Titel: Vaarwel, my effens bevlekte held
Skrywer: Johann de Lange
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798156301
Prys: R135.95
Klik hier om Vaarwel, my effens bevlekte held te koop by Kalahari.com.
Dit is duidelik dat Johann de Lange ’n besonder geïnspireerde fase in sy digterlike loopbaan ervaar: na ’n lang stilswye verskyn Die algebra van nood, wat ’n Hertzogprys meebring, toe die kwatrynbundel Weerlig van die ongeloof, waarin die digter hom as ’n meester van hierdie moeilike versvorm bewys, en nou Vaarwel, my effens bevlekte held. Tussendeur het daar ook nog ’n keur van De Lange se gedigte verskyn onder die titel Judasoog. Die drie nuwe bundels saam met die gedigte wat vir Judasoog gekies is, is sekerlik ’n studie wat wag om vorm te kry.
As ’n mens ’n enkele tema by De Lange moet uitsonder – en dít is altyd gewaagd en omstrede – sou dit "die verkenning van die grense van die woord" kon wees. In navolging van veral die werk van Cussons en Van Wyk Louw, en in mindere mate Wilma Stockenström, is die skoonheid van ’n enkele reël of die uitlig van ’n bepaalde woord sentraal by De Lange. Hierdie digter werk met groot ontsag met ’n woord, verken sy moontlikhede en bepaal met sorg die posisie van ’n woord binne die sinskonteks. Breytenbach speel met woorde, soms selfs effe onverantwoordelik, maar De Lange gee aan die woord die mistiek en die musiek om dit in klank en betekenis te laat klink. ’n Digter met minder geloof in die krag van die woord mag met woordspel tegnies verrassende effekte bereik, maar dit bly dikwels steek in daardie moment. By Johann de Lange leef die woord, subtiel en bedrieglik onopvallend.
Gelees teen die agtergrond van die talle eksplisiete erotiese en seksueel plat terme in sy werk, sou ’n leser die vorige stelling wil kwalifiseer. Tog nie, want deur die gebruik van hierdie terme beklemtoon hy nie die sogenaamde skokkende dinge nie, maar bevry hy die plat term uit die gevangenskap van vulgariteit en gee daaraan sin binne die groter raamwerk van die gedig. De Lange is nie ’n digter wat pervers wil wees nie; daarvoor is sy digkuns te getrou aan die woord en sy mistieke betekenis. Per slot van rekening: Is die "skokkende" woorde ooit regtig skokkend? Verkeerd geplaas, kan dit bloot vulgêre smaak beklemtoon.
Johann de Lange se gedigte getuig van integriteit. In die naam van literêre modes wat kom en gaan, kan geredeneer word dat ’n literêre teks geen aanspraak hoef te maak op teks-integriteit nie. ’n Werklik goeie teks sal egter sy integriteit behou, en ’n digter wat sou aankondig dat sy of haar gedigte nie aan die eise van die woord en sy intrinsieke waarde getrou hoef te wees nie, skuil na alle waarskynlikheid agter ’n (deursigtige) literêre vyeblaar. De Lange se verse oortuig die leser dat hy die modernste literêre teorieë ken, maar dat hy dit nie nodig vind om hierdie kennis in ’n gedig te demonstreer nie. Die vryheid van die teoretiese dwingelandy, veral in sy latere bundels, is sekerlik een van die grootste bates van sy latere werk, kennelik so in die drie jongste bundels. De Lange se werk is steeds, met elke nuwe bundel, rigtinggewend, ook en veral vir jonger digters.
Die titel dui op afskeid neem en kan verder dui op ’n ongelukkige verhouding wat tot ‘n einde gekom het. Genadiglik is hierdie digter nie daarop ingestel om persoonlike belewenisse sentraal te plaas in sy werk nie. Dus sou my interpretasie van die titel, saam met die pragtige omslagontwerp, lees as ’n konstante proses van afskeid neem binne die self, en die bewussyn van die voortdurend wisselvallige rol van die muse. De Lange is "a poet's poet", en die digkuns as gespreksgenoot, as die ruimte waarheen die ontnugterde en die kwesbare toevlug neem, as die hawe wat tydelike rus bied teen die rustelose branding van die kuns en die skeppingsdrang, dit word die sentrum van bestaan – ook in hierdie bundel.
Soos die titel van die eerste afdeling lui: woorde is ’n republiek. Binne hierdie republiek heers die woord, en as die woord heers, is die mens en sy hele register van emosies die inwoners. In DJ Opperman se "Aardkloot" (Komas uit ’n bamboesstok) “(hang) die aarde (vannag) ’n groot deurskynende maan" en "die aarde hang, deursigtige grond"; in De Lange se "republiek van woorde" is die mens en sy doen en late ook deursigtig in die geweldig magiese krag van die woord. Die gedigte vertel van diere en plante, van die mens in sy kleinlikheid en sy erotiese drange, van kunstenaars en hulle werke en van die mens in patetiese oomblikke. Kunstenaar of straatmens, digter of die oom met vier bultige seuns wat die nefie se geslag met ’n gierige greep vasgryp – almal is besig met groot of klein dinge. So ook is kunstenaars, gebaai in kunstenaar-ikoniteit, lustig en belustig, suiwer en walglik, pretensieus en eerlik, uiteindelik maar sterflike wesens en tydelik. Dit is hierdie kaleidoskoop van De Lange se gedigte wat tematiese eenhede ondermyn en wat ’n saak teken uit eie reg:
Kroonden
Die kroonden lê omgeval
beenwit grynswit in die son.
Moenie hier allerlei betekenisse soek nie – lees die gegewe vir wat dit is en staan verwonderd oor hierdie toneel en oor die woord.
Die woorde in De Lange se werk "beteken" nie net nie, dit "be-teken", en sodoende kom daar telkens nuwe betekenisse uit die verse. Die gedigte in hierdie bundel behou hulle afstand en is nie opdringerig nie, wil nie ontplof in die leser se gesig en gees nie. De Lange werk met kontraste, en die intense menslike drama van leef en sterf word afgewissel deur heerlike spot om aan te toon dat belangrikheid leef slegs in ’n gemoed wat die eenvoud van bestaan nie wil begryp nie. Tog behou hierdie digter deernis met sy digterlike karakters en met die leser. Die sin vir ironie is altyd naby, soos dit die goeie digter betaam. Hierdie ironie in die bundel "renders the poet free", in Kierkegaard se woorde, en, so skryf Etienne Leroux: "Daardie vryheid is die sine qua non vir skepping. Die gebondenheid word elke keer besweer; die slot wat die kettings bind, gaan magies oop."
In Vaarwel, my effens bevlekte held is daar min aspekte van menswees, ook die seksualiteit, wat nie deur De Lange se skerp maar gevoelige digterlike lens in die mistiek van die woord vasgevang word nie. Die gedigte in hierdie merkwaardige bundel is meelewend én gedistansieerd, innig én kontrasterend, met humor én wrangheid, maar altyd is daar die woord: delikaat én kragtig.
Die gedig "Die diensbaarheid van bome" trek heelwat van hierdie eienskappe van die bundel saam:
Die diensbaarheid van bome
Gedenk Hom wat lief was vir bome,
vir die skrynende aromatiese klank
as die boom onder vaardige hande
sy natuur gedienstig aflê & tafel word,
of laaikas, rusbank met gewronge poot,
of stoel met ’n steil rug om ’n rug te stut.Op sy laaste tog het die kruishout
Hom gedra, die stil olyf
het donkernag van sy smart
weggewring, & die dorings
van die wag-’n-bietjie of withaak
het sy woorde bloedwarm tuisgebring.