Die Bergengel
Carina Stander
Protea Boekhuis
ISBN: 9781485307501
Skrywers oor hul nuwe boeke. Carina Stander gesels met Naomi Meyer oor Carina se Die Bergengel.
Carina, Die Bergengel is in my hand en voordat ek dit oopmaak, kyk ek eerste na die omslag. Vertel my hiervan.
Dankie vir die kans om oor die boek te gesels, Naomi. Die inkskets op die omslag is my eie. In die gees van gelykenis het ek gespeel met versteekte beelde, van prente binne 'n prent, soos wat die verhaal ook stories binne 'n storie bevat. Soos dikwels in my kuns en skryfkuns is hier 'n proses van wording of metamorfose: die berge word vlerke en die doringrankers word walvisse. Daar is ook 'n klok en olifantslurp versteek. Links klim die protagonis Eron Verberger teen 'n ranker op; regs is die antagonis Velvel Azazel op stelte. Die twee nessies met eiers word (wanneer jy die boek onderstebo draai) die enorme oë van 'n man, terwyl die B van Bergengel 'n neus vorm. Dié oë behoort aan Gibor, die alomteenwoordige vader in Eron se lewe. Die aanhaling op die voorplat lui: “Om 'n Bergengel te wees, is om alleen deur die ondergrondse gange van 'n kapel te stap terwyl daar gesing word – jy hoor nie net die musiek en die stemme nie, jy hoor ook hoe dit eggo in die toekoms.” Die letterwerk is gedoen deur die talentvolle grafiese ontwerper van Protea Boekhuis. Ek was skoon slapeloos van opgewondenheid toe ek die onverwagse nuus kry dat die titel in middernagblou metaalfoelie is. Ek dink die uitgewer het die boek lieflik uitgegee.
Binne-in die boek is daar ‘n kaart en dit roep dadelik beelde by my op van tekste soos die Bybel en Lord of the Rings. Ek sien ook die enigste herkenbare vastelandverwysing is “na Afrika”. Brei asseblief hierop uit.
Omdat Die Bergengel ook 'n reisverhaal is, was dit noodsaaklik om die geografiese ruimte van die land Gabriëllië te karteer en breedvoerig te beskryf. Dit word so gestel: "Daardie jare was die uitgestrekte Gabriëllië (’n land so groot dat dit ’n stapper in die fleur van sy lewe ’n geskatte 276 dae sou neem om die roete van die weskus na die ooskus te voet af te lê en 389 dae van noord na suid) in twaalf regione verdeel. Elke regio was onder die beheer van ’n onafhanklike Regiohoof met gelyke mag en het bestaan uit stede en dorpies met unieke boustyle, landbougebiede en bergstreke wat ekologies veel van mekaar verskil. Die magtige Reënrivier het deur ’n kwart van die regione gevloei." Ensovoorts. Gabriëllië is 'n groot, alleenstaande vasteland omring deur oseane. Ek betrek talle geografiese besonderhede vir elke regio – weerstelsels, plantegroei, dierelewe, landvorme en ander natuurverskynsels. Rondom die Tzurregio waarvan Eron Verberger afkomstig is, het ek noukeurige besonderhede gegee oor die algemeen fisieke voorkoms van die bewoners, verklarings van hulle vanne en ’n uitleg rondom klankverskuiwings in die taal Tzurien. In teenstelling met die tradisionele fantasieverhaal, word die leser gelei om Gabriëllië as ’n werklike land te aanvaar, soos Tolkien se Westland in The Lord of the Rings. Afrika bestaan aanvanklik slegs in die volksmitologie van Gabriëllië. 'n Gesprek tussen Eron en sy oom Ruach verloop so:
“Afrika? Daardie verbeeldingsdorpie in Die avonture van Koeb Snawel?”
“Afrika, die metaalrykste vasteland op aarde. Duisende seemyle hiervandaan.”
Eers dán word dit vir Eron duidelik dat Afrika 'n reële ruimte is. Wat meer is, Afrika word voorgehou as die plek van redding. As ek mag verklap: die laaste boek in die trilogie, Die Waterplek, speel grotendeels in Afrika af.
Gepraat van kaarte, the lay of the land, kom ons beskou die landskap en aard van hierdie genre. Is daar so iets – so ‘n genre? Het jy iets splinternuuts in Afrikaans geskep, dalk: fiksie, mite, mistiese komponente? Prop vir my jou boek in ‘n soort boksie, of verskillende boksies, as dit kan?
Die Bergengel is die eerste boek in 'n trilogie. Dit speel in op die tradisie van antieke Joodse geskrifte soos Die Boek van Enog, Kahlil Gibran se The Prophet en bekende Bybelverhale en sprokies. Maar Die Bergengel is nié 'n volwasse sprokie of fabel nie. En al is fantasie 'n genre waarvan ek hou, is dit hoegenaamd nie 'n Narnia of Lord of the Rings met trolle, reuse, elwe en eenhorings nie; ook nie 'n Star Wars met 'n Yoda nie. Anders as met die fantasiegenre, is ál die karakters in Die Bergengel werklike mense, en bykans alle gebeure fisies verantwoordbaar. Parallelle kan getrek word met die bekende werklikheid (stoomtreine, walvisstasies, bronsgietery) en die karakters se strewe waarby die gewone leser kan aanklank vind, veral die herstel van die pa-seun-verhouding en die strewe na 'n skeppingsdoel. Dit is 'n soort coming of age-verhaal, maar in wese is dit nie 'n jeugboek nie. Soos by The Alchemist van Paulo Coelho is hier 'n seun op reis en trekke van magiese realisme. Magiese realisme veronderstel 'n realistiese uitbeelding van die werklike wêreld met 'n onverwagse verskyning van die magiese of bonatuurlike. Dit is daardie buitengewone oomblik in 'n doodgewone toneel wanneer die alledaagse heilig word en die heilige alledaags.
Ek wou met die skryf van Die Bergengel 'n gelykenis skep. 'n Allegorie. Die mooiste woordverklarings wat ek vir allegorie kon vind, is dat dit 'n uitgebreide metafoor is. Waarvan is Die Bergengel 'n uitgebreide metafoor? Van 'n groeiende gees. Van 'n mens se reis na jou binnelandskap – met berge en vlerke vir skuiling.
“Dit was in die dae van die laaste rondreisende klokgieters dat Gibor en Alida Verberger vir oulaas saam op ‘n klokreis vertrek het. Waar geen treinspoor al aangelê is nie, waar lokomotiewe nog nie tonnels deur die berge oopgefluit het of rokerige longe oor die valleie en weivelde uitgehoes het nie, het die Verbergers trosse klokke gesmous aan mense wat in afsondering leef. Die ambag van onafhanklike klokgieter was vinnig aan die kwyn en een ná die ander het die stede in Gabriëllië standhoudende gieterye opgerig, sodat die meeste klokgieters hulle noodgedwonge op ander metaalwerk moes toespits.” Jou eerste sinne trek mens in saam met daardie lokomotief wat die tonnel binnegaan; mens ry saam en verder en dieper binnetoe. Hoe het jou storie ontspring, waar en hoe ... kan jy agterna daaroor praat?
Op 2 Januarie 2002 het ek vir die eerste keer die Skotse Hooglande binnegery, waar ek vir ses maande sou woon en werk. Daardie dag, in die middel van 'n verlate sneeulandskap, het die titel asof vanuit die niet by my opgekom. Ek het stilgehou, my skryfgoed uitgehaal en geskryf: Die Bergengel. Ek het dadelik geweet dat dit 'n reismistiek gaan word, 'n roman met 'n seun as hoofkarakter. Dit was 'n fabelagtige halfjaar – ek het gewoon in 'n twee honderd jaar oue kothuis aan die rand van 'n woud, gewerk in 'n ou katedraal wat in 'n kunsgalery omskep is en vir 'n beeldhouer in sy Middeleeuse-kasteel-ateljee. As deel van die herdenking van die Highland Clearances is die beeldhouer deur die regering aangestel om 'n lewensgrootte-bronsbeeld te maak. In sy kunsateljee het ek kennis geneem van die Skotse geskiedskrywer Alexander Mackenzie se boek The history of the Highland Clearances (1881). In die 19de eeu is tot 2 000 Skotse gesinne per dag dakloos gelaat, volledige dorpe is afgebrand, derduisende Skotte is gedwing om te emigreer. Daar was 'n geskatte 100 000 Skotte in Kanada. Die stryd teen oorheersing het byna 'n eeu geduur. 'n Spesifieke vertelling in die boek het my aan die hart gegryp: die verhaal van 'n bejaarde vrou wat in Gallies vanuit haar brandende huis geroep het: "Oh Dhia, Dhia! Teine, teine!" Vertaal as: “O God, God! Vuur, vuur!” Die beeld van 'n sterwende vrou wat in haar bykans uitgestorwe moedertaal vanuit 'n vuur roep, was vir my hartverskeurend, natuurlik ook omdat dit die Verskroeideaardebeleid van Brit teenoor Boer eggo. Die Highland Clearances het my denkbeeld geword agter die Vuurstorms van Gabriëllië, wat in Die Bergengel ook bekend staan as die Skoonbrand. Gruwels word gepleeg in die naam van ekonomiese en industriële vooruitgang, álles ten koste van onafhanklikheid en met 'n gepaardgaarde verlies van geliefde grond, streeksidentiteit en taal. Hoe kan die Vuurstorm beveg word? Ek het lank hieroor gewonder. Die inspirasie vir die Revolusie teen Vuurstorms het eers veel later by my opgekom by die lees van Christus se Bergpredikasie in Mattheus 5. Dit het my op die spoor gebring van Leo Tolstoi se filosofiese verhandeling The Kingdom of God is within you (1894). Dit was in Rusland verban, maar het die weg gevind na Mahatma Gandhi en gelei tot die niegewelddadige weerstandsbeweging satyagraha wat ek hoe later, hoe sterker in die trilogie betrek.
Ek het deur die jare baie nagedink en opgelees oor die universele aard van boosheid en broosheid in die mens se strewe na vrede en vryheid. Gevolglik bevat die boek ook kritiek oor die uitwissing van die natuur (hoofsaaklik die uitkap van woude en walvisjagtery) as uitvloeisels van hebsug. Daar word veral in die opvolgboeke uitgebrei oor die opkoms van ekonomiese monopolieë en 'n wêreldmoondheid.
Ek wil jou oor die storie vra, maar ek wil ook nog iets vra oor die proses. Spreek die musiek van woorde tot jou? Of woorde as kunswerke? Ek dink net hoe visueel jy is, maar ook hoe klankryk jou woorde. Jy het geblinddoek geskryf. Hoe en hoekom en wanneer?
Nadat ek ongeveer 15 vakkundige boeke van hoek tot kant deurgelees het (oor alles van klokgietery, walvishandel, kulkuns, ondergrondse stoomtreine, Steam Punk, tsoenami’s en navigasie tot oorloë en verskeie ontledings van die Saligsprekinge), het dit gevoel asof my brein in die pad van my verbeelding begin staan. Ek wou terugkeer na die plek waar stories vandaan kom, na die rivier onder die rivier. Ek wou die verhaal weer in my gedagtes síén. Daarom het ek musiek opgesit, myself geblinddoek en die tonele beskryf wat soos 'n fliek voor my geestesoog afspeel. Ek het musiek gekies wat atmosferies of inhoudelik pas by die spesifieke skryfstuk, sodat die musiek byna gedien het as 'n klankbaan vir die "fliek" in my kop. Dikwels was dit Rachamaninov of Erik Satie. Ek het die Poolse lamentasie Symphony of sorrowful songs van Górecki by herhaling geluister terwyl ek 'n sekere weemoedige toneel in die regio van Waknia beskryf. Beethoven se Maanligsonate was agtergrondmusiek vir 'n nagtoneel in Eziovlei. Die klankbaan van The Piano het my verplaas na die inkomende gety van die see op die Eiland van Ure. Ajub Ogaba se lied uit The Constant Gardener het my na 'n waterpad getransponeer. Pan's Labyrinth se onheilspellende wiegelied het gespeel terwyl ek geskryf het aan Barbel – 'n gruwelike draaipunt in die boek. In feestelike luim het ek geluister na Amélie se klankbaan en tydens die skryf van natuurtonele na Ludovico Einaudi se klavierstukke. Elke halfuur of so het ek gou gekyk of my vingers nog op die regte toetse is. Natuurlik het daar nog baie dae en nagte van herskrywery gevolg, maar van die belangrikste oomblikke in die boek het geblinddoek gebeur.
Jy vra wanneer? Deur die jare, tussen die skryf van my twee digbundels, vorige roman en joernalistiek deur, het ek konstant en getrou aan Die Bergengel geskryf. My seuns was nog klein tydens die grootste tydperk wat ek aan die boek spandeer het en heeldag tuis by my, daarom het ek meestal saans van agt tot elf geskryf wanneer almal slaap of tussen drie- en sesuur soggens.
Jy is digter, jy is kunstenaar, jy het al baie gereis. Vertel my van jou invloede en inspirasies.
Wat die digkuns betref: 'n digter bly 'n digter, of jy gedigte skryf of nie. Die digterlike sintuig bepaal jou volkome belewenis van die lewe, dit stuur jou oog in 'n sekere rigting. Daarom sypel die digkuns oral in – of jy nou tuin maak, pannekoek bak, in die see swem of saam met vriende wyn drink op 'n stoep. Om te dig is nie 'n beroep nie, dis 'n bestaanswyse.
Ek sal my nooit kan losbreek van die metaforiese taal en beelding wat die digkuns bied nie. Ek is voortdurend op soek na 'n moontlike wêreld, 'n nuwe beelding, 'n metafoor. 'n Metafoor bring kategorieë byeen wat voorheen vreemd was vir mekaar – een voorwerp neem 'n ander se eienskappe oor, al lyk dit asof hulle nie saamhoort nie. Metaforiese taal is daarom ook draers van hoop, omdat dit moontlikhede in realiteit ondersoek wat voorheen onmoontlik gelyk het. Dalk is dit waarom ek so gaande is oor die definisie van 'n allegorie as 'n uitgebreide metafoor. Dit beteken immers dat Die Bergengel een hengse lang gedig is, dan nie?
In Roland Barthes se Mythologies (1957) is 'n hoofstuk "The writer on holiday". Dit laat my glimlag, want inderdaad is die skrywer op vakansie 'n mite! Skrywers en kunstenaars is ewige waarnemers. Ons aas die heeltyd met ons ore en oë. Ek het besluit om dié "kwaal" in te span en die afgelope 13 jaar meer as 200 reisartikels vir verskeie publikasies geskryf. Die grootste vonk vir die ontstaan van Die Bergengel is dus ’n magdom dagboekinskrywings (wat later artikels geword het) tydens my reise in en op die woestynberge, sneeuberge, eilandberge, bergstede, bergwoude en vulkaniese berge van twee dosyn lande. Die foto's wat ek tydens dié reise geneem het, het ek gebruik as visuele verwysings vir my kunsuitstalling-boekbekendstelling van Die Bergengel wat in Mei by die Tina Skukan-galery in Pretoria geopen het. Soos met my vorige boeke het ek weer 33 kunswerke gemaak wat my skryfwerk visueel verbeeld, inksketse van die tonele en karakters wat al sedert 2002 in my kop ronddool. Intussen het die Breytenbach Sentrum in Wellington gevra of ek op 16 September by die Tuin van Digters-fees die kunsuitstalling-boekgesprek oor Die Bergengel sal herhaal. Daarna sien ek baie uit!
'n Ander groot vonk vir die ontstaan van die verhaal is die geestelike. Ek het die Bybel asook oergeskrifte soos Die Boek van Enog as interteks gebruik. Enog was die sewende generasie ná Adam; hy was Noag se oupagrootjie; en hy het heelwat oor engele geskryf. Ek is ook gefassineer deur natuurmistici soos die Heilige Francis van Assisi en Elia wat deur die kraaie gevoer is. Die spirituele onderstroom vloei in vele vertakkings regdeur Die Bergengel.
Vertel my van ander karakters in hierdie verhaal – hulle wat jou inspireer en hulle wat jy nie in die oë wil kyk nie, maar in wie se velle jy klim (of is daar nie sulkes nie?).
Lesers ontmoet die protagonis Eron Verberger met sy geboorte. Aan die einde van Die Bergengel is hy 16 jaar oud. Hy gaan op ’n lang fisiese reis wat ’n weerspieëling is van sy geestelike ontwikkeling. Hindernisse dwing hom om nuwe rigtings in te slaan, wat weer lei tot die ontdekking van ongekende talente. Deur die loop van die verhaal word hy by herhaling uitgedaag om sy skaduself in die gesig te staar. Hy kan soms oorversigtig en apaties wees en ander kere weer te vrypostig. Maar Eron is slim, sterk en sensitief, reisvaardig en aanpasbaar, en hy het meegevoel met mens en dier, daarom hou die leser van hom. Aan die einde van die laaste boek in die trilogie, Die Waterplek, is hy 21 jaar oud. Die leser volg Eron dus vanaf sy geboorte tot mondigwording, waarin hy ontwikkel van 'n doodgewone seun tot 'n werklik buitengewone jong man.
Eron se ouers berei hom voor vir die heldereis, asook sy twee ooms. Eron se bondgenote deur die verloop van die trilogie is die Onwaarskynlike Agt, oftewel die Geseëndes, wat gebaseer is op die Saligsprekinge. Die Geseëndes is mense met ’n swakheid wat hulle weerhou van voorspoed, maar elke Geseënde dra 'n onvervulde belofte vir 'n beter lewe, wat Eron geleidelik help bewaarheid. (Dink byvoorbeeld aan: "Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.") Die Geseëndes het die gawe van ontsluiering, die vermoë om die pad vorentoe bekend te maak – en Eron leer by elkeen van hulle iets kosbaars wat hy deel maak van sy karakter.
Daar is vroulike en manlike morwe in die verhaal wat van voorkoms en bui verander en die waarheid verdoesel. Eron (en die leser) wonder: Is hulle lojaal of nie, vriende of vyande? Velvel Azazel is die oppermorf van almal! Hy is die antagonis, maar lyk nie totaal boos nie. Hy het heelwat wat mens kan bewonder: sjarme, intelligensie en oëverblindery. Hy is 'n puik nabootser met 'n gawe om lyftaal te lees. Velvel is invloedryk en gewild as kulkunstenaar, vuurblaser en stelstapper. Hy staan bekend onder verskeie name waarmee hy sy psigotiese persoonlikheid verberg. Gaandeweg versprei hy sy magsdronk invloed en wys sy ware kleure. Wat hom vreemd genoeg juis kwesbaar (en dus oorwinbaar) maak, is sy selfbeheptheid.
Vertel my of jy van die begin af geweet het dit gaan ‘n trilogie wees. En kan jy tot aan die einde sien?
Ek het die verhaallyn tot aan die einde toe uitgewerk, maar eers so twee jaar gelede besef dat dit 'n trilogie gaan word. Dis ook hoe ek Die Bergengel verlede jaar aan die uitgewer voorgelê het, as die eerste boek in 'n trilogie. Voordat ek die addendum tot my kontrak geteken het, het ek 'n verhaalbeplanning van 20 bladsye aan my boekeredakteur, Amelia de Vaal, gelewer. Amelia is 'n voortreflike redakteur – sy het van die eerste oomblik af begryp wat ek probeer vermag en my gehelp om die engel uit die klip te bevry. Die samewerking met haar is vir my 'n reusagtige seën. Sy het byvoorbeeld dadelik verstaan hoe ek Dante se Heilige Komedie as interteks wil aanwend vir al drie boeke: Inferno vir Die Bergengel, Purgatorio vir Die Wonderwese en Paradiso vir Die Waterplek. Alhoewel ek 'n duidelike roete in my kop het van waarheen die verhaal op pad is, weet ek ook dat karakters 'n wil van hul eie het. Ek is oop vir oortuiging! As alles volgens plan verloop, verskyn die drie boeke 18 maande uit mekaar en is Die Wonderwese dus teen November 2018 op die rakke.
Wil jy ‘n kunswerk stuur wat ons saam met hierdie vrae mag publiseer, dalk iets wat jou antwoorde toelig?
Ek het inksketse vir jou gestuur wat deel was van Die Bergengel-solokunsuitstalling. Die titel van elke skets is 'n aanhaling uit die boek. Dis 'n visueelmaking van die verhaal. Woorde word beelde. Verbeelde woorde.
Is jou mense wat jy liefhet, in jou stories, of is hulle elders terwyl jy skryf en in jou storie(s) is?
Ek het ruim geput uit my ervarings van veral beeldhoukuns en reis, maar die karakters in Die Bergengel is almal maaksels van my verbeelding. Ek ken net mooi géén werklike mens wat my herinner aan een van die boekkarakters nie – en hoe bevrydend! Omdat die verhaal nie outobiografies nie, kon ek die karakters rondslinger en ophemel soos die lus my lei. Omdat dit nie mý lewensstorie nie, het ek ironies genoeg 'n groter vrymoedigheid as ooit tevore ervaar om getrou te wees aan my eie skryfstem.
Daar’s ‘n “bergduiwel” in die woordeboek (‘n soort akkedis J), maar nie ‘n “bergengel” nie. Toe skep jy self een? Of was die bergengel nog heeltyd daar en toe gee jy dit (haar/hom) net ‘n naam?
Gits, ek het nie eers geweet van 'n bergduiwel nie! “Bergengel” is 'n eie skepping, ja. In my voorwoord tot die boek het ek in suiwer Akademikaans die woord "bergengel" foneties geskryf en 'n verklarende handleiding, leksikon en ander kamma-kamma bronne gelys in die ondersoek na die wortelwoord. Dit gee my ongelooflike plesier om te hoor hoeveel lesers 'n woordeboek nader gesleep het! Vir die voorwoord van Die Wonderwese voer ek dieselfde truuk uit van kamstige woordverklaringe en bronverwysings en ek sal die speelse klein tradisie voortsit in Die Waterplek.
Hoe lyk die bergengel? Vertel my van hom. Of haar? Het die wese ‘n geslag?
‘n Bergengel is 'n persoon wat oor besonderse sienkrag beskik, ietwat soos die Jedi van Star Wars. 'n Bergengel-bewind duur 20 jaar. Die taak van die Bergengel is om Vuurstorms te keer, te keer dat die bekende wêreld die Grystyd binnegaan. Dus, om landsvrede te bewaar.
Bergengele van uiteenlopende karakter, manlik en vroulik, het die ronde in Gabriëllië gedoen, altyd onder die vaandel van gewone werkers, sodat geen mens hulle kon herken nie. Die rede hiervoor was tweeledig: enersyds moes die verborge identiteit hulle teen gevare van buite beskerm, want Bergengele is dikwels gevrees en gehaat as ontbloters van geheimenisse, ook die geheime van ’n gemeenskap wat dit nie wou aanhoor nie; andersyds moes die naamloosheid hulle teen hulself beskerm. Trouens, die grootste gevaar vir enige Bergengel was om vergoddelik te word; hierom was dit van uiterste belang dat hulle name nooit bekend gemaak mag word nie. Ja, selfs nie eers ná hul dood nie.
Vir 'n Bergengel is daar altyd die wisseling tussen binne en buite: óf hy is 'n alleenloper wat tevrede is met sy eie geselskap, maar deur meegevoel gedryf word na die trop, óf hy is 'n kuddewese wat moet leer om gelukkig te wees as 'n eenkantling.
Die Hebreeuse woord vir “profeet”, nabi', kan herlei word na die werkwoord naba', wat beteken: "to bubble up, boil forth, hence, to pour forth words like those who speak with fervour of mind or under divine inspirations, as prophets and poets". In 2005 het ek my meestersgraadverhandeling aan die Universiteit van Kaapstad voltooi oor die digter as profeet in die Afrikaanse digkuns. Ek het veral gefokus op rolle wat verskeie Afrikaanse digters deur middel van hul digkuns vertolk en hoe dit ooreenstem met die amp van die oudprofete. Al dié rolle van die digterprofeet ek het aan Bergengele toegedig: hulle is almal Toringwagte, Konfronteerders, Voorlopers, Tussengangers en Scribas. Maar daar is 'n belangrike verskil: 'n Bergengel tree altyd anoniem op. Soos daar geskryf staan: "Die boodskap is belangriker as die Bergengel, net soos wat ’n profesie groter is as ’n profeet en ’n gedig langer leef as ’n digter.”
- Kunswerke: Carina Stander
Kommentaar
Pragtige juweel!
Het jy die Aard-draak vergeet?