Madelein Rust: ’n huldeblyk

  • 1

Madelein, enkele dae ná haar mastektomie

Hoeveel mense ken jy wat ’n paar dae nadat sy ’n mastektomie ondergaan het, steeds voortgaan met ’n boekbekendstelling? Net sodat sy nie haar uitgewers en die mense by Graffiti in Pretoria in die steek laat nie. So ’n mens was Madelein Rust.

Dis maklik én verskriklik moeilik om oor Madelein te skryf. Maklik, omdat sy so ’n uitsonderlike mens, skrywer en vriendin was. Moeilik, omdat sy ’n groot gat in die harte van so baie mense gaan los.

Die jaar 2015 was haar lewensveranderende jaar. Haar tweede boek, Monstersaad, was op pad en haar beker het oorgeloop. Haar debuut is die vorige jaar benoem vir ’n ATKVeertjie-toekenning vir spanningsfiksie, en onder die vaardige hande van LAPA se uitgewersghoeroe, Cecilia Brits, het haar skryfdroom begin vorm aanneem. Dit was iets waarvan sy al sedert haar universiteitsdae gedroom het.

Toe word sy met borskanker gediagnoseer ...

Maar presies sewe dae na ’n mastektomie sit sy voor meer as 50 lesers by een van Graffiti se Boek-en-Koek-geleenthede. Niemand weet in hoeveel pyn sy is nie. Of dat die pompie wat die vloeistof uit haar borswond moet dreineer, stewig teen haar lyf vasgedruk word deur die nousluitende swart minirok wat sy oor haar swart broek dra nie. Alles word netjies weggesteek deur ’n los baadjie en afgerond met keurige grimering wat min vroue haar kon nadoen. Haar lang, blonde hare is sonder hulle kenmerkende krulle – netjies reguit gemaak, al kon sy beswaarlik haar arm lig. The show must go on – haar breë glimlag en opregte vriendelikheid verklap niks.

The show went on.

En dis hoe Madelein nie net daardie eerste rondte met kanker genavigeer het nie, maar ook die laaste vyf jaar sedert terminale beenkanker in Februarie 2020 by haar gediagnoseer is. The show always went on.

Tydens die streng eerste inperking van Covid moet sy ’n heupvervanging ondergaan – maar die heup is weggevreet deur die kanker en dit word ’n veel groter, baie meer komplekse operasie en die begin van vyf jaar van uitmergelende pyn. Tog hou sy so lank moontlik aan met haar beroep, en daarna met skryf.

Pyn wat sy nooit toegelaat het om haar lewe te oorheers nie. Sy het elke oggend 4:00 opgestaan om vir minstens twee uur te skryf. Dít, het sy geglo, is haar terapie teen die pyn. So het sy daarin geslaag om minstens een roman per jaar te skryf, met nog twee nie-fiksieboeke oor haar kankerstryd: Kanker schmanker! (2019) en Van vrees na vrede (2023).

Haar jongste boek, Drie moorde in die baai, het verlede week die rakke getref. Haar aanhangers het dit nie geweet nie, maar toe was sy reeds op haar sterfbed, onbewus van die groot vreugde onder lesers oor nog ’n boek. Hierdie keer ’n cozy, of snoesige misdaadroman.

Want skryf was ook Madelein se persoonlike uitdaging, haar ewige mededinging met haarself. Sy wou nie net skryf nie; sy wou goed skryf, en in verskillende genres. Spanningsverhale was haar eerste liefde weens ’n voorliefde en vakkennis in mediese en forensiese wetgewing en sielkunde, maar sy wou ook haar hand aan genres soos toekomsfiksie waag. So gesê, so gemaak, en Moederland is in 2022 met groot entoesiasme deur haar aanhangers – en lof van resensente – ontvang.

Ek kan blaaie vol skryf oor Madelein as vriendin, ma en vrou. Haar man, Jaun, en haar kinders, Tanya en Nico, was haar hele wêreld en sy hulle s’n.

Jaun was haar eerste leser. Sy het elke manuskrip vir hom voorgelees en dan na sy raad geluister. Nico en Tanya was die mense wat sy letterlik met haar lewe sou beskerm, en by tye was dit net hulle drie teen ’n klomp swaarkry. Jaun was die laaste byna twee dekades haar sielsmaat; die mens wat haar oë laat vonkel het en haar en haar kinders se veilige hawe. Ek kan my nie eers indink hoe hierdie drie mense sonder haar gaan leef nie, maar ek weet hulle sal ’n manier kry. Madelein het hulle mooi geleer hoe.

As vriendin was sy ’n ongelooflike voorbeeld van integriteit, vasberadenheid en geloof. Daarvoor sal ek haar altyd eer en onthou. Sy was die positiefste mens wat ek ken, en altyd vriendelik met almal. Haar glimlag was gul en opreg – dit het uit die hart gekom. Ek het haar die afgelope 10 jaar net eenmaal sonder haar stylvolle grimering en mooi klere gesien, en dit was ook die dag wat ek gedog het die doodsengel is naby. Dit was ook die enigste dag ooit wat ek kon sien die pyn is ondraaglik. Tog het sy nog twee jaar aangehou lééf.

Toe ek haar aan die einde van April gaan groet het, was sy reeds in soveel pyn dat sy kwalik kon beweeg. Maar weer mooi aangetrek, al was sy feitlik bedlêend. Weer mooi gegrimeer. Haar lyf was gaar na jare van chemoterapie, maar steeds kon ons lag terwyl ons oor die see by Langebaan uitkyk. Sy in haar dagbed, ek langs haar, sommer op die vloer. “Weet jy,” het sy half skuldig vertel, “hierdie is die eerste week wat ek nie een woord kon skryf nie, want ek kon nie opstaan nie.”

Toe ons groet, het ek geweet dit sou vir die laaste keer wees. Sy was nie bekommerd of bang vir haar eie onthalwe nie. Haar saak met die Here was reg. Maar sy wou die versekering hê dat iemand sal uitkyk vir Jaun en haar kinders. Haar groot oë was vol trane terwyl sy my hand vasgehou het. Dit was die eerste keer ooit dat ek haar sien huil het. Want so lief het sy haar mense gehad ...

Ek sal ook Madelein se besondere sin vir humor onthou. Gaan lees gerus haar kankerboeke om te hoor hoe lekker kon sy ook met haarself spot, selfs in die donkerste tye. Tot onlangs het sy nog grappies op WhatsApp gedeel met my en Dibi Breytenbach op ons boodskapgroepie wat ek Kickassers gedoop het – ter ere van my kickasser-vriendin wat tot reg aan die einde van haar lewe werklik die lewe in al sy fasette omhels het. En kanker en ’n klomp ander dinge se alie geskop het.

En so sal ek haar onthou: larger than life op haar stil manier, nederig, iemand wat werklik lief was vir haar medemens en altyd tyd gemaak het om iemand te help of net gaaf te wees met iemand wat dit nodig het. Iemand wat in diepe afhanklikheid van haar Hemelse Vader geleef het.

Rus sag, liewe Mads – ons gaan jou verskriklik mis.

Die volgende boeke het uit Madelein se pen verskyn (in geen spesifieke volgorde nie):

  • LAPA: Die 13e kaart, Monstersaad, Bloedlyn, Doodsengel, Moordhuis, Lam ter slagting, My naam is Legio, 25 trappe na benede en Kanker schmanker! (nie-fiksie).
  • NB-UITGEWERS: Moederland, Siembamba, Bessie se hangkasbiblioteek, Drie moorde in die baai en Van vrees na vrede (nie-fiksie).

Fotografie: Ilse Salzwedel

  • 1

Kommentaar

  • Corlietha Swart

    Dankie, Ilse! Mooi huldeblyk aan 'n merkwaardige en moedige mens en verbete skrywer tsv gesondheidsuitdagings. Onthou haar so goed in Bloemfontein by BSV-byeenkomste, nog voor sy begin publiseer het, stil, gelykmatig en vriendelik ontvanklik vir inligting langs omroeper-skrywer Ian Wessels en ander sit en alles indrink - mense wat ons ook al ontval het ... 'n Mooi mens.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top