Kanker Schmanker deur Madelein Rust: ’n resensie

  • 0

Kanker Schmanker
Madelein Rust
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799384819

Madelein Rust se liefde liefde vir boeke en skryf kom al van skooldae af, waar sy toe reeds al wat boek is onder oë gekry het. Sy het uitgeblink in stelwerk en opstelkompetisies en het as jong vrou ’n aantal pryse gewen in die Bloemfonteinse Skrywersvereniging se jaarlikse skrywerskompetisie vir amateurskrywers. Nadat een van haar kortverhale, “Joy”, opgeneem is in Bateleur Boeke se skolemarkbundel, was die koeël deur die kerk en het sy haar hand begin waag aan die skryf van romantiese kortverhale soos “Tango in die Kuberruim” en “Skarlakenvrou”, wat in Huisgenoot verskyn het.

Haar debuutromon, Die 13de kaart, het in ulie 2014 op die rakke en verskyn en kort daarna op Nielsen se internasionale topverkoperlys. Dit is benoem vir ’n ATKT Woordveertjietoekenning vir spanningsliteratuur. Haar tweede roman, Monstersaad, het in Julie 2015 op die rakke gepryk en was spoedig ook op Nielsen se topverkoperlys. Bloedlyn, die opvolg op Monstersaad het in Julie 2016 verskyn en was ook ’n topverkoper.

Madelein span haar kennis van die sielkunde in om spanningsromans te skep, maar Kanker Schmanker, ’n outobiografie, is haar eie spanningsverhaal. Hierin laat sy die leser in haar binnekamer toe waar sy ’n intens persoonlike verhaal van lief en leed deel. Ek was aanvanklik versigtig om die eerste bladsy te lees, bang dat dit ’n neerdrukkende, hartseer verhaal (in ’n reeds so hartseer wêreld) gaan wees wat op my wag. Spoedig is ek verras deur Madelein se uitstekende manier van skryf; ’n ligte vertelling oor ’n ongelooflike swaar onderwerp. Sy neem jou op haar reis vanaf Dag 1 met die Groot K en ek as leser het maklik verlore geraak in hartseer, maar ook lighartige, geestige oomblikke soos sy deur haar emosies gewerk het om dié siekte die stryd aan te sê.

Natuurlik is daar ongelooflike hartseer oomblikke waar ek swaar gesluk het aan die knop in my keel, ek is immers ook ’n vrou wat gedink het vroulikheid sit in ’n mens se kurwes en dat die boonste bates die aanloklikste is. Dit is ongetwyfeld ’n lees waarmee élke enkele vrou kan identifiseer, met of sonder die direkte of indirekte ervaring van dié gevreesde siekte. Die eerlikheid van haar kinders, haar ma, familie en vriende en die seer wat hul deurgemaak het tydens Madelein se siekte, is emosies wat algemeen ervaar word en daarom is dit weereens ’n verstaanbare bekommernis waardeur hul moes werk. Myns insiens is dit maklik om selfsugtig te dink en dalk met tye op te tree in tye van siekte en sielswroeginge en verstaan daarom Madelein se aanvanklike gevoel jeens die diagnose en opsies. Wat ’n feit is, is dat almal naby aan ’n geliefde wat siekte deurmaak, diep geraak word deur die diagnose en behandeling. Dit raak ook hulle nie net die persoon wat die hartbrekende nuus ontvang nie.
Veral haar man, Jaun, se onbaatsigtige en opregte bystand en die eerlike emosievolle deel van die gevoelens wat hy as man ervaar het, het my diep geraak.

Madelein slaag daarin om wat ’n baie depressiewe, donker reis, vasgevang op papier, kon wees, te deel met haar gehoor, maar eerder verkies het om haar positiewe ingesteldheid weer te gee en dit ’n aangename leesreis te maak. Inteendeel, ek kon nie wag om saans die volgende paar hoofstukke te lees nie!
Behalwe dat ek self ’n groot katliefhebber en katmamma van vier bolletjies liefde is, is dit inderdaad ’n enorme vertroosting om ’n troeteldier te hê, dus kon sy dié toevoeging nie op ’n beter tyd maak nie.
Haar eggenoot, familie en vriende se ondersteuning en begrip vir haar vrese en hoe sy dit hantee (troetelname, besluite, vieringe ensomeer), het my diep geraak. Hoe sy haar tog deur siekte aangepak en hanteer het, het my diep geraak. Kanker Schmanker se lees was werklik inspirerend en verrykend en ek sal nog lank dié lees onthou.

Madelein is ’n oud-Bloemfonteiner wat in 2013 Johannesburg toe verhuis het. Sy woon daar saam met haar man, Jaun en twee katte, Whiskey en Shai. Die egpaar het saam drie dogters, Tanya, Lozaun en Leandri en ’n seun, Nico.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top