Van vrees na vrede deur Madelein Rust: ’n boekresensie

  • 3

https://www.nb.co.za/en/view-book/?id=9780796323101

Van vrees na vrede
Madelein Rust

Lux Verbi
ISBN: 9780796323101

 

Waarskuwing: Jy gaan beslis sneesdoekies benodig!

Met die slotepisode van ’n baie gewilde reeks op Netflix pas agter my, tel ek Van vrees na vrede op. In dié reeks het ek eerstehands ervaar hoe tragedie en lewensveranderende omstandighede die lewe op sy kop draai, maar met ’n humoristiese inslag maak dit dinge tog ietwat draagliker. Asof ’n ligter beskouing van drastiese gebeure dit tog minder donker sonder daardie erge snot-en-trane-finaliteit maak, as so iets moontlik is.

Ek is dus nie té terneergedruk toe ek die boek oopslaan waar Madelein haar vrees en uiteindelik vrede met haar lesers deel nie. Want ons almal ken slegte nuus, seer- en swaarkry, so almal kan identifiseer met haar verhaal. Ons almal stap dieselfde pad van geboorte, lewe en dood met sy op- en afdraandes. Dit is duidelik dat die geheim in jou lewensuitkyk en perspektief lê. Jý is die meester van jou ingesteldheid. Gaan jy veg of vlug? Jy veg dalk nie teen kanker, afsluiting, afskeid en dood nie, maar ons almal stry ’n stryd: Soms fisies, soms emosioneel. Of jy siek is, ’n ondersteunende familielid wat kwellinge het oor die verloop van siekte of terminaliteit, of bloot soos ons almal aanslae van die lewe beleef, ons almal kan uit Madelein se skrywe gevoed word.

Met ’n goeie idee waarvoor ek my inlaat, val ek entoesiasties weg met Van vrees na vrede. Ek was ’n traan of twee te wagte, min het ek egter geweet dat naas ’n boek oor die Joodse volksmoord of waar iemand se geliefde troeteldier sterf, ek nog nooit so oor die geskrewe woord trane gestort nie. Voor dit jou dalk in jou spore stuit om Van vrees na vrede te lees, dit word spoedig opgevolg met sommer baie lagtrane ook, want selfs in die onmoontlikste, ernstigste denkbare situasies, slaag Madelein daarin om my te laat skater. Sy bewys herhaaldelik dat met ’n sin vir humor die stryd al halfpad gewonne is. (My kinders moes gedink het Mamma is van haar sinne beroof, want dan lag ek en dan huil ek.) Ek glo self met humor, spitsvondigheid en om te kan lag, ja dikwels ook vir jouself, maak die lewe meer draaglik in soms die onmoontlikste situasies.

...........
Ek was ’n traan of twee te wagte, min het ek egter geweet dat naas ’n boek oor die Joodse volksmoord of waar iemand se geliefde troeteldier sterf, ek nog nooit so oor die geskrewe woord trane gestort nie. Voor dit jou dalk in jou spore stuit om Van vrees na vrede te lees, dit word spoedig opgevolg met sommer baie lagtrane ook, want selfs in die onmoontlikste, ernstigste denkbare situasies, slaag Madelein daarin om my te laat skater.
...............

Hoendervleisoomblikke is daar tientalle. Soos Madelein is ek ook ’n baie letterlike mens. Ek is ’n empath en dié twee kan gevaarlike spanmaats wees. Haar seer word tydelik my seer en ek kan die pyn aan my vel voel. Asof ek in die boek inklim en wegsmelt in die bladsye. Asof ek deurgaans aan haar sy is, haar verdwasing, ontredderdheid, emosies, maar ook hoop, dankbaarheid en liefde ervaar.

Ek is ontroer en verras deur haar dankbaarheid dat kanker geleenthede skep en haar ergste beproewinge “die kans bied vir [haar] om te word wie sy veronderstel is om te wees”. Selfs wanneer die pyn haar oorweldig en sy bid vir verlossing, voel sy skuldig “omdat ander mense erger lyding as ek ervaar en moedig bly”. Ek moet bieg, hoeveel keer kla ’n mens met die witbrood onder die arm terwyl ander soveel minder het/swaarder kry/meer pyn het. Dit laat ’n mens skuldig voel, en tog ook grootse dankbaarheid ervaar. Madelein se stryd tussen dit wat die verstand weet en wat die hart moet aanvaar, is voelbaar, haar eerlikheid tot op die been ontbloot. Vrae rondom vrees vir die dood, woede, aanvaarding, asook die hiernamaals word geopper. Daar is tye wat dit voel asof jy een van Madelein se misdaadfiksies lees, ’n riltog van hospitale en bloed en waar ek eerlikwaar van harte wens dit was net fiksie. Haar meesleurende deling van diagnoses, prosedures, fisiese en emosionele implikasies laat my weer glo in die onblusbare krag van gees, geloof, oorlewingsinstink en liefde. Dit geskied nie altyd in jou donkerste oomblikke ter wille van jouself nie, maar vir jou naasbestaandes. Dié wat agterbly, wat sin moet maak en dit verwerk.

...........
Elke reis het ’n einde en die dood het altyd ’n oorsaak. Ons almal gaan die een of ander tyd die tydelike met die ewige verwissel. Madelein laat die leser toe om dit met ’n ligter beskouing te sien: Met só ’n diagnose weet jy waaraan jy gaan sterf en jy het die luukse en tyd om jou (en jou geliefdes) voor te berei daarop en hul te oorlaai met liefde.
..............

Elke reis het ’n einde en die dood het altyd ’n oorsaak. Ons almal gaan die een of ander tyd die tydelike met die ewige verwissel. Madelein laat die leser toe om dit met ’n ligter beskouing te sien: Met só ’n diagnose weet jy waaraan jy gaan sterf en jy het die luukse en tyd om jou (en jou geliefdes) voor te berei daarop en hul te oorlaai met liefde. Dit bring ons dan by Ma se vakansie. In die lewe gesels ons selde oor die dood en die voorafgaande reëlings. Madelein gee die onlekkertes wat haar lewensreis meemaak, name en sodoende kry die voorbereidings waaroor ons nie graag praat nie maar wat tog so belangrik is, ook ’n naam: Ma se vakansie. Dalk is dit tog ’n voorreg om die laaste hoofstuk van jou aardse reis te kan bespreek met jou geliefdes wat dit meemaak en moet laat geskied. Dit is immers die oorlewendes wat die reëlings tot uitvoer moet bring, want ons almal gaan eendag met vakansie. Om ’n naam daarvoor te gee het die donker doodskleed tog vir ’n wyle vir my uitgedos in iets minder morbied.

Ek kan ’n hele essay skryf oor my persoonlike en verrykende ervaring met die lees van Van vrees na vrede. Sy noem immers dat dalk moet almal wat seer het, skryf. Uit persoonlike ervaring stem ek saam, om te skryf is wonderlik terapeuties. Maar ek sluit graag af en laat die gedagte by jou draal. Haar vertaling van die Amerikaanse skrywer, spreker, akteur en draaiboekskrywer Neale Donald Walsch se eerste boek Conversations with God: An uncommon dialogue lees: “Jou hele bestaan is ’n werktuig wat jy self geskep het, en elke ondervinding is bloot die geleentheid vir jou om te besluit wie jy is en dit te wees. Dit wat jy in die oomblik van jou ergste beproewing doen, kan jou grootste triomf wees. Daardie ervaring is ’n verklaring van wie jy is – en wie jy wil wees.” 

Ek haal met liefde en erkenning graag die volgende punte uit haar skrywe:

Dankbaarheid: Of dit is om dankbaar te wees, selfs vir die klein, mooi dingetjies wat jou sintuie roer.

Seëninge: Maak ’n lysie oor die seëninge in jou lewe.

Ondersteuning: Die waarde van ondersteuning, hetsy deur mens of dier, staan soos ’n paal bo water. Klein Shai, haar katjie, speel ’n baie ondersteunende rol net soos wat diere kan. (Lees gerus hierdie artikel oor katte en ook hierdie een oor honde. LitNet-redaksie) Deurlopend bewys Shai, Isis en Ramsey waarom katte eeue lank spinnende terapeute is.

Positiewe lewensfilosofie: Opvallend en deurlopend (en soms letterlik) is dat dit nie saak maak hoeveel keer jy val nie, dis die opstaan wat tel. Madelein het my laat skater waar sy ’n paar maal aarde gekoop het en alhoewel nie een van die insidente eintlik voor gelag word nie, kon ek nie myself keer met haar kleurryke vertellings nie.

Ingesteldheid: Ek is soveel meer (al voel jy soveel minder). Glo dit!

Geloof: ’n Mens se siel is gemaak om te groei hier op aarde.

Navorsing: Die lysie agterin is ’n skatkis op sy eie.

Emmerskoplysie: In ’n gejaagde samelewing en met die onverbiddelikheid van die dood, skep geleentheid om ervarings saam met jou geliefdes te hê en doen dinge wat jy graag wil doen terwyl jy nog kán. En: lees Van vrees na vrede terwyl jy nog kan!

  • 3

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top