Skrywer: Madelein Rust
Titel: Moederland
Uitgewer: NB-Uitgewers
ISBN: 978-0-7981-8319-2
Kom ek val met die deur in die huis: Ek lees nie toekomsfiksie nie.
Tot nóú! Madelein Rust se nuutste spanningsverhaal, Moederland, is so realisties uitgebeeld ek wou saam met die rebelle wapens opneem en die Gewapende Magte, wat onwettige babas doodmaak, beveg.
............
Madelein Rust se nuutste spanningsverhaal, Moederland, is so realisties uitgebeeld ek wou saam met die rebelle wapens opneem en die Gewapende Magte, wat onwettige babas doodmaak, beveg.
............
Voordat ek aandag aan die inhoud van Rust se tiende boek gee, wil ek by haar treffende voorblad vertoef. Net soos in haar reeks met Renata Malan en Stefan Coetsee – Mostersaad, Bloedlyn, Moordhuis, Lam ter slagting en My naam is Lego – pryk ’n Lara Croft-skoonheid met ’n vuurwapen op die voorblad. Met ’n mistige Angel has fallen / Olympus has fallen- agtergrond. Dit skree aksie en dié boek stel my geensins teleur nie.
Die brokkies nuusberigte voor in die boek skets die historiese gebeure sodat lesers voor die lees van die boek konteks kan kry asof ons saam met die skrywer deur die tye geleef het.
In 2070 staan Bloemfontein as Xín Xiánggăng bekend. Die Derde Wêreldoorlog en twee burgeroorloë het Suid-Afrika se stede in puin gedompel. Daar is ’n tekort aan kos, water en blyplek. Chinese en Russiese kaders, asook die elite floreer in slimstede terwyl gewone mense op die platteland stoei om aan die lewe te bly. Boonop word hul veiligheid deur bendes bedreig. Die volkslied en godsdiens is uit skole verban en tuisonderrig is wet omdat skole teelgrond vir opstande is.
............
Die Derde Wêreldoorlog en twee burgeroorloë het Suid-Afrika se stede in puin gedompel. Daar is ’n tekort aan kos, water en blyplek. Chinese en Russiese kaders, asook die elite floreer in slimstede terwyl gewone mense op die platteland stoei om aan die lewe te bly.
..............
Die Wet op Onwettige Geboortes en Swangerskappe is op 12 Maart 2063 gepromulgeer. Moederskap is dan ook die kern van die spanningsroman, en kenmerkend aan die skrywer delf sy diep in trauma – fisiek, geestelik en emosioneel. As ’n aktiewe pa (wat self ’n kind buite die eg verwek het) voel ek die hoofkarakter se pyn tasbaar in so ’n mate dat ek die boek moes neersit en my slapende seun stywer teen my moes vastrek voor ek verder kon lees.
In Moederland ontmoet ons die 27-jarige heldin, Jenesis Baron. Sy is die enigste dogter van die miljardêr Jericho. Soos baie fiktiewe heldfigure – James Bond, Jason Bourne en Jack Bauer – dra sy die JB-voorletters waardig. Haar naam beteken in Grieks “Geboorte” en “Begin”.
Sy skenk geboorte aan ’n tweeling wat voor haar oë in opdrag van generaal Ben Wagner, seun van die Minister van die Gewapende Magte, aan ’n Medi-Bot – wat haar pa vir die regering ontwerp het – oorhandig word om te elimineer.
Waarom het hierdie minister ’n obsessie oor babas wat buite die huwelik of sonder ’n permit verwek is? En hoe is Jericho betrokke by die minister se af been en gebrande gesig?
In ’n poging om Adam Bormann, ’n professor van politieke wetenskap, mee te deel dat haar seuns vermoor is, loop Jenesis in ’n skermutseling vas waar die Gewapende Magte studente in hul rûe doodskiet. Sy tel ’n vuurwapen op en skiet ’n kader koelbloedig dood. Hierdie heldedaad red baie lewens en lei daartoe dat sy na die 13de-eeuse Franse heldin Joan of Arc herdoop word. As ’n vyand van die staat vlug sy saam met die rebelle na die stormwaterstelsel van die ou stad.
Dit is nie verbasend dat Adam die nie-amptelike leier James Jackson is nie. En soos dit ’n goeie roman betaam, is daar ’n doring in die vlees – die blonde poppie Isabelle Johnson. Asook ’n romantikus, Henry Idris.
Om lesers vanuit die veiligheid van hul huise in ’n oorlog/oorlewingsatmosfeer te dompel, span die skrywer natuurrampe metafories in om die leser gedurig aan die moeilike lewensomstandighede gedurende 2070 te herinner. Ons lees ook gereeld van mikroskyfies, gevegsrobotte, hommeltuie en ander futuristiese tegnologie.
Ek gaan nie in hierdie resensie uitwei oor die sielkundige rypheid van die karakters of die vlymskerp spanningslyn nie, want enige leser wat al ’n Madelein Rust-boek gelees het, weet alte goed dat die skrywer die kuns vervolmaak het om naelbyt-spanningsromans neer te pen. Hierdie een is geen uitsondering nie.
Die skrywer het moeite gedoen met die navorsing van haar karakters se name, wat kenmerkend aan haar sterk Bybelse stem is. Tog was dit vir my steurend om soveel name wat met “J” begin, raak te lees: Jericho, Joan, Jakob, James Jackson, Johnson, Jasmyn.
...........
Ten slotte moet ek ook bieg, om nie partydig voor te kom nie, dat die skrywer van hierdie verhaal een van my persoonlike helde is. Beenkanker het haar nie gestuit om haar naam in die krimigenre te verewig nie. Al haar boeke was op die Nielsen-topverkoperlys. Selfs al sou sy ’n wiskundehandboek skryf, sou ek dit lees en geniet.
............
Ten slotte moet ek ook bieg, om nie partydig voor te kom nie, dat die skrywer van hierdie verhaal een van my persoonlike helde is. Beenkanker het haar nie gestuit om haar naam in die krimigenre te verewig nie. Al haar boeke was op die Nielsen-topverkoperlys. Selfs al sou sy ’n wiskundehandboek skryf, sou ek dit lees en geniet.
(Nota: Op 31 Augustus 2022 skryf Madelein Rust op Facebook dat toe sy verlede jaar met Moederland begin het, sy onseker was hoe lank sy gaan leef. Sommige dae het sy net ’n uur geskryf, ander dae twee ure. Sy het ook dae beleef waar sy glad nie kon skryf nie. Ek sal haar altyd eer vir haar deursettingsvermoë om, ten spyte van soveel pyn, vir ons lesers soveel leesgenot te verskaf. Dankie dat jy leef. En meer: Dankie dat jy hoop gee. Mag ons nog lank boeke met jou naam op die voorblad koop. Liefde-liefde.)
Kommentaar
Gelukkig sal ek nie meer daar wees om dit te vervaar nie.
"I never think of the future – it comes soon enough". – Albert Einstein