Doodsengel
Madelein Rust
LAPA
ISBN: 9780799395129
Jonathan Amid praat met Madelein Rust oor haar jongste boek, Doodsengel.
Madelein, baie geluk met Doodsengel. Jy is sekerlik een van die hardwerkendste skrywers wat ons het. (En daarby werk jy nog voltyds ook!) Voor ons Doodsengel bespreek: Jou Kanker schmanker het my diep geraak, en die boek is ’n topverkoper. Hoe gaan dit nou met jou? En bestaan daar vir jou iets soos skryfterapie?
Baie dankie, Jonathan. Dit gaan uitstekend met my. Ek sal in Julie weer tumormerkertoetse ondergaan om vas te stel of die kanker nog in remissie is, maar ek voel regtig goed. Skryfterapie is geweldig suksesvol, maar ek het Kanker schmanker nie om daardie rede aangepak nie. Dit is my vaste oortuiging dat daar ’n doel met die lelik in ’n mens se lewe is. Jy moet net jou oë oophou, anders sal jy dit nie raaksien nie. As daar nie ’n doel met kanker was nie, sou dit ’n tragiese vermorsing van my tyd en emosie gewees het en sou ek sonder enige goeie rede ’n hengse lot nuwe littekens gehad het. Die skryf van ’n boek om aan ander kankerstryders hoop te bied, was maar bloot ’n punt aan die einde van die hoofstuk oor kanker in my lewe.
Doodsengel is nommer ses, en wat my betref loshande jou beste. Het jy voor Lam ter slagting reeds aan Doodsengel gewerk? Was dit ’n doelbewuste besluit om weg te beweeg van die reeksformaat na die “standalone”?
Die saadjie vir Doodsengel is reeds tydens die skryf van Lam in my kop aangemeld. Cecilia Britz, my uitgewer by Lapa, het eendag terloops genoem dat sy, voor sy eendag finaal aftree, ’n boek wil “maak” waarin die hoofkarakter ’n vroulike moordenaar is. Die idee was vir my vreeslik lekker. Ek moet erken dat dit vir my gevoel het dis tyd om die span van Malan en Coetsee met vakansie te laat weggaan, dat ek wou wegbreek uit hul bande en vir Madelein as skrywer ’n ’n bietjie beter wou leer ken. Volgende jaar is hulle egter terug. Die lesers skree vir ’n einde waarin die twee hoofkarakters uiteindelik by mekaar uitkom.
Die titel van enige boek is natuurlik baie belangrik. Doodsengel is tegelyk treffend, enigmaties, vol onheil en broeiende duiwels. Van waar die titel? Hoe besluit jy gewoonlik op titels, en wie het ’n sê? Wat kom eerste: titel, idee of die manuskrip self?
My boeke se titels meld aan tydens die skryf van die boek. Elke boek se werkstitel is aanvanklik ’n nommer, maar soos die skrywery vorder, weet ek op ’n dag wat die boek se naam moet wees. Ek is tans besig om te werk aan Boek Agt vir 2020, maar die moontlike titel, Benedictus, sit reeds in my kop en broei. Dis byna asof al die gebeure in die storie in ’n tregter gegiet word – en dit wat by die smal punt uitkom, is die titel. Omdat ek baie herskryf, kan dit wees dat die titel egter later nie meer gepas is nie. Geen titel is dus vir my ’n heilige koei nie. Vir my moet ’n titel vir die leser ’n blik gee op die inhoud van die boek, amper soos ’n een-woord-opsomming. Dit moet ’n storie vertel en emosie (al is dit nou net nuuskierigheid) ontlok – soveel dat die leser nie kan wag om tuis te kom sodat sy of hy kan begin lees nie. Hoewel ek die titels uitdink, het my uitgewers baie beslis ’n sê daarin. Ek vertrou hul oordeel onvoorwaardelik. Doodsengel het haar aangemeld net so voor Magdalena haar derde moord gepleeg het.
Hierdie roman lees soos iets wat hom ’n ouderdomsbeperking van 18 of ’n “nie vir sensitiewe lesers nie”-etiket op die hals sou gehaal het nie te lank gelede nie. Was dit jou bedoeling om jouself en jou lesers uit ’n tipe gemaksone te haal met Doodsengel? Hoe sou jy die verhaal opsom in jou eie woorde, en wat is dit wat jou die mees opgewonde of senuweeagtigste maak oor die boek?
Doodsengel is die verhaal van ’n vrou wat herrys uit die as van haar kinderjare om dié wat seer het te probeer heelmaak en dié wat seermaak te keer. Dit is die reis deur ’n paar weke in haar lewe waarin sy alles verloor en haarself vind. Ek het die eerste hoofstuk van die manuskrip met groot verbasing deurgelees op daardie eerste dag van werk-aan-Boek-Sewe-van-2019, byna asof ek dit nie self geskryf het nie. Dit was vir my, ’n ietwat konserwatiewe Vrystaatse boorling, grafies en skokkend. Ek het dit vir my man voorgelees en hoewel sy oë gerek het, het hy gemeen ek moet nie daaraan verander nie. So ook my ma en my dogter. Ek het toe maar besluit om aan Madelein vrye teuels te gee. Die temas wat in die boek aangeraak word, is immers lelik. Om dit te “sugarcoat” sou oneerlik wees – en byna beledigend teenoor dié wat al deurgeloop het onder seksuele mishandeling, agtervolging, aanranding en dies meer. Dit is juis daardie grafiese komponent wat my die senuweeagtigste maak. Mens wil jou lesers nie vervreem nie. Ek is egter opgewonde oor die ongelooflike terugvoer wat ek tot dusver gekry het. Sommige vroue ervaar Magdalena as ’n vergeldende volksheldin wat veg vir dié wat geen stem het nie. Haar verwoestende kinderjare maak van haar iemand wat vertrou kan word; sy weet hoe die hel voel en daarom is sy die aangewese persoon om die swaard van vergelding te swaai.
Naamgewing in ’n Madelein Rust-roman is altyd ’n belangrike aspek. Hoe besluit jy op karakters se name? Vertel ’n bietjie oor Magdalena Bakkes, en haar rol as (een van) die doodsengele in die boek? Bonuspunte-vraag: Help jou kennis van die Bybel, en Bybelse karakters, om as inspirasie te dien vir stories, en vir name spesifiek?
My karakters se name daag meesal in my kop op terwyl ek besig is om te skryf, maar soms vra ek my gesin om te help. In Magdalena se geval het ek hulle gevra om sommer die eerste sterk Afrikaanse meisienaam waaraan hulle kan dink, hardop te sê. Die naam Magdalena was toe die gelukkige wenner. Ek proe altyd eers so ’n bietjie aan ’n naam en as dit vir my voel asof ek vir die volgende 360 bladsye met daardie naam sal kan saamleef, gebruik ek dit. Bonuspunte-antwoord: Nee, ek dink ek put my inspirasie vir name eerder uit dit wat ons volk nou al vir geslagte hul kinders noem. Daar is vir my niks mooier as ’n Afrikaanse naam nie.
Vir my word jou romans gekenmerk deur besonder treffende inleidings en veral eerste sinne. Doodsengel het die volgende inleidingsin: “Hy is dood.” Hoe besluit jy op wat sal werk om die leser van meet af te “hook”? Watter eerste sinne in romans is van jou gunstelinge?
Ek skryf die eerste sin altyd herhaaldelik oor. Van die oomblik dat ek begin werk aan die manuskrip tot op die oomblik wat ek die Send-knoppie druk en die manuskrip aan my uitgewer stuur, verander daardie sin gedurig. Die eerste sin moet allerhande vrae by die leser laat ontstaan sodat hulle net eenvoudig meer moet weet. In hierdie geval: Wie is “hy”? Waarom is hy dood? Hoe is hy dood? Waarom is hierdie dood so belangrik dat dit die eerste sin in ’n krimi is? Om die eerste sin te formuleer, verander ek in ’n leser. Een wat in ’n besige boekwinkel staan en probeer besluit watter boek (uit honderde moontlikhede) om te koop. Die titel en voorblad het my reeds sodanig geïnteresseer dat ek die boek uit die rak gehaal en die agterbladteks gelees het. Nou vou ek die boek oop en lees die eerste paragraaf, sommer net om te sien of die skrywer se skryfstyl my aanstaan. Die eerste sin moet my laat vergeet van alles – behalwe die nodigheid om antwoorde op my vrae te verkry. Ek het gou lukraak twee boeke van my boekrak af gegryp om eerste sinne te lees en ek skat dit was hierdie sinne wat my laat gryp het na my beursie toe ek hulle gekoop het.
“The decision to bomb the office of the radical Jew lawyer was reached with relative ease.” (John Grisham, The Chamber)
“Being named in Great-Grandma’s will was like hitting Bankrupt on Wheel of Fortune.” (Mary Connealy, Nosy in Nebraska)
Vertel ’n bietjie oor hoe jy te werk gaan om Bloemfontein as ruimte te ontgin.
Ek het aanvanklik oor Bloemfontein geskryf omdat dit die plek was wat ek die beste geken het. Daar het geen twyfel by my bestaan dat ek die ruimte, ná meer as veertig jaar daar, op ’n outentieke wyse sou kon ontgin nie. Daarby wou ek die Rosestad op die “map” sit, iets waaroor my Bloemfonteinse lesers vreeslik ingenome is. Die stad verander egter gedurig en daarom is Google en Google Maps deesdae my getroue metgeselle wanneer ek oor my hart se stad skryf. Dit wat egter nog lank dieselfde gaan bly, is die mense en die stad se gees. Dit is ’n wonderlike kombinasie van konserwatief en boheems as jy weet waar om te soek.
Jou skryfwerk word gekenmerk deur ’n sterk, alomteenwoordige belangstelling in trauma – fisiek, soos die liggaam pyn verduur, verwerk, en ook onthou – asook geestelike en emosionele pyn. Hoekom hierdie belangstelling? Tot watter mate probeer jy gesprek voer met jouself, eerstens, en dan met jou lesers, en is daar ooit ’n doelbewuste poging om lesers meer oor geweld en trauma op te voed, gegewe die land en tye waarin ons leef?
Vandat ek kan onthou, kon ek mense se leed intens aanvoel. Dit is ontsaglik steurend en uitmergelend. Dalk is dit waarom ek gekies het om eers in die regte te gaan studeer en daarna sielkunde. BIuris was ’n idealistiese drang om onreg te “fieks” en boewe aan die pen te laat ry; sielkunde was ’n begeerte om te verstaan wat met mense gebeur wat trauma beleef. Ek skat daar is ’n sterk komponent van bewusmaking in veral Doodsengel, amper asof ek mense moet herinner aan die boosdoeners in ons midde en dit wat oorbly van hul slagoffers. Ek vra myself gereeld die vraag: Fokus ons te veel op dié wat die misdade pleeg? Vergeet ons te maklik van dié wat ly?
Doodsengel doen vreeslik interessante dinge rondom die SAPD en die idee van geregsdienaars. Vertel ’n bietjie hoe jy die idee van die polisie en hul rol in Doodsengel kompliseer? Lesers wat nog nie die boek gelees het nie kan hierdie vraag oorslaan.
Kennisse in die SAPD het laat blyk hoe gefrustreerd hulle is oor hul onmag teen burokrasie, swak opleiding en allerhande vorme van politiek wanneer dit kom by die aankeer van misdadigers. Dit het die idee by my laat ontstaan van ’n vigilantebeweging binne die polisie waar die lede toegang het tot alles wat hul nodig het om reg in eie hande te neem. Hulle kan al die nodige inligting inwin om vas te stel of iemand wel skuldig is aan ’n misdaad; hulle kan van die misdadiger ontslae raak om tegelyk te straf en die publiek te beskerm; en hulle kan toutjies trek om seker te maak bewysstukke verdwyn om hul eie lede teen vervolging te beskerm. Byna iets soos ’n polisiemag binne die polisiemag, ’n beweging waar reg en geregtigheid nie aan bande gelê word deur burokrasie nie. Dit was vir my ’n ontsettend onrusbarende konsep. Ongelukkig is die toename in vigilantisme ’n aanduiding dat mense se frustrasievlakke versadigingspunt se kant toe staan. Dit is iets wat in die ope gebring moet word.
Sersant Linda du Plooy is ’n fassinerende karakter. Waar kom sy vandaan?
Dit is duidelik dat die een of ander trauma vir Linda gedring het om Die Klub, die vigilantebeweging, op die been te help bring en ek hoop die lesers vrees ook die onstabiliteit wat ek gevrees het gedurende die skrywery. Ek het nie ’n Linda du Plooy in gedagte gehad toe ek begin skryf het nie, en het mettertyd besef dat hierdie vrou tot enigiets in staat is in die naam van dit wat sy as reg en geregtigheid beskou. Haar verskyning in hoofstuk een was vir my ’n verrassing. Haar herverskyning later was nog ’n groter verrassing. Sy is vir my die verpersoonliking van die slagoffer wat geen hoop vir haar eie siel het nie en daarom met bitterheid en amperse nyd ’n stryd teen die wêreld stry.
Magdalena is ’n gerespekteerde sielkundige, ’n keuse van beroep wat haar beslis meer kompleks maak. Hoekom hierdie besluit? Daar is vir my as leser verskeie lae van diepe ambivalensie teenoor haar. Sy is meer as bloot slagoffer.
Heelwat oorlewendes van erge trauma kies om in die sielkunde te gaan studeer en ek het besluit om Magdalena in hul geledere te plaas. Daar is by sommige oorlewendes ’n drang om sin te probeer maak van die donker plekke in die mens se psige. Ander wil leer hoe om slagoffers van welke trauma ook al te probeer bystaan en sodoende hul pyn te help heel. Magdalena is, soos baie oorlewendes van ernstige trauma, iemand wat probeer verstaan sowel as probeer heelmaak. Natuurlik kompliseer dit ook hierdie karakter se lewe. Terwyl sy ’n stryd teen nuwe trauma stry, moet sy die fasade van die gerespekteerde sielkundige voorhou en veg teen die verwoestende wete dat haar lyding haar onbekwaam laat om ’n gebreekte siel heel te maak.
Myrtle Basson, die naaste ding aan ’n vriendin die afgelope dekade vir Magdalena, is beslis ’n karakter wat bybly.
Ek skat dit sê baie van my dat ek soveel van Myrtle gehou het. Dit was om die een of ander rede lekker om hierdie ongoddelike drinker, los-soos-Tastic-rys, hartseer, lojale vrou in my kop te hê. Sy is in baie opsigte die slagoffer van haar eie keuses. Enigiemand moet minstens een Myrtle in hul lewe hê, al is dit dan net as ’n volgehoue voorbeeld van wat om nie te doen nie.
Wollie Wolmarans, ou skoolvriend en nagklubeienaar, is een van die boeiendste karakters in Doodsengel. Hoe het hy vorm aangeneem?
Ek het eers iets anders vir Wollie in gedagte gehad in die storielyn, maar toe begin ek onverwags van die man hou. Hy was aanvanklik net boos, maar mettertyd het daar deernis jeens hierdie karakter in my opgestaan. Hy is kru, maar sag. Ook maar seergemaak, ook maar ’n slagoffer op sy eie manier, ook maar net ’n klein seuntjie wat die gate wat die lewe in hom geboor het, met geld probeer toestop.
Een manier waarop Magdalene letterlik terugbaklei is om die Oosterse gevegkunsvorm Tang Soo Do aan te leer. Jy spandeer genoeg tyd aan haar opleiding met die sensei-meester Jamie om dit totaal geloofwaardig te maak. Was dit vir jou lekker om hieroor, en ook oor ander onderwerpe soos vuurwapens, navorsing te doen? Hoe benader jy die navorsingsaspek van jou skryfwerk? Wat weeg swaarder: boeke of mense, of is dit altyd ’n kombinasie?
Ek kon beswaarlik wag om ’n gevegstoneel te skryf. Dit was heerlik. My dogter, Tanya, het tot onlangs Tang Soo Do beoefen en dit was juis tydens een van haar toernooie dat ek besluit het dat die hoofkarakter in Boek Sewe van 2019 Tang Soo Do moet gebruik om terug te veg. Ek het vele plesierige ure aan navorsing bestee, dosyne Tang Soo Do-video’s op YouTube gekyk, weer gekyk en nog ’n keer gekyk en elke gevegstoneel vir Tanya gestuur vir tegniese kritiek. Sy kon vir my in die fynste besonderhede beskryf hoe mens voel wanneer jy besig is om te veg. Dit is waarom ’n kombinasie van mense en boeke belangrik is wanneer mens navorsing doen. Jy kry die feite uit boeke en bronne op die internet, maar niks kom by ’n kenner wat die sintuiglike ervaring vir jou kan beskryf nie. Ek vors gewoonlik na terwyl ek skryf, maar ek verstaan daar is skrywers wat eers al hul navorsing afhandel voordat hulle skryf. Ek is bevrees ek sal dan nooit aan die skryf kom nie – dit is heeltemal te lekker om navorsing te doen.
Roland Logan, oftewel “Daddy”, is die tipe antagonis wat mens slapelose nagte gee. Hoe het jy hom maak werk as karakter? Het jy jou soms bang geskryf?
Ek het my gereeld kwaad geskryf aan Ronald Logan, eerder as bang. Soveel Ronalds daar buite, soveel van hul slagoffers wat gebroke lewens ly. Ronald is geskoei op die man wat dié wat hy as swak ervaar, probeer beheer en verwoes. Daardie man is herkenbaar aan sy minderwaardigheidskompleks en sy eie diepgewortelde vrese vir verwerping en mislukking. Ek het probeer vashou daaraan terwyl ek met Ronald omgegaan het.
Jy roem jouself op sterk vrouekarakters veral. Sien jy jouself as ’n feminis? Beskou jy jou fiksie as ’n soort aktivisme, en indien wel, dink jy dit maak ’n verskil?
As feministe kon sien wat in my kop aangaan, sou hulle my waarskynlik stenig. Ek is eerder ’n frilletjies-en-valletjies-meisie wat kommentaar lewer oor die lewe en mense help droom van wêrelde waar boewe op hulle jis kry en goeie ouens nooit sleg word nie. Daar is vir my niks wonderliker as ’n sterk manlike karakter nie. Wanneer ek leesstof koop, kies ek eerder boeke met ’n manlike hoofkarakter. Kom ek wees eerlik. Die enigste rede waarom my hoofkarakters vroue is, is dat ek nie seker is ek verstaan mans mooi nie. Ek sou nie reg aan hulle kon laat geskied nie. 😀
Jy ontgin dikwels vroulike seksualiteit as ’n “probleem” wat mans en vroue probeer “oplos” of vernietig. Hoekom dink jy is die sterk vrou, die vrou in beheer van eie seksualiteit, en die vrou wat nie terugstaan vir mans nie, so ’n groot probleem, plaaslik maar ook wêreldwyd?
My antwoord is ’n frilletjies-en-valletjies “Me-Tarzan-you-Jane”-een. Ek hoop die susterskap vergewe my. Ek het grootgeword in ’n era toe ma vreugdevol kinders grootgemaak het en pa finansieel na die gesin omgesien het. Die eenvoud self. Deesdae verdien ma meer geld as pa, kry makliker werk, neem die voortou as dit by seks kom (hoewel mans erken dat hulle dit vreeslik geniet!), kies om nie te trou nie; vroue verklaar hulself totaal en al onafhanklik van die een wat glo geprogrammeer is om die sabeltandtier van die grot se ingang weg te hou. As mens glo in die teorie van hierdie soort oerprogrammering, is die rede vir die probleem maklik om in te sien.
Doodsengel is vreesloos soos dit oopvlek hoe slagoffers van geweld selfmedikeer om hul pyn te verbloem. Kon jy jouself in hul skoene plaas, as vrou, as skrywer? Kan enige skrywer wat sy sout werd is, skryf sonder om beïnvloed te word deur wat in die wêreld om hom aangaan?
Ek dink skrywers wat hul sout werd is, is mense wat beïnvloed word deur wat in die wêreld aangaan. ’n Mens skryf met passie en oortuiging juis as jy geraak word deur pyn. Dink wat die resultaat sou wees as mens vir ’n kleurblinde sou vra om ’n sonsondergang te beskryf. Ek dink dis deur ’n vreemdsoortige genade (ek weet nie wat anders om dit te noem nie) dat ’n skrywer in staat is om haarself in die skoene van ’n slagoffer te plaas. Eers wanneer jy van die vrugte geëet het, kan jy die smaak beskryf.
Jy verken graag die “onmeetbaar dun lyn” tussen die lewe en dood. Wat dink jy gebeur as ons doodgaan? Watter onderwerpe is vir jou die moeilikste om oor te praat, en te skryf?
Die vraag wat mens seker eerste moet vra, is of iets so fenomenaal soos die siel sterflik is. Die liggaam, wonderbaarlik kompleks en uiters fragiel, ondergaan ’n biologiese proses van dekonstruksie wanneer die tyd aanbreek, maar wat gebeur met die siel wanneer daardie proses begin? Vir my is die dood bloot die draai van ’n sleutel in ’n slot. Ek dink nie ons is intellektueel toegerus om mooi te begryp wat ná ons dood met ons siel gebeur nie, maar ek glo vas dis die begin van iets onbeskryflik mooi. Miskien is my vaste geloof in die triomfering van die siel die rede waarom dit nie vir my moeilik is om oor enigiets te skryf nie. Terwyl ons aardgebonde is, moet ons probeer sin maak van dit wat is.
Dot Verster, tannie Dot, is vol empatie en lewenswysheid, en ’n baie belangrike figuur in Doodsengel, veral vir Magdalena. Die idee van ’n sielkundige wat gereeld haar eie sielkundige besoek, is een wat my interesseer.
Tanya, my dogter, gaan waarskynlik op haar oudag ’n tannie Dot wees. Sy is maar net 28 jaar oud, maar sy is gereeld my ma. Sommige mense word wys gebore. Elkeen van ons het ’n tannie Dot of ’n Tanya nodig, iemand wat sukkel om die mense vir wie hulle lief is te veroordeel en wat geduldig-empaties ’n keermuur word wanneer die gebrokenheid van die mens dreig om hul geliefdes te oorweldig. Ek dink verál sielkundiges het hul eie sielkundiges nodig. As hulle nie gehelp word nie, sou dit maklik wees om te verdrink in die leed van ander.
Jy verken ’n “nuwe soort bewustheid van die gebrokenheid van mense” in hierdie roman. Dink jy gebrokenheid is noodwendig net ’n slegte ding, of kan dit ons juis in staat stel om beter, meer etiese, en meer volronde mense te word?
Gebrokenheid is ’n ononderhandelbare komponent in die strewe na groei. Maar: Om daarin te slaag moet die mens sy fokus wegskeur van die gebrokenheid midde-in die krisis en fokus op groei. Eers wanneer jy leed se hand neem en saam met hom stap om te kyk hoe jy hom kan aanwend om te leer of te onderrig, eers dan kan jy hoop op groei.
Vrees en mag, en die wisselwerking tussen die twee, is oral in Doodsengel aan te tref. Wat maak jou bang? En wat doen jy wanneer jy met ’n spesifieke toneel, karakter of wending sukkel?
Ek vrees daardie eerste keer wat ek ’n leser teleurstel. Ek is nie bang vir kanker se terugkeer of spoke of hoogtes of geweld nie. Miskien beteken dit ek is in murg en been ’n skrywer. Wag, ek is so ’n bietjie bang vir slange. Wanneer ek vir meer as een skryfsessie lank sukkel met ’n toneel, karakter of wending, weet ek dat ’n koersverandering moet gebeur. Vroeg in my skrywersloopbaan het ek probeer om my storielyn en karakters in ’n netjiese boksie te sit en het ek myself gedwing om binne-in daardie boksie te bly. Vandat ek besef het dis futiel, sukkel ek nie meer so nie – ek beweeg bloot aan na ’n lyn wat beter werk.
Die wapens wat mense gebruik om te kry wat hulle wil hê is ’n tematiese gegewe wat jy uitmuntend ondersoek. Watter karakters se “wapens”, en hul eie hebbelikhede, was vir jou die lekkerste om uit te pluis?
Myrtle se drugs-of-choice, jonger mans en plastiese sjirurgie was prettig om te beskryf, so ook die wyse waarop Wollie vrees gebruik om te kry wat hy wil hê. Ek het dit geniet om te skryf oor Wollie se kroegmeisies en hoe hulle op ’n baie slim manier aangetrek word om te spreek tot die drinkers se drange na soveel meer as alkohol. Elke man begeer glo ook daardie kombinasie van soet meisie, dame en slet in een aantreklike pakkie. Blue se gebruik van die internet om op ’n virtuele wyse “buite” te kom en inligting aan te wend vir ’n doel wat sy waardig ag, was ook vir my heerlik om te beskryf.
Marius Viljoen is een van die min ligpunte wat mans betref in die roman, maar hy is geloofwaardig goed sonder om eendimensioneel te wees. Het hy diep in jou hart gekruip?
Ja, Marius is ’n engel van ’n man. Ek moes mooi dink hoe om hom sy waardes te laat behou in die aangesig van sy gevoelens jeens hierdie vrou met die bloed van vele aan haar hande. Hy is die soort man wat elke vrou nodig het. Sag maar sterk, beginselvas, sonder fieterjasies of geite, en vol empatie.
Doodsengel staan krities teenoor die gebrek aan ondersteuning en ordentlike toevlugsoorde vir slagoffers. Dink jy daar word genoeg gedoen in Suid-Afrika om die weerloses en gebrokenes te help?
Miskien weet ek en die gewone man op straat net nie van wonderlikhede in Suid-Afrika as dit kom by ondersteuning en toevlugsoorde nie. Die persepsie bestaan byvoorbeeld nog dat verkragtingslagoffers soos oortreders behandel word, dat hulle dikwels daarvan beskuldig word dat hul doelbewus uitlokkend was en daarom verdien het om verkrag te word. Hoeveel verkragtings word nooit aangemeld nie, juis vanweë hierdie persepsies?
Magdalena en haar ma het ’n seer, teer verhouding. Hoe verseker jy dat jou ouer-kind verhoudings so deernisvol en menslik moontlik op papier lees?
Hierdie soort skryfwerk kom uit die hart uit, sowel as uit dit wat mens hoor wanneer jy met jou vriende en vriendinne gesels oor hul verhoudings met hul ouers en kinders. Niks is mooier as ’n mooi ouer-kind verhouding nie, maar niks is so seer soos wanneer dinge verkeerd loop nie.
Doodsengel hanteer tydspronge en afwisseling tussen die jonger en meer volwasse Magdalena met gemak. Hoe uitdagend is dit eintlik om karakters soos Magdalena in verskillende fases van groei en ontwikkeling uit te beeld? Wat was die moeilikste om te skryf: Magdalene as jong dogter, tiener of volwassene?
Ek het soggens by die kantoor aan Magdalena die kind en tiener geskryf. Dit was gewoonlik tussen halfses en sewe-uur van Maandae tot Vrydae. Saterdae en Sondae het ek tussen vieruur en agtuur in die oggend oor Magdalena die volwassene geskryf. Dit was die enigste manier waarop ek dit kon laat werk. Dit was vir my die heel maklikste om oor Magdalena die tiener te skryf, maar al het ek nou hóé gesit en wonder daaroor, kan ek nie vir jou ’n goeie rede gee waarom nie. 😀
Vertel ’n bietjie oor die rol van die kerk, spesifiek die Katolieke Kerk, in hierdie roman. Dink jy die kerk het nog iets om te bied vir die man op die straat wat sukkel om kop bo water te hou?
Magdalena se ontnugtering met die kerk begin by haar ouderling-stiefpa wat sedig in die voorste gestoeltes van die NG Kerk sy plek volsit, maar sy vrou tuis aanrand en sy stiefdogter verkrag. Instinktief weet Magdalena dat daar iets groter is wat haar van haar pyn kan verlos en daarom onderdruk sy haar weersin en stap by die Katolieke Kerk op die hoek in om op haar eie te soek na troos en antwoorde – in weerwil daarvan dat die Katolieke Kerk met goeie reg bekend is vir die toesmeer van seksuele wandade met kinders. In hierdie verhaal kan die leser self besluit of sy absolusie vind, of sy troos en antwoorde vind. Wat wel duidelik word, is dat die priester ’n soort plaasvervangervaderfiguur word wat onvoorwaardelik omgee en weier om te veroordeel. Die konsepte van goedheid, liefde en godheid, eerder as die kerk self, bied vir my persoonlik troos. Sit die kerk nie maar binne-in elkeen van ons nie?
Hoe skryf jy oor geweld sonder om dit pornografies of ’n uitbuiting van die onderwerp te maak, en dus die grense van fatsoenlikheid te oorskry?
Ek was baie senuweeagtig oor juis hierdie ding. Aan die een kant het jy as skrywer ’n verantwoordelikheid om die werklikheid in al sy grusaamheid uit te beeld, maar aan die ander kant wil jy jou lesers nie vervreem met iets wat té grafies is nie. Die laaste ding wat ek ooit wil hê, is dat iets wat ek skryf, afgemaak word as doelbewus sensasioneel met die oog op verkope of ’n begeerte om kontroversieel te wees. Sover was daar gelukkig nog geen klagtes nie, hoewel vele lesers gesê het die temas is ontstellend.
Vergelding, wraak, geregtigheid en vigilantes, volop verby in ons plaaslike misdaadfiksie. Hoe hou jy dinge vars en treffend, en hoe vermy jy clichés?
Ons samelewing maak dit, hartseer genoeg, byna onmoontlik om mense te verveel met stories oor wraak en vergelding. Daar is soveel ongeregtigheid reg rondom ons en soveel ontelbare mense word daagliks geraak deur misdaad dat hierdie soort verhale met genoegdoening opgeslurp word. Ek het die hoop gekoester dat Magdalena Bakkes en haar Tang Soo Do ’n vars kinkel in die kabel sou wees.
Sou jy jou werk tipeer as ’n tipe betrokke literatuur?
Ek dink tog so. Jou vraag laat my vir die eerste keer daaroor nadink. Ek wil dit oorlaat aan elke leser om te besluit op welke wyse hy of sy wil omgaan met die temas van die verhaal. Of ek daarin slaag, is vir my onduidelik. Het ek vele van my lesers per abuis oortuig dat vigilantisme sy plek het in ons samelewing, of het ek niks daarmee te doen nie? Hierdie vraag moet ek vra op grond van die kommentaar wat na my kant toe kom.
Wie inspireer jou as mens, en as skrywer? Wie lees jy graag plaaslik en internasionaal? Het jy skryfhelde?
Wysheid en goedheid inspireer my as mens en as skrywer. Daar sit tog stukkies wysheid en goedheid in almal, en daarom inspireer die mensdom my in sy geheel. Jou vraag het my vandag tot daardie besef gebring – dankie. Kom ek wees nou maar eerlik – my skryfhelde is die mense wat my help om my boeke waardig te maak. Mense soos Chanette Paul en Jeanette Ferreira. Dan ook enige skrywer wat fabelagtige frases of woorde neerpen. Mense wat my nederig maak en van voor af laat besef dat mens nooit genoeg sal leer van skryf nie, al word jy so oud soos die berge. Ek lees graag Dibi Breytenbach, Martin Steyn, Ruth Rendell, Philippa Gregory, John Grisham en deesdae Zelda Bezuidenhout.
Ek stel baie belang in jou proses, veral ook omdat jy voltyds werk en ’n vrou en ma is. (Ek sou ’n man ook hierdie vraag wou vra. J)
Ek het tot 29 Maart 2019 ’n voltydse werk gehad. Dit het een maand geneem om my te laat besef dat ek nooit ’n voltydse skrywer sal kan wees nie. Ek funksioneer optimaal as ek te min ure in die dag het, as ek slegs ’n paar uur oor naweke het om te skryf. Dis byna asof ek ’n verhouding met skryfwerk het wat vurig kan wees net as ek dit verneuk met ’n day job. Ek is nou weer volstoom terug in die arbeidsmark, op soek na iets wat waardig is om my skryfwerk mee te verkul.
Wat is die algemene proses by Lapa vanaf die indien van die manuskrip tot die boek op die rakke verskyn?
Nadat my uitgewer die manuskrip gelees het, word dit na die manuskripontwikkelaar gestuur. Sy lees dit en skryf ’n verslag wat voorstelle oor moontlike verbeteringe bevat. Nadat ek die verbeteringe aangebring het, gaan die manuskrip terug na die uitgewer en as sy tevrede is met die verbeterde weergawe, stuur sy dit na die taalredigeerder. Ek ontvang na ’n paar weke die “skoon” weergawe van die manuskrip tesame met die weergawe waarin sy met die “track changes”-funksie in MS Word korreksies aangebring het. Nadat ek alles deurgewerk het en miskien ’n eiertjie of twee gelê het, gaan die skoon weergawe na drie proeflesers, wat die hele spulletjie deurlees en kommentaar lewer op elke denkbare fout wat hulle moontlik mag opmerk. Ek self tree ook in daardie stadium op as proefleser. Een van die proeflesers maak aan die einde van die proses die ander proeflesers se notas bymekaar en stuur vrae aan my indien nodig. Ek sal dan weer veranderinge aanbring en die nuwe weergawe aan die uitgewer terugstuur. Iewers gedurende hierdie wonderbaarlike proses is daar slim, kreatiewe mense wat die voorblad aanmekaartimmer. Ek kan gewoonlik uit ’n paar voorstelle kies, en as almal vanuit ’n bemarkingsoogpunt tevrede is, is die voorblad in die sakkie.
Speel die verwagtinge van lesers ooit ’n rol in jou skryfwerk?
My lesers se verwagtinge is die heel, heel belangrikste faktor vir my. Ek is van nature ’n storieverteller, nie ’n literator of skrywer nie. Al wat ek wil hê, is ’n leser wat weggevoer word na ’n ander wêreld en die boek uiteindelik met ’n behaaglike sug toemaak.
Die solidariteit tussen vroue in Doodsengel het my telkemale opgeval. Kyk jy reekse soos Big little lies en The handmaid’s tale, waar dit een van die hooftemas is, en daar ook na maatskaplike kwessies soos geweld teen vroue gekyk word?
Ek is waarskynlik The handmaid’s tale se grootste fan, maar ek dink dis omdat distopiese toekomsverhale my so fassineer. Doodsengel was die eerste verhaal waarin ek my begewe het in die idee van ’n soort susterskap. Ek was werklik verras oor hoe lekker ek geskryf het aan die solidariteit tussen die vroue in die verhaal. Miskien was die moeiteloosheid daarvan te danke aan die susterskap wat ek ontdek het gedurende my reis met borskanker.
Met ses fiksietitels agter die rug dink ek jy kwalifiseer om hierdie vraag te beantwoord: Is daar enige onderwerpe en invalshoeke wat jy ’n brandende begeerte het om self te takel, of om te sien dat ander skrywers hul sal ondersoek? Dink jy daar is genoeg diversiteit onder ons plaaslike krimiskrywers?
Die plaaslike krimiskrywers wat ek lees, is werklik wêreldgehalte. Uitvoerkwaliteit. Ek lees nie krities nie, het nog nooit werklik gewens vir groter diversiteit nie. Daarvoor geniet ek stories net te veel vir wat dit is – ontsnapping. Ek sal kommentaar oor groter diversiteit en nuwe invalshoeke oorlaat aan die slim mense. Madelein Rust moet egter oppas – ek watch haar. Sy het nog altyd gesê sy wil iets in elke genre op die rakke hê en tot dusver is dit net krimi’s en een niefiksie-titel.
Wat is volgende? Is daar vertalings of oorsese regte verkoop om ons opgewonde te maak?
Ek droom drome dat die drie vertaalde hoofstukke van Doodsengel ’n uitgewer iewers oorkant die waters se hart sal laat doef-doef maak. Intussen werk ek aan Benedictus en, wanneer ek ’n paar minute het, nog ’n krimi wat handel oor ’n verneuker wat voorgee om ’n waarsêer te wees.
Kommentaar
Die boek klink wonderlik interessant!
Ek is 'n toegewyde, verslaafde leser! Geniet ook Jonathan Amid se onderhoude.
Ek het so halfuur terug Doodsengel klaar gelees ... genade! Ek het gisteroggend met die boek begin en kon net niks anders doen as om hom klaar te lees nie. Skok, hartseer, woede het deur my gegaan met elke bladsy. Wat dit meer werklik maak is dat ons weet daar is sulke "varke" daarbuite sulke monsters ... Ek het letterlik op die punt van my stoel gesit met elke paragraaf.
Maar toe kon ek nie meer help nie, toe moes ek die tissues nader trek ... wat ’n mooi einde.
Madelien Rust jy is ’n wonderlike, fantastiese storieverteller; hoendervleis het oor my lyf uitgeslaan. Om die werklikheid so kras te kon skryf moes net so erg vir jou gewees het soos vir die leser. As ek die boek ’n rating moet gee is dit 100/100. Wonderlike skryfwerk.
Wag in spanning vir die volgende beste een!