Madelein Rust deur my lens

  • 0

Dit het begin met haar 2014-debuut, Die 13de kaart. Die roman was nóg ’n krimi in ’n getygolf van krimi’s, maar tog ook baie anders. Madelein Rust het nie probeer om Deon Meyer die Tweede te wees nie.

Sielkunde het Rust gefassineer, en daarom het sy Belia Bell, ’n forensiese sielkundige, geskep om haar moorde op te los. Daardie boek het my die nag ná ’n Comrades-marathon vir meer as ’n uur nog aan die lees gehou. Dit sê iets.

Aangesien ons in verskillende stede gewoon het, was Madelein Rust eers net ’n stem oor die foon, of ’n mens met wie ek per e-pos kommunikeer. Die vraag oor kanker het ek reeds in een van ons heel eerste gesprekke gevra, want die wenk is toe reeds duidelik gegee. Sy het dit egter doodgepraat en ek het dit so aanvaar. Bemarkers krap rond in ons “objekte” se persoonlike lewens, maar ons weet ook wanneer om ons bekke te hou.

Haar nie wil praat oor kanker nie, het niks met ydelheid te doen gehad nie. Sy wou eers bekend word as ’n skrywer, nie as ’n Martie Martelgat nie.

My eerste behoorlike kiekie van Madelein Rust, in 2015

Eers in 2015 ontmoet ek haar en Jaun van aangesig tot aangesig. Dit was by die toekenning van die ATKV-Woordveertjies. Sy was ’n finalis. Die blonde pruik was toe reeds daar, en Jaun se kop is kaal. In solidariteit.

Mads en Jaun by die Woordveertjies van 2015. Kyk daardie kaal kop. Dit was nie om dowe neute nie.

Die kanker is toe al erken, maar steeds het sy by funksies opgedaag; steeds het sy werkswinkels aangebied. Sy wou steeds Madelein die skrywer wees.

Dit het sy geword. (Lees ook Ilse Salzwedel se mooi huldeblyk.)

Amptelik gekiek in 2018

My eerste “amptelike” foto van haar is einde Julie 2018 in Pretoria geneem, waar sy ook ’n praatjie gehou het.

Uiteindelik, toe sy voel mense reken haar as ’n skrywer, het sy gesê nóú mag ons oor kanker praat. En toe gebruik sy haar bekende gesig om mense aan te moedig in hulle eie stryd teen kanker – dit het allermins oor haar gegaan.

Sylvia de Kock, die boek en Madelein

Kanker schmanker het gevolg. Min boeke oor ’n dodelike siekte is met soveel humor aangepak.

’n Deel van die hopeloos te veel mense wat vir Kanker schmanker se bekendstelling opgedaag het.

Tydens die bekendstelling van Kanker schmanker op Stellenbosch het hordes mense ’n boetiekhotel volgepak. Ek moes die verbouereerde personeel help stoele indra.

Madelein het aanhou skryf, ten spyte van alles.

Madelein op die verhoog tydens die Stellenbosch Woordfees

Die laaste keer dat ek haar kon afneem, was in 2022 by die Toyota Stellenbosch Woordfees. Sy was reeds in ’n rolstoel, maar keurig gegrimeer. Die nuwe pruik was stylvol en effens deurmekaar.

’n Steelfoto van Nèlleke de Jager en Madelein Rust in 2022

Ten spyte van haar uitgewer, Nèlleke de Jager, se kommer, het Madelein ingestem tot ’n vinnige fotosessie, ’n laaste amptelike foto deur my lens.

Immer professioneel. My laaste amptelike foto van Madelein Rust

Die rolstoel is nie afgeneem nie. Haar mooi gesig wel. In Engels is daar ’n uitdrukking: “She wore her game face.” Sy was, gewoon, Madelein Rust, die skrywer.

Dit was ’n voorreg om haar te ken en te kon afneem.

Lees ook:

Madelein Rust: ’n huldeblyk

Stefaans Coetzee in gesprek met Madelein Rust

Siembamba deur Madelein Rust: ’n lesersindruk

Moederland deur Madelein Rust: ’n boekresensie

Van vrees na vrede deur Madelein Rust: ’n boekresensie

Doodsengel: ’n onderhoud met Madelein Rust

25 trappe na benede, ’n onderhoud met Madelein Rust

Lam ter slagting deur Madelein Rust: ’n resensie

Moordhuis deur Madelein Rust: ’n resensie

Boekresensie: Bloedlyn deur Madelein Rust

Resensie: Doodsengel deur Madelein Rust

Kanker Schmanker deur Madelein Rust: ’n resensie

Die 13de kaart deur Madelein Rust

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top