Hoe gaan dit met jou? Ek praat van Madelein die mens, nie Madelein die skrywer nie.
Dit gaan goed met Madelein die mens. My lesers is bewus daarvan dat ek ’n ongeneeslike vorm van kanker het en die beenkanker het ongelukkig weer begin groei, wat meer pyn en erger moegheid beteken, maar my behandeling word aangepas om hierdie nuutste groeifase te probeer fnuik. Steeds steier ek egter onder die vrag seëninge wat die Vader in genade oor my uitstort. Madelein die mens is gelukkig en vol vrede.
Dit is selde dat ’n boektitel – veral met bloedrooi letters – aangewend word om spanning te skep nog voordat ’n enkele woord gelees is. Ons almal ken immers die laaste twee strofes van die bekende wiegeliedjie. Hoe het jy aan Siembamba se storie gekom?
Die gedagte aan die storie het by my opgeduik terwyl ek die eerste deel van Moederland geskryf het. Die moord op die kwesbaarstes onder ons wek emosie op soos min en dis mos skrywers se kos. Daar is niks wat die lesers so blitsig laat blaai soos opgewekte emosies nie. Soos altyd was die vraagstuk oor die titel van die begin af daar en die gedagte het by my ontstaan om vanweë die aard van die boek óf die titel óf die tema van ’n wiegelied te gebruik. Groot was my verbasing toe ek sien dat niemand in die onlangse verlede Siembamba as titel van ’n misdaadfiksieroman gebruik het nie. Dis dan so ’n lekker bloeddorstige wiegelied. Nog groter was my verbasing toe ek in my navorsing oor die ontstaan van die liedjie gelees het dat die bewoording eens was: “Sien mamba, mamma se kindjie”, ensovoorts. Dit ontneem die liedjie van sy bloeddorstigheid aangesien dit die mamba word op wie se kop in die sloot getrap word. Aangesien almal die liedjie in sy oorspronklike, wrede vorm ken, dink ek egter dit werk baie goed.
Hoeveel tyd spandeer jy aan navorsing? En wanneer doen jy dit? Voor of gedurende die skryf van die boek?
Ek begin gewoonlik met my navorsing voor ek met die skryfwerk begin om te sien of dit ’n geskikte tema met genoeg ruimte vir ’n goeie storie is, maar ek wil byna sê dat die meeste van die navorsing tydens die skryf van die boek gebeur. In geheel kan my navorsing maklik 30% tot 40% van die tyd in die ontwikkeling van die manuskrip beslaan.
Net soos in Moederland raak Siembamba aan die moord op ongebore kinders. Hoe ontlaai jy ná ’n dag se skrywe?
Ek hou daarvan om ná ’n skryfsessie op ’n ander manier kreatief te wees. Ek moet egter gewoonlik ná ek geskryf het my liggaam ’n hele aantal ure gee om te herstel. Dan hou ek daarvan om borduurwerk te doen of te brei. Wanneer die storie sy einde nader, sal my kop egter soms nog steeds bloedige misdade bedink terwyl my hande die fynste blommetjies borduur.
Ná Donkerbos is dit duidelik dat Suid-Afrikaners reg is vir meer misdaadfilms. Skryf jy met ’n film of televisiereeks in gedagte?
Ek skryf nooit met ’n film in gedagte nie, maar ek geniet dit regtig wanneer lesers vir my sê my boek lees soos een. Van nature skryf ek baie beskrywend omdat die storie wel soos ’n film in my kop afspeel.
Ek hou daarvan dat jy nie vir Kaptein Vorster as fokaliseerder gebruik nie. Mindie trek veral die spanningslyn styf omdat sy hoog swanger is.
Ja, dit was myns insiens nogal ’n waagstuk om ’n hoog swanger vrou as fokaliseerder te gebruik, maar ek dink Mindie werk goed in daardie rol. Sy tree nie soos ’n swak dingetjie op wat haar verbeel swangerskap is ’n siekte nie – trouens, ek reken haar moederinstink laat haar soos ’n kwaai tierwyfie optree wanneer die geleentheid hom voordoen.
Jou titel en teks bou spanning voor die eerste moord. Ek dink byvoorbeeld nou aan die sin op bladsy 22: “Haar tweelingsuster se kraamverlof het pas begin en sy is fanaties daaroor om haar foon se battery gelaai te hou ingeval iets met die baba gebeur en sy ’n ambulans moet laat kom.” Beplan jy sulke sinne spesifiek of gebeur dit ná ’n dosyn boeke vanself?
Omdat hierdie ’n andersoortige roman is, moes ek honderde klein dingetjies in die teks inwerk om die verhaal voort te stu en die spanningslyn styf te hou. Dit was dus baie doelbewus.
Som jou boek in ’n paar sinne op.
Siembamba handel oor die ergste van dade wat die mens kan pleeg teenoor die weerloosstes onder ons. Dit handel oor familie-intriges en die wette wat geld vir dié wat finansies, goed en konneksies het versus dié wat daardie dinge nie het nie. Die boek is propvol liefde, haat, hebsug, die begeerte om wraak te neem en, natuurlik, moord.
Wat is die een vraag wat jy wil hê iemand moet jou vra oor Siembamba?
Ek reken ek is in my hart ’n romantikus. Ek sou graag wou hê iemand moet my vra wat gebeur het tussen Fritz en Mindie. En dan sal ek die persoon fluisterend vertel wat ek dink.
Wat is volgende vir jou?
Ek het my manuskrip vir 2024 reeds vir my uitgewer gestuur. Dit is heeltemal anders as enige iets wat ek al geskryf het, so, my hart sit in my keel daaroor. En dan het ek die soveelste versoek gekry om die Malan & Coetsee-span te laat herleef. Die lesers vertel vir my hulle verlang na Renata en Stefan en na Nico en Tiquin. Hulle sê dit voel soos lang verlore familie. Miskien, ’n mens weet nooit ...
- Foto: Izak de Vries