Lam ter slagting deur Madelein Rust: ’n resensie

  • 0

Foto van Madelein Rust: Izak de Vries

Titel: Lam ter slagting          
Skrywer: Madelein Rust
Uitgewer: LAPA
ISBN: 978-0-7993-9007-0 (gedrukte boek)

Wanneer sê 'n resensent 'n boek is briljant geskryf? Heel aan die begin is miskien die beste plek! Met Lam ter slagting – haar vyfde misdaadfiksie – het Rust haar eie grense verskuif.

Ses meisies word in ses maande ontvoer, gemartel, geskend en vermoor, maar die polisie doen niks. Toe raak die baie ryk en bekwame span van Malan en Coetzee Privaatondersoeke, met hul passie teen misdaad, sonder enige leidrade betrokke.

Dit word 'n uiters opdraande stryd teen korrupte polisiepersoneel wat lede is van die fiktiewe en superchristelike Noaggemeente. Die gemeente se lede het 'n eed afgelê om selfs lede wat moordenaars is, te beskerm. Om die kroon te span het die toplede ook, soos die lede van die polisie, lidmaatskap van die Vrymesselaars.

Teen so 'n mengsel en oormag het Renata Malan en Stefan Coetzee en hul kuberkrakers hul hande vol. Vir 'n lang ruk is Migal Vermeulen die enigste leidraad met sy akkurate herskepping van een vermoorde uit klei.

Rust skryf in korterige hoofstukke waarin gebeure mekaar vinnig opvolg. So kom verdagtes na vore, net om weer onskuldig bewys te word, selfdood te pleeg of vermoor te word. Tussendeur is daar ook karakters wat hulself met uiters gewaagde bekentenisse uit die misdaadnes wil wikkel.           

Die skrywer doen ook baie moeite met haar navorsing. So gee sy aan die leser dieper insig in talle faktore – dit word nie net bolangs genoem nie. Lesers kry ook insigte in die psiges van misdadigers.

Tussendeur stoei die vennote Renata en Stefan met hul eie verhouding, wat weer 'n ander aspek van die storie behels. Daar is ook die geheime kommunikasie met George Alfred Hill, Renata se pa wat self elf “regstellende” moorde gepleeg het. Hy voer saam met sy eie netwerk 'n geheime bestaan en wend dit tot Renata se voordeel aan.

En natuurlik beleef die twee vennote ook spanningsvolle oomblikke waarin hul lewens aan 'n draadjie hang.

Dit lyk of sommige uitgewers van misdaadfiksie ook vrede gemaak het met die dikwels rowwe dialoog van karakters. Dit kan baie fyngevoelige lesers dalk ontstel, maar is natuurlik, ongesensor en onaangeplak.

Wat wel ook op die uitgewer se rekening moet kom, is die waarlik patetiese poging tot 'n kaart van die botaniese tuin waar die lyke gevind word. Dit lewer geen bydrae nie en doen net afbreuk aan 'n skitterende boek.

Dit lyk of daar 'n onversadigde honger ontstaan het vir ontspannende en terselfdertyd spannende en oortuigende misdaadverhale. In hierdie genre het Madelein Rust haarself al telkens bewys.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top