Moordhuis
Madelein Rust
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799385007 (gedrukte boek)
Renata, Stef en hul twee kuberkrakers van Malan en Coetzee Privaatondersoeke speel weer die hoofrolle in Madelein Rust se derde spanningsverhaal en is, soos haar 13de Kaart en Bloedlyn, ’n stuk knap misdaadfiksie.
’n Gesin van vier en twee buurkinders word op ’n plaas vermoor en die dooie gesin word op ’n makabere wyse uitgestal as ’n gesin wat in gesellige interaksie in ’n sitkamer sit en gesels.
Dis vir die speurders duidelik dat dit geen plaasmoord is nie en sommer gou-gou is daar ’n lang lys verdagtes wat onder die loep kom. Die mans is ou weermagvriende met vriende in hoë posisies en stywe bankrekeninge danksy die onwettige handel waarby hulle in die Bosoorlog betrokke was. Hul eggenotes en familie is ook nie engeltjies nie en daar is twyfel oor die vaderskap van die kinderslagoffers, iets wat tot hul gruweldode kon gelei het.
Die storielyn verdiep wanneer die geraamte van ’n ou weermagkameraad op die plaas uitgeploeg word, en later word die vrolike samesyn van die viertal van Privaatondersoeke ernstig deur nog ’n moord versteur.
’n Goeie saak kan vir elke verdagte uitgemaak word en die skrywer slaag op ’n puik wyse daarin om die twee ondersoekers duiwelsadvokaat te laat speel soos hulle die verdagtes as skuldiges opstel en mekaar se teorieë weer met oortuigende teenargumente afskiet. Dit raak baie van die leser se eie vermoedens aan en laat hom deel voel van die storie.
Renata se biologiese vader, George Alfred Hill, verskyn weer as haar onsigbare beskermengel wanneer daar pogings aangewend word om haar te vermoor. Hy is al ’n dekade lank ’n voortvlugtige nadat hy ’n klomp mense wat aan misdade skuldig was, maar deur die hof vrygespreek is, van die gras af gemaak het. Renata vrees wat haar as geregsdienaar te doen sal staan as sy hom ontmoet. Dis dan ook die rede waarom hy net per SMS met haar kommunikeer."
Tussendeur is daar ’n voortsetting van die verhouding tussen Renata en Stefan. Hulle is twee mense wat vir mekaar gemaak is, maar Renata wil haar nie vas verbind nie, omdat sy glo dat sy die draer van ’n misdaadgeen is (sien Bloedlyn). Wat vir my as resensent verblydend is, is dat daar nie eksplisiete hygtonele tussen hulle is nie, iets waarvoor veral Amerikaanse misdaadskrywers so ’n onkeerbare voorliefde het. Die twee se verhouding is baie meer op die geestelike as die fisieke vlak.
Moordhuis is ’n vars en baie komplekse storielyn wat wye draaie maak, ook in die Bloemfonteinse onderwêreld van dwelms, bordele, molestering en kinderpornografie. Hierdie grawe in die werklikheid dra by tot die storielyn se egtheid, maar sal nie vir baie sensitiewe lesers lekker leesstof wees nie. Rust se karakters is verwikkeld en eg menslik en word met knap dialoog uitgebeeld. En soos wat mens in ’n goeie boek sou verwag, word daar by die leser tog ook ’n mate van insig en simpatie gewek, selfs in en vir die ongure karakters wat later as nog verdagtes aan die beurt kom.
Dis in die geheel ’n baie komplekse storielyn wat van lesers vra dat hulle moet kophou, veral lesers wat stuk-stuk lees. Dit geld ook die uiteindelike ontknoping (waarin die skrywer self met twee karakters se vanne deurmekaar raak!).
Is dit ’n beter boek as 13de Kaart en Bloedlyn? Dis iets wat lesers maar self moet besluit.
Foto van Madelein Rust: Gert Duvenage