Resensie: Doodsengel deur Madelein Rust

  • 0

Titel: Doodsengel
Outeur: Madelein Rust
Uitgewer: Lapa
ISBN: 978-0-7993-9512-9

Dis mos hoe ’n misdaadriller begin: met ’n moord in die eerste sin! Daarna neem die skrywer die leser op ’n rit van geweld en vergelding totdat sy op bladsy 366 ’n puik ontknoping skryf.

Rust gebruik die agtertoe styl om jou vorentoe te vat deur gebeure van ’n dekade vroeër as agtergrond te gee vir wat in die hede gebeur. Die heen-en-weer-styl – wat knap met naelbyters afgewissel word – ontknoop twee verhale, elkeen met sy eie spanning.

Magdalena Bakkes is ’n sielkundige wat as kind eindeloos onder haar pedofiel-stiefpa se verkragtings deurgeloop het. Sy kon haar nie verset nie, omdat haar ma dan wreed aangerand is.

In hierdie boek – haar sesde riller en tweede alleenstaner ná 13de Kaart – het die skrywer (voorlopig) afskeid geneem van die speurderpaar Renata Malan en Stefan Coetzee en Renata se verhouding met haar vigilante-vader George Alfred. Rust skep egter weer ’n vigilante-verhouding wanneer Magdalena die aanbod aanvaar dat haar derde moord onder die tapyt gevee sal word as sy help om van ander skuldiges wat vry rondloop ontslae te raak.

Haar derde moord? En dis nie die laaste een nie!

Hierdie verbintenis word meesterlik uitgebeeld en lei ook tot ’n liefdesverhouding. Magdalena word spoedig gedwing om haarself met groot moeite en deursettingsvermoë toe te rus vir die nuwe uitdagings wat op haar pad kom. Sy kry opleiding in Oosterse gevegskuns en word ’n baie goeie pistoolskut – vaardighede wat haar uitstekend te pas kom en wat sy met groot vrug aanwend.

Magdalena vind ook tyd om Sondagskoollesse vir seuntjies in ’n kinderhuis aan te bied. Dit is dan ook juis die manier waarop sy ontdek wat hier onder die dekmantel van sorg gebeur – kinders wat "aangeneem" word en kinders wat maar te bly is as hulle vakansietye na huise uitgeplaas word.

Een van die groot pluspunte in Doodsengel is dat die grense van geloofwaardigheid nooit oorgesteek word nie. Daar ís kinderhuise waar kinders vir pedofilie aangewend word en waaruit hulle ook permanent verdwyn, terwyl die pedofiele skotvry kom. Daar is ook ryk en gesiene sakemanne – van die soort wat prominente skenkings aan instansies maak, gereeld in die nuus is en hand om die blaas met vooraanstaandes verkeer – wat sulke klubs bedryf.

Oosterse gevegskuns is ’n uiters nuttige wapen, veral in die hande van ’n vrou wat ’n meester is. En ja, vroue kán geleer word om baie goeie skuts te wees!

Dit alles word deel van die riller wanneer Magdalena op die skurke toeslaan en geregtigheid laat geskied. Sy moet ook nog omsien na haar ma, wat blind in ’n tehuis sit waar sy mishandel word. Of verkeer sy net in ’n greep van demensie waarin sy haar allerlei dinge verbeel? Hoe ver kan Magdalena haar ma se psigiater vertrou?

Daar is – soos te verwagte – ook baie grafiese beskrywings, maar hulle word op ’n diskrete manier aangebied – dit ril, maar dit walg nie; iets waaraan misdaadskrywers hulle soms skuldig maak omdat hulle kortpad vat en nie oor die vaardigheid beskik nie.

Net as die leser begin dink Magdalena is besig om in beheer van sake te kom, word ’n nuwe uitdaging op haar pad geplaas in die persoon van Clive Corbett – ’n verstote minnaar wat haar meedoënloos agtervolg. Dit word ook ’n konkrete deel van die verhaal, wat op ’n spannende einde afstuur.

Rust skep goeie karakters, soos die enigmatiese Wollie Wolmarans – ’n skurk met ’n gewete en ’n sagte kant wat gereeld tot die hoofkarakter se hulp kom. ’n Ware 3D-karakter! Wollie span ’n kuberkraker – "die beste in Afrika" – in om Magdalena te help, en Blue is nou éérs ’n vreemde meisie en ’n kluisenaar wat weier om haar woonplek se buitekant te betree.

Doodsengel is ’n riller wat op vertaling wag, nie net vir die Laelande nie, maar ook vir die Britse en Amerikaanse en dalk Skandinawiese mark. Hulle het min wat beter is. En ander Afrikaanse misdaadskrywers sal hulle sokkies moet optrek as hulle met Madelein Rust wil kompeteer.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top