Foto: verskaf
|
Sêgoed van Johann de Lange “’n Jong digter skryf aanvanklik met sy verbeelding, met die genade van tegniek. Maar algaande begin hy meer uit ervaring skryf. Hy leer dat elke gedig eers geleef moet word en hy besef ook die prys wat hy moet betaal. Baie mag dit afmaak as ’n romantiese siening van die skrywersambag, maar daar is ’n prys: jou liefde vir die aarde en vir mense, jeug en skoonheid word sterker en meer genuanseerd soos jy onkeerbaar nader beweeg aan die dood. ’n Mens moet leer om afstand te doen, te kan laat gaan.” (Die Burger, 18 Oktober 1986) Skryf is harde werk: “Jy moet jou ambag ken: taal, woorde, woordeboeke, simboolwoordeboeke, lees en nogmaals lees. Ek plaas ’n hoë premie op tegniek omdat dit jou help om jouself akkurater uit te druk. Dissipline is noodsaaklik wanneer ’n mens werk met iets so ongevormd soos ervarings, drome of die onderbewuste.” “I don’t romanticise poetry. I’m a craftsman. Although poetry originates from the heart, your brain should take it further. Paradox fascinates me. There should always be tension in a poem ... between images and words.” “I don’t think I have written anything while I was happy. If I did, it was inferior.” “Ek glo ’n digter se taak is net om elke gedig wat hy skryf so deeglik as wat moontlik is op daardie stadium, te skryf. Die res is van die gode afhanklik.” “’n Mens kan nie ’n gedig vertaal as jy dit nie baie goed verstaan nie. Die manier waarop ek vertaal, is ’n vorm van close reading. Ek haal die gedig uitmekaar en die vertaling word ’n herinterpretasie. Jy moet weer ’n lesing van die gedig laat realiseer.” (Die Burger, 24 Julie 2007) Oor Sheila Cussons: “Vir my eie vorming as digter was en bly haar gedigte kosbaar. Sy was vir my ’n leermeester sonder dat sy dit geweet het, ’n standvastige vriend in ’n wêreld waarin ek my dobberend gevoel het. En sy was van ons eerste kennismaking (op papier en in die vlees) sonder twyfel jonger van gees as ekself en die meeste van my tydgenote. Sy het ’n ewige jeugdigheid behou en ’n onblusbare nuuskierigheid na die lewe. Met die gerfie briewe aan my het sy my met padkos gelaat vir die jare wat voorlê.” (Die Burger, 27 November 2004) Oor skryfskole: “Ek weet nie of ’n skryfskool van iemand ’n skrywer kan maak nie. Ek glo wel dat mens enigiemand béter kan leer skryf. En dat jy diegene met ware talent kan help om hulle stem vinniger te vind. Al wat ’n skryfskool die jong digter uiteindelik kán bybring, is tegniek. [...] Een stukkie raad gee ek sélf nou aan beginners: lees, lees, lees.” (LitNet ABSA Ketting) “My fokus met ’n skryfskool is dus eerder om voornemende skrywers beter lesers van hulle eie werk en van ander se werk te maak. Almal wat in ’n skryfskool sit, is daar omdat hulle ’n liefde vir letterkunde het. Maar nie almal gaan dit uiteindelik maak as skrywers nie. Nie eers dié met talent nie. Dit vat toewyding en determinasie en dikvelligheid om te slaag. Watter beter manier om jou liefde vir die vak te kan uitleef as om as ’n beter, ’n fyner leser van poësie daar uit te stap?” (LitNet ABSA Ketting) “Kyk, digters, net soos vroue, kan nooit werklik vriende wees nie. Hulle is afgunstig op mekaar ... Die gedigte kan saamslaap, maar ek dink dit is beter dat die digters hul plek ken. In iedere geval: Die afwesigheid van afguns is die Kainsmerk van ’n mindere digter.” “Soos predikante ’n gemeente gebruik om hul siele te red, word die poësie die medium vir die digter om neuroses te besweer. Die digter is ’n outo-psigiater ... En ons skryf natuurlik almal skaamteloos om roem te verwerf.” “Dis nie aangenaam om agter te kom jy skok mense nie. Dit gebeur dat jy so in ’n enklave leef dat jy nie agterkom hoe gewone mense dink nie, dat jou private mitologie nie hulle s’n is nie. Die skrywerswêreld is eintlik ’n onnatuurlike een, waar niks taboe is nie. En dan vergeet jy die buitewêreld werk anders.” “’n Mens moet voortdurend bewus bly dat die publiek jou werk anders gaan ervaar as jy self.” “Ek soek nou iets anderster. Ja ... ek soek oorrompelende ervarings. Ek dink ’n mens moet verby die banaliteite kom van net gewone lewe. Ek is op soek na wat iemand genoem het ravishing experiences. I want to be ravished, jy wil nie net ... jy kry dit met seks en met dwelms.” (Die Burger, 27 Februarie 2009) “Pryse het absoluut niks met die bedryf van skryf te doen nie, en kan trouens baie skadelik wees. Daar is skrywers wat stilgemaak is deur pryse, wat hulle mojo verloor het. Dis gesond om ’n prys net as ’n som geld te beskou, en nié as enige aanduiding van jou talent of die gehalte van jou skryfwerk nie. Dáárvan is jy sélf die enigste maatstaf.” (LitNet, onderhoud met Bibi Slippers 2011) “Ek het ’n ideale leser in gedagte wanneer ek skryf, maar die éérste leser van my gedigte is ek self – dís wie ek in die eerste plek moet tevrede stel, en ek is baie hard op myself. Nie dat ek kla nie; ek geniet die sukkel met die skryf báie meer as die voltooide gedig. Betekenis in die natuur is áltyd funksioneel (al vind ons dit ‘mooi’), en ons is die enigste spesie wat betekenis genereer vir die blote plesier daarvan.” (LitNet, onderhoud met Bibi Slippers 2011) Oor vertalings van gedigte: “Ek doen graag vertalings, omdat ek altyd as ek ’n mooi gedig in ’n ander taal teenkom, graag wil hoor hoe hy klink in my taal. En dan is vertaling ook baie goeie oefening. Dit dwing jou om na oplossings te soek, om nuwe woordeskatte te verwerf, nuwe digvorme. En dit leer jou ook – op wat seker as reverse engineering beskryf kan word – die fabrieksgeheime van ander digters. Ek doen vertaling in die droë tye wanneer ek sélf nie skryf nie. Dit hou jou hand in, by wyse van spreke. En dit hou my uit die kwaad, noudat ek te oud geword het daarvoor.” (LitNet, onderhoud met Bibi Slippers 2011) Een les wat Johann by André P Brink geleer het en waarby ander jong digters kan baat: “Een van die belangrikste dinge wat hy my bygebring het (benewens lees, lees, lees!), is om telkens wanneer ek van ’n gedig hou, te probeer vasstel wáárom ek van die gedig hou, en hoe die digter sy of haar effekte bereik. Ek het amper groter plesier daaraan om gedigontledings te lees as die gedigte sélf. Ek wil weet hóé die digter doen wat hy doen. So brei jy jou tegniese register uit.” (LitNet, onderhoud met Bibi Slippers 2011) “Skryf het my ’n wonderlike, verrykende lewe besorg, vol mense wat ek andersins nooit sou leer ken het nie. My beskeie talent het vir my deure oopgemaak na vriendskappe met werklik groot skrywers en digters in ons taal, en met visuele kunstenaars ook, en dít verruil ek vir niks nie. In daardie sin dan sal ek nie, wíl ek nie, van die poësie afstand doen nie. Selfs al hou ek op met skryf, sal ek nooit ophou lees nie.” (LitNet, onderhoud met Bibi Slippers 2011) Wat was sy grootste prestasie? “Ek kan op geen prestasies aanspraak maak nie. Alle goeie dinge wat ooit met my in my lewe gebeur het, was sonder my toedoen, en dikwels ten spyte van myself. Ek het ’n báie toegewyde beskermengel.” (Die Burger, 13 Januarie 2012) “Skryf is baie belangrik in my lewe, maar ek sal dit nie die groot liefde van my lewe noem nie.” (Die Burger, 13 Januarie 2012) Oor watter gawe sou hy die graagste wou beskik? “Hieroor het ek baie gepeins: rykdom, roem, ewige jeug? Maar enige van daardie drie in mý hande sal nie ’n goeie idee wees nie. So eerder iets soos die vermoë om enige siekte onder die son te kan genees.” (Die Burger, 13 Januarie 2012) Wat presies is ’n gedig? “Oor presies wat ’n ‘gedig’ is, word daar al eeue lank gekibbel. Vir my is daar rofweg drie kenmerke wat in verskillende verhoudings in elke gedig voorkom: Die vooropstelling van die taal, die gebruik van metafore en ander stylfigure, en ’n uitbuiting van die ritmiese aspekte van taal. Wanneer jy ’n gedig beoordeel, moet jy kyk wat die digter wil bereik, watter formele riglyne hy gekies het en in watter mate die gedig die absoluut beste gemaak het van daardie riglyne.” (Rapport, 9 Februarie 2013) Oor die “publikasie” van gedigte deur ieder en elk op byvoorbeeld Facebook: “Die huis van poësie het baie kamers. As iemand vir eie plesier skryf, is dit in orde, maar as daai mens besluit wat hy of sy skryf, is poësie, gaan dit gemeet word aan sekere standaarde. Dit is moontlik dat die skrywers van ‘swak’ poësie kommersieel suksesvoller loopbane kan hê as ernstige digters wat harder werk. Soos by populêre Afrikaanse musiek. Bitter min van die suksesvolle sangers kan twee ordentlike reëls aanmekaarlap, maar hulle verkoop duisende. Dis ’n bitter pil, maar ons moet hom maar sluk.” (Rapport, 9 Februarie 2013) “As laerskoolkind was dit vreemd genoeg die humoristiese gedigte wat my getrek het, en ek kies as vriende mense wat my laat lag, mense wat humor geniet, hoe donkerder hoe beter. Is humor nie dalk een van die menslikste van eienskappe nie?” (Beeld, 8 Oktober 2013) “Jy is nie net ’n digter wanneer jy gaan sit om te skryf nie, maar elke oomblik van jou dag, in alles wat jy dink en doen. In alles wat jou brein en sintuie registreer, is jy is besig om te skryf. As dit nie die geval is nie, moet jy maar ophou.” (Johann de Lange op Facebook) Oor die kwatryn: “My ervaring is dat die kwatryn saam met die skryf van ander, langer verse ontstaan; dikwels doen ek dit as vingeroefening om skryffiks te bly. Ek dink ook die kwatryn bevredig die moderne tydsgees, waar ’n mens nie altyd die tyd het om aan die lees van ’n langer vers of bundel te bestee nie. Dit dien as ’n soort voëlvlug oor die temas waarmee die digter gemoeid is.” (Netwerk24, 16 Augustus 2020) Hoe gaan hy te werk met die skryf van ’n kortverhaal? “Anders as met gedigte, kan ek nie aan ’n verhaal begin skryf as ek nie die slot het nie. Die slot kan verander gedurende die skryfproses, maar ek móét dit hê voordat ek begin skryf. Ek beplan nie ’n storie vooraf skematies nie, ek dink oor die storie, die karakters, ek loop daarmee rond totdat ek ’n sin of ’n paragraaf in my kop hoor, die stém van die verhaal. En dan volg ek dit.” (Onderhoud met Wyn Roux op Kaapse paragrawe) |
Gebore en getoë
Daniël Johannes de Lange is op 22 Desember 1959 in Pretoria gebore – tussen die sterretekens van die boogskutter en die steenbok: “jagter én prooi, een aspek van die paradoks wat ek in my poësie ontgin”. Sy ouma, by wie hy die grootste deel van sy jeug deurgebring het, het hom Kas genoem en op hoërskool is hy Daniël genoem. Omdat hy saam met ’n neef wie se naam ook Daniël is, op universiteit was, het hy besluit om homself te hervernoem na Johann.
In ’n onderhoud in Die Burger van 27 Februarie 2009 vertel Johann dat hy, soos enige kunstenaar, “’n unhappy jeug gehad het”. “Ek het grotendeels by familie grootgeword. Ek en my ouma het dikwels saam van gesin na gesin verhuis, want sy het my basies grootgemaak. Ek het baie min kontak gehad met my ouers, en die paar keer wat ek wel met my pa kontak gehad het, was dit nie altyd gelukkige omstandighede nie.”
Hy bring sy skoolloopbaan hoofsaaklik op plase deur. Sy eerste skool was Wonderboom-Suid Laerskool en hy woon daarna nog ses ander laerskole by. Johann voltooi sy hoërskoolloopbaan in 1977 aan die Hoërskool Hans Strijdom op Naboomspruit. Hy bly in die Sekelbos-seunskoshuis en gaan naweke saam met twee neefs na hulle plaas naby Sterkrivier. “[My] vyf jaar in die Waterberge was rustig, vol gebeure, en redelik ongekompliseerd. Die enigste werklike bekommernis was om ’n ordentlike rapport plaas toe te bring. Die sambok is ’n harde leermeester” (in ’n biografiese skets aan NALN).
Johann begin in standerd 4 onder aanmoediging van Frik Pieterse verse skryf, “erg onder die invloed van Jan FE Cilliers”. Sy eerste gedig handel oor die vier seisoene. Hy leef, eet, slaap en skryf gedigte deur sy skooljare. In standerd 8 kry hy ’n tikmasjien present en publiseer gedigte in die hoërskool se koerant, Die Leeutjie. Hierdie gedigte was meestal satiries van aard en “met presieuse aandag bestee aan verbeeldinglose ryme”.
Johan vertel aan Wyn Roux (op Kaapse paragrawe) van sy vroegste herinneringe van skryf: “Die vroegste herinneringe wat ek het van gedigte skryf is in die laerskool, standerd 1 of 2, ek kan nie vir seker sê nie. My poëtiese model op daardie stadium, vreemd genoeg, was AG Visser. Ek het leer skryf op instinktiewe manier deur my gunsteling digters & verse na te boots. Op dié manier tel jy waardevolle ondervinding op wat formele elemente soos rym, metrum, progressie aanbetref.
“Daar is baie dinge wat as prikkels kan dien vir die skryf van ’n gedig: ’n nuwe ervaring, iets wat mens sien of hoor, die lees van ’n gedig kan nóg ’n gedig in jou afvuur. Die lees van nie-fiksie is dikwels baie stimulerend, & ek is baie lief vir optelgedigte – die Engelse ‘found poetry’ sê dit vir my beter. ’n Paragraaf of twee prosa wat die kern van ’n gedig bevat & wat jy dan omwerk tot gedig. Hierin was Van Wyk Louw my model.
“My belangstelling in prosa het min of meer dieselfde verloop gehad. Op hoërskool was ek gek oor die stories van PH Nortje & het hope stories geskryf waarin ek sy karakters, veral die twee seuns, deur ander avonture geloods het. En nee, daar was niks eroties omtrent dié stories nie. Later van tyd het ek wel straight porno-stories (met ’n gay karakter wat gewoonlik iewers wreedaardig verkrag word – as toegif aan die mores van die tyd) geskryf wat in die koshuis gesirkuleer het. Die tekste sélf het ek nooit terug gekry nie.
“’n Ander skrywer wat ek geweldig bewonder het, was CM van den Heever. Ek onthou dat ek ’n high camp weergawe van Somer begin skryf het deur sommer in die boek self uit te krap & sinne te verander. Ek het dit ongelukkig nooit voltooi nie. Daar was altyd iets anders wat ek wou probeer.”
Verdere studie en werk
Na matriek is Johann na die Universiteit van Pretoria, waar hy in 1978 die eerste jaar van ’n BSc voltooi. Hy skakel egter die volgende jaar oor na ’n BA en voltooi sy eerste jaar aan die einde van 1979. Gedurende sy tweede jaar ondervind hy egter persoonlike probleme en staak sy studies in 1980. Daarna gaan werk hy by Volkskas Bank as bankklerk. “[Ek] het geen besondere liefde vir bankwerk nie, benewens [my] liefde vir geld. Dit was bloot die eerste werk waarvoor [ek] aansoek gedoen het.” Hy vertel aan Alice Coetzee van die Pretoria News dat hierdie 8-tot-4-werk hom stimuleer as kreatiewe skrywer: “Daar is ’n spanning tussen die twee. Die werk is vervelig en geroetineerd, nader aan die einde van die dag is ek so moeg dat ek nie lus is vir skryf nie. Dan raak ek depressief en die depressie stimuleer my om te skryf.”
Tydens sy studiejare aan die Universiteit van Pretoria is hy stigterslid van die literêre tydskrif Ensovoort. In die negentigerjare bied hy ook ’n kursus in kreatiewe skryfwerk aan by Unisa se Instituut vir Voortgesette Opleiding, en by geleentheid ’n poësiewerkswinkel by die Noordwes-Universiteit. Na sy verhuising na Kaapstad bied hy ook vir twee jaar ’n poësiewerkswinkel by die Universiteit van Kaapstad aan.
Johann gaan werk later by ’n boekhandelaar in Pretoria, asook by Exclusive Books in Kaapstad.
In 1979, tydens sy tweede jaar op universiteit, sluit hy by die universiteit se letterkundekring aan en besef hy vir die eerste keer hoe swak sy gedigte werklik is. Hy publiseer in die groep se lyfblad vlieg, en die derde uitgawe van die blad word verbied as gevolg van Johann se verhaal “Die seduksie” en Koos Prinsloo se verhaal “Skrot”. Hulle twee, sowel as die redaksie, verskyn voor die tugkomitee en almal ontvang ’n opgeskorte vonnis. Johann is kort voor hierdie insident tot die redaksie van die studentekoerant Die Perdeby toegelaat, maar word dadelik geskors en verbied om in die redaksie van enige universiteitspublikasie te dien.
Hy begin in 1980 gedigte aan André P Brink stuur vir kritiek en ontvang aanmoediging en waardevolle leiding. Hy publiseer vanaf 1980 in Standpunte en verse verskyn onder meer ook in spado, Ensovoort, The bloody horse en Graffier.
Johann debuteer in 1982 by Human & Rousseau met Akwarelle van die dors. Hierdie bundel word in 1982 met die Ingrid Jonker-prys bekroon. Daarna volg Waterwoestyn (1984), Snel grys fantoom (1986), Wordende naak (1988), waarvoor hy die Rapport-prys vir Poësie in 1990 ontvang, Nagsweet (1991), Vleiswond (1993) en Wat sag is vergaan (1995). Hy maak in 1996 sy kortverhaaldebuut met Vreemder as fiksie en in 2000 verskyn Tweede natuur. Laasgenoemde handel oor sy ervarings van die rave-toneel, Ecstasy en wat daarmee gepaard gaan.
Johann is saam met Antjie Krog die samesteller van Die dye trek die dye aan: verse oor lyflike liefde en ook Soort soek soort: ’n versameling alternatiewe ervarings.
Johann verduidelik die ongewone titel van sy eerste bundel, Akwarelle van die dors, só: “’n Akwarel is ’n waterverfskildery. Dit is ’n paradoks dat ’n mens met water die dorse – tekorte – in die lewe skilder.” Oor die inhoud van die bundel brei hy as volg uit teenoor Mickie Pistorius in Die Transvaler van 23 Julie 1984: “[Ek] dig graag oor die wisselbaarheid van die mens en die natuur. Soms handel ’n gedig oppervlakkig oor die natuur en as ’n mens dieper lees, handel dit oor die mens. Elke klein prosessie wat in die mens plaasvind, vind op groter skaal in die natuur plaas. Dit teleskopeer wyer uit – van die besonderse na die universele.”
Oor Akwarelle van die dors het André P Brink in Rapport van 16 Januarie 1983 geskryf dat daar netheid en ekonomie rondom die gedigte in hierdie bundel is – iets wat heelwat goeds vir die toekoms beloof.
“Die mooi gekose titel kom uit ’n vers van Lucebert, waaruit ’n vergeefse hunkering tot vereenselwiging met die andere spreek: vergeefs, omdat die dors nie met water geles kan word nie, maar hom moet tevrede stel met waterverf. In die akwarel kan hoogstens die ‘dolsinnige’ dors van die mannetjiesby geteken, verbeeld word.
“Be-tekening en beeldvorming karakteriseer dan ook uit wans uit die werk van Johann de Lange: vanaf die flaminke van die openingsgedig met sy knap oorskakeling van ding na beeld tot by die jongeling se bemoeidheid met die dood, wat uit heelparty gedigte spreek; nie altyd die bestes nie, hoewel ’n voortreflike vers soos ‘Aardlief’ daarby hoort.
“Die patroon van teenstellinge (ook teenstellinge tussen noemer en benoemde, woord en ding) wat in hoë mate hierdie verse bepaal, lei soms tot werklik vernuftige verdigtinge, soos in ‘Verlies is skoner’:
“Verlies is altyd skoner as besit:
eie tande beter as kunsgebit;
ek byt vas ter wille van jou:
ek wil jou net so graag behou:
“Die jukstaposisie ‘verlies’ met die ‘eie’, deureenspel van hê en nie hê nie, van ek en jy, uiteindelik ook van woord en stilte (want die gedig eindig net so, met ’n dubbelpunt, teen die oewer van die swye), openbaar opnuut ’n digter wat sy dig ken. [...]
“De Lange se vermoë en gebreke blyk goed uit die verskil tussen ‘Leipoldt 1’ en ‘Leipoldt 2’: die eerste ’n geskakeerde spel van nuanses, van verskillende blikke op Leipoldt wat in sy uitgedeeldheid aan andere ‘die bitter sap van eensaamheid’ behou, die tweede nogal ’n moeisaam-Freudiaanse gebéúr met woorde.
“’n Kenmerkende aspek van die bundel se werskaf met teenstellinge, met die ek gestel teenoor geliefde, lewe, ruimte of dood, is die bemoeienis met aftakeling en tot niet gaan: ook hier, egter, slaag dit soms (‘Futuris’), soms nie (‘Sloping’).
“Kortom: ’n bundel met vele gebreke, maar ook met ’n klompie uitstekende bevestiginge van talent; veral ’n vermoë om spits en suinig met woorde om te gaan. Ietwat te vroeg gedebuteer? Kan wees. Maar in party van die akwarelle is die dors tog oortuigend verduursaam.”
Sy tweede bundel, Waterwoestyn, se titel is net so ongewoon, en soos die titel aandui, wys dit na uiterstes soos om alleen te wees tussen baie mense en tekorte te ervaar, al is daar oorvloed. Johann is lief om waterbeelde in sy verse te gebruik.
Volgens TT Cloete (Volksblad, 1 September 1984) is Waterwoestyn ’n matige vooruitgang op sy debuut, maar dui dit tog dat hy ’n digter van verskeidenheid is.
“’n Kenmerk van die bundel is die oortuigend voltooiende slotsom waartoe so baie gedigte kom. Byvoorbeeld die ballade-agtige ‘Gesprek’. Absurd is dit in die pragtige ‘Aktrise’, met sy eweneens vinnige verloop. Met ’n stuwende verloop is ook ‘Landskap’, wat van die vloeibare na die strakke beweeg. [...]
“Party gedigte rym, en dan bewys De Lange dat die rymgebruik nie alleen ’n klankwaarde het nie, maar veral ook ’n semantiese, soos in ‘Vrou’ met sy veelvoud van assosiasies deur die rym. Die meeste gedigte is egter rymloos, maar dikwels nietemin met ’n herhalingspatroon of -patrone wat in funksie met die rym ooreenstem, byvoorbeeld ‘Snoer’, met sy veelvoud van ‘kleur’-woorde en sy variante wat aan rymgebruik verwant is.
“Sommige gedigte is nog kragloos en staan in skerp kontras tot dié wat ’n sterk verloop en kragtige slot het. Veral teen die slot is daar heelwat flouer verse, maar oor die algemeen is dit ’n goeie tweede bundel van ’n jong digter wat gesteld is op versorgde poësie. Daar is genoeg mooi gedigte in Waterwoestyn.”
In 1987 skryf hy ’n gedig “Skerpskutter” en stuur dit in vir die wedstryd Anastasia del Pino Memorial, wat vanaf die Karibiese Eilande georganiseer is, en hy is een van elf wenners van die Pankrátor Poeta Germán Pardo Garío-prys. Sy gedig is in ’n internasionale bundel opgeneem. Hy ontvang ook ’n Avanti-toekenning vir sy draaiboek oor die lewe van Ingrid Jonker, getiteld Verdrinkte hande.
Oor Snel grys fantoom wat in 1986 verskyn het, skryf Joan Hambidge in Die Burger van 10 Desember 1986 dat dit ’n indrukwekkende en kragtige bundel is wat Johann as toonaangewende digter van die jare tagtig vestig. “Terwyl daar nog iets eteries, en selfs ‘esteties’, aanwesig is in sy eerste twee bundels, is hierdie ’n driftige bundel. Die digter het as ’t ware nou sy ‘eie stem’ gevind en die menslike paradokse (lewe/dood) word met dieselfde kompromislose aggressie ontgin as by Sylvia Plath.”
JC Kannemeyer (Die Burger, 2 Augustus 1990) laat hom as volg uit oor Johann se volgende bundel, Wordende naak (1990): “Alhoewel ’n mens voel dat De Lange nie altyd daarin geslaag het om alle literêre verwysings in Wordende naak sinvol in sy eie verse te benut nie en ’n kragtiger stem dikwels sy eie woord verdof, toon die bundel in sy geheel met die sterk vormgewing en beeldende vermoë ’n vooruitgang op Snel grys fantoom. Die eksplisiete beelding van sy eerste bundel en die estetisering wat Waterwoestyn en sy digterskap as sodanig bedreig het, is hier heeltemal afwesig.”
TT Cloete (Beeld, 6 Augustus 1990) beskou Wordende naak as Johann se beste bundel tot op daardie stadium. Die bundel verteenwoordig ’n beduidende vooruitgang in sy werk en is ’n groot bydrae tot die Afrikaanse digkuns: “Dit is in een enkele sin ’n bundel van goedversorgde, delikate, diepsinnige en uiters mooi verse. Slegs enkele korter gedigte weeg nie op teen die meerderheid nie, maar die uitstekende bundel kan hulle verdra.”
Na die ontvangs van die Rapport-prys in 1990 vertel Johann aan Hans Pienaar in Rapport van 5 Mei 1991 dat hy verras was om die prys te kry: “Dit is vir my baie bemoedigend dat ’n establishment-koerant ’n digter soos [ek] bekroon. My digkuns dra wel die uniform van konvensie, omdat dit konvensionele poësie met streng ryme en ritmes naboots, maar dis tog in ’n mate subversief.”
Nagsweet wat in 1991 gepubliseer is, was voor publikasie al in omstredenheid gehul. Die titel is twee maal verander voordat daar op Nagsweet besluit is. Tafelberg Uitgewers het die bundel afgekeur nadat dit reeds vir publikasie aanvaar is, vanweë die Walter Battiss-waterverfskildery op die omslag wat ’n taamlik realistiese afbeelding van ’n penis toon.
Johan vertel dat hy besluit het om die waterverf van Battiss as omslag te gebruik. “Dit bestaan uit twee panele wat elk die naakte onderlyf van ’n man uitbeeld – toevallig albei gekleurd. Ek het uit elkeen van die panele ’n man gekies vir die voor- en agterblad. Ek kan nie sien dat ’n kunswerk van Battiss, ongeag die erotiese inhoud daarvan, enigsins aanstootlik of obseen kan wees nie” (Beeld, 7 Desember 1990). Johann was bereid om twee alternatiewe omslae voor te lê, maar Tafelberg het die voorstelle verwerp en daarop aangedring dat die boek gewoon ’n tipografiese omslag kry. Hy het toe besluit om sy bundel elders te laat uitgee en Taurus het dit in 1991 gepubliseer.
“In vergelyking met Wordende naak, sy bundel wat in 1990 verskyn het, word Johann de Lange se Nagsweet haas uitsluitlik aan die homo-erotiese en die homoseksuele ervaring gewy,” het JC Kannemeyer in Die Burger (25 Junie 1991) geskryf. “Dit handel, volgens die drie motto’s uit Whitman, Lorca en Ginsberg in die begin, oor die liefde wat op die bladsye van die boek neerslag vind, ’n diaboliese liggaamlike wellustigheid waarop die bundeltitel veral slaan, en ’n oorgawe aan die naakte liggaam in sy seksualiteit.”
Kannemeyer het verder geskryf dat ons basies hier, “ten spyte van die ‘gewaagde’ tematiek, te make het met ’n oppervlakkige indrukspoësie, ’n literêre voyeurisme wat ’n uiterlike skittering vertoon, maar nie ’n verborge geheim bevat nie en dikwels ook as gevolg van ’n verwarring in die beeldspraak die leser onbevredig laat. Voorbeeld hiervan is ‘Aars poetica’ waarin De Lange Opperman se bekende ‘Digter’ en ’n vers uit Kuns-mis as basis gebruik. Wat egter na ’n ketting verwante skeepsbeelde lyk, word deur die botsing tussen ‘opgetel’, ‘geswolle poort’ en ‘skuit’ ’n voorstelling wat nie klop nie, terwyl die ‘steil mas/van bloed’ weer ’n geval is waar die beelding op sigself ontoereikend is en die digter dit van buite met die ‘vleeslike’ laag moet laai. Waar die beelding meer bevredig, is die gedigte oortuigender, soos in die strak, gelaaide taal van ‘Preie’. In sy geheel verteenwoordig Nagsweet egter ’n insinking in De Lange se digterskap.”
In Beeld (10 Oktober 1991) skryf Joan Hambidge vir haar is Nagsweet dié erotiese deurbraak in Afrikaans omdat geen straight, let alone gay digter wéér ’n erotiese vers sal kan skrywe sonder om by dié bliksemverslag verby te kom nie.
“Taurus moet geloof word vir sy manmoedigheid. Dis ’n wonderbaarlike teks wat die leser nie koud sal laat nie, vandaar die titel Nagsweet, meen ek.
“Want die Nagsweet in hierdie bundel handel nie net oor die adrenalien wat die spreker in sy cruising kry nie; dit betrek ook die dood (veral in die lieflike eerste afdeling met sy beheptheid van die eindes van rolprentsterre én kultusfigure. Veral ‘Calvin Klein’, p 20, verdien uitsondering).
“Die Nagsweet van die bundel het veelal te make met die seksuele – en meer spesifiek die homo-erotiese – wat by De Lange ’n obsessionele verkenning van die teks-as-liggaam word. Die gedig word ’n fallus/liggaam wat aan die leser aangebied word – hierom sal/gaan dit skok of walg of aantrek.
“Ek ken geen teks in Afrikaans wat die kontrak tussen teks en leser só verseksualiseer nie. Roland Barthes se The pleasure of the text word hier tot sy uiterste gevoer.
“Hierdie gedig is nie geïnteresseer in die gaping tussen die liggaam én kledingstuk nie. Nee. Dit word eerder ’n volledige ontkleedans wat oortuig juis omdat De Lange so vaardig dig. [...]
“Psigoanalities gelees is hierdie bundel een wat sy leser dwing om af te daal in die Hades van die eie onbewuste ten einde meer te wete te kom oor die eindes óf verloop van jou eie vleesgedig. Dood en erotiek word dus nie om dowe neute só saamgedig nie (‘Kroeg’, p 86).
“In Nagsweet word die patriargale taboe dat mans mekaar nie mag liefhê oortree en die konvensie binne die Afrikaanse poësie dat die liefdesgedig fraai en soet moet wees. [...]
“Dit is ’n bundel wat kwansuis weens die gewaagde Battiss-omslae nie die paal (alle puns intended) kon haal nie. Maar agter die gedurfdheid, die openlike vulgariteit en selfs liederlikheid vir die swakkes van hart, lê ’n stuk weerloosheid. Om nie eens te praat van poëtiese vaardigheid nie. Soos in ‘Calvin Klein’ (p 20).
“Hierdie gedig is manjifiek, veral omdat die digter in dié bundel begin wegdig van sy vroeëre amper té romantiese aanslag.”
Vleiswond word in 1993 by Human & Rousseau uitgegee en in Beeld van 1 November 1993 skryf AP Grové oor Vleiswond (1993): “Daar is gedigte in hierdie bundel wat beeldend nie oortuig nie, ander wat kru momente bevat, maar daar is ook genoeg mooi gedigte in die bundel, genoeg talent aanwesig om die digterskap te bevestig wat ons uit die vorige werk van De Lange leer ken het.”
Met die publikasie van Wat sag is vergaan in 1995 kan ’n mens, met die kennis van die hede, dit die einde van Johann de Lange se eerste tydperk as digter noem. Sy volgende bundel, Die algebra van nood, verskyn eers in 2009.
Oor Wat sag is vergaan was AP Grové in Beeld van 18 Desember 1995 die volgende mening aangedaan: “Hoewel dit nêrens in die bundel aangedui word nie, is die figuur wat as bandversiering dien, ’n fotografiese weergawe van die beroemde slapende Barberini faun waarvan die oorspronklike beeld vandag op ’n prominente plek in München se Gliptoteek te sien is.
“Met hierdie figuur het Nic de Jager, wat verantwoordelik was vir die bandontwerp, in elk geval ’n goeie keuse gedoen: enersyds vestig dit die aandag op die kuns en sy inspirasiemoontlikhede, terwyl die beeld andersyds met sy brutale liggaamlikheid ’n uitdagende seksualiteit suggereer – motiewe wat sterk in die bundel figureer.
“In die eerste twee afdelings kry ons veral natuurgedigte waarin die kuns en die verwysing na bepaalde kunsprodukte ’n belangrike rol speel. Verskeie gedigte speel dan ook terug op die een of ander belangrike werk uit die wêreld van die kunste.
“In die volgende twee afdelings kom die erotiek, meer bepaald die homo-erotiek, aan die bod, terwyl die slotafdeling onder die titel ‘Panasee’ vyf portrette na vore bring, portrette van bekende figure wat tot die dood toe die ideaal najaag van die een en enigste wondermiddel wat veronderstel is om geluk te bring en die lewe draaglik te maak. Elke afdeling lewer naas mindere werk ook sy kwota goeie gedigte.”
Grové het sy resensie afgesluit: “Kyk ons terug op die geheel, sou ek sê dat die waarde van die bundel eerder in die ‘kunsgedigte’ en die deernisvolle portrette as in die erotiese gedigte geleë is; eerder in die objektiewe, besinnende gedigte as in die werk van ’n meer subjektiewe en/of belydende aard.”
Wat vir Tim Huisamen nuut is in hierdie sewende bundel, Wat sag is vergaan, is die manier waarop hy sy verblyf in die Kaap met hierdie bundel verwoord. “Andersins getuig die bundel weer eens van sy barokke vernuf as digter. Barok in die sin van sy taalvermoë, veral om woordbetekenisse te ontgin en daardeur vindingryke beeldnetwerke tot stand te bring. Barok in die bewuswording van alle vlees is gras, en daarteenoor die aangryp van die sinlike genot in ’n carpe diem-houding. Barok in die deurlopende intertekstualiteit en kunssinnigheid. Maar ook barok in die sin van ’n ongelyke pêrel in ’n soms pralerige retorika.”
Huisamen sluit sy resensie af: “Johann de Lange bevestig met Wat sag is vergaan sy statuur in die Afrikaanse letterkunde. Met sy taal- en intellektuele vermoëns verwoord hy treffend die menslike kondisie in die algemeen en die gay mens, as voorbeeld daarvan, in die besonder.”
De Lange put sy inspirasie nie uit boeke nie, maar uit musiek: “Musiek was nog altyd nader aan die polsslag van ’n beskawing en uiteraard eerste om die tekens en simbole van daardie beskawing te absorbeer en weer te gee.” Die digters wat hom in sy vroeë jare die meeste beïnvloed het, was Sylvia Plath, Ingrid Jonker, Arthur Rimbaud, Dylan Thomas en die sanger-digter Leonard Cohen. Hy sê dat hy feitlik alles lees wat voorkom. “Ek is verslaaf aan rillers, speurverhale en ‘legal thrillers’.”
In ’n onderhoud met Hennie Aucamp op LitNet vertel Johann dat hy betreklik laat in sy lewe begin het om die kortverhaal in alle erns te beoefen. “Dit was altyd die poësie wat ’n sentrale plek in my lewe ingeneem het. Ek herinner my egter dat ek op skool al prosa geskryf het, onder aanmoediging van my onderwysers. [...] Die boek wat my op hoërskool prosa wou laat skryf, was Die eerste lewe van Colet. Ek dink ek kon my seksuele verwardheid en frustrasie herken in die karakter van Colet. Ek het terstond ook ’n ‘psigologiese’ novelle geskryf, gelaai met simboliek en seksuele neurose, met ’n goeie klap weg van Die son struikel. As ek vandag na die manuskrip kyk, hervind ek weer daardie kind. Daarom kon ek dit nog nooit weggee nie. Wat ek wil sê, is dit: ek het dikwels my neuroses in prosa laat uitspeel, maar nooit in die poësie nie. Dit was vir my ’n verhewe medium.”
Hy vertel verder hoe hy, toe hy prosa begin skryf het, weer moes leer loop. Hy het prosahandleidings bestudeer, want hy het oorweldig gevoel deur die oormaat van woorde en die blote logistiek wat prosa vereis. “Ek dink my sin vir vorm en vir die gewig van die enkele woord wat ek van die poësie het, het wel gehelp dat ek die kortverhaal vinniger onder die knie kry. Maar ek moes steeds van voor begin.”
As ’n soort van “voorwoord” tot sy resensie van Johann se eerste kortverhaalbundel, Vreemder as fiksie (1996), het Phil du Plessis (Die Burger, 29 Januarie 1997) geskryf: “Agterop die omslag bring De Lange die kwessie van skryf en lieg te berde, in die konteks van hierdie boek, waar konvensionele moraliteit, soos by Nietzsche, nie betrek word nie. Hierdie waardesisteem kan De Lange nie universaliseer nie.
“Epimenides, die Kretenser, het gesê alle Kretensers lieg. In die post-strukturalistiese po-mo konteks van hierdie boek impliseer De Lange dat elke skrywer ’n leuenaar vir eie gewin is, en dat of hy werklik lieg of nie, van geen morele belang is nie. Almal is egter nie Kretensers nie, en talle weet presiese waar De Lange die waarheid praat, veral die geskryfdes van sy tekste.
“Die polemiese respons op hierdie boek sou Nietzsche in sy pap laat stik. Die morele respons van ’n vermeende christelike kuddedier (Ia van Zyl in Die Burger) is beantwoord deur nog kuddediere wat van po-mo en die vrye teks (is so iets menslik moontlik?) ’n evangelie maak (Joan Hambidge en volgelinge).
“Wat my as lesende betref, was die lees van Vreemder as fiksie harde werk. Ek het van vroeg in my lewe oorweldigend dekadente tekste deurgeworstel vir die boek se intrinsieke waarde (die markies de Sade se Een honderd en twintig dae van Sodom of William Burroughs se The naked lunch). Later kon ek Casper Schmidt se laaste verse, selfs Koos Prinsloo lees, vir die uitbreiding van kennis en begrip van die mens en sy gemoed. Die voordeel was dat elkeen op die rand van die kultuur, as nihilistiese Übermensch, op sy eie gestaan het, tot werklik avant-gardistiese gewin van kultuur in die breedste sin.
“Ek kan nie sê of Johann de Lange sy boek geskryf het uit ressentiment in Nietzsche se sin van die woord nie. Daar is egter ’n geurtjie van die succes de scandale van ’n (vir die skrywer) sinlik genotlike (te verskoon), maar vir die leser ’n esteties nuttelose rit (nie te verskoon nie) op Koos Prinsloo se po-mo kadawer.”
Phil du Plessis het in sy bespreking van die boek nie baie vleiende kommentaar gehad nie. Hy het onder andere geskryf: “Die skryfstyl is post-modernisties (po-mo). Po-mo is egter geen ware bredie nie, waar geure en smake kan ontwikkel en saamsmelt: die helfte sou mens graag van jou bord af wou krap, maar dis geen bord kos nie – jy moet eenvoudig lees tot die teks klaar is.”
Die eerste afdeling bou voort op Koos Prinsloo se werk en hier vind Du Plessis die onderskeid tussen De Lange en Prinsloo se prosa moeilik naspeurbaar. Afdeling twee is vir Du Plessis “meedoënloos sadisties, elke teks oor ’n seksmaat, weer ’n kil po-mo konterfeitsel, soos De Lange sy tekste noem”.
Oor die derde en vierde afdelings het Du Plessis hom as volg uitgelaat: “Moffiegeskinder, met kwaadwillige plesier aan die verraad van vriende, is weer die hoofkenmerk van die verhale in die derde afdeling, waar die tekste tog die minimale gewin van ’n tikkie swart humor het. Ten einde laaste, alleen in die vierde afdeling, vind die leser ’n konterfeitsel, ‘Afskeid van my ouers’, waar ’n eerlike ‘ek’ darem in ’n voetnoot verskyn en die teks roerend persoonlik voordoen.”
Johann se tweede kortverhaalbundel, Tweede natuur, is by Homeros uitgegee, ’n afdeling van Tafelberg Uitgewers vir Afrikaanse gay boeke.
Marius Crous skryf in Die Burger van 13 Desember 2000 dat Tweede natuur geskryf is vir die “ideale leser, naamlik ’n gay man wat dit met een hand sal lees of wat die kodes in die teks sal kan vertolk. Wat die nie-ideale leser of straight leser betref, vir hom/haar sal dit ’n voyeuristiese blik bied op die gay dwelmkultuur in veral Kaapstad.
“Dit is ’n teks wat interessante vrae stel oor die liggaam-as-teks, hoe die liggaam deel word van ’n sisteem wat ingestel is op die verheerliking van ekstase. Dit analiseer ook ons huidige bestel: hoe seks, dwelms en rave-musiek ’n ontvlugting uit die werklikheid bied. Dit word ’n teks wat fokus op hedonisme en die hedonistiese najaag van plesier; ’n teks wat ’n ander sy van ons bevryde samelewing weergee.”
In sy vrye tyd vertaal Johann gedigte van onder meer Wilma Stockenström, Sheila Cussons, Antjie Krog, Lucas Malan en Ernst van Heerden. Van sy vertalings is in plaaslike en oorsese publikasies opgeneem. In 1988 ontvang hy eervolle vermelding vir sy vertalings van Stockenström se gedigte in ’n kompetisie wat deur die English Academy of South Africa uitgeskryf is. In 2007 publiseer Human & Rousseau The wisdom of water, ’n vertaling van Stockenström se gedigte deur Johann, en skryf Tim Huisamen in die voorwoord: “Johann de Lange is an excellent poet; here he reveals himself as an excellent translator, especially if the intrinsic complexity of the poetry is taken into account. His translations are not only very accurate, but keep what is most difficult to capture – a sense of the poetic in tone, in rhythm.”
Maar Johan sien homself nie as ’n vertaler nie – dit is slegs vingeroefeninge in die tye wanneer hy nie self skryf nie. “Ek is ’n liefhebber van vertaling. ’n Lekkerbek-vertaler wat net my persoonlike gunsteling-digters se werk vertaal – dit sluit in Sheila Cussons, NP Van Wyk Louw en die Britse digter Philip Larkin. Daar is iets magies aan die transformasieproses van vertaling.” (Die Burger, 24 Julie 2007)
Hy sê in Die Burger van 24 Julie 2007 dat hy die vertaling van gedigte gelykstel aan die werk van ’n kunstenaar wat die meesters se werk kopieer. “André Brink het jare gelede gesê as ’n mens van ’n gedig hou, moet jy probeer vasstel waarom jy daarvan hou en hoe die digter dit geskep het. In die vertaalproses haal ek die gedig uitmekaar. Dié proses help my om dit beter te verstaan.”
Hy vertel aan Joan Hambidge in Insig van September 1990 dat dit ’n mite is dat skryf, en meer spesifiek die digproses, ’n mens gelukkig maak. Hy glo dat dit eerder ’n mens se lewe kompliseer. “Vir eers omdat die digter gekonfronteer word met onverwerkte konflikte en tweedens omdat mense aangetrokke raak tot die digter-persona – net om uit te vind dat die digter nie die mens is wat die leser hom voorgestel het nie.”
Johann erken teenoor Hennie Aucamp dat die genre wat hy graag sou wou probeer, die drama is. “Die paar kere wat ek rakelings daarmee te doen gehad het, was baie stimulerend. Dit is in ’n sin die antitese van gedigte skryf. Die drama is nie privaat nie, hy betrek ’n gehoor op ’n meer direkte wyse as die poësie. [...] Wat my tot dusver daarvan weerhou het, is die feit dat ’n mens nie die drama ‘on the side’ kan doen as jy ’n sukses daarvan wil maak nie; dit moet jou primêre medium wees. En ek is nie bereid om van die poësie afstand te doen nie.”
Johann vertel dat as hy oor iets wil skryf, hy hom gewoonlik daarin onderdompel en dan tot die uiterste gaan. “Byvoorbeeld in die tyd van Nagsweet het ek kompulsief ge-cruise – dag en nag, naweke, in die etensuur – net konstant ge-cruise. En toe die boek uitgekom het, het ek belangstelling daarin verloor. Toe’t ek ’n ander kompulsie gesoek. En ek het toe ingeval by die rave-kultuur so in 1998 se kant rond. En toe het ek begin om die hele alfabet (dwelms) te doen, want ek het eintlik, ek was aangedraai, nuuskierig, veral met psigedeliese goed, ek dink ’n mens kan geweldig baie léér as jy nie net hedonisties ingestel is nie. Toe het ek my daarin onderdompel, en Tweede natuur het daaruit gekom.
“Ek wou vreeslik graag ’n digbundel maak, maar ek kon nie ’n vorm kry om daaroor te skryf in gedigte nie; dit wou net nie wérk nie. Maar dit is seker nou vyf jaar wat ek nie meer indulge nie. Miskien is dit ook waarom ek gevoel het ek is nou klaar, want ek het nie meer ’n kompulsie wat my aandryf nie.” (Die Burger, 27 Februarie 2009)
’n Nuwe bundel poësie, Die algebra van nood, verskyn in Februarie 2009, en daarmee verbreek De Lange ’n digterlike stilte van dertien jaar. Oor die lang stilswye sê hy (Die Burger, 27 Februarie 2009): “Ek het nooit ophou skryf nie, ek het net belangstelling verloor in publiseer. Dit klink vreemd, maar hoe langer jy uitgestel het, hoe moeiliker het dit geword om te begin dink aan sit en ’n boek bymekaarbring. Toe het ek vir Human & Rousseau gevra of hulle belang sou stel om ’n keuse uit my bestaande bundels uit te gee. Want ek het basies gevoel – wérklik gevoel – dis klaar, ek is uitgeskryf. En toe het hulle gesê hulle sal ’n keuse uitgee, maar dan wil hulle twintig nuwe gedigte hê – net om die bundel darem interessant te maak vir kopers.”
Johann het ’n “k-khuis” vol gedigte op sy rekenaar gehad en het van hulle aan Henning Snyman gestuur sodat hy Johann kon help om twintig uit te kies. Snyman se bevinding was egter dat daar genoeg is vir ’n hele bundel. “Ek het werklik nie gedink daar is nog ’n bundel in [nie] ... jy bereik ’n punt waar jy voel jy het eintlik alles gesê wat jy wou sê.”
Die omslag van Die algebra van nood is deur Christiaan Diedericks ontwerp. Daarop is ’n ets van Johann wat sy kop in sy sterk hande vashou. “Diedericks het vir my ’n ets gemaak van ’n foto af. Ek het die etsplaat gesien. Dit moes úre en dáé gevat het. Dis van ’n foto wat ek sommer self met my Mac geneem het met daai ingeboude kameralensie. Ek het baie keer net as ek so sit en bored is, sit en foto’tjies neem. Van my, of van my en die kat.
“Die titel kom van William Burroughs se The algebra of need wat gaan oor die verhouding tussen die junkie en die dealer en daai soort van ’n wiskunde van nood: Beyond a certain frequency need knows absolutely no limit or control,” vertel Johann (Die Burger, 27 Februarie 2009). “En daarom het ek die spuitnaald ingewerk. Om net daai suggestie van need te ondervang, en natuurlik die hele kode van dwelmgebruik, waaroor daar ’n afdeling (‘Bedrieglike paradyse’) is. Hopelik is daar in hierdie foto iets van die aftakeling van die jare. Miskien.” Hy voel dat poësielesers ’n tough breed is en dat hulle nie deur die omslag afgeskrik sal word nie. “Ek sien dit nie as donker nie, ek sien dit meer as introspeksie.”
Ampie Coetzee meen in Die Burger van 20 April 2009 dat Die algebra van nood nie veel noemenswaardige gedigte bevat nie en dat hoewel daar metafore is wat slaag en intuïtief beelde skep, daar ook beelde is wat te uitgedink is, “eerder kognitief as intuïtief”.
Marthinus Beukes (Beeld, 8 Mei 2009) skryf dat die digter die leser lei om die menslike toestand van pyn, verlies en nood te lees teen ’n estetiese geheel van die agt bundelafdelings. “In Die algebra van nood wil De Lange byna die gebrokenheid wat veroorsaak is deur pyn, herkonstrueer of herstel in ’n berekende en deurgekomponeerde bundel: ’n eienskap kenmerkend van hierdie bekroonde digter. [...] Met Die algebra van nood bevestig De Lange sy belangrike stem in die Afrikaanse poësie. Nie alleen is sy homo-erotiese verse ’n blywende bydrae tot queerverse nie, maar getuig sy fyn gestruktureerde gedigte en vormtug van ’n invloedryke stem in Afrikaans. Hy demonstreer dat sy digkuns ’n jukstaposisie van aarselende soeke en sekere vind is van die nuanses van bestaan. Die ritme van sy verse pols verder as die noodvrees van verlies en die dood se spore.”
Zandra Bezuidenhout (Rapport, 30 Junie 2009) meen dat Johann se trefseker aanwending van woord- en reëlbreuke sorg vir ’n elegante, ritmiese versbeweging en ’n verklanking van die spreker se gedagtegang. “In die geheel bied die onvoorspelbaarheid van die versbou, die inhoude wat wissel van minder tot meer eksplisiet en die rem wat op die emosie geplaas word, voldoende poëtiese pitkos. Die bundel se groter subtiliteit sal in die smaak val van lesers wat die vleesdis voorheen onverteerbaar gevind het.”
Vir Bernard Odendaal (op Versindaba) het Johann met Die algebra van nood indrukwekkend op sy vorige werk voortgebou.
Johann het, soos vroeër genoem, self gemeen dat hy uitgeskryf is en dat die hoop gedigte in sy spreekwoordelike laai almal duds was. Hy het hulle beskou as “floue skadu’s” van wat hy wóú sê. Maar tog het hy gereeld na hulle teruggegaan om “met ’n stok te por aan die karkas om te kyk of daar nie tóg lewe in is nie”. En het hy ook telkens ietsie verander, partykeer heelwat, soms net ’n leesteken.
Toe Henning Snyman die gedigte deurgaan en sê dat daar tog ’n bundel in is, en daarby ’n góéie bundel, “[t]oe moes ek die engel uit die klip verlos, wat geen ligte taak was nie, maar dit was heerlik om weer geïnspireerd te werk. Intense werk het gevolg,” vertel Johann.
Ten spyte van enkele negatiewe resensies het Die algebra van nood uiteindelik tot sy reg gekom op ’n manier wat Johann nie in sy wildste fantasieë sou kon voorsien het nie. “Ek dink trouens heelwat mense ly nóú (2012) nog aan skok dat ek die Hertzog-prys vir die bundel gekry het, een van hulle is ek. Benewens steun van Henning en Joan Hambidge was dit André Brink se reaksie op die bladproewe wat ek vir hom gestuur het in ’n e-pos wat my laat glo het ek is wél op die regte spoor. Dié bekroning is die eerste keer sedert 1937 met ID du Plessis se bekroning vir Vreemde liefde dat die Hertzog-prys aan ’n gay digter/bundel toegeken word. Ek neem die prys eweneens in ontvangs namens die generasie van Tagtig wat, met die uitsondering van Etienne van Heerden, tot dusver grootliks verwaarloos en oor die hoof gesien is.” (Kaapse paragrawe)
André Brink het in die e-pos geskryf: “Nie ’n ‘bespreking’ nie. Net ’n dankiesê. Vir wat, dink ek al meer, waarskynlik die beste is wat jy nog geskryf het. Jisses, dis mooi! Die soek na heiligheid en skoon-heid, die visenteer van skaduwees, die verkenningstogte deur die dood, die altyd bewus bly van verganklikheid, die deernis met menswees, die in-dig na die pit toe – tot in die kleinste verse, soos die groot ‘Rembrandt’, die odes en palinodes, die her-dink en óór-dink en deur-dink van vroeër digters ... Dit alles is ’n fees van herkenning, en tegelyk van nuwe kennismaking. [...]
“Nie vir ’n oomblik hoef jy bekommerd te wees oor trefsekerheid nie. Dis ’n glansende bundel dié. En daarom, regtig, net DANKIE. (My enigste werklike jammerte is dat ek dit nie vroeër kon gesien het om in te sluit in die nuwe Verseboek wat nou by die drukker is nie. Maar uiteindelik maak dit seker nie saak nie: hy kan rustig en gloeiend wag op die volgende.)
“Daarom hoop ek dat jy sal vergewe dat dit nie ’n deurdagte besinning is dié soos wat jy ongetwyfeld verdien nie. Maar die dankie kom uit die hart uit. Ek kan nie wag om dit in my hande te hou nie.”
Na Die algebra van nood word Judasoog: ’n keur uit die gedigte van Johann de Lange deur Johann self saamgestel. Naas gedigte uit sy agt digbundels sedert sy debuut met Akwarelle van die dors in 1982 is daar ook n tiental nuwe verse aan die einde.
Marius Crous (Rapport, 16 Augustus 2010) skryf: “Die titel van die versameling kom ter sprake in die kort gedig ‘Loergat’ (65) wanneer na die loergat tussen twee toilette verwys word as ’n judasoog, maar dit roep ook onmiddellik die assosiasie op met Breyten Breytenbach se bundel Judas Eye (1988). Dit is ’n tegniek wat grotendeels by De Lange voorkom wanneer hy die titel vanuit Engels oorsit in Afrikaans en dus binne die nuwe literêre konteks met ander betekenisse laai.
“Daar is ook in Johann se gedigte ’n deurlopende gesprekvoering met ander digters en kunstenaars. Die deurlopendste gesprek is beslis met digtersfigure soos Sheila Cussons, Van Wyk Louw en Joan Hambidge, wat op haar beurt weer terugskryf na die De Lange-teks en so ’n broer-suster-relasie (in Bloom se terminologie) aktiveer,” skryf Crous.
Crous meen dat Johann bekend is as die openhartigste digter in Afrikaans wanneer dit kom by die skryf van verse oor gay-seksualiteit. “By hom is daar nie ’n versluiering van die fallus nie. Daar bestaan egter nie eenstemmigheid oor hierdie aspek van sy poësie nie en sommige kritici maak dit af as gay-kitsch. Daar moet egter toegegee word dat De Lange oor die vermoë beskik om, naas hierdie oopgevlekte realisme, vorendag te kan kom met van die roerendste en mooiste natuurmetaforiek in Afrikaans. Vormvas en bedrewe is die beoefening van die poësie by hom.”
Crous sluit sy bespreking af: “Die slotgedig is ‘Aandlied’, waarin die digter sy eie sterflikheid besing en in ’n memento mori besin oor sy dood. Laasgenoemde is myns insiens een van die sterkste temas in De Lange se werk; naamlik die besing van die aftakeling van die menslike liggaam in kontras met die volmaakte liggame van die jong seksgodjies in die klubs en op die internet.
“Ek is Human & Rousseau ewig dankbaar vir hierdie versamelde gedigte, want nou is van die klassieke De Lange-verse weer beskikbaar en ’n mens kan sy oeuvre met studente bespreek.”
Joan Hambidge (Volksblad, 27 Julie 2010) tipeer Johann de Lange se ryk-geskakeerde digkuns as “akwarelle van die dors. Dit is ’n digkuns van paradoks, van onvervulling, en juis hierom is daar ’n intense belewing van die oomblik en die skoonheid in verval. ’n Mens sou De Lange se poësie onder verskillende noemers kon plaas: die verhouding met die gestorwe vader wat soos ’n herhalingsdrang deur die hele oeuvre beweeg (die digkuns en prosa), die gesprek met Ingrid Jonker, Sheila Cussons en NP Van Wyk Louw. Die digter word (verkeerdelik) as gay-digter getipeer. Hy het van die sterkste verse oor die tema in Afrikaans gelewer (veral in Nagsweet), maar De Lange het ’n Januskant. Hy is sowel cruiser en gay-digter as besinger van die skoonheid. [...]
“Henning Snyman skryf op die agterblad tereg: ‘Binne die geestelike diepgang van sy verse kom die beeld ágter die beeld te voorskyn.’ Dit is ’n raak opsomming van die besondere beeldvermoë.
“Wat hierdie bundel vir die waarderende leser uiters waardevol maak, is die hand vol nuwe verse wat ook by die keur ingesluit is. Hier vind ons openlike gay-gedigte (die een is ’n versweë antwoord aan ’n ander digter) en ’n lieflike vers oor Marilyn Monroe. Daar is ’n vers oor Golgotha waarin die digter die moderne tegnologie aanwend soos Google, SMS, Twitter, blog, en so meer, om te probeer bepaal hoe die moderne mediabehepte mens op die fenomeen Jesus Christus sou reageer.
“Bekende digterlike temas tref ons hier aan: die liefde, dood, kortstondigheid van ons bestaan, die verhouding met die werklike en digterlike ouers, die ‘naakte algebra’ van die gay-bestaan, gedigte oor dwelms en vigs, verse oor ikone (soos Monroe, Kurt Cobain) en so meer.”
Vir Hambidge is Johann ’n “begenadigde vertaler en ’n besónderse kortverhaalskrywer, maar dit is in sy digkuns waar die leser onder die indruk van ’n suiwerheid kom:
“Die sagste wat ons het, die taal
bestaan solank ons asemhaal. (‘Taal’, bl 123)”
Snyman meen dat De Lange se oeuvre feitlik ’n register van emosies word, fel en diep. En dit is presies soos dit vir Hambidge ook is.
Terwyl Johann aan verse gewerk het wat uiteindelik sy volgende bundel, Vaarwel, my effens bevlekte held, sou word, het hy besluit om kwatryne te skryf, nie vir publikasie nie, maar “net om weer in shape te kom, te leer bondig dink en formuleer”. Uiteindelik was daar oor ’n honderd. Hy besluit om die bestes uit te soek en aan Protea Boekhuis te stuur, want Human & Rousseau het toe reeds Vaarwel geskeduleer gehad vir Februarie 2012 en het gevoel dat nog ’n bundel in 2011, ná Algebra in 2009 en Judasoog in 2010, sy mark sou ooreis. Dit is gepubliseer as Weerlig van die ongeloof en is (tot Johann se verbasing én dankbaarheid, want daar kan soveel slaggate in ’n bundel met net kwatryne wees) baie goed ontvang.
Vir Bibi Slippers (Beeld, 12 Desember 2011) is die kwatryne “vanweë hul lengte nooit intimiderend nie, maar tog verklap die bundel nie al sy geheime met die eerste lees nie. Mens kan terugkeer en weer wonder wat party van die gedigte werklik beteken, terwyl van die reëls jou bybly omdat hulle so presies beskryf en so raak tref. Hier en daar is effens te veel klank in die reëls gepak, maar dit vergeef ek De Lange maklik. Die beperking wat hy homself in hierdie bundel gewillig oplê, dryf hom tot kreatiewe uiterstes, wat my as leser opnuut verras en vermaak het.”
Johann erken self teenoor Slippers (LitNet): “Kwatrynbundels – eintlik énige bundel waarin ál die gedigte dieselfde vorm het – kan maklik eentonig raak, en ek het daarvoor probeer opmaak deur ’n groter verskeidenheid temas te dek, om die rymskemas af te wissel, en bietjie te speel met die vorm. Nie al die gedigte is kwatryne in die streng sin van die woord nie. Baie is iets tussen ’n epigram, ’n epifanie, en ’n haikoe.”
Slippers wou by Johann weet of die proses van kwatryne skryf anders was as by dié van sy vorige bundels, waarin hy verskeie ander vorme beoefen het: “Daar is geen verskil tussen die skryf van ’n kwatryn, ’n sonnet en ’n vrye vers nie. Elke vorm het ánder eise, ja, maar jy skryf nie vinniger of makliker aan die een as aan die ander nie. Soms is jy gelukkig en kom ’n gedig byna voltooid op jou af, maar dis só selde, dat mens nie jou loopbaan daarop kan bou nie. Die langste wat ek nog aan ’n gedig gewerk het, is nege jaar, en dit was ’n kwatryn! Baie frustrerend, maar die vreugde toe dit uiteindelik regkom, was eufories. Ek gooi baie gedigte in my laai (of in rekenaarterme gooi ek hulle in ’n legger) as hulle nie wil lóóp nie; ek glo nie daaraan om ’n vers te forseer nie. Maar ek probeer een keer ’n jaar na sulke gedigte terug te keer om te kyk of hulle al ontwikkel het. Soms kan ek net ’n woord verander, of ’n leesteken, maar dit pla nie. Sommige gedigte kom egter nooit reg nie, en ek het vrede daarmee. Die beste reëls uit sulke gefaalde verse word hersirkuleer in nuwe verse. Niks gaan verlore nie.
“Wat Weerlig van die ongeloof aanbetref, het ek baie van die kwatryne in finale vorm gedroom. Ek ervaar dikwels ‘lucid dreaming’, waartydens ek bewus word daarvan dat ek droom en dan werk ek so vinnig as wat ek kan aan die kwatryn voordat ek wakker word. Sodra ek wakker word, tik ek dit vinnig op my selfoon in en slaap verder. Ek het ook die titelkwatryn van die bundel só gedroom, en dit het my ’n hele tyd geneem om volledig te verstaan wat dit beteken. Drome is ’n belangrike deel van die skeppingsproses vir my. Dit gee toegang tot inhoude wat andersins ontoeganklik bly.”
Die omslae van Johann se bundels is feitlik almal, van die vroegstes tot die heel nuutstes, besonders. Hy het met die uitsondering van sy debuutbundel, Akwarelle van die dors, en Judasoog, wat deel uitmaak van ’n reeks bundels deur Human & Rousseau wat almal dieselfde uitleg het, al sy boeke se omslae self gekies en in sommige gevalle met die kunstenaars saamgewerk wanneer iets spesiaal vir die boek gemaak is. Op die voorblad van Die algebra van nood is ’n ets deur Chris Diedericks en op Weerlig van die ongeloof se omslag ’n baie mooi skets van Judith Mason.
Hy verduidelik aan Bibi Slippers op LitNet: “Ek is gelukkig daarin en baie dankbaar dat my uitgewers my só ter wille is en my toelaat om betrokke te raak. Vir my begin ’n boek by die omslag – dit is waar jy die eerste kodes aan die leser deurgee. Die oog op Weerlig is belangrik omdat die visuele belangrik is by die kwatrynvorm – dit onderstreep die fokus, die konsentrasie op besonderhede en die verheldering, die insig wat volg.
“Ek is van laerskooljare af al gek oor Judith Mason se werk en ek sou iets van haar op élke boek van my kon sit. Sy is vir my een van die grootste kunstenaars wat ons land nog opgelewer het. Die omslagkunswerk van Weerlig van die ongeloof is in die besit van haar dogter, Petra, en ek sou wát wou gee om dit te kon besit. Haar potloodwerk het vir my plaaslik geen gelyke nie. Die boek as estetiese objek is iets wat ek by Hennie Aucamp aangeleer het. Sy boeke en sy smaak in kuns is altyd onberispelik.”
In 2012 word Johann se derde bundel sedert Die algebra van nood in 2009 gepubliseer. Die titel is Vaarwel, my effens bevlekte held. Dit bevat 70 gedigte, onder andere sy vertaling van Auden se “The platonic blow”. Die omslag is weer eens ’n kunswerk van Chris Diedericks en Johann self is baie gelukkig met die boek.
In Human & Rousseau se persvrystelling beskryf hulle die bundel as volg: “Die gedigte getuig van ’n gevoeligheid en ’n diepte soos nog nie vantevore by hierdie digter nie. Met sy fokus op die mens én die natuur, boei De Lange die leser opnuut in toeganklike verse wat wissel van die elegiese tot die sardoniese. Die erns van die menslike drama van leef en sterf word telkens verlig met heerlike humor. Maar alhoewel die ironie aan die een kant spreek van onthulling, spreek dit andersyds van deernis.
“Temas sluit in vryheid, afstand, skoonheid, dood, pyn, verlies, religie, seks. Van die erotiese gedigte spreek besonder sterk van die intensiteit van menslike verlange en eensaamheid. En oor alles heers die woord, delikaat en kragtig gehanteer.”
Henning Snyman skryf in sy keurverslag: “Niks staan verskuil vir die woord nie, geen ruimte kan onverken bly as die woord heers nie. So is dit in hierdie bundel met sy kaleidoskoop van woorde. Met gedigte so fyn verwerk soos hierdie, is dit telkens of die papier ruimte skep vir die woord en skugter terugstaan, wit agtergrond vir die woord. Elke woord dra betekenis en elke woord be-teken. Die woorde is nie indringerig nie, ook nie vertonerig en verwaand nie, dit is egter ook nie beskeie nie, maar versigtig selfversekerd. [...]
“In De Lange se vroeëre werk was daar soms nog te veel selfbewustheid, maar hier is dit die digter wat vry is en wat in staat is om selfs die diepste betrokkenheid by ’n gedig aan te bied met die suiwerheid van die woord as die hoogste goed. [...] Juis hierdie aspek val so sterk op in hierdie bundel: vryheid en dus afstand. Ook die woord word hierdeur die kans gegee om homself te laat geld. Lewe, skoonheid, pyn, religie – alles kry ’n onderdak in hierdie verse. Nie in ’n gefragmenteerde sin nie, maar in ’n geheel wat getuig van kontras en eenheid, bowe-al van woord- en digterlike integriteit.
“Die natuurwaarneming in hierdie tekste is besonder fyn en noukeurig. Dit word verwerk binne die teks en die tematiek. Deur die afstand van die digter wat bevry word van ‘de gekrulde ik’ (Hugo Brems se uitdrukking), word die objek van buite soomloos verweef met die objek van binne. Op hierdie manier word ook die natuur draer van die menslike wêreld, en is dit openbarend vir die begrip van volle menswees.
“De Lange slaag in die kuns om die ontstellende so aan te bied dat dit deur die presisie van woordkeuse nog meer ontstellend word. Die banale word deur die woord ‘gereinig’, iets helaas waarvan ons jong digters nog geen begrip het nie.
“Die bundel bevat ’n hele aantal erotiese verse, maar nie oorheersend so nie. Die erotiese verse is deurgaans onder die mag van die integere woord en spreek dus verby die bloot erotiese konsepte waarbinne die gedig funksioneer. Van hierdie gedigte spreek besonder sterk oor die intensiteit van menslike verlange en eensaamheid. Hierdie verse staan geensins terug vir die res van die gedigte nie, en word trouens so geplaas in die bundeleenheid dat hulle in gesprek gaan met die ander tekste in dieselfde afdeling, en in die bundelgeheel.
“Die bundel getuig van ’n gevoeligheid en ’n diepte soos nog nie vantevore by hierdie digter nie. Die soort stillewe-gedigte en die feitlik miniatuuragtige verse is van die kragtigste omdat elke woord so veelseggend is. Vaarwel, my effens bevlekte held is ’n besondere bundel, meelewend én gedistansieerd, innig én kontrasterend, met humor én wrangheid, met beelding én ironie. En oor alles: die woord so delikaat en kragtig gehanteer dat dit feitlik spontaan oorneem by die digter. Ek meen dat Johann de Lange tans die beste digter in Afrikaans is.”
Volgens Francois Smith, wat ook ’n keurder van Vaarwel, my effens bevlekte held was, dra die bundel die skadu van die dood. Vyf van die sewe afdelings is in ’n mindere of meerdere mate elegies van aard, of die spreker in die gedigte is “denkend aan die dood”. Selfs in die sterk erotiese afdeling “Sleeping with the past” is die erotiek meestal gekoppel aan verlies. Die manuskrip was vir Smith ook ’n bevestiging van die opvatting dat daar min dinge is wat die verbeelding aktiveer soos die dood.
Wat wel vir Smith nuut is in die poësie van Johann, is die godsdienstige aspek, al is dit partykeer net ’n verwysing na die Bybelse gegewe.
Oor sy gunstelingdigters sê Johann aan Bibi Slippers op LitNet: “Ek sou bladsye kon volmaak met gunsteling-digters, maar ek kan ’n klompie identifiseer wat gedien het (en steeds dien) as voorbeelde vir my, as die soort perfeksie waarna ek streef. Digters soos Philip Larkin, Thom Gunn, Seamus Heaney, TS Eliot, Gerard Manley Hopkins, Ciaran Carson, Derek Mahon, Paul Muldoon, Don Paterson, Christopher Logue, Emily Dickinson, Ted Hughes, WH Auden, Adrienne Rich, Gregory Orr, Denise Levertov, Derek Walcott, Marianne Moore, Kay Ryan, Elizabeth Bishop, Michael Donaghy, Stanley Kunitz, Ted Kooser en Tony Hoagland, om maar net ’n paar te noem. Ek lees elke dag van my lewe poësie en het om en by 40 000 gedigte wat ek oor die jare afgelaai het.”
Johann vertel aan By, die Saterdag-bylae by Die Burger, Beeld en Volksblad (14 Januarie 2012) dat hy spyt is oor só baie dinge: “Mense wat ek te na gekom het, verál toe ek jonk was, geleenthede wat ek nie aangegryp het nie, projekte wat ek nie deurgevoer het nie. En verál dat ek nie hard genoeg gewerk het as skrywer nie. My gees was vir ’n té lang tyd die slaaf van my lyf. Ek het my aptyte soms onoordeelkundig nagejaag, maar ek wil glo dat ek met ’n ompad tóg uitgekom het waar ek wou wees, min of meer.” Hy erken verder dat hy op sy gelukkigste was die tyd toe hy met Ecstasy en psigedeliese dwelms geëksperimenteer het. “Dit was ’n tydperk van geweldige groei. Ek het aspekte van myself ontdek wat andersins afgesluit sou gebly het en vir die eerste keer verstaan hoe kreatiwiteit werk, hoe táál werk.”
Human & Rousseau het in 2013 die vyftigjarige herdenking van hulle uitgewersverbintenis met Herman Charles Bosman gevier met die verskyning van ’n bundel van Bosman se verhale wat Johann in Afrikaans vertaal het. Vir Johann was die vertaling van prosa in Afrikaans iets nuuts. Hy het dit teenoor Willem de Vries in Beeld van 8 Oktober 2013 sy “vuurdoop” genoem. “Op die vlak van byvoorbeeld woordeskat en die verskeidenheid van sintaksis ’n openbaring gevind, & my respek vir prosaskrywers het geweldig toegeneem. Dis een ding om ’n verhaal te lees, dis iets héél anders om een te skryf. En dis wat die vertaler doen: hy (her)skryf die verhaal & kom telkens te staan voor dieselfde soort besluite as wat die oorspronklike prosaskrywer moes maak.”
Oor Bosman se humor gesels Johann verder met Willem de Vries: “Bosman se humor is eiesoortig. Ek dink jy kan ’n Bosman-verhaal tussen ander humoristiese verhale versteek & lesers sal hom maklik kan identifiseer. Sy humor ontstaan uit konteks, fyn waarneming en mensekennis, ironies genoeg kennis van die Afrikaner. Selfs wanneer ek hom in Engels lees, hoor ek hom in Afrikaans omdat dit so outentiek Afrikaans is.
“Ek het ’n gedeelte van my laerskooljare buite Nylstroom, & my totale hoërskooljare op ’n plaas in die Waterberge grootgeword en dit was ’n hulp. Dit was ’n wêreld wat Bosman ook geken het. Die wêreld van Eugène Marais. Bosman is ’n meesterlike verteller en hy het goed begryp hoe belangrik tydsberekening is wanneer dit kom by humor.”
De Vries wou ook weet of Johann enige probleme gehad het met die vertaling van Bosman se Afrikaanse Engels. Vir Johann was Herman Charles Bosman se eie stem dié een wat hy in sy kop gehoor het en nie Patrick Mynhardt s’n nie, wat hy nooit beleef het nie. Wat hom wel hoofbrekens besorg het, was Bosman se gebruik van sulke “láaaaaang sinne”.
“Ek hou nie daarvan om die maklike uitweg te kies & dit op te breek in korter sinne nie, so dit het kopkrap gekos. Ek moes voor ek begin het met die vertaling besluit of ek die Afrikaans van daardie tyd gaan probeer weergee, en of ek ’n meer moderne Afrikaans gaan gebruik. Die eersgenoemde opsie was vir my buite die kwessie. Ek is te jonk om van daardie taal deurdrenk te wees, om daardie idioom te kan hanteer soos PG du Plessis byvoorbeeld meesterlik kan doen. Ek het ’n liefde vir ou woorde, en waar ek gevoel het ’n ou woord is nog in gebruik, het ek dit gebruik eerder as ’n moderner een. Ek wou nie klink soos die bloedlose nuwe Bybelvertalings nie.
“Bosman het soms sleng gebruik, verál in sy tronkverhale, en slang [sic] is die epidermis van taal, dis die deel wat die vinnigste verouder en in onbruik raak. Een pragtige verhaal, ‘The Bluecoat’s Story’, [het ek besluit om] uit te laat. Dit steun nie net op tronksleng nie, maar handel oor die wonder van sleng, van ’n taal binne ’n taal as’t ware, en selfs al kon ek dit vervang met hedendaagse tronksleng sou dit steeds ’n fiasko wees.”
De Vries het Johann die volgende vraag gestel: “Van Bosman bestaan Engelse en Afrikaanse weergawes van dieselfde verhale, maar is amper nooit presies dieselfde nie. Was die [sic] enigsins ’n riglyn in die vertaling of was dit belangriker om die Afrikaanse ekwivalent vir die Engels te vind?”
Johann het as volg hierop gereageer: “Die tydraamwerk waarbinne ek moes vertaal, het my nie tyd gelaat om ander vertalings te lees nie. Ek verkies in elk geval om heel eerste my vars reaksie op papier te kry, en dan later aan ’n ander te kontroleer as daar ’n ander vertaling bestaan. Ek het Bosman báie, báie lank gelede gelees en toe net in Engels. Ek was bewus daarvan dat daar intussen Afrikaanse vertalings gemaak is, maar ek wou my nie daardeur laat beïnvloed nie, ten goede of ten kwade.
“Iets wat vir my as digter ’n vreemde ervaring was, is dat ’n vertaling meer van ’n spanpoging is as wat die geval is met byvoorbeeld ’n digbundel waar ek meer in beheer is. Sonder my uitgewer, Alida Potgieter, en ’n voortreflike redigeerder soos Elsa Silke nie, [sic] kan ek my die projek nie voorstel nie. Elsa se hulp was onontbeerlik. En dan was daar ook nog ’n proefleser/taalversorger wat insette gelewer het. Dit was ’n stywe leerkurwe, maar een wat ek geniet het. Nou sal ek graag Cold stone jug wou vertaal ...”
As gevolg van die beperkte tyd het Johann nie tyd gehad om na ander vertalings van Bosman se verhale te gaan kyk voordat hy met sy vertaling begin het nie. Nadat die manuskrip sy hande verlaat het, het hy na Francois Griebenow se vertalings gaan kyk en wat hy wel gevind het, is dat Griebenow se verhale langer was as sy eie. “Die ‘stem’ wat Francois Griebenow aan Bosman gegee het, is heel anders as myne. Party sinne of frases sal onvermydelik dieselfde wees.”
In 2014 verskyn Stil punt van die aarde, Johan se vierde bundel met nuwe verse sedert 2009. Dan was daar ook nog Judasoog, wat ’n keur uit sy ouer bundels bevat, maar ook ’n klompie nuwe verse. In Die Burger van 12 Mei 2014 vra Rudolf Stehle Johann uit oor hierdie vrugbare kreatiewe tyd in sy lewe. Stehle wou weet of die ontvangs van die Hertzogprys ’n invloed op sy kreatiwiteit gehad het.
Johann se antwoord: “Nee. Net vóór die bundel waarvoor ek die prys gekry het, Die algebra van nood, het ek om en by 14 jaar lank nie gepubliseer nie. Maar ek het wel aanhou skryf en afrond, en ek het ’n geweldige klomp verse bymekaar gehad. Ek was ook in daardie tyd op soek na ’n styl waarin ek nuwe inhoude kon oordra. So, ná Algebra, nadat ek die prys ontvang het, het ek ’n groot aantal verse oorgehad waaruit ek vir die volgende bundels kon put, maar ek het ook met elke bundel nuwe verse bygeskryf.
“Ek moet erken ek beleef ’n vrugbare tyd: Die stroom nuwe gedigte het selfs nóú, vier jaar later, nie opgehou nie. Die muse plak by my, maar ek kla nie.” Johann het verder aan Stehle vertel dat die meeste van die verse in Stil punt van die aarde nuwe verse is, hoewel daar ook verse is wat hy vroeër geskryf het, “verse wat ek ten tyde van die vorige bundels nie bevredigend kon afwerk nie, of wat nog van kiem af moes ontwikkel. Selfs van die verse wat van ’n vorige fase dateer word herskryf en aangepas om deel te word van ’n betrokke bundel.”
Die “stil punt” in die titel verwys vir Johann na daardie “oomblik van insig, van verheldering. Vir my het die poësie ’n epifaniese aard. Die stil punt is die oomblik wanneer waarneming oorgaan in verheldering, of in ’n wending. Vir my is die poësie ’n ars poetica, en handel alle gedigte uiteindelik oor die skryf van gedigte, oor die aard van taal.”
Ook hierdie voorblad het ’n kunswerk van Judith Mason op. Johann hou al van kindsbeen af van haar werk, veral omdat sy “visueel dink”, soos ’n digter. “Haar werk is vol transformasie, haar styl is metafories, die ooreenskuif van betekenislae.”
Oor die vele nadigtings in Stil punt van die aarde verduidelik Johann aan Stehle dat dit nie iets is wat hy bewustelik doen nie. Nie alleen lees hy baie wyd nie, maar hy lees ook plaaslike digters se verse oor en oor. “Ek glo daaraan om die tradisie te verstaan waarbinne ek werk en daarbinne voort te dig. In ander gevalle is die gesprek met digters of gedigte bewustelik, soos byvoorbeeld die werk van NP van Wyk Louw en Sheila Cussons. Albei digters vir wie se werk en denkwêreld ek groot affiniteit voel. Die begeerte om op sommige gedigte te ‘antwoord’ is so oud soos die poësie sélf. Ek is ook lief daarvoor om verse te skryf waarin ek met skilderye, foto’s of beelde in woorde omgaan, eweneens deel van oertradisies.”
In sy leesverslag as keurder skryf Henning Snyman oor Stil punt van die aarde: “Die bundel is ingedeel in ses afdelings, en elke afdeling word ingelei deur ’n aanhaling(s) van groot digters. Elkeen van hierdie motto-verse speel ’n integrale rol in die aard en die begrip van die betrokke afdeling. In ’n beperkte sin kan dit gelees word as wegwyser vir die leser, maar hier moet die leser versigtig wees want soms maak dit die verse in die afdeling oop, en soms wys dit die leser na ander paaie om die volle waarde uit die gedigte te kry.
“Stil punt van die aarde is nie ’n bundel wat onmiddellik gulhartig is teenoor die leser nie; dit is ’n bundel wat versigtig en proe-proe gelees moet word voordat die gedigte hulle geheime openbaar. Dit is ’n bundel waar die leser by feitlik elke vers lus voel om eers stil te staan, en iets oor elke gedig te sê of te skryf. Kortom: werklik ’n ‘fyn net van die woord’. [...]
“De Lange is ’n ware woordkunstenaar. Die genot om ’n woord te verken in al sy vorme – klank, betekenisveld, emosionele krag, sintaktiese avontuur en die lae van sy betekenis – dit is die sentrum van De Lange se kuns. En dit is die ware aard van die woordkuns. Teksintelligensie is nie die eiendom van die teks wat toegewikkel is onder teoretiese kennis en verwysings of versluierde gesprekke met ander skrywers nie; dit is om daarin te slaag om die woord binne sy eie aard ‘volkome’ te maak, wat aan die objek van die kunswerk/gedig helderheid gee en om die woord en woordsamesyn te vind wat lei tot nuwe betekenis. Dit is al hoe meer De Lange se forté, sy handtekening. [...]
“Soos voorheen bewys De Lange opnuut sy sin vir ritme, sy stylvolle hantering van die vormvers, by name die kwatryn, en sy fokus op skoonheid – nie die estetika nie, maar die skoonheid van orde. Oral in elke vers is daar die bewustheid van die realiteit, maar deur die pyn van die realiteit heen, is die woord en die gedig die troos. Uiteindelik is daar niks skels of luidrugtigs in hierdie bundel nie, maar ’n stilte, ’n bewoënheid – intens, maar innig.
“Dit is gevaarlik en ’n bra nuttelose akademiese oefening om die bundels van ’n digter met mekaar te vergelyk. Stil punt van die aarde is egter ’n hoogtepunt, nie net in Johann de Lange se werk nie, maar in die Afrikaanse digkuns en letterkunde. Ek beveel dit ten sterkste aan vir publikasie.”
Marthinus Beukes skryf as volg oor Stil punt van die aarde in Beeld van 17 Maart 2014: “Die verhouding tussen taal en digterskap is in hierdie bundel ’n belangrike tema. In die eerste afdeling, ‘Josefskleed’, word die taak van dig en digkuns in variantvorme veelkleurig geskets.
“Weerklanke van ander digters kom voor, maar veral die metaforiese gestaltes van die perdeby, lewerik, trapsuutjies, duif en kat maak van die digter ’n woorddief in God se boord (soos die dief in Cloete se gedig ‘Rotsode’).
“Stil punt van die aarde is nogeens bewys van De Lange se virtuose digterskap – sy berekende bundelbou en tematiese veelstemmigheid sal in die Afrikaanse digkuns bly voortstu. ‘Hy los sy spore op papier’, soos dit in die gedig ‘Narwal’ uit Vaarwel, my effens bevlekte held, saamgevat word.”
Op LitNet sluit Joan Hambidge haar bespreking van Stil punt van die aarde só af: “Soms kom daar ’n bundel oor jou lessenaar wat ’n unieke plek inneem en die leser se chakras dwingend deurmekaar krap. Stil punt van die aarde is so ’n bundel. Eliot se uitsprake oor wat van die digter verwag word, word nogmaals in hierdie uitsonderlike bundel bestendig.”
Vir Philip John (Rapport, 9 Maart 2014) vat die gedigte wat handel oor die erotiek en die dood die “emosionele kern” van die bundel vas. John meen dat alhoewel Stil punt van die aarde die Afrikaanse poësie nie in ’n nuwe koers dwing nie, “behou De Lange sy posisie as digter wat Afrikaanse poësie onverskrokke laai met ’n emosionele intensiteit wat moeilik geëwenaar gaan word”.
Op Versindaba skryf Tom Gouws: “Die eerste twee afdelings van die bundel, ‘Josefskleed’ en ‘Spore’, wemel (in die mooi sin) van diere, voëls en insekte. Na my mening is die meeste van hierdie gedigte die grootste bate van die totale bundel. Jy lees asemloos en vol verrukking hoe die digter met ’n fyn waarnemingsvermoë, ’n totaal oorspronklike digterlike beskrywing, briljante metaforisering en ’n verbysterende stilistiese skeppershand beeldgestalte aan hulle gee. Deurgaans word die beskrywings gebalanseer tussen twee uiterstes: enersyds die verwording wat ek vroeër genoem het, en andersyds die mimetiese (waarbinne die spieëlkode die sterkste vooropgestel is). Dit word ’n heerlike spel wat boeiend aan verlossing deur vereenselwiging beslag gee.”
Gouws is nie altyd só vleiend oor al die gedigte nie, maar hy sluit sy resensie hiermee af: “Hier is uitstaande verse in hierdie bundel. Helaas is daar ook heelwat swakker gedigte (ek sou byvoorbeeld die laaste twee afdelings van die digbundel nie ingesluit het nie, ’n gedig of twee uitgesonder). Maar, dis onteenseglik waar: De Lange is bepaald een van ons groot digters in Afrikaans, en hierdie bundel bevestig sy kragtige digterskap.”
Hierdie vrugbare tyd in Johann se digterslewe word in 2016 voortgesit met die publikasie van ’n Hunkering se grein by Human & Rousseau.
Joan Hambidge wou by Johann weet hoe die leser die idee van ’n hunkering se “grein” moet verstaan (Netwerk24, 22 Augustus 2016). Johann verduidelik aan haar: “Vir my het die poësie net een onderwerp en dis taal sélf. Die ‘herinneringe’ van die titel gaan nie net oor ’n terugblik op die verlede nie, maar ook ’n terugreis deur jou eie skryfwerk. Taal sélf het ’n tekstuur. Wanneer jy ander skrywers lees, is dit daar, onverwoordbaar, maar voelbaar. En wanneer jy skryf, werk jy met verskillende registers, verskillende teksture, en as jy suksesvol is, voel jou leser die grein van jou taal, van jou unieke stem. En vir my, ná ’n leeftyd van eroties skryf (eerder as erotiek skryf), is ek bewus daarvan dat taal léwend is, dat daar ’n lyflike ervaring is, en dat woorde en klanke by my ’n lieflike dimensie by skryf bring.”
Oor die invloed van NP van Wyk Louw op Johann se digkuns in die algemeen en spesifiek by die skryf van ’n Herinnering se grein vertel hy aan Hambidge dat soos ’n mens begin lees, verskillende skrywers in die ontwikkeling van jou skryfkuns vir jou oopgaan. “Louw was nie een van die digters wat vroeg reeds met my gepraat het nie. En hy het mý gekies, nie ek vir hom nie. Hy het my só vasgevat, en ’n gesprek begin wat nou al meer as 30 jaar duur. By hom het ek akkuraat leer skryf. Hy het my veral geleer wat die uitdrukkingsmoontlikhede van Afrikaans is. Hy is die Poolster, hy rig my, en hy bly immer onbereikbaar.”
Op LitNet skryf Henning Snyman dat Johann de Lange in Hunkering etlike digvorme gebruik soos kwatryne, etse, limerieke, spotgedigte en parodieë. “Belangrik is egter om in hierdie bundel nie na besondere kenmerke van digsoorte te soek nie. Die teks is te spontaan, te ontdaan van enige pretensie of selfs die skyn van pretensie, te direk eerlik. Die digter word, in goeie sin, verlei deur die skep van paradigmas. Dit gee aan die bundel ’n besondere spontane aard, maar die dubbelkantigheid van die woord bly nie agter nie. Johann de Lange is ’n deurwinterde digter, maar in ’n Hunkeringe se grein kom ’n gemaklikheid met die woord na vore wat dui op ’n volwassenheid in die digter se verhouding met die taal soos geen van sy vorige werk nie. Om NP van Wyk Louw na te praat: Dit is asof die digter ‘in vreugde en spel die woord uit sy hand laat val’. [...]
“’n Hunkering se grein is ’n veelkantige bundel en plaas telkens die fokus op ’n verdere aspek van die mens en sy pyn en eensaamheid. Die bundel is ’n viering van die kriptiese woord, maar ook van die gelaaide woord. Dit deel die taalspel met, en van, ander digters, maar is uiteindelik eg menslik en persoonlik. In een woord: ’n pragbundel.”
Op Netwerk24 skryf Tom Gouws (10 Oktober 2016) dat as ’n mens die woordjie “grein” neem in sy betekenis as gewigsmaat, kan die leser ’n bundel te wagte wees “waarbinne die aarde en sy waarde getakseer of geweeg gaan word met die swaartekrag van verganklikheid. Niks hiervan is nuwe temas nie, uiteraard die jukstaposisie daarvan ook nie, maar De Lange se meesterlike digtershand ontroer die leser in hoe in vers ná meedoënlose vers die ontglippende oordeel probeer deurgrond, verduur en verduursaam. [...] Johann de Lange lewer met hierdie digbundel ’n ontroerende huldeblyk aan die onvernietigbare lewe, en die dood, sy gelate pleitbesorger.”
Hennie Aucamp was vir Johann ’n mentor, ’n vriend, ’n geesgenoot en iemand wat ’n besadigende invloed op Johann se meer “heethoofdige” temperament gehad het. Johann vertel aan Joan Hambidge op Netwerk24 dat toe hy Hennie Aucamp voor sy debuut as digter ontmoet het, hy geen benul kon gehad het van die belangrike rol wat hy in sy lewe sou speel. “hoe hy dit sou verryk, of dat ons vriendskap tot en met sy dood sou duur. Hy het my aan sóveel nuwe dinge bekend gestel. Hy het ’n groot verwysingsraamwerk gehad, wat dit heerlik gemaak het om met hom te gesels. Die ganse taalregister is bestryk, en niks was taboe nie. Hy het by my ’n liefde vir ou woorde en uitdrukkings gestig.
“Hennie het my, nes Louw, geleer dat helder denke in die eerste plek jou styl moet rig. As jy helder dink, sal wat jy skryf helder wees. As daar ’n fout is met ’n gedig, moet jy dit gaan soek in die dinkwerk daaragter, en/of in die taal.
“Dit was ’n vreugde om in die laaste 15 jaar van sy lewe sy ontwikkeling as digter mee te maak. Dit het ’n verdieping in ons vriendskap gebring. In ’n Hunkering se grein het ek gehoop om minstens één gedig te kon skryf om hulde te bring. Wat gevolg het, was ’n stortvloed van gedigte oor hom en vir hom. Uiteindelik kon ek ’n hele afdeling in die bundel aan hom wy, en só weer die gesprek met hom hervat.”
In 2017 publiseer Johan Gulp met die subtitel Kaapse paragrawe 1993-1999. Dit bevat inskrywings uit Johann se dagboeke.
Joan Hambidge (op haar blogspot) skryf dat hoewel mens met die eerste lees van die dagboeke, gekonfronteer word met die seksuele ervaring en met cruising en daar op verskillende maniere na die manlike geslagsorgaan gekyk word, daar ágter hierdie beskrywings veel meer dinge gebeur.
“Dit is ’n boeke van eensaamheid, ellende: die verwerking van ’n pynlike liefdesverhouding (en verraad) en die gay-mens wat moet vrede maak met sy posisie as uitgewekene. En dit is ’n soort kladboek vir die digter. Lesers wat bekend is met De Lange se digkuns, sal die impulse sien vir ’n gedig of koerverhaal.
“Die geweldige eerlikheid is wat hierdie boek so aantreklik maak. Ons sien byvoorbeeld hoe die jong Johann (toe Daniël) deur sy oom verwyt gemaak word dat hy die rede is vir sy neef se seksuele voorkeur. Daar is ook die verwysings na die sibbe en die understated beskrywing van hoe ’n suster deur die weerlig doodgeslaan word, tref diep. Die ellende van dood - onder andere ook die dood van die minnaar se moeder - word ingehou beskryf. [...] Die boek dwing bewondering af vir die ongebreidelde beskrywing van seks en die eerlike aanbod van alles.”
In Beeld van 24 April 2017skryf Jean Meiring dat Gulp nie vir hom die hoogtepunt in Johann de Lange se oeuvre is nie. Hoewel die hoofvertelling in die inskrywings - die verhouding tussen De Lange en Damon - belangstelling en empatie by die leser wek, asook die vertelling van die verhouding tussen die skrywer en sy neef, Daniël, is daar vir die res min dinge wat Meiring geboei het. Vir hom was veral die sekstonele “banaal en saai”.
Ook is die boek nie goed versorg nie: “De Lange se werk word immers gewoonlik gekenmerk deur die nougesette afweeg van die laaste lettergreep. Daar is ook woorde wat soms los en soms vas geskryf word en foute met spelling van persone se vanne.”
Johann is in Maart 2013 na meer as 15 jaar weg by Exclusive Books. Daarna het hy vryskutwerk gedoen totdat hy in 2017 betrokke geraak het by die AVBOB-poësiekompetisie. Hy is aangestel as hoofredakteur van hierdie projek en staan nog altyd aan die hoof daarvan. Die doel van hierdie projek was om ’n uitlaatklep te verskaf aan diegene wat geliefdes aan die dood afgestaan het en ’n plek van troos te skep. Daar is ook besluit om ’n bloemlesing van hoop en heling saam te stel waarin alle Suid-Afrikaners wat vertroosting soek, kan baat vind.
Die reaksie was oorweldigend - een wat AVBOB en die redakteurs nie in hulle wildste drome verwag het nie: 20 774 gedigte in al elf amptelike tale is deur 6 060 digters oor die hele Suid-Afrika heen, ontvang. 3 108 gedigte is vir publikasie aanvaar en digters het R300 per gedig ontvang.
Frik Rademan, hoof uitvoerende beampte van AVBOB, sê dat die inspirasie vir die projek gespruit het uit mense se onvermoë om hulle verlies as gevolg van die afsterwe van ’n geliefde, te verwoord: “Een van die eerste dinge wat baie mense ons vra wanneer hulle hier aankom, is om hulle te help met die begrafnisbrief. En om een af ander rede is poësie die perfekte manier om verlies te verwoord. Poësie behoort aan ons almal; dit is die eiendom van die mense.” (AVBOB Poetry)
Johann het die volgende gesê oor die positiewe reaksie wat hulle gehad het: “Although the theme of the competition was mortality, it was in the category of hope that we received the most poems. And it is with a slow kind of joy that one realizes that, despite the difficulties our country and its people are experiencing right now, not everybody has given up hope.”
Sedertdien is daar elke jaar ’n bloemlesing van gedigte gepubliseer onder die titel I wish I’d said …
In 2020 publiseer Human & Rousseau Johann se bundel Die meeste sterre is lankal dood en word dit in 2021 bekroon met die ATKV-Woordveertjie vir Poësie, sowel as met die Sala-prys vir poësie vir 2021. Johann het egter die Sala-prys van die hand gewys.
In ’n brief aan die Sala-bestuur wat op LitNet (11 November 2021) geplaas is, skryf Johann as volg: “Laat hierdie brief dien as my amptelike van die hand wysing van die Sala-poësieprys vir 2021.
“Die toekenning van literêre pryse is ’n poging om die allerbeste werk van ’n skrywer of genre te beloon. Dit is egter nie die geval met die Sala-pryse nie. Uit ’n skrywe van Sala aan my vandag blyk dit nou dat ons álmal wenners is, en dat die prysgeld gelykop tussen my en my ‘medewenners’ verdeel sal word. Dit strook nie met die publisiteit vooraf waar pertinent genoem word dat die prysgeld R60 000 is nie. Dit is misleidend en oneerlik.
“Dit word duidelik dat die Sala-bestuur nie in beheer van die prosesse is nie, dat hulle geen benul het van wat pryse en bekroning behels nie. Dit is alreeds problematies om verskillende tale teen mekaar te wil vergelyk.
“So was in my kategorie inskrywings in Afrikaans, Engels, Xhosa, Setswana, Tshivenda en Sepedi. Die logiese sou wees om die veeltaligheid van ons land in ag te neem en in elke taal ’n wenner aan te wys. In stede daarvan wil dit voorkom of die keurders ’n probleem gehad het om ’n enkele wenner aan te wys, en elk hulle taal as wenner wou sien. Dié situasie is vererger deur die Sala-bestuur se besluit om dan maar almal gelukkig te hou en die prysgeld soetjies-soetjies onder al die ‘wenners’ te verdeel. Die faling van vanjaar se bekronings het onder meer te doen met keurders se onbekwaamheid om ’n duidelike wenner aan te wys.
“Ek het simpatie met die ander digters en skrywers. Hierdie tameletjie is nie hulle maaksel nie, maar dié van die lomp, onkundige administrasie van Sala. As gevolg hiervan is die Sala-pryse betekenis- en waardeloos, en behoort dit nie met enige erns bejeën te word nie.”
Die beoordelaars van die ATKV-Woordveertjie vir Poësie (Diana Ferrus, Bernard Odendaal en Christo van der Westhuizen) het die volgende te sê gehad oor Die meeste sterre is lankal dood: “Sover dit sy vers-tegniese vaardighede as digter aanbetref, is talle kritici dit eens dat Johann de Lange nie sy gelyke in Afrikaans het nie.
“In Die meeste sterre is lankal dood word ’n ouer wordende, eenkanterige fynkyker se blik op dinge en gebeure vertolk. ’n Omvattende, noodwendig samehangende visie op die (onoorsienbare) werklikheid word nie voorgegee nie; slegs ‘inskaduwings van die lig’ (titel van die openingsafdeling) binne vervlietende of reeds vervloë besonderhede daaruit kan aan die leser voorgehou word.
“’n Uitgebreide taalregister en omvangryke verwysingsveld word betrek in die strewe om die vervlieting tot beskouing te stuit, om trefsekerheid en sprankeling te behaal met teks en konteks, met woordbetekenis en -klank, met beelding en versvormgewing.
“Verrukking en melankolie gaan hand aan hand in hierdie uitstaande digprestasie deur De Lange. Die bundel getuig nogmaals van De Lange se sonderlinge vernuf om komplekse onderwerpe laag vir laag te stroop en opnuut helder te laat weerklink.” (LitNet, 16 September 2021)
Hein Viljoen is die resensent van Die meeste sterre is lankal dood vir Netwerk24 (1 November 2020) en hy begin sy bespreking só: “Die titel van Johann de Lange se jongste bundel suggereer verdriet oor die dood van groot mense, veral kunstenaars, en andersyds raak die sterre letterlik uitgedoof in gedigte wat die aanbreek van die dag of ’n nuwe dag begin vier.
“Die eerste gedig, ‘In my kamer’ (bl 11), gee die toon aan, naamlik verwondering oor ‘hoe lyne op ’n vel / papier’ deur ‘inskaduwings van die lig’ ‘tot mens verdig, of dier’. Die kunstenaar teken eintlik net die skadu’s, en die skadu’s vul die lig in, gee reliëf daaraan, en vorm sodoende die figuur.
“Die bundel werk ook met sulke inskaduwings, ofte wel fyn en ligte aanduidings van skadu en donkerte wat gestalte gee aan figure. Skadu en donkerte het hier verskillende betekenisse: letterlike donker maar ook die donker van die dood en verganklikheid. Woorde is sulke fyn en ligte arserings waardeur beelde en figure tot stand kom. […]
“Om so presies te werk te gaan, om sorgvuldige teenhangers van die emosie tot stand te bring, veral ook figure wat ‘ongekwets [is] deur tyd & lig’, is vir my die kern van die bundel. Die ampersand wat die digter deurgaans in plaas van ‘en’ gebruik, is so ’n afskaduwing: ’n fyn en presiese teken in die lettertipe Classic Garamond wat veel meer daaragter omlyn. […]
“Die bundel eindig met die afdeling ‘Gebedewiel’ waarin die digter op merkwaardige wyse uit gewone maar wonderlike dinge soos ’n akker of sonsverduistering religieuse betekenis haal. Die kleure, geure en teksture van ’n verskeidenheid groente en die sny- en kookprosesse wat dit transformeer tot ‘spys’, roep in ‘Pleroma’ (bl 98) inderdaad die volheid van die Al op.
“In hierdie bundel is ’n meesterkok aan die werk. Uit ’n ryk verskeidenheid bestanddele en emosies het die digter deur sy besonder fyn waarneming en die intense maar presiese manier waarop hy skryf, ’n bundel vol ryk en subtiele geure en teksture saamgestel.
“Heel besonders is die treffende herhaling van klanke en die vindingryke rymwoorde – die hele klankorkestrasie – waarmee De Lange die elegiese grondtoon van die bundel uitgewerk het.”
Fanie Olivier sluit sy breedvoerige resensie op LitNet (8 Januarie 2021) af: “In die gedigte wat in hierdie bundel opgeneem is, wys Johann de Lange weer watter voortreflike versmaker hy is. Hy demonstreer hoe hy binne ’n baie ou tradisie skryf, maar dit terselfdertyd kan manipuleer, daarmee speel en dit vernuwe. Dit word ondersteun deur ’n onmiskenbare vertroudheid met ’n wye Afrikaanse taalregister waarbinne hy hom volkome tuis voel.
“Hoewel ’n mens seker sou kon aanvoer dat enkele gedigte dalk beter in ander afdelings sou tuishoort, is daar geen twyfel daaroor dat die bundel op ’n besonder knap en oorwoë manier bedink en georden is nie. Ook daarin is die hand van ’n vakman sigbaar.
“In baie opsigte is Die meeste sterre is lankal dood dan ’n tipiese Johann de Lange-bundel, maar die wyse waarop hy met meer deernis skryf – en met minder sekerhede – verleen ’n ander kwaliteit daaraan. Dit is ’n belangrike bundel met uitstekende gedigte, waarmee die digter opnuut sy beskeie ideaal om ‘tussen ander ook sy klein kleim / af te steek, sy beeste in die soetgras te laat wei’ (81) verwesenlik. Meer nog, om sy besondere plek in die Afrikaanse poësiewêreld te bevestig.”
Teen die einde van 2020 verskyn Johann de Lange se tweede bundel kwatryne by Naledi onder die titel Duimnaelsketse.
Op haar blog, Woorde wat weeg, skryf Joan Hambidge as volg oor Duimnaelsketse: “Duimnaelsketse heet Johann de Lange se bundel kwatryne wat ’n ‘opvolg’ is van Weerlig van die ongeloof wat in 2011 verskyn het.
“Hierdie is mini-verse – ’n duimnaelskets is immers ’n vinnige skets sonder korreksie. En ’n mankement wys uiteraard sterker op in so ’n kort gedig. Die titel is egter misleidend, want die digter is wel besig met afgeronde verse, daardie ‘dinamiek van die gees’, soos wat Opperman, self ’n voortreflike beoefenaar van die kwatryn opgemerk het in Standpunte 9.
“Die kriptiese waarneming; sentensieuse en epigrammatiese aard van hierdie gedig, soos Opperman beklemtoon, is alom bekend. Ook die gebruik van die ‘spaarse woord’. Waarneming én kommentaar geregistreer in vier reëls met verskillende rymskemas. ID du Plessis, Uys Krige, Opperman, SJ Pretorius en Daniel Hugo is bekende beoefenaars van hierdie vorm in Afrikaans.
“In die pragtige kwatryn vir Eybers en Kirsch word hulle buitestaanderskap beskryf in ’n gedeelde taal: Afrikaans. Die een woonagtig in Amsterdam, die ander een in Israel en tuisgebring in hierdie gedig:
“Elisabeth Eybers & Olga Kirsch
Kaapstad 1979, ’n laaste besoek
Vriende, én eensame ballings van ’n taal,
het hul ’n laaste keer in die vlees ontmoet
in die Kaap van Storms; oor ’n laaste maal
’n gedeelde taal gewissel, & gegroet.”
Rickus Ströh bespreek Duimnaelsketse in Tydskrif vir Letterkunde: “Die voorblad [van Duimnaelsketse] is ’n afdruk van Christiaan Diedericks se kunswerk ‘Play with me’. Soos met die ander twee De Lange-bundels wat met ’n Diedericks-werk op die voorblad pronk, is dit hier die eerste sleutel tot die lees van die bundel. Bekende temas in De Lange se oeuvre word met die voorblad geaktiveer, te wete die visuele, voyeurisme, liggaamlikheid en (gay) seksualiteit. Die visuele, en veral die blik op die manlike liggaam, word in die kunswerk beklemtoon: die blik van die figuur op die ontkledende se geslag (met behulp van rooi pyle) en laasgenoemde se blik op die leser. Die frase ‘play with me’ versier die voorste figuur se hemp en benadruk die objektivering van die manlike liggaam.
“Die titel, Duimnaelsketse, is die tweede sleutel wat die leser in ag moet neem. ’n Duimnaelskets is ’n vinnige, kort, impromptu skets, maar kan ook in die tegnologiese jargon verwys na ’n kleiner weergawe van ’n groter grafiese afbeelding (in Engels ‘thumbnail’). Die titel word tweeledig en ironies aangewend. Dit verwys indirek na die kwatryn as kort digvorm wat inhoudelik net soveel gewig dra as ander digvorme; en tweedens skakel dit hierdie bundel met De Lange se vorige bundels. (In Die algebra van nood [2009] tref ons ’n gedig siklus aan met die titel ‘Duimsketse’ [21] en in Stil punt van die aarde [2014] ‘Duimsketse by die vier seisoene in Kaapstad’ [44–5]). Die titel is ironies omdat De Lange se kwatryne inderdaad nie vinnige, impromptu sketse is nie, maar eerder getuig van uitnemende digterlike tegniek en woordspeling. Dit is verder ook interessant dat ’n meerderheid van die kwartyne die rymskema abcb het. Dit wil voorkom asof De Lange besig is om hier sy eie stempel op dié digvorm af te druk.
“Tematies word die bundel weldeurdag uiteengesit deur die kwatryne in ses afdelings te verdeel, elk met ’n oorhoofse tema wat aansluit by die hooftema wat regdeur die afdelings waargeneem kan word, naamlik die digter se besinning oor ’n leeftyd wat aan die verbygaan is en die naderende dood.”
Ströh sluit sy bespreking af: “Met hierdie bundel bevestig De Lange sy plek as een van die voorste kwatrynskrywers in Afrikaans en maak hy ten volle gebruik van die kwatryn as ‘gedig in sy eie reg [wat] op sy beste ’n bepaalde lewenshouding of -aanvoeling op pakkende, pregnante, epigrammatiese wyse tot uitdrukking bring’ [...].” (AP Grové & H Viljoen: “Kwatryn”. In: Literêre terme en teorieë)
Johann vertel aan Wyn Roux (Kaapse paragrawe) dat hy die digkuns as ’n verhewe medium beskou: “Ek dink dis poësie wat die grense van taal versit. Dis ’n baie ‘unforgiving’ medium. Jy skryf so op die woord af, & teen die tyd in. Waar die gedig probeer om die oomblik te stol, rek prosa dit weer uit – die mees ekstreme voorbeeld hiervan moet Proust se Remembrance of things past wees. Poësie is die medium waarin die ‘nooit gehoorde’ dinge gesê word. Dit is die beiteltjie waarvan die ligte tik ’n bars laat begin wat tot anderkant die sterre loop.” (Onderhoud met Wyn Roux op Kaapse paragrawe)
Publikasies:
Publikasie |
Akwarelle van die dors |
Publikasiedatum |
1982 |
ISBN |
0798114460 (hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Ingrid Jonker-prys 1982 |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Waterwoestyn |
Publikasiedatum |
1984 |
ISBN |
0798117478 (hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Snel grys fantoom |
Publikasiedatum |
1986 |
ISBN |
0798119705 (hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Wordende naak |
Publikasiedatum |
1990 |
ISBN |
0798629878 (sb) |
Uitgewer |
Pretoria: HAUM-Literêr |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Rapport-prys 1990 |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Nagsweet |
Publikasiedatum |
1991 |
ISBN |
0947046364 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Vleiswond |
Publikasiedatum |
1993 |
ISBN |
0798131985 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Wat sag is vergaan |
Publikasiedatum |
1995 |
ISBN |
0798134852 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Vreemder as fiksie en ander konterfeitsels |
Publikasiedatum |
1996 |
ISBN |
0798136138 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Kortverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Tweede natuur |
Publikasiedatum |
2000 |
ISBN |
0624039234 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Homeros |
Literêre vorm |
Kortverhale |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Die algebra van nood |
Publikasiedatum |
2009 |
ISBN |
9780798150484 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Hertzogprys 2011 |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Judasoog: ’n keur uit die gedigte van Johann de Lange |
Publikasiedatum |
2010 |
ISBN |
9780798151498 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Weerlig van die ongeloof |
Publikasiedatum |
2011 |
ISBN |
9781869194512 (sb) |
Uitgewer |
Pretoria: Protea Boekhuis |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Vaarwel, my effens bevlekte held |
Publikasiedatum |
2012 |
ISBN |
9780798156301 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human Rousseau |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Vaarwel, my effens bevlekte held |
Publikasiedatum |
2012 |
ISBN |
9780798156301 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human Rousseau |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
’n Hunkering se grein |
Publikasiedatum |
2016 |
ISBN |
9780798172998 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
2017 kortlys Elisabeth Eybers-prys vir Afrikaanse en Engelse poësie |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Gulp: Kaapse paragrawe 1993-1999 |
Publikasiedatum |
2017 |
ISBN |
9780994701329 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Xlibris |
Literêre vorm |
Dagboekinskrywings |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Die meeste sterre is lankal dood |
Publikasiedatum |
2020 |
ISBN |
9780798181235 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
§ 2021 ATKV-Woordveertjie vir poësie § 2021 SALA-poësieprys |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings op die internet |
|
Publikasie |
Duimnaelsketse |
Publikasiedatum |
2020 |
ISBN |
9781928518679 (sb) |
Uitgewer |
Gansbaai: Naledi |
Literêre vorm |
Poësie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings op die internet |
|
Johann de Lange as samesteller en redakteur
- Aucamp, Hennie: Die laaste wals: Hennie Aucamp se keuse uit sy verhaalkuns. Kaapstad: Tafelberg, 2017 [ISBN 9780624082408 (sb)]
- Aucamp, Hennie: Oopkardoes: boertige ryme. Kaapstad: Naledi, 2020
- Bennett-Moll, Nini: As die woorde begin droom: ’n Bundel vir die poësieliefhebber en die versamelaar. LitNet, 19 Julie 2011
- Beukes, Marthinus: Vernuwing, spanning bied veel verryking. Rapport, 18 Januarie 2011
- Cochrane, Neil: Befaamde vrouedigter Spies met keur vereer. Beeld, 12 Julie 2010
- Crous, Marius: Knobel se nalatenskap word ten volle geëer. Beeld, 16 Mei 2011
- Die dye trek die dye aan: verse oor lyflike liefde, saamgestel deur Johann de Lange en Antjie Krog. Kaapstad: Human & Rousseau, 1998
- Hambidge, Joan
- Bundel van waarde vir die versamelaar. Volksblad, 4 Mei 2011
- Hennie Aucamp – Die laaste wals (Johann de Lange, samest.) (2017). Woorde wat weeg, 9 April 2017
- Lina Spies se waarde uitsonderlik. Volksblad, 30 Maart 2010
- Resensie / Die meeste sterre is lankal dood, Duimnaelsketse, en Oopkardoes. Woorde wat weeg, 6 September 2020
- Resensie: I wish I’d said ... Vol 3. Versindaba, 10 November 2020
- I wish I’d said… Vol 1. A product of the AVBOB Poetry Project. Editors: Johann de Lange / Mantoa Motinyane. Kaapstad: Naledi, 2018
- I wish I’d said… Vol 2. A product of the AVBOB Poetry Project. Editors: Johann de Lange / Mandla Maphumulo. Kaapstad: Naledi, 2019
- I wish I’d said… Vol 3. A product of the AVBOB Poetry Project. Editors: Johann de Lange / Goodenough Mashego. Kaapstad: Naledi, 2020
- I wish I’d said… Vol 4. A product of the AVBOB Poetry Project. Editors: Johann de Lange / Rethabile Possa-Mogoera. Kaapstad: AVBOB/Naledi, 2021
- I wish I’d said… Vol 5. A product of the AVBOB Poetry Project. Editors: Johann de Lange / prof Nxalati CP Golele. Kaapstad: AVBOB/Naledi, 2023
- Knobel se nalatenskap vaardig hier vervat. Die Burger, 21 April 2011
- Knobel, Wilhelm: As die woorde begin droom: ’n keur uit die gedigte van Wilhelm Knobel. Kaapstad: Bel Monte Uitgewers, 2011
- Meyer, Naomi: I wish I’d said: ’n onderhoud met Johann de Lange. LitNet, 8 Augustus 2018
- Odendaal, Bernard: Poësie en erotiek lê lepel in tema-bundel. Volksblad, 16 November 1998
- Olivier, Fanie: Al die erotiese verse is glad nie op standaard. Rapport, 7 Maart 1999
- Pieterse, Annel: I wish I’d said … Vol 1, edited by Johann de Lange and Montoa Motinyane: a review. LitNet, 24 Desember 2019
- Pieterse, HJ: ’n Puik blik op verse van lyflike liefde in Afrikaans. Beeld, 23 November 1998
- Soort soek soort: ’n versameling alternatiewe ervarings. Kaapstad: Human & Rousseau en Tafelberg, 1997
- Spies, Lina
- Die laaste wals – Hennie Aucamp se keuse uit se verhaalkuns: ’n LitNet Akademies-resensie-essay. LitNet, 25 Oktober 2017
- Die skyn van tuiskoms: ’n keur uit die gedigte van Lina Spies. Kaapstad: Human & Rousseau, 2010
- Szczurek, Karina Magdalena
- Van Coller, HP: Gee openhartige oorsig oor die gay-tema. Volksblad, 28 Maart 1998
- Van Vuuren, Helize: Veelvoud stemme te hoor in boeiende bloemlesing. Die Burger, 17 Februarie 1999
- Wybenga, Gretel: Gay-bundel trek voordeel uit klimaatsverandering. Kaapse paragrawe
Johann de Lange as vertaler
- Bosman, Herman Charles: Die beste verhale en humor van Herman Charles Bosman. Kaapstad: Human & Rousseau, 2013
- De Vries, Willem: Bosman praat opnuut Afrikaans. Netwerk24, 8 Oktober 2013
- Hambidge, Joan: Die beste verhale en humor van Herman Charles Bosman – vertaal deur Johann de Lange (2013). Woorde wat weeg, 23 Januarie 2014
- Stockenström, Wilma: The wisdom of water. Kaapstad: Human & Rousseau, 2007
Artikels oor Johann de Lange
- Aucamp, Hennie: ABSA Ketting: Hennie Aucamp gesels met Johann de Lange. LitNet, 21 Junie 2006
- De Goede Foster, Ronel: Welverdiende verering vir baanbreker [Johann de Lange 60: ’n huldiging onder redaksie van Daniel Hugo]
- De Lange gehuldig op 60ste met bundel deur Akademie. Netwerk24, 22 Desember 2019
- De Lange se stem keer terug. Die Burger, 27 Februarie 2009
- De Vries, Willem: Digter Johann de Lange ontvang die Hertzogprys. Beeld, 27 Maart 2011
- Fritz, Dawn:
- Die digterlike gesprek by Johann de Lange: ’n psigoanalitiese studie. Doktorale tesis, Universiteit van Kaapstad, 2004
- Waar eeue wegtik met elke oogknip: fin de siecle-intertekste in die poësie van Johann de Lange. MA-tesis, Universiteit van Stellenbosch, Maart 1998
- Hambidge, Joan:
- Hertzogprys:
- Aankondiging Akademiepryse 2011. Die Afrikaanse Taalraad, Maart 2011
- Akademie vereer skrywers. Die Burger, 26 Maart 2011
- De Lange wen Hertzogprys. Volksblad, 29 Maart 2011
- Hertzogpryswenner vir poësie is… De Kat, April 2011
- Joan Hambidge – Suiwerheid van intense paradoks. Beeld, 4 April 2011
- Joan Hambidge – Van rand tot kanon. Die Burger, 31 Maart 2011
- Johann de Lange wen 2011 Hertzogprys vir Poësie. Versindaba, 25 Maart 2011
- Joan Hambidge, Johann de Lange oor skrywerskap. Netwerk24, 22 Augustus 2016
- Johann de Lange
- Johann de Lange studie. Woorde wat weeg
- Johann de Lange. Versindaba
- Kaapse paragrawe
- Kemp CT: Deur die sleutelgat: ’n ondersoek na die voyeuristiese elemente in die poësie van Johann de Lange. MA-tesis, Universiteit van Stellenbosch, Desember 2000
- Kemp, Theo en Ronel Foster: Deur die loergat: ’n ondersoek na die voyeuristiese elemente in Johann de Lange se “olympia”. LitNet Akademies, 20 April 2011
- Krog, Antjie: My vriendskap met Johann de Lange. Stilet, 1 Mei 2019
- La Vita, Murray: De Lange se stem keer terug. Die Burger, 27 Februarie 2009
- Malec, Jennifer: [The JRB Daily] Johann de Lange turns down South African Literary Award. Johannesburg Review of Books, 19 November 2021
- Nel, Adéle en Rickus Ströh: “Kyk hoe elk in die ander pas”: landskap, liggaam en die visuele in enkele gedigte van Johann de Lange. Literator, 31 Mei 2016
- Poësievertaling as stiplees. Die Burger, 24 Julie 2007
- Press release: 16th South African Literary Awards, the 2021 winners. LitNet, 8 November 2021
- Press release: Response to South African Literary Award winner’s resignation of his award. LitNet, 16 November 2021
- Roux, Wyn: Onderhoud met Johann de Lange vir die Lente 2008 uitgawe van p-yp!. Kaapse paragrawe
- Slippers, Bibi: Waar daar weerlig is: Johann de Lange oor sy nuutste bundel. LitNet, 16 November 2011
- Snyman, Marita: Die buitebladkunswerk: kruispunt van die ikoniese en verbale teks met spesifieke verwysing na die werk van Johann de Lange. Communicare: Journal for Communication Studies in Africa, Januarie 1994
- Stehle, Rudolf:
- Ströh, Rickus: “jy vir my soos ek vir jou”: Joan Hambidge in / en die poësie van Johann de Lange. Stilet, 2022
- Wasserman, Herman: Raves “wis grense tussen mense uit”. Die Burger, 11 Desember 2000
Gedigte deur Johann de Lange
- 11 kwatryne
- Ampule
- Brueghel in Parow
- Dagbreek met Apostels
- Die ander kant
- Die dag breek met die geur van mos en wyn
- Die vrygesel Viljee
- Diepgang
- Druif
- Eden
- Eskimo Nell [vertaal deur Johann de Lange]
- Gedigte
- OuLitNet
- OuLitNet
- Geen tortels meer
- Heildronk
- Hoe onsterflik die ydelheid
- Hortjies
- Ikarus
- Inkeer
- JC Kannemeyer
- Kuberkrismis
- Laatnagvrese
- Martelares [vertaal na ’n gedig van Agi Mishol]
- Minus een [gedig van die dag]. Vrye Weekblad, 19 Januarie 2024
- Mobius-strip
- Nadors
- Nelson Mandela
- Nog in my laaste blow job
- Oudisie
- Palimpses
- Saguaro-kaktus
- Semi
- SMS-aubade
- Streek (vir Judith Mason)
- Tulp
- Twee Clifton-gedigte
- Tydens ’n ketamien-trip
- Vertaalkompetisie: Vryheid
- Voorgee
- Wyndruif
- Yl lug
Artikels
- Aan die Sala-bestuur: My redes waarom ek nie die poësieprys aanvaar nie. LitNet, 11 November 2021
- ABSA-Ketting: Johann de Lange gesels met Joan Hambidge. OuLitNet, 5 Julie 2006
- “Die lewe is een groot verlies. Desnieteenstaande, desondanks … Liefde, Koos.” (saam met Ryk Hattingh). Die Burger, 27 Maart 2004
- Getrouwlijcheydt van segghen: die digterlike opdrag by Johann Lodewyk Marais [resensie van Diorama]. LitNet, 17 Desember 2010
- “Groot kuns” as objet trouvé. LitNet Akademies, 6 Maart 2012
- Mens se grootsheid, sotterny uitgebeeld [met Wilma Stockenström se 80ste verjaardag]. Netwerk24, 9 Augustus 2013
- Skryf, dig oor “skadu van dood” (Wilma Stockenström). Volksblad, 13 Augustus 2013
- Stephen Watson and Antjie Krog, or The return of the repressed. OuLitNet, 21 Februarie 2006
- Te wonderlik vir woorde: ’n besoek aan Ina Rousseau, 1996. OuLitNet, 3 April 2005
Johann de Lange se ATKV-Skrywersalbum is oorspronklik op 15-11-2018 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.
Bron
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum
• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.
Kommentaar
En skielik het AVBOB (vermaaklik vir sommiges, ek meen AVBOB en poësie? tot hul hoor waaroor dit gaan!) 'n poësie-kompetisie. En Coenie de Villiers bied 'n puik program "... ek wou nog sê" daaroor op Via-kanaal aan. En Amanda Strydom doen "Aan 'n onbekende seun" begelei deur tjello-musiek. Ek was diep geraak aangesien dit more my die herdenking van my seun se dood is. Wens ek kon kontak met die digter maak, getekende kopie van Wordende Naak kry ... Dankie in elk geval aan hom vir poësie wat saak maak en my diep geraak het ... (Sou hy ooit hier lees!)
Het nou net weer jou bundel, Weerlig van die ongeloof gelees. Dis wonderlik