek ’n ywerige koerantleser. Ek volg die bloedspoor van oorloë in onderhoude met militantes en martelare. Bejaardes wat ontwortel word. Donkerkopkinders wat soos my eie lyk. Baie van die sosio-politieke kwessies het deurgesypel na Die Bergengel. Die Russies-Oekraïense Oorlog was ’n belangrike inspirasie vir die Uitdooftyd in my slotboek waar ’n belowende leier haar skuldig maak aan gruwelike landvergrype. Maar sy had juis ’n inglipkans, omdat die bestaande politiek van Gabriëllië gebou is op korrupsie. Die Walvistraanmagnate bedryf ’n vorm van ekonomiese slawerny wat ek vryslawerny noem: Mense word betaal met kos en verblyf, maar bly in skuldknegskap. Klink dit bekend? Ek wou dié werklikheid ewe veel mitologiseer as wat ek die mite wou verwerklik. Die vlugtelingkrisis in die boekreeks is ook direk gevoed deur nuusgebeure: Ná ’n lang seetog, nadat hulle gevlug het om hul kinders ’n lewe van geweld te spaar, word die ontheemdes, die skuilingsoekers van Gabriëllië, besonder stief behandel. Dit is een van die groot gawes van spekulatiewe fiksie: Ons kan oor onsself skryf sonder om ekkerig te raak. Daardie afstand het my bevry om eerlik te wees oor wat dit beteken om in die 21ste eeu mens te wees.
Die grootste vraag in Die Bergengel bly uiteindelik: Hoe weerstaan ons wreedheid sonder om dit te weerspieël? Hoe beveg ons die onreg sonder om dit wat ons haat, te word? Vroeg in die verhaal, sommer in boek een, sê Eron vir sy oom Ruach: “Om oorlog toe te gaan sonder wapens is selfdood.”
Waarop Ruach antwoord: “Om ander dood te maak is ook selfdood.”
Hoe kan ons brutaliteit vervloek as ons dit met brutaliteit beveg? As ons in die Geheime Rewolusie moet kies tussen veg of vlug, dan veg ons. Altyd. Vir vryheid. Met binnekrag. Ons verset ons deur die vyand in die gesig uit te lag en verbode liedere te sing – waar en wanneer en so luidkeels as wat ons wil. Ons blus die vuur met koue water en warm, weerstandige woorde. Ons staan op deur slaapstakings, deur gesprek. Ons weier die silwerlinge van hulle met bebloede hande. Ons bal die vuis deur te vas van kos of baldadig fees te vier. Ons bevriend die leeu. Ons leer die vyand om stukkies vleis uit ons hand te aas. Ons gebruik skoonheid as ’n aanklag teen wreedheid. In die geheim bou ons nuwe paaie na ’n nuwe lewe vir hulle wat haweloos gelaat is en moes vlug.
Al herinner g’n karakter in die bykans halfmiljoen woorde my aan iemand wat ek ken nie, is dit soveel meer as ’n verbeeldingsvlug. Dis ’n openbaarmaking van my intens persoonlike siening oor oorlog en oorlewing, volkstrauma en vryheidstrewe, afsondering en feesviering, natuur en bonatuur. Dis ’n soort bloudruk of manifesto van my gelowe of bygelowe oor oorerflikheid, ekologie, sienkrag, seks en wêreldpolitiek. Dis ’n liefdesverklaring vir Afrikaans en die krag wat skuil in musiek, poësie, kuns, tradisie en identiteit. En dis ’n soeke na ’n alternatief vir geweldsoorlog.
Toe ek Die Bergengel in 2002 begin skep het, was dit ’n relatief vredevolle tydperk met geen volskaalse konfrontasie tussen supermoondhede nie. Die Tweede Palestynse Opstand was in volle swang, ja, en Amerika was in ’n hewige veldtog teen die Taliban en Al-Kaïda gewikkel, maar Iran was nie in ’n oop oorlog met die Weste of Israel nie. Die Irak-oorlog het eers ’n jaar later begin en die groot Siriese vlugtelingkrisis weens die burgeroorlog eers ’n dekade later. Met die verskyning van die laaste Bergengel-roman in 2024 was groot dele van die wêreld egter in oorlog. Gaza het in vlamme opgegaan. Die Midde-Ooste het weer begin brand. Die Russies-Oekraïense Oorlog word al hoe brutaler. Ek besef hoe vreemd dit is dat ’n anti-oorlog-verhaal, waarvan die eerste vonk in die vredige Skotse Hooglande ontstaan het, sy einde bereik in ’n wêreld wat tans dreun en druis, bibber en beef van geweldsoorlog.
Die verhaal van Die Bergengel wat twee dekades van my werkslewe oorheers het, is gebore uit twee botsende kragte: my geweldige liefde vir berge, reis, mistiek en mense en my geweldige haat vir geweldsoorlog. In oorlog sterf elkeen iets af. Of iemand. Bloed roep om bloed – wie kan die doodse sirkel van wraak en weerwraak keer? ’n Bergengel, dalk? ’n Doodgewone mens met sienkrag. Hierdie boekreeks is geskryf, omdat die werklike wêreld wys nie-gewelddadige weerstand is nie naïef nie. Dit is ook nie vreesloos nie (vreesloosheid is buitendien ’n onnosele soort oorgawe, ’n vervalsing van waagmoed). Nee, wanneer nie-gewelddadige verset weldeurdag is, wanneer dit risiko’s verstaan, is dit buitensporig dapper. En lewegewend.
Kyk en lees ook:
Elzette Steenkamp: Die Bergengel deur Carina Stander: ’n LitNet Akademies-resensie-essay
Carina Stander, Naomi Meyer: Die Bergengel: ’n Onderhoud met Carina Stander
Naomi Meyer, Pieter van Zyl: Die Bergengel-reeks deur Carina Stander: ’n gesprek met die RSG-voorleser, Pieter van Zyl
Willie Burger, Zirk van den Berg, Carina Stander, Alettie van den Heever: Boeke met Burger: ’n Zoom-gesprek met Zirk van den Berg, Carina Stander en Alettie van den Heever
Remona Voges, Carina Stander: Skrywersonderhoud: Carina Stander oor Die Wonderwese
Jaco Jacobs: Jy’s seker nie ernstig nie
Luna Paige: Om die sterflikheid van blomme en mense
Christof Berg: Die klei van ons binnekant
Lees die ander bydraes hier:
Veldsoirée-borge/Veldsoirée sponsors


Die Tuishuise & Victoria Manor




Carel van der Merwe
Trinette Rudman Kirkwood
Ton Vosloo


