Titel: Siembamba
Skrywer: Madelein Rust
ISBN: 9780798183765
Uitgewer: Human & Rousseau
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Hoeveel boosheid skuil daar agter hierdie ooglopend onskuldige wiegeliedjie “Siembamba”?
Die agterplat dui nie verniet aan dat dit ’n aksiebelaaide naelbyt-riller is nie. Gooi solank vir jou ’n glas wyn in en hou sommer die bottel byderhand, want wanneer jy met hierdie leesavontuur begin, gaan jy beslis versterking nodig hê.
Madelein Rust tref die krimi-mark in 2014 met ’n bang toe Die 13de kaart op die winkelrakke verskyn. Chanette Paul sê nie verniet in die blip “staan eenkant toe Kathy Reichs, hier kom Madelein Rust” nie. Daarna is daar geen keer aan die geliefde skrywer nie en volg daar nog nege krimi’s uit haar pen. Sy skryf ook twee boeke oor haar stryd met kanker wat lesers inspireer en toerus met waardevolle inligting oor die pad vorentoe.
In Siembamba is Mindie Rochebrandt se lewe alles behalwe volmaak, al is sy met die skatryk advokaat Marius Rochebrandt IX getroud en tans swanger met Marius X. Reeds vroeg in haar huwelik vind sy uit dat sy eintlik net ’n inskiklike vertoonstuk, gewillige seksmaat en nou broeimasjien van die Rochebrandt-familie is – bl 18. ’n Onsmaaklike gebeurtenis tydens haar ooievaarstee laat haar finaal besluit om Marius, met die baie persoonlikheidsafwykings, te verlaat sodra haar baba gebore is. Ongelukkig is dinge nooit so maklik uitvoerbaar as wat dit op papier lyk nie.
Dae later word Mandelien, Mindie se swanger tweelingsuster, wreedaardig vermink en vermoor. Dadelik skuif Mindie haar planne opsy en begin haar eie speurwerk doen om die moordenaar van haar suster en dié se ongebore baba op te spoor. In die proses stel sy nie net haar eie lewe in gevaar nie, maar ook dié van haar ongebore baba. Die leser vergesel Mindie op ’n wipwa-rit van aksie en angswekkende gebeure.
Tydens die verloop van die verhaal word die spanning verlig deur addisionele storielyne, onder andere dié van Mindie se familie wat duidelik steeds aan die verkeerde kant van die treinspoor bly. Die Kelly-clan is rowwe diamante, maar hulle kruip nogal in ’n mens se hart in.
’n Welkome verandering is die skep van die dierekarakter Herr Wolfgang, die Weimaraner, wat pal aan Mindie se sy is. Die hond is ’n stille teenwoordigheid langs haar – bl 84. In teenstelling met sy paraatheid en heldhaftigheid is hy baie lief daarvoor om met sy gunstelingspeelding, ’n geel plastiese eendjie, in sy bek rond te loop. Maar wanneer Mindie se veiligheid bedreig word, verander hy in ’n oorlogsmasjien.
Madelein Rust slaag weer eens daarin om eg menslike karakters te skep waarmee die leser kan identifiseer. Sommige wek simpatie, ander haat jy met ’n passie en kan nie wag dat hulle hul moses teëkom nie. Die leser raak deel van die verhaal se intriges en word so ingetrek en meegesleur dat dit onmoontlik is om die boek neer te sit voordat jy die laaste keer omgeblaai het.
Die skrywer plant subtiele leidrade waarna die leser baie fyn moet oplet. Party is wel daar om die leser op ’n dwaalspoor te lei. Alhoewel ek later ’n vermoede gehad het wat aan’t broei is, was die wending aan die einde van die verhaal steeds ’n “wat de hel”-oomblik en kon ek die boek met ’n sug van tevredenheid neersit met die wete “eind goed, als goed”.
Enige Madelein Rust-liefhebber sal die boek verslind en krimi-lesers wat nog nie haar boeke onder oë gehad het nie, sal beslis die een geniet en ek glo daarna die winkels invaar op soek na nog leesstof uit die gewilde skrywer se pen.