I wish I'd said: ’n onderhoud met Johann de Lange

  • 2

Foto van Johann de Lange: LitNet

I wish I'd said
Johann de Lange & Mantoa Motinyane
Naledi
ISBN: 978 192 842 6271

Naomi Meyer gesels met Johann de Lange oor die meertalige digbundel I wish I'd said.

Dit was onlangs (weer) Mandeladag en steeds is daar in hierdie land nog so min vir meertaligheid gedoen. Maar daar is tog ook uitsonderings. Vertel my van I wish I'd said, asseblief. Die ontstaan van die bundel, en die redes daarvoor.

Tydens ’n gesprek met Christo van der Westhuizen, die groephoof van BRAND et al, ’n reklamemaatskappy in Pretoria, een Saterdagoggend in Kaapstad verlede jaar, het hy die konsep vir my uitgelê. Dit was ’n idee wat hy toe al geruime tyd mee rondgeloop het. Ons het ’n paar uur lank met groeiende opgewondenheid daaroor gesels, oor hoe mens so ’n projek sou aanpak, watter aspekte ingebou kon word om dit aantreklik te maak vir ’n borg. In daardie stadium was dit nog net ’n idee in sy kop.

Die ontstaan van die idee, die saadjie wat gevát het, was die dood van ’n seuntjie aan neuroblastoom, ’n soort kanker wat wêreldwyd jong kinderlewens opeis. Christo was persoonlik betrokke by die gesin ten tye van die afsterwe van die kind, en het sover dit moontlik was bygedra om mediese rekeninge ens te betaal en die kind se laaste maande spesiaal te maak. By die begrafnis het die oupa langs die oop graf gestaan, en hy het nie woorde gehad om sy smart en sy verlies uit te druk nie. Uiteindelik het hy ’n gesmoorde “Tata, Kiewiet” uitgekry.

Christo het besef dat dit dikwels gebeur dat mense in sulke omstandighede wanneer hulle dit die nodigste het, nie die woorde het om uiting te gee aan wat hulle voel nie. Die idee het ontstaan om ’n webwerf te skep waar gedigte rondom die dood en verlies – elegiese gedigte – versamel kan word, en waar diegene wat soek na die regte woorde om te sê, of na ’n gedig wat oordra presies wat daardie persoon wil oordra, geholpe kan raak.

Avbob was die ooglopende keuse vir ‘n medewerker, en so is die konsep aan hulle voorgelê. Die aanvanklike idee was om dit net in een taal te doen. Frik Rademan, uitvoerende hoof van Avbob, het baie van die konsep gehou, maar het gesê hulle sou in so iets belangstel net mits ons dit vir al 11 amptelike tale kan doen. Dit was nogal ’n strawwe opdrag, maar ons het die uitdaging aanvaar. Iets só omvangryk is nog nooit ter plaatse aangepak nie, en die idee om mense uit verskillende kultuurgroepe bymekaar te bring deur die medium van die poësie – om selfs die grens wat lewe en dood skei te kan oorbrug met ’n gedig – was opwindend.

Die projek het ook ander fasette gehad, soos die maak van dokumentêre programme oor Afrikaanse en Engelse digters. Verreweg die meeste swart digters skryf in Engels, want dit is waar die publikasiegeleenthede lê; dit is waar jou lesers en kopers is. Sentraal in die projek was egter ’n poësiekompetisie, oop vir alle ouderdomme en vir gedigte in al 11 amptelike tale. Ons het 11 redakteurs aangestel, een vir elke taal, om die gedigte wat ingeskryf word in ’n spesifieke taal te lees en te beoordeel.

Wanneer ’n gedig van genoegsame gehalte is (en hier moet mens in gedagte hou dat dit nie ’n streng literêre projek is waar literêre gehalte die enigste oorweging is nie), sal die redakteur dit aanvaar vir die kompetisie en word dit outomaties op die webwerf (avbobpoetry.co.za) gepubliseer. Die digter ontvang ’n e-pos om hom of haar te verwittig dat die gedig aanvaar is vir die kompetisie en dat hy/sy ’n fooi van R300 betaal sal word vir die gebruik van die gedig. Die kopiereg van die gedig bly by die digter. Alles is outomaties, behalwe nou die lees- en keurwerk, maar ook dít gebeur op die webblad, in die agtergrond. Om die kompetisie en betalings ens vlot te laat verloop, is ’n webruimte ontwerp wat redelik kompleks is, terwyl ons die koppelvlak met die publiek en die digters eenvoudig en toeganklik moes hou.

Aan die einde van die kompetisie is die 11 wengedigte aangewys, een in elke taal. Die kompetisiefunksie van die webwerf het gesluit, maar die biblioteek met aanvaarde gedigte (meer as 3 000 gedigte uit die byna 21 000 wat ons ontvang het in die vier maande wat die kompetisie geduur het) was oop vir die publiek om na hartelus te lees en te verken.

Terwyl die kompetisie aan die gang was, is reeds begin met werk aan die bloemlesing wat I wish I’d said sou heet. Ons het in elke taal sewe gevestigde digters genader om vir ons opdraggedigte, spesiaal vir die bloemlesing, te skryf. Die redakteurs het hulle keuses vir 1ste- en 2de-plek-gedigte deurgestuur. Ons plan was om, as deel van Avbob se eeufeesvieringe, ’n bloemlesing saam te stel met 100 gedigte. Die sewe opdraggedigte in elke taal het opgetel na 77 verse en die 1ste- en 2de-plek-gedigte uit die kompetisie het gesorg vir ’n verdere 22 verse, maw ons het altesaam 99 verse gehad. Die plan vir die 100ste gedig was om iets spesiaals te kry, en ek het gespeel met die idee om iets uit die Bleek en Lloyd-versameling van Khoi-gedigte te soek wat tematies sou pas. Dit sou van pas wees om ’n gedig uit ’n gestorwe taal te gebruik. Daar was sóveel om van te kies.

Uiteindelik het iets anders gebeur wat ons nie kon weerstaan nie. Coenie de Villiers het ons attent gemaak op Ouma Geelmeid (Katriena Esau), een van die laaste vier N|uu-sprekers. Hy is genader vir ’n ander projek rondom Ouma Geelmeid en het gedink dat in van die gesprekke wat met Ouma gevoer is, daar gedeeltes is wat baie poëties was. Dit is besluit: die 100ste gedig sal een wees in N|uu, ’n taal op die rand van verdwyning.

Ons het Naledi as uitgewer genader, en hulle entoesiasme en gewilligheid om deel te wees van só ’n projek was deurslaggewend. Dit was ‘n strawwe opdrag. Met al 100 gedigte bymekaar moes ons Engelse vertalings laat doen vir die 81 gedigte in die Afrikatale. Een na die ander vertaalmaatskappy wat ons genader het, het vriendelik maar ferm nee gesê. Poësie is te moeilik om te vertaal; hulle sien nie kans nie. Uiteindelik het ons wel ’n maatskappy gekry wat daarvoor kans gesien het, en met die hulp van die nege redakteurs van die Afrikatale is die vertalings gedoen. Ons Engelse redakteur, digter en uitgewer, Douglas Reid Skinner, het die vertaling van die Afrikaanse gedigte gedoen (met ’n bietjie hulp hier en daar van my), en hy het ook die Engelse vertalings nagegaan om enige foute ens uit te stryk.

Uiteindelik was die boek gereed en is dit drukkers toe. 500 kopieë is opgekoerier Pretoria toe, net-net betyds vir die gala-aand, Woensdag 20 Junie, by Diep in die Berg buite Pretoria. By hierdie geleentheid is die name van die 11 wenners bekend gemaak en het elkeen sy prys en prysgeld ontvang, en die bloemlesing is ook terselfdertyd geloods.

That was then, this is now. Dis jaar twee en die tweede kompetisie het pas op 1 Augustus afgeskop, en ons gaan alles wéér doen, maar ook anders.

Hoe maklik of hoe moeilik was dit om digters en redakteurs vir hierdie bundel op te spoor? In al die tale.

Ek het redakteurs vir Sepedi, Xhosa en Sesotho opgespoor, en Jerry Mojalefa van die Departement van Afrikatale aan die Universiteit van Pretoria het gehelp met die opspoor van redakteurs vir die res van die tale.

Die digters was ’n heel ander storie. Ons het geen data gehad om ons rigting te gee nie. Dit was nuwe terrein. Ons het gekyk na die demografiese verdeling van die taalgroepe om ’n idee te kry van die aantal sprekers, maar dit het ons niks vertel van die moontlike digters of lesers nie, of van hoe sterk die poëtiese tradisies in elk van die kulture is nie, of selfs, in die geval van die Afrikatale, watter vorm die poëtiese tradisie aangeneem het nie. Ons het geweet by sommige tale was die orale tradisies sterker as by ander waar daar reeds ’n oorgang gemaak is na ’n papiertradisie, na boeke, ens.

Iets anders waarvan ons bewus was, is dat verreweg die meeste swart digters in Engels skryf, soos ek reeds genoem het. Gaan ons hoegenaamd enigiets in party van dié tale self ontvang, wat nog te sê genoeg vir ’n kompetisie om te werk? Daar was baie onbekendes, baie vrae waarop ons nie antwoorde gehad het nie.

Ons verwagtinge was heel beskeie. As ons altesaam net so 5 000 gedigte kon kry, sou ons dankbaar wees. Die eerste weke van die kompetisie het baie stadig verloop, nie veel aktiwiteit nie. Ons geloof het begin wankel. Het ons reklame nie die regte mense bereik nie? Ons het alle mediums gebruik in die reklameveldtog – dit móés tog by mense uitgekom het? En toe, skielik, het dit bedrywig begin raak en die gedigte het begin instroom. Op die laaste dag alléén – 30 November – het ons meer as 800 gedigte ontvang. Uiteindelik het ons byna 21 000 gedigte ontvang, waarvan sowat die helfte in Engels was (die arme Douglas moes deur meer as 10 000 gedigte swoeg!). Ons kon nie vir beter gehoop het nie.

Het jy, buiten vir die gedigte, ook met sekere persepsies oor die dood en die liefde en die geboorte te doen gekry? Verskil dit van taalgroep tot taalgroep? Anders gestel: Watter ontdekkings het jy oor die skrywers van die verskillende gedigte in die verskillende tale gemaak?

Dit was interessant, ja, hoe daar verál rondom iets so aangrypend en geritualiseerd soos die dood verskillende benaderings was; verskillende tradisies. By feitlik al die tale – by sommiges meer as by ander – is die invloed van Westerse godsdiens duidelik. Dit was veral wanneer dit by die vertaling van die verse gekom het dat daar interessante dinge opgeduik het. Soms was die Engelse vertaling drie keer langer as die oorspronklike, soos byvoorbeeld in Sepedi, en dan verduidelik die redakteur dat dit is omdat daar na spesifieke rituele verwys word, of spreekwoorde gebruik word wat onbekend is in Engels en gevolglik om ’n langer omskrywing gevra het.

Watter gedigte het tot jou gespreek en hoekom?

Dis ’n moeilike een. Uiteraard het mens ’n swak plek vir jou moedertaal, en dan is daar besonder mooi bydraes in Engels ontvang. Wat die Afrikatale betref, kon ek hulle net deur die Engelse vertalings ervaar. En ek het meteens gewens mens kon die tyd terugdraai en van die laerskooljare af Afrikatale as deel van die leerplan hê. Ons sou soveel meer verstaan het nóú; soveel meer empatie en begrip gehad het as ons ’n taal gedeel het. Daar is nie ’n intiemer konneksie of ’n beter toegang tot ‘n ander kultuur as taal nie. ’n Ganse geskiedenis is daarin geënkodeer. Taal is geskiedenis sonder die manipulasie van belangegroepe. Dit lê alles neer in die kollektiewe geheue, en dit kan nie ge-hack word nie.

Die aanvanklike droom was dat elke gedig wat ingeskryf word, vergesel moet wees van ’n Engelse vertaling, maar dit het gou geblyk ’n onmoontlikheid te wees. Die ander opsie – om vertalers te kry wat alles vertaal wat aanvaar is vir die webblad – was ook onmoontlik. Dit sou nie net die proses van keuring en publikasie op die webblad baie vertraag het nie, maar sou ook ’n baie duur oefening geword het. Om meer as 3 000 gedigte te vertaal, sou ’n aansienlike bedrag gekos het.

Maar ’n goeie gedig kan selfs ’n swak vertaling oorleef. En daar is lieflike verse – verse oor al die maniere waarop mense met die dood omgaan. En soms het ’n gedig jou net laat stilstaan, soos die volgende vers deur Lesego Mkhize:

Different kind of love

My sister is in Grade 5
She tells me her tongue is unable to perfect
Mandarin without the Xhosa clicks betraying her
Her clicks do not know how to roll over
And play dead for a foreign language
My sister is expunging
When buttering her bread
She spreads the margarine on both sides
To soften her tongue
To silence the coarse in her voice
Once she whispered, “I want to taste like milk”
What does milk taste like?
– Not black
At the age of 10
My sister has started to unlearn
Her name and replace it with a colour
One she doesn’t use when colouring in a rainbow
She sometimes worries that her spine is too weak
To backflip / turn into a monkey bar for boys to play
On the playground, she says
Girls
Do this so often that their spines have become steel rods
Her body has started to outgrow its own flesh
My sister is expunging
She is leaking herself out through her ears and nose and mouth
I do not know how to stop her from draining out the blood in her veins
Without feeling guilty
Guilty that she is an uncomfortable truth of myself
At breakfast
I drink hot tea to burn the Sotho that has buried itself in my buds
I look at my sister and recognise what leaving looks like
I know this because
Running away from a body
That your name is begging you to stay in is not easy
I have scraped my knees trying to crawl out of my skin
Turned my spine into a staircase hoping to walk out of this body
I have learnt all of this and taught my sister in the process.

Wat kan vir meertaligheid en skryfwerk in hierdie land gedoen word, dink jy? Of wat word reeds gedoen?

Daar word alreeds geruime tyd en deur ’n groot verskeidenheid organisasies en persone werk rondom meertaligheid gedoen. Daar is boeke gepubliseer met sê twee tot drie verskillende tale; daar is open mics by plekke waar stand-up poets hulle ding kan gaan doen en waar meertaligheid botvier. Ek hoop dat dit sal groei, dat daar uit verskillende dissiplines aandag gegee sal word aan wat nie net ’n boeiende studieterrein is nie, maar wat ek dink ’n sleutel kan wees vir hoe ons vorentoe in hierdie land met mekaar gaan praat, met groter begrip en respek vir die verskille én die ooreenkomste wat daar tussen kulture en tale is. Dit is ook belangrik dat verskille gevier word, en dat daar nie probeer word om van alles ’n eenselwige grys brei te wil maak nie.

I wish I'd said: An interview with Mantoa Motinyane

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top